BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

VREDE MET GOD

ONTVANG VREDE MET GOD

‘n Vertaling, verwerking en bywerking van
 God’s Way of Peace
 deur
Horatius Bonar


 INHOUD

1. HET JY VREDE?
2. GOD SE OPINIE VAN ONS
3. GEEN VREDE DEUR NA BINNE TE KYK NIE
4. GOD SE KARAKTER ONS ENIGSTE RUSPLEK
5. REGVERDIGE GENADE
6. GEREINIG DEUR DIE BLOED
7.DIE PERSOON EN WERK VAN DIE PLAASVERVANGER
8. DIE EVANGELIE WAARHEID
9. GLO EN WORD GERED
10. GLO NOU DADELIK
11. SUKKEL OM TE GLO
12. GEBREKKIGE GEVOELENS
13. NET JESUS
14. VERWARRENDE WAARHEDE
15. DIE PAD VORENTOE



HOOFSTUK 1 HET JY VREDE?

Vir baie mense wat hulleself Christene noem is hulle godsdiens ’n uiters onbevredigende en  frustrerende saak.  Hulle godsdiens  gee die indruk van ’n swaar voortslepende plig. Hulle verkeer in voortdurende kwelling : “Wanneer het ek genoeg gedoen, wanneer sal God met my tevrede wees?” of “Hoe weet ek dat Hy my aangeneem het, kan ek regtig in vrede sterf?” Hulle godsdiens het geen vreugdevolle inhoud nie. Dit bevat geen vaste troos nie.”  Daar is wel miskien erns, maar daar is geen “vrede met God” nie.  Al hierdie tipe godsdiens het niks te make met dit wat God “godsdiens” sou noem nie. As jy in hierdie sinlose tipe godsdiens vasgevang is, is dit nodig om van voor af vas te stel wat die waarheid is.

Om seker te wees van  God se aanvaarding  is die fondasie van alle ware godsdiens. Ek moet tog eers weet dat God my aanvaar het voordat ek Hom met vreugde kan aanbid.  Solank ek nog bang is, kan ek nie regtig bly wees nie. As ekself nie aanneemlik vir God is nie, hoe kan my aanbidding vir Hom aanneemlik en aanvaarbaar wees? As ek nie weet of God van my hou nie, wat help dit om ander mense te help en liefde te bewys? Miskien is al my inspanning tevergeefs. Vir baie mense is godsdiens bloot ’n manier om God se misnoeë af te weer en Sy guns te probeer wen.  Hierdie godsdiens met sy kerkbywoning, katkisasie en bidure is dikwels ’n lastige saak. Tog  voel mense nie gerus om dit af te skeep nie. “Ek moet maar my bes  probeer om goed te doen sodat God my nie miskien straf nie”, redeneer hulle. Hulle byt maar vas met hulle godsdienstige pligte in die hoop dat hulle deur hulle godsdiens miskien vergifnis sal verkry voordat hulle tot sterwe kom.

So ’n stand van sake kom eintlik neer op die omkeer van God se orde. Dis eintlik niks anders as die heidene in Atene se verering van ’n onbekende god nie. Hierdie mense was uiters godsdienstig en opreg, maar dit was ’n valse godsdiens sonder kennis van die waarheid. (Hand. 17:23)


Valse godsdiens het vergifnis as beoogde eindpunt, terwyl die ware godsdiens by sekerheid van vergifnis begin.


Alle valse godsdienste, alhoewel hulle uiterlik mag verskil, bestaan uit ernstige pogings waardeur die godsdienstiges vir hulleself goddelike guns en die ewige lewe wil probeer verseker. (Nodeloos om te sê, hulle slaag nie daarin nie.) Daarteenoor is die een ware godsdiens sigbaar in die heilige lewens van diegene wat reeds vergifnis en guns gevind het. Hulle het dit ontvang deur te glo wat God oor  sy eie Seun getuig het. Hulle wandel dag vir dag met Hom in die kalm en seker wete dat hulle volledig deur Hom aanvaar is. Hulle werk vir Hom met ’n  blye ywer, omdat hulle weet niks kan ons van sy liefde skei nie. Hulle weet dat hulle reeds vergifnis ontvang het en dit verander hulle uitkyk op die hele lewe. Hulle vir wie baie vergewe is bewys baie liefde. Hulle wys deur hulle daaglikse opoffering en diens dat hulle hulleself beskou as mense met ’n  dankbare verpligting teenoor die reddende God, teenoor Sy kerk en teenoor ’n  wêreld in nood wat nog die evangelie moet hoor. (Rom. 1:14)

As dit dan die ware godsdiens is, besef mens maar net hoeveel valse godsdiens daar in omloop is.

Wat ‘n ongelukkige situasie dat mense hulle hele lewe lank na God soek en Hom nooit vind nie. Dat hulle altyd aan die leer is maar nooit instaat is om tot die kennis van die waarheid te kom nie. Dit is tog nie goed om altyd in vertwyfeling te wees nie. Hierdie mense skryf hulle twyfel en onvrede daaraan toe dat hulle geloof maar net swak is.  Wat ’n haglike en onwaar verskoning.  Natuurlik sal niemand van ons se geloof ooit volmaak wees nie. Maar wat maak dit saak? Geloof is mos maar net die beker waaruit ons die lewende water van verlossing ontvang. Wat is nou die verskil of ek water uit ’n goue beker of ’n blikbeker drink? Dis mos nie die goud wat my dors les nie, maar die water. Dit is nie die kwaliteit van die beker (ons geloof) nie, maar die kwaliteit van die water (Christus se volmaakte verlossingswerk) wat die dorstige siel versadig.  Die mens wie se trots hom nie toelaat om uit ‘n vuil of gebarste houer te drink nie, sal maar moet sterf van die dors. So sal hy wat die seker versoening van die kruis van hom af wegstoot as gevolg van ‘n onvolmaakte geloof, die ewige dood sterwe. Hy wat sê : “Ek glo die regte ding, maar ek glo dit nie op die regte manier nie, en daarom kan ek nie vrede hê nie” is die persoon wie se hoogmoed van so ‘n aard is dat hy vasbeslote is om nie sy dors te les nie, behalwe uit ‘n goue beker. Hy maak staat op ‘n volmaakte geloof en nie op ‘n Volmaakte Christus nie.


Sommige raad  oor “Hoe om tot bekering te kom?” of “Hoe om gered te word?” laat dinge so ingewikkeld klink, en skryf so baie stappe voor dat dit die soeker eindeloos kan verwar en tot moedeloosheid dryf. Die ergste van alles, deur al die ingewikkelde raad word die sondaar weggelei van die eenvoud van die kruis en sy aandag te vestig op doen in plaas van glo. Dis nie ons taak om allerhande ingewikkelde aanwysings te gee of stappe voor te skryf nie, maar om soos die apostels, Christus die Gekruisigde te verkondig, ‘n teenwoordige Verlosser en ‘n teenwoordige Verlossing. Die Verlosser is hier by jou, naby. (Rom. 10:8) Geliefde, die Verlossing is reeds bewerk en moet net deur die geloof gevat word. Kom ons fokus op Jesus se werk  wat Hy klaar aan die kruis afgehandel het. Dis wanneer ons dit in die oog kry dat sondaars tot bekering kom, soos die Here self gesê het : “En Ek, as Ek verhoog word sal almal na My toe trek” (Joh. 12:32) Wie die Gekruisigde raaksien en in Hom glo word gered. Ek herhaal, wie die Gekruisigde raaksien en in Hom glo word gered.


HOOFSTUK 2 GOD SE OPINIE VAN ONS

God ken ons. Hy het ons mos gemaak.  Hy weet wie en wat ons nou is. Hy weet ook wat ons veronderstel was om te wees. Dis juis op die verskil tussen hierdie twee toestande dat Hy Sy getuienis oor ons begrond.

God is liefde. God is heeltemal te vol liefde om onnodiglik iets hards oor ons te sê. God praat net die waarheid. Hy is te vol van die waarheid om enigsins iets vals oor ons kwyt te raak. God het ook geen motief om ’n wanvoorstelling van ons te maak nie. Inteendeel, Hy hou daarvan om van die goeie in Sy skepping te praat.  Soos jy weet, reg aan die begin het Hy verklaar dat Sy handewerk goed was. “... en dit was baie goed”. (Gen. 1:31)  As Hy dus nie meer so ’n uitspraak kan maak nie is dit nie omdat Hy nie wil nie, maar omdat Hy nie kan nie. Hoekom nie? Wel, iets het gebeur met die mens sodat God tot die volgende uitspraak gekom het: “elke mens op aarde se lewe was verrot” (Gen. 6:12)

God se getuienis oor die mens is, dat hy ’n  sondaar is. God getuig dus teen die mens, nie vir hom nie. Hy getuig dat “daar niemand regverdig is nie, selfs nie een nie”,  dat daar “niemand is wat goed doen nie”, niemand wat “verstandig” is nie, niemand wat na God soek nie, en erger nog, niemand wat Hom liefhet nie. (Ps. 14:1-3; Rom. 3:9-12) God praat baie vriendelik met die mens, maar tog vertel Hy net die waarheid. Soos iemand wat verlang na ’n verlore kind, maar nie bereid is om die ware feite van sy rebelsheid te verswyg nie. God se heilige karakter verhoed dat Hy ooit kompromie met sonde sal maak. God se regverdigheid beteken dat Hy nooit die skuldige sommer vry sal laat gaan of sonde onder die mat kan invee nie. Die heilige waaragtige en almagtige God verklaar duidelik en ondubbelsinnig dat die mens van nature verlore is. Ons het afgedwaal, ons is rebelle, niks anders as “haters van God” nie. (Rom. 1:30) Die sondaar mens is nie iemand wat af en toe sondig nie, maar altyd sondig. Nie slegs gedeeltelik ’n sondaar, met ’n klomp goeie hoedanighede nie, maar ’n totale sondaar met geen goedheid wat daarvoor kan kompenseer nie. Boos in hart en handel. Ons dink verkeerd, ons doen verkeerd. Ja, soos die Skrif dit stel : ons is  “dood deur die misdade en sondes” (Ef. 2:1). Ons sondigheid plaas ons in ’n gevaarlike posisie. As doeners van kwaad staan ons onder die veroordeling van God. ’n  Vyand van God en daarom onder “toorn”, ’n  verbreker van God se regverdige wet en daarom onder “die vloek van die wet” (Gal. 3:10).


God, wat nie kan lieg nie se getuienis oor die mens is dat hy ’n sondaar is. As sondaars verkeer ons in die uiterste gevaar, want God haat sonde.



Die mens het geval; nie net hier en daar iemand nie, maar die hele menslike ras! In Adam het almal gesondig en in Adam het almal geestelik gesterf. Dis nie maar net ’n kwessie van ’n paar blare wat verskrompel het of afgeskud is nie; die hele boom is verrot, wortel en tak. Die “vlees”, “die ou mens” dit wil sê elke mens wat in hierdie wêreld gebore is en deel vorm van die mensdom, is korrup, ja, totaal verdorwe. Skuldig voor die heilige God.  Die sondaar bring nie net sonde voort nie, hy dra dit saam met hom, dis sy tweede self.  Hy is ’n  “liggaam” van sonde (Rom. 6:6), ’n “liggaam van die dood” (Rom. 7:24), onderworpe nie aan die wet van God nie, maar aan “die wet van sonde.” (Rom. 7:23) Selfs die ordentlikste en mees opgevoede mense is nog steeds sondaars. Vat nou maar die Jode van destyds as voorbeeld. Die Jood wat opgevoed is onder die mees perfekte wet en onder die gunstigste omstandighede, was in ’n sekere sin die beste tipe van die mensheid.  Beskaafd, afgerond en opgevoed.  Die beste voorbeeld onder die kinders van Adam. Tog is God se getuienis aangaande hulle soos Paulus dit in Romeine stel dat hulle “onder die sonde is”, dat hulle “afgedwaal” het, en dat hulle “ver is van God.”   
  
En verder, onthou net, die uiterlike sigbare deel van die mens is nie die hele prentjie nie. As ons praat van die boosheid van die menslike hart praat ons nie net van dinge soos plaasmoorde, verkragting en mishandeling van vroue en kinders nie. Sonde gaan baie dieper. Die ware ingesteldheid van ons harte teenoor God, wys wat regtig in ons binneste aangaan. Kan jy sê dat jy God regtig liefhet en Hom eer? Liefde tot God is die eerste gebod en wie hier faal, staan skuldig ongeag alle ander goeie eienskappe. Iemand mag wel dink dat sy lewe goed is en andere kan dalk dieselfde opinie huldig, maar God beskou hom as skuldig. Iemand wat die dood en hel verdien. Die uiterlike goedheid wat daar mag wees, kan nie opmaak vir die innerlike boosheid nie. Die goeie dade wat hy miskien vir sy medemens doen kan nie vergoed vir sy slegte en onwaardige gedagtes teen God nie. Solank ons God nie met alle mag en krag liefhet nie, gee ons nie aan Hom sy regmatige plek nie. Ek en jy staan skuldig!

God se getuienis oor die mens is dat hy nie God met sy hele hart liefhet nie. Trouens, dat hy Hom inderdaad glad nie liefhet nie. Om ons naaste nie lief te hê nie is ’n sonde, om ’n  ouer nie lief te hê nie is ’n groter sonde, om jou man of vrou nie lief te hê nie is tragies en verwerplik, maar om God nie lief te hê nie is die grootste sonde denkbaar. Ons verwerp ons eie Skepper. Ons klap die hand weg van Hom wat ons voed en versorg. Ons draai ons rug op die heerlike God, Skepper van hemel en aarde.



Die mens hoef nie eens te probeer om ’n goeie woord oor homself te sê of om onskuldig te pleit nie, tensy hy kan bewys dat hy God liefhet en nog altyd liefgehad het met sy hele hart en siel. As jy dit met waarheid kan sê, nou ja dan is alles in die haak, dan is jy nie ’n sondaar nie en dan het jy ook nie behoefte aan vergifnis nie. Jy sal dan sy weg na die koninkryk vind sonder die kruis en sonder ’n Verlosser. Maar, as jy dit nie kan sê nie, is “jou mond gestop” en is jy inderdaad “doemwaardig” (skuldig) voor God . (Rom. 3:19) Jou goeie uiterlike lewe maak dalk ’n indruk op ander mense, maar die Goddelike uitspraak gaan teen jou wees. Op hierdie tydstip weeg menslike beoordeling nog dalk die swaarste, maar God se dag kom wanneer die mens se saak aangehoor sal word volgens die ware feite. Dan sal die groot Regter reg laat geskied en die sondaar sal beskaamd staan. Nou tel mense se opinie nog miskien, maar eendag is al wat saakmaak : Wat sê God oor my?

Daar is egter nog ’n erger aanklag teen die sondaar. Hy glo nie in die naam van die Seun van God nie. Hy het God se Gesalfde nie lief nie. Dit is die sonde van alle sondes! Dat sy hart nie reg is met God nie is die eerste aanklag teen hom. Dat sy hart nie reg is met die Seun van God nie, is die tweede.  En dit is hierdie tweede een wat die ergste is, ’n  verpletterende sonde wat meer veroordeling en straf sal meebring as alle ander sonde saam. “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” (Joh. 3:18) “Hy wat God nie glo nie het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande Sy Seun getuig het nie.” (1 Joh. 5:10) “...hy wat nie glo nie sal veroordeel word” (Markus 16:16) Daarom is  die belangrikste sonde waarvan die Heilige Gees die mens oortuig, die sonde van  ongeloof.    “...wanneer Hy ( die Heilige Gees) kom sal Hy die wêreld oortuig van sonde omdat hulle in My nie glo nie.”   (Joh. 16:9)


Die grootste sondes van alle sondes, die sonde wat mense in die hel laat beland, is om nie in ’n persoonlike geloofsverhouding met God se geliefde Seun Jesus Christus te staan nie!
 
So lyk God se veroordeling van die mens. Dis die ware feite omtrent die sondaar se situasie en toestand. Die hele Bybel is daarvan vol.  Dit klink dalk baie erg vir jou, maar wag ’n bietjie. Juis dit laat ons iets verstaan van God se liefde. Die groot liefde van God wat Sy Woord aan ons openbaar, hou direk verband met hierdie veroordeling. Hoe so? God se liefde is juis ’n liefde vir die veroordeeldes, die skuldiges, die slegtes, die onwaardiges! Dat God juis sulke verdorwe mense kan liefhê en nie onmiddellik uitdelg nie, dis die heerlike wonder! God se getuienis oor sy genade sou geen betekenis en sin hê, sonder sy getuienis oor die mens se skuld en ondergang nie.  Om goeie en oulike mense lief te hê is niks besonders nie. God se liefde is juis asemrowend heerlik, omdat Hy sondaars liefhet. God se getuienis teen die mens gaan nie bloot oor ’n moreel siek of ongelukkige wese nie, maar oor iemand wat die dood skuldig is, onder toorn, veroordeel tot ewige vervloeking vir die misdaad van alle misdade. Dit gaan oor ’n hart wat nie reg is met God en ook nie met Sy vleesgeworde Seun nie.   
    

Sonder die agtergrondsfeit  van ons totale sondigheid, maak begrippe soos God se liefde en God se genade geen sin nie.

Die mens is ’n verdorwe sondaar, ’n skuldige rebel, iemand wat die dood verdien. Dit is God se siening.  En onthou God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie. Dit is God se getuienis oor die mens en ons weet dat Hy ’n  betroubare getuie is. Dit is van groot belang dat ons hierdie getuienis ernstig sal opneem en in die lig daarvan God se genadeboodskap met blydskap sal glo.                                                                     

HOOFSTUK 3 GEEN GROND VIR VREDE IN DIE MENS SE EIE KARAKTER NIE

As God so teen ons getuig, wel wie kan vir ons getuig?  God se opinie oor die mens se sondigheid, Sy oordeel oor die mens se skuld en Sy uitspraak oor die boosheid van sonde,  staan vas. Ons het dus  geen hoop op kwytskelding op grond van ons persoonlike karakter of goedheid nie. Ook geen hoop op grond van iets in ons hart of handel nie. Dit wat God  in ons sien, voorsien Hom net van redes om ons te verdoem en nie om ons te begenadig nie. Ons kan op geen regte aanspraak maak nie, behalwe ‘n reg om hel toe te gaan.

Dis sinneloos om te stry teen God se beoordeling of te kla oor God se uitspraak. Hy is die Regter van die hele aarde en Hy is reg en soewerein in Sy oordeel. Hy moét gehoorsaam word. Die eise van Sy wet is onverbiddelik, dit kan nie verbreek word sonder dat dit die verbreker daarvan aan die dood skuldig maak nie.


As ek van my sondes oortuig word deur die Heilige Gees, beteken dit dat ek myself regtig sien soos God my sien.



Wanneer die Heilige Gees die mens se oë open, sien hy raak dat Hy ’n verbreker van God se wil en wet is.  Oortuiging van sonde kom eintlik maar net daarop neer dat die sondaar homself sien soos hy werklik is en soos God hom nog al die tyd gesien het. Alle dwase idees oor sy eie goedheid verdwyn in die niet. Alle valse fondasies van eiegeregtigheid en vroomheid verkrummel. Die dinge wat voorheen goed gelyk het, lyk nou so sleg en die slegte dinge so vreeslik sleg dat elke selfgemaakte stut onder hom meegee. Alle hoop om gered te word op grond van iets positief in sy eie karakter word hom ontneem. Al die mooi verskonings vir losbandigheid, huweliksontrou, gierigheid, selfsug, oneerlikheid .....raak stom.  Hy kan nie meer sy gewete sus met die siening van “almal doen mos maar hierdie dinge” nie. Hy sien hy staan skuldig voor die regverdige God. Hy sien dat hy homself nie kan red nie. Ook dat hy nie eens God kan help om hom te red nie. Hy is verlore en hy is hulpeloos. Dade, gevoelens, die strewe om te verbeter, gebede, aalmoese, onthouding van dit wat verkeerd is en alle dergelike pogings bring geen verligting van skuldgevoelens nie. Daarom bied dit ook geen rusplek vir die ontstelde hart nie. As sonde bloot ’n siekte of ’n ongeluk was sou hierdie klaarblyklike goeie dinge moontlik verligting kon bring. Dit sou dan moontlik as gunstige tekens van herstel gesien kon word. Maar aangesien sonde meer skuld is as siekte, en die sondaar nie net bloot siek is nie, maar veroordeel is deur die regverdige Regter, kan geeneen van hierdie goeie dinge iets aan sy saak verander nie. Hierdie skynbaar goeie dinge kan hom nie verseker van volledige en regverdige vergifnis nie. Daarom kan dit nie vrede bring vir sy ontwaakte en gewonde gewete nie. Nou begryp  ek God se onveranderlike haat vir sonde. Ek word bewus van die komende uitgieting van Sy wraak. Ek kan maar net sidder.

Die vraag: “Waarmee sal ek voor die Here verskyn” is nie iets wat beantwoord kan word deur ’n appèl te maak op jou eie karakter of goeie lewe nie. Selfs gebede of godsdienstige handelinge kan geen rus vir die gemoed verseker nie. Die groot feit om raak te sien is:  Ons kan nie die manier van toenadering tot God bepaal nie. God het dit bepaal en al wat vir ons oorbly is om ons van daardie weg te vergewis en dit te benut. Hy het hierdie weg bepaal op gronde wat niks te doen het met ons eie karakter nie. Hy het hierdie weg berei  met volle inagneming daarvan dat ons eenvoudig sondaars is. Hy maak vir ons die pad na Hom oop, wel wetende hoe boos ons is. Hy bepaal die oplossing, volledig bewus van die feit dat daar in ons niks goed, verdienstelik of aanbevelingswaardig is nie.


God self het die enigste manier bepaal waardeur ons toegang tot Hom kan kry en vrede kan vind.

Die mens is bankrot, geheel en al bankrot. Al sy krediet in die mark is daarmee heen. As hy met sy “besigheid” sou wou aangaan, kan hy dit nie in sy eie naam doen nie. Hy benodig ’n beter naam, ’n naam van aansien, wat gewig sal dra en sekuriteit sal bied. Vir die transaksies van die hemelse mark is daar maar een naam onder die hemel gegee, die Naam van alle name, Jesus Christus! (Hand 4:12)

Sommige sondaars wanneer hulle begin benoud raak oor hulle toestand, sê : “Ek sal begin bid, en nadat ek genoeg en ernstig gebid het, dan mag ek tot God nader en daarop reken dat Hy my sal aanneem.” So ’n  houding beteken dat ons op die kwaliteit en kwantiteit van ons gebede staatmaak. Ons dink gebede kan guns by God koop! So ’n houding beteken dat ons die kernvraagstuk waarvoor die sondaar te staan kom miskyk, naamlik : “Hoe moet ek tot God  nader sodat ek kan bid?” Alle gebede is tog toenadering tot God en die sondaar se angstige vraag is tog juis, “Hoe kan ek tot God nader?” God se eksplisiete duidelike getuienis teenoor die mens is: “Jy is onbevoeg om tot my te nader”. Daarom is dit dwaasheid om te redeneer “Ek sal my uitbid uit hierdie onbevoegdheid tot in ’n staat van bevoegdheid, ek sal myself  inwerk tot in die regte toestand van hart en lewe sodat ek tot God kan nader.


Die mens se eie karakter of sogenaamde mooi eienskappe kan nooit toegang tot God verleen nie.



Selfs al sou jy op hierdie oomblik heeltemal ophou met sonde en die res van jou lewe niks anders as goed doen nie, sou dit steeds nog niks help nie. Al sou jy nou begin bid en niks anders as bid doen vir die res van jou lewe nie, sou dit nog steeds geen verskil maak nie. Vat dit maar as ’n feit, jou eie karakter kan nie toegang tot God verleen nie. Dit kan nooit die grond van vertroue teenoor God wees nie. Geen hoeveelheid gebed, werk of gevoelens kan reg laat geskied aan die regverdige wet van God nie. Niks wat jy kan doen kan vrede gee aan jou skuldige gewete nie, of die vlammende swaard blus wat die toegang tot die teenwoordigheid van die oneindig Heilige God  bewaak, nie.

Dit behoort nou baie duidelik te wees, dit wat dit vir jou veilig sal maak om tot God te nader en moontlik sal maak vir God om jou te ontvang moet iets heeltemal weg en onafhanklik van jouself wees, want jyself en alles van jou is alreeds deur God veroordeel. Niks wat Hy alreeds veroordeel het kan tog vir jou enige reg gee om na Hom te gaan of hoop gee om deur Hom aanvaar te word nie. Jou vryheid van toegang tot Hom sal moet kom van iets wat Hy aanvaar het, nie van iets wat Hy veroordeel het nie.

Daar word vertel van ’n soekende persoon, wat in sy worsteling, begin het om te werk en te bid om op so ’n  manier vrede te kry. Hy het sy stiltetyd verdubbel en gesê : “vir seker sal God my nou vrede gee” Maar die vrede het nie gekom nie. Hy het huisgodsdiens begin hou. “Nou sal God my vrede gee.” Maar die vrede het weereens nie gekom nie. Einde ten laaste het hy daaraan gedink om as  oplossing ’n biduur in sy huis te reël. Hy het ’n  sekere aand uitgehou, sy bure genooi en homself voorberei om die biduur te lei deur ’n  gebed op papier uit te skryf en uit die kop te leer. Toe hy dit klaar geleer het, gooi hy dit op die tafel neer en sê , “wel dit is genoeg, God sal nou vir my vrede gee.”  Op daardie oomblik was dit asof ’n klein stemmetjie in sy oor gefluister het : “Nee, dit is nie genoeg nie, maar Christus is genoeg.”  Onmiddelik het die skille van sy oë afgeval en die las van sy skouers. Vrede het soos ’n  rivier in sy binneste ingevloei. “Christus is genoeg” was sy leuse vir altyd daarna.


Ons kan nooit goed genoeg wees of goed genoeg doen nie. Die geheim is om raak te sien : Christus is genoeg!

God se getuienis teen die mens en sy werke is baie duidelik as dit kom by hierdie groot saak van toegang tot God.  Hoe kry ons toegang tot God en hoe word ons gered? “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie”, sê Paulus by geleentheid. (Titus 3:5) “aan hom wat nie werk nie”, sê hy dit weer. (Rom. 4:5) “nie geregverdig word uit die werke van die wet nie” sê hy vir ’n  derde keer. (Gal. 2:16)

Die sondaar se vrede met God sal duidelik nie afkomstig kan wees van homself nie. Daar is geen gronde vir vrede wat hy uit homself kan voortbring nie, nie direk of indirek nie. Die sondaar kwalifiseer net in een opsig vir vrede en dit is dat hy dit inderdaad nodig het.  Dit is nie wat hy van die goeie het nie, maar wat hy van die goeie kort wat hom na God toe trek. Dit is juis sy bewustheid van hierdie tekort wat hom noop om elders te kyk vir iemand om hom uit te nooi sowel as om hom vrymoedig te maak om God te nader. Dit is juis ons siekte en nie ons gesondheid nie, wat ons geskik maak vir die dokter en maak dat ons ons alleenlik op sy bekwaamheid verlaat.


In alle valse godsdiens grond die aanbidder sy hoop vir Goddelike guns op iets in sy eie karakter, lewe of godsdienstige pligte.

In alle valse godsdiens grond die aanbidder sy hoop op Goddelike aanvaarding op sy eie karakter of godsdienstige pligte. Dis presies wat die Fariseër gedoen het toe hy in die tempel gekom het. “ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie..” (Luk. 18:11) Presies dieselfde maak die mense in ons dag wat verwag om vrede te kry deur meer werke, gevoel, gebede of belydenisse. Hulle weier om die vrede van die gratis evangelie te aanvaar totdat hulle kwansuis soveel dade en gevoelens bymekaargemaak het as wat nodig is om hulle gewetens te streel en hulle tot die gevolgtrekking sal laat kom dat dit onbillik van God sou wees om die aansoek van mense so ernstig en toegewyd as hulle te verwerp.

Dis juis wat die Galasiërs gedoen het toe hulle daarop aangedring het om die wet van Moses by die evangelie van Christus by te voeg as die grond van hulle vrymoedigheid voor God. Baie onder ons doen presies dieselfde. Hulle weier om hulle vrymoedigheid  voor God, in God se karakter of Christus se werk te vind, maar soek dit in hulleself. Dit ten spyte daarvan dat daar geskrywe is : “want die Here het hulle verwerp op wie jy vertrou, en jy sal met hulle geen voorspoed hê nie.”  (Jer. 2:37) Hulle bevraagteken dit dat ’n mens sekerheid van redding kan hê, want dit veronderstel dat ’n  sondaar se rusplek geheel en al buite homself is, klaar gemaak deur God self. Hulle sou wou hê dat hierdie sekerheid ’n  geleidelike ding moet wees, sodat hulle tyd kan wen en sodat hulle deur ’n  bietjie ywer in hulle onderhouding van godsdienstige voorskrifte, iets kan byvoeg by hulle voorraad van pligte, gebede, ervarings, meditasie. Hierdeur sou hulle dan met ’n  “nederige hoop” soos hulle dit noem, op aanvaarding deur God aanspraak kan maak. Deur so ’n handelswyse van toegewyde lewe, dink hulle dat hulle hulleself meer aanvaarbaar vir God gemaak het as wat hulle was voor hulle deur hierdie godsdienstig proses gegaan het. Hulle meen dat hulle meer geregtig daarop is om Goddelike guns te verwag as diegene wat hulle nie op so ’n  manier gekwalifiseer het nie.

In dit alles poog hulle om hulleself hulle eie rusplek te maak, die einste self wat deur God veroordeel is. Hulle sou nie wou rus in ’n  nie-biddende, nie-werkende en nie-toegewyde self nie, maar hulle dink dis reg en veilig om te steun op ’n  biddende, werkende, toegewyde self. En dan het hulle die vermetelheid om dit as nederigheid te beskou! Die blye vertroue en sekerheid van ’n  eenvoudige gelowige wat God se Woord onmiddelik aanvaar en daarop steun, word deur hulle as verwaandheid en dwepery afgemaak. Van hulle eie ellendige onsekerheid gegrond op die werke van die self, praat hulle as ’n  nederige hoop.


Om te sê ek hoop maar vir die beste dat ek eendag gered sal word, beteken eintlik maar dat ek my hoop nog op my eie toewyding en goeie karakter plaas in plaas van volledig op Christus te vertrou.

Vat dit nou maar as ’n feit. Die sondaar se eie karakter, kan nie vrede aan die gewete gee nie, dit kan nie enige aanspraak verskaf om op God se guns te reken nie, dit kan nie bydra om die breuk tussen hom en God te heel nie. Vir God is niks anders as volmaaktheid aanvaarbaar nie, en die sondaar het juis niks anders as onvolmaaktheid om aan te bied nie. Ons onvolmaakte pligpleging en toewyding kan God nie oorhaal om vergifnis te skenk nie.

Ek sal maar net aanhou bid en die Here probeer dien,” sê jy. Wag ’n bietjie, onthou, die persoon van die aanbidder moet aanvaarbaar wees voor sy aanbidding en diens aanvaarbaar kan wees. Dis met ander woorde duidelik dat niks van enige nut vir die sondaar kan wees behalwe dit wat voorsiening kan maak vir volkome aanvaarding by God nie. Ons het nodig dat God ons aanvaar! Om jouself te probeer inbid in ’n  beter toestand as die van ’n  veroordeelde sondaar, in ’n  poging om God se guns te wen, kom daarop neer dat jy van gebed ’n  instrument van eiegeregtigheid maak. So word gebed dan in plaas van die handeling van ’n   mens wat reeds deur God aangeneem is, ’n  prys vir aanneming, soort van geld waarmee ons God wil betaal om ons te begunstig, ’n omkoopgeskenk waarmee ons ons gewete wil oorreed om ons nie langer meer te verskrik nie.

Geen kennis van die self, geen besef van selfverbetering kan die wekroep van ’n  ontwaakte gewete gerusstel  nie. Dit kan ook geen rede verskaf waarom ons God se vriendskap moet verwag nie. Om troos te put uit ons werke,  goeie gevoelens, goeie bedoelings, goeie gebede, goeie ervarings is net om ons self te mislei en te sê “vrede” waar daar geen vrede is nie. Geen mens kan rus vind in sy eie karakter nie, hoe goed dit ook al mag wees, of in sy eie dade nie, hoe godsdienstig dit ook al mag wees. Selfs al sou hy volmaak wees, watter  vreugde sou daar kon wees om te dink aan sy eie volmaaktheid? Ons weet egter dat ons nooit volmaak kan wees nie. Nou, watter nut en watter vrede kan daarin dan wees om oor sy eie onvolmaaktheid te dink?

Selfs al sou daar baie goeie dinge waar wees van hom, sou dit nie vrede kon bring nie, want die goeie dinge wat vrede mag bring, sou nie kon opmaak vir die slegte dinge wat die vrede met God versteur het nie. In elk geval dink net wat se gebrekkige selfgemaakte vrede sou dit wees wat voortkom uit so ’n  denkwyse van : dink soveel goed van jouself en so min sleg van jouself as moontlik. En buitendien wat ’n  versoeking sou dit nie meebring om ons boosheid as “nie so erg” te versag en ons goedheid te oordryf nie. Misleiding van ons eie harte. Selfmisleiding is altyd, in ’n  mindere of meerdere mate die gevolg van sodanige waardasie van ons eie ervarings.


Alle pogings om my vrede te bou op my eie karakter of goeie hoedanighede kom uiteindelik neer op hoogmoed.

Iemand sou kon sê : “My sonde is nie so groot of baie nie, vir seker kan ek vrede hê.” ’n  Ander mag dalk sê : “Ek het opgemaak vir my sonde deur my goeie dade, ek kan vrede hê.” ’n  Ander een : “Ek het ’n baie sterk sondebesef, ek mag vrede hê.”  ’n  Ander : “Ek het berou oor my sonde, ek sal vrede hê.” Nog ander mag sê : “Ek bid baie, ek werk baie, ek bewys baie liefde, ek gee baie, ek kan vrede hê.” Wat ’n  groot versoeking lê daar nie in sulke redenasies om die mees gunstige siening van die self en sy werke te huldig nie. Maar uiteindelik is dit alles tevergeefs.  Daar sou geen ware vrede kon wees nie, want die fondament is sand en nie rots nie. Wil jy vrede bou op ’n samevatting van al jou positiewe karakter eienskappe? Wil jy vrede vind uit jou aangename emosies?  Grond jy jou vrede met God op al jou liefdesdade, belydenisse, gevoelens van berou?  Voel jy heimlik trots op al hierdie voorbeeldige dade en dink jy dat God jou as gevolg daarvan aanvaar het? Al ons goeie opinies van onsself kom maar uiteindelik neer op hoogmoed. Hoogmoed is die basis van alle selfgeregtigheid. Dis die wesentlike dwaling van die Fariseër wat neerkyk op die sondaar en homself as ’n regverdige beskou.


Om op te som; dit staan dus vas dat daar in onsself geen rusplek is nie. Dit is die kwaliteit van die werk buite onsself (Christus se werk aan die kruis), nie die kwaliteit van dit wat in ons is nie, wat ons gerusstel. “Geen roem in die vlees”, moet ons motto wees, aangesien dit die fondasie is van God se evangelie.


HOOFSTUK 4 GOD SE KARAKTER ONS ENIGSTE RUSPLEK

Ons het gesien dat ’n sondaar se vrede nie van homself kan kom nie, ook nie vanuit kennis oor homself nie, ook nie deur aan sy eie dade en gevoel te dink nie, ook nie deur geloof in die kwaliteit van sy eie geloof nie, ook nie van ’n bewustheid van enige verbetering van sy ou self nie.


Vanwaar af moet my vrede dan kom? Hoe kry ek dit? Vrede kan slegs van God af kom. Deur ware kennis van God.



Vrede kan slegs van God af kom en dit is slegs deur God te ken dat ek dit kry. God het ’n Boek geskryf vir die doel om Homself bekend te maak en dit is in hierdie openbaring van Sy karakter dat die sondaar die rus moet vind waarna hy so soek. God self is die fontein van ons vrede, Sy geopenbaarde waarheid is die kanaal waardeur hierdie vrede sy weg vind na ons.

As God vir ons gesê het dat Hy nie genadig was nie, dat Hy nie belangstel in ons welsyn nie en dat Hy geensins van plan is om ons te begenadig nie, wel dan sou ons geen vrede en geen hoop kon hê nie. In so ’n  geval sou ons kennis van God ons net ellendig gemaak het. Ons situasie sou soortgelyk aan die van die duiwels gewees het, wat “glo en sidder” (Jak 2:19) en hoe beter ons so ’n God sou ken hoe meer sou ons sidder. Wat ’n skrikwekkende verontrusting moet dit wees om die grote God wat ons gemaak het, die groot Vader van die geeste, teen ons te hê en nie vir ons nie!

Dit is vreemd om te sê, dis in so ’n einste toestand van verontrusting waarin ons baie mense vind wat tog bely dat hulle in ’n genadige en barmhartige God glo. Met die Bybel in hulle hande en die kruis voor hulle oë strompel hulle voort in ’n toestand van duisternis en vrees asof God Homself in haat in plaas van liefde geopenbaar het. Dit lyk asof hulle juis die teenoorgestelde glo van wat die Bybel vir ons oor God leer en dat hulle ’n betekenis aan die kruis heg wat juis die omgekeerde is van wat die evangelie beweer dit het. As God  net vol fronse was en die Bybel net verskrikkinge en Christus net strengheid, dan sou hierdie mense nie in ’n meer gekwelde en onsekere toestand gewees het, as dit waarin hulle hul nou bevind nie.

Hoe werk dit? Het hulle die Bybel verkeerd verstaan? Het hulle hulle vergis met God se karakter en sien hulle Hom as ’n grimmige tiran en ’n harde meester? Is hulle nie dalk besig met inspanning van hulle kant om die genade van God aan te vul asof hulle glo dat hierdie genade nie genoegsaam is in hulle geval nie?  Hulle wil die genade na hulle toe aantrek deur ernstige dade, morbiede ervarings, angswekkende oortuigings en geestelike oefeninge van hulle eie.


God maak die egtheid van sy genade aan ons bekend deur die persoon en werk van sy Seun Jesus Christus!

God self het verklaar dat Hy genadig is. “God is liefde” Hy het Sy genade beliggaam in die persoon en werk van Sy geliefde Seun. Hy het ons vertel dat Sy genade bedoel is vir die goddelose, die onheilige, die rebelse, die wat dood is in sonde. Hoe meer ons dan van hierdie God en Sy genade weet, hoe meer sal Sy vrede ons vul. Wanneer ons hierdie vrede het, sal die omvang van ons sondes, die hardheid van ons harte, die veranderlikheid van ons gevoelens, hoeveel dit ons ook al mag verootmoedig en ontevrede maak met onsself, ons nie kan ontmoedig en verontrus nie.




Ons sien God se karakter in Jesus Christus.

Laat ons God se karakter bestudeer : heilig, tog vol liefde; die liefde meng nie in met die heiligheid nie en ook nie die heiligheid met die liefde nie; absoluut soewerein, tog oneindig genadig, die soewereiniteit beperk nie die genade nie, die genade verslap nie die soewereiniteit nie. (Soewereiniteit beteken dat God doen wat Hy wil, wanneer Hy wil, soos Hy wil.) Hy trek die onwillige nader en tog verhinder Hy nie die gewillige nie ( as daar so iemand sou wees).  Hy maak lewend wie Hy wil, maar het terselfdertyd geen behae in die dood van die goddelose nie. Hy dwing mense om in te kom en tog rig Hy ’n vry uitnodiging aan almal. Laat ons na Hom kyk in die gesig van Jesus Christus, want Hy is die uitdruklike beeld van Sy persoon. Die een wat Hom gesien het, het die Vader gesien. Die kennis van sy genadige karakter, soos dit uitgedruk word deur die kruis van Christus is die ware oplossing vir ons kwellings.

Onvoldoende, of  gebrekkige bekendheid met God is die worteloorsaak van ons vrese en swartgalligheid. Ek weet dat vlees en bloed nie God aan jou kan openbaar nie, en dat die Heilige Gees alleen jou instaat kan stel om die Vader sowel as die Seun te ken. Maar ek wil nie hê dat jy vir een oomblik moet dink dat die Heilige Gees huiwerig is om Sy werk in jou te doen nie.  Ek wil ook nie dat jy die aaklige vermoede moet hê dat jy gewillig is terwyl Hy onwillig is nie. Moet ook nooit dink dat die soewereiniteit van God  ’n  hindernis vir die sondaar of ’n beperking op die werking van die Gees is nie. Die Bybel neem dit as vanselfsprekend dat  dit hoegenaamd nie so is nie. Nooit kan die groot waarhede van Goddelike soewereiniteit en die werk van die Gees ons in ’n konflik laat beland, soos sommige blykbaar dink, tussen ’n gewillige sondaar en ’n onwillige God nie.

Die hele Bybel is op so ’n  manier deur die Heilige Gees geskryf en die evangelie is so deur die apostels verkondig, dat  God se gewilligheid om sondaars te red nooit betwyfel word nie. In die Bybel bestaan daar nie die vaagste suspisie oor Sy bereidheid om sondaars van alle nodige bystand te voorsien nie. Daarom is die groot waarhede oor  God se ewige verkiesing en Christus se verlossing van Sy kerk, soos ons dit in die Bybel lees ’n  hulp en bemoediging vir die siel. God se verkiesende genade spel juis hoop vir alle sondaars, ja vir die slegstes, want God kies nie net die “cream vir die team” nie. Soos sommige God se uitverkiesing egter interpreteer lyk dit eerder soos versperrings. Hulle dink aan uitverkiesing as ’n onheilspellende saak en ‘n donker swartlys waaroor ons net moet fluister. Hulle word gedurig gewel deur die vraag : “Is God se genade vir my bedoel?” Gevolglik word beangsde siele vasgevang in metafisiese vraagstukke, spekulasie en verwarring, waaruit daar geen ontvlugting is nie, behalwe om God doodgewoon op Sy Woord te neem.



In die Bybel het God Homself openbaar. In Christus het Hy dit absoluut duidelik gedoen. Hy het dit gedoen sodat daar van die mens se kant geen onduidelikheid oor Sy karakter kan wees nie.

Christus se persoon is ’n openbaring van God. Christus se werk is ’n openbaring van God. Christus se woorde is ’n openbaring van God. Hy is in die Vader en die Vader is in Hom. Sy werke en woorde is die woorde en werke van die Vader. In die krip het Hy as’t ware God vir ons kom wys. In die sinagoge van Nasaret het Hy God vir ons gewys. By Jakob se put (in gesprek met die Samaritaanse vrou) het Hy God vir ons gewys. By die graf van Lasarus het Hy God vir ons gewys. Op die Olyfberg terwyl Hy oor Jerusalem huil het Hy God vir ons gewys. Aan die kruis het Hy God vir ons gewys. In die graf het Hy God aan ons gewys. In Sy opstanding het Hy God vir ons gewys. As ons saam met Filippus sê: “Toon ons die Vader en dis vir ons genoeg”, dan antwoord Hy : “Ek is so lankal by julle en het jy my nie geken nie Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (Joh 14:8,9) Hierdie God wat deur Christus  geopenbaar is, as die God van regverdige genade en genadige geregtigheid, Hy is die God met wie ons te doen het. 

Om Sy karakter te ken, soos dit aan ons vertolk word deur Jesus en Sy kruis, is om vrede te hê. Dit is in hierdie kennis van die Vader, dat die Heilige Gees die siel, wat Hy oorbring deur Sy almagtige krag vanuit die duisternis na die lig, inlei. Alles wat ons van God ken, het ons te danke aan hierdie Goddelike Onderwyser, hierdie Tolk. Maar laat die sondaar nooit homself verbeel dat hy meer gewillig is om te leer as wat die Gees gewillig is om te onderrig nie. Nooit mag die sondaar vir homself sê: “Ek sou God graag wou ken, maar ek kan nie uit myself nie en die Heilige Gees wil my nie leer nie.”

Dit is nie genoeg nie dat ons vir die moedelos  persoon sê : “Dit is jou ongeloof wat jou in hierdie misrabele toestand hou, glo net en alles sal regkom” Dit is inderdaad waar, maar dit is net ’n  algemene waarheid, wat in baie gevalle van geen hulp is nie, omdat dit nie vir hom duidelik is hoe dit op hom van toepassing is nie. Op hierdie stadium maak hy dikwels die fout om te dink dat geloof een of ander groot werk is om te doen, waartoe hy hom met alle mag moet inspan, terwyl hy tot God bid om hom te help in die doen van hierdie groot werk. Terselfdertyd dink hy dat ongeloof een of ander bose beginsel is wat eers ontwortel moet word voordat die evangelie enigsens vir hom van nut kan wees.

Maar waaroor gaan hierdie geloof en ongeloof nou regtig?

In alle ongeloof is daar hierdie twee elemente aanwesig - ’n goeie opinie van jouself en ’n slegte opinie van God. Solank as hierdie twee faktore aanwesig is, is dit onmoontlik vir ’n  soeker om rus te vind. Sy goeie opinie van homself laat hom dink dat dit heeltemal moontlik is om God se guns te wen deur sy eie godsdienstige prestasies en sy slegte opinie van God maak hom onwillig en bang om sy saak heeltemal in God se hande te plaas. Die doelwit van die Heilige Gees in die oortuiging van sonde, is om die sondaar se opinie van homself te verander en sy waardasie van sy eie karakter so te verminder sodat hy oor homself sal dink soos God oor hom dink en dat hy kan ophou om te veronderstel om te dink dis moontlik dat hy vrygespreek kan word deur enige voortreflikheid van sy eie. As die Gees klaar die sondaar se goeie opinie van homself verander het, verander Hy sy slegte opinie van God sodat hy kan sien dat die God met wie hy te doen het inderdaad die God van alle genade is.


Jou probleem hoekom die vrede jou ontwyk is, jy het ’n slegte opinie van God. Jy glo nie regtig dat Hy genadig is nie. Aan die anderkant dink jy te goed van jouself, jy wil nog self ’n bydra maak tot jou redding.

Tog ontken die soeker dat hy ’n goeie opinie van homself het en sê hy dat hy homself as ’n sondaar beskou. Natuurlik kan iemand dit sê, maar om dit werklik te weet behels iets meer as net sê. Ja, hy mag wel gewillig wees om die naam van sondaar aan homself toe te dig, in die algemene sin, ’n  sondaar  net soos sy medemens, maar nie heeltemal ’n  sondaar soos wat God sê dat hy is nie. Nie ’n sondaar as een wat die hele Verlosser vir homself nodig het nie, nie ’n  sondaar as een wat die kruis en die bloed en die geregtigheid van die Seun van God nodig het nie. Hy het nie heeltemal so ’n  slegte opinie van homself wat hom laat besef dat hy niks van God kan verwag op sterkte van persoonlike goedheid nie, of selfverbetering, of toegewyde onderhouding van sekere pligte of meerderwaardigheid ten opsigte van andere nie. Dit vat nogal baie om iemand se goeie opinie oor homself te vernietig. Selfs nadat hy sy goeie opinie oor sy werke verloor het, behou hy nog sy goeie opinie oor sy hart en selfs nadat hy dit verloor het, hou hy nog steeds vas aan sy goeie opinie oor sy godsdienstige verpligtinge waardeur hy hoop om op te maak vir sy bose werke en slegte hart. Hy hoop nog steeds om so te handel, te voel en te bid sodat God ’n  goeie opinie van hom kan hê en hom in guns kan aanneem.

Al sulke pogings kom voort uit die feit dat mens tot ’n mate goed dink van homself en terselfdertyd sleg dink van God, asof Hy hom nie sal ontvang soos hy is nie. As hy homself geken het soos God hom geken het, sou hy hom net so min tot sulke pogings gewend het, as wat hy daaraan sou dink om ’n krans in die Himalajas uit te klim. Hoe moeilik is dit om ’n  mens oor homself te laat dink soos God oor hom dink! Wat anders as die almag van die Heilige Gees kan dit bewerkstellig?

Maar die soeker hou vol dat hy nie ’n slegte opinie oor God het nie. Laat ons hom vra. Het hy so ’n  opinie van Hom soos wat die Bybel gee en soos wat die kruis openbaar? Het hy so ’n  opinie van Hom, wat hom veilig laat voel om sy siel in God se genadige hande oor te gee en Hom te vertrou met sy ewige bewaring? Indien dit nie die geval is nie, waar is sy goeie opinie van God? Vir seker behoort die kennis van God soos die kruis dit vir ons leer, ons alle twyfel opsy te laat skuif en alle wantroue vir ons verfoeilik te laat lyk, as ’n  verwronge wanvoorstelling van God se karakter en ’n  klad op Sy genadige naam.


Ongeloof is geloof in ’n leuen. Dit berus op ’n wanvoorstelling van God.

Ongeloof is dus die geloof in ’n leuen en die verwerping van die waarheid. Dit wis God se genadige naam van die kruis af uit en graveer ’n  ander naam daarop, die van ’n  onbekende god, by wie daar geen vrede vir die sondaar en geen rus vir die vermoeide is nie.

Sondaar assseblief, aanvaar, die karakter van God soos dit in die evangelie aan ons gegee word. Lees reg Sy geseënde naam soos dit op die kruis geskryf is.  Aanvaar Sy eenvoudige  bedoeling met die goddelose soos ons dit duidelik uiteengesit kry in die goeie tyding van vrede. Is dit nie genoeg nie? As dit wat God van Homself bekend gemaak het, nie jou vrees verdryf nie, sal niks anders nie. Die Heilige Gees sal jou nie vrede gee afgesien (losstaande) van jou sieninge oor God se karakter nie. Dit sou neerkom op steun aan die aanbidding van ’n  vals god, in plaas van die ware God wat in die Bybel geopenbaar is. Dit is in samehang met die waarheid oor die ware God , “die God van alle genade” dat die Heilige Gees vrede gee.  Dit is die liefde van die ware God wat Hy in die hart uit stort.


Die Heilige Gees vestig ons aandag op die goedheid van God soos dit sigbaar geword het in Jesus!

Die doelwit van die Gees se werk is om ons bekend te maak met die ware God , sodat ons in Hom rus mag vind. Dis nie om sekere gevoelens in ons te produseer, sodat die bewustheid daarvan ons beter oor onsself kan laat voel en vir ons vrymoedigheid teenoor God kan gee nie. Dit wat die Heilige Gees vir ons wys oor onsself is net boos, dit wat Hy vir ons wys oor God , is net goed. Hy stel ons nie instaat om te voel of te glo sodat ons deur ons gevoel of geloof vertroos kan word nie. Selfs wanneer Hy die kragtigste in ons werk, draai Hy ons oë weg van Sy werk in ons en vestig dit op God en Sy liefde in Christus Jesus ons Here.  Die inhoud van die evangelie is die naam van die groot God, soos dit ontvou is in en deur Jesus Christus; die karakter van Hom in wie ons “leef en beweeg en is” as die “regverdige en reddende God ” (Jesaja 45:21), die Regverdiger van die goddelose.

Draai jou oog na die kruis en sien twee dinge raak - die kruisigers en die Gekruisigde. Kyk na die kruisigers, die haters van God en Sy Seun. Hulle is jyself. Lees in hulle jou eie karakter en hou op om te dink dat jy dit die grond van jou vrede kan maak. Sien dan die Gekruisigde. Dit is God self, vleesgeworde liefde. Dit is Hy wat jou gemaak het, God geopenbaar in die vlees besig om te ly, te sterf vir goddeloses. Hoe kan jy nog Sy genade betwyfel? Hoe kan jy bose gedagtes oor Hom koester? Kan jy vir enigiets meer vra om in jou die volste en mees spontane sekerheid op te wek? Wil jy nou regtig daardie angs en dood verkeerd verstaan, deur te sê dat dit nie genade uitspel nie of dat daardie genade wat dit uitspel nie vir jou bedoel is nie. Herinner jou aan wat geskryf is. “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het” (1 Joh. 3:16)   “Hierin is die liefde, nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en Sy Seun gestuur het as ’n  versoening vir ons sondes.” (1 Joh. 4:10)

HOOFSTUK 5 REGVERDIGE GENADE

Ons het oor God se karakter gepraat as die “die God van alle genade” (1 Petrus 5:10). Ons het gesien dat dit in die “smaak dat die Here goedertieren is” dat die sondaar vrede het. (1 Petrus 2:3)

Maar nou baie belangrik - God se genade is nie maar net sommer so ’n genade nie. God se genade is ’n volmaakte en regverdige genade. Wat word bedoel met ’n regverdige genade? Wat is die verskil tussen genade en regverdige genade?  Gestel, jy het iets groots by ’n besigheid gekoop, maar op die ou end kan jy dit nie betaal nie. Jy gaan dus na die baas se kantoor om te vra of jou skuld afgeskryf kan word. Jy praat daar met die sekretaresse, sy kry jou jammer en sê : “Goed meneer, kom ons beskou die saak as afgehandel, vergeet van jou skuld.” Dis natuurlik ’n vorm van genade. Maar as jy ’n sensitiewe gewete het, sal jy nie heeltemal gerus wees nie. Het sy die reg gehad om my skuld maar sommer net af te skryf? Sal my skuld nie dalk weer eendag teen my opgehaal word nie. Dis immers ’n feit ek skuld die besigheid ’n klomp geld. Dit staan op die boeke. Maar dan kom die baas in en vra wat aangaan. Nadat alles aan hom verduidelik is, sê hy : “Luister jy is my vriend. Ekself betaal nou jou skuld aan die besigheid. Hier,” hy skryf ’n tjek uit, gee dit aan die sekretaresse en beveel haar om ’n kwitansie uit te skryf. Wat ’n verskil! Nou het ek ’n kwitansie in my sak. ’n Bewys dat ek geen skuld meer het nie. Dis regverdige genade. My skuld is nie maar net vergeet of onder die mat ingevee nie, dis inderdaad betaal en ek kan volkome gerus wees dat dit nooit teen my gebring sal word nie.  Geen hof sal my skuldig kan bevind nie, want ek skuld wettiglik niks meer nie. Geregtigheid het geskied. Ek kan opreg dankbaar wees en ontspan.




Vir volkome gemoedsrus het ons nodig om te weet dat die genade wat ons ontvang, ’n wettige regverdige genade is.

Ons moet onthou, die genade wat ons ontvang deur in Jesus te glo is die genade van ’n  regverdige God; dis die genade van die een wat Regter sowel as Vader is. Tensy ons dit raaksien verstaan ons nog die evangelie verkeerd en sal ons in gebreke bly om  beide die vergifnis wat ons soek  en die groot offer waardeur dit na ons toe kom, na behore te waardeer. Geen vae vergifnis wat uit bloot ouerlike liefde of goedhartige onverskilligheid teen sonde voortspruit, sal deug nie. Ons het nodig om te weet watter soort begenadiging dit is en of dit voortspruit uit ’n  volle erkenning van ons absolute skuld deur “Hom wat die wêreld in geregtigheid sal oordeel.” Die korrekte begenadiging het nie net liefde as grondslag nie, maar ook die wet, nie blote goedhartigheid nie, maar geregtigheid, nie ’n  onverskilligheid teenoor sonde nie, maar heiligheid.

Die soeker wat net halfpad ernstig is, kyk dit maklik oor. Sy gevoel word opgewek, maar sy gewete word nie regtig aangeraak nie. Daarom is hy tevrede met ’n  baie vae idee oor God se blote genade vir die sondaar se ongelukkigheid. Vir hom lyk menslike sonde bloot na ’n menslike ongeluk en God se kwytskelding van die sondaar, nie veel meer as om sy sonde oor te sien nie. Hy kwel nie homself deur te vrae hoe die vergifnis kom of wat die werklike aard van die liefde is wat hy bely om te ontvang het nie. Hy word maklik aan die slaap gesus, want hy was nog nooit werklik ontwaak nie. Hy is op sy beste ’n  “rotsagtige grond” hoorder soos in die Gelykenis van die Saaier, wat gou die bietjie vreugde verloor wat hy moontlik mag gehad het. Hy verval maklik in vorm godsdiens, begin heul met sonde, of dit mag ook wees dat hy ’n godsdienstige sentimentalis word.

Die een wie se gewete werklik gewond is, word egter nie so maklik tevrede gestel nie. Hy sien dat die God wie se guns hy verlang heilig sowel as liefdevol is en dat hy te make het met beide geregtigheid en genade. Daarom gaan die eerste navraag wat hy maak oor die regverdigheid van die genade van God vir hom aanbied. Hy moet tevrede gestel word op hierdie punt en wil kan sien dat die genade, regverdige genade is, voordat hy dit enigsens kan geniet. Hoe meer hy bewus word van sy eie ongeregtigheid, hoe meer voel hy die behoefte aan om hom te vergewis van die regverdigheid van die genade wat ons aan hom verkondig.

Dit stel hom nie gerus om net te sê dat dit van ’n  regverdige God af kom nie, dit moet ’n  regverdige genade wees. Sy gewete wil graag die regverdigheid van die manier waarop die genade na hom kom, insien. Hiersonder kan sy gewete nie tevrede gestel word of  “gereinig” word nie. Sonder hierdie gerusstelling van sy gewete kan die sondaar nie volkome rus kry nie (Hebreërs 9:9-14) en sal hy altyd die ongemaklike gevoel hê dat alles nie pluis is nie en dat sy sonde tog nog eendag teen hom kan opstaan.




Ek sal nooit gerus voel solank ek dink dat God maar net my sonde onder die mat ingevee het nie. Wie dit word nie eendag weer daar uitgehaal om teen my te getuig nie?

Dis hier waar die werk van Christus inkom. Die kruis van die Sondedraer beantwoord die vraag van die gewete : “Is dit regverdige genade?” Dit is hierdie groot werk van voldoening aan die kruis wat God aan ons bekendstel as “die regverdige en reddende God” (Jesaja 45:11) Hy is nie net regverdig ten spyte van sy regverdigmaking van die goddelose nie, Hy is juis regverdig deur dit te doen. So word verlossing as ’n daad van geregtigheid geopenbaar, inderdaad een van die grootste dade van geregtigheid wat ’n regverdige God kan doen. Christus se voldoening aan die kruis openbaar God se werk van begenadiging nie net as die daad van ’n  regverdige God nie, maar as die daad by uitnemendheid wat verklaar juis hoe regverdig Hy is en hoe Hy die einste sonde wat Hy kwytskel en vergewe terselfdertyd haat en veroordeel.



Die kruis wys hoe dat God sonde haat en straf, maar dit wys ook op dieselfde tyd hoe lief God sondaars het.

Luister na die Woord van die Here aangaande hierdie voltooide werk van Christus se voldoening aan die kruis. “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte.” (1 Kor. 15:3) “Hy is ter wille van ons oortredings deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel” (Jesaja 53:5) “ Christus is eenmaal geoffer om die sondes van baie weg te neem” (Hebr. 9:28) “Wat Homself vir ons gegee het” (Tit. 2:14) “wat oorgelewer is ter wille van ons misdade” (Rom. 4:25) “wat Homself gegee het vir ons sondes,” (Gal. 1:4) “het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.” (Rom. 5:6) “Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.” (Heb 9:26) “Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het,” (1 Pet 4:1) “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges,” (1 Pet 3:18) “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het,” (1 Pet 2:24)

Hierdie uitdrukkings praat van iets meer as liefde. Liefde is teenwoordig in elkeen van hulle - die diep, ware, egte liefde van God; maar ook regverdigheid en heiligheid - onbuigbare en onverbiddelike getrouheid aan Sy eie wet. Hierdie wonderlike uitdrukkings maak geen sin sonder die wet nie, die wet van God as die fondasie, pilaar en sleutel van die heelal.

Dit was juis die wet in sy onveranderlike volmaaktheid, wat ons Borg, Jesus  se sterwe genoodsaak het. Volgens die wet móét sonde gestraf word; daar is geen skuiwergat of verbyglipkans nie. Daarom was dit noodsaaklik dat Jesus met ons sonde belaai moes word en die straf daarvoor moes dra sodat ons vry van straf kan wees. Die liefde van God het Christus “sonde vir ons gemaak het”.  (2 Kor. 5:21) As een mens vir ’n  ander sou sterwe terwyl daar geen nodigheid was om dit te doen nie, sou mens kwalik sy dood ’n  bewys van liefde kon noem. Op sy beste sou dit dwase liefde wees. Maar aan die anderkant, om vir iemand te sterwe as dit regtig nodig is, is die ware toets van egte liefde. Om vir ’n  vriend te sterf wanneer niks anders hom kan red nie, dis ’n  bewys van liefde! Wanneer óf hy óf ons moét sterf, en as hy dan self sterf om ons te red van sterwe; dis liefde.  Geregtigheid het vereis dat sonde gestraf word. En juis om aan hierdie skrikwekkende noodsaak te voldoen, het die Seun van God mens geword, ons sonde op Hom geneem en gesterwe! Hy het gesterwe omdat dit geskrywe is : “die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4) Liefde het Jesus afgebring na die krip, liefde het Hom opgelei na die kruis! Hy het gesterwe as die sondaar se plaasvervanger. Hy het gesterwe  sodat God se kansellering van die sondaar se skuld ’n  regverdige saak kon wees. Sodat die herroeping van die sondaar se straf naamlik die ewige dood, ’n regverdige basis het.


Jesus het ons sonde op Homself geneem. Hy was dus bedek met ons sonde en in daardie opsig ’n “sondaar” (al het Hy geen sonde van sy eie gehad nie) En omdat Hy belaai was met ons sonde het die regverdige wet van God as’t ware geëis : “Jesus moet sterf!”

As dit nie was vir hierdie sterwe nie sou genade en skuld mekaar nie in die oë kon kyk nie.  God en die sondaar sou nie naby mekaar kon kom nie. Geregtigheid sou versoening verhoed het, en ons weet tog dat geregtigheid net so Goddelik en werklik is as liefde. Sonder hierdie boetedoening sou dit nie reg wees vir God om die sondaar te ontvang nie en ook nie veilig vir die sondaar om te kom nie.

Maar nou het barmhartigheid en waarheid mekaar ontmoet (Ps. 85:10), nou is genade geregtigheid en geregtigheid is genade. So word die sondaar se gewete tevrede gestel, deur aan hom regverdige liefde te wys, vir hom die onregverdige en onbeminlike. Dit verseker hom ook dat die versoening wat op hierdie manier bewerk is onwankelbaar vas staan en nooit versteur kan word nie. Nie in hierdie lewe nie en ook nie in die toekomstige nie. Dit is regverdige versoening wat elke toets sal deurstaan en tot in alle ewigheid sal standhou.  Gewetensrus wat so verkry word sal beproewingsproef, siekte proef, sterwensbed proef en oordeelsproef wees. Wanneer hy dit besef kan die grootste van alle sondaars sê “Wie is dit wat veroordeel?”

O, watter vreugde is daar in die waarheid dat Christus vir die goddelose gesterwe het! Dat die regverdige God juis die Regverdiger van die goddelose is! Die regverdige genade wat dus so na ons kom deur die sondedraende werk van “die Woord wat vlees geword het”,  vertel aan die siel, vir eens en vir altyd, dat daar geen veroordeling van enige sondaar op aarde meer kan wees nie. Dit geld vir elke sondaar wat maar net wil instem om totaal afhanklik te wees aan hierdie vrye liefde van God, wat soos ’n  fontein van lewende water vry uitborrel van die voet van die kruis.


Deur Jesus se kruisdood het geregtigheid geskied. Ons sonde is regverdiglik gestraf. Dis eens en vir altyd klaar gestraf en dié een wat glo hoef dus geen straf meer te vrees tot in alle ewigheid nie.

Regverdig, en tog die Regverdiger van die goddelose!  Watter goeie tyding is dit tog nie! Hier is nou inderdaad genade - God se vrye liefdesguns aan die sondaar - Goddelike mildadigheid en goedgunstigheid, heeltemal ongeag en ten spyte van  menslike waardigheid en verdienste. Hierin lê die Skriftuurlike betekenis van die  woord “genade”, wat so dikwels verkeerd verstaan word.

Hierdie regverdige liefdesguns het sy oorsprong in die boesem van die Vader, waar die eniggebore Seun Sy woning het. (Joh. 1:18) Dit word nie geproduseer deur enigiets buite  God self nie. Dis juis God se reaksie op die mens se boosheid, nie op sy goedheid nie. Dis lig in reaksie op duisternis, lewe in antwoord op dood. Dit wag nie vir ons soeke nie, dit kom ongevraagd en onverdiend. Dit is nie ons geloof wat dit skep of dit oproep nie, ons geloof word maar net daarvan bewus aangesien dit alreeds bestaan in sy Goddelike en veelvuldige volmaaktheid. Of ons dit nou glo of nie, hierdie regverdige genade bestaan en dit bestaan vir ons. Ongeloof wys dit af, maar geloof neem dit aan, juig daaroor en lewe daarop.


Ja, geloof vat en omhels hierdie regverdige genade van God en daarmee saam ’n regverdige verlossing, en ’n regverdige erfgenaamskap van die ewige heerlikheid.


HOOFSTUK 6 GEREINIG DEUR DIE BLOED

Die postmoderne mens sou dalk kon vra : “Hoekom lê die Bybel soveel klem op bloed? Sommige kom openlik in opstand teen ’n “bloedige evangelie.” Dis klink vir hulle "outyds en barbaars" Daarom is dit belangrik vir ons om te weet : “Wat is die besondere betekenis van die bloed, waarvan ons so baie lees? Hoe bring dit vrede?  Hoe “bevry dit die gewete van dooie werke”? (Hebr. 9:14) Wat kan bloed te doen hê met die vrede, die genade en die geregtigheid waaroor ons besig is om te praat?”


Die offers van die Ou Testament verduidelik aan ons waarom Jesus se bloed moes vloei ter wille van ons verlossing.

God gee die rede gelukkig baie duidelik in sy Woord. En as ons dit verstaan  kom ons by die diepste fondasie en grondslag van die sondaar se vrede.

Die antwoord lê in die offers waarvan ons so baie in die Ou Testament lees. Al die offers vanaf die tyd van Abel en verder, voorsien ons van die sleutel tot die betekenis van die bloed . Dit verduidelik aan ons die noodsaaklikheid waarom dit vergiet moes word vir die vergifnis van sondes. “Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Hebr. 9:22) Dis die groot waarheid wat deur God vanaf die begin af geleer is. Dit het as’t ware geskrywe gestaan op die poorte van die tabernakel en tempel. Vir meer as tweeduisend jaar gedurende die tyd van die aartsvaders, was daar maar een belangrike offer, die brandoffer.  Dit is later tydens die Mosaïese offerdiens in verskeie soorte opgedeel - die brandoffer, sondoffer, spysoffer ens. In almal het die essensie van die oorspronkliker brandoffer egter behoue gebly, naamlik die bloed en die vuur. Hierdie twee elemente was gemeenskaplik aan almal. Die bloed is die simbool van plaasvervanging. ’n Dier sterf in my plek. Die  vuur is die simbool van God se wraak op die plaasvervanger (die dier).  Hierdie betekenis was veral baie opsigtelik by die daaglikse brandoffer, die oggend en aand lam. Dit was hierna wat Johannes verwys het toe hy van Jesus gesê het : “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29) Israel se daagliks offer van ’n  lam was die hart en kern van al die Ou Testamentiese offers wat die aanbidders teruggeneem het na die offers van die ou tyd, maar  hulle ook vooruit heengewys het na die bloed van besprenkeling wat van “beter dinge spreek as Abel.” ( Hebr. 12:24)

In al hierdie offers het vergieting van die bloed die doodmaak van die plaasvervanger dier behels.  Bloed is die simbool van lewe, vergieting daarvan is dus die neem van lewe. Die “bloed was die lewe” (Lev. 17:11,14; Deut. 12:23) en die uitstorting van die bloed was “die uitstorting van die siel” (Jesaja 53:12) Hierdie bloedvergieting of neem van die lewe was die betaling van die straf vir sonde.  Hoekom het die betaling van sonde die neem van ’n lewe vereis? Onthou God se waarskuwing in die paradys aan die mens. “ die dag as jy daarvan eet sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:17) Ons lees ook “die siel wat sondig, dié sal sterwe” (Eseg. 18:4)  Hierdie waarheid word ook weer in die Nuwe Testament herhaal “die loon van die sonde is die dood” ( Rom. 6:23) Daar is net een gepaste straf vir die sonde en dis die dood.

Ons het gekyk na Israel se offers vir hulle sondes. Die feit is egter, die bloedvergieting van Israel se offers kon nie regtig die sonde wegneem nie. Dit het eintlik net die manier aangedui waardeur dit eendag gedoen sou word.  Al die offers opsigself kon dus nooit werklik versoening bring nie. (Hebr. 10:11) Die offers het wel dit duidelik gemaak dat lewe gegee moes word vir lewe, voordat sonde kwytgeskeld kan word, maar die voortdurende herhaling van die offers het reeds getoon dat “edeler bloed”* nodig was.  ’n Ryker bloed as waarmee die tempel altaar ooit besprinkel is en ’n  meer kosbare lewe as wat die mens ooit kon gee, was nodig vir die versoening van sonde. Wie sou dit kon voorsien? Die bloed van God se eie Seun, Jesus Christus!

Maar nou weet ons : die groot bloedvergieting is  afgehandel, die beter kosbare lewe is aangebied, ja, die een dood van die Seun van God het reggekry wat al die offers van ouds nooit kon regkry nie. Sy een lewe was genoeg, Sy sterwe het die boete betaal volledig betaal. God vra nie twee lewens  of twee betalings nie. “ Christus is eenmaal geoffer om die sondes van baie weg te neem” (Hebreërs 9:28) “Want die dood wat Hy gesterwe het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe” (Rom 6:10) “Hy het een slagoffer vir die sondes gebring” (Hebreërs 10:12)

Jesus se offer van Homself was genoegsaam. Die vraag is nou net : Hoe weet ek dit is op my van toepassing? Hoe kan ek persoonlik daarby baat vind?

*Bonar praat van “richer blood” en verwys daarmee waarskynlik na die onderstaande lied van Isaac Watts :
Not all the blood of beasts
On Jewish altars slain
Could give the guilty conscience peace,
Or wash away the stain :
But Christ, the heavenly Lamb,


Takes all our sins away,
A sacrifice of nobler name
And richer blood than they

Weereens moet ons teruggaan na die Ou Testament om die antwoord te kry. Ons lees dat die offerbloed op mense gesprinkel is. Die “gesprinkel” van die bloed (Eksodus 24:8 - NAB) op sekere persone of dinge, het daarop neergekom dat hierdie persone of dinge as dood gereken is. Dit word dan beskou asof hulle die boete wat die wet vereis het self betaal het. Deur die besprinkeling van die bloed word hulle gereinig en staan hulle onskuldig voor God . Solank as wat hulle nie die boete  betaal nie word hulle as onrein en ongeskik in God se oë beskou, maar sou gou as wat hulle dit betaal, word hulle beskou as rein en geskik vir diens aan God. Gewoonlik wanneer ons van reiniging lees dink ons bloot aan ons algemene proses van verwydering van vuilis deur water en seep. Maar dit is nie wat deur die offers afgebeeld word nie. Tydens ’n offer word ons gereinig deur die bloed wat ons deelgenote maak aan die dood van die Plaasvervanger. Wat maak ons vuil in God se oë? Dit is ons skuld, ons verbreking van die wet, die feit dat ons  ’n  doodsvonnis oor ons het as gevolg van ons ongehoorsaamheid. Ons het nie maar net gedoen waarvan God nie hou nie, maar ons is skuldig aan dit wat Sy regverdige wet as met die dood strafbaar verklaar.  Hierdie doodsvonnis bring totale skeiding tussen ons en God bring. Hierdie skeiding weerhou God daarvan om ons te seën. Hierdie skuld van ons  maak dit gevaarlik vir ons om na Hom te gaan.


Ons het in Jesus se sterwe die doodsvonnis ondergaan.

So is ons dan bedek met skuld waarvan die straf die dood is, terwyl die groot Hoëpriester die bloed bring. Daardie bloed verteenwoordig die dood, dit is God se uitdrukking van dood. Ons word dan daarmee besprinkel en so kry ons dan deel aan die dood, die boete wat die wet voorskryf vir die sonde. Ons “sterwe” in Jesus se sterwe. Ons ondergaan in Hom die vonnis en ons skuld verdwyn. Ons is gereinig. Die sonde wat skarlaken rooi was word soos sneeu en wat soos purper was, word soos wol. Dit is so dat ons gebruik maak van die bloed van Christus deur te glo, want geloof is slegs die sondaar se aanwending van die bloed. Deur te glo wat God getuig het oor hierdie bloed, word ons een met Jesus in Sy dood.  Gelowiges is mos saam met Christus gekruisig. So word ons dan beskou deur die wet en behandel deur God as mense wat die volle boete betaal het. Dis die betekenis van “gewas deur die bloed van Jesus Christus”.  (1 Joh. 1:7)


Wie in Jesus glo kan volkome gerus voel en weet : My sonde is klaar gestraf, my gewete hoef my nie meer te kwel nie.

Dit dan is die goeie tyding van lewe, deur Hom wat gesterf het. Hierdie goeie tyding vertel ons nie wat ons moet doen om gered te word nie, maar wat Hy gedoen het. Hierdie is die enigste feit wat die sondaar se vrese tot rus kan bring. Ek kan nou gerus voel, want my skuld is betaal. My gewete hoef my nie meer te kwel nie, want my sonde bestaan nie meer vir God nie. Op hierdie manier bevry die bloed van Jesus my gewete van ’n las.  Hoe belangrik is dit om die betekenis van Jesus se dood te verstaan! Die regte kennis van God se bedoeling met die besprinkeling van die bloed, is die enigste effektiewe manier om die kwellinge van die onrustige siel weg te neem en hom in te lei in ’n  volmaakte vrede.

Die boodskap van Kersfees is nie genoegsaam om vir ons vrede te bring nie, dit moet opgevolg word deur die boodskap van die Kruis. Dit is nie bloot deur sy menswording nie, maar deur die vergieting van Christus se bloed dat ons gered word.  Christus as die Gesalfde van God is nie maar net iemand wat vir ons wysheid leer nie, Hy laat ons nie maar net beter voel en help ons met liefdesprobleme of eksamenkrisisse nie. Diegene wat dink dat hulle die volle evangelie verkondig het as hulle gepraat het oor Jesus wat God se liefde geopenbaar het, dwaal grootliks. Nee, Jesus is baie meer, Hy is ons Plaasvervanger wat sy lewe in ons plek gegee het.

As Christus nie die Plaasvervanger is nie, dan is Hy van geen nut vir die sondaar nie. As Hy nie gesterf het as die Sondedraer nie, het Hy tevergeefs gesterf. Laat ons nie bedrieg word op hierdie punt en deur ander mislei word wat dink as hulle Christus as Redder aangekondig het dat hulle die volle evangelie verkondig het nie. Ons moet baie spesifiek vir ander vertel wat Christus as Redder kom doen het. As ek ’n  tou uitgooi na ’n  verdrinkende man, is ek ’n  redder.  As ek myself in die see werp en my lewe waag om iemand anders te red, is ek ’n  redder.  Maar het Christus nie tog meer as dit gedoen nie? Het Hy maar net Sy lewe gewaag? Die werklike essensie van Christus se redding is die plaasvervanging van Homself vir ons, Sy lewe vir ons s’n. Hy het nie gekom om bloot Sy lewe te waag nie, Hy het gekom om definitief te sterf! Hy het ons nie verlos deur ’n  bietjie verlies te ly nie, ’n   klein opofferinkie nie, ’n  bietjie inspanning of ’n  bietjie lyding nie.  Hy het ons “vir God gekoop deur Sy bloed” (Openb. 5:9); “die kosbare bloed van Christus” (1 Petrus 1:18) Hy het alles wat Hy gehad het vir ons gegee, selfs Sy lewe. Dit is die soort van redding wat aanleiding gee tot die blye lied, “Aan Hom wat ons liefgehad het, en van ons sondes gewas het in Sy bloed” (Openb. 1:5)


Die moderne mens verkies ’n boodskap sonder bloed. Maar sonder Jesus se sterwe sou daar vir ons geen hoop gewees het nie.



Die hedendaagse mens hou nie van ’n boodskap met bloed nie.  Mense wil graag eerder aangename praatjies hoor van hoe om hulle selfbeeld te verbeter, hoe om ’n sukses van die lewe te maak en hoe om gelukkig te wees in hulle werk en huwelik. Daar is min belangstelling om te hoor van die bloed van Christus wat in my plek vergiet is. Hulle dink hulle het nie vergifnis nodig nie. Die selfversekerde mens beskou homself nie meer as ’n  sondaar, veroordeel om te sterf en daarom as iemand wat die dood van ’n  ander nodig gehad het nie. Vriend, weet verseker, sonder die boodskap van Jesus se plaasvervangende sterwe is daar geen goeie nuus in die Bybel vir jou nie.

Natuurlik is daar in ander godsdienste ook offers. Die heidenaltare was deur die eeue rooi van die bloed en is tot vandag nog so. Maar hierdie aanbidders verstaan nie regtig die betekenis van die bloed wat hulle bring nie. Hulle assosieer dit in hulle gedagtes net met wraak, en hulle vergiet hierdie bloed om die wraak van die gode te stil. Daar is geen erkenning van beide die liefde of die geregtigheid van God nie. Hulle dink hulle eie offers of opofferings is genoegsaam om die gode se wraak te stil. Hulle dink hulle gebede of goeie dade kan die gode se guns koop. Daarom kry ons by die heidene (dink maar aan die Moslems) groot opoffering en toewyding, maar dis helaas alles tevergeefs.

Israel se altare getuig van iets heeltemal anders.. Daar is bloed en hulle wat dit bring ken die God na wie hulle kom. Hulle bring dit in erkenning van hulle  eie skuld, maar ook van Sy vergewende liefde. Hulle sê : “Ek verdien die dood, maar laat hierdie dood (van die offerdier) instaan vir myne, en laat die liefde wat andersins my nie sou kon bereik vanweë my skuld nie, nou uitgestort word op my.”  Die gelowiges van die Ou Testament se offers was eintlik ’n vooruitvertroue op die volmaakte offer wat Jesus sou bring. Gelowiges in die Ou Testament is dus op dieselfde manier as ons gered, naamlik geloof in Jesus en sy werk aan die kruis.

Pasop dus vir twee foute. Aan die eenkant  om te dink jy is goed genoeg en het nie ’n offer vir jou sondes nodig nie. Aan die ander kant om staat te maak op my eie offers, of dit nou my eie vroomheid, gebede of goeie dade is. Nee, besef jy is ’n sondaar wat skuldig is voor God , maar sien ook raak dat Jesus se dood daardie sondeskuld volledig in jou plek betaal het.

Jesus se dood bring vir ons die lewe. Dit is in Christus se dood, waarin ons gedoop is. (Rom. 6:3), en so dus het die kruis wat die instrument van dood was, ons voorwerp van verheuging geword. Die kruis is vir ons die betaling van die sondaar se boete. Dis die uitkansellering van al ons sondeskuld. Jesus se sterwe kom neer op die opskeur van alle dokumentasie wat ons skulde bevestig. ( Kol. 2:14) En soos die kruis die betaling is, so is die opstanding God se  kwitansie vir die volle som, geteken met Sy eie hand.  Die opstanding sê vir ons dis afgehandel, die volle prys is betaal en aanvaar!


Ons geloof help nie om ons skuld te betaal nie, dit sien net raak en erken dat ons skuld reeds deur Iemand anders betaal is.



Waar kom ons geloof in? Baie belangrik : Ons geloof is nie die voltooiing van die betaling nie, maar bloot die erkenning van ons kant af, van die betaling wat deur die Seun van God gemaak is. Deur hierdie erkenning word ons so een met Hom wat gesterf en opgestaan het, sodat ons agterna beskou word as die party wat die boete betaal het, en behandel word asof dit ons self was wat gesterf het. So word ons “geregverdig van ons sonde” en deelgenote gemaak van die geregtigheid van Hom, wat nie alleenlik vir ons misdade oorgelewer is nie, maar wat ook weer opgewek is vir ons regverdigmaking. (Rom. 4:25)

Hoe gaan ek die aanklagte van my gewete, die wet van God en die groot aanklaer, Satan oorkom? Nie deur te konsentreer op my gebrekkige goeie hoedanighede nie, maar vas te hou aan die feit dat Jesus klaar reeds deur sy dood my straf gedra het en my skuld voor God uitgewis het. Dis ’n gewilde taktiek van Satan om  ons te beskuldig en weer ons aandag te vestig op ons sondes en mislukkings van die verlede. Hy herinner ons graag aan ons sonde. Hoe gaan jy hom antwoord? Dit help nie om ons sondes te ontken nie. Vat die wind uit sy seile deur saam te stem en te sê :”Ja, ek is ’n vreeslike sondaar, maar weet jy Christus het juis vir sondaars gesterf!” John Newton was ’n voormalige slawehandelaar wat vreeslik goddeloos geleef het. Dink net hoe die duiwel hom oor sy sondige verlede moes geteister het. Maar luister bietjie hoe hy sy vurige aanklaer die duiwel aanvat in hierdie vers :

Be Thou my shield and hiding place,
That, sheltered near Thy side,
I may my fierce accuser face,
And tell him Thou hast died.

Jesus het gesterf! Dis ons verweer teen alle aanklagte en dis die rede waarom niemand in die ganse heelal ons wat in Hom glo kan veroordeel nie. (Rom. 8: 32,33)

HOOFSTUK 7 DIE PERSOON EN WERK VAN DIE PLAASVERVANGER

Lewe kom na ons deur Jesus se dood. Die genade wat ons ontvang is vol van geregtigheid en nie wankelrig of twyfelagtig nie. Maar ons het nog baie meer om te leer oor Hom wat gelewe en gesterwe het as die sondaar se Plaasvervanger. Hoe meer ons weet van Sy persoon en Sy werk, hoe meer sal ons gerusgestel word in ons hart en gewete deur die voorsiening wat God gemaak het vir ons groot nood.


Ons Sondedraer is die ewige Seun van God.

Van Jesus  is daar soveel heerlike dinge geskrywe : “In die begin was die Woord , en die Woord was by God, en die Woord was God.” (Joh. 1:1) Hy is “die afskynsel van Sy heerlikheid en die afdruksel van Sy wese” (Hebr. 1:3).  Hy is “in die Vader en die Vader in Hom”; “die Vader bly in Hom” (Joh. 14:9-11) Hy is “die Woord wat vlees geword het” (Joh. 1:14); “God geopenbaar is die vlees” (1 Tim. 3:16); “Jesus die Christus wat in die vlees gekom het” (1 Joh. 4:2-3); Sy naam is “Immanuel”, God met ons (Jesaja 7:14; Matt. 1:23); Jesus die “Verlosser” (Matt. 1:21); “Christus”, die Gesalfde , gevul met die Heilige Gees sonder maat (Joh. 3:34); “die Eniggeborene wat van die Vader kom, vol genade en waarheid” (Joh. 1:14).

Hy het die “evangelie van die koninkryk” kom verkondig, dit is die goeie nuus oor die koninkryk (Markus 1:14) Hy het die skares wat rondom Hom vergader het, geleer (Markus 4:1), siekes genees, die oë van blindes geopen en dooies opgewek (Matteus 4:23,24); sondaars ontvang en saam met hulle geëet (Lukas 15:2). “Hy het gekom om te soek en te red, die wat verlore is” (Lukas 19:10) Hy het rondgegaan en woorde van genade gespreek soos niemand ooit nie. “Ek is die weg, die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Joh. 14:6)

Sy hele bestaan het gedraai om die feit dat Hy die Verlosser is. In Sy hele lewe sien ons Hom, as die herder wat na sy verlore skape soek, as die vrou wat na haar verlore geldstukkie soek en as die vader wat uitkyk vir sy verlore seun.  Hy is “magtig om te verlos” (Jesaja 63:1); Hy is in staat “om volkome te red” (Hebr. 7:25) Hy het gekom as die “Verlosser van die wêreld” (1 Joh. 4:14)


In al hierdie feite wat oor Jesus in die Nuwe Testament  geskrywe is, is daar Goeie Nuus vir die sondaar.



Die Goeie Nuus van Jesus behoort elke sondaar aan te spoor om in eenvoudige vertroue na God te kom. Jy behoort hieruit te weet : my saak geniet ernstige aandag by God. Dit vertel my : God se gedagtes oor my, is nie gedagtes van woede  nie, maar van vrede en genade. Die hemel het inderdaad afgekom aarde toe! Daar is welwillendheid teenoor die mens. Hy gaan nie sommer aan sy groot vyand oorhandig word nie. God het die mens se kant gevat en tussen hom en Satan kom staan. Die wêreld word nie nou al vernietig nie en sy inwoners word nie almal ewige bannelinge weg van God se aangesig gemaak nie. Die duisternis is aan die verbygaan en die ware lig is alreeds aan die skyn.

Tog ten spyte van al hierdie wonderlike feite is nóg die persoon van Christus opsigself, nóg Sy geboorte, nóg Sy lewe genoegsaam vir ons vrede. Dat die Seun van God inderdaad ware maar sondelose menswees op hom geneem het, gebore uit die maagd, been van ons been en vlees van ons vlees geword het, in alles waarlik die saad van die vrou, dat Hy Sy lewe lank onder ons gewoon het, is maar slegs die begin van die goeie nuus. Dis die Alfa, maar nog nie die Omega nie. Dit is reeds duidelik gemaak aan Israel en ook aan ons deur  die voorhangsel voor die tempel. Daardie  voorhangsel was ’n  tipe (skaduwee wat heenwys) van Sy liggaam (Hebreërs 10:20); en so lank as wat daardie gordyn heel gebly het, was daar geen toegang tot die plek van God se nabye teenwoordigheid nie. Die aanbidder is nie met afkeur aangekyk nie, maar moes tog op ’n  afstand bly staan. Die voorhangsel het as’t ware aan die sondaar gesê : “God is daar binne”, maar dit het ook gesê : “Jy kan nie ingaan voordat daar nie iets meer drasties gebeur het nie.” Die Heilige Gees het hierdeur aangedui dat die weg na die allerheiligste nog nie geopen was nie. Die skeur van die voorhangsel, dit is die kruisiging van “die vleesgeworde Woord”, het die weg na die allerheiligste, die teenwoordigheid van God, egter heeltemal oopgemaak.


Die Goeie Nuus kan opgesom word in ’n paar eenvoudige feite.

Die Heilige Gees som die hart van die Goeie Nuus op in ’n  paar punte.  Dit is die volgende : Christus is gekruisig. Christus het gesterf. Christus is begrawe. Christus het weer opgestaan uit die dood. Christus het opgevaar na die hemel. Christus sit aan die regterhand van God, ons “Advokaat by die Vader” (1 Joh. 2:1), “wat altyd leef om vir ons in te tree” ( Rom. 8:34; Hbr. 7:25).

Hierdie is die groot feite wat die goeie nuus bevat. Dit is so min en eenvoudig dat ’n  kind dit kan onthou en verstaan. Dit is die kissies wat die hemelse juwele bevat. Dit is die bekers waarin die lewende water vir die dorstige siel is. Dis die goue mandjie waarin God die brood van die lewe geplaas het, die ware brood wat van die hemel neergedaal het, wat tot gevolg het, dat die mens as hy daarvan eet nooit sal sterwe nie.  Dit is die boeke in wie se bondige maar kosbare bladsye die rekords van God se magtige barmhartigheid beskrywe is, rekords wat so eenvoudig is dat selfs ’n  dwaas dit kan lees en verstaan, so waar dat al die wysheid van die wêreld, en al die liste van die hel, hulle vastigheid en sekerheid nie kan skud nie.

Die kennis van die hierdie feite is verlossing. Hierop rus ons vertroue; want hierdie feite  is die openbaring van die naam van God en dit is geskrywe : “Hulle wat U naam ken, sal op U vertrou” (Psalm 9:10)

Kom ons luister na die apostoliese prediking en sien hoe hierdie feite die hoofpunte vorm van die eerste preke. Preke soos die van Petrus in Jerusalem, of Paulus se preke in Korinte en Antiogië. Petrus se preek in Jerusalem was dat Jesus van Nasaret, wat gekruisig is, opgewek is uit die dood, verhoog is tot die troon van God, Here en Christus gemaak is. Dit verklaar die apostel as “goeie nuus”. Paulus se boodskap in Antiogië was wesentlik dieselfde; ’n  stel van die feite oor die dood en opstanding van Jesus. Die toepassing van daardie preek was die volgende : “Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kan word nie.” (Handelinge 13:38,39) Hy gee aan ons elders die volgende beskrywing van sy prediking : “Broeders ek maak aan julle die evangelie bekend, wat ek aan julle verkondig het............dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte, en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte” (1 Korintiërs 15:1-4) En dan voeg hy by “so preek ons en so het julle geglo” (vers 11)

So dan het die apostoliese prediking geklink. Dit was Paulus sê evangelie. Dit vertel ’n  paar feite oor Christus, voeg die bewyse by van hulle waarheid en sekerheid, sodat almal wat luister mag glo en gered kan word. Deur hierdie feite word God se vrye liefdesguns aangekondig en die groot verlossing geopenbaar. Dit is hierdie evangelie wat “die krag van God tot redding is, vir elkeen wat glo, want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof.”  ( Romeine 1:16-17)


 Die hooftema van die evangelie is :     “Christus het alles gedoen!

Die hooftema van hierdie evangelie was nie, “Doen dit of doen dat, probeer hard en bid, maak gebruik van die middele” nie - Nee, dit is wet en nie evangelie nie! Die hooftema van die evangelie is : “Christus het alles gedoen!” Hy het dit alles gedoen, toe Hy “oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.” ( Romeine 4:25) Hy het dit alles gedoen, toe Hy “vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis” (Kolossense 1:20) Dis duidelik Hy het alles gedoen, ant Hy sê : “Dit is volbring” ( Johannes 19:30) Sy werk is so volledig dat Hy niks oorgelaat het vir ons om te doen nie. Ons moet maar net ingaan in die vreugde van om te weet dat alles gedoen is.  “En dit is die getuienis : dat God ons die ewige lewe gegee het en die lewe is in Sy Seun.” ( 1 Johannes 5 :11)

Is jy nog skepties en onseker? Kom ons maak ’n  paar van die “betroubare woorde” van God oor Christus en Sy werk bymekaar. In hulle vind ons die Goddelike interpretasie van die feite oor Christus waarna ons reeds verwys het. Ons sal sien wat die betekenis is wat die Heilige Gees hieraan gee, en so sal ons geloof nie bestaan “in die wysheid van mense nie, maar in die krag van God” ( 1 Kor. 2 :5) Dit was juis op hierdie manier dat die Here self, voordat Hy die aarde verlaat het, die twyfel van die twyfelaars rondom Hom weggeneem het. Hy het hulle herinner aan die geskrewe Woord : “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde uit die dode opstaan, en bekering en vergewing in Sy Naam verkondig word, aan al die nasies van Jerusalem af en verder.” (Lukas 24:46,47)

Hoor dan die Woord van die Here! Die hemel en aarde sal verbygaan, maar hierdie woorde  sal nie verbygaan nie. “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.” (1 Tess 5:9,10) “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” (Hebr. 10:10) “het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.” (Rom. 5:6) “Wie is dit wat veroordeel?  Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Rom 8:34) “wat Homself gegee het vir ons sondes,” (Gal 1:4) “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word” (Gal 3:13) “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,” (Ef 1:7) “en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Fil 2:8) “Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie,” (2 Tim 2:8) “wat Homself vir ons gegee het” (Tit 2:14) “so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.” (Heb 9:28) “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.” (Heb 13:12) “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n  voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;” (1 Pet 2:21) “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het,” (1 Pet 2:24) “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges,” (1 Pet 3:18) “Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het,” (1 Pet 4:1) “En Hy is ’n  versoening vir ons sondes,” (1 Johannes 2:2) “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed” (Open 1:5) “en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid.” (Open 1:18) “want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie..” (Openb 5:9)  

Hierdie is als Goddelike waarhede, geskrywe in Goddelike woorde. Hierdie woorde is betroubaar en waar hulle kom van Hom wat nie kan lieg nie, en hulle is net so waar in hierdie laaste dae as toe hulle geskryf is, want “die woord van ons God hou stand in ewigheid” (Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:25) In hierdie woorde vind ons die egte uitleg van die feite wat die apostels gepreek het, en hierin leer ons die blye tyding aangaande die manier waarop die verlossing van n regverdige God na die onregverdige mens gekom het.


Jesus het gesterf - dit is die volle  betaling van die skuld, die verduring van die straf in ons plek, die dood vir die dood.
Hy is begrawe - dit is die bewys dat sy dood, ’n  werklike dood was en dat Hy gevolglik ’n  graf nodig gehad het, soos ons.
Hy het weer opgestaan - dit is God se verklaring dat Hy, die Regverdige Regter, tevrede is met die betaling en tevrede is met Hom wat die betaling gemaak het.


God is volkome tevrede met die prys wat Christus betaal het vir die sonde. Dis dwaas om te dink jy kan nog iets bylas.

Kan daar beter, blyer nuus wees vir ’n sondaar as hierdie? Wat meer kan hy vra om hom tevrede te stel as dit wat die heilige Here God van hemel en aarde so volledig tevrede gestel het? As dit nie baat nie, kan hy niks meer verwag nie. As dit nie genoeg is nie, het Christus tevergeefs gesterf.


God het dus “Sy geregtigheid naby gebring” (Jesaja 46:13) Ons het nie nodig om na die hemel op te gaan daarvoor nie, want dit sou impliseer dat Christus nooit neergedaal het nie. Ook het ons nie nodig om in die dieptes van die aarde daarvoor te soek nie, dit sou wou sê dat Christus nooit begrawe is en nooit weer opgestaan het nie.  Dit is naby. Dit is so naby soos die woord wat daaroor gaan, wat in ons ore ingaan. ( Rom. 10:8) Ons hoef onsself nie in te span om dit nader te bring nie, en ook nie iets te doen om dit na ons toe aan te trek nie. Dit is alreeds so naby, so ontsettend naby, dat ons dit nie nader kan bring nie. As ons probeer om ’n warm gevoel aan te wakker en die regte gesindheid op te wek om ’n  denkbeeldige oorblywende afstand uit te wis, sal ons misluk. Nie net omdat hierdie aksies van ons nie kan doen wat ons probeer doen nie, maar omdat daar hoegenaamd geen behoefte aan sulke pogings is nie. Die ding is alreeds gedoen. God het Sy geregtigheid naby die sondaar gebring. Die funksie van geloof is nie om te werk nie, maar om op te hou werk, nie om iets te doen nie, maar om te erken dat alles gedoen is, nie om geregtigheid naby te probeer bring nie, maar om bly te wees omdat dit naby is. Dit is “die woord van die waarheid van die evangelie” (Kolossense 1:5)


8. DIE EVANGELIE WAARHEID

Hoe kan ek voor God verskyn en in Sy teenwoordigheid staan met blye vertroue van my kant en genadige aanvaarding van syne?

Dit is die sondaar se groot vraag. Hy vra dit want hy weet daar is ’n  berg van skuld tussen hom en God. Ongetwyfeld was dit ook Adam se vraag toe hy vyeblare aanmekaar gewerk het vir ’n  bedekking. Maar hy sou gou agterkom dat vyeblare nie voldoende was nie. Hy het ’n volledige bedekking nodig gehad, nie net gedeeltelik nie. ’n Bedekking waardeur die oog van God nie sou kon sien nie. Toe God nader kom het hy die ontoereikendheid van sy vyeblare aangevoel en in die bos in geskarrel om weg te kruip vir die Goddelike oog. Die Here het die bewende man genader en hom laat voel dat sy skuilplek nie geskik is nie. Toe het Hy hom begin vertel wat wel geskik sou wees. Hy kondig ’n beter bedekking en ’n beter wegkruipplek aan. Hy openbaar Homself as die God van genade, die God wat sonde haat en tog die sondaar se kant kies teen die sondaar se vyand, die ou slang. En dit alles deur die “saad van die vrou”, die Man wat die ware skuilplek is. Adam kan nou veilig uit sy bosskuiling uitkom, en weet dat hy deur hierdie genade voor God kan staan sonder vrees en skaamte. Hy het die goeie nuus gehoor, en so kort as wat dit was het dit sy vrymoedigheid herstel en sy vrees weggeneem.


Geen menslike plan of bedekking kan ons sondeskuld en skaamte wegneem nie. God self het egter die genadige oplossing in Jesus Christus voorsien. Dis werklik Goeie Nuus.

Kom ons luister na die goeie nuus en kom ons hoor dit soos Adam, vanaf God self se lippe. Want dit wat geopenbaar is vir ons om te glo, word voor ons gebring op die gesag van God en nie van ’n mens nie. Ons moet die waarheid nie alleenlik glo nie, maar dit glo omdat God dit gesê het. Geloof moet ’n Goddelike fondasie hê.

Ons bring ’n paar van hierdie Goddelike aankondigings bymekaar en vra dat die leser dit  as Goddelik sal bestudeer. Laat niemand sê dat hy dit alreeds ken nie, maar laat hy ons uitnodiging aanvaar, en saam met ons die hele spektrum van evangelie stellings deurgaan. Dit is God self af dat ons moet leer, en dit is slegs deur na God se eie woorde te luister dat  ons by die ware kennis van die evangelie sal uitkom. Sy eie woorde is die betroubaarste, die eenvoudigste, die beste. Hulle is nie alleenlik die mees gepaste vir ons toestand nie, maar hulle is die woorde wat Hy beloof het om gestand te doen en te seën.


 God is ’n God van genade!

Kom ons luister dan na die woorde van God wat Hyself te sê het oor Sy eie genade, liefdesguns en barmhartigheid. “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid  en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe,” (Eks 34:6,7) “Die HERE is lankmoedig en groot van goedertierenheid,”(Num 14:18) “ ..... want sy barmhartighede is groot ....”(2 Sam 24:14) “want die HERE julle God is genadig en barmhartig,” (2 Kron 30:9) “Maar U is n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid,” (Neh 9:17) “ want sy goedertierenheid is tot in ewigheid;” (1 Kron 16:34) “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.” (Ps 86:5) “Maar U, Here, is n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.” (Ps 86:15) “Want u goedertierenheid is groot tot by die hemele en u trou tot by die wolke.” (Ps 57:11) “want u goedertierenheid is groot bo die hemel uit en u trou tot by die wolke.” (Ps 108:5) “ Die Here is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke.” (Ps 145:9) “Wie is ’n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan?  Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ’n welbehae in goedertierenheid.” (Miga 7:18) “hulle vrywillig liefhê” (Hos 14:5) “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee Here  het,” (Joh 3:16) “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom 5:8) “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, (Ef 2:4,5) “maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered” (Tit 3:5) “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.  Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as n versoening vir ons sondes.” (1 Johannes 4:9,10) “n heerlikheid soos van die Eniggebore wat van die Vader kom - vol van genade en waarheid.” (Joh 1:14) “die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh 1:17) “die woord van sy genade” (Hand 14:3) “om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” (Hand 20:24) 

Dis dan ’n  paar van die woorde van Hom wat nie kan lieg nie, oor Sy eie genade en liefdesguns. Hierdie woorde is betroubaar en waar.  Alhoewel ons dit dalk selde as sodanig erken het of ag geslaan het op die waarheid wat daarin te vinde is, is dit juis hulle wat die mees geskikste is om vrede te bring in die siel van selfs die mees gekwelde. Elkeen van hierdie genadewoorde is soos ’n waterfontein wat sy varsheid uitborrel tussen die dorre sand en verskroeide klippe van ons sondige woestynlewe.

Mag niemand tog sê : “Ons ken al hierdie gedeeltes; van watter nut kan dit tog wees om sulke bekende woorde te lees en te herlees?” Inderdaad, van groot waarde! Hoofsaaklik omdat dit juis in sulke aankondigings oor die rykdom van God se vrye liefdesguns is, waarin die evangelie verpak is, en dis juis uit hierdie aankondigings dat die Heilige Gees lig en vrede aan ons bedien. Hierdie woorde is boodskappers van blydskap aan die siel. In hierdie woorde hoor ons die stem van die Gees se liefde, sowel as die liefde van die Vader en die Seun!  As jy geen vrede in hulle vind as jy dit die eerste keer lees nie, lees hulle weer. As jy nog niks vind die tweede keer nie, lees nog weer! As jy nog niks vir die honderdste of duisendste keer vind nie, bestudeer dit nog weer! “Die woord van God is lewend en kragtig” (Hebreërs 4:12) Sy woorde is “lewende woorde” (Handelinge 7:38); “die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” ( 1 Petrus 1:23); dit is “soos ’n  vuur, soos ’n  hamer wat ’n  rots vermorsel” (Jeremia 23:29) Die evangelie is “die krag van God” ( Romeine 1:16); en dit is “deur die waarheid aan die lig te bring” dat ons onsself aanbeveel by elke menslike gewete voor die aangesig van God. ( 2 Korintiërs 4:2)


Oordink God se woorde; dit wek geloof in jou hart.

Daar is geen woorde soos die woorde van God nie, nie in die hemel of op aarde nie. Juis daarom moet jy  bestudeer  “dit wat geskrywe is”, want Hyself het die geskrywe en Hy het dit vir jou geskrywe. Moenie dink dis ’n mors van tyd om hierdie gedeeltes oor en oor te lees nie. Dalk lyk dit nou vir jou oorbekend en dof, maar hulle sal uiteindelik opvlam en jou donker siel verlig met die ware hemelse vreugde.

Jy het miskien al opgekyk na die hemel teen skemeraand om na ’n  ster te soek wat jy op sy gewone plek verwag. Jy kon dit aanvanklik nie raaksien nie, maar jy het geweet dat dit daar moet wees en dat sy lig nog net so helder was. Daarom het jy, in plaas daarvan om op te hou kyk of na ’n  ander voorwerp te begin soek, aangehou om meer intens te staar na die plek waar jy geweet dit te vinde is. Terwyl jy so staar het dit gelyk of die ster stadig en floutjies te voorskyn kom uit die hemel, en so het jou volhardende soektog geëindig in die vind van ’n  gesogte juweel.

So is dit met hierdie Skrifgedeeltes wat met jou praat oor die vrye liefdesguns van God. Miskien sê jy, dat jy alreeds daarna gekyk het en dit niks vir jou inhou nie.  Moet asseblief nie hulle laat staan, asof jy dit so goed ken dat jy niks nuuts daarin kan vind nie. Jy het hulle nog nie regtig gesien nie. Daar is onbetaalbaar kosbare wonders in elk van hierdie gedeeltes verborge. Kyk weer na hulle. Ondersoek en bestudeer dit. Die Heilige Gees is meer as gewillig om die heerlikheid wat dit bevat aan jou te openbaar. Dit is Sy taak en Sy vreugde om die sondaar se Leermeester te wees. Hy sal nooit minder gewillig wees as jy nie. Dis van die uiterste belang dat jy dit sal weet, sodat jy Hom nie bedroef en afstoot deur jou wantroue nie.


Jou groot sonde en probleem is wantroue. Wantroue in God.

Moenie die groot waarheid uit die oog verloor, naamlik, dat die groot boosheid in jou wat die wortel van alle bitterheid in jou siel is, juis wantroue in God is, nie.  Wantroue in die Vader, wat die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy Seun gegee het. Wantroue in die Seun wat gekom het om die wat verlore is te soek en te red. Wantroue in die Heilige Gees, wie se tere barmhartigheid oor jou is en wie se liefdeswerk dit juis is om die Gesalfde van God aan jou siel te openbaar.

Hou in gedagte, dat die Heilige Gees  deur jou te leer, Sy eie Woord gestand doen. So  verheerlik Hy Christus. Dis glad nie nodig om Hom te verdink van afsydigheid teenoor jou nie. Jy hoef nie Sy gewilligheid te betwyfel om “die oë van jou verstand te verlig” nie. Terwyl jy vas oortuig is dat net Sy lering van enige waarde vir jou kan wees, moenie Hom bedroef deur Sy liefde in die skryf van die Bybel vir jou, te skei van Sy gewilligheid om jou dit te laat verstaan nie. Hy wat vir jou die Woord gegee het, sal dit ook vir jou interpreteer! Hy staan nie afsydig teenoor jou of Sy eie Woord nie. Dis nie nodig om Hom te oorreed of om te koop, deur jou dade of gebede, om die hemelse waarheid aan jou te ontvou nie. Vertrou Hom vir lering. Maak onmiddelik gebruik van Sy liefde en krag.


Vertrou Hom nou, net soos jy is.

Moenie sê : “Ek is nie geregtig om hom te vertrou, voordat ek nie bekeerd is nie.” Jy is veronderstel om Hom te vertrou, as ’n  sondaar en nie as ’n  bekeerde mens nie. Jy is veronderstel om Hom te vertrou net soos jy is, nie soos jy hoop om binnekort te wees nie. Jou bekering is nie dit wat jou die reg gee om Hom te vertrou nie. Die groot sonde van die onbekeerde mens is juis dat hy nie vertrou op  die God wat Hom gemaak het nie, Vader, Seun en Heilige Gees.

Wat sou jy vir ’n  dief sê wat beweer : “Ek het nie die reg om my stelery te los nie; ek moet eers wag tot ek ’n  eerlike mens gemaak word, voordat ek daarmee kan ophou.” En wat sal ek vir ’n  wantrouer van God sê, wat my vertel dat hy geen reg het om op te hou met sy wantroue nie, want hy is nie geregtig om God te vertrou voordat hy eers bekeerd is nie?  Een van die grootste sake in bekering is juis ’n  wegdraai van wantroue na vertroue. As jy nie geregtig is om onmiddelik van wantroue na vertroue te draai nie, dan sou jou wantroue nie sonde wees nie. As, jou wantroue van die Heilige Gees egter juis een van jou ergste sondes is, hoe absurd is dit om te sê : “Ek is nie geregtig om Hom te vertrou totdat ek bekeerd is nie.”  Is dit nie maar dieselfde as om te sê , “Ek  is nie geregtig om Hom te vertrou totdat ek Hom vertrou nie?”

Jy sê dat jy weet dat God genadig is, maar tog wys jy juis deur jou handeling dat jy nie glo dat Hy genadig is nie, of ten minste nie so genadig dat Hy gewillig is om die betekenis van Sy eie Woord aan jou bekend te maak nie. Jy glo kastig dat Hy so genadig is om jou Sy eie Seun te gee, tog wys die manier waarop jy Hom behandel ten opsigte van  Sy Woord dat jy nie glo dat Hy gewillig is om Sy Gees te gee om Sy waarheid bekend te maak nie. Jy beskou jouself as meer gewillig om geleer te word as wat Hy gewillig is om te leer, meer gewillig om geseën te word as wat Hy gewillig is om te seën.


Vertrou nou op Christus, daar is geen rede om te wag of uit te stel nie. Dis nou die dag van redding! ( 2 Korintiërs 6:2)

Jy sê : “Ek moet wag tot God my denke verlig?” Nou as God vir jou gesê het dat om te wag die weg na die lig is, sou dit reg wees. Maar nêrens het Hy jou beveel om te wag nie en jou idee van wag is ’n  blote verskoning om Hom nie onmiddelik te vertrou nie. As die manier waarop jy te werk wil gaan, korrek is, dan sou God beide “Kom” en “Wag” moes gesê het.  “Kom nou, maar moenie nou kom nie”; dit kan tog nie, dis ’n  teenstrydigheid.


Wanneer ’n goedhartige ryk man ’n boodskap na ’n arm kreupele stuur om onmiddelik na hom te kom sodat hy vir hom kan sorg, stuur hy ook ’n koets saam om hom te vervoer. Hy sê tog nie : "Kom, maar aangesien jy lam is en buitendien geen vervoermiddel het, moet jy alles in jou vermoë doen om my oor te haal om ’n koets te stuur nie.” Die uitnodiging en die koets gaan tog saam.

Hoeveel te meer is dit waar van God en Sy boodskap. Sy Woord en Sy Gees gaan saam. Sy Woord is die uitnodiging, die werk van die Heilige Gees is die koets wat ons instaat stel om op die uitnodiging te reageer. Jou fout lê in die veronderstelling, dat Hy wat die een stuur nie gewillig is om ook die ander te stuur nie. Jy verkeer onder die wanindruk dat dit Hy is en nie jy wat die vertraging veroorsaak, wat jy “wag” noem. In werklikheid is hierdie sogenaamde “wag” van jou ’n  doelbewuste weiering om gehoor te gee aan die opdrag van God. So wil jy jouself van alle blaam onthef, deur aan te voer dat jy nie instaat is om te glo nie. Inderwaarheid plaas jy die blaam op God asof  Hy dan kwansuis nie gewillig sou wees om te doen, dit wat Hy juis die mees gewilligste is om te doen nie.


God eis onmiddellike aanvaarding van Sy Seun

God eis onmiddellike aanvaarding van Sy Seun en onmiddellike geloof in die evangelie. Jy ontduik hierdie verpligting deur die verontskuldiging, dat aangesien jy Christus nie self kan aanvaar nie, jy na Hom toe moet gaan en vra dat Hy jou daartoe instaat sal stel. Deur hierdie verskoning probeer jy jouself onthef van  die oorweldigende noodsaaklikheid vir onmiddellike gehoorsaamheid. Jy sus jou gewete dat jy in tussentyd doen wat jy kan, en dat jy gevolglik nie so skuldig is aan ongeloof soos van tevore nie, aangesien jy mos darem graag wil glo en jy jou deel in hierdie groot saak solank doen.


God vra geloof in Sy Seun; moenie hierdie opdrag ontduik deur solank net te bid dat Hy jou sal help om te glo nie.

Dis nie genoeg om net te ek sal bid nie. Die opdrag is : “Glo in die Here Jesus Christus.” Niks minder as dit is vir God aanvaarbaar nie. En alhoewel dit inderdaad elkeen se plig is om te bid, net soos dit elkeen se plig is om God lief te hê en Sy gebooie te onderhou, moet jy tog nie jouself mislei met die idee dat jy besig is om die regte ding te doen, wanneer jy net bid om te kan glo, in plaas daarvan om te glo, nie.  Die dief mag dalk begeer om van diefstal af te sien, en bid om instaat gestel te mag word om op te hou steel en tog bly hy steeds ’n  dief totdat hy inderdaad ophou steel.

Die vraag is nie of gebed ’n  plig is nie, maar of dit die regte en aanvaarbare ding is om in ongeloof te bid. Dit is elke mens se plig om te bid, en dit is ewe absurd en onbybels om te sê dat ’n  mens se onbekeerde toestand hom vrystel van hierdie plig. Maar die eintlike punt wat ons by die sondaar wil tuisbring is dit : “Is dit tot gelowige of ongelowige gebed dat God jou oproep?” Ongelowige gebed is gebed tot ’n  onbekende God , en dit kan tog nie jou plig wees om tot ’n  onbekende God te bid nie.

Jy moet op jou knieë gaan, in die geloof dat God gewillig  is om jou te seën of dat Hy onwillig is. In laasgenoemde geval kan jy nie enige antwoord of seën verwag nie. In die eersgenoemde geval, is jy alreeds besig, hoewel dalk onbewustelik, om te glo. Soos dit geskryf is : “Hy wat tot God gaan moet glo dat Hy is en ’n  beloner van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:6) Deur aan te dring op die plig van bid voor jy glo, wil jy mos dan nou eintlik beweer dat dit eintlik jou plig is om in ongeloof na God te gaan. Gaan jy sowaar volhard in ongeloof totdat daar op een of ander bonatuurlike manier geloof jou binneval en God jou forseer om te glo? Moet jy na God gaan met onaanvaarbare gebed ( gebed sonder geloof) om Hom te oorreed om jou die krag van aanvaarbare gebed te gee? Is dit wat jy bedoel met die plig om te bid sodat jy kan glo? As dit die geval is, is dit ’n  dwaling en ’n  sonde.

Wanneer gebed in die Skriftuurlike sin verstaan word, sal ek elkeen aansê om te bid, net soos ek elkeen sal sê om te glo, want gebed veronderstel en sluit geloof in. Dit veronderstel tog dat die persoon iets van die God na wie toe hy gaan weet; en dis geloof. “Elkeen wat die naam van die Here aanroep sal gered word” ( Romeine 10:13) Maar dan voeg die apostel by : “Hoe kan hulle Hom aanroep in wie hulle nie geglo het nie?” ( vers 14) Hierdie laaste vers raak die hart van die saak voor ons aan. Dit is  elkeen se plig om “die naam van die Here aan te roep” (Joël 2:32; Handelinge 2:21); inderdaad is dit die groot sonde van die goddelose dat hulle dit nie doen nie. ( Psalm 14:4; Jeremia 10:25) Tog sê die apostel : “Hoe kan hulle Hom aanroep in wie hulle nie geglo het nie?”


Die evangelie is nie ‘n lys van pligte wat ons eers moet nakom nie, maar die Goeie Nuus van die groot werk wat aan die kruis gedoen is.

Ek wil jou net weer herinner aan God se vrye liefdesguns, in die vrye gawe van Sy Seun. Luister na wat Hyself vir jou hieroor gesê het en ken die God wat jou vra om Sy naam aan te roep, want as jy God en Sy groot geskenk van liefde geken het, sou jy Hom gevra het en Hy sou jou die lewende water gegee het. (Johannes 4:10) Onthou dat die evangelie nie ’n  lys van pligte is wat uitgevoer moet word nie, of emosies wat geproduseer moet word nie, of ’n  gevoelstoestand waarin ons onsself in moet inbid  om te maak dat God van ons goed sal dink sodat ons geskik sal wees om vergifnis te ontvang  nie.  Die evangelie is die goeie nuus van die groot werk wat aan die kruis gedoen is. Die kennis van daardie afgehandelde werk is onmiddellike vrede.

Lees weer en weer die wonderlike woorde wat ek so uitvoerig uit Sy eie Boek aangehaal het. Die Bybel is ’n  lewende Boek, nie ’n  dooie een nie; ’n  Goddelike een, nie ‘n menslike een nie; volmaak, nie onvolmaak nie. Ondersoek dit, bestudeer dit, delf daarin. “My kind”, sê God ons Vader, “neem my woorde aan, bewaar my gebooie by jou, laat jou oor luister na wysheid, neig jou hart tot verstand.....” Moenie sê dat hierdie opdragte slegs vir God se kinders is nie; om te verhoed dat ons so dink rig God hierdie woorde juis tot die “eenvoudige”, die “spotters”, die “dwases”. Die frase  “Wend julle tot my teregwysing” wys ons dat deur die luister na Sy woorde, die eenvoudige, die dwase en die spotter op hou om so te wees en seuns word. Moenie terugval na die ou moeilikheid van jou behoefte aan die Heilige Gees nie, want juis om dit aan te spreek voeg God by die bostaande passasie die volgende: “dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak.” (Spreuke 1:23) Nie eers vir ’n  oomblik laat God jou toe om Sy gewilligheid te betwyfel om Sy Woord te begelei deur die werk van Sy Gees nie.

Eer God se woorde; eer Hom wat dit geskryf het deur Hom te vertrou vir interpretasie en lig.  Moenie die Woord  afmaak deur dit ’n  “dooie letter” te noem nie. Die Woord is nie dood nie. As jy die beeld van dood in die geval wil gebruik, gebruik dit op die regte manier.  Hierdie woorde is inderdaad “ ’n reuk van die dood tot die dood in diegene wat verlore gaan”; dit wys juis op hulle lewenskragtigheid. Net soos die bloed van Christus of reinig of veroordeel, maak die woorde van die Gees of dood of lewend.

Weer sê ek vir jou, eer God se Woord. Maak baie daarvan. “Die wat my eer sal ek eer”; dis net so waar van die Skrif as wat dit waar is van die God van die Skrif. Vrede, lig, vertroosting, lewe, verlossing en heiligheid is toegedraai in die woorde van God. “U belofte het my lewend gemaak” (Psalm 119:50) “Ek sal U bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak” (vers 93)

Dit is deur  “geloof in die waarheid dat God van die begin af julle verkies het tot saligheid” ( 2 Tessalonisense 2:13) Dit is “deur die woord van die waarheid” dat Hy ons voortgebring (Jakobus 1:18). Dit alles is in volkome harmonie met die groot waarheid van die mens se totale hulpeloosheid en sy behoefte aan die almagtige Gees.

“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17) “luister en julle siel sal lewe..” (Jesaja 55:3)

HOOFSTUK 9 GLO EN WORD GERED

Dit is vir seker net die Heilige Gees alleen wat ons na die kruis kan trek en kan verbind aan ons Verlosser. Hy wat dink dat hy sonder die Heilige Gees kan klaarkom moet nog sy eie sondigheid en hulpeloosheid leer ken. Die evangelie sou geen goeie nuus gewees het vir die wat dood is in sonde, as dit nie net so eksplisiet vertel het van die liefde en krag van die God se  Gees, as wat dit die liefde en krag van die Goddelike Plaasvervanger aankondig nie.

Maar terwyl ons dit in gedagte hou, moet ons vanuit die Skrif probeer leer wat geskryf is oor die band wat ons individueel verbind met die kruis van Christus en ons so deelgenote maak van die vryspraak en lewe wat daardie kruis openbaar.

So is dit dan geskrywe : “Want uit genade is julle gered, deur die geloof en dit nie uit julleself nie : dit is die gawe van God.” (Ef 2:8)


Geloof is die een skakel wat ons verbind aan Jesus wat ons sondes gedra het. En hierdie geloof is nie ‘n ingewikkelde menslike prestasie nie, maar die eenvoudige aanvaarding dat wat God oor Sy Seun sê, die waarheid is.

Geloof dus is die skakel, dié een skakel tussen die sondaar en die Sondedraer.  En onthou net geloof is nie ’n ingewikkelde saak nie. Geloof is ’n werk of oefening van die denke, wat op die regte manier uitgevoer moet word sodat ons kan kwalifiseer of bekwaam moet word vir begenadiging nie. Geloof is nie ’n ingewikkelde godsdienstige plig, wat volgens sekere reëls uitgevoer moet word om Christus as’t ware aan te moedig om aan ons die voordele van Sy werk te skenk nie. Geloof is nie ’n prestasie waarmee ons God se guns en genade koop nie. Geloof is eenvoudig ’n aanvaarding van die Goddelike getuienis aangaande die Seun van God. Ware geloof is geloof alleen wat eenvoudig die volkomenheid van die groot  Offer vir sonde herken sowel as die Vader se getuienis oor daardie volkomenheid. Dit is soos Paulus aan die Tessalonisense skryf : “want ons getuienis het by julle geloof gevind” (2 Tess 1:10) Geloof neem God op sy Woord  en gee aan Hom erkenning  vir die eerlike waarheid wat Hy praat, wanneer Hy verklaar. “Christus het vir die goddelose gesterwe” (Rom 5:6) en dat die lewe wat daardie dood vir sondaars inhou verkry word “sonder geld en sonder prys” ( Jesaja 55:1)

Maar kom ons leer meer oor hierdie geloof vanaf God se lippe self. Ek lê groot klem hierop in my hantering van soekers. Hoe meer ons die sondaar se oog en gewete kan vestig op God se eie woorde, hoe meer waarskynlik sal ons hom reg lei en die lewendmakende teenwoordigheid van die almagtige Gees verseker, wat alleen sig aan die blinde kan gee. Een van die groot probleme wat die soeker ondervind is om baie van sy ervaring en lering van die verlede af te leer. Daarom die belangrikheid om die Goddelike woorde self te bestudeer, waardeur die sondaar wys gemaak kan word tot verlossing. Hierdie woorde leer vir ons die valse en onvolmaakte af en leer vir ons die waarheid en die volmaakte.

Kom ons kyk hoe dikwels en hoe uitgesproke God die saak van “geloof” en “glo” onder ons aandag bring. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb 11:6) “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit die geloof tot geloof, soos geskrywe is:  Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Rom 1:17) “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;”(Rom 3:22) “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.  Hom het God voorgestel in sy bloed as n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God - om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.” (Rom 3:23-26)  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” (Joh 1:12) “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie;  maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” (Joh 3:14-18) “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Joh 3:36) “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” (Joh 5:24) “Jesus antwoord en sê vir hulle: Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” (Joh 6:29) “En Jesus sê vir hulle:  Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Joh 6:35) “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Joh 6:40) “Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?” (Johannes  11:25,26) “Ek het as n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.” (Johannes 12:46) “maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Johannes 20:31) “en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.” (Hand 13:39) “Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” (Hand 16:31) “Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.” (Hand 10:43) “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.” (Rom 4:5) “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.” (Rom 10:4) “ As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God  Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;” (Rom 10:9) “Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;” (1 Korintiërs 1:21) “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons n gebod gegee het.” (1 Johannes 3:23) “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo.  God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.” (1 Johannes 4:16) “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.” (1 Johannes 5:1) “Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself.  Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.”  (1 Johannes 5:10) “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” (Mark 16:16) 



Geloof is noodsaaklik. Ongeloof is sonde.

Hierdie is dan sommige van die baie tekste wat ons leer wat die skakel is tussen die sondaar en die groot verlossing.  Hulle wys dat dit ons geloof is in God se getuienis oor Sy eie vrye liefdesguns en die werk van Sy Seun, wat ons deelgenote maak aan die seëninge wat daardie getuienis openbaar. Hierdie tekste skryf nie enige verdienstelike of reddende deug toe aan ons handeling van geloof nie. Hulle wys vir ons dat dit die objek van geloof is - die persoon, of die saak, of die waarheid waarop geloof beslag lê, wat die siel se vrede en vertroosting is. Maar steeds verkondig hulle met die grootste erns die noodsaaklikheid van geloof en die erns van die sonde van ongeloof. Deur hierdie tekste eis God onmiddellike geloof van almal wat Sy getuienis hoor. Hierdie geloof is nie ’n ingewikkelde handeling wat op die regtemanier uitgeoefen moet word nie. Dis nie iets wat ons moet doen om vir genade te kwalifiseer nie. Dis nooit die voortreflikheid van ons gelof wat aan ons sekerheid gee nie, maar die volmaaktheid van Jesus se werk.


Moenie konsentreer op jou geloof nie, konsentreer op Jesus se genoegsame werk.

Op sommige plekke in die Skrif  kom die woord “vertroue” voor waar ons , “geloof” sou verwag. Die rede hiervoor is egter eenvoudig; die getuienis wat deur die geloof aanvaar word, is tog ’n  getuienis oor ’n  persoon en sy goedgesindheid en daarom sal geloof in die getuienis noodwendig ook vertroue in die persoon wees. Ons aanvaarding van God se getuienis kom dus neer op vertroue in God self en in Jesus Christus Sy Seun. Daarom praat die Skrif van “vertroue” en “vrymoedigheid” as dit wat ons red. Die Skrif sê as’t ware aan die sondaar: “God se karakter is so genadig, dat jy maar net jou saak in Sy hande kan laat, hoe sleg dit ook al mag wees. Vertrou jou siel aan Sy sorg toe en jy sal gered word.”

Op sommige plekke word gesê dat ons deur die “kennis” van God of Christus gered word. Dit beteken eenvoudig om God te ken soos Hy Homself bekend gemaak het in Jesus Christus. (Jesaja 53:11; 1 Timoteus 2:4; 2 Petrus 2:20) Jesus het gesê : “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die waaragtige God en Jesus Christus wat U gestuur het.” En asof hy die eenvoudige waarheid nog eenvoudiger wil maak, sê die apostel wanneer hy oor Christus se dood, begrafnis en opstanding praat : “waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou” (1 Korintiërs 15:1-2)

So verbind God dan verlossing aan “glo”, “vertrou”, “ken” en “vashou”. Onthou egter, die verlossing lê nie in ons daad van geloof, vertrou, ken of vashou nie, maar in die saak of persoon in wie ons glo, op wie ons vertrou, vir wie ons ken en aan wie ons vashou. Verlossing word ook nie gegee as ’n  beloning vir ons geloof en kennis nie. Die dinge wat ons glo en ken is opsigself ons verlossing. Ons word ook nie gered of vertroos deur te dink oor ons handeling van geloof nie, of deur vas te stel of dit al die regte bestanddele en kwaliteite het, wat God sou kon beweeg om dit goed te keur en ons as gevolg van daarvan te aanvaar nie.  Dit sou beteken dat ons van geloof ’n  verdienstelike of ten minste ’n  kwalifiserende werk maak en dan sou genade tog nie meer genade wees nie. Dit sou dan daarop neerkom dat ons ons geloof ’n  deel maak van Christus se werk, as’t ware die laaste afronding aan die groot onderneming van die Seun van God, wat andersins onvolledig of ten minste ongeskik vir die sondaar as werklike sondaar sou wees.

Vir die persoon wat in sy geloof en sy vertroue opsigself rus wil vind en sy gewete wil gerusstel deur bewyse te soek van hulle vastigheid en uitnemendheid, sê ons: “hulle is almal ellendige troosters!” Ek vind tog lig deur my oë te gebruik, nie deur te dink oor my gebruik van hulle of ’n wetenskaplike ontleding van hulle onderskeie dele nie. So vind ek vrede in en deur te glo, nie deur na te dink oor my geloof of te probeer om aan myself te bewys hoe goed ek die geloofsdaad uitgevoer het nie. Ons kan net sowel water in die woestynsand kry as wat ons vrede sal kry uit ons daad van geloof.


Geloof in die Here Jesus Christus doen alles vir ons, om te glo in ons eie geloof en te vertrou op ons eie vertroue kan niks doen nie.

Geloof is dus die band tussen ons en die Seun van God en dit is so, nie omrede enigiets in dit self nie, maar omdat dit slegs deur die medium van waarheid, soos dit geken en geglo word, dat die siel kan beslag lê op sake en persone. Geloof is niks, behalwe in sy beslaglegging op Christus en dit doen dit deur beslag te lê op die waarheid of die getuienis oor Hom.  Die apostel sê mos : “Geloof kom deur die gehoor en die gehoor deur die woord van God”. “Julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak”, sê Jesus (Johannes 8:32); en verder : “Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie......en as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle nie?” (Johannes 8:45-46)

Ons vind ook uitsprake soos die volgende : “die wat die waarheid ken” (1 Tim 4:3); “die wat aan die waarheid ongehoorsaam is” (Romeine 2:8); “soos die waarheid is in Jesus” (Efesiërs 4:21); “geloof in die waarheid” (2 Tessalonisense 2:13); “kennis van die waarheid” (2 Tim 2:25); “die weg van die waarheid” (2 Petrus 2:2); “dat ons uit die waarheid is” (1 Johannes 3:19); “heilig hulle in U waarheid” ( Johannes 17:11); “ek spreek woorde van waarheid” (Handelinge 26:25); “die Gees van waarheid, sal julle in die hele waarheid lei” (Johannes 16:13).

Veral belangrik in verband met hierdie onderwerp is die Here se waarskuwings in die gelykenis van die Saaier, spesifiek die volgende : “die saad is die woord van God. Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hulle harte weg sodat hulle nie sou glo en gered word nie.” (Luk 8:11-12)   Ook die woorde van die geliefde dissipel is niks minder belangrik nie : “hy wat dit gesien het, het getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo.” (Johannes 19:35); en verder : “maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Johannes 20:31)

Hierdie waarheid oor Christus en Sy offerwerk word deur die natuurlike mens gehaat, omdat hy Christus haat. “Hulle het My sonder oorsaak gehaat”, sê die Here (Johannes 15:25;  Psalm 69:5) Die mens haat nie die dwaling nie, maar juis die waarheid en die noodsaaklikheid van die Heilige Gees se werk om daardie haat te verwyder, om die sondaar selfs net gewillig te maak om die waarheid of die Ware Een te ken. Daar is egter geen traagheid aan die kant van God om die Gees te gee nie. Die eerste aanbreek van soeke en onrus is reeds ’n  aanduiding dat iets meer as “vlees en bloed” aan die werk is in ons hart.


Alhoewel die krag van die Heilige Gees nodig is om ons gelowige mense te maak, is die rede nie dat geloof ’n  geheimsinnige saak is, ’n  groot oefening of poging van die siel, wat ons baie noukeurig moet uitvoer om dit en ons aanvaarbaar te maak voor God nie. Nee, die werk van die Heilige Gees is nodig vanweë ons natuurlike weersin in die waarheid wat geglo moet word en ons vyandskap teenoor die Wese in wie ons gevra word om ons vertroue te stel. Om te glo is die eenvoudigste van alle denkprosesse, maar dit beteken nie dat ons die krag van God daarvoor minder nodig het nie. Die soeker moet pasop om nie ’n  mistieke karakter aan geloof te gee of dit so ’n  groot saak te maak sodat dit ’n  verdienstelike waarde of belangrikheid opsigself verkry  en sodat dit deur sy voortreflike aard of kwaliteit hom regverdig kan maak nie. Aan die anderkant moet hy pasop om geloof nie te vereenvoudig met die doel om die werk van die Heilige Gees onnodig te maak nie.  Inderdaad is geloof eenvoudig, maar hoe meer hy die eenvoud van geloof besef, hoe meer sal hy sy eie skuld raaksien omdat hy so doelbewus weier om te glo. So sal hy sy behoefte aan n Goddelike Helper besef om die vreeslike teenstand van die natuurlike hart te oorwin en sodoende te kom by die eenvoudige aanvaarding van die waarheid.

Die moeilikheid om te glo het sy ware oorsaak in suiwer selfgeregtigheid. Die worsteling om te glo, die pogings om te probeer vertrou, waarvan mense praat is aanduidings en uitdrukkings van hierdie selfgeregtigheid. Hierdie geestelike oefeninge is ver van goeie tekens; hulle is dikwels bloot uitdrukkings van geestelike hoogmoed, bewyse van ’n  desperate worsteling van selfgeregtigheid. die erns van die worsteling bewys juis die intensheid van die selfgeregtigheid. Dit is daarom erger as tevergeefs om die gekwelde siel te probeer troos deur na hierdie pogings te verwys as bewyse van ’n  teenwoordige geloof. Hulle is eerder bewys van onkunde  óf ongeloof, bewyse van die sondaar se vasbeslotenheid om enigiets te doen behalwe om te glo dat alles reeds gedoen is. Vertwyfeling is nie die beste bewys van geloof nie. Al die pogings om hierdie groot saak, geloof uit te voer is eerder ’n  bewys van blindheid vir die reeds afgehandelde versoeningswerk van die Seun van God.


Jesus Christus het alles wat vir ons versoening nodig was reeds volledig  gedoen, 2000 jaar gelede.

Die sondaar het dikwels geen beswaar, om in ’n  poging om God se guns te wen, ’n  groot ding, wat hy geloof noem, te doen nie. Dis eintlik juis wat hy wil doen, want dit gee hom die geleentheid om te werk vir sy verlossing. Maar hy verwerp die idee om te rus in ’n werk wat alreeds gedoen is en so sy eie pogings te staak om versoening te bewerk.  Als wat vir ons versoening nodig was, is alreeds 2000 jaar gelede afgehandel, aan die kruis van Hom wat “al het Hy geen sonde geken nie, sonde vir ons gemaak is, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Korintiërs 5:21)

HOOFSTUK 10 GLO NOU DADELIK

Jy is nou ernstig en begerig, maar ek vrees jy maak dalk jou erns jou Christus en  eintlik gebruik jy dit as ’n verskoning om Christus nie nou onmiddelik te vertrou nie. Jy dink dat jou opregte erns jou tot geloof sal lei as dit maar net intens genoeg is en jy net lank genoeg daarin volhard.

Onthou net daar is so iets soos erns in die verkeerde rigting : ’n erns in ongeloof, ’n  kastige erns wat die plek inneem van eenvoudige geloof in Jesus. Moenie die alarms van jou gewete deur hierdie erns van jou probeer stil maak nie. Dis ’n  ongelowige erns en dit sal nie help nie. Wat God verwag is eenvoudige geloof in die getuienis wat Hy vir jou gee oor  Sy Seun. Nou wil jy redeneer dat jy Hom nie geloof kan aanbied nie, maar wel erns en deur hom erns te gee hoop jy om Hom te oorreed om vir jou geloof te gee. Dit is selfgeregtigheid. Dit wys net dat jy beide geloof en erns beskou as iets wat jy moet doen om God te behaag en Sy goedgunstigheid te verseker. Jy redeneer : “Geloof is ’n  gawe van God, maar erns nie; dis binne my eie vermoë. Daarom sal ek my ernstig inspan, worstel en bid en so hoop dat God binnekort my sal jammer kry oor my ernstige worstelinge.” In die geheim voel jy selfs dat dit onbillik van God sou wees nie ag te slaan op sulke erns nie.


Die apostels het by hulle hoorders op onmiddellike geloof en bekering aangedring.

Nou, as God êrens gesê het dat ongelowige erns of ongelowige gebruik van die genademiddele die weg is waarlangs ons geloof moet bewerk, sou ek nie beswaar teen jou werkswyse kon maak nie. Maar ek kry nêrens dat Hy so iets gesê het nie, of dat die apostels in die hantering van soekers, hulle aangewys het op hierdie voorlopige voorbereidende proses om tot geloof te kom nie. Ek vind dat die apostels by hulle hoorders op onmiddellike geloof en bekering aangedring het, hulle van aangesig tot aangesig gebring het by die groot objek van geloof, en hulle beveel het in die naam van die lewende God om te glo, net soos Jesus die man met die verdorde hand beveel het om sy hand uit te strek.  Die Here het nie vir hom enige aanwysings gee met betrekking tot ’n  voorlopige werk of voorbereidende pogings of worstelinge of gebruik van ander middele nie. Hierdie is alles menslike pogings, die mens se manier om die aaklige kwessie van sy absolute magteloosheid te ontduik, die mens se onskriftuurlike middele om uit sy onvermoë in selfvermoë in te glip, uit ongeloof in geloof, die mens se plan om God te help om hom te red; die mens se selfgemaakte leer om so ’n  klein entjie op te klim uit die vreeslike put, in die hoop dat God so medelye sal  hê met al sy ernstige worstelpogings sodat God dan net die res wat nodig is sal doen.

God het alle mense orals beveel, om te bekeer; maar nêrens het Hy aanwysings gegee om bekering te verkry nie. God het sondaars beveel om te glo, maar Hy het nie enige voorbereidende proses voorgeskryf wat hulle moet ondergaan en waardeur Hy oorgehaal moet word om hulle iets te gee wat Hy nie van die begin af absoluut gewillig was om te gee nie. God dwing ons daartoe om alle hoop om iets te doen om onsself te red te laat vaar. Hy dryf ons uit elke skuilplek van leuens en wys ons dat hierdie uitgerekte pogings van ons eerder hindernisse as hulp is. Dis eintlik verwerping van Sy onmiddellike hulp, wantrouige pogings om Hom  te oorreed wat Hy alreeds heeltemal gewillig is om vir ons te doen.




Geloof is nie ’n werk nie, inteendeel dit is juis om op te hou werk en te rus in Jesus se werk.

Die groot manifestasie van selfgeregtigheid is hierdie worsteling om te glo. Geloof is nie ’n  werk nie, maar juis om op te hou werk; hierdie worsteling om te glo is eintlik net die sondaar se poging om ’n  werk te maak van dit wat hoegenaamd nie ’n  werk is nie, om ’n  inspanning te maak van dit wat juis ’n  rus van inspanning is. Sondaars wil nie hulle houvas op hulle vorige sekerhede laat los en in Christus se arms val nie. Waarom nie? Hulle stel hulle vertroue nog steeds op hierdie sekerhede (eie bates) en vertrou nie Hom wat in die evangelie met hulle praat nie.

God is op hierdie oomblik gretig om jou te seën, en hierdie worstelinge van jou is nie, soos jy jou verbeel, nederige pogings van jou kant om die seën te aanvaar nie, maar hoogmoedige pogings om dit weg te stoot of om dit op jou eie manier in die hande te kry. Jy kan nie, met al jou worstelinge die Heilige Gees meer gewillig maak om vir jou geloof te gee as wat Hy op hierdie oomblik reeds is nie. Maar jou selfgeregtigheid verwerp hierdie kosbare waarheid, en as ek jou moes aanmoedig in hierdie “pogings” van jou, dan sou ek juis jou selfgeregtigheid en jou verwerping van die Gees se genade bevorder.

Jy sê dat jy nie self jou hart kan verander of enigsins iets goeds kan doen nie. Ek stem saam, maar ek gaan nog verder. Ek sê jy is hoegenaamd nog nie voldoende bewus van die omvang van hulpeloosheid en skuld nie. Dis baie groter en erger as wat jy besef. En dis juis hierdie gebrekkige siening van jou swakheid wat maak dat jy jou wend tot al hierdie pogings. Jy is inderdaad nog nie regtig bewus van jou swakheid nie ten spyte van wat jy sê. Dit is juis dit wat jou weghou van God en God van jou.

God beveel jou om te bekeer en te glo. Dit is tot jou eie nadeel dat jy probeer om hierdie opdrag en onmiddellike verpligting te verander, deur dit te vervang met iets voorlopigs.

Ek kan nie onthou dat ek al gesien het dat dit iewers beter gestel word as in Fuller se Gospel Worthy of All Acception nie. Ek haal net ’n  paar sinne aan. “Dit is die plig van predikers nie alleen om ons vleeslike hoorders op te roep om in Jesus Christus te glo vir die redding van hulle siele nie; maar dit is tot ons skade om hulle op te roep tot enigiets minder as dit, of wat dit nie behels of impliseer nie. Ons het in te veel kompromieë verval in ons hantering van die onbekeerdes, sodat ons byna heeltemal die visie van die ou predikers uit die gesig verloor het, en daarom is dit moontlik dat sondaars van elke soort so houtgerus in ons eredienste kan sit. Christus en Sy apostels het sonder enige huiwering, sondaars opgeroep tot bekering en geloof in die evangelie; maar ons omdat ons hulle beskou as arme, magtelose en verdorwe skepsels is geneig om hierdie deel van die evangelie oorboord te gooi. Omdat hulle sulke dinge beskou as bo die vermoë van hulle hoorders, het predikers tevrede geword om dinge wat hulle hoorders kwansuis kan doen, op hulle harte te druk, terwyl hulle voortgaan in n staat van vyandskap teen Christus. Dinge soos ordentlike gedrag in die samelewing, Bybellees en gebruikmaking van die genademiddele. (byvoorbeeld gebed en kerkbywoning)

Daarom is dit dat hoorders van bogenoemde beskrywing met gemak in ons gemeentes kan sit. Met die veronderstelling dat dit geen skuld van hulle kant af beteken nie, sit hulle doodgerus met die idee dat al wat van hulle verwag word is om te lê en wag vir die Here se tyd. Is dit hoegenaamd die godsdiens wat die Skrif verkondig? Waar vind ons dat die profete en apostels hierdie soort onvermoë, wat in werklikheid die gevolg is van ’n  heersende weersin teen die evangelie, hanteer asof dit enige verskoning bied om nie te glo nie? Waar het hulle in hulle oproepe afgewyk na dinge wat gedoen kan word, maar wat hulle hoorders nog steeds vyande van God laat bly?  In plaas daarvan om alles van ’n  geestelike aard uit te laat, omdat hulle hoorders se harte nie instaat was om daaraan gehoor te gee nie, kan ons sonder vrees vir teespraak juis bevestig dat hulle hulle hoorders tot niks anders as juis dit opgeroep het nie. Hulle het hierdie onvermoë van hulle hoorders nie hanteer as ’n  verskoning wat hulle aanspreeklikheid tot hulle verpligtinge verminder nie, maar juis as iets wat die strengste teregwysing noodsaak.....

Bekering tot God  en geloof in Jesus word wel erken as pligte, maar nie as onmiddellike pligte nie. Die sondaar word beskou as onbekwaam om daaraan gehoor te gee en daarom word daar nie by hom aangedring op onmiddellike geloof en bekering nie. In plaas daarvan word hy aangeraai om die Heilige Gees te bid om Hom instaat te stel om te bekeer en te glo. Dit skep dan nou die indruk dat hy dit wel kan doen, nieteenstaande die weersin van sy hart teen al sodanige dinge. As dit van iemand verwag word om vir die Heilige Gees te bid, moet dit óf met erns in die naam van Jesus plaasvind óf sonder erns op een of ander ander wyse.  Laasgenoemde veronderstel ek sal almal erken, is ’n  gruwel in die oë van God, so niemand kan gevra word om dit te doen nie.  Wat die eersgenoemde betref is dit net so moeilik en in stryd met die vleeslike hart as bekering en geloof opsigself. Inderdaad kom dit op presies dieselfde neer, want ’n  opregte begeerte na ’n  geestelike seën, aangebied in die naam van Jesus is niks anders as die gebed van geloof nie.”

Die groot saak wat ek jou op die hart wil druk, is die aaklige skuld van ongeloof. Voortgang in ongeloof is voortgang in die heel ergste van alle sondes, en voortgang daarin, omdat ( soos jy sê) jy dit nie kan help nie, is die ergste verergering van sonde.  Die gewoontedrinker sê ook hy “kan dit nie help nie”, die gewoontevloeker sê ook hy “kan dit nie help nie”, die gewoonte ongelowige sê hy “kan dit nie help” nie. Aanvaar jy die dronkaard se verskoning? Vertel jy hom nie dat dit juis die ergste aspek van sy toestand is nie en dat hy homself absoluut moet skaam om so n verskoning te gebruik nie? Sê jy vir hom, ek weet dat jy nie jou drinkgewoontes kan laat staan nie, maar jy kan na God gaan  en tot Hom bid dat Hy jou instaat kan stel om hierdie gewoonte te los en miskien sal God jou hoor en jou instaat stel om dit te doen? Wat is dit anders as om vir hom te sê dat hy maar kan aangaan met drink en ook terselfdertyd bid; en dat God moontlik sy dronk gebede sal verhoor en nugterheid aan hom sal skenk. Jy sal tog nie dronkenskap so hanteer nie, behoort jy dan ongeloof so te hanteer? Behoort jy nie juis sy skuld vir hom op die hart te druk en die sondaar te wys dat wanneer hy sê “Ek kan nie help vir my ongeloof nie”, hy hom juis self veroordeel en daarmee sê : “Ek kan nie help om God te wantrou nie, ek kan help om God te haat nie, ek kan nie help om God n leuenaar te maak nie” en dat hy net so wel kan sê : “Ek kan nie help om te steel, te lieg of te vloek nie”.


Ongeloof is nie maar net ’n swakheid nie, maar ’n aaklige sonde.

Ons moet tog nooit van ongeloof praat asof dit ’n ongeluk of swakheid is nie. Dit is ’n aaklige sonde. Die oorsaak daarvan is die roekelose boosheid van die hart. Hoe boos moet die hart wees, as dit nie eens wil glo nie?. Die hulpeloosheid en hardheid van ons harte maak nie ons skuld en verantwoordelikheid minder nie. Die sondaar wat sonde so liefhet dat hy “nie kan” breek daarmee nie, is die meeste skuldig. Hy wat sê, ek “kan nie” God liefhê nie, verklaar homself een van die ergste van sondaars, maar hy wat sê , ek “kan nie” glo nie, maak homself skuldig aan wat ons die mees donker en doemwaardigste van alle sonde kan noem.

O, die onuitspreeklike skuld wat betrokke is in een oomblik se ongeloof, een enkele handeling van die ongelowige siel! Hoeveel te meer is die aanhoudende ongeloof van twintig of sestig jaar! Om een keer te steel is erg genoeg, hoeveel erger om die reputasie van ’n  gewoontedief te hê. Ons dink dis erg genoeg as iemand oorval word deur dronkenskap, hoeveel erger as mens van hom moet sê dat hy nooit nugter is nie. Dis ons aanklag teen die persoon wat Christus nog nie ken nie. Hy is ’n  aanhoudende ongelowige. Sy lewe is ’n  onafgebroke pad van ongeloof en dus van valse aanbidding as hy hoegenaamd aanbid. Elke nuwe oomblik, is ’n  nuwe daad van ongeloof, ’n  nuwe pleging van die ergste sonde; n sonde wat in vergelyking met alle sondes van hart en handel, hoe erg ook al, alle ander sondes verdwerg.


Mag die gedagte aan hierdie groot sonde jou gewete tot in die lewe tref! O, bewe as jy daaraan dink wat dit is om nie net vir ’n  uur of ’n  dag nie, maar vir ’n  hele leeftyd ’n  ongelowige mens te wees!


HOOFSTUK 11 SUKKEL OM TE GLO

Jy sê : “Ek weet al hierdie dinge en tog bring hulle vir my geen vrede nie.” Ek betwyfel dit baie indien dit die geval is, of jy dit regtig ken en ek sou wou hê dat jy moet begin wonder of jy dit weet. Jy aanvaar dit te maklik as vanselfsprekend dat jy hierdie feite ken. Nou dat jy agterkom dat hierdie feite nie vrede bring vir jou siel, wat God sê dat dit vir seker sal bring nie, sal die verstandigste opsie vir jou wees om die korrektheid van die feite wat jy ken te bevraagteken. As ’n  absolute betroubare geneesheer ’n  beproefde medisyne vir my kwaal voorskryf en ek dit neem en vind dat dit my geen goed doen nie, sal ek begin vermoed dat ek dalk die verkeerde medisyne beet het.

Nou, is jy seker dat die waarheid wat jy sê dat jy dit ken die ware evangelie van God se genade is? Of is dit dalk net iets soortgelyks daaraan? Is die rede waarom jy geen vrede vind in dit wat jy glo nie dalk dat dit hoegenaamd nie vrede bevat nie? Jy het miskien baie van die goeie dinge aanvaar, maar miskien het jy dalk juis die een ding wat dit “ ’n  blye tyding” maak, gemis. Jy glo miskien die hele evangelie behalwe juis die een ding wat dit juis goeie nuus vir die sondaar maak. Jy sien raak dat die kruis die verlossing baie naby aan ons bring, maar nie so absoluut naby soos in werklike kontak met jou soos jy is nie. Nie heeltemal naby nie, want daar is volgens wat jy verstaan, ’n  klein spasie, net ’n  handbreedte of selfs net ’n  haarbreedte, wat jy deur jou eie gebede of eie pogings of eie gevoel moet opmaak. Jy stem saam : “Alles is afgehandel, maar daardie gebrek aan gevoel in myself” Jy sien, daar is dit nou! Daar is die klein onvoltooide stukkie van Christus se werk, wat jy probeer om te voltooi of Hom met jou gebede probeer oorreed om dit vir jou te voltooi. Daardie gebrek aan gevoel is die klein stukkie afstand, wat jy dink jy moet laat verwyder, voordat die volkomenheid van Christus se werk ook vir jou beskikbaar is!

Die besef van ’n gebrek aan gevoel, net soos die besef van skuld, behoort juis een van die redes te wees waarom jy des te meer Hom moet vertrou, terwyl jy dit ’n  rede maak om Hom  glad nie te vertrou nie. Sal ’n  kind so teenoor ’n  vader of moeder optree?  Sal hy sy liggaamlike swakheid ’n  rede maak om sy ouers se liefde te wantrou? Sou hy nie juis besef dat sy swakheid wat bekend is aan sy ouer, juis die saak is wat meer liefde en  sorg van hulle  sal ontlok nie? ’n  Sterker kind sou minder sorg en sagtheid nodig hê, maar die  arme hulpelose enetjie sou van almal die mees waarskynlike een wees om jammer gekry en versorg te word. Hou dit in gedagte as jy na Christus kom en maak daardie hardheid van hart juis nog ’n  rede om Hom te vertrou en Sy afgehandelde werk te waardeer.

Jou gemoedstoestand van onvrede, wys dat jy nog nie die regte ding glo nie, maar iets anders, iets wat nie jou seer sal genees nie, of ten minste wys dit dat jy iets vermeng met die regte ding wat al sy helende eienskappe neutraliseer.

Jy moet weereens begin by die begin en teruggaan na die eenvoudigste elemente van hemelse waarheid, wat saamgevat word in die groot feite dat “Jesus gesterf en weer opgestaan het”; feite wat te min verstaan en onder gewaardeer word deur baie; feite waaraan die apostels so n geweldige belangrikheid aan gekoppel het en waarop hulle soveel klem gelê het; feite waaruit die vroeëre gelowiges sonder die vertraging van weke of maande hulle vrede en vreugde geput het.

Jy sê : “Ek kan nie glo nie.” Kom ons kyk bietjie na hierdie klagte van jou.

Ek weet dat die Heilige Gees net so onontbeerlik is vir jou om te glo as wat Christus is vir jou vergifnis. Verlossing vir die sondaar is Christus se werk, verlossing in die sondaar is die Gees se werk. Van hierdie inwendige verlossing is Hy die beginner en die voleinder. Hy werk in jou sodat jy kan glo, net so waar as wat Hy in jou werk nadat jy geglo het en as gevolg van jou geloof.

Hierdie lering, in plaas van ’n ontmoediging is juis ’n onuitspreeklike aanmoediging vir die sondaar, en hy sal dit erken, as hyself weet watter uiters hulpelose wese hy is, wat die Bybel inderdaad sê hy is. As hy nie totaal verdorwe is nie, sal hy voel dat hierdie leerstelling van die Gees se werk, ’n  hindernis en ongetwyfeld ’n  belediging is, net soos ’n  gesonde reisiger sou voel dat jy hom  beledig as jy vir hom sou vertel dat hy nie op reis kan gaan sonder om jou arm vas te hou nie.  Maar  soos in so ’n geval, is die sondaar mos instaat om homself te red sonder hulp, hy kan net sowel die Heilige Gees heeltemal eenkant toe stoot en sy pad hemel toe alleen oopwerk.

Die waarheid is egter, dat sonder die Heilige Gees se direkte en almagtige hulp, sou daar geen  hoop hoegenaamd wees vir ’n totaal verdorwe wese nie.


Die Heilige Gees is nie onwillig om jou te help nie. Die feit dat jy totaal van Hom afhanklik is moenie jou moedeloos maak nie, maar gee juis hoop.

Jy praat van hierdie onvermoë van jou om te glo, asof dit ’n  moeilikheid is waarvoor daar nie voorsiening gemaak word nie en asof die ontdekking daarvan jou baie neerslagtig gemaak het.  Jy sou nie so wanhopig gewees het as jy uitgevind het dat jy, sonder die Heilige Gees, uit jouself kon glo nie, en dit sou vir jou ’n  groot verligting gewees het as vir jou gesê is dat jy sonder die Heilige Gees se hulp in hierdie saak kon klaarkom. As dit vir jou verligting sou bring is dit duidelik, dat jy nie vertroue het in die werk van die Heilige Gees nie. En jy wens eintlik dat jy die mag in jou eie hande gehad het, omdat jy dink dat jou  eie gewilligheid groter is as Syne. As jy maar net die geseënde waarheid geweet het, dat Sy gewilligheid joune by verre oortref, sou jy jou verheug het dat die mag in Sy hande lê in plaas van in joune. Jy sou baie meer seker gevoel het oor die bereiking van die verlangde doelwit, juis omdat die benodigde krag in sulke oneindig genadige hande is.

Hoe gretig gryp sommige die idee aan dat hulle kan glo, bekeer en omdraai vanuit hulleself, asof dit ’n vertroosting vir die gekwelde siel is! Asof  dit die uitkoms uit  donker verwarring sou wees. Is dit nou troos om jouself te oortuig dat jy darem nie heeltemal sonder krag is nie? Kan jy deur die somtotaal van jou verdorwenheid en onvermoë, die weg na vrede vind? Is dit verligting vir jou belasde gemoed om vrygestel te word van die noodsaak om totaal afhanklik te wees van die Gees van God vir geloof en bekering?  Sal dit jou van bittere wanhoop bevry, as vir jou vertel word dat alhoewel jy nie genoeg krag het om God lief te hê nie, jy tog op grond van ’n bietjie oorblywende krag, jy darem hierdie geringste van godsdienstige handelinge, naamlik geloof in die Seun van God, kan uitvoer?


Die Goeie Nuus oor die Seun van God behels die volle oplossing vir al ons skuld, swakheid en hulpeloosheid.



As dit jou gevoel weerspieël, is dit ’n  bewys dat jy nie die omvang van jou eie siekte of die dieptes van jou eie bose hart verstaan nie. Jy verstaan nie die goeie nuus wat aan jou gebring is deur die Seun van God nie. Hierdie Goeie Nuus behels volkome verlossing van alles wat jou verdruk, hetsy dit skuld of hulpeloosheid is. Jy het daardie geseënde stelling vergeet wat sê : “Alleen in die Here is volle geregtigheid en sterkte.” (Jesaja 45:24) Jou krag sowel as jou geregtigheid is in Iemand anders; tog alhoewel jy die een erken ontken jy die ander. Jy het vergeet hoe die apostel hom verheug het in die krag van die Here; sy gevoel dat juis wanneer hy swak was, hy sterk was. Hy was vasberade om hom te verbly in sy swakhede, sodat die krag van Christus op hom mag rus. (2 Korintiërs 12:9)

As jy die egte  kostelose evangelie verstaan, sal jy voel dat die persoon wat jou probeer oorreed dat jy genoeg krag oor het om sonder die Gees reg te kom, net so ’n  groot vyand van die kruis en van jou siel is, as die een wat jou wil laat glo dat jy nie totaal skuldig staan nie, maar darem ’n  bietjie oorblywende goedheid het en dus nie geheel en al afhanklik van die bloed en geregtigheid van Immanuel vir vergifnis is nie.

“Sonder krag” is ’n letterlike beskrywing van jou toestand, net soos “sonder geregtigheid.”


Jou hulpeloosheid beteken juis dat die evangelie vir jou bedoel is.

As jy die evangelie verstaan het, sou die besef van jou totale hulpeloosheid neerkom op die ontdekking dat jy juis die sondaar is na wie die groot verlossing gestuur is. Jou onvermoë is alles vooruitgesien en voorsiening voor gemaak. Jy is juis in die posisie wat die hulp van die Heilige Gees nodig maak, oproep en wat dit sal ontvang.

Totdat jy jou uiterste swakheid besef, is jy nie in ’n  posisie (as ek so mag sê) om die hemelse hulp te ontvang nie. Jou idee van oorblywende vermoë is juis die ding wat die hulp van die Gees afstoot, net soos die idee van enige oorblywende geregtigheid die versoeningswerk van die Verlosser wegstoot. Dit is juis die feit dat jy nie regtig raaksien dat jy geen krag het nie, wat jou van geloof weghou. Solank as wat jy dink dat jy darem nog ’n  bietjie krag het, sal jy daardie krag gebruik om iets te doen, en veral om tot jou eie en Satan se satisfaksie, daardie groot daad of oefening van die siel wat genoem word “geloof”,  uit te voer. Maar as jy werklik uitgevind het dat jy geen krag het nie, sal jy in wanhoop ophou om te werk, en (voor jy dit besef) - glo! Want as geloof nie, ’n  staking van werk is nie, is dit tenminste die noodwendige en onmiddellike gevolg daarvan. Jy het jou klein voorraad verbeelde krag opgebruik om vas te hou aan die toue van selfgeregtigheid, maar nou dat die besef dat jy geen krag het nie op jou afgedwing word, val jy in die arms van Jesus. Maar dit sal nooit gebeur solank jy dink dat jy krag het om te glo nie.



Paulus, het na baie jare van geloof, steeds sy krag uit Christus alleen geput.   Hoeveel te meer moet jy en andere wat dit doen, wat nog nooit geglo het nie? Hy het gesê : “Ek verbly my in my swakhede”, dit wil sê my gebrek aan krag.  Jy sê : “Ek word neerslagtig daaroor.”

Diegene wat jou vertel dat jy darem nog ’n  bietjie krag oor het en dat jy dit moet gebruik  om te glo en te bekeer is vyande van jou vrede en ondergrawers van die evangelie. In werklikheid sê hulle dat geloof ’n  werk is, en dat jy daardie werk moet doen om gered te word. Hulle spot met jou. Deur aan hulle toe te gee neem jy ’n  houding in wat die Heilige Gees, wat in jou werk, versteur en teenstaan. Jy is in hoogmoed besig om vir die gevalle mens krag toe te eien wat slegs aan die ongevalle mens behoort; erger nog, jy verloën die volledigheid van die Goddelike voorsiening wat vir die sondaar gemaak is, in die volheid van Hom in wie dit die Vader behaag het alle volheid sou woon.

Die volgende paragraaf van ’n  ou skrywer is die moeite werd om te oordink :
“Vra hom wat hy vind wat dit vir hom so moeilik maak om te glo? Is dit onwilligheid om geregverdig te wees en gered te word? Is dit onwilligheid om deur Jesus Christus gered te word tot lof van God se genade in Hom en tot die nietig verklaring van alle roem in homself? Dit sal hy beslis ontken. Is dit twyfel oor Christus se vermoë of bereidwilligheid om te red? Wel, dit sou daarop neerkom dat hy God se getuienis in die evangelie weerspreek. Is dit omdat hy twyfel of hy ’n  belang het in Christus en Sy verlossing? Vertel vir hom dat geloof in Christus daardie belang verseker. As hy sê dat hy nie in Jesus Christus kan glo nie, omdat die daad van geloof vir hom te moeilik is, en dat ’n  Goddelike krag nodig is om dit te bewerk, wat hy nie ervaar nie, dan moet jy vir hom sê dat om in Christus te glo nie ’n  werk is nie, maar ’n  rus op Jesus Christus. En dat hierdie voorwendsel net so onredelik is as wat dit sou wees as ’n  man wat uitgeput is na ’n  reis en wat nie instaat is om een tree verder te gaan nie, sou redeneer : ‘Ek is so moeg dat ek nie instaat is om te lê nie’, wanneer hy inderdaad nie meer kan staan of loop nie. Die arme uitgeputte sondaar kan nooit in Jesus Christus glo nie totdat hy uitvind dat hy niks meer vir homself kan doen nie. Wanneer hy die eerste keer glo, wend hy homself tot Christus vir verlossing as iemand wat hopeloos en hulpeloos in homself is. En deur sulke verduidelikings vanuit die evangelie, sal die Here (soos Hy al dikwels gedoen het) geloof, vreugde en vrede skenk, deur geloof.


Moenie aan geloof dink as ’n groot werk nie. Dis ’n erkenning dat die werk deur Iemand anders gedoen is.



Die feit dat jy jouself so hoofbrekens gee met hierdie “kan nie glo nie” wys dat jy in die verkeerde rigting beweeg. Jy gaan nog steeds gebuk onder die idee dat hierdie geloof ’n  werk is wat deur jou gedoen moet word, en nie die eenvoudige erkenning van n werk gedoen deur iemand anders nie. Jy wil tog so graag iets doen om vrede te kry, en jy dink dat as jy maar net hierdie groot ding, geloof kan doen, sal God jou met vrede beloon. Volgens hierdie siening is geloof ’n  betaling sowel as ’n  werk, terwyl dit juis geeneen van die twee is nie; maar ’n  ophou met werk en ophou om te probeer te betaal vir verlossing. Geloof is nie die klim van ’n  berg nie; maar juis om op te hou om dit te probeer en Christus toe te laat om jou in Sy arms op te dra.

Jy dink blykbaar dat dit jou eie handeling of aksie van geloof is wat jou gaan red, terwyl dit die Objek van jou geloof is, waarsonder jou aksie van geloof, hoe goed ook al uitgevoer niks is nie. Dis in die veronderstelling dat hierdie geloof ’n  allemintige werk is dat jy vra: “Hoe kan ek dit deeglik uitvoer?” Luister, jou vrede is nie afkomstig van enige sodanige uitvoering nie, maar geheel en al van Hom na wie die Vader wys : “Daar is my Kneg wat ek uitgekies het” Hy sê as’t ware : “Kyk na Hom soos Israel na die koperslang gekyk het. Vergeet alles van jouself, die kwaliteit van jou geloof, jou gevoel, jou bekering, jou gebede en kyk na Hom.”  Dit is in Hom en nie in jou gebrekkige daad van geloof waarin jou verlossing lê nie. Dis in Hom en Sy grenslose liefde dat jy jou rusplek moet vind.  Dis vanuit Hom en nie vanuit jou siele oefening met betrekking tot Hom, dat jou vrede sal kom nie. Om op jou eie geloof te konsentreer sal net jou eie selfgeregtigheid aanwakker.

Om tevrede te wees oor kwaliteit of kwantiteit van jou geloof, voordat jy vertroosting vind in Christus se werk, is om van die veronderstelling uit te gaan dat daardie werk van Hom nie genoegsaam opsigself is om vir jou vertroosting te bied so gou as wat jy dit aanvaar nie.


Die kern van jou probleem is dat jy nie wil raaksien dat Jesus se werk volkome genoegsaam was nie.

Jou onvermoë (waaroor jy so kla) daarom, is nie eintlik ’n  onvermoë om hierdie sogenaamde groot daad van geloof uit te voer nie, maar ’n  onvermoë om op te hou met al sulke selfgeregtige pogings om jouself te wil help red. Dit beteken dat die kern van jou probleem is dat jy nog nie die genoegsaamheid van die een groot werk van die Seun van God aan die kruis raakgesien het, sodat dit jou daartoe kon bring om heeltemal jou  ellendige eie pogings om iets vir jouself uit te werk te laat vaar nie. So gou as die Heilige Gees aan jou die volledige genoegsaamheid van die groot versoeningswerk vir die sondaar (net soos hy is) getoon het, hou jy op met jou pogings om te handel of te werk, en neem jy dit wat Christus gedoen het aan en staak jy jou eie pogings. Die Gees se werk is nie om ’n  mens instaat te stel om iets te doen wat hom sal red of help om hom te red nie, maar om hom so los te maak van al sy eie inspannings en prestasies,  of dit nou goed, sleg of neutraal is, sodat hy tevrede sal wees met die verlossing wat die Verlosser van verlorenes, klaar volledig bewerk het.

Onthou dan, dat dit wat jy onvermoë noem, God jou skuld noem en dat hierdie onvermoë  ’n  moedswillige ding is. Dis nie in jou geplaas deur God nie, want Hy het jou met die volle mag gemaak om alles te doen wat Hy jou beveel. Jy is moedswillig ongehoorsaam en ongelowig. Niemand dwing jou om enige daarvan te doen nie. Jou verwerping van Christus is die vrye en doelbewuste keuse van jou eie wil.

Hierdie onvermoë van jou is ’n  vreeslik bose ding. Dis die klimaks van jou verdorwenheid. Dit maak jou meer soos die duiwel as enigiets anders. Onbevoeg om God lief te hê, of selfs in Sy Seun te glo.  Bevoeg , net om Hom te haat en Christus te verwerp! Wat ’n  vreeslike skuld! O, die onuitspreeklike boosheid van die mens se hart!

Is dit regtig hierdie “kan nie” wat jou weghou van Christus af? Nee, dis die “wil nie”.  Jy sien nie die werklike aard van die “kan nie” Dit is die “wil nie” wat die eintlike hindernis op die oomblik is. “En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” (Johannes 5:40) “laat hom wat wil die water van die lewe neem, verniet.” (Openbaring 22:17)

As jy regtig moet sê wat in jou hart aangaan sou jy sê : “Wel, na alles, ek kan nie en God wil nie. Ek doen alles wat ek kan om te glo, maar die Gees wil my nie help nie.” En wat is dit anders as om te sê : “Die God met wie ek te doen het se hart is hard en Hy wil my nie help of jammer kry nie.” Wat jou rebelse hart ook al sê, Christus se woorde bly waar, “julle wil nie.”

Wat Hy gesê het toe Hy oor die onbekeerlike Jerusalem gehuil het, sê Hy vir jou : “Ek wou, maar julle wou nie” ( Matt 23:37) “Hierdie is verskriklike woorde”, skryf Dr. Owen.  Wat ook al voorgegee word, dit is die wil en hardkoppigheid wat die grond is van hierdie weiering. En, o, wat moet die krag sowel as die skuld van hierdie ongeloof wees as niks anders as die almagtige Heilige Gees dit uit jou kan uitroei nie!


God se genadige en soewereine uitverkiesing is nie ’n verhindering vir sondaars om gered te word nie, dis juis ons enigste hoop. Uitverkiesing beteken nooit dat God suinig is met sy genade nie.

Jy is miskien een van die wat  ontstel word deur die leerstelling van God se soewereiniteit en uitverkiesing. Ek wonder hoe enige mens wat in God glo hieroor kan struikel. Want as daar ’n  God is, “ ’n  Koning, ewig, onsterflik en onsigbaar”, kan Hy tog nie anders wees as soewerein nie, kan Hy nie anders as om op te tree volgens Sy eie wil en kies volgens Sy eie voorneme nie. Jy mag dalk nie van hierdie leerstellings hou nie, maar jy kan net van hulle ontslae raak deur heeltemal die bestaan van ’n  onbeperk wyse, heerlike en magtige Wese te verloën. God sou nie God wees, as Hy nie absoluut soewerein, in Sy teenwoordige optrede en in Sy ewige vooraf bepalings was nie.

Maar hoe sou dit jou verwarring oplos deur ontslae te raak van soewereiniteit en uitverkiesing? Veronderstel dat dit uit die weggeruim is, na bly jy nog steeds dieselfde verdorwe en hulpelose mens soos voorheen. Die waarheid is egter dat die sondaar se werklike probleem nie in soewereiniteit of uitverkiesing lê nie, maar in sy eie verdorwenheid. As die verwydering van hierdie “harde dogmas” (soos sommige dit noem), sy eie sondigheid sou verminder of hom meer bekwaam sou maak om te glo en te bekeer, sou die moeilikheid voor hulle deur lê, maar as dit nie die geval is nie, dan is hierdie leerstellings mos hoegenaamd geen hindernis nie.*   As dit God se soewereiniteit is wat mense van Christus af weghou, dan sou die sondaar ’n  ernstige rede tot ongelukkigheid hê teen hierdie lering.  Maar as die probleem sy eie verdorwenheid is, is dit dan nie dwaas om beswaar te maak teen ’n  waarheid wat nog geen strooi van hindernis op die pad van terugkeer na God geplaas het nie? Uitverkiesing het baie siele na die hemel gehelp, maar nog nooit een verhinder nie. Verdorwenheid is die hindernis, uitverkiesing is juis God se manier om daardie hindernis te oorkom. Ons mag nooit uitverkiesing as ’n voorbehoud by die verkondiging van die evangelie sien nie. Jesus se uitnodiging aan alle sondaars is eg en waar. Jesus bedoel wat Hy sê. Wie die uitverkiesing verstaan as ’n beperking op hierdie uitnodiging verstaan die uitverkiesing verkeerd.  Wie uitverkiesing beleef asof God suinig is met sy genade, verstaan dit juis die teenoorgestelde van wat die Skrif daarmee bedoel. Uitverkiesing in die Skrif is ’n altyd ’n saak van lof en dankbaarheid. Gaan lees maar weer Efesiërs 1. Wie die uitverkiesing nie verstaan as ’n saak van blydskap nie, verstaan dit nie reg nie.

* Ek wil egter ’n  voorbeeld noem van die onskriftuurlike hantering van God se soewereiniteit . Sommige vertel die soekende sondaar dat die eerste ding wat hy moet doen sodat hy kan glo, is om hom te onderwerp aan hierdie soewereiniteit , en dat wanneer hy dit gedoen het, God hom geloof sal gee. Dit is vir seker ver verkeerd.  Onderwerping aan die soewereiniteit van God is een van die hoogste gevolge van geloof; hoe kan dit ’n  voorbereiding tot geloof wees? Die sondaar word vertel dat hy nie kan glo uit homself nie, maar hy kan homself onderwerp aan God se soewereiniteit! Hy kan nie die maklikste ding doen nie, hy moet by moet nou by die moeilikste ding begin om homself voor te berei vir die maklikste.  Dit is geloof, nie ongeloof wat hom so sal onderwerp nie, en tog word die onbekeerde sondaar aanbeveel om dit te doen en om dit ( by implikasie) in ongeloof te doen, dit wat juis die  hoogste daad en gevolg van geloof is! Dis nou regtig om teologie op sy kop om te keer.


HOOFSTUK 12 GEBREKKIGE GEVOEL

Jy sê dat jy nie vir jouself voel soos ’n  sondaar nie, dat jy nie bekommerd genoeg oor jou sonde voel nie, dat jy nie genoeg berou voel nie.

Dit mag dalk die geval wees. Laat my egter vir jou die volgende vrae vra:

1. Verander jou gebrek aan gevoel die evangelie? Maak dit die goeie nuus minder gratis, minder toepaslik? Is die evangelie dan nie juis die blye tyding van God se liefde aan die onwaardige, onbeminlike, ongevoelige nie? Die feit dat jy nie jou las voel nie, affekteer nie die aard van die evangelie of verander die genadige karakter van wie dit kom nie. Dit pas jou soos jy is en jy pas presies daarby. Dit kom na jou op die plek en sê : “Hier is ’n  volmaakte Christus vir jou, ’n  Christus wat alles bevat wat jy nodig het.”  Onthou die uitnodiging is juis aan hom wat “geen geld het nie” ( Jesaja 55:1) Is dit nie juis jou toestand nie? Jou verkryging van meer gevoel sal jou nie  laat kwalifiseer vir die evangelie nie, of nader daaraan bring, of sy seëninge koop, of jou meer welkom maak nie.


Niks wat jy kan doen of voel sal God oorreed om enigiets vir jou te doen wat Hy nie op hierdie oomblik reeds gewillig is om te doen nie.

2. Is jou gebrek aan gevoel ’n  geldige verskoning vir jou ongeloof?  Geloof ontspring mos nie uit gevoel nie, maar gevoel uit geloof. Hoe minder jy voel hoe meer behoort jy te vertrou. Jy kan nie reg voel voordat jy geglo het nie. Net soos alle ware berou sy oorsprong in geloof het, so alle ware gevoel. Tevergeefs probeer jy God se orde van dinge verander.

3. Is jou gebrek aan gevoel ’n  geldige rede om weg te bly van Christus af?  ’n  Besef van  jou nood behoort jou juis na Christus  te lei en nie van Hom te laat weg bly nie. Thomas Shepherd het gesê : “Meer word na Christus getrek onder ’n  besef van ’n  dooie blinde hart as deur alle hartseer, vernederings en verskrikkings. Hoe minder gevoel en sondebesef jy het, hoe meer behoeftig is jy in werklikheid; is dit nou ’n  rede om afsydig van Hom te bly? In plaas daarvan dat dit jou minder geskik maak om na Hom te kom, maak dit jou eintlik meer geskik. Die blindheid van Bartimeus was juis die rede waarom hy na Christus gekom het en nie ’n  rede om weg te bly nie. As jy meer blindheid en doodsheid as andere het, het jy juis meer redes om te kom, en minder rede om weg te bly. Wat ander wat onder oortuiging is ook al doen, jy wat dit nie het nie, durf nie wegbly nie, jy durf nie eers ’n  uur wag nie. Jy moet kom!


4. Sal jou gebrek aan gevoel jou minder welkom maak by Christus? Hoe werk dit? Wat maak jou so dink? Het Hy so gesê of het Hy so op aarde opgetree asof dit Sy manier van optrede was?  Het die vrou by die put enige gevoel gehad toe Hy so vol liefde met haar gepraat het? (Johannes 4:10) Was dit die hoeveelheid sonde oortuiging in Saggeus wat gemaak het dat die Here hom so genadiglik aangespreek het : “Maak gou, want Ek moet vandag in jou huis bly.” Die medisyne sal nie minder geskik wees vir jou, en die dokter nie minder gevoelvol en hartlik, omdat jy bykomend tot ander siektes ook nog ly aan hierdie verdowende verlamming nie. Jou groter nood gee Hom net die geleentheid om die omvang van Sy volheid en die rykdom van Sy genade aan jou te toon. Kom na Hom toe juis omdat jy niks voel nie.  Jesus sê : “hom wat na My toe kom sal ek nooit uitwerp nie” ( Johannes 6:37) Wat jy ook al mag voel of nie voel nie, dit is steeds ’n  “betroubare woord en werd om ten volle aangeneem word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red” (1 Tim 1:15). Moenie die genade van God beperk of die liefde van Christus bevraagteken nie. Vertroue in daardie genade en liefde sal alles vir jou doen, gebrek aan vertroue niks nie. Christus wil hê jy moet kom, nie wag of wegbly nie.

5. Sal jou wegbly van Christus af hierdie probleem van gebrekkige gevoel wegvat? Nee. Dit sal dit juis erger maak, want dit is ’n  kwaal wat net Hy kan wegneem. Daar is dus vir jou ’n  dubbele noodsaaklikheid om na Hom te gaan. Ander wat meer as jy voel kan dalk nog draal. Jy kan dit nie bekostig nie. Jy moet onmiddellik na Hom gaan wat as “Leidsman en Verlosser... aan Israel bekering en vergifnis van sonde  skenk” (Handelinge 5:31) Terwyl jy dan nou sien dat afstand hou en wantroue niks vir jou kan doen nie, probeer kyk wat “nader gaan” en “vertroue” sal doen. Vir jou, al is jy die grootste van sondaars, is die boodskap : “Laat ons nader gaan / toe tree” (Hebreërs 10:22)

God beveel jou om te kom sonder verdere vertraging of voorbereiding. Om jou sonde, jou ongeloof, jou ongevoeligheid, jou hart, jou wil, jou hele mens te bring en dit in Christus se hande te plaas. God eis jou onmiddellike vertroue op en oombliklike oorgawe aan Christus. “Kus die Seun” is sy boodskap. ( Psalm 2:12 OAV) Sy woord dring aan op jou terugkeer : “Bekeer jou tot die Here jou God” (Hosea 14:2) Dit wys jou dat die ware oorsaak van die voortgesette afstand tussen jou en die Here, jou onwilligheid is om toe te laat dat Christus jou op Sy eie manier red, en ’n  begeerte van jou kant om die krediet te kry vir die wegneem van jou gevoelloosheid deur jou eie gebede en trane.


6. Is jou ongevoeligheid nie juis een van jou ergste sondes nie? ’n  Kind met ’n  harde hard is een van die mees haatlike wesens. Jy kan vir baie dinge simpatie en verskonings soek, maar nie vir ’n harde hart nie. Hou op om jouself hieroor te bejammer en veroordeel liewers. Gee geen plek aan hierdie sonde nie. Moet dit nie behandel as ’n  ongeluk nie, maar suiwer as ’n  stuk skuld. Jy mag dit dalk ’n  siekte noem, maar onthou dis ’n onverskoonbare sonde. Dis een groot deurdringende sonde wat by al die ontelbare ander bykom. Dit maak jou net nog meer aangewese op Christus. Soos ’n ongeneesbare melaatse moet jy na Hom gaan vir genesing. Soos ’n desperate misdadiger moet jy na Hom gaan vir begenadiging. Ek smeek jou, moenie nog by hierdie aaklige sonde, die meer verdoemende sonde byvoeg van weiering om Christus te erken as die Geneser van alle kwale en die Vergewer van alle ongeregtigheid nie.


Christus skenk aan ons opregte berou en ware bekering.

Egte berou en bekering kan net van Christus verkry word. Waarom sal jy dan die gebrek daaraan, ’n rede maak om weg te bly van Hom af? Gaan na Hom daarvoor. Hy is by magte om dit te gee.  As jy praat van “wag”, wys dit maar net jy is nie ernstig in jou begeerte om dit te hê nie. Geen mens in sulke omstandighede sou dink aan wag nie. Jou oortuiging van sonde ( sondebesef) gaan nie kom deur te wag nie, maar deur te kyk. Deur te kyk na Hom vir wie jou sondes gekruisig het, en vir wie jy deur jou wantroue en ongeloof opnuut weer kruisig. Dit is geskrywe: “hulle sal opkyk na my vir wie hulle deurboor het en hulle sal rouklaag..” ( Sagaria 12:10) Dit is nie, rou en kyk nie, maar kyk en rou.


Sondebesef as sodanig red niemand nie.

Pasop vir die wanopvatting dat sondebesef as sodanig jou gaan red of dat jy so ’n  besef  moet najaag ter wille van die besef opsigself. ’n  Ou skrywer sê iewers : “ ’n  Bewustheid van ’n dooie harde hart is ’n effektiewe aansporing om na Christus te kom, ja meer effektief as wat enigiets anders kan wees, want dit is die arme, die blinde, die naakte, die ellendige wat uitgenooi word”.

Wat van die sogenaamde “law-work” (sonde oortuiging gewerk deur die verkondiging van die wet) as ’n noodsaklike voorbereidende stap tot geloof in Christus? Laat ons bietjie kers opsteek by die boek Handelinge. Hier vind ons die verkondiging van die apostoliese evangelie en sien ons die vrugte daarvan in die bekering van duisende. Hier kry ons verskeie geïnspireerde preke, gerig aan beide Jood en Heiden, maar in nie een van hulle word die onderwerp van die wet aangeraak nie. Dit wat die harte van die drie duisend op Pinksterdag deurpriem en vermurwe  het, was die eenvoudige vertelling van die lewe, dood, begrafnis en opstanding van Jesus van Nasaret. Hierdie vertelling is afgesluit met die  volgende skrikwekkende woorde, wat soos die  oordeelsbasuin moes klink vir die wat geluister het : “Laat dan die hele Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het” (Hand 2:36) So erg soos dit moes wees as aan hulle gesê was : “Julle het die hele wet van God verbreek”, sou dit nie naastenby so ontstellend gewees het as om beskuldig te word, “Julle het die Seun van God  gekruisig!”  Die sonde om die Here van heerlikheid te kruisig was erger as die verbreking van ’n duisend wette.  En tog in daardie einste daad van absolute oortreffende boosheid was die evangelie van die genade van God vervat. Hierdie daad wat die sondaar se verdoemenis uitspel, kondig juis ook sy verlossing aan. Daar was lewe in daardie dood. Dieselfde spykers wat die Seun van God aan die kruis vasgenael het,  die het ook die sluise van  Goddelike liefde op daardie einste moordenaars oop laat gaan.


Die evangelie van Jesus se werk aan die kruis smelt ons harde harte

Die evangelie opsigself (en nie die wet nie) was die hamer wat die apostels gebruik het om harde harte in stukke te slaan. Dis juis geloof in die evangelie wat die verharde hart van die eiegeregtige Jood gesmelt het. (Trouens dit lyk nie asof Paulus sy sonde besef het aan die voete van Gamaliël deur middel van die bestudering van die wet nie, maar eerder aan die voete van Jesus toe Hy Homself aan Paulus geopenbaar het - Brinsmead) Niks anders as slegs die goeie nuus van God se vrye liefdesguns, wat die sonde veroordeel maar die sondaar begenadig, sal ook in ons dag die harte van klip laat smelt nie. Wet en verskrikkinge verhard net, en hulle krag, selfs in die mond van ’n Elia is maar gering in vergelyking met die krag van ’n gepredikte kruis.

Die woord “bekering” beteken in Grieks ’n  “verandering van gedagte” en hierdie verandering word deur die Heilige Gees bewerk in samehang met die evangelie en nie die wet nie.  “Bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15) beteken nie, “verkry eers bekering deur die wet en glo dan die evangelie” nie, maar “laat hierdie goeie nuus oor die koninkryk, wat ek verkondig julle daartoe bring om julle sienings te verander en die evangelie te aanvaar.”  Die feit dat bekering hier voor geloof geplaas word impliseer eenvoudig dat daar ’n  wegkeer moet wees van dit wat vals is om te ontvang dit  wat waar is. As ek my gesig na die noorde toe wil draai, spreek dit vanself dat ek van die suide moet wegdraai. Tog sou mens nie daaraan dink om een van hierdie stappe as voorbereidend tot die ander te beskryf nie. As ek van die duisternis in ’n  vertrek ontslae wil raak, moet ek uiteraard die lig inlaat. Dit wil nog nie sê dat ek die ontslae raak van die duisternis as  n voorwaarde of voorbereiding vir die ontvangs van die lig kan beskou nie. Natuurlik gaan hierdie dinge uit die aard van die saak noodwendig saam. Bekering is dus in geen opsig ’n vooraf kwalifikasie vir geloof nie, en veral nie in die sin van berou oor sonde nie. Calvyn sê : “Daar behoort trouens geen verskil daaroor te bestaan dat berou nie alleen onmiddelik op geloof volg nie, maar ook dat dit daaruit ontstaan.....Mense wat egter die opvatting huldig dat berou aan geloof voorafgaan eerder as wat dit juis daarvandaan kom of soos vrugte deur ’n  boom daardeur voortgebring word, het die krag daarvan nog nooit geken nie...”

Dat gewetenswroeging geloof vooraf mag gaan, betwyfel ek nie. Sulke verskrikking is egter  nie noodwendig  dieselfde as Bybelse bekering/berou nie en dit is geneig om mense weg van en nie na die kruis te trek nie. Ek weet dat sondaars deur die donderslae van die wet wakker geskud kan word, maar hierdie onrus is nie noodwendig Goddelike berou nie. Hierdie tipe van berou is algemeen onder ongelowiges soos Agab en Judas. Hierdie soort  berou sal skrikwekkend duidelik eendag in die hel gehoor word, maar dis nie ware  bekering nie. Ware berou kom voort uit “die begrip van die genade van God in Christus”, die aanskoue van die kruis en die liefde wat deur daardie kruis openbaar word. ’n  Verslae en gebroke hart is die gevolg van ons geloof in die blye tyding oor God se vrye liefdesguns. In die mate waarin bekering, berou oor sonde en ’n  veranderde houding ten opsigte van sonde beteken, word dit slegs bewerk deur na die kruis te kyk. In die mate waarin dit ’n  verandering van gedagte is met betrekking tot God en Christus, is dit dieselfde as om die evangelie te glo. (Wanneer ek die evangelie glo impliseer dit tog dat ek my houding teenoor God en Sy Seun drasties verander het, dat ek my inderdaad tot God bekeer het)


Pasop vir allerhande voorbereidende stappe tot geloof.

Daar is min dinge gevaarliker vir die soekende siel as om te streef na sonde oortuigings,  wroeginge en selfvernedering as voorbereidende stappe om die evangelie te glo.  Diegene wat aan ’n  sondaar sê dat die rede waarom hy nie vrede kan vind nie, te wyte is aan ’n gebrek aan sonde oortuiging, wroeging of verootmoediging, is vyande van die kruis van Christus. Hulle wat by mense ’n  pad  van gebed, selfvernedering, selfondersoek en aandag skenk aan die wet, inprent sodat hulle in Christus kan glo, verkondig in werklikheid die essensie van Rooms Katolisisme. Dis word nie minder gevaarlik en giftig omdat dit ’n  verfynde vorm van Roomsheid is, wat onder die vaandel van die evangelie opgedis word nie.


Kom soos      jy is.

Christus vereis hoegenaamd geen voorbereiding van enige aard nie, hetsy deur middel van  die wet of evangelie, uiterlik of innerlik in die sondaar wat na Hom kom nie. Inteendeel hy wat nie kom net soos hy is nie, sal hoegenaamd nie ontvang word nie. Dis nóg “voorbereide siele”, nóg “berouvolle gelowiges”, nóg  “ootmoedige soekers”, nóg “ywerige gebruikmakers van die genademiddele”, nóg enige groep van die “beter” klas van Adam se seuns en dogters, maar juis sondaars, wat deur Christus verwelkom word. “Hy het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Luk. 5:32)

Valse berou, die produk en uitdrukking van ongeloof en eiegeregtigheid mag geloof voorafgaan, net soos die oorvloed van allerhande soorte boosheid in die siel voor hy glo. Maar wanneer geloof kom, kom dit nie as die resultaat van hierdie selfgewerkte berou nie, maar ten spyte daarvan en hierdie sogenaamde berou sal agterna deur die gelowige siel  beskou word as een van daardie eiegeregtige pogings wat eintlik maar net daarop gemik was om die sondaar weg te hou van die Verlosser. Diegene wat “berouvolle sondaars” oproep tot geloof, verstaan beide berou en geloof verkeerd. Wat hulle verkondig is geensins goeie nuus vir die sondaar nie. Vir die “beter klas van sondaars” (as daar sulkes sou wees) wat deur hulle vermoeiende pogings hulleself genoegsaam verneder het, mag dit dalk goeie nuus wees, maar nie vir die wat magteloos en verlore is nie, nie vir die goddeloses, die verhardes, die onverskilliges, die kreupeles en verminktes nie.


HOOFSTUK 13 NET JESUS

Miskien sê jy : “Ek voel nie gelukkig oor die motiewe wat my daartoe gebring het om Christus te soek nie, dis selfsugtige motiewe.” Heel waarskynlik is dit so. Die motiewe van ’n  nuut ontwaakte sondaar is gewoonlik nie onbaatsugtig  nie. Dit kan ook eintlik nie wees nie.

Jou soeke na verlossing het tog ontstaan vanuit ’n  besef  van gevaar, ’n  vrees vir die wraak wat gaan kom of  ’n  verlange om die erfenis van heerlikheid te verkry. Hierdie is inderdaad sommige van die motiewe wat jou aangespoor het. Hoe kan dit anders wees? God het jou gemaak met sulke vrese en verwagtinge, en Hy maak ’n  appèl daarop in Sy Woord. Wanneer Hy sê : “Keer terug, keer terug, waarom wil julle sterwe?” dan maak Hy tog juis ’n  appèl op jou vrese. Wanneer Hy jou die ewige lewe voor oë hou en die vreugde van ’n  oneindige koninkryk is Hy tog besig om ’n  appèl te maak op jou hoop. Wanneer Hy hierdie motiewe voor ons bring, verwag Hy tog dat ons daardeur beweeg sal word. Om te handel na aanleiding van sulke motiewe kan dus tog nie verkeerd wees nie. Inteendeel, om nie hierop te reageer nie sou beteken dat jy jou verhard teen God se ernstige oproepe. “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig..”, sê Paulus. (2 Korintiërs 5:1) Dit kan dus tog nie verkeerd wees om beïnvloed te word deur hierdie vrees nie.  “Die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring” (Openb 11:13) Dit was tog nie verkeerd nie. Die Bybel is vol sulke motiewe, gerig tot ons hoop en vrese.

Wanneer was dit in elk geval anders?  Wie onder die miljoene wat lewe in Christus gevind het, het op ’n  ander manier begin of het vanuit die staanspoor ’n  suiwer onbaatsugtige motief gehad? Was dit nie so met die tronkbewaarder van Fillipi toe die aardbewing sy siel geskud het en die ewige verdoemenis voor sy gewete opgeroep het nie? Was dit nie ’n  gevoel van gevaar en ’n  vrees vir oordeel wat hom laat vra het : “Wat moet ek doen om gered te word?” En het die apostel hom hieroor berispe?  Het hy geweier om sy angstige vraag te beantwoord, omdat sy motief selfsugtig was? Nee. Hy het onmiddellik geantwoord: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word.”


God kan inderdaad vrees gebruik om jou na Hom te trek.

Daar is niks verkeerd in hierdie motiewe nie. As my liggaam in pyn verkeer is dit tog nie verkeerd om te wens vir verligting nie. As siekte my oorval is dit tog nie verkeerd om die dokter te laat roep nie. Jy mag dit dalk selfsug wil noem, maar dis ’n  regte en geoorloofde  selfsug. Hy wat ons gemaak het is hiervan bewus en Hy wat ons instinkte gegee het, verwag dat ons hierop sal reageer. Deur daarop te reageer kan ons reken op Sy seën en nie op Sy teregwysing nie.  Dit is nie verkeerd om die hel te vrees, die hemel te begeer, te vlug van verskrikking, te verlang na seën, veroordeling te vermy en vryspraak te begeer nie. Laat Satan jou tog nie met sulke dwase gedagtes vang, onder die voorwendsel dat dit nie onselfsugtig en volmaak is nie. Sy bedoeling is om elke ernstige begeerte in jou uit te blus.

Jy dink dat as jy verlossing gesoek het vanuit ’n  ontsag vir God se eer, sou dit jou tevrede gestel het.  Dit sou beteken dat jy van die begin af, selfs voor jy nog na Christus gekom het, aangevuur is deur die edelste van alle motiewe.  Dit werk tog nie so nie. Hy wat geleer het om God se eer te soek, is iemand wat alreeds na Christus gekom het, en in elk geval, iemand wat dit volmaak doen, is hoegenaamd nie ’n  sondaar nie en het Christus gevolglik glad nie nodig nie. Om God se eer te soek is ’n  heerlike gevolg van geloof, maar jy wil weet dat jy dit het nog voordat jy geloof het, of as ’n  voorwaarde om geloof te verkry. Is dit moontlik dat jy besig is om jouself te mislei met die gedagte dat as jy maar net hierdie kwalifikasie kan verwerf, jy kan verwag dat God vir jou geloof sal skenk? Dit sou daarop  neerkom dat jy eintlik jou eie ywer in die plek stel van Sy eer en van die kruis van Christus.

Moenie wegbly van Christus as gevolg van die idee dat jy na Hom moet kom sonder enige selfbelang en selfsug nie. As jou opinie hieroor reg was, wie sou dan gered kon word? Kom net soos jy is, met al jou verkeerde motiewe, wat dit ook al mag wees. Vat al jou verkeerde motiewe, voeg dit by die getal van jou sondes en bring dit na die altaar waar die groot offer lê. Gaan na die genadetroon. Vertel aan die Hoëpriester daar, nie wat jy begeer om te wees nie, nie wat jy behoort te wees nie, maar wat jy is. Vertel aan Hom die eerlike waarheid oor jou toestand op hierdie oomblik. Bely aan Hom die onreinheid van jou motiewe, al die boosheid wat jy voel en nie voel nie; jou harde hart, jou blindheid, jou onwilligheid om geleer te word. Bely alles sonder voorbehoud. Hy wil hê dat jy na Hom sal kom presies net soos jy is. Dis niks anders as verwaandheid om te dink dat jy deur ’n  bietjie wag, werk of bid jouself geskik kan maak vir die Koninkryk nie.

Jy sê : “Maar ek is nie tevrede met my geloof nie, dis so gebrekkig en swak” Wel, dis onwaarskynlik dat jy ooit tevrede daarmee kan wees. Ten minste, ek hoop dat jy nooit tevrede met jou geloof sal wees nie. As jy daarvoor gaan wag voordat jy vrede verkry, gaan jy wag tot by jou sterfdag en nog steeds wag. Dit lyk amper asof jy  in jou eie geloof wil glo om rus te vind vir jou siel. Luister, die Bybel sê nie “Omdat ons dan tevrede is met ons geloof, het ons vrede by God” nie, maar “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God.” (Rom 5:1) Tussen hierdie twee stellings is daar ’n  hemelsbreë verskil.


Wat God van jou verwag is nie om tevrede te wees met jou geloof nie, maar tevrede te wees met Christus en Sy werk.

Tevredenheid met Jesus en sy werk, nie tevredenheid met jou geloof nie, is wat God van jou verwag.  “Ek is tevrede met Christus”, sê jy.  Wel, is jy? Dan is jy mos ’n  gelowige mens, wat wil jy dan nou meer hê? Is vergenoegdheid, tevredenheid met Christus nie voldoende vir jou en enige ander sondaar nie?  Is dit dan nie die suiwerste soort geloof nie? Om tevrede te wees met Christus is, is geloof in Christus. Om tevrede te wees met sy bloed, is geloof in sy bloed. Moenie jouself verwar nie en moenie dat ander jou verwar nie. Wees verseker dat die ware essensie van geloof, tevredenheid met Christus en sy sondedraende werk is. Moenie verdere vrae oor geloof vra nie, maar gaan blymoedig aan op jou pad, as iemand vir wie Christus alles is.

Onthou Johannes se woorde, “Hy moet meer word en ek minder” (Joh 3:30) Die eie ek, in elke gedaante, moet minder word, en Christus meer. Om tevrede te word met jou eie geloof sal dit laat lyk asof jy ontevrede is met Christus. Die begin, die voortgang en die einde van jou pad, moet onvergenoegdheid met jouself en vergenoegdheid met Christus wees. Wees tevrede om vergenoeg te wees met die Heerlike Objek van geloof, en vergeet van jou geloof as sodanig. Geloof, hoe mooi ook al kan jou opsigself niks bied nie.  Dit wys jou slegs op Jesus. Dit nooi jou uit om weg te kyk van geloof opsigself en na Jesus te kyk. Dit sê : “Christus is alles” Dit beveel jou om te kyk na Hom wat sê : “Kyk na My”, wat sê : “Moenie vrees nie, Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende, en Ek was dood en kyk Ek leef tot in alle ewigheid” (Openb 1:17-18)


Ons word nie gered deur geloof in ons geloof nie, maar deur geloof in Christus.

As dit van jou verwag was om in jou eie geloof te glo, om die kwaliteit daarvan te bepaal, om eers te weet dat jy wedergebore is voordat jy geregtig is om in Christus te glo of vrede te hê, dan sou dit nodig gewees het om eers tevrede te wees met jou eie geloof. Maar die evangelie verwag nie van ons enige persoonlike aanspraak nie, behalwe om te erken dat ek ’n  sondaar is. Let wel, dit gaan nie daar oor dat ek voel ek is ’n  sondaar nie (dit sou  kon lei tot n eindelose metafisiese ondersoek na jou eie gevoelens), maar bloot dat ek ’n  sondaar is.  Dit weet mens op grond van God se gesag en dit leer  Sy Woord ons, of jy nou jou sondigheid voel of nie. Die evangelie benodig geen versekering oor enigiets omtrent onsself nie, behalwe dit wat in die Bybel geskryf staan en wat waar is van al Adam se kinders - dat ons ’n  Verlosser nodig het. Dis op grond van hierdie behoefte dat geloof handel. Geloof bring juis hierdie behoefte voor die troon van genade. Die vraag is dus nie, “Is ek tevrede met my geloof nie?”, maar  “Is ek ’n  behoeftige sondaar, en is ek tevrede dat daar in Christus alles is wat ek nodig het?”

Nog ’n  beswaar. Jy sê : “Ek voel my liefde is nie genoeg nie?”  Wat! Het jy dan verwag dat dit so sou wees? Luister, is dit jou liefde vir  Christus, of Sy liefde vir jou wat veronderstel is om vir jou vrede te bring? God se vrye liefdesguns vir sondaars as sodanig is ons rusplek. Daar is twee soorte liefde in God , Sy liefde van medelye vir die ongelowige sondaar en Sy liefde van verlustiging en tevredenheid vir Sy gelowige kinders. 'n Vader se liefde vir Sy weggeloopte kind is net so eg as sy liefde vir sy gehoorsame, liefdevolle kind by die huis alhoewel dit van n verskillende aard is. God kan jou nie liefhê as n gelowige voor jy nie een is nie.  Maar Hy het jou lief as ellendige sondaar. En dit is juis hierdie liefde van Hom vir die liefdelose en onbeminlike wat aan die sondaar in die eerste  instansie n rusplek bied. Dis juis die vrye liefdesguns van God wat hom aantrek en versadig. “Hierin is die liefde : nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het....” ( 1 Joh. 4:10) “Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het” ( 1 Joh. 4:19)   “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy enige gebore Seun gegee het....” (Joh. 3:16)

Jy sê : “Ek is nie tevrede met my berou nie” Dis goed so. Wat sou jy van jouself gedink het as dit wel so was? Watter aanduiding van hoogmoed en selfgeregtigheid sou dit gewees het, as jy sou kon sê : “Ek is tevrede met my berou; dis van genoegsame kwaliteit en omvang.”  As jy daarmee tevrede sou wees, wat daarvan? Sou jy jou vrede daarop gebou het? Sou dit jou gewete tot rus kon bring? Sou jy met hierdie tevredenheid oor jou berou na die heilige God gegaan het in plaas van met die bloed van Christus?  Indien nie, wat bedoel jy dan met jou begeerte om eers tevrede te wees met jou berou, voordat jy vrede met God kan hê?

Om op te som. Jy is nie tevrede met enige van jou godsdienstige gevoelens nie, en dit is goed dat dit so is. Want as jy tevrede daarmee sou wees, sou dit beteken dat jy ’n  baie hoë dunk van jouself gehad het, en 'n baie lae dunk van wat beide die wet en evangelie van jou verwag. Jy is ongetwyfeld reg deur nie tevrede te wees met die toestand van jou gevoelens nie, maar wat het dit uit te waai met die groot verpligting om onmiddellik te glo in die Seun van God?  As die evangelie vir jou niks beteken voordat al jou gevoelens eers reg is nie, is dit geen evangelie (goeie nuus) hoegenaamd vir die sondaar nie. Dit is juis wat die evangelie so gepas en heerlik maak, dat dit jou tegemoet kom op die punt waar jy nou op die oomblik is en dat dit die goeie tyding aan jou bring ten spyte van goeie gevoelens wat glad nie reg is nie.

Al hierdie probleme van jou het hulle oorsprong in ons opgeblaasde selfbeeld, wat ons onwillig maak om totaal as sondaars beskou te word, en wat wegskram om na God te gaan  behalwe met een of ander persoonlike aanbeveling van ons kant wat ons aanvaarding by God meer waarskynlik sou kon maak. Ons is uiters traag om ons absolute gebrek aan goedheid te erken. Staak asseblief al hierdie pogings om vergenoeg met jouself te wees in enigiets, groot of klein, geloof, gevoel of aksie. Die Heilige Gees se werk om jou van sonde te oortuig, is juis daarop gerig om jou onvergenoeg met jouself te maak; wil jy nou n rigting inslaan wat Hom sal bedroef en wegjaag? God kan nooit tevrede wees met jou op grond van enige iets goeds omtrent jou nie; waarom sou jy probeer om tevrede te wees  met iets wat Hom nooit tevrede sal stel nie?


Niks wat jy kan doen of wees kan God tevrede stel nie. Dis juis hoekom ons ’n volmaakte Verlosser nodig het.



Daar is maar net een ding waarmee God volkome tevrede is - die persoon en werk van Sy eniggebore Seun. Dit is juis ook met Hom wat God wil hê jy moet tevrede wees, nie met jouself nie. Hoeveel beter sal dit tog nie wees om nou dadelik God se siening te aanvaar nie. Wees volkome tevrede en vergenoeg met Christus. Dan word vryspraak en vrede sonder versuim aan jou geskenk. Dan sal die guns van God op jou rus, want God het verklaar dat wie ook al vergenoeg is met Christus, van Sy guns verseker is. Sy begeerte is dat jy met Hom sal saamstem in hierdie groot saak. Behalwe dit vra Hy niks anders van jou nie. Maar met niks anders as dit sal Hy tevrede wees nie.  Hy sal jou ook op geen ander basis ontvang, behalwe as iemand wat vergenoeg geword het met Christus en dit wat Hy gedoen het nie.


In Christus is jy volkome aanvaarbaar vir God, want Jesus Christus is volmaak. Hy is God se Seun in wie Hy ’n welbehae het.

Dis tog seker alles eenvoudig genoeg. Voldoen dit nie presies aan jou behoefte nie? Vergenoegdheid met jouself, selfs as jy dit sou kon bereik, kan niks vir jou doen nie. Vergenoegdheid met Christus sal alles vir jou doen, want Christus is alles. “Dit is My geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het” Wees in jou skik met Hom met wie die Vader in Sy skik is, hê behae in Hom in wie die Vader ’n behae het, en alles is wel.

Ek vermoed dat sommige van hierdie probleme van jou voortspruit uit die geheime idee dat die evangelie eintlik ’n  soort aangepaste wet is, waardeur ons gered word as ons dit onderhou. Jy weet goed dat die ou wet ver bokant jou vuurmaakplek is, en dat dit jou nie kan red nie, maar net veroordeel. Maar nou dink jy miskien dat Christus gekom het om die wet ’n  bietjie makliker te maak, om die standaard daarvan te verlaag, om dit soos sommige sê ’n  evangeliese wet te maak, met ligter vereistes, wat beter inpas by die sondaar se swakheid. Dat sulke denke absoluut lasterlik is, sal ’n  oomblik se nadenke vir jou uitwys. Dit sou daarop neerkom dat die vorige wet te streng was, dat dit met ander woorde nie “heilig, regverdig en goed” was nie. Dis ook ’n  verloëning van Christus se woorde, dat Hy nie gekom het om “die wet te ontbind nie, maar te vervul.” God het maar net een wet en dit is volmaak. Die substansie daarvan is liefde tot God en mens. ’n  Ligter wet sou noodwendig ’n onvolmaakte wet moes beteken, ’n  wet wat God se een wet onnodig maak, ’n wet wat ondersteuning aan sonde gee. Sal gehoorsaamheid aan ’n  onvolmaakte wet, ’n  verbreker van die volmaakte wet, red? Geloof maak nie die wet tot niet nie, maar bevestig dit juis.


Ons word nie gered deurdat God sy wet afwaarts aanpas nie, maar deurdat Jesus God se volle wet volmaak in ons plek onderhou het.

Die Seun van God het die wet vir ons namens ons en ter wille van ons onderhou


Dit is juis deur die volmaakte wet waardeur ons gered word, anders sou dit ’n  onheilige verlossing wees. Dit is deur ’n  volmaakte wet, vervul in elke “jota en titteltjie” waardeur ons gered word, andersins sou dit ’n  onregverdige verlossing wees. Die Seun van God het die wet vir ons namens ons en ter wille van ons onderhou. Jesus het God se wet verheerlik en in ere gehou; daarom het ons ’n  heilige en regverdige verlossing. Alhoewel Hyself bokant die wet is, is Hy “onder die wet gebore” (Galasiërs 4:4) vir ons. Deur die plaasvervangende wetsonderhouding van Sy vlekkelose lewe, asook deur die verduring tot die dood van daardie wet se skrikwekkende straf, is ons verlos van die vloek van die wet.

“Christus is die einde (vervulling en afhandeling) van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4) Onthou Christus is nie ’n  helper nie, maar ’n  Verlosser. Hy het nie gekom om ons instaat te stel om onsself te verlos deur die onderhouding van ’n  afgewaterde wet nie.  Hy het die onafgewaterde wet in ons plek, namens ons onderhou, sodat die wet ons nie meer tot straf kan veroordeel nie.  Hierdie heerlike waarheid geld vir elke sondaar wat maar net sal instem om afhanklik  te wees van die volmaakte wetsonderhouding van Jesus in ons plek.


Twyfel jy? Moenie in jouself gekeer raak opsoek na bewyse van die Gees se werk in jou nie, maar kyk weer opnuut na die werk van Christus vir jou.

Ander probleme kom voort uit die verwarring van die werk van die Heilige Gees in ons met die werk van Christus vir ons. Hierdie twee sake moet uitmekaar gehou word, want die vermenging daarvan ondermyn beide. Pasop om nie enige van die twee mis te kyk, of hulle op ’n afstand van mekaar te hou nie. Alhoewel onderskeibaar, gaan hulle hand aan hand, onskeibaar saam verbind, tog elkeen met sy eie plek en funksie. Christus is jou medisyne, die Heilige Gees is jou dokter. Moenie die twee funksies opvat asof dit een saamgestelde werk is nie, moenie jou vrede bou op een of ander mistieke evangelie wat opgemaak is van ’n  mengsel van die twee nie.  Sien beide raak, die uitwendige en inwendige, die objektiewe en subjektiewe. Christus vir ons; die Heilige Gees in ons.

Vanaf begin tot end moet hierdie onderskeiding vasgehou word, andersins kan jy nadat jy vrede deur die geloof gevind het, dit verloor deur nie begin van jou vrymoedigheid tot die einde vas te hou nie. Iemand skryf tereg : “As ek begin twyfel, bring ek my twyfel tot bedaring deur terug te gaan na die plek waar ek dit die eerste keer tot bedaring gebring het, ek gaan en ek kry vrede waar ek dit aan die begin gekry het. Ek gaan sit nie swartgallig en tob oor my eie geloof of ongeloof nie, maar bedink weer die afgehandelde werk van Immanuel. Ek probeer nie my ervarings oproep om te bewys dat ek wel ’n  gelowige was nie, maar ek glo weer soos ek voorheen geglo het.  Ek ondersoek nie die bewys van die Gees se werk in my nie, maar ek dink aan die seker bewyse wat ek het van Christus se werk vir my in Sy dood, begrafnis en opstanding. So word my vrede herstel.  Ek het begin kyk na ander dinge; ek is nou egter teruggeroep van my dwalinge en kyk nou na Jesus alleen.”

Dit lyk asof sommige van jou probleme ontstaan as gevolg van ’n  vermenging van die natuurlike en bonatuurlike. Die wonderlike ding van bekering is, dat terwyl alles bonatuurlik is (omdat dit deur die Heilige Gees bewerk word), dit juis ook so natuurlik is. Jy verwag miskien ’n  bonatuurlike neerdaling van een of ander hemelse krag of helder lig in jou siel; iets anders as die waarheid van God en die normale werking van die mens se verstand. Jy verwag dalk dat geloof soos ’n  engel van die hemel in jou siel sal neerdaal en dat jou hoop aan die brand gesteek sal word met ’n elektriese stroom.  Dit werk egter nie so nie.

Die werk van die Heilige Gees strek verder as die natuur, maar dit is nie teen die natuur nie. Die Heilige Gees skaf nie ons verstandelike funksies af nie. Hy versteur nie die normale denkprosesse in ons nie. Hy doen geen deel van ons morele raamwerk geweld aan nie. Hy skep geen nuwe orgaan of gedagte of gevoel nie.  Sy funksie is om alles weer reg te stel in jou. Hy maak jou kalm, waar, werklik,  volmaak natuurlik. Jy kan eers regtig weer jouself wees wanneer Hy besit van elke deel van jou geneem het en jou met hemelse vreugde gevul het nie. Jy word dan eers werklik mens, jy word nie iets anders of bonatuurlik nie. Nooit kan jy so volmaak vry voel (minder beperk en meganies), in al jou denkprosesse, as juis wanneer Hy “elke gedagte gevange geneem het in gehoorsaamheid aan Christus” nie.


Die Heilige Gees maak jou weer waarlik mens soos God bedoel het jy moet wees!


Die hemelse lewe waaraan jy nou deel kry, is vryheid en vrede, dit is die wegneem van slawerny, duisternis en pyn. Dit is allesbehalwe ’n  onnatuurlike beperking op ons, dit is juis die wegneem van die ysterketting van skuld waarmee ons gebind was. Die evangelie tree op soos ’n  bevrydingsleër in ’n  verdrukte land, soos die warm asem van die lente vir ’n  vasgevrieste boom. Wanneer ware lewe en lewende waarheid die mens se siel binnekom, bring dit tog vryheid en nie verslawing nie. “Die waarheid sal julle vrymaak.”

HOOFSTUK 14 VERWARRENDE WAARHEDE

Die eerlike soeker word dikwels verwar deur mense wat Bybelse waarhede buite die Bybelse konteks en verband verkondig. Misplaasde waarheid kan soms meer skadelik wees as werklike dwaling. Wanneer ons leerstellings formuleer, moet ons God se orde vir hierdie dinge sowel as die inhoud van die dinge self, in ag neem. Vir die oplossing van die eenvoudigste wiskunde probleem is  dit belangrik, nie net om die regte simbole te gebruik nie, maar om hulle ook in die regte volgorde en plek te gebruik. So is dit ook met die leerstellige waarhede in God se Woord.  Dit lyk asof sommige mense hierdie waarhede bymekaar gooi waar dit nie pas of sin maak nie, asof die volgorde glad nie van belang vir die hoorder of leser is nie, solank die waarhede maar net  gestel word. Hierdie roekelose verwarring het al tot baie probleme vir die bekommerde soeker gelei. Een so ’n waarheid wat buite sy Bybelse plek en funksie opgedis word is die leerstuk van die uitverkiesing.

’n  Evangelie waarin die uitverkiesing eerste geplaas word is nie die evangelie van die apostels nie; nog minder is ’n  evangelie waarin uitverkiesing ontken word die apostoliese evangelie. Die ware evangelie opsigself is nie dat Christus vir die uitverkorenes gesterf het nie en ook nie dat Hy vir die hele wêreld gesterf het nie. Die voortreflikheid van die evangelie lê nie in sy aankondiging van die getalle wat gered word nie, maar in sy proklamering van die groot versoeningsdaad self. Hierdie evangelie word aan almal verkondig in egtheid en opregtheid. Nooit mag ons die uitverkiesing verstaan as ’n donker lys wat ’n beperking plaas op die verkondiging of opregtheid van die evangelie nie.


God se uitverkiesing is nie ’n beperking op sy liefde of genade nie.

God  is inderdaad soewerein, maar Sy soewereiniteit staan nie in die pad van Sy genade nie, dit lei ook nie tot onopregtheid wanneer Hy praat, soos sommige dink nie. Of ons nou met ons beperkte begrip soewereiniteit  met barmhartigheid kan versoen, maak nie saak nie. Laat ons beide glo, want beide is geopenbaar. Mag ons nooit terugval op ’n verklaring van Sy woorde van barmhartigheid, wat sou impliseer dat dit nie in opregtheid uitgespreek is nie.  God het nie ’n verborge agenda nie. Laat ons nooit Sy woorde so verklaar dat dit daarop sal neerkom dat as ’n  sondaar dit letterlik en eenvoudig opneem, hy erg teleurgestel sal word, dat hy uiteindelik sal uitvind dat dit misleidende oordrywing was, of sommer net leë wind nie.

Toe Christus op aarde was het Hy almal ontvang, geseën en genees wat na Hom gekom het. Goddelike soewereiniteit het nie Goddelike liefde verhinder nie. Net so het liefde nie ingemeng met soewereiniteit nie. Elkeen het sy eie plek gehad. Daar was geen konflik tussen hulle nie. Christus het die waarheid gepraat toe Hy gesê het : “Niemand kan na My toe kom as die Vader hom nie trek nie” en Hy het net so die waarheid gepraat toe Hy gesê het : “Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37)

Sommige wat veronderstel is om vas te hou aan die gesonde woorde van die waarheid, bring aan ons eerder ’n  verwringde evangelie. Die verskillende waarhede word so deurmekaar gegooi, dat alhoewel hulle almal dalk daar mag wees, hulle geen resultaat tot gevolg het nie. Die onderskeie waarhede neutraliseer mekaar so, dat dit die sondaar verhoed om die goeie nuus daaruit te put, wat as dit reg aanmekaar gesit was, dit sekerlik bevat. As die teksverse van die brief aan die Romeine rondgeskuif en deurmekaargegooi word, sal dit nog die brief aan die Romeine wees, al is elke woord steeds daar?  As ons in die oordra van die evangelie nie by die begin begin nie - byvoorbeeld as ons die sondaar  vertel wat hy moet doen, voordat ons hom vertel wat God gedoen het, as ons hom vertel om sy eie hart te ondersoek, voordat ons hom vertel om die kruis van Christus te bestudeer - dan vat ons al die blydskap uit die blye tyding en preek ons ’n  “ander evangelie”.


Die Bybel is in wese ’n verklaring van God se liefde!



Lees ons nie ook dikwels die Bybel asof dit ’n  wetboek is en nie die openbaring van genade nie? Ons bedek dit met ’n  wolk en lees dit as ’n  dokument geskryf deur ’n  harde  baas. ’n  Harde toon word aan die woorde gegee en die wetlike element verduister die sagte evangeliese stem.  Ons is traag om dit te lees as ’n  openbaring van die liefde van die Vader, Seun en Heilige Gees, as ’n  boek van genade, geskryf deur die Gees van genade. Soos die berg  Sinaï sy kop uitsteek, ’n  geïsoleerde massa van harde rooi graniet, te midde van ’n  duisend woestyn berge van sagter en minder stroewe materiaal, so staan die wet in die Bybel, ’n  noodsaaklike deel daarvan, maar nie die wesenskenmerk daarvan nie. Nee, dis “bygevoeg weens die oortredinge totdat die saad sou kom” (Galasiërs 3:19). Het ons wantrouige harte nie hierdie Boek van lig verdonker nie? Lees ons dit nie dikwels as die verkondiging van ’n  opdrag om te doen, in plaas van ’n  verklaring van wat die liefde van God gedoen het nie?

Wanneer jy die eerste keer na God gaan, moet jy Sy onwilligheid om te seën of sy gewilligheid om te seën as uitgangspunt aanvaar? Blykbaar huldig die meeste eersgenoemde siening. Hulle verdedig hulleself deur te sê dat as hulle geweet het dat hulle bekeer was hulle Sy gewilligheid as vanselfsprekend sou aanvaar het, maar omdat hulle nie daarvan seker is nie, durf hulle dit nie doen nie. Asof die evangelie dan nie juis die openbaring van Sy gewilligheid is om sondaars as sodanig te aanvaar nie.

Hoe vreemd tog! Ons is oortuig van Satan se gewilligheid om ons te versoek en skade aan te doen, maar ons is nie oortuig van God se gewilligheid om te red en te bevry nie. Ons swig voor ons groot vyand, wanneer hy ons in sonde in verlei, en ons weglei van Christus en die verlossing, maar ons wil ons nie oorgee aan ons getrouste Vriend, wanneer Hy ons met die bande van liefde nader trek nie. Ons wil nie aan God die krediet gee dat Hy die waarheid praat, wanneer Hy ons in tere barmhartigheid aanspreek nie. Ons wantrou sy versugtinge van  onpeilbare medelye met die sondaar. Ons luister, asof  Sy woorde hol is, asof Hy nie bedoel wat Hy sê nie, asof Sy boodskappe van genade, in plaas van die mees opregte woorde wat ooit die mens se ore bereik het, sommer maar net alledaagse niksseggende woorde is.

Watter dwase ironie! Daar is niks in die Bybel wat die sondaar wegstoot nie; en tog wil die sondaar nie kom nie. Daar is alles om hom nader te trek en oor te haal; tog bly die sondaar afsydig staan. Christus ontvang juis sondaars; tog draai die sondaar weg. Hy kry hulle innig jammer, huil oor hulle soos oor Jerusalem, tog bly die sondaar onaangeraak. Die hemelse medelye is tevergeefs, die oneindige geduld roer nie die klip hart nie en die Goddelike trane word geminag. Die Seun van God strek die hele dag sy hande uit, maar die uitgestrekte hande word geïgnoreer. Dit lyk asof alles tevergeefs is om die onverskillige tot besinning te bring en die swerwer terug te roep.

O, die geweldige hoeveelheid Goddelike liefde wat bestee is aan hierdie hartseer wêreld, wat uitgestort is ter wille van die behoeftige mens! Partykeer wil mens amper twyfel of dit waar of moontlik kan wees, dat God sulke liefde op so ’n  wêreld kan verkwis. Die kruis is egter die vaste monument en bewys van hierdie liefde en hierdie woorde bly onveranderd : “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy Eniggebore Seun gestuur het...” Partykeer wil ons ook sê : “Wat help dit God  om sulke liefde te verspil?” Is die dringende erns van God nie heeltemal  buite verband groot teenoor die geringheid van die objek, naamlik die mens nie? Dit sou wees as hierdie lewe alles was, as daar geen ewigheid, geen hemel, geen hel, geen eindelose vreugde, geen eindelose ellende was nie. Maar in ag genome die mens se bestemming, ’n  ewigheid wat wag, kan enige hoeveelheid dringende erns te veel wees? Kan die liefde en barmhartigheid te groot wees? Kan die vreugde of die ellende van ’n  sondaar wat gered is of verlore gaan hoegenaamd oordryf word?

God wie se onbeperkte verstand weet wat die hemel is, weet wat die verlies daarvan vir ’n mens inhou. Kan Hy te ernstig wees om ons daarteen te waarsku?  Sou sy liefdesuitnodigings oneg wees? Hy wie se alwetende toekomskennis, weet wat die hel is, in al sy oneindige angs, sien van veraf die volle verskrikking van die verlore mens, sy geween en gekners van tande, sy skrikwekkende gevoel van veroordeling en onverdunde ellende, sy snydende selfverwyt, sy berou wat vir ewig te laat is, sy versugtinge sonder enige hoop, sy bittere herinneringe aan die aarde se sonnige ure, al die stukke hartseer, die volle som van ’n  verlore ewigheid! Kan Hy daarom te veel barmhartig wees?  Kan Hy ooit te veel tere medelye hê met die siele van hulle wat waansinnig vas van plan is om hulleself in hierdie verdoemenis werp?  Kan Hy ooit te sterk en te gevoelvolle woorde gebruik om hulle teen so ’n  duisternis en so ’n  duiwel en so ’n  hel te waarsku en hulle te smeek om seker te maak van Sy hemel?


Die Heilige God het inderdaad sondaars lief! Terwyl hulle nog sondaars is.

Sommige huldig die siening dat sonde die jammerte en medelye in die hart van God vir die sondaar uitblus.

Dit is nie waar nie. Dat dit so eendag hierna sal wees en dat God sal ophou om die sondaar jammer te kry is ’n  angswekkende waarheid. Die verlore siel se ewigheid sal ’n  onbarmhartige ewigheid wees van ellende.

Maar in tussentyd, beteken God se haat vir die sonde, nie ’n  haat vir die sondaar nie. Nee, inderdaad lyk dit of die grootte van die mens se sonde eerder die Goddelike medelye verdiep as verminder.  Ten minste mag ons sê dat die groterwordende ellende wat meerdere sonde te weeg bring, ’n  nuwe intensiteit van die ouerlike barmhartigheid van die “God van alle vlees” op roep. “dit bring smart in Sy hart” (Gen. 6:6) Hoe verder die verlore seun in die veraf land ingaan, hoe meer gaan die verlange van die vader se hart na hom uit, in ongeveinsde medelye vir die ellendige swerwer, in sy hongersnood, naaktheid, skande en hopelose hartseer.

Nee. Sonde kan nie die egte erbarmende liefde van God uitblus nie. Die mees liefdevolle woorde ooit aan Israel is tot hulle gerig tydens die hoogtepunt van hulle afvalligheid. Die mees genadige uitnodiging is deur die Here gerig tot Kapernaüm, Betsaïda en Gorasin. “Kom na my toe” Die mees liefdevolle boodskap wat ooit aan ’n  gemeente gestuur is, was die aan Laodicea, die slegste van die sewe. Dit was juis Jerusalem in haar uiterste skuld en ongeloof, wat die Seun van God trane laat huil het. Nee, sonde kan nie die liefde van God vir die sondaar uitdoof nie. Baie waters kan dit nie uitblus nie, vloede kan dit nie laat verdrink nie. Van begin tot end agtervolg God die sondaar wat van Hom af wegvlug. Hy agtervolg hom nie in haat nie, maar in liefde, nie om te vernietig nie, maar om te red.

God is nie ’n  mens dat Hy sou lieg nie. Hy bedoel wat Hy sê, net so seker as Hy in barmhartigheid praat as wanneer Hy in toorn praat. Sy woorde is nie soos die mens s’n,  lukrake uitdrukkings of vae sentimentele uitinge of oordrewe versierde gevoelens nie. Sy woorde is almal waar en werklik. Jy kan nie die egte gevoel wat dit bevat oordryf nie, en om dit bloot as simbole te verstaan beteken dat jy dit nie alleen as onwerklikhede nie, maar as valshede beskou. Laat sondaars God se woorde opneem soos dit werklik is, die egte uitdrukkings van die gedagte van daardie oneindig waaragtige Wese, wat niks anders gebruik as woorde van waarheid en nugterheid nie.

Mag ons leer om God nie alleenlik as die heiligste wese te beskou nie, maar ook as die mees waaragtige van alle wesens. Laat die onverskillige sondaar Sy waaragtige waarskuwings hoor en sidder, want dit sal alles in vervulling gaan. Aan die ander kant, laat die  besorgde sondaar luister na Sy waaragtige woorde van genade, en sodoende vrede beleef. Dis nodig dat dit op ons hart gedruk word, want daar is in die harte van baie ’n tragiese wantroue oor die erns en opregtheid van die Goddelike uitsprake, en ’n  geneigdheid om hulle eerlike betekenis te ontwyk. Dit gebeur selfs onder diegene wat glad nie bewus blyk te wees van sulke wantroue nie. Kom ons laat reg geskied aan die waaragtigheid van God!

God is liefde. Ja, God is liefde. Kan so ’n  God verdink word van onopregtheid wanneer Hy Sy geduld verklaar, of woorde van vurige medelye teenoor die mees rebelse en onboetvaardige mense uitspreek? Ons weet dit is skrikwekkende vas en seker dat daar iets is soos geregtigheid, dat daar ’n  plek is soos die hel, dat daar verlore engele en verlore mense is. Maar hoe angswekkend en hoe waar hierdie feite ook al mag wees, kan dit nie die geringste twyfel werp op die opregtheid van die groot eed wat God voor die hemel en aarde gesweer het dat Hy “geen behae het in die dood van die goddelose nie”. Al hierdie feite kan in geen opsig die ernstige kant van Sy genadige dringende versoek “keer terug, keer terug, waarom wil julle sterf?”, afstomp nie.

HOOFSTUK 15. DIE PAD VORENTOE

As jy deur geloof aan Jesus die Sondedraer verbind is, lê  daar ’n opwindende pad voor jou. As iemand wat reeds vergewe is en reeds volkome deur God aanvaar, behoort jou hele lewe daarop gerig te wees om in blydskap dankie te sê vir God se groot genade wat Hy in Jesus aan jou bewys het. Onthou weer wat ons reg aan die begin beklemtoon het. Vergifnis kom eerste. Dis die begin van ware godsdiens.


Deur heiligmaking probeer ons nie vergifnis te verkry nie, maar  sê ons dankie vir die volledige vergifnis wat ons reeds het deur die geloof in Jesus.

Hoe bewys ons dankbaarheid aan God?  Deur in gehoorsaamheid ware heiligmaking na te jaag. In praktyk beteken dit ons al hoe meer soos Jesus sal word. Dis wat God vir ons wat Hy verlos het bedoel het. “...gelykvormig aan die beeld van sy Seun” (Rom. 8:29) Ons doelwirt is nou om soos Jesus te lyk en op te tree. (Ef.2:6) Christene, mense wat reeds vergifnis ontvang het en erfgename van die Koninkryk is, word dan ook opgeroep om “in sy voetspore te volg” (1 Petrus 2:21) Die mens wat deur geloof aan Christus verbind is het ’n totaal nuwe posisie en status. Ons het volgens God se boekhouding saam met Christus gesterf, ons is saam met Hom opgewek en ons sit reeds saam met Hom in die hemel. Tot hierdie  en net tot hierdie mense word die opdrag gerig om die dinge wat by ons ou sondige lewe pas, uit te trek en die dinge wat by ons nuwe status pas aan te trek. Jy wat reeds volkome vergifnis ontvang het moet uit dankbaarheid en blydskap ontslae raak van dinge soos haat, skinder, onreinheid ...... en dinge soos liefde, verdraagsaamheid, nederigheid, geduld najaag en toepas. (Kol. 3:1ev)


Ware heiligheid word net gevind waar daar egte blydskap is oor die volkome versoening wat Jesus vir ons bewerk het.



Miskien sal jy nou vra: “Maar wat nou as ek nie in heiligmaking  slaag nie? As ek misluk in liefde, as ek weer ongeduldig word, as ek struikel in woorde en gedagtes?” Staan ek weer skuldig voor God? Is ek weer onder sy oordeel en weer verlore? Hierdie vraag word beantwoord deur die inhoud van die evangelie self. Miskien moet jy net weereens nadink oor die betekenis van Jesus se kruisdood.  Sy dood was ’n vereffening van al ons sondeskuld. Al ons sondeskuld. Nie net dit wat ek tot op ’n sekere datum gedoen het nie. Deur Jesus se sterwe aan die kruis is al die dokumente wat teen ons kon getuig vir altyd tot niet gemaak. (Kol. 2:14)    Kan dit wees? Is al my sondeskuld uitgewis, ook die sondes wat ek nog gaan doen? Sal hierdie wete my nie dalk laks maak en aanmoedig om te sondig nie? Natuurlik sal daar altyd mense wees wat God se genade as verskoning vir sonde gebruik. Wie egter waarlik vergifnis ontvang het en genade verstaan sal egter eerder gemotiveer word deur hierdie volkome vergifnis om nog meer heilig te wees. Carlos Ortiz verduidelik hierdie waarheid met ’n pragtige beeld.  Die sweefstok artieste by ’n sirkus wat in die lug bollemakiesie slaan en allerhande waaghalsige toertjies uitvoer, word beskerm deur ’n veiligheidsnet wat sal verhoed dat hulle hulle te pletter sou val indien hulle ’n fout sou begaan. Die wete dat daar ’n veiligheidsnet onder hulle is, veroorsaak nie dat hulle doelbewus val en foute maak nie; inteendeel dit motiveer hulle om met groter oorgawe en sonder vrees hulle beste te lewer. Hulle maak nie met opset foute nie, maar hulle het die geruste wete dat hulle veilig is indien iets verkeerd sou loop. Jesus se volledige versoening vir al ons sondes is soos daardie veiligheidsnet. Dit spoor ons aan tot groter heiligheid terwyl dit ons ook  gerustheid gee en van vrees bevry. As ek val is ek nog steeds veilig.

Ja, inderdaad is dit ’n ernstige saak vir iemand wat die genade van God beleef het en weer teruggeval het. (“gebackslide het”) Dit bring skande oor die Naam van Christus en sy Kerk. Dit bring baie hartseer en selfverwyt vir die een wat geval het. Dit lei tot pyn en wanhoop.  Dikwels het ons sonde gevolge wat nooit reggestel kan word nie, soos in die geval van Dawid se owerspel en moord. En tog bly die evangelie nog steeds goeie nuus ook vir die een wat geval het. Daar is hoop vir die wat diep geval het, omdat Jesus se werk aan die kruis volkome was. Sy volkome offer waarborg vergifnis en herstel vir elkeen wat soos die verlore seun opstaan en terugkom.  So het Petrus dit ondervind. Hy, die leier onder die dissipels het diep geval deur Jesus te verloën, maar Jesus vergewe hom en herstel hom weer in die openbaar. (Joh.21)

Onthou net die duiwel het groot belang daarby dat jy moet ophou vertrou op Christus. As jy dus geval het sal hy jou probeer oortuig dat daar geen hoop meer is nie, dat Christus jou nie sal wil ontvang en vergewe nie. Dis sy taktiek, hy por ons aan tot sonde deur te sê dat dit nie so erg is nie en wanneer ons val probeer hy ons weghou van Christus deur te sê dat dit te erg is om vergewe te word. Moenie na sy misleiding luister nie. Hoor wat die Skrif sê : “Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here” (Jer.3:14) “Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op.”  (Spr. 24:16) “Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie.” (Joh.6:37)


Die evangelie van Jesus se afgehandelde werk aan die kruis is nie net eenmalige Goeie Nuus nie. Dis blywende Goeie Nuus wat ons van vrees bevry en aanspoor tot ’n heilige lewe ook wanneer ons geval het.



Geliefde, die groot boodskap is, vergeet van jou goeie dade, hou op tob oor jou mislukkings, laat staan al daardie mooi beloftes en selfverbeterings, moenie staatmaak op pragtige voornemens nie! Draai jou oë weg van al hierdie dinge en sien Jesus raak. Sy volmaakte lewe van gehoorsaamheid in jou plek, namens jou, sy volkome offer aan die kruis, die volledige afhandeling van al jou sondeskuld. Sien en glo! En dank Hom!


2 opmerkings:

  1. Dankie vir die harde werk om dit te vertaal. Wanneer n mens die dooie teoloe se skrywes lees is dit om na Bach te luister wat alles tot eer van God gekomponeer het. Of na die Gereformeerde skilders van die goue eeu waarvan in Luther se huis gehang het wat hy as geskenk gekry het. Die realiteit geskilder en nie die duiwels kuns van Picasso nie. Die waarheid in skrywes, skilder en musiek en teologie en nie die leuens van vandag nie. Net so was die teologie onverbeterlik wat niemand vandag op kan verbeter nie.
    Nico Engelbrecht
    www.reformedtruth.co.za

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie, Nico. So waar. Ek het dit eintlik al jare gelede vertaal en verwerk - dit het vir my so baie beteken. Die fokus op Jesus Christus en sy werk ... en nie op my (gebrekkige) geloof en gevoelens nie!

      Vrede vir jou
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.