- die dood is beslis nie die einde van als nie!
[Hierdie is volgens my beskeie opinie 'n merkwaardig egte en nugtere ervaring van die grense van die ewigheid. Lees self en besluit self oor die egtheid daarvan. Daar is 'n reuse verskil tussen ds. de Kock se egte eerlike belewenis en die baie "nadoodse ervarings" wat deesdae ter wille van sensasie en geldelike gewin opgedis word. Natuurlik is niemand se ervarings die maatstaf vir ons geloof nie en moet als aan die Skrif alleen getoets word. Wat wel duidelik is, en wat die Woord leer : God lewe, Hy ken ons gedagtes, gebed maak 'n verskil, daar is inderdaad 'n hemel en 'n hel!! - TJ de Koning]
VOORWOORD
Deur Ds. M.J. de Kock, B.A.,
H.O.D., B.Ed., V.D.M., interm Orrel diploma.
Dit is vir my ‘n besonder groot
voorreg om hierdie voorwoord tot hierdie uitgawe te kan skrywe. Hier in die begin wens ek u reeds mee te deel
dat as die Here my vader nie weer gesond gemaak het nie, ek nie hierdie woorde
aan u sou kon rig nie, want ek is die eerste seun wat ook sy naam dra wat na
die herstel van sy siekte gebore is. In
der waarheid het die Here Sy verbond bewaarheid deur hom genesing te skenk.
Die bitter waters van Mara het soet water geword, toe die Here gesê het
aan Sy volk: “Ek is die HERE wat jou
gesond maak.” (Ef. 15:26)
Deur die gelowige gebede van my
moeder en ander kinders van die Here het GOD my dierbare vader weer uit die
dood teruggeroep en hierdie bovermelde woorde van die Here is weereens
bevestig. Moses het die stuk hout op die
bitter water gegooi en dit het soet geword.
Die kinders van die Here het hom sy gesondheid teruggegee. Wat ‘n wonderlike God dien ons nie? Hy is inderdaad die GOD van wonderwerke. Eks. 34:10:
“Kyk Ek sluit ‘n verbond voor jou hele volk sal Ek wonders doen soos
daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie....”.
My innigste bede is dat hierdie
ondervindinge van my vader vele tot besinning sal roep om te besef dat die
Woord van GOD die waarheid is en dat geeneen van ons die reg het om by die
Woord van GOD weg te neem of by te voeg nie.
Ek haal aan Deut. 4:2: “Julle mag
by die woord wat Ek julle beveel niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van
weglaat nie.” Aanvullend hierby vind ons
die derde laaste teksvers in die Skrif Open. 22:19: “En as iemand iets van die
woorde van die boek van hierdie professie wegneem, dan sal GOD sy deel wegneem
uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in
hierdie boek geskrywe is.”
DIE TWEELEDIGE NATUUR VAN DIE
MENS.
Gedurende die jaar 1919 het ek en
my gesin te Port Elizabeth gaan vakansie hou, om liggaamskragte na ‘n aanval
van griep te herwin. Terwyl ons te Port
Elizabeth uitgerus het, het ek die slagoffer van maagkoors geword. Geneeshere het my ondersoek en ook gevind en
verklaar dat ek maltakoors onder lede gehad het. Die bevinding van die geneeshere nadat hulle
my bloed in die Provinsiale hospitaal te Port Elizabeth ondersoek het, was soos
volg: Maltakoors positief en tifuskoors
negatief. Die een geneesheer het
verklaar dat ek drie dae in die hospitaal sou bly. My verblyf in die hospitaal het egter nie
drie dae geduur nie, maar wel drie maande.
Op die 10de November 1919 is ek tot die hospitaal toegelaat en op die
11de Februarie 1920 is ek weer daaruit ontslaan – swak, maar weer op pad na
gesondheid. Dit het egter geduur tot
Oktober 1920 voordat ek weer my werksaamhede in my gemeente te Fouriesburg kon
hervat.
In die hospitaal was ek eers saam
met vyf ander persone in ‘n semi privaatkamer geplaas. Ek kan onthou dat ek Maandag daar ingekom het
en gedurende dieselfde week, op
Donderdag het ek gevoel dat die
dood aan die nader was. Ek het my eggenote
geroep om voor my bed te kom sit en haar toe meegedeel dat ek gevoel het dat ek
moes heengaan. Ek het haar die laaste
raadgewings omtrent die opvoeding van my twee kinders, Joey en Servaas, gegee.
Daardie selfde nag was ek rasend
van maltakoors, wat ek in die ergste graad opgedoen het. Alhoewel my brein verward was, kan ek veel
van hierdie tydperk onthou. Ek het
gesien en ervaar dat my bed in ‘n vertikale posisie was. Die Bantoe wat die vloere gevryf het, het my
sy voete na bo, en sy kop na onder geloop.
Ek het onder die waan verkeer dat ek as gevangene opgesluit was en dat
my gemeente na my gesoek het. Ek wou uit
my bed spring, maar kan nog goed onthou dat ek moes teruggehou word deur die
verpleegsters en ‘n paar van die mans.
Ek kan ook nog in my herinnering terugroep hoedat ek een van die
pasiënte ‘n geweldige vuisslag toegedien het.
Ek het ook gedink dat alles aan my behoort en dat die ander pasiënte
daarop uit was om dit vir my ongerieflik te maak.
In die verwarde toestand van my
brein het ek ‘n toespraak oor “thought” in Engels gelewer. Ek kan nie onthou wat ek gesê het nie, maar
my eggenote het my meegedeel dat dit wonderlik was om te verneem, wat ek oor
hierdie onderwerp te sê gehad het. Dit
was asof ek die werking van die gedagte duidelik kon sien en ek het dit beskryf
as “shock”, “impetus forward” en “full realization”. Ek noem hierdie gebeurtenisse om te bewys dat
daar ‘n tyd in my krankheid was, waarin ek soos alle koorsagtiges was. Ek het geyl en ervarings deurgegaan wat ek
wil vergeet. Hierdie toestand is bekend
by diegene wat soortgelyke ervarings deurgemaak het.
Daar het egter ‘n einde aan
hierdie geweldige koorsagtige toestand gekom.
Wat die liggaamlike oorsake was wat daartoe gelei het, weet ek nie, maar
dit was asof daar bloeddrade voor my oë gekom het, moontlik as gevolg van
bloedstorting op die harsings.
Dit het my voorgekom, asof ek in
die diepte weggesink het, eenmaal selfs ook in die diepte van die see, om deur
‘n sterk stroom weggevoer te word. As
gevolg van hierdie hewige koorsagtige toestand het my liggaamskragte so
agteruitgegaan dat dit in ‘n dodelike swakheid ontwikkel het.
My liggaam het feitlik so tot niet gegaan,
dat selfs my bene feitlik aan die ontbinding oorgelaat was. Geeneen van die geneeshere wat my ondersoek
het, het enigsins enige hoop op my herstel gehad nie. My eie broer, wat geneesheer te
Rosettenville, Johannesburg was, het beweer dat dit beter sou wees dat ek
sterf, want my orige bestaan op aarde sou maar sukkelend en treurig
verloop. Dit kon moontlik gebeur dat ek
nooit weer op ‘n normale wyse sou kon dink of werk nie.
Hierdie toedrag van omstandighede
deel ek graag aan u mee, sodat u kan waarneem dat daar ‘n onderskeid is tussen
die verwarde koorsagtige toestand waarin ek verkeer het en die later
ondervinding wat ek opgedoen het, toe ek op die grense van die ewigheid verkeer
het. Hier het ek tussen lewe en dood
gehunker. My laaste lewensdraad moes nog
net geknip word. Namate my
liggaamskragte afgeneem het, het die werklike geestelike mens op die voorgrond
getree. Daar het ‘n skeiding tussen my
gees en liggaam plaasgevind. Soos die
Woord van GOD dit verduidelik in 1 Kor.15:44 word ‘n geestelike liggaam
opgewek, nadat die natuurlike liggaam gesaai is. Dit was asof my gees homself uit my liggaam
probeer verwyder het, maar tog het dit nie heeltemal van my liggaam geskei nie.
Dit het vir my baie duidelik
geword dat ek as mens eintlik tweeledig is, naamlik, die natuurlike mens wat
die aardse liggaam is en die geestelike mens wat nie die aardse liggaam is
nie. Terwyl my liggaam in puin gesink
het, het my geestelike persoonlikheid meer en meer vry geword van die bande van
tyd en ruimte.
HOOFSTUK 2
DIE GEESTELIKE PERSOONLIKHEID
Terwyl ek hulpeloos en uitgeput
op my bed in die hospitaal gelê het en my geestelike persoonlikheid besig was
om my swak liggaam te verlaat, het ek tot my verbasing in aanraking met die
geestelike persoonlikhede van ander mense, wat nog lewend op die aarde was,
gekom. Ek het nie alleen gehoor wat die
geneeshere en verpleegsters van my gesê het nie, maar ek kon ook hulle gedagtes
waarneem. My gees was so helder en byna
verlos van die liggaam dat ek duidelik kon hoor wat my gemeentelede van my gesê
het. Toe daar ‘n gemeente vergadering
gehou was het ek verneem dat die vergadering gehou was om planne te beraam om
my tydens my ernstige ongesteldheid te hulp te kom. Duidelik het bekende stemme van diegene wat
daar gepraat het tot my geestelike gemoed
deurgedring. Toe ek weer besig
was om te herstel, het ek hierdie gewaarwordinge aan my eggenote meegedeel en
sy was stom van verbasing om te verneem dat ek daarvan weet, dat op die
vergadering besluit is om twee lede van die gemeente af te vaardig om my te kom
sien en ondersoek in te stel na my en my huisgesin se omstandighede. Die geestelike oor van my geestelike
persoonlikheid is dus tot meer in staat as my vleeslike oor.
Ek het ook gesien en gehoor hoedat
die landdros te Fouriesburg met sy klerk oor ‘n fout praat, wat ek met die
invul van my belastingopgawe gemaak het.
Selfs die bedrag wat hy aangewys en oor met sy klerk gepraat het, kon ek
duidelik verneem. Toe ek beter geword
het en my eggenote daarna gevra het, kon sy nie verstaan hoe ek daarvan geweet
het nie. Sy het my toe meegedeel dat
daar ‘n brief van die landdros van Fouriesburg in verband met die
aangeleentheid gekom het, waarin gevra word dat die fout reggemaak moet word.
Tydens my afwesigheid van die gemeente te Fouriesburg,
het die kerkraad die dienste van ‘n tydelike geestelike werker bekom. Ek het hom gesien praat met ‘n paar van die
kerkraadslede. Ek het gehoor hoe hy
hulle vra waar die vorms vir lidmaatsertifikate was. Een van die kerkraadslede het gesê dat dit
in die muurkas van die pastorie opgesluit was en aangesien hulle nie die sleutel
in die hande kon kry nie, het hy daarop aangedring dat die muurkas oopgeskop
moet word. Hierna het hierdie
geestelike werker die kerkraadslid ernstig berispe en gewaarsku dat hy nie so
onverskillig moet wees nie. ‘n Kort
tydjie na my herstel het ek hierdie geestelike werker ontmoet en hom meegedeel
wat ek tydens my ongesteldheid gewaar het.
Hierdie man was oorstelp van opgewondenheid en verbasing toe ek hom
hierdie voorval in die fynste besonderhede meegedeel het, want hy het dit ten
volle bevestig dat alles netso plaasgevind het, soos ek dit gesien en gehoor
het.
Toe my oudste suster Hettie die
tyding van my ellendige toestand ontvang het, was sy baie oor my privaatsake
begaan, omdat sy en ek baie innig aanmekaar verbind is. Ek het haar gesien hoe sy na my studeerkamer
gaan om al my private rekenings na te gaan want sy en my moeder het destyds
naby die pastorie gewoon. Ek het gesien
hoe sy die voldane rekenings ondersoek en dit in ‘n netjiese tydsvolgorde plaas. Selfs die bedrae van die verskillende
rekenings was vir my duidelike waarneembaar.
Hieroor het ek met niemand gepraat nie.
Toe ek egter weer tuis was, het ek na my studeerkamer gegaan en alles
daar gevind soos ek dit in my gees in die hospitaal ervaar het. My suster het dit aan my bevestig dat sy
onder omstandighede tot hierdie optrede genoodsaak was.
Toe my gees besig was om my
liggaam te verlaat hier op die rand van die ewigheid, het twee moeders van my
gemeente die tyd met die ewigheid verwissel.
Ek kon sien hoedat die dood nader terwyl hulle op hulle sterfbeddens
lê. Duidelik sigbaar was die kinders en
familiebetrekkings wat geween het rondom die sterfbeddens van hierdie twee
moeders, toe hulle die laaste asem uitgeblaas het. Netsoos die vorige gevalle het ek hierdie
kennis wat die Here aan my gegee het, aan my eggenote in die proses van my
herstel meegedeel.
Al hierdie mededelinge was vir my
eggenote feitlik ongelooflik, maar sy moes dit maar net eenvoudig aanvaar,
omdat nadat my gees weer ten volle na my liggaam teruggekeer het, ek vir ‘n tyd
land geen verbinding met die buitewêreld gehad het nie. Selfs in die hospitaal was ek ook onbekwaam
om enige gedagtes met iemand te wissel.
Berigte wat omtrent my siekte in
kerk en dagblaaie verskyn het, kon ek duidelik sien. Alles het voor my geestesoog ontrol. Die klanke van die wêreld kon my liggaamlike
oor nie meer hoor nie. Met die
geestelike oor kon ek beter hoor as wat ek met die liggaamlike oor ooit kon
doen. Ek het gesien en gehoor hoe Ds.
Louw een van ons welbekende evangeliedienaars bid. Hy het soos volg die naam van die Here
aangeroep: “Ag hoe soet en salig is dit
‘n weinig te ruste in de schaduw van U teenwoordigheid Heer.” Die vraag het by my ontstaan of hierdie
leraar dan ook oorlede is, want op die tydstip was ek onder die indruk dat ek
self oorlede was. Ek het egter die
volgende antwoord van die Here ontvang:
“Nee hy is nie dood nie, maar sy gees leef by die Here.” Hierdie ontmoeting was nie vir my
verklaarbaar nie. Later toe ek veel
beter was en normaalweg kort gedeeltes kon lees, het iemand vir my Die Kerkbode
gegee.
Een van die eerste berigte wat ek
gesien het, was oor die heengaan van die eggenote van Ds. Louw. Dit het toe vir my duidelik geword waarom ons
in die gees ontmoet het. My gees was
reeds in so ‘n mate vry van my liggaam dat ek in my gees in staat was om die
woorde en gedagtes van sy gebed waar te neem al was ons ver van mekaar
verwyder.
Die gedagte en gesprekke van
ander mense, hoever hulle ook al van my verwyder was, kon ek duidelik hoor en
ek kon selfs weet wat hulle gesindheid teenoor my is, soos Kol. 2:1 dit uitdruk
“Want al is ek ook na die vlees afwesig, is ek by julle in die gees.” Namate my liggaamskragte afgeneem het en my
siel besig was om my liggaam te verlaat, het ek kennis gemaak met ‘n ander
geestestoestand naamlik die toestand van introspeksie.
HOOFSTUK 3
DIE TOESTAND VAN INSTROSPEKSIE
Heeltemal vreemde gewaarwordinge
het my nou te beurt geval. Dit het my
voorgekom asof ek in ‘n spierwit kamer opgesluit was – alles was so wit soos
sneeu. Hierdie ondervindinge was so
wonderlik, dat ek dit nie in woorde kan beskrywe nie. Wat baie merkwaardig was, is dat ek nie my
selfbewussyn verloor het nie en nog altyd geweet het wie ek was. Nou het ek gesien wat die oorspronklike
reinheid van die siel, soos dit voor die sondeval was, is. Hoe lank hierdie toestand aangehou het, weet
ek nie, maar dit het by my gebly en is nog so duidelik soos die tyd toe ek dit
ervaar het. My liggaamlike sintuie was
na buite gesluit, terwyl my geestelike sintuie na binne oopgemaak was, met
ander woorde ek was in staat om deur my gees ondersoek in te stel by wyse van introspeksie.
Die Here het my ‘n geestelike
gesig van die brein van die mense gegee.
Ek het nie net alleen gesien hoedat die brein werk nie, maar ook hoedat
indrukke bewaar word. By elke indruk van
buite het dit gelyk asof daar ‘n fyn stof afgeskei word. Alles wat die mens ervaar word deur die brein
bewaar en niks gaan ooit verlore in die brein van die mens nie. Op ‘n wonderlike wyse is my gedagtes weer
voor my gees geroep vanaf die beginjare van my lewe tot en met die tyd van
hierdie ondervindings wat ek opgedoen het.
Dit het my voorgekom asof klein
rolletjies, met ‘n baie klein skrif daarop, afgerol was. Op hierdie rolletjies het al my gedagtes
geskrywe gestaan. Dit was asof my hele
denkwyse weer voor my geestesoog geopen was.
Alle gedagtes wat ek ooit gedink
het, is weer voor my ontvou, en ek het geweet dat dit my gedagtes
was. Geen enkel gedagte gaan ooit
verlore nie, want alles word suiwer en noukeurig in die brein bewaar, selfs ook
die gedagtes wat ons vergeet het. Al ons
woorde wat ons gesê het, word ook in die brein bewaar. Alles wat ek gesê het, kon ek duidelik weer
oor - alles is weer juis
weergegee. Ek kon my kinderstemmetjie,
wat die gebedjie aan die knieë van my moeder gelispel het, weer hoor, asook het
ek my stem in die geselskap van my maats binne en buite die skool weer
gehoor. Geen enkel woord gaan ooit
verlore nie – woorde van liefde, woorde van haat, woorde van waarheid,
leuentaal, goeie en slegte woorde het ek alles weer verneem. Ons moet baie versigtig wees watter taal oor
ons lippe gaan, want dit word nie in die lug opgelos nie om nooit weer gevind
te word nie. Ons woorde sal ons weer
vind en sal die aangesig van vreugde laat blink, of die hart laat krimp as
gevolg van ‘n aandoening van bittere smart en skande.
Vir my was hierdie ‘n diep
rustige ondervinding dat in die gedenkboek van ons lewe die brein nie alleen
ons gedagtes, maar ook ons woorde en dade bewaar word. Die dade van die mens word volgens die
verskillende lewenstonele waarin ons ons bevind bewaar. Dit is net soos ‘n panorama of bioskoop. Die hele lewe bestaan uit sulke lewenstonele
waarin die persoon aan wie die brein behoort die hoofrol speel. So was dit ook aan my voorgestel waar ek
alleen was, waar ek met my huisgenote verkeer het, in die klaskamer, in die
kerk, op die kansel, op speel gronde en in die konsertsaal. Aan my is weer alles duidelik getoon wat ek
in die verskillende en besondere omstandighede gedoen het. Daar was tonele waaroor ek verheug was, maar
ook tonele waaroor ek my diep geskaam het.
Wat vir my ook baie duidelik
geword het was dat selfs ons innigste dryfvere eendag geopenbaar sal word. Dan sal ons, ons handelswyse nie aan die omstandighede
van die lewe of as gevolg van die gedrag van ons medemense kan toeskrywe
nie. Die verborge dinge van die
duisternis sal soos die Woord van GOD dit uiteensit aan die lig gebring word. Baie maal het jong mense wat dit ernstig met
die saligheid van hulle onsterflike siele bedoel het, aan my gevra maar waarom
word al ons gedagtes, ons woorde en ons dade weer aan ons geopenbaar? Word ons dan nie gereinig en geheilig deur
die bloed van Christus nie? My antwoord
hierop is dat dit vir die gelowiges wel nodig is om te sien van hoe ‘n groot
sondeskuld die Here hulle verlos het. So
ook is dit vir diegene wat verlore gaan ook nodig om hulle gedagtes, woorde en
dade weer te ervaar, aangesien hulle onversoende sonde weer aan hulle getoon
moet word.
Die hele lewe word as ‘n
getuienis, van voor af teen die mens geopenbaar. Ek het telkens onder die besef gekom dat
dryfvere tot goed of kwaad, nie in die mens self geleë is nie, maar dat
invloede van buite, al ons gedagtes, woorde en dade beheer: dit is òf die Gees van die Here òf die gees
van die Bose. Daarom is ons worstelstryd
nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen wêreldheersers van
die duisternis, teen die bose geeste in die lug.
HOOFSTUK 4
OP DIE GRENSE VAN DIE EWIGHEID
Intussen het my liggaam gedurig
en gewis agteruit gegaan. Later is aan
my vertel dat die verpleegsters alreeds voorbereidsels vir my heengaan getref
het. Warmwater bottels was reeds om my
vir die laaste rillinge van die dood gepak.
Waar ek eers af en toe nog ‘n bietjie melk kon geniet het, kon ek op
hierdie tydstip feitlik niks meer geniet nie, omdat ek besig was om te sterf,
met ander woorde ek was feitlik op weg na die ewigheid.
Ek kon my eie liggaam op die
bedjie in die hospitaal sien lê, wat
alreeds gedeeltelik ‘n prooi van die dood geword het. Dit was vir my ‘n sonderlinge ondervinding
dat my siel toe reeds die grense van die ewigheid bereik het. Dit het vir my geblyk dat alles in die
weegskaal gelê was, dit was ‘n balanseer tussen lewe en dood. Die ondervindings wat ek hierna opgedoen het,
was dan ook van ‘n ander en dieper aard.
Ek is ook daarvan oortuig dat die mens nie mag deurdring tot die dinge
wat buite die bestek van die geopenbaarde waarheid van GOD bestaan nie. Die Woord van GOD bevat vir ons alles wat ons
nodig het vir die lewensreël hier op aarde en GOD se Woord leer vir ons genoeg
van wat op ons na die dood wag.
Ek het nie na die ondervinding
wat nou sal volg gesoek nie. As die gees
van die liggaam skei, keer die liggaam terug na die stof, waaruit dit gemaak
is. Die gees keer terug na die toestand
waarvan dit bestem is.
Geestelike indrukke het vir my al
duideliker geword. Die aarde en al wat
aards is het al meer en meer vervaag.
Wat ek u nou gaan meedeel sal moontlik vir meer as een baie vreemd
klink, veral vir die mens met sy beperkte stoflike sintuie, wat net feitlik die
materiële kan waarneem. Vir my gees wat
so te sê weg van my liggaam was, was dit hoegenaamd nie vreemd nie, maar
doodnatuurlik.
Eers het ek klanke met my
geestelike oor gehoor wat nie van hierdie wêreld was nie. ‘n Aantal van hierdie algemene uitdrukkings
het my steeds bygebly. Ek hoor die vraag
– Wat is ‘n predikant? Die antwoord
weerklink helder: “’n Kaptein in die
leer van Jehovah.” Dan weer het ek die
volgende uitdrukking gehoor: “Hell is
Heaven’s dumping ground.” Later toe aan
my ‘n gesig van die verderf gegee is, kon ek duidelik die waarheid van
bogenoemde uitdrukking begryp. ‘n Ander
uitdrukking wat ek duidelik gehoor het was:
“Satan is the scavenger of Heaven.”
‘n Ander uitdrukking duidelik aan my weergegee was “the elements of
Heaven and Hell are identical, only mixed in different proportion.” Dit was vir my heeltemal verklaarbaar dat die
uitdrukkings deur my in die Engelse taal verneem is, aangesien ek my
wetenskaplike opleiding deur middel van Engels ontvang het.
Vir my was dit voorwaar ‘n
vreemde ondervinding om nie alleen algemene uitdrukkings te hoor van persone
wat nog gelewe het nie; maar ook die
stemme van persone, wie reeds heengegaan het, het ek gehoor. Ek kon die stemme van my grootvader en
grootmoeder, vir wie ek op aarde nooit gesien het nie, hoor. Alles was vir my uiters natuurlik, asof almal
die wat oorlede was baie belang in my gestel het.
Vir my het dit baie duidelik geword
dat diegene wat alreeds die geluksaligheid beërf het, wel belangstelling toon
in diegene wat hulleself nog op aarde bevind.
Daar op die grense van die
ewigheid het die ewige al nader na my siel gekom en my siel al nader na die
ewige. Dit was vir my ‘n voortreflike en
heerlike ondervinding
HOOFSTUK 5
DIE DAL VAN DIE DOODSKADUWEE
Ek gee u die versekering dar daar
wel so ‘n dal is waar die siel moet deurgaan om sy ewige bestemming te
bereik. Die Here sal die siel wat gereed
is veilig daardeur lei soos dit in Psalm 23:4 bevestig word: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee,
ek sal geen onheil vrees nie.” Ek het
ervaar dat hierdie wel ‘n dal is wat donker is, ‘n dal van skaduwees, waar die
een skaduwee dieper en donkerder as die ander is. Hoe sal ek ooit die volle besonderhede kan
beskryf wat my daar te beurt geval het.
die bose het al sy lis in werking gestel om myself van die Here af weg
te trek. Die Satan het uit die diepte al
sy verskriklike gedrogte te voorskyn geroep, onbeskryflike monster wat daarop
uit was, om my met angs en skrik te vervul, met hulle vreeslike geluide en
stemme wat ek gehoor het.
Hierdie ervarings is baie
duidelik en helder op my gemoed afgedruk.
Ook die volgende van die doodsengel, wat met die geritsel van sy vlerke
my kamer binnegekom het, bevele afgewag het solank as my lewe in die weegskaal
gehang het. Die doodsengel het langs my
sterfbed gewag, maar het eers weer vertrek toe ek na die aardse lewe begin
terugkeer het.
Die Satan het homself as ‘n vors,
geklee in wapenrusting van kop toe voet, voorgedoen. Met ‘n aaklige demoniese stem het die Satan
aan my die vraag gestel: “Is jy dan nie
bang vir my nie? Ek is ‘n vors.” Daarop het ek alhoewel swak en geteister,
geantwoord: “Ja, jy is ‘n vors van die
duisternis, maar nie vors van die lig nie.”
Die duiwel is pikswart, en sy bestaan is net so ‘n werklikheid as die
bestaan van GOD self. Al wat sonde is
kom van die Satan. Hy, die satan is die
oorsprong en die aanhitser en aanblaser van alle sonde.
Hier in die dal van die
doodskaduwee het my gees afgemat geraak in die stryd teen die bose. Die bose het met elke lis en bedreiging gekom
om my arme siel aan te val. Hy het getrag
om my tot wanhoop te lei, deur die grootheid van my sondeskuld vir my aan te
toon. Hy het my probeer wysmaak dat alle
sonde onvergeeflik is. Derhalwe kan daar
geen vergifnis vir enige sonde wees nie.
So het hy ook my arme verwarde siel met vertwyfelinge probeer verontrus,
om deur gruwelike leuenagtigheid my te probeer beïnvloed, dat my persoonlike
aangeleenthede nie in orde was nie, asook dat my eie familie en gemeente teen
my gekant was. Die Satan is die vader
van die leuen, wat die regverdige haat.
Die Satan het vir my vertel dat
die gemeente te Fouriesburg van my ontslae wou raak alhoewel die
teenoorgestelde hiervan eintlik die werklike waarheid was. My gemeente was inteendeel met die innigste
belangstelling en kommer teenoor my vervul en was juis besig om voor te berei
om my geldelik tot hulp te kom. Die
gemeente het die werklike belangstelling getoon, deur twee kerkraadslede af te
vaardig om my te kom besoek toe ek later beter was.
Ek is oortuig daarvan dat ons te
min die mag van bose in ag neem, want dis ‘n mag waarmee ons terdeë rekening
moet hou. Die Satan is ‘n listige vyand,
wat die fynste bedrog aanwend om die siel te onthuts en onrustig te maak. So het hy keer op keer teenoor my opgemerk
dat ek ‘n predikant is wat op my rug lê en my gemeente verwaarloos, vet is en
net gedurig eet, terwyl ek byna niks kon geniet nie en feitlik net ‘n geraamte
was.
Die duiwel het aan my getoon dat
hy ‘n spotter by uitnemendheid is, soos blyk uit die volgende wat hy aan my
gesê het: “Kyk hoe naar en aaklig lyk
jy, waarom maak jy nie ‘n einde aan die ellende nie? Kyk net, hier lê die predikant op die naat
van sy rug en bid, en is dit nou die houding wat hy voor sy GOD moet
inneem.” Hierdie woorde het my baie
verontrus, totdat ek die soete stem van een van my ontslape teologiese
professore gehoor het wat sê: “Michiel,
kniel maar voor uw GOD in de geest.”
Hierna het my siel tot rus en
kalmte gekom. Ek het ook aangeneem dat
die Duiwel ‘n verskriklike lasteraar is.
Hy laster teen die Heilige Gees en al die vloekwoorde wat al ooit op die
aarde gehoor is, kom gedurig oor sy lippe.
Die Satan is ook ‘n uitnemende nabootser, wat alles so volmaak en
netjies naboots dat hy uitstekend daartoe in staat is om arme siele verkeerd te
dwing en te verlei. So boots hy die stem
van die mens na, sodat die siel nie agterkom dat dit in werklikheid die stem
van die Satan is nie. Maar ook is hy ‘n
groot lafaard. Alhoewel hy steeds die mens bedrieg en trag dat die
siel tot ‘n val moet kom, is hy ‘n oorwonne vyand. Vir argumente vlug hy nie, en verlustig hom
daarin om met die mens te redeneer. Slegs
as hy die naam van die Here Jesus hoor, dan vlug hy.
Dit was dan ook my ondervinding
dat my siel alleen veiligheid in Jesus Christus kon ondervind. Terwyl
ek moeg en afgemat was as gevolg van die aanvalle van die Satan en sy
handlangers in die dal van die skaduwee van die dood, het ek na die Here om
uitredding en verlossing gesug. Hierna
het vyf engele blinkend, in wit geklee, by my verbygekom en een van hulle het
die volgende woorde tot my gerig: “Vrees
nie, want hy (satan) kan die gesalfde van die Here nie aanraak nie.” Hierna het daar groot stilte en rus in my
swaarbeproefde siel gekom en die donkerheid van die skaduwees van die dood het
van my gewyk.
HOOFSTUK 6
DIE TWEE WEË
Die dal van die skaduwee van die dood was
verskriklik donker, maar dit was nog nie die donkerheid van die dood self
nie. Die dood lei of na die Ewige Dood
of na die Ewige Lewe. Die Ewige Dood is
vir die siel wat sonder Christus Jesus die dood binnegaan, bestem, maar die
Ewige Lig breek vir hierdie siel nooit aan nie.
Daar op die grense van die
ewigheid kon ek sien hoedat die Ewige Dood van diepte tot diepte lei, asook van
donkerheid tot donkerheid, van ellende tot ellende altyd weg van GOD tot in die
buitenste duisternis.
Nie alleen het ek ‘n gesig gehad
van die weg na die Ewige Dood nie, maar ook van die weg na die Ewige Lewe. Hierdie weg gaan deur die dal van
doodskaduwee, maar die lig breek stadig aan, en dit word al ligter en ligter en
al heerliker en heerliker tot die teenwoordigheid van Christus self en nog hoër
op van heerlikheid tot heerlikheid tot voor die troon van GOD self.
Die oordeel van GOD is oor die
ganse aarde, maar dit is waaragtig en regverdig. Die oordeel van GOD is baie suiwer en
deurtastend. Tot in die fynste
besonderhede word die mens ondersoek voordat die oordeel plaasvind. Die mens redeneer en probeer onder alle
omstandighede om ‘n uitweg toe soek, maar hoe meer hy probeer om sy onskuld te
bewys, hoe skuldiger word hy. Alles wat
ek van die oordeel ondervind het, was ‘n bevestiging van die Woord van GOD,
want as iemand die Here verwerp en Sy woorde nie aanneem nie, sal dit hom
oordeel in die laaste dag.
Al ons gedagtes, woorde en dade
word nie alleen opgeteken in ons brein nie, maar ook in die Gedenkboek van GOD,
dit is in die Boek van die Lewe van die Lam.
Die name van verlostes word ook in hierdie boek opgeteken, maar meer as
een se naam was nie daar te vind nie en sal nie daar gevind word nie. Alles is op ‘n natuurlike en eenvoudige wyse
opgeteken. In hierdie boek word die geslagsregister
van die natuurlike geboorte van die mense kinders gevind, maar daar is egter
ook die geslagsregister van die wat in die Ryk van GOD se genade gebore is.
Dit is treffend om te weet dat
die mense deur sy eie gewete geoordeel word.
Alles wat ons vergeet het, word weer helder voor die gees deur ons gewete gebring. As die gewete spreek, dan moet ons swyg, want
die gewete praat helder en beslis in die oordeel van die mens. Die gewete het al my gedagtes en woorde weer
voor die gees geroep.
Wat egter baie vreeslik by die
oordeel is, is die ontdekking dat die duiwel self die aanklaer van die arme
siel is. Die Satan verheug hom daarin om
die lang swart register van sonde van die sielsoog op te hang, en die siel dan
by GOD aan te kla. Die siel wat gevonnis
moet word, se naam word duidelik net soos in ‘n aardse geregshof, aangegee.
So het ek verskillende persone uit my gemeente, se name hoor noem, en met hulle oordeel is toe ‘n aanvang
geneem.
Toe ek enige maande daarna weer
terug was in die gemeente, was dit my droewige plig om vyf persone wie se name
genoem was, te begrawe, een na die ander in dieselfde volgorde wat dit aan my
genoem is. dit was vir my ‘n skokkende
ondervinding om die oordeel van die Here oor sovele wat hy hier op aarde geken
het, te verneem.
Gedurende die tydperk wat ek in
die hospitaal was is honderde reeds veroordeel.
Dit het vir my voorgekom asof daar mense is, wat nog onder ons verkeer
en wandel wat alreeds geoordeel is.
hulle is alreeds deur die vinger van die dood gemerk, want die genadetyd
is vir meer as een hier op aarde reeds verby.
Dit was my ondervinding in verband met die oordeel.
Die siel van die mens geniet na
die skeiding van die liggaam aanvanklik die ewige geluksaligheid of die ewige
rampsaligheid. Die ewige geluksaligheid
of rampsaligheid sal tot volmaaktheid kom wanneer die siel en liggaam in die
grote opstandingsdag herenig sal word.
Die wat buite Christus gesterf het, sal kennis maak met die
rampsaligheid en sal die liggaam van die Ewige Dood deelagtig word.
Diegene wat in Christus gesterf het sal deel
in Sy opstanding en sal siel en liggaam opstaan om saam met Christus in die
Hemel verheerlik te word.
Omdat die gelowiges al meer
Christus se heerlikheid deelagtig sal word, word diegene wat sonder Hom geleef
het, al meer en meer die Satan gelykvormig.
By die eindoordeel sal die
opstanding van elkeen plaasvind, asook die skeiding tussen die skape en die
bokke. Dan sal die vonnis wat reeds by
die dood gevel is, voltrek word.
HOOFSTUK 7
DIE DRIE-EENHEID VAN GOD.
Die vraag het al dikwels by my
ontstaan hoe dit aan ‘n arme mense toegelaat kan word om oor die Drie-eenheid
van GOD te praat, asook om daaroor te skryf.
Tog wil ek graag die openbaring van die leer van die Drie-eenheid wat ek
van die Opperwese ontvang het, probeer weergee tot hulp van andere wat moontlik
daaroor wonder.
Toe die twee weë aan my getoon is
naamlik die een wat lei van Donkerheid tot Donkerheid, en van diepte tot
diepte, die weg van die Ewige Dood, en die ander wat lei van Heerlikheid tot
Heerlikheid, van hoogte tot hoogte, die weg na die Ewige Lewe, het dit vir my
duidelik geword, dat die weg van die lewe tot by die Troon van GOD lei.
Hierdie gesig, wat in ‘n oogwenk
aan my getoon is, was vir my genoeg.
Duidelik het ek die uitroep “God bewoon ‘n ontoeganklike lig – dit is
die derde Hemel” gehoor. Ons mense
kinders het met ‘n allerheiligste wese te doen.
GOD, die Vader is die eerste persoon van die goddelike Drie-eenheid, uit
wie, deur wie en tot wie alle dinge is.
Die lied van die Engele wat hulle
aangesigte steeds vir die heiligheid van GOD bedek het, weerklink nog gedurig
in my hart en ore. “Heilig, heilig,
heilig is die Heer van die leërskare.”
Die heerlikheid wat uit die Troon van GOD voortspruit is oorweldigend
vir die siel van die mens. Wee die siel
wat GOD loën en in die teenwoordigheid van God te staan moet kom. Menslike taal is so onmagtig om die ewigheid
te beskryf, maar wat GOD se Woord ons vertel omtrent GOD self, is die volle
waarheid.
Ek het ook ‘n gesig van Jesus
Christus, die eniggebore Seun van GOD, gehad.
Hierdie ontmoeting was maar van baie korte duur, maar die indruk wat dit
op my gemaak het, sal my tot in alle ewigheid bybly. Ek het Hom met my sielsoog gesien “Staande
soos ‘n Lam geslag met die doringkroon op Sy Hoof.” Wat my siel veral getref
het was die tere ontfermende liefde wat uit Sy oë gestraal het, indien die sondaar, hoe hard ook van hart, en
hoe ver ook afgedwaal van die spore van geregtigheid en genade, ‘n blik van Sy
oog gewaar kon word, sou hy vir ewig met die sonde breek.
Dit het vir my baie duidelik
geword dat die Heiland die Seun van GOD, nou aan die regterhand van GOD die
Vader is. nog nooit het die waarheid van
Christus se middelaarskap vir my so heerlik en so werklik geword as toe ek Hom
werklik kon hoor intree as Middelaar en Hoëpriester by GOD die Vader nie.
Hoe dikwels het ek al verlang dat
die onbekeerde kon hoor hoe die Heiland by GOD die Vader vir verloregaandes om genade smeek. Die Seun van GOD toon steeds aan GOD die
Vader die ope wonde in Sy hoof, hande, Sy voete en in Sy sy. Hy het vir vele in my gemeente gepleit. Ek het ook die name van ‘n paar van my
gemeentelede gehoor hoedat Jesus Sy Vader vra om hulle tog nie in hulle
onversoenbare toestand weg te neem nie maar hulle om Sy ontwil nog ‘n
geleentheid te gee.
Dit is die werk van Jesus
Christus as Seun van GOD om aan die regterhand van GOD vir die sondaar te
pleit. Jesus Christus is die tweede
persoon in die Drie-eenheid en Sy werk duur voort totdat die Middelaar òf
Advokaat Regter sal word en die Lam nie meer as Middelaar tussen GOD en die
mens sal staan nie. Ek het onder die
indruk gekom van die middelaarskap van Jesus Christus.
Wat ook vir my baie duidelik
geword het, is dat Jesus die groot Hoëpriester as die Middelaar aan die
Regterhand van GOD ook bid en pleit vir die gelowige kinders van die Here. Hy sien die moeilikhede die bekommernisse en
die trane van Sy kinders hier op aarde.
Hy verneem selfs hulle onuitgesproke versugtinge en Hy as voorspraak
bring al die versoeke van Sy kinders, geheilig voor GOD se aangesig. Hy het tog so duidelik in Sy Woord gesê
“Niemand kom tot die Vader behalwe deur My nie” en ook “Ek is die Weg en die
Waarheid en die Lewe.”
Ek kon hoor hoe daar ernstig vir
siele gebid word, want daar gaan gedurig ‘n stroom van gebede op na die Hemel,
die vaste woonplek van GOD vir die verlossing van diegene wat nog nie verlos is
nie.
Dit het ek alles ervaar en ook
hoedat daar vir my voorbidding gedoen is deur Christus wat die Tweede Persoon
in die Goddelike Drie-eenheid is, ons Voorspraak asook ons Hoëpriester by GOD
die Vader.
Die Heilige Gees, die Derde
Persoon in die Goddelike Drie-eenheid is ook aan my in Sy werksaamheid
geopenbaar naamlik dat die Heilige Gees ons leer, maar ook onderskei tussen die
waarheid en die dwaling. Ek het
ondervind dat wanneer die Satan met sy leuen en dwaling probeer het om my van
Jesus af weg te lei, dan was dit die Heilige Gees wat my weer op die spoor van
die waarheid gebring het.
HOOFSTUK 8
DIE GEBED.
As daar iets is in die lewe van
die mens op aarde wat so dikwels gebruik word en nogtans so min verstaan word
dan is dit die gebed. Ek wil nie iets
nuuts bydra tot die verklaring van die gebed en voorbidding nie, maar vertel
van my ondervindings sodat dit tot die voordeel van ander kan strek. Nog nooit vantevore het dit vir my so ‘n
werklikheid geword, dat die gebed ‘n omgang met die Here Jesus en GOD die Vader
in die Gees is nie, want die Gees soos die Skrif ons leer tree vir ons in met
onuitspreeklike sugtinge. Netsoos die
een mens omgaan met die ander deur die woord van die mond en deur die geskrewe
woord, so is daar gemeenskap tussen die Here en die mens in die Gees.
Eers het ek gedink dat ek hard
moes praat om gehoor te word en ek het dit ook gedoen. Later het ek egter ondervind dat elke
gedagte, wat ek selfs maar net gedink het in die Hemel weerklank gevind
het. En wat vir my so wonderlik is, is
dat almal in die Hemel weet wat ons hier op aarde dink en doen, want van die
Hemel na die aarde is daar geen skeidsmure van tyd en ruimte nie.
Ek is self getuie van die
verhoring van gebede van gelowiges vir myself.
Niks anders behalwe die verhoring van die gebed deur GOD die Vader self
kon my help nie. Duidelik kon ek die
gebede wat vir my orals opgestuur is, hoor.
Ek het duidelik verneem hoedat my eggenote vir my pleit omdat haar gees
by die Here was. Dieselfde het met my
moeder, susters en broers gebeur.
Ernstige voorbidding het vir my
in die Sendinggemeente van Fouriesburg begin.
Die ou Kategeet Jakob, wat nou
ook al rus van die stryd van die arbeid van die aardse lewe, het sy kring van
arbeiders bymekaar geroep en hulle het vir my ernstig by die troon van GOD
ingetree. Duidelik kon ek hoor hoe Jakob
en sy mede arbeiders in die Here vir my pleit.
Daardie gebede wat so ernstig opgestuur was, was welbehaaglik in die oor
van GOD en is verhoor.
Ook in my eie gemeente is daar
vir my gebid. Ek het die ernstige gebede
gehoor. Veral die bewende stem van ‘n
Godsalige ou moeder was gedurig voor die troon van die Here. Orals het daar smeekgebede vir my herstel
opgegaan. Sommige van die gebede was
baie ernstig vir my, in die binnekamer deur my broers in die Evangeliebediening en intieme vriende,
gedoen.
Wat vir my baie aandoenlik was,
was die ketting van gebede wat ek gehoor het.
Die een gebed het sigself by die ander aangesluit. Toe het ek agtergekom dat daar vir my op
spesiale versoek van die toenmalige assessor van die Kaapse Sinode deur die
Sinode vir my ernstig voorbidding gedoen is.
Die treurige waarheid het vir my
baie duidelik geword dat alle gebede nie tot die troon van GOD deurgedring het
nie. Daar was die donderende gedreun van
die misnoeë van GOD by die aanhoor van sommige gebede ook onder die gebede wat
vir my opgestuur was. Daar was gebede
wat om verskillende redes nooit tot die Vader deurgegaan het nie. Ek het gehoor dat daar deur persone vir my
gebid is, maar dat daar deur die Satan en sy handlangers so ‘n geraas gemaak
is, dat ek byna niks kon hoor nie.
Toe ek gevra het, waarom sekere
gebede geen krag gehad het nie, het die antwoord van die Satan gekom, dat
daardie persoon aan ‘n sekere sonde skuldig is, en daarom kan sy gebed nie
verhoor word nie. Vir my het dit baie
duidelik geword, dat as ons die vermaning ontvang het om elke bewuste sonde in
ons lewe te laat vaar, en ons doen dit nog, dit al te seker ‘n skeiding tussen
ons siel en GOD bring. ‘n Ander oorsaak
wat die verhoring van ons gebede belemmer, is dat ons nie eintlik belangstel
waaroor ons bid nie. Ek het ondervind
dat baie persone meer net uit gewoonte bid.
Wanneer ons ernstig pleit en bid deur die Here Jesus tot GOD die Vader,
sal ons gebede sekerlik verhoor word.
HOOFSTUK 9
DIE HEL.
Daar was ‘n tyd in my lewe dat ek
selfs as evangeliedienaar die gedagte gekoester het, dat die Hel as ‘n ewige
straf vir die mens, nie so ernstig opgeneem moes word nie. Daar op die grense van die ewigheid, is die
waarheid van ons vreeslike verdoemenis, soos gevind in GOD se Woord, duidelik
aan my bevestig en het ek tot die ontnugtering gekom dat die Hel ‘n werklikheid
is. Voor my siekte het ek nooit enige
boek oor die Hel gelees nie. Die
“Letters from Hell” van De Quincey en”Inferno” van Dante was hoegenaamd nie aan
my bekend nie. Na my herstel is verskeie
boeke wat oor die Hel handel my aangebied, maar ek het volstandig geweier om
dit te lees, want ek wou nie aan die oorspronklikheid van my ondervinding
afbreuk doen nie.
Wat vir my baie duidelik geword
het is dat die Hel nie net ‘n toestand, maar ook in werklikheid ‘n plek
is. Die plek is onder en gaan van diepte
tot diepte. Hierdie plek bestaan uit
verskillende stadia van ellende en duisternis is nou en eng en het weinig
ruimte. Dikwels het ek die Duiwel hoor
sê dat hy hom agter die poorte sal inbring en daar sal hy nooit weer uitkom
nie. Ek het ondervinding gehad om
hierdie poorte ook te sien.
Aan my is al gevra of die
Verdoemenis ‘n materiële vuur is. Die
vuur van die Hel is in hoofsaak egter geestelik van aard. Geen aardse vuur het ooit so gegloei nie en
die grootste vuur wat ooit op aarde gebrand het en sal brand is maar baie flou
in vergelyking met hierdie vuur. Dit is
‘n vuur wat binne en buite brand.
Daar word gedurig gekerm en gekla
en nooit is daar een oomblik van rus nie, want aanhoudend word daar gewoel,
verwyt en getwis, omdat die goddelose geen vrede besit nie.
Ten spyte van die vuur wat brand
verkeer die wat verlore is in die buitenste duisternis. Aan diegene wat verlore gegaan het word soms
die geleentheid gegee om te sien watter heerlikheid hulle verloor het. Daar is geen oomblik van rus in die Hel nie.
HOOFSTUK 10
DIE HEMEL.
Ek het verneem en ervaar dat die
Hemel ‘n werklikheid is en dat ons hier op aarde maar net in die skaduwee van
die ewige lewe. Ek het die indruk gekry
dat die hemel baie ruim is en dat daar geen bedruktheid of bekommernis bestaan
nie. Die Hemelse lug word vry deur die
gees van die mens ingeasem. Die lug is
nie swaar nie en druk nie neer soos die lug op die aarde nie, maar dit is asof
alles in die lug sweef. Die lig van die
Hemel is nie van die son of maan of sterre nie, maar dit is die afskynsel van
die heerlikheid van Christus self.
Ek het gesien dat die Hemel in
vier groot dele verdeel is, want boodskappers kom gedurig uit die Noorde,
Suide, Ooste en Weste aan. Die Engele
van GOD bring gedurig berigte van die aarde na die Hemel. Belangstelling, maar geen bekommernis word in
die Hemel gevind nie.
Alhoewel daar baie bedrywigheid
in die Hemel is, gaan dit egter gepaard met die nodige ordelikheid en
stilte. Die verlostes dra elke ‘n wit
kleed op ‘n eerbare wyse en die naaktheid en onordelikheid van die Hel word
daar nie gevind nie.
Die Hemelse musiek was lieflik om
na te luister. Rondom die mure van die
Hemelstad was daar die soet klanke van ‘n Koor wat gedurig sing: “Hier sal niks inkom wat verontreinig en
gruwelik is en leuens doen nie, maar net die wat verlos is en wie se name in
die Boek van die Lewe van die Lam geskrywe is”.
Ook het daar gedurig ‘n lieflike refrein in my ore en hart soos volg
weerklink: “Vir ewig en vir ewig.”
Dit was uiters aangenaam om na
die gesprekke van die geluksaliges te luister.
Hier praat ‘n moeder met haar dogter oor die spoedige aankoms van die
vader; daar loop weer twee dienaars van
GOD, wat in die soete geselskap met mekaar die onderwerp: “Die Heer van die Hemel en Sy wil” bespreek.
In die Hemel is daar skone berge
en waterstrome. Daar teen ‘n pragtige
berghang het ‘n moeder gestaan en wag en wag – verlangend gewag op die aankoms
van ‘n geliefde dogter verlos deur die Bloed van die Lam, wat spoedig van die
aarde by haar sou aansluit – om vir ewig met haar verenig te wees en nooit weer
te skei nie.
‘n Skare kinders het ongedeerd en
veilig op die goue strate van die Hemel rondgespeel. Die Hemel is vol kinders wie gedurig die lof
van die Here Jesus sing. Die vraag is
meermale, deur diegene wat dierbares deur die dood afgegee het, aan my gestel,
of die oorledenes enige kennis dra van die lewensomstandighede van hulle
dierbares wat nog op die aarde is. My
beskeie antwoord hierop is dat hierdie afgestorwe dierbares soms vergunning van
die Here ontvang om met diegene wat nog op die aarde is in aanraking te
kom. Ook word deur die Here toestemming
verleen om laasgenoemde te vertroos en te bemoedig.
Terwyl ek so tussen lewe en dood
verkeer het kon ek die stemme van my dierbares duidelik hoor: “Mikie, my kind, kom ons wag vir jou” het ek
duidelik die stem van my vader verneem.
Ander het weer geroep: “Kom broer
Mikie, kom!”
Ek het altyd gehoor dat die Hemel
‘n plek van rus is, maar dit is egter nie die geval nie. Daar word geestelike werk gedoen. Die Engele dra gedurig bevele van die Here
Jesus Christus aan die hemelinge oor.
Die Engele is Sy boodskappers.
In die Hemel is daar ‘n
wonderlike Sendinggesig aan my getoon.
‘n Groot skare verlostes uit die heidendom was daar bymekaar, wat die
glans van heerlikheid op hulle aangesigte gehad het, maar ook tekens van
onkunde openbaar het. Daar was ‘n
verlangende begeerte in hulle oë te bespeur, wagtende op iets. “Waarvoor wag hulle?” het ek gevra. Die antwoord was dat hulle gewag het op die
sendelinge om hulle geestelik te bearbei.
Elders het ek gesien dat daar ‘n
ander groep bymekaar was besig om te leer.
Toe die woordvoerder sy gesig na my kant toe gedraai het, het ek gesien
dat dit iemand is wie ek op aarde geken het, ‘n Sendeling Grobbelaar. “En wat doen hy dan hier?” wou ek weet.
“Hy doen die werk van Christus”, was die antwoord. “Hy is ‘n gesant van die Kruis ook hier in
die Hemel, om die verlostes in Christus te onderrig en op te bou.” Dit is duidelik dat geestelike werk nie slegs
tot die aarde beperk is nie, maar in die hiernamaals voortgesit word.
Onder diegene wat alreeds in die
Hemel was en gewag het om my te verwelkom was ‘n ou Basoetoevrou, Maria. “Dag Moruti, ee Morena!” het sy gegroet. “Maar wie is dit dan?” het ek gevra. “Moruti
jy ken nie vir aia Maria nie? Sy is by
Jesus in die Hemel.”
Toe onthou ek. Sy het na my in die Vrystaat gekom en gesê: “Moruti jy moet my doop. Ek het baie jare gelede by baas Andrew Murray
tot bekering gekom, maar my man was ‘n heiden.
Hy wou nie hê ek moet die Here dien nie, maar nou is hy dood.”
In die midde van die
Sendinggemeente het ek vir Maria toe gedoop.
Toe het sy gesê: “Ek gaan Hemel
toe om by Jesus te wees.” En sy het gegaan. Nou het ek weer haar stem verneem. “Ou Maria is by Jesus in die hemel!” O, wat ‘n heerlike troos.
HOOFSTUK 11
TERUG IN DIE LEWE.
Vir ‘n geruime tyd na hierdie
ondervindings was ek so swak dat ek nie oor hierdie aangeleenthede kon praat
nie. Telkens het ek aan my eggenote
meegedeel wat gebeur het, hoe ek gesien en gehoor het wat hier op die aarde en
in die hiernamaals plaasvind. Sy het my
met verbasing aangehoor en sy het alles bevestig, wat ek haar meegedeel het. Op aandrang van my eggenote en susters in die
gemeente van Uitenhage is ek gevra om meer daarvan te vertel. So het meer en meer die vrymoedigheid in my ontwikkel om oor hierdie openbaringe te
praat, veral waar ek ander tot troos kan wees.
Terwyl ek maande lank hulpeloos
gesig en wag het op die Here se hand, vir my algehele herstel, was dit vir my
‘n vreugde om elke dag deur vele vriende en diensknegte van die Here besoek te
word. Hulle het belangstelling getoon om
te kom verneem wat vir ons na hierdie lewe wag.
Gedurende hierdie tyd het ek nog nie die vrymoedigheid gehad om hiervan
in die openbaar mee te deel nie.
Die Here het egter in Sy
wonderbare liefde my weer op Sy tyd na my gemeente teruggebring. Ook het ek my kragte weer ook van die
Almagtige GOD genadiglik terugontvang.
Drie maande nadat ek in die Provinsiale Hospitaal te Port Elizabeth
opgeneem is, is ek op 11 Februarie 1920 weer daaruit ontslaan, tot groot
verbasing van geneeshere, familiebetrekkinge en vriende.
Hierna het ek die voorreg gehad
om met vele dienaars van GOD gedagtes oor hierdie ondervindings te wissel. Vir hierdie leraars was dit tot groot troos
en bemoediging. Veral deur bemiddeling
van Ds. C.W. Retief van Paul Roux, wie gedurende my krankheid, konsulent aan my
gemeente te Fouriesburg was, is ek deur die leraars van die Oostelike Ring
gevra om dit tydens die Ringsitting te Paul Roux in 1921 mee te deel. Ek het daartoe onder Sy leiding ingewillig en
wat ek meegedeel het, is baie gunstig ontvang deur diegene wat daar teenwoordig
was.
Al die leraars wat daar was het
daarna geluister naamlik Di. C. F. Kies van Harrismith, C.A. van der Merwe en
Bethlehem, J.P. van der Walt van Frankfort, M. Smuts van Lindley, H.J. Reyneke
van Vrede, J.P. van der Spuy van Reitz, F.J.P. Smit van Kestell, C.W. Retief
van Paul Roux, F. Van der Merwe van Concordia, S.J. Stander van Clarens en J.S.
Krige, hulpprediker te Bethlehem. Ook
was die volgende by hierdie geleentheid teenwoordig: Mevv. Retief, Stander en de Kock (my
eggenote). Almal teenwoordig het
saamgestem dat hierdie ondervindings te boek gestel sou word.
Die eerste keer dat ek die
voorreg kon geniet het om hierdie ondervindings in die openbaar mee te deel was
tydens die viering van die Heilige Avondmaal te Steynsrust op die 9de Oktober
1921. Hierna het vele uitnodigings na
vele gemeentes in die Vrystaatse Kerk gevolg.
Tot dusver het ek al om die 200
gemeentes, in Kaapland, Rhodesië, Transvaal, Natal die Vrystaat en Suidwes
Afrika besoek en ek dank die Here dat Hy my in so ‘n mate herstel het en kragte
gegee het om hierdie ondervindings tot dusver aan sovele te kon meedeel.
HOOFSTUK 12
SLOTWOORD
Deur
Ds. M.J. de Kock. B.A., H.O.D., B.Ed, V.D.M., Interm Orrel
diploma
Graag wens ek u as my vader se
derde oudste kind en jongste seun in die gesin ‘n paar persoonlike besonderhede
mee te deel. Ek dank die Here vir
hierdie wonderlike voorreg wat Hy aan my geskenk het om dit nog te kan
doen. My vader, Ds. M.J. de Kock, is te
Prins Albert op die 25ste Desember 1879 gebore, waar my oupa Servaas de Kock,
destyds onderwyser was. Na sy
skoolopleiding het hy te Prins Albert ‘n betrekking as klerk by die
landdroskantoor aanvaar waar hy twee jaar in diens was. Daarna het my vader ‘n betrekking in die
Staatsdiens vir R1600 (800 pond) per jaar, van die hand gewys omdat die Here
hom vir Sy werk in Sy bediening geroep het.
Nadat hy beide in die B.A. graad
sowel as sy propenentseksamen met onderskeiding geslaag het, is hy in 1906 as
leraar van die N.G. Kerk in Suid-Afrika gelegitimeer.
In die jaar 1909 is hy na
Fouriesburg en tien jaar daarna terwyl hy met my moeder, Joey, my oudste suster en
Servaas, my oudste broer te Port Elizabeth gaan vakansie hou, waar hy siek
geword het en gevolglik hospitaal toe moes gaan en hierdie ondervindings
opgedoen het.
Na die herstel van sy siekte, het
hy nog tot die jaar 1920 die gemeente te
Fouriesburg bedien. Toe ek drie
jaar oud was en my jongste suster Margie twee jaar oud was, het ons na
Riebeekkasteel verhuis, waar my vader nog 21 jaar in die bediening gestaan
het. Gedurende hierdie tyd was hy
voorsitter van die skoolraad van Malmesbury, voorsitter van die Kuratorium van
die Sending Instituut te Wellington. Ook
op talle ander Kommissies van die Kerk het hy diens gedoen.
Waar voorspel is tydens die begin
van sy siekte, dat hy nooit weer homself sal wees nie, het GOD hom met Sy
magtige hand aangeraak, hom weer opgewek en kon hy vir meer as 40 jaar nog in
diens staan van Sy Heer en Meester, asook die vader en oupa word van nog
kinders en kleinkinders.
Eienaardig en treffend is dit om
te weet dat my vader gebore is op Kersfees, die dag wanneer die Here Jesus, ons
Saligmaker se geboortedag herdenk word, dat hy op die 25ste Desember sy
verlowing aangekondig het, met my moeder Jacomina Louisa Josina Muller en dat
hy op die 25ste Desember met haar getroud is.
Meer treffend is die feit dat
nadat hy op die 19de Mei 1964 tot hy nog opgestaan het, sy motor uit die garage
getrek het, en my moeder nog sou dorp toe neem, hy inmekaar gesak het en die
tyd met die ewigheid verwissel het sonder enige langdurige siekbed. Die treffendste en wonderbaarlikste van alles
is dat my dierbare vader wat vir ons altyd ‘n voorbeeld in alles was en vir ons
altyd getrou die weg na die Hemel aangewys het ter aarde bestel is op die 50ste
verjaarsdag van sy oudste en geliefde dogter Johanna Petronella Smit (geb. De
Kock).
Hierdie ter aarde bestelling het plaasgevind in die
kerkhof by die N.G. Kerk te Wellington, waar Dr. Andrew Murray ook begrawe
is. Beide my ouers het alreeds heengegaan,
my moeder ‘n paar jaar later en hulle graf is net agter die van Minister C.W.
Malan, destyds minister van spoorweë. Ek
kon nog goed onthou dat ek self die begrafnisdiens bygewoon het, wat my vader
ter ere van sy vriend Minister Charlie Malan gehou het.
Ek dank die Here vir sulke
voorbeeldige en geseënde ouers. Al ons
kinders en kleinkinders, almal nog in die lewe, het die voorreg nog geniet om
hulle goue bruilof in die Stadsaal van Riebeekkasteel te kon bywoon. Kort hierna is die aardse gesinsverbande
verbreek deur die afsterwe van beide my dierbare ouers kort na mekaar.
Ek glo dat die Hemel, die plek
waarna hulle verlang het, vir hulle toeberei was. Ek glo ook dat die Here vir hulle daarheen
tot hoër diens geroep het waar hulle vir ewig by die Here is.
My vertroue is ook in die Here
Jesus Christus dat my broers en susters in die vlees asook in die gees en
ekself en my huisgesin hulle weer sal sien as ons ook in die Here Jesus
Christus sterf. Hierdie woorde skrywe ek
met ‘n onbeskryflike verlange in my hart na Jesus Christus my persoonlike
vriend en Saligmaker en my dierbare ouers wat al na hulle Vader se baie woninge
verhuis het.
Liewe medegelowige, broer en
suster in die Here, ek wil u versoek om u weer opnuut aan die Here toe te wy
veral daar u nou hierdie boodskap van die Here self gelees het. Ek vra u om dit as ‘n getuienis vir die
Christene te gebruik sodat hulle in hulle geloof versterk kan word, ook as ‘n
getuienis vir die sondige wêreld wat nog nie glo nie.
Aan u wat nie glo of nog onverskillig
is moenie wag totdat dit te laat is nie.
Nadat jy die volgende gelees het,
kan jy jou oë sluit en bid dat die Here vir jou genadig moet wees. Jes. 1:18 “Kom nou en laat ons die saak
uitmaak sê die Here; al was julle sondes
soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu;
al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol”. Moenie wag totdat dit te laat is nie, want
jou genadetyd gaan hier op aarde alreeds verby.
Besluit nou want dit is ‘n belangrike aangeleentheid. Hierdie beslissing gaan jou lewe sekerlik
verander, nie net alleen hier op aarde nie, maar ook vir die ewigheid.
Aanvaar dus die wonderlike
redding van sonde wat Jesus Christus vir ons deur Sy offer aan die kruis
gewillig is om weg te neem, want Hy is volgens Heb.9:15 Middelaar van ‘n Nuwe
Testament wie vir ons gesterf het, sodat u en ek die belofte van die ewige
erfenis – die ewige heerlikheid van die Hemel – kan ontvang.
Mag die Here met u almal deur Sy
genade wees en versterk op die weg na die Ewigheid.
Amen.
(Kopiereg voorbehou.)
Johannes baie dankie! Hier le so n mooi getuienis vir ons- hoeveel van ons praat "God" maar is Hy WERKLIK? SKEPPER? ALMAGTIGE EN REDDER ens? Ons moet ons kinders van kleins af weer hierdie waarhede en oproep tot n verantwoordelike lewe neerle om skoon en suiwer voor Sy aangesig te lewe en ook Hom te vrees as Regter! Dit geld ook vir elkeen van ons om daaroor na te dink!
AntwoordVee uitHierdie getuienis is rede om opnuut weer verkondig te word!
Jes. 1:18 “Kom nou en laat ons die saak uitmaak sê die Here; al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol”.
AntwoordVee uitWonderlike getuienis. Waar kan ek die boekie bekom asseblief. Ursula Celliers. 083 229 7695
AntwoordVee uit