BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sondige verlede. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sondige verlede. Wys alle plasings

Dinsdag 16 April 2013

MOET EK MYSELF VERGEWE

 - in die lig van die Bybelse lering oor vergifnis? 



So dikwels hoor mens : “Ek weet God het my vergewe, maar ek sukkel nog om myself te vergewe.” Dit klink vroom en word seker baie opreg bedoel, maar is dit hoegenaamd nodig om onsself te vergewe? Verwag God so iets van my? 


Die kwessie van selfvergifnis is natuurlik nie net beperk tot Christene nie. Orals in die sekulêre wêreld word die waarde van selfvergifnis aangeprys en raad hieroor is net so volop soos vlooie op ‘n krimpvarkie. ‘n Vinnige kykie op die internet bevestig dit. Die Huffington Post bied ‘n oplossing in “10 Steps to Forgiving Yourself” terwyl wikiHow meen nege stappe is blykbaar genoeg in “How to Forgive Yourself : 9 Steps (with pictures!!!)”. Almal wil help met hierdie saak, selfs oorvriendelike Oprah (nie juis ‘n bron van waarheid nie) op wie se webwerf jy “Time-tested rituals to help you find courage to forgive yourself” kan vind. 

Kom ons stel dit sommer reg hier van die begin af : 

Jy kan jouself nie vergewe nie en jy hoef ook nie! 

Jy kan jouself nie vergewe nie, want net God kan sondes vergewe. In Markus 2:5 het Jesus die ystervark in die skrifgeleerdes se ballonfabriek losgelaat toe hy vir die verlamde man gesê het : "Vriend, jou sondes word vergewe!" Waarom het hierdie uitspraak van Jesus soveel woeling en verontwaardiging veroorsaak? Die skrifgeleerdes het tereg geweet : Net God kan sondes vergewe! Die ontstoke skrifgeleerdes was dus in beginsel reg om kwaad te word. Hulle het egter fouteer dat hulle nie Jesus as Seun van God wou erken nie! Jesus gaan voort om die verlamde te genees, juis om die radikale punt te bewys, dat Hy, die Seun van die mens die gesag het om op aarde sondes te vergewe. Goddelike gesag! Die volmag om sondes te vergewe bewys juis sy uniekheid as eniggeborene van die Vader. Hierdie gesag is nie iets wat ons vir onsself kan opeis nie. Ons sonde, ja alle sonde, ook dit wat ons medemens benadeel het, is in die eerste plek sonde teen God en net God kan dit vergewe. Dit het Dawid goed besef na sy tragiese owerspel en moord. Hy erken : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë” (Psalm 51:6) 

Jy hoef jouself ook nie te vergewe nie, en God se Woord vra dit ook nêrens van jou nie. Nie as jy jou vertroue op Jesus se versoeningsoffer geplaas het nie. Die kruisiging van Jesus was ‘n verskriklike werklikheidsgebeurtenis, nie maar bloot ‘n skyndrama nie. Daar het God beslissend met die sondes van elke gelowige gehandel. Hy het daarmee afgereken! Romeine 8:3 stel dit so : “Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.” Die implikasie van Jesus se kruisdood vir die vergifnis van (al) ons sondes word pragtig gestel in Kolossense 2:13,14 wat so duidelik van God se kinders sê : “Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys (dokument) met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” My sondige rekord is uitgewis, die dokumente daaroor is vernietig. (Natuurlik, soos iemand dit gestel het, sal die Satan jou probeer herinner aan jou sondes, hy het “photocopies” van daardie dokumente gemaak, maar dit het geen regsgeldigheid nie!) Op grond van Jesus se werk aan die kruis, is die vergifnis wat ons nou in terme van die Nuwe Verbond ontvang, volledig en omvattend. “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie", verseker Hebreërs 8:12 ons. So, geliefde kind van God, wat jou hoop op Jesus stel, waarvoor wil jy jouself nog vir vergewe? Wat is oor om te vergewe? Jou skuld is vir ewig en altyd uitgewis! Wat nodig is van my kant is om net hierdie waarhede te glo! Om triomfantelik saam met Paulus as’t ware uitdagend uit te roep: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” As ek met die saak van vergifnis worstel, as my eie gewete of enigiemand anders my aankla, is die antwoord nie om in my eie onstuimige binneste rond te krap nie, maar om my kop op te tel en na die evangelie feite te kyk soos Paulus hier maak : Jesus het mos gesterf, Hy het mos opgestaan, Hy is mos besig om vir my in te tree. Dis mos kranksinnigheid om iets hierby te wil byvoeg, of hoe? Ja, die evangelie beloftes moet geglo word ten spyte van al die negatiewe feite van skuld en skande waarvan ekself so pynlik bewus is. Reddende geloof is ‘n geloof wat baklei teen die sigbare feite. Soos Abram geglo het in God se beloftes ten spyte van die feite oor sy en Sara se verouderde gedane liggame. Gaan lees maar weer Romeine hoofstuk 4.

En hoe op aarde vergewe mens jouself in elk geval? Wat wil jy doen, sê of voel? Een van die wêreldse raadgewers oor selfvergifnisrituele doen die volgende aan die hand : “Learn how to consciously make a sacrifice in light of your desire for forgiveness. You can do therapeutic work, or have a large network of people for support, but still not feel forgiven. That sort of forgiveness comes from a place of surrender. In all wisdom traditions, it was customary to give some kind of offering, or sacrifice, for atonement. You can create your own sacrifice by asking yourself, "What will be my offering?" It could be philanthropy, political activism—something that requires a sacrifice of your time, money or effort. The key is to consciously make that sacrifice in light of your desire for forgiveness.” 

Watse klomp snert! Dis juis die punt. Jesus het mos die offer gebring. Kan daar ‘n groter offer wees as die lewe van God se Seun? Bogenoemde raad wil mens laat skreeu : “Waarom verwerp julle God se Seun en probeer julle julle eie geregtigheid oprig?” 

As jy sukkel en stoei met ‘n skuldige gewete, as jy voel jy kan jouself nie sien as iemand wat rein en skoon voor God en jou naaste kan staan nie, lê die worteloorsaak by een van twee redes : Of jy het nog nooit die Here Jesus as jou Hoëpriester aanvaar nie en maak dus nog staat op jou eie geregtigheid of jy is nog ernstig onkundig oor die volle betekenis van sy kruis en opstanding, al glo jy in Hom. 

Kom na Jesus, kom hoor weer kinderlik wat sê die Woord oor die bevryding van die gewete : “Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!” (Hebreërs 9:13,14) 

[Daar kan situasies wees, waar ek medemense te na gekom het en die Here dit op my hart lê om met hulle te gaan vrede maak of skade en skuld te gaan vergoed. (soos Saggeus) Die doel daarvan is egter nie om vergifnis te ontvang nie, dit het God my reeds gegee. Die rede daarvoor is om ‘n getuienis te lewer en in konkrete liefde en vrede met my medemens te leef.] 

Allerhande selfvergewingstegnieke kan dalk tydelike sielkundige verligting bring. Die enigste volledige en ewige kwytskelding van my sonde is egter slegs te vind in die volmaak en genoegsame offer van die Lam van God. Hy het my straf ten volle gedra en my sonde sommer ook weggedra! (kliek op LIG UIT LEVITIKUS) Hierdie offer het my Vader tevrede gestel, die bewys daarvan is die opstanding van Jesus uit die dood, die leë graf... as God dan tevrede voel oor hierdie offer, wie is ek om nie te wees nie?

Rus in die genoegsame offer van Jesus en vergeet wat agter jou lê. Hoe anders sou 'n Paulus of 'n Petrus met hulle donker verledes ooit bruikbare en entoesiastiese instrumente in God se hand kon wees?

Gaan leef in die vreugde van die volle vergifnis wat God jou deur Jesus geskenk het en dank Hom met jou lewe!

Dinsdag 01 Januarie 2013

VIR 'N VRUGBARE EN VREUGDEVOLLE 2013


- skud af die greep van die gisters.

Ek het gister weer ‘n bietjie geloer in die welbekende en beminde dagboek, “MY ALLERBESTE VIR SY ALLERHOOGSTE” van Oswald Chambers. Dis so waar wat hy sê in sy stukkie by 31 Desember: “Ons huidige genot van God se genade voel asof dit getemper word deur ons herinnering aan gister se sondes en flaters.”  

So waar! Dis mos so dat die klank van  gisteraand 12 uur  se klokslag  nie die sondes van die verlede kan uitdoof nie.  Die grootste dosis desibels van nuwejaarsjolyt kan ook nie die sagte stem van die gewete tot swye bring nie. Daardie stem wat ons skuldig en  nutteloos laat voel. Die gewete wat maak dat die gisters (van 2012 en nog verder terug) wreed vir ons grynslag en gedurig herinner : “Onthou jy nog? Onthou jy wat jy daardie dag gesê en gedoen het? Onthou jy die hartseer wat jy veroorsaak het? Die kanse wat verspeel is? Die sondes wat onherroeplike skade, skande en leed veroorsaak het?”  As al ons gruwelike gisters ‘n greep op ons gemoed kry, gaan ons die nuwe jaar in met ‘n stuk sielsverlamming. Vol onvrede en vrees!

Vir die kind van God is daar egter ‘n blye oplossing, want daar was ‘n kruis! O, my vriend, moenie vergeet nie, daar was ‘n kruis, ‘n vloekpaal! Jesus het daar gehang, die vlekkelose Lam van God, ja, maar Hy was op daardie oomblik, bedek...besmeer met al die gruwelike sondes van ons gisters. God het Hom toe daar as sondaar “behandel” (2 Korintiërs 5:21) Dit het behels dat God se toorn op Jesus neergekom het, dat ons sonde volledig gestraf is, dat Goddelike geregtigheid geskied het, volgens die eise van die wet. 

Elkeen wat sy hoop op Jesus stel, kan dus weet : “My gisters is uitgewis! In God se boeke bestaan dit nie meer nie!”  Die feit van die kruis bring dus ‘n antwoord aan my  beskuldigende gewete.  Aardse offers deur aardse priesters (van die Ou Verbond) kon nie hierdie volle vrede bring nie, maar Jesus se volmaakte offer (van die Nuwe Verbond) wel, soos Hebreërs 9:13,14 dit stel:

“Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!”

Hierdie bevryding van die gisters vind plaas as ons die waarheidsbelofte van die Nuwe Verbond glo : “Oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” (Hebreërs 8:12)

Ons begeer almal ‘n vrugbare vreugdevolle diens aan God en in sy teenwoordigheid  in 2013. Die geheim is om vas te hou aan die volkome genoegsame versoeningswerk van Jesus aan die kruis! Om kinderlik te glo, dat sy offer ook vir my, vir my die ellendigste van alle sondaars genoeg was. So word daar afgereken met ons gruwelike gisters en so vind ons die vryheid om die toekoms tegemoet te gaan!

Ja, ons kan leer uit die foute en sondes van die gisters, maar hulle kan ons, wat ons vertroue op Jesus stel, nie meer vashou en verhinder om God nou met ‘n rein gewete te dien nie.

Chambers sluit af : “Ons gisters hou vir ons gebroke onomkeerbare dinge in. Dit is waar dat ons geleenthede verspeel het, wat nooit weer sal terugkeer nie, maar God kan hierdie destruktiewe angstigheid verander in konstruktiewe bedagsaamheid vir die toekoms. Laat die verlede met rus, maar laat dit rus in die soet omarming van Christus. Laat die gebroke, onomkeerbare verlede in sy hande en betree die onoorwinlike toekoms met Hom.”

Mag 2013 ‘n groter besef van die genoegsame genade in Jesus by ons werk en ons so aanspoor tot groter  gehoorsaamheid en vreugdevolle diens aan God ons Verlosser! Mooi jaar vir jou!


Robbe by Kaapkruis. Of hulle vreugdevol is sal ek nie weet nie, maar vrugbaar is hulle wel!

Vrydag 03 Augustus 2012

GERAAMTES WAT RAAS

- maak ‘n Christen se verkeerde verlede nog saak?  

Maak my verlede nog saak? Daardie gruwelike geraamtes in die kas? Spesifiek nou, as ek ’n kind van God geword het, moet ek nog nadink oor my verlede, moet ek al die sondes en mislukkings onthou, moet ek daarmee rekening hou? Elkeen van ons het ’n donker verlede! Ja, ja, elkeen... ons is mos in sonde gebore en ons het almal aktief sonde gedoen. Ons het oortree teenoor God en teenoor ons medemens! Ons het almal dinge gedink, gesê en gedoen waaroor ons (as ons kinders van God geword het) nog steeds skaam is! Deur ons sondige besluite het ons dikwels onherroeplike  skade aangerig aan onsself en aan ander. En ja, ander se sonde het ook weer letsels op ons gelaat.

Ek vra hierdie vraag spesifiek as kind van God : Maak my verlede nog saak as ek ’n  vrygespreekte kind van God geword het? Die antwoord is NEE, maar die antwoord is ook JA! Dis baie belangrik vir elkeen se geestelike gesondheid en vreugde om te verstaan waarom die antwoord NEE is, maar dis net so belangrik om ook te verstaan waarom die antwoord, JA is!

Kom ons kyk na die perspektief wat twee gedeeltes uit die Hebreërs brief vir ons gee:

~ Eerstens die NEE antwoord. Maak die kind van God se verlede saak? Die antwoord is NEE. Hoekom nie? Hier in Hebreërs  8 word die heerlike implikasies van die Nuwe Verbond verduidelik en vers 12 stel dit baie duidelik oor hoe God  oor ons sondige verlede voel.

 “Oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.”

 Geliefde, verstaan dit mooi : As jy jou vertroue as sondaar op Jesus gestel het, as jy nie meer staatmaak op jou eie prestasies nie, maar op Jesus se offer aan die kruis, dan sê God vir jou dat Hy nooit meer aan jou sondes dink nie. Dis die gevolg van die vryspraak wat ons ontvang as ons Jesus aanvaar as Verlosser en Middelaar - ons sonde, ja ook al die aakligste sondes en gruwelikste mislukkings van die verlede word glad nie, hoegenaamd nie, meer teen ons gehou nie! GOD DINK NIE EERS MEER DAARAAN NIE! Ons oortredings bestaan nie meer in God se boeke nie! Dis uitgewis vir eens en altyd! Al die beskuldigings teen ons is eintlik alreeds by die kruis vernietig! (Kol 2:14) Daarom kan Paulus so duidelik verklaar in Rom 8:1 : “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie!” As jy in Jesus is, sien God  jou as ’n volmaakte skuldlose  mens! Ek hoef dus nie meer skuldig of minderwaardig te voel nie!

So : Maak die kind van God se verlede nog saak, moet ek nog daaroor tob en bekommerd wees? Wat betref ons nuwe status voor God, is die antwoord ’n baie duidelike NEE!

~ Maar nou die JA antwoord. In Hebreërs  12:1-3 is dit baie duidelik dat die Christelike lewe met ’n wedloop vergelyk word.   Dit gaan dus hier oor mense wat reeds vergewe en reeds vrygespreek word. Maar nou word hierdie Christene (en ons) sterk aangemoedig om al die "laste en sonde wat ons so maklik verstrik" en ons wedloop belemmer, af te gooi! Hoor nou mooi : Ja, God dink nie eers meer aan ons sonde nie, Hy hou dit glad nie meer teen ons nie, maar in ons elke dag se Christelike lewe is dit nodig dat ons sekere oorblyfsels van ons sondige verlede moet afgooi sodat ons die Christelike wedloop met sukses kan voltooi! Ons sondige verlede, agtergrond en neigings is ‘n belemmering vir ons geestelike wedloop.
In hierdie opsig is dit duidelik dat ons sondige verlede wel saakmaak en dat ons beslis daarmee moet rekening hou!

Die punt is : Daar is oorblyfsels van ons sondige verlede, daar is gevolge van ons sondige natuur en agtergrond, wat nog steeds ’n effek op ons het! 

Ons moet dit weet en ons moet iets daaraan doen! Ons sondige agtergrond, ons ou sondige lewenspatrone beïnvloed steeds  ons daaglikse lewens as Christene in ons persoonlike lewe, in ons huweliks en gesinslewe, in ons verhoudinge by die werk en in die gemeente!          

 Kom ons raak prakties met enkele voorbeelde :

Ons het almal ’n onvolmaakte sondebevlekte opvoeding gehad (ja, ek weet by verre die meeste mense wat hier lees het ’n baie goeie Christelike opvoeding gehad, maar ons weet ook ons almal se ouers was ook net mense en het ernstige foute gemaak met ons opvoeding al het hulle dit nie bedoel nie.)   Jy het dalk selfsugtig grootgeword en altyd jou sin gekry... nou word jy ’n Christen en die Here het al daardie selfsug en al daardie  vloermoere vergewe! Maar weet jy wat, daardie selfsugtige neigings dra jy nou in jou huwelik in... nou verstaan jy nie : “Ek is dan ’n Christen en my vrou is ’n Christen, maar hoekom sukkel ons so, hoekom is daar soveel konflik?”  Dis dan wanneer jy moet besef : My verlede maak saak! Ek moet ernstig daaraan aandag gee en hierdie selfsugtige neigings uitroei met die krag van die Heilige Gees!

Dalk het jy grootgeword met ’n alkoholis pa wat altyd gelieg en bedrieg het of ander ongelukkige huislike omstandighede. So het daar ’n diepgewortelde wantroue teenoor ander mense in jou lewe ontstaan... Jy het intussen ’n kind van God geword, maar in jou agterkop dra jy nog hierdie wantroue rond en jy vertrou niemand nie, jy is oorkrities op ander mense. Hierdie wantroue het ’n effek op jou huweliksmaat, jou kinders, jou werksmense... Jy moet besef, jou verlede maak saak! Deur die Heilige Gees en dalk met behulp van Christen vriende sal jy moet leer om van hierdie kritiese gesindheid van wantroue ontslae te raak.

Moontlik is daar een of ander verslawing of hardnekkige gewoonte vanuit jou verlede... pornografie, nikotien, vloek, allerhande vrese... noem maar op. Toe jy ’n Christen geword het, het God jou op een oomblik als vergewe. Jou verlede maak nie meer saak nie, want God aanvaar jou volkome as sy kind! En tog maak jou verlede saak, want dit werk nie altyd so dat hierdie verslawings en gewoontes  onmiddellik gebreek word nie. (Anders sou sulke opdragte soos hier in Hebr 12 mos nie nodig gewees het nie) Dis waar baie Christene die fout maak en in ontkenning leef : “Ag, ek is nou God se kind en als is wonderlik!”  Maar dis nie waar nie! Daar is nog laste en sondes wat ek moet aflê! Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, deur gebed, deur die Woord, deur die hulp van ander Christene moet ek ontslae raak van hierdie verslawings en ou patrone uit die verlede. In hierdie opsig maak my verlede saak en moet ek dit hanteer!

Miskien is jy deur die hartseer van egskeiding, dalk het jy weer getrou. God het jou al jou sondes op hierdie terrein vergewe, maar in jou daaglikse wandel met Hom en ander mense sal jy moet rekening hou met die gevolge van hierdie verlede. Om byvoorbeeld in ‘n hersaamgestelde gesin te leef, met ontwrigte kinders wat seergekry het is nie so eenvoudig nie en verg baie geduld, gebed, aanpassing en volharding. Jy gaan dalk ook die hulp nodig hê van ervare en kundige medegelowiges om jou te begelei. Dis normaal. Moenie skaam wees daaroor nie. Vertrou bo alles die Heilige Gees om jou te help om aanpassings te maak en verdraagsaam te wees met jou huweliksmaat, gesin en familie.

Voor my bekering het ek dalk baie mense te na gekom en skade aangedoen. Wanneer ek Jesus aanvaar word al hierdie misdade vir my volkome vergewe. Maar nou moet ek realisties wees. Ek sal waar nodig en waar moontlik  ook hierdie verontregte mense om verskoning moet vra en dinge moet regstel, anders sal my getuienis ongeloofwaardig en kragteloos wees. Ek kan nie maar net aangaan asof hierdie slegte dinge nooit gebeur het nie.

 In my daaglikse stryd moet ek rekening hou met die effek wat my ou sondige lewe nog op my kan hê en dit dan deur die vernuwende krag van die Heilige Gees hanteer!

MAAK MY VERLEDE SAAK?

Kom ons vat net weer saam. Kind van God, wees verseker God het jou heeltemal vergewe, NEE, jou verlede maak nie saak nie! Dank God en wees bly!

Kind van God, ons is besig met ’n harde wedloop, daar is laste en sondes wat uit ons verlede voortkom, JA, ons verlede maak saak, ons moet dit besef en ons moet dit hanteer soos God  se Woord vir ons voorskryf. Laat ons eerlik wees en mekaar hierin help! Laat ons bo alles die oog hou op Jesus! 

Wat betref ons status  voor God en ons aanvaarding by Hom  speel ons verlede genadiglik hoegenaamd geen rol nie! Die kruis van Jesus het daardie verlede vir eens en vir altyd uitgewis. Wat betref my daaglikse keuses, besluite en stryd, moet ek deeglik rekening hou met die gevolge en oorblyfsels van my vorige sondige leefwyse. Gelukkig, deur die krag van die Heilige Gees kan ek oorwinnend daaroor leef. 

Om dit teologies korrek te stel : Wat ons vryspraak (justification)  betref, maak ons verlede glad nie saak nie! Wat ons daaglikse stryd van heiligmaking (sanctification) betref, maak ons verlede saak en moet ons eerlik daarmee rekening hou en daaraan werk! Daartoe stel God sy kinders instaat, deur die bekragtiging van die Heilige Gees!