BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Heilige Gees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Heilige Gees. Wys alle plasings

Donderdag 03 Maart 2022

GAAN ONS LUISTER NA DIE GEES?

- dis 'n saak van erns! (maak jou Bybel oop)

Verlede jaar het ons, hier in die NGK Tsumeb (dolerend) vir sewe weke saam gekyk na die boodskap van die briewe aan die sewe gemeentes in OPENBARING 2,3. Hopelik het dit ons diep laat nadink. Hopelik gaan dit daartoe lei dat ons dinge anders gaan DOEN in ons gemeente. Ons gaan nou net so bietjie oorsigtelik kyk na die sewe briewe se kern punte.

Dis ’n saak van erns. Aan die einde van elke brief lees ons telkens - “Laat die wat ore het luister na wat die GEES aan die gemeentes sê” (2:29 ens) Baie insiggewend, die Heilige Gees praat met ons deur die Woord. Hierdie Woord wat ons in ons hande het, wat ons nou hoor! Dis die stem van die Heilige Gees van God! Dis nie maar ‘n menslike opinie nie. Wee, ons as ons dit ignoreer!

Wat is die boodskap wat Jesus deur die Woord en die Gees aan ons bring? Eerstens. Jesus weet als van ons... Dis 'n deurlopende waarheid en tema. 'n Refrein deur die briewe…“Ek ken julle...” Jesus weet van die goeie dinge, maar ook van die slegtes. Hy sien en weet wat mense nie sien en weet nie. Hy is immers die Oorwinnaar Verlosser wat tussen die staanlampe (gemeentes) wandel… ons is sy eiendom. Ons moet sy opinie en opdragte ernstig opvat.

Jesus prys sy gemeentes en moedig hulle aan. Die dinge wat uitstaan waarvan Hy hou kry ons byv 2:2,3; 2:13; 2:19. Belangrik -Jesus kyk anders as mense. Vir ‘n gemeente wat arm is, prys Hy dat hulle eintlik ryk is. 

Hoor wat skryf Hy vir Smirna- 2:9 Hulle besit ware evangelierykdom al is hulle materiaal maar sleg daaraan toe. Terloops, Hy raas met nie een gemeente oor hulle lidmaatsgetalle of hulle geld te min is nie! (Oeps,... is dit nie die eerste dinge waaroor ’n kerkraad bekommerd raak nie?) Aan die anderkant is die gemeente van Laodisea ryk, maar eintlik is hulle geestelik bankrot. 3:17,18 Die ergste is, hierdie geestelik bankrot gemeente besef dit nie eers nie, hulle is selfvoldaan en heeltemal gelukkig met hulle self. Weereens Jesus kyk anders as ons. Ons kry dit ook in die brief aan die gemeente van Filadelfia (3:8b) Dit lyk maar na ‘n swak en onbeduidende gemeentetjie, maar eintlik is hulle sterk en word hulle geprys vir hulle volharding.




Jesus vermaan en waarsku sy gemeentes baie ernstig. Dis soms baie kras en kru. (2:4,5) Hierdie gemeente van Efese het wonderlike volharding en liefde vir die waarheid betoon, maar hulle het afgekoel in hulle persoonlike liefde vir Jesus. Hulle het die regte dinge gedoen, maar daardie eerste opgewondenheid oor Jesus was nie meer daar nie! Gevolge… skrikwekkend! Een van die verwyte wat telkens na die gemeentes kom is dat hulle dwalinge en losbandige gedrag in hulle eie geledere toelaat. 

Let op – Jesus raas nie oor die boosheid en goddeloosheid wat rondom hulle in die wêreld aangaan nie, Hy betig hulle oor die slegte dinge wat binne die kerk toegelaat het. (2:14; 2:20) Die probleem is dat daar nie meer dissipline en tug binne die gemeentes toegepas word nie. Almal word maar toegelaat om te leef soos hulle wil. Is dit nie baie aktueel nie? Een van die ergste beskuldigings teen ‘n gemeente kry ons in die brief aan Sardis. (3:1b) ‘n Aktiewe gemeente met ‘n goeie naam, maar in Jesus se oë is hulle dood!

Belangrik. Wat is die doel van Jesus se waarskuwings en bestraffings? 

Jesus se motief is liefde en sy doelwit is bekering!  



(Ook wanneer ons dit nodig vind om ander aan te spreek moet dit ons motief en doelwit wees!) Hoor ons – mense binne die kerk word opgeroep tot BEKERING. Waaroor gaan hierdie bekering? Dit gaan oor ‘n terugkeer na Jesus self. Om Hom weer lief te hê, om kerk te wees uit liefde vir Hom. (2:4,5) Dis erg – ‘n gemeente wat steeds aktief is en by die waarheid staan, maar wat nie meer opgewonde oor Jesus is nie. Maar daar is nog erger toestande van verval- soos wat in Laodisea gebeur het - dat ‘n gemeente van Jesus in so ‘n toestand van selftevredenheid kan verval dat Jesus eintlik buite staan. Dink daaraan – ‘n gemeente van Jesus, maar daar is nie meer plek vir Hom nie. Jesus staan buite sy eie gemeente. En tog – Jesus het selfs hierdie gemeente nie afgeskryf nie, maar nooi hulle uit om weer die gemeenskap met Hom te herstel – 3:20. 




Terloops, in hierdie sewe briewe kom ‘n baie belangrike waarheid na vore – nêrens en nooit roep Jesus lidmate op om hulle van ‘n dooie of vervalle gemeente af te skei nie. Ja, jy hoor reg – nêrens nie! Die opsie van afskeiding van ‘n gemeente – en onthou in sommige van hierdie gemeentes soos Sardis en Laodisea het dit beroerd sleg gegaan – word nie eens as ‘n uiterste alternatief genoem nie! Nee, die gemeente word tot bekering en vernuwing opgeroep! Die probleme, sonde, doodsheid en louheid moet binne in die gemeente reggemaak word.

Waarom is bekering en volharding so belangrik? Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Telkens word daar die heerlikste Goddelike beloftes gemaak aan wie oorwin! (2:7b; 3:21) Ja, God se mense is in ‘n stryd betrokke. Daar is geen maklike pad na die nuwe Jerusalem nie. Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Daar is ‘n heerlike ewige beloning vir die oorwinnaars. Ons mag dit nie misloop nie. Daarom moet ons die boodskap van Jesus aan sy gemeentes ernstig opneem, ons bekeer van alles waarvan Hy nie hou nie en volhard te midde van versoekings en swaarkry. (3:11) 

Ons moet mooi luister en vinnig reageer… Dit het baie laat geword! Jesus se koms is naby. Gaan ons luister na die Gees…?

Donderdag 30 Mei 2019

“DIE HERE HET VIR MY GESÊ”

Hierdie frase is nogal algemeen in sekere Christelike kringe. Wat bedoel mense hiermee? Is dit dieselfde wat Paulus bedoel as hy van die leiding van die Gees praat? Wat is die Bybelse betekenis van “leiding deur die Gees”? 



In Romeine 8:14 maak Paulus ‘n uiters belangrike stelling oor die werk van die Heilige Gees. “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” 

Die Heilige Gees werk nie net eenmalig in mens se lewe nie, maar Hy lei die kind van God op ‘n daaglikse basis. 

Paulus stel dit as ’n kategoriese feit. Dis waar van elke kind van God. Die implikasie is duidelik. As ek nie deur Heilige Gees gelei word nie, is ek nie ’n kind van God nie. Maar wat beteken dit nou prakties? Beteken dit dat ek nou gedurig stemme hoor, skimme sien of drome droom? Is dit gelykstaande aan wat mens so dikwels hoor : “Die Here het vir my gesê”? Nee, dis nie primêr wat hier in Romeine ter sprake is nie. 

Natuurlik kan die Heilige Gees ‘n begeerte of indruk op my hart plaas, dikwels ‘n Skrifgedeelte in spesifieke omstandighede. Ongetwyfeld gebeur dit dat God se kinders ‘n dringendheid in hulle harte ervaar om byvoorbeeld spesifiek vir iemand te bid of iemand te gaan besoek. Of 'n besondere gevoel van vrede (aan die anderkant besondere onrus) wanneer moeilike besluite geneem moet word. Dit sou sekerlik ook as leiding deur die Heilige Gees beskou kon word. Ek dink net mens moet baie versigtig wees om sommer oral rond te vertel dat die Gees my so en so gelei het... ons subjektiewe gevoelens is baie onbetroubaar en self die groot evangelis George Whitefield het in sy jong dae hier gefouteer toe hy die “indruk” gekry het dat sy jong seuntjie ‘n groot prediker sou word. (Die seuntjie het egter vroeg gesterf.) 

Die punt is net - die leiding van die Gees waarvan Paulus hier praat is iets baie wyer en algemener as hierdie persoonlike indrukke in sekere omstandighede. 

Die konteks waarin Paulus hierdie uitspraak maak is belangrik. Dit gaan in hierdie gedeelte oor ’n nuwe lewe wat vereis dat ons ons sondige praktyke moet uitroei en gehoorsaam raak aan God se wil. (Kyk spesifiek na Romeine 8:12-17) 

Kom ons kyk na 'n paar maniere hoe die Heilige Gees elke kind van God in hierdie opsig prakties lei* : 

1. Die Heilige Gees gee aan my ’n nuwe lewensuitkyk en beskouing. Hy lei my tot 'n nuwe waardasiesisteem. God raak vir my belangriker as geld, goed en genot. “Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.”(1 Korintiërs 2:12) Die Gees laat my die waarde van God se genade en vergifnis, wat ek deur Jesus ontvang, besef. Hy gee my insig in en aptyt vir geestelike dinge. Ek ervaar ‘n honger na die Woord, die Bybel gaan vir my oop, ek geniet geestelike gesprekke. (Voorheen was dit dor en droog en irrelevant). Toets jouself : sien jy uit na gemeentelike byeenkomste of voel dit soos ’n straf? Maak die Bybel sin? Hy wek ook ‘n liefde in my vir ander Christene; hulle gesprekke en belewenisse is nou relevant. Die Heilige Gees laat sien my die hele lewe vanuit ‘n ewigheidsperspektief en hemelse hoek. Ek sien my aardse bestaan as ’n pelgrimsreis na ’n beter bestemming. Iemand wat deur die Gees gelei word, sien uit na die heerlike erfenis wat alle smart van nou by verre sal oortref! In hierdie einste hoofstuk getuig Paulus hiervan : “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (Rom 8:18) 

2. Die Heilige Gees wek in my ’n begeerte om God as my Vader aan te roep en volgens sy wil te leef. Die Vaderskap van God word vir my ‘n persoonlike werklikheid. Die Heilige Gees bewerkstellig ‘n innige band tussen my en my Hemelse Vader! “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader.” (Rom 8:15) As die Heilige Gees my lei, leef ek ‘n lewe voor die aangesig van God. En ek vra nie meer wat mense dink nie, maar : “Vader, wat is U wil?” Die Heilige Gees maak my dus bekommerd oor my gebrekkige liefde vir God en laat my smag na ‘n inniger verhouding met Hom. Hy bring ook kommunikasie tussen my en my Vader tot stand deurdat Hy vir ons pleit. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” (Rom 8:26) 

3. Die Heilige Gees maak my sensitief vir sonde. Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer raak ek bewus van sondige gewoontes, denkwyses en motiewe wat nog in my binneste skuil. Ek raak oortuig van die sondigheid van praktyke waarmee die samelewing in die algemeen geen probleem sien nie. Onthou Hy is die Heilige Gees! Hy is heilig en kan nooit met enige sonde kompromie maak nie. Hy maak mens gevoelig vir versoekings en sonde. Hy wek in my ’n kommer en hartseer oor my sonde. Die ongelowige is wel ook soms teleurgesteld in homself of voel sleg oor die gevolge van sy sonde. Die Heilige Gees laat my egter besef, dis teen die Here wat ek gesondig het. Soos Dawid in Psalm 51:6 ervaar het. “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.” Die Heilige Gees stem my versigtig en onrustig oor sekere plekke of persone. Ek weet net : “Bly weg hier. Dis gevaarlik vir jou wandel met God!” Die Heilige Gees lei mens dus om in alle situasies teen die wêreld en sy aanloklike begeertes te kies en vir die navolging van Jesus. 

4. Die Heilige Gees open my oë vir die genade, heerlikheid en genoegsaamheid van Jesus. Juis in die konteks van die bewustheid van my sonde! Ek besef my nood, maar juis daarom ook die allesoortreffende waarde van Jesus . Net Hy is die antwoord vir my diepste sondenood en gebrokenheid. Ja, ander mense weet dalk van Hom, maar dis waar dit eindig. Deur die Gees word Jesus vir my ‘n lewende werklikheid en plaas ek al my hoop op Hom! Die Heilige Gees verheerlik Jesus en openbaar Hom en sy werk aan ons. “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” (Joh 16:13,14) Waar die Heilige Gees mense lei, val die fokus op Jesus en sy werk. Is Jesus vir jou oneindig kosbaar? Dis net die Gees wat jou so tot hierdie besef kon lei! 

5. Die Heilige Gees skep in my hart ’n begeerte na geregtigheid, na die doen van God se wil. ‘n Honger en dors om te doen wat reg is. Hy laat my ook oorgaan tot aksie om teen sonde te stry en dit uit te roei. Dis waarskynlik die belangrikste inhoud van wat dit hier beteken om deur die Heilige Gees gelei te word, want vers 13 onderstreep die belangrikheid om alle sondige praktyke in ons lewens uit te roei!  want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (Rom 8:13 OAV)  Ons self moet praktiese stappe neem, maar dis die Heilige Gees wat ons oortuig van wat verkeerd is en die krag en moed gee om daadwerklik op te tree. 

6. Die Heilige Gees gee ons nie net krag om die verkeerde uit te roei nie, maar produseer positiewe vrug in ons lewens. Die vrugte van die Gees beskryf hierdie positiewe verandering in lewensstyl en gedrag so : “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22,23) Alle Christene sal al die vrugte vertoon in toenemende mate. Die Gees lei ons dus om heilig en al heiliger te leef! 

Die Gees lei God se kinders, maar ons moet daagliks doelbewus kies om Hom gehoorsaam te wees! 

Alle Christene het die Heilige Gees en alle Christene word gelei deur die Heilige Gees. Sonder sy werk in ons kan ons nie kinders van God word nie en ook nie as kinders van God leef nie! Kom ons bid vir ‘n groter bewuste werk van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons verbind ons tot ‘n groter gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding, spesifiek om teen sonde te stry en dit uit te roei.

*Hierdie is nie 'n volledige beskrywing van die werk van die Heilige Gees se werk in die gelowige nie, maar die kern belangrike sake wat 'n aanduiding is dat Hy iemand lei. Daar is werkinge van die Gees byvoorbeeld die krag tot getuienis en die gawes in die liggaam van Christus wat glad nie hier bespreek word nie. Ek gee ook graag erkenning aan dr. Martyn Lloyd-Jones se preke oor Romeine 8 as bron vir bogenoemde gedagtes.



                 San broers en susters wat saam die nagmaal gevier het op 19 Mei 2019

Vrydag 09 Maart 2018

DIE AVONTUUR VAN WARE GEBED

- Bid met die fokus op Hom wat op die troon sit en beleef hoe die Gees werk en die Woord versprei! 


Verlede Sondag het ons ‘n kykie gekry in die hemelse troonsaal. Die setel van alle mag en gesag, die plek van alle beslissings en besluite wat die heelal en die geskiedenis raak, maar ook ons elkeen persoonlik. Ons het saam met die apostel Johannes gesien – GOD IS OP DIE TROON. Ons het gesien en gehoor dat die hele kerk van alle eeue, die engele en die ganse skepping gefokus is op een saak : die aanbidding van God! Die spilpunt waarom die heelal draai is nie menslike drome, belange en behoeftes nie, maar die eer van die oneindig heerlike en glansryke God! Daar is altyd rede om God te loof – as Skepper en as Verlosser. 


HOE BID ONS?

Maar hoe raak dit ons nou prakties? Hoe raak dit spesifiek ons gebedslewe? Maak dit ‘n verskil aan die inhoud van ons gebede? En dis terloops sommer ‘n goeie vraag : “Hoe lyk my en jou gebede? Pas dit in by die groter prentjie. Is ons gebede nie dikwels maar ‘n inkopielys of ‘n gesanik oor probleme en ellendes nie? Mis ons gebed nie al te dikwels die doel waarvoor gebed daar is nie?” Helaas dis inderdaad dikwels die geval. En dis seker die groot rede waarom gebed so ‘n frustrasie is en waarom gebede onbeantwoord bly, want God gaan nie toelaat dat ons Hom inspan vir die verwesentliking van ons eie selfsugtige ideale nie. Dis hierdie verkeerde fokus van gebed wat mense dan uiteindelik moedeloos en rebels maak, “Ag, nee wat gebed werk nie” en dan hou ons heeltemal op met bid. Natuurlik mag en moet ons ons eie behoeftes aan God bekend maak. Ons kry immers so ‘n opdrag in Filippense 4. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Fil. 4:6) Maar ons gebedslewe as geheel moet gefokus wees op die eer van God wat op die troon sit en nie op selfbelang en selfsug nie. 

Dis tog die duidelike strekking van die Onse Vader! Allereers gaan dit oor God se naam, God se koninkryk en God se wil en daarna oor ons behoeftes juis binne die konteks van die najaging van hierdie Godverheerlikende doelwitte! 

Van nature stel ons ons eie begeertes eerste! My geluk, my behoeftes, my veiligheid, my belange, my klein wêreldjie. Dis eers wanneer die Heilige Gees ‘n mens se hart waarlik verander via die wedergeboorte dit daar ‘n passie in ons harte begin groei vir God se koninkryk, God se plan, God se eer.

AVONTUUR!

Ware gebed wat gefokus is op God se eer is iets wonderliks! ‘n Reuse avontuur! God maak ons so deur ons gebede deel van sy plan om sy koninkryk te laat kom. Ons beweeg so saam met God se bedoeling en God se agenda! En hoe laat God sy koninkryk kom? Deur die verkondiging van die Woord en die werk van die Heilige Gees. En daarom is dit opvallend in Handelinge hoe Gebed, die Woord en die Heilige Gees saamgaan.

GEBED, WOORD EN GEES

Ons het dit treffend ‘n werklikheid word in Handelinge 13:1-3. 

“Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. 
Toe hulle op ‘n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: "Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het." 
Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.” 

Wat gebeur hier? Die leiers van die gemeente kom bymekaar vir vas en gebed. Hulle dien op so ‘n wyse God. Dis binne so ‘n konteks van Godgefokusde gebed waar die Heilige Gees werk en leiding gee en ‘n nuwe koers aandui oor hoe die Woord van God kan versprei. Paulus en Barnabas word afgesonder om die Woord te verkondig. Dit loop dan uit op die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas. En dink aan al die heerlike gebeure en kragtige deurbrake tydens daardie reis... 

Dis natuurlik nie die eerste soortgelyke situasie in Handelinge waar die verband tussen God gesentreerde gebed en die Woord duidelik na vore kom nie. Ons vind ‘n soortgelyke samehang tussen gebed, die Heilige Gees en die Woord in Handelinge 4:23-31. Dit vind plaas na die dreigemente van die Joodse Raad teenoor Petrus en Johannes om die apostels te probeer stilmaak. Dan vertel hulle dit aan die ander. En wat doen hulle dan? Hulle bid. Maar kyk net die fokus van die gebed. Geen spoor van selfbelang, geen fokus op hulle vrese en veiligheidsituasie nie. Hulle loof God as Skepper. “Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: "Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.” (24) Nadat hulle God as Skepper aanbid het, pleit hulle by God op grond van die beloftes in sy Woord.. En waaroor gaan hierdie pleitroep? “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.” (29) Merkwaardig! Dis ‘n Godgesentreerde gebed wat fokus op sy eer en die uitbreiding van sy koninkryk. Dit gaan oor die uitwerking van God se werk as Verlosser! En wat was die gevolg? “Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (31) Hierdie gebed word positief verhoor. Weereens, gebed, die Heilige Gees en die Woord! 

Hoe lyk ons gebede? Hoe lyk my en jou gebede, ons gemeente s’n? Weerspieël ons gebede ‘n bewustheid van God op die troon? Wys ons gebede dat ons ‘n passie het dat sy Naam verheerlik sal word en sy koninkryk sal kom? Is ons gebede in lyn met God se plan om die Woord te laat verkondig? 

Is ons gebede ‘n lieflike geur van oorgawe aan sy wil of dra dit dalk die stank van selfsug? 

Image result for aardbol images
Kom ons aanbid Hom wat op die troon sit. Kom ons aanbid Hom as Skepper en Verlosser en pleit dat Hy ons die genade mag gee om sy Woord uit te dra. So word jy deel van ‘n Godgewilde avontuur! So kom Sy koninkryk op aarde!



Vrydag 02 Junie 2017

WIND,VUUR,TALE…

- die Heilige Gees as die Groot Gawe van die Nuwe Verbond!



Ou Israel was ’n groot mislukking in hulle toewyding aan God.... Ons ken mos die geskiedenis. Gedurig het hulle afgedwaal na die afgode. Ander kere het hulle wel uiterlik die offers en wette nagekom, maar innerlik was hulle ver van God af. Die Ou Verbond het “misluk”. Dit lei later tot die oordeel van die ballingskap. Tog was dit nie die einde van alles nie. Die profete voorspel die totstandkoming van ‘n Nuwe Verbond. Jesus kom dan in die volheid van die tyd en beseël die Nuwe Verbond met sy bloed!



Jesus se sterwe , opstanding en hemelvaart is egter nie die finale heilsgebeurtenis nie. Jesus beloof die koms van die Heilige Gees! Hier in die tyd van Pinkster is dit weereens belangrik om te besef : die koms en werk van die Gees staan sentraal in die Nuwe Verbond. Hieroor is ‘n gedeelte soos Esegiël 36:25-27 baie duidelik: “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” In die profeet Jesaja word die metafoor van ‘n vrugteboord in ‘n woestyn gebruik om die oorvloedige werk van die Gees mee aan te dui... “totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn 'n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir 'n bos gereken.” (Jesaja 32:15)

PINKSTERDAG

Hierdie beloftes en baie ander is vervul op Pinksterdag (‘n oesfees!). Ons lees daarvan in Handelinge 2. In sy Pinksterdagpreek verwys Petrus na die profesie van Joël wat ook ‘n wye omvattende werking van die Gees voorspel het. Die Heilige Gees is dus die groot gawe van die Nuwe Verbond. Dis die Heilige Gees wat die verskil maak binne die konteks van die Nuwe Verbond. Opvallend is die drie waarneembare tekens waarmee die koms van die Gees gepaard gegaan het. Hierdie drie tekens kan ons aanvaar was nie maar toevallig nie. Die wortels en betekenis daarvan is reeds in die Ou Testament te vinde.

Die tekens :

~Rukwind

~Tonge van vuur

~Talewonder

Dit gaan nie hier oor die elemente as sodanig as iets wat ons moet probeer na-aap nie. Van belang is die heilshistoriese betekenis. Hoe pas dit in en wat is die betekenis van hierdie tekens in die ontplooiing van God se verlossingsplan? Maar ook wat is die praktiese implikasies daarvan vir ons? Wat sê die tekens oor die werk van die Heilige Gees vandag? En baie persoonlik, ondervind jy die werk van die Heilige Gees?

WIND. Wind en Gees het ‘n duidelike konneksie met mekaar. (Dis dieselfde woord in Grieks  - πνεῦμα) Dis uiters gepas dat die uitstorting van die Heilige Gees met ‘n sterk wind gepaard gaan. Hier in Handelinge 2:2 is ook ‘n ander konnotasie. Die woord vir wind wat hier gebruik word is πνοὴ* Dis dieselfde woord wat in die LXX (Griekse vertaling van die Ou Testament) asem van die lewe is wat God in Adam geblaas het. (Genesis 2:7) Dis die Gees, die asem van God wat lewe gee. Die Heilige Gees bring lewe, Hy skep nuwe lewe. Weet verseker as die Heilige Gees nie in jou werk nie, sal jy geestelike dood bly. Daar sal geen ware sondebesef wees nie. Nog minder sal jy die heerlikheid van Jesus raaksien en in Hom glo. Die funksie van die Gees word reeds deur die profete van die Ou Testament voorspel. Die lewend gewende krag van die Gees is baie sterk op die voorgrond in die visioen van die profeet Esegiël oor die vallei van doodsbeendere. “En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE." (Esegiël 37:14) Hierdie herlewing van die doodsbeendere was niks anders as ‘n herskepping nie. Die geluid van die wind op Pinksterdag was dus ‘n teken van die koms van die Gees van God wat geestelike dooies lewend sou maak. Mense wat totaal dood is in hulle misdade, geestelike lyke word lewend gemaak deur die wedergeboorte! Hierdie wind was as’t ware die asem van God wat hy in die nuwe verloste mensheid sou blaas. Dit was die begin van God se herskepping. Die Gees maak mense nuut. Kan jy hiervan getuig in jou eie lewe?

DIE GEES HERSKEP EN HERSTEL ONS AS BEELDDRAERS VAN GOD!

VUURTONGE. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Ons kan aan verskeie voorbeelde uit die Ou Testament dink. God se heilige teenwoordigheid die berg Sinaï is aangedui deur weerlig. Die vuur en wolk oor die tent van samekoms het die heilige heerlikheid van God sigbaar gemaak in die midde van die volk Israel. In die heerlike bedeling van die laaste dae is elke gelowige nou ‘n tabernakel/tempel van God se teenwoordigheid. Dit het geweldige implikasies...!

Vuur simboliseer ook die verterende heiligheid van God. Sy heiligheid brand alles weg wat vuil, onrein en boos is. Die Heilige Gees in ons lewens lei tot ‘n reinigingsproses waar ons skoongemaak word. Die Heilige Gees gee lewe, maar daar is ook ‘n gevaarlike angswekkende kant van die Heilig Gees se werking. Hy is so heilig en suiwer dat alle kompromieë met sonde en valsheid ondenkbaar en onhoudbaar word in sy teenwoordigheid. 

Die vuurtonge het ook ‘n derde konnotasie. Lukas gebruik nie die woord “vlamme” nie , maar “tonge”. Waarskynlik doelbewus. Die Heilige Gees bring ons tot getuienis. Hy roer ons hart en spraak aan om te vertel van die wonderdade van God.

DIE GEES HEILIG ONS EN BEKRAGTIG ONS TOT GETUIENIS!

DIE TALEWONDER. Hierdie was nie bloot ekstatiese klanke nie, maar werklike tale sodat die skare wat in Jerusalem bymekaar was die boodskap van Jesus in hulle eie moedertaal kon aanhoor. Hierdie hoorders was mense wat bande met die Judaïsme gehad het. Hulle dien hier as verteenwoordigers van die verskillende volkere waaronder hulle gewoon het in hulle verstrooiing. Aan watter Ou Testamentiese gebeurtenis laat tale jou dink? Natuurlik aan Babel! Wat gebeur nou hier? Die taalverwarring by Babel word nou omgekeer. Die talewonder verteenwoordig presies die teenoorgestelde van wat destyds by Babel gebeur het. Daar het die verskil in taal mense verdeel, nou word almal verenig in die hoor van God se Woord. Die evangelie in die krag van die Gees bring ‘n nuwe mensheid, ‘n nuwe eenheid tot stand! Die gevolg van die taalverwarring as straf op die mens se arrogansie, hoogmoed en ongehoorsaamheid, was verstrooiing. Met Pinkster word hierdie oordeel omgekeer en kom God se omvattende genade na vore; mense word nou bymekaargemaak vanuit elke nasie onder die hemel - nie om ‘n monument tot eie eer op te rig nie maar om as verlostes tot eer van God te leef. Die groot oes tot God se eer word nou ingesamel...

SONDE EN DIE OORDELE DAAROOR BRING VERDEELDHEID, DIE GEES BRING DEUR DIE EVANGELIE ‘N NUWE MENSHEID EN NUWE EENHEID TOT STAND! 

OOK VIR MY!
Dis ‘n feit die Heilige Gees het gekom, maar ervaar jy Sy werking as ‘n werklikheid? Nie die tekens nie, maar die werklikheid wat daardeur gesimboliseer word. Nuwe lewe, heiligheid, krag om te getuig? Onthou die Heilige Gees is tot ons beskikking kragtens die Nuwe Verbond wat Jesus deur sy bloed beseël het! Ons hoef nie weer te misluk soos oud Israel nie. God is nie suinig met sy Gees nie! Wonder jy miskien of die heerlike verlossing deur Jesus en die gepaardgaande werking van die Gees ook vir jou bedoel is? Wel, hoor die duidelike boodskap van Petrus op Pinksterdag binne die konteks van die belofte van God in die laaste dae (die bedeling van die Gees) : “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:21) Die HERE is die Here Jesus, want die Heilige Gees is immers die Gees van Jesus (Handelinge 16:7 NAV) en dis die Heilige Gees wat ons beweeg tot die aanroep van sy Naam!

Hierdie belofte is ook vir jou!

*Genesis 2:7 in LXX 


καὶ ἔπλασεν ὁ θεὸς τὸν ἄνθρωπον χοῦν ἀπὸ τῆς γῆς καὶ ἐνεφύσησεν εἰς τὸ πρόσωπον αὐτοῦ πνοὴν ζωῆς καὶ ἐγένετο ὁ ἄνθρωπος εἰς ψυχὴν ζῶσαν

Handelinge 2:2 

καὶ ἐγένετο ἄφνω ἐκ τοῦ οὐρανοῦ ἦχος ὥσπερ φερομένης πνοῆς βιαίας καὶ ἐπλήρωσεν ὅλον τὸν οἶκον οὗ ἦσαν καθήμενοι

Donderdag 11 Mei 2017

VUUR

-vertel ons so ontsettend baie van die Heilige Gees! 


[‘n Voorskou op ons Pinksterrreeks wat DV op 4 Junie sal begin]

Op Pinksterdag gaan die koms van die Heilige Gees gepaard met die teken van vuur! (Handelinge 2) Dis nie maar toevallig nie. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Dink bietjie aan die tema van vuur in die Ou Testament.

Dinsdag 14 Februarie 2017

OMVALGEES

-of GEES VAN JESUS?

Ons bely om in ‘n Drie-enige God te glo – Vader, Seun, Heilige Gees. Die lewende God openbaar Hom so en is so as Drie-enige God betrokke by ons persoonlike verlossing. Die Vader het ons van ewigheid af lief, het ons uitgekies en het sy Seun Jesus gestuur om die uitverkorenes se verlossing deur die kruis en opstanding te bewerkstellig. Jesus, die Seun het ons ook lief en het in gehoorsaamheid aan die Vader ons verlossing aan die kruis bewerk deur ons sondestraf te dra en ons sodoende los te koop. Maar wat nou van die Heilige Gees? Hoe is Hy betrokke? 


Beleef jy die werk van die Gees persoonlik in jou lewe? As dit kom by die werk van Gees is daar dikwels groot verwarring in baie mense se denke. Wat doen Hy? Beleef ek Hom eers as ek omgeval het? Moet ek kan getuig van snaakse ervarings soos onbeheerde lagbuie, om soos ‘n hond te blaf of ‘n papegaai te skreeu?

Terloops. ‘n Basiese vertrekpunt om te onthou : Die Heilige Gees is op Pinkster aan die kerk gegee. Sy koms en teenwoordigheid is ‘n historiese feit net soos die kruis en opstanding.

Wat doen die Heilige Gees in hierdie tyd? Waarmee besig? Wat is sy hooftaak? Hoe lyk ‘n mens of gemeente waar die Gees werksaam is? Watse praktiese verskil maak die Gees in ons lewens? Jesus self gee in die gesprek met sy dissipels op die vooraand van die kruisiging onskatbare belangrike inligting oor die Heilige Gees. Ons gaan fokus op Johannes 16:12-15. Hierdie lering van Jesus sal baie help om verwarring en misleiding te voorkom.

Jesus se dissipels het wonderlike dinge beleef, maar hulle verstaan van Jesus en sy verlossingsplan (veral die noodsaak van sy kruisdood) was egter nog op hierdie tydstip baie beperk. Nou maak Jesus ’n wonderlike belofte in vers 13. 

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.” 

DIE WAARHEID

Hoe moet ons dit verstaan? Van watter waarheid word hier gepraat? Jesus self is die waarheid – Johannes 14:6! Jesus self is die finale waarheid, die finale spreke van God aan die mens. Ons hoef nie en mag nie wag vir ‘n ander meer op datum waarheid nie. God het sy finale boodskap aan ons deur Jesus gebring. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak”. (Hebr 1:1-2) Jesus self is die klimaks van God se openbaring aan die mens. Jesus is die hele waarheid. In Hom woon die volheid van God. Daar is nie iewers nie ekstra stukke lering of waarheid wat ons nog moet ontvang nie. 

Die Heilige Gees leer nie vir ons nuwe ekstra bykomstige waarhede nie, maar bring begrip en insig by ons oor Jesus en sy werk!

Die Heilige Gees is die Gees van die waarheid. Hy maak die waarheid (Jesus self) aan ons bekend. Hy verduidelik aan ons die implikasies van Jesus se lewe en sterwe. Hy maak ons oë oop vir Jesus! Die Heilige Gees kom nie met nuwe lering, nuwe rigtings, nuwe openbaring nie. (Pasop vir mense wat beweer dat God nou na 2000 jaar se kerkwees ‘n nuwe ding aan hulle deur die Gees geopenbaar het – byv. dat God nou deur Hebreeuse name aanbid moet word. Kliek op Wortels van Verwarring)

Die Gees sal ons lei (guide) – dit het hier in hierdie konteks niks met leiding (guidance) te doen in sin van met wie ek moet trou, beroep ens. nie. (Oor hoe om keuses te maak volgens God se wil is ‘n ander onderwerp en natuurlik is die Heilige Gees ook hier deur middel van die Woord betrokke.)

Nee, sy leiding stel ons in staat om God se openbaring in Jesus te begryp en te gehoorsaam!

Die Heilige Gees gee nie sy eie selfstandige boodskap nie – Hy sê net wat Hy van God hoor (net soos Jesus – vgl. Johannes 5:19) Die Heilige Gees se bediening is baie soortgelyk aan Jesus se aardse bediening, net op ’n baie groter skaal. Juis daarom was dit voordelig dat Jesus sou weggaan! “die dinge wat gaan kom” - ontsluit die betekenis van Jesus se dood en opstanding wat nou op hande was (gaan nie hier oor wederkoms nie). Weereens die Heilige Gees maak die implikasies van Jesus se sterwe en opstanding duidelik. 

ALLE FOKUS OP JESUS

Belangrik. Vers 14 lees : “Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” Die Heilige Gees se hoofdoel is om Jesus te verheerlik. Om ons die grootheid, die heerlikheid, die wonder van Jesus te laat raaksien en verstaan. Weereens is daar ’n parallel tussen Jesus en die Heilige Gees se bediening : Jesus se bediening het heerlikheid aan die Vader gebring, die bediening van die Heilige Gees bring heerlikheid aan Jesus – Vgl. Johannes 17:4. 

INNIGE BAND MET JESUS

Die Heilige Gees plaas dus nie die fokus op Homself nie, maar op Jesus. Die Heilige Gees maak Jesus groot. Die Heilige Gees open ons oë om Jesus se heerlikheid raak te sien. Sonder die werk van die Heilige Gees bly Jesus vir jou oninteressant, net van teoretiese belang. Ons sien hier die intieme noue verband tussen Jesus en die Heilige Gees. Dit word bevestig in die res van die Nuwe Testament soos in :

Romeine 8:9 “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”

1 Korintiërs 2:16“Daar staan geskrywe: "Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?" Maar ons, ons het die Gees van Christus.” 

1 Petrus 1:11 “Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het.”

Handelinge 16:7 (NAV)“Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus* het hulle dit nie toegelaat nie.”

DIE BELOFTE HET WAAR GEWORD

Hierdie belofte van Jesus (“wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” ) het duidelik en dramaties waar geword in die lewe van die apostels vir wie Hy hier aanspreek. Eers na Pinkster toe die Heilige Gees uitgestort is kon hulle eers volkome verstaan wat die implikasies van Jesus se sterwe en opstanding is. Daarom kon hulle so kragtig preek oor die kruis en opstanding na Pinkster. Daarom kon hulle sulke diep dinge skryf in die Nuwe Testamentiese geskrifte. Hierdie diep verstaan van Jesus wat deur die Heilige Gees bewerk is, het ons dus hier in ons Bybels. As die Heilige Gees nou in ons werk maak Hy vir ons die Bybel verstaanbaar. Die Heilige Gees se taak is nie om ekstra buite Bybelse insigte aan mense te gee nie! (byv. oor datums van die wederkoms ens.), maar om die Woord vir ons oop te breek! Ons vind die volle waarheid oor Jesus in die Nuwe Testament. Die Heilige Gees het hierdie volle waarheid oor Jesus aan die apostels geopenbaar en ons kan dit in ons hande neem en lees en so openbaar Hy dit weer aan ons.

DIE GEES WERK DEUR DIE WOORD

Dus op ’n afgeleide manier raak hierdie belofte wel ons ook persoonlik - die Heilige Gees open ons oë om die geskrifte van die apostels te verstaan. So leer ons die volle heerlikheid van Jesus ken terwyl ons die Bybel bestudeer.

Die groot saak is dit - Die Heilige Gees fokus ons aandag op Jesus self deur middel van die Woord. Dis sy voortgaande werk. Dit stem ook ooreen met Johannes 16: 8-9. Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde en van die heerlikheid van Jesus sodat hulle na Jesus kan kom vir redding!

WAT VAN MY?

Kom ons vra weer die praktiese vraag: Werk die Heilige Gees in my? Toets dit hieraan : Het ek ‘n groeiende honger na die Woord en ‘n groeiende begrip van die Woord? Het ek ‘n groeiende besef van my sondigheid? Maar veral, het ek ‘n groeiende besef hoe heerlik Jesus is, het ek ‘n groeiende liefde vir Jesus en ‘n groeiende vertroue op Hom alleen? Is Jesus vir jou kosbaar? Het jy ‘n begeerte om Hom te gehoorsaam? Dis ‘n duidelike teken, die Gees is besig met jou! Dank Hom. Dis net genade! 

Hoe lyk ‘n gemeente waar die Heilige Gees werksaam is? Daar is ‘n honger en dors na Jesus, na Sy woorde. Daar is Christus gefokusde prediking. Daar is ‘n diepe begrip en dankbaarheid oor Jesus se kruis en opstanding. Daar is ‘n erns met sonde en ‘n gebrokenheid oor wat verkeerd is. Verootmoediging en berou. (Die werking van die Gees in ‘n gemeente kan dus nie gemeet word aan hoeveel lidmate omval, lag of blaf nie!) 

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing! Dis duidelik, die Heilige Gees se werk is ook onmisbaar belangrik. Niemand kan die Bybel verstaan, niemand kan glo, niemand kan hulle bekeer tot Jesus sonder die werk van die Heilige Gees nie.

*Hier is die NAV se teks beter as die van die OAV



Gloriosa superba / Rooiboslelie / Vlamlelie

Sondag 26 Mei 2013

MAAK DIE HEILIGE GEES BLY!

en ervaar sekerheid en blydskap in alle omstandighede.

Die Heilige Gees bewerk wedergeboorte en bekering en skenk blydskap aan die verlosde sondaar. Hy maak die verlossingswerk van Jesus aan die kruis ‘n vreugdevolle werklikheid in ons lewens! Die heerlike boodskap van Pinkster is juis dat Jesus die Heilige Gees aan sy kerk geskenk het. Elke wedergeborene!

Tog is ons lewens dikwels sonder krag, sonder oorwinning, sonder vreugde. Waarom?

Efesiërs 4:30 gee vir ons ‘n baie belangrike leidraad. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” Wat is snaaks aan hierdie vers? Die plek waar dit staan. Dit duik sommer hier skielik op tussen ’n klomp praktiese etiese vermanings. (Lees dit gerus in Efesiërs 4:1-5:5.) Hoekom? Wel dit lyk asof Paulus insinueer dat hierdie dinge waarteen hy waarsku soos leuens, woede, vuil taal, verbittering, opvlieëndheid... hierdie dinge bedroef die Heilige Gees. Hierdie dinge is so ernstig, dit maak die Heilige Gees hartseer! Kom ons kyk bietjie in groter detail na hierdie stelling van Paulus en wat ons daaruit kan aflei:

~ Die Heilige Gees is ’n persoon en nie bloot ’n mag of ’n gevoel nie - ’n onpersoonlike mag kan tog nie bedroef raak nie!

~ Moenie die Heilige Gees bedroef nie. Wat is baie opvallend hier? Sy woordkeuse – “bedroef”. Hy sê nie, moenie die Heilige Gees kwaad maak nie. Die woord bedroef veronderstel ’n konteks van liefde. Waar daar ’n breuk in ’n bloot tegniese verhouding kom, raak mens kwaad, maar as daar ’n haakplek kom in ’n verhouding waar liefde ter sprake is, kom daar droefheid. As jou vrou wegloop gaan jy tog bedroef wees, meer bedroef as kwaad. Aan die anderkant as jy ‘n verkeersreël oortree maak jy die staat (en die spietkop) nie bedroef nie, maar kwaad! Ons dink nie dikwels so daar aan nie, maar die Heilige Gees het ons lief!  Ons praat meer dikwels van die liefde van die Vader en die liefde van Christus, maar die Heilige Gees is ook waarlik God en Hy het ons lief.

Hoe so? Wel, dis baie duidelik uit Sy betrokkenheid by ons.

Dink bietjie daaraan : Wie het in jou hart gewerk toe jy nog ’n onaantreklike rebelse vuil sondaar was? Wie het met jou gepraat, wie het jou oortuig van sonde en van die heerlikheid van Jesus? Die Heilige Gees, ja. Die Heilige Gees het ons lief. Nie net as individue nie, maar as een liggaam van Christus. Hier in Efesiërs val die klem nogal sterk op die liggaamsaspek en onderlinge verbondenheid van God se kinders! Hy bewerk en smee die eenheid tussen God se kinders.(4:1) Dit is daarom te verstane dat enige onenigheid Hom ontsettend hartseer maak. Onthou - Hy woon in jou, Hy het jou lief ten spyte van wie jy is, maar Hy woon ook in jou broer en suster. En nou? Nou lieg jy vir jou broer, jy beskinder hom, jy benadeel hom.... dit bedroef die Heilige Gees.

Heiligheid gaan nie net oor persoonlike toewyding, Bybelstudie en gebed nie, maar ook baie beslis oor my verhouding met my medemens!

~Ons moet ook net weer kennis, neem ons het te doen met die Heilige Gees. Hy is heilig en alle onheiligheid en boosheid stuit Hom teen die bors. Hy woon in jou en Hy weet alles van jou, Hy ken jou diepste motiewe en gedagtes. Daardie verborge jaloesie, daardie afguns, daardie subtiele vyandskap, daardie geheime onrein begeertes of pornografiese verslawing, daardie growwe en vuil taal… Hy weet dit alles en Hy word bedroef.

Wil jy regtig die Heilige Gees wat jou liefhet, wat die verlossing in jou ’n werklikheid gemaak het....bedroef? Geen Christen by  sy volle verstand sal so iets wil doen nie. Hoe dwaas, hoe ondankbaar.

Daar is egter nog ’n rede hoekom die bedroef van die Heilige Gees so ’n ernstige saak is.   Hy verseël ons. (Ons vind hierdie gedagte reeds in Efesiërs 1:13,14) Die Heilige Gees in ons is die merk of teken dat ons werklik aan God behoort en dat ons finale verlossing gewaarborg word. Hy is ’n stempel van egtheid. Die Heilige Gees in ons is soos ’n deposito dokument wat die volle afbetaling waarborg. Wie dus die Heilige Gees bedroef, sal blydskap en sekerheid en vastigheid inboet.

Wie in sonde volhard, maak die Heilige Gees hartseer en verloor sy sekerheid en vreugde.

As die Heilige Gees in jou, hartseer is, gaan jy ook hartseer en sonder vreugde wees.

Hoe kan ons dit verhoed en hoe kan mens dit  regstel as dit reeds gebeur het? 

In Efesiërs 5:18 gee Paulus uiters belangrike raad hoe om onderlinge onenigheid en onrein spraak of optrede teenoor mekaar te voorkom. Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul.”  Die implikasie is : Kinders van God, julle moet leef onder die invloed van die Heilige Gees soos die kinders van die hel onder die invloed van alkohol leef. ‘n Dronk mens se aksies word deur die alkohol in sy bloed en sy brein aan hom voorgeskryf. So moet die kinders van God deur die Heilige  Gees se begeertes en standaarde gelei word. Leef onder die invloed van die Heilige Gees. Laat sy karakter, sy waardes, sy prioriteite jou gedrag teenoor jou broers en susters bepaal. Terloops - Die Heilige Gees se invloed is presies die teenoorgestelde as die van alkohol. Die Gees maak my verantwoordelik, bedagsaam en versigtig. Die dronkaard tree onverantwoordelik, onbedagsaam en roekeloos op!

Maar wat nou as ons reeds deur woorde en dade ons broers en susters skade aangedoen het en so die Heilige Gees bedroef het. Ons kry ’n leidraad in 4:32 waar Paulus sê: “...vergewe mekaar...”  Belydenis en vergiffenis is die antwoord.  Dis die gevolg van die Heilige Gees se oortuigingswerk,  maar juis dit maak Hom bly, want dit herstel weer eenheid.

Hoe dikwels beleef ons tye van kragteloosheid,  dorheid, onvrugbaarheid, geestelike depressie en ’n gebrek aan blydskap. Daar kan seker baie oorsake wees, en ons mag nooit veralgemeen nie.  Maak egter seker dat jy nie die Heilige Gees bedroef nie. Kom ons stel dit liewer positief - maak die Heilige Gees in jou bly - deur eensgesindheid, integriteit, liefde, reinheid teenoor jou broers en susters uit te leef.  Doen wat die Gees gelukkig sal maak! 

As die Heilige Gees in jou bly is, sal jy sekerheid, 
vreugde en blydskap ervaar!

(hierdie preek het ek by my broer Jacobus de Koning gehoor)


Vrydag 10 Mei 2013

AS PRAAT EN PLEIT NIE MEER HELP NIE

- is die Gees nog steeds daar! 


Kinders van God beleef soms baie soorte teleurstellings en moedeloosheid en selfs partykeer ‘n wanhopige gevoel van bekommernis. Die redes is veelvuldig : dinge werk nie uit soos ek dit wil hê nie, probleme so groot soos die berge, moeilike omstandighede wat eindeloos voortsloer... van die ontstellendste krisisse is egter die angswekkende feit van eggenotes, kinders, familie en vriende (selfs gemeentelede) wat onbekeerd voortleef terwyl die einde naderkom... Hulle is vasgevang in Satan se greep, verblind deur die wêreld, verlam in ‘n verlore staat... Jou gepraat val skynbaar op dowe ore, jou gedreig en gepleit het geen effek. Dit maak jou moedeloos en selfs paniekerig. Dan is daar nog die betreurenswaardige toestand van die kerk...dwalinge, morele verval, wêreldsgesindheid en laksheid wat floreer. Dit dreig om baie Christene heeltemal moedeloos of sinies te maak. 

Die profeet Sagaria het vir elkeen wat so voel ‘n besondere boodskap. Sagaria self het opgetree in ‘n konteks van moedeloosheid en teleurstelling. Hy bring sy boodskap in die tydperk nadat die Jode uit ballingskap teruggekeer het na Jerusalem. Hulle het mooi verwagtinge gehad, maar als het nie uitgewerk soos hulle gedink het nie. Daar was armoede, vyande, geskille en geestelike verval. Die groot taak in hierdie tyd was om die verwoeste tempel weer te herbou, maar dit het maar broekskeur gegaan en op ‘n stadium moes die werk gestaak word. Die goewerneur Serubabel moes in hierdie moeilike omstandighede toesien dat die bouwerk vorder. Die doel van visioen van die olie en die lampe in Sagaria hoofstuk 4 was om hom te bemoedig. Hierdie bemoediging gaan egter verder as Serubabel en sy tyd, dis ‘n profetiese boodskap wat ook ons direk raak... 

Die kernboodskap van die beeld van die olie en die lampe vind ons in vers 6. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige."

Dis wat die moedelose Serubabel moes hoor : die sukses van sy onderneming het nie afgehang van menslike vermoëns en planne nie, maar van God se Gees wat krag gee. Deur die krag van God se Gees sal die grootste berg, die ongemaklikste struikelblok, ‘n gelykte word! (7) Hoe nodig het ons nie om hierdie boodskap te hoor nie. Ons het mos die neiging om alles met brute krag en geweld te wil regforseer. Ek wil my familie regskree. Ek wil my man regpreek. Ek wil my werksmense sommer met ‘n dropper regmoker tot bekering! God herinner ons... “Nee, my kind, nie deur krag en geweld nie, maar deur my Gees...” 

Kom ons vat dit maar vir ‘n feit: ons kan niemand deur menslike geweld en oorredingskrag verander nie. Ons kan nie self lewe blaas in iemand wat geestelik dood is nie. Ons kan niemand se gewete bring tot berou nie. Ons kan niemand beweeg tot bekering nie...maar die Heilige Gees kan! 

Hierdie visioen van Sagaria beklemtoon ons totale afhanklikheid van God se Gees. Die lampe van die kandelaar word voortdurend voorsien vaan olie. Sonder die olie kan die lampe nie brand nie. Die lampe simboliseer die aanbiddingsgemeenskap, in ons taal, die gemeente. Sonder die bekragtiging en energie van die Heilige gees kan ons nie kerkwees nie, kan ons nie effek hê op mense rondom ons nie, kan ons nie slaag met ons Godgegewe take nie. Ek en jy kan nie in hierdie donker wêreld skyn en ‘n verskil maak sonder die olie van die Heilige Gees nie. 

Die heerlike boodskap van Pinkster is juis dat die Heilige Gees tot beskikking is van elke kind van God! 

As ons dan nou besef dat ons afhanklik is van die Heilige Gees, wat dan nou? 

Bid vir die bekragtiging van die Gees. Gebed is die duidelikste bewys dat ek nie meer op eie vermoëns staatmaak nie, maar op die Heilige Gees. God skenk sy Gees in antwoord op gebed. (Lukas 11:13) 

Waak dat ek nie die Gees bedroef en uitblus nie. (Efesiërs 4:30) Hoe keer ek dat ek die Gees bedroef? (Ef 4:31,32) Stel my verhouding met my medemens reg! 

Getuig onder beheer van die Heilige Gees. Hy gee die krag daarvoor. (Handelinge 1:8) Die Heilige Gees maak ons nie passiewe dromers met wollerige idees nie, maar gehoorsame arbeiders in God se wingerd! Vertel maar net in opregtheid wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het. Moenie geestelike geweld en druk op mense toepas nie. Laat die Gees jou lewe spontaan oorheers, sodat jou woorde deur jou lewensstyl ondersteun word. 

Wie op die Heilige Gees vertrou het rede om positief blymoedig te wees. Die pessimiste sou destyds sê : kyk hoe stadig vorder die tempel, dit sal nooit klaarkom nie. 'n Belangrike deel van die boodskap wat Sagaria moes oordra is: Moenie ‘n klein begin verag nie! (10) Ja, die ware Christene is min, die wat vashou aan die waarheid van die Woord is yl gesaai, ons woorde voel so swak, ons pogings lyk so nietig... Moenie dit geringskat nie. Onthou vir die Gees is niks onmoontlik nie. (Hy kon Paulus die klipharde Fariseër verander...) Jesus self het ons daarop gewys die koninkryk van God begin maar klein, soos ‘n mostertsaadjie, maar dit groei onstuitbaar... 

God self sorg dat sy tempel gebou word!

Hiervoor het Hy destyds mense gebruik wat afhanklik was van die Gees. Die fisiese tempel is wel herbou in die tyd van Sagaria, maar God is vandag nog met iets baie groters besig. Hy bou sy ewige tempel, sy kerk, die liggaam van Jesus. God gebruik weereens mense hiervoor wat afhanklik is van die Heilige Gees. Jesus is ons Gesalfde, Hy was vol van die Heilige Gees en Hy gee sy Gees aan ons om die werk te kan doen. Hierdie feit gee ons hoop en vuur ons aan om te werk. Ons kan Hom vertrou om deur sy Gees groot dinge te doen, al lyk ons pogings hoe klein! 


Donderdag 24 Mei 2012

LEI DIE GEES MY?

- ek hoor dan nie stemme nie!   

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing : Vader,  Seun en Heilige Gees. Hier in die Pinkstertyd is dit gepas om te praat oor die praktiese rol wat die Heilige Gees in elke kind van God se lewe speel. (maak gerus oop by Romeine 8)

Die Heilige Gees is nie ‘n teorie of krag  nie; Hy is ‘n  lewende Persoon. Hy is onmisbaar in ons verlossing.  Ek kan nie sonder die Heilige Gees die evangelie aanvaar nie. Dis onmoontlik om sonder die oortuigingswerk van die Heilige Gees vir Jesus Christus waarlik te ken. Daar is ‘n onmisbaar noue verband tussen Christus en die Heilige Gees.  Trouens, Hy word spesifiek genoem die Gees van Christus. (Vers 9)  Dis Hy wat Jesus aan ons openbaar en in ons harte werk dat ons waarlik in Hom kan glo. Belangrik : Die Heilige Gees werk nie net eenmalig in mens se lewe nie, maar Hy lei die kind van God op ‘n daaglikse basis. In Romeine 8:14 stel Paulus dit as ’n feit:

“Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”

Dis waar van elke kind van God. As ek nie deur Heilige Gees gelei word nie, is ek nie ’n kind van God nie.  Maar wat beteken dit nou prakties? Beteken dit dat ek nou gedurig stemme hoor, skimme sien of drome droom? Dis allermins wat hier in Romeine ter sprake is.  Die konteks waarin Paulus  hierdie uitspraak maak  is belangrik. Dit gaan oor ’n nuwe lewe wat vereis dat ons ons sondige praktyke moet uitroei en gehoorsaam raak aan God se wil. Kom ons kyk na 'n paar maniere hoe die Heilige Gees elke kind van God in hierdie opsig lei :
1. Hy gee aan my ’n nuwe lewensuitkyk : God raak vir my belangriker as geld,  goed en genot. (1 Korintiërs 2:12) Die Gees laat my die waarde van God se genade en vergifnis, wat ek deur Jesus ontvang, besef. Hy gee my insig in en aptyt vir geestelike dinge. Ek ervaar ‘n honger na die Woord, die Bybel gaan vir my oop, ek geniet geestelike gesprekke. (Voorheen was dit dor en droog en irrelevant). Toets jouself : sien jy uit na gemeentelike byeenkomste of voel dit soos ’n straf?  Hy wek ook  ‘n liefde in my vir ander Christene; hulle gesprekke en belewenisse maak nou vir my sin. Die Heilige Gees  laat sien my die hele lewe vanuit ‘n  ewigheidshoek. Ek sien my aardse bestaan as ’n pelgrimsreis na ’n beter bestemming. Iemand wat deur die Gees gelei word,  sien uit  na die heerlike erfenis wat alle  smart van nou by verre sal oortref! (Rom 8:18)

2. Hy wek in my ’n begeerte om tot God, my Vader se eer te leef. Die Vaderskap van God word vir my ‘n persoonlike werklikheid. Hy bewerkstellig ‘n innige band tussen my en my Hemelse Vader!  (Rom 8:15) As die Heilige Gees my lei, leef ek ‘n lewe voor die aangesig van God. En ek vra nie meer wat mense dink nie nie, maar : “Vader, wat is U wil?” Die Heilige Gees maak my dus bekommerd oor my gebrekkige liefde vir God en laat my smag na ‘n inniger verhouding met Hom. Hy bring ook kommunikasie tussen my en my Vader tot stand deurdat Hy vir ons pleit. (Rom 8:26)

3. Hy laat my die heerlikheid van Jesus, sy genoegsaamheid en genade, raaksien, juis in die konteks van die bewustheid van my sonde! Ek besef die allesoortreffende  waarde van Jesus (die kosbare hoeksteen). Ja, ander mense weet dalk  van Hom, maar dis waar dit eindig. Die Heilige Gees verheerlik Jesus en  openbaar Hom en sy werk aan ons. (Joh 16:14) Waar die Heilige Gees mense lei, val die fokus op Jesus en sy werk. Soos  ligte (floodlights)  ‘n gebou in die aand verlig, nie om die fokus op die ligte te plaas nie, maar op die gebou.

4. Hy maak my toenemend bewus van my sondigheid. Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer raak ek bewus van sondige gewoontes, denkwyses en  motiewe wat nog in my binneste skuil. Onthou Hy is die Heilige Gees! Hy is heilig en kan nooit met enige sonde kompromie maak nie. Hy maak mens sensitief vir versoekings en sonde. Hy wek in my ’n kommer en  hartseer oor my sonde. Die ongelowige is wel ook soms teleurgesteld in homself of voel sleg oor die gevolge van sy sonde. Die Heilige Gees laat my egter  besef, dis teen die Here wat ek gesondig het. Soos  Dawid in Psalm 51:6  ervaar het. 

Die Heilige Gees  stem my versigtig en onrustig oor sekere  plekke of persone. Ek weet net : “Bly weg hier. Dis gevaarlik vir jou wandel met God!”   

Die Heilige Gees lei mens dus om in alle situasies teen die wêreld en sy aanloklike begeertes te kies en vir die  navolging van Jesus.

5. Hy gee positief in my hart ’n begeerte na geregtigheid. ‘n Honger en dors om te doen wat reg is. Hy laat my ook oorgaan tot aksie om teen sonde te stry en dit uit te roei. Dis waarskynlik die belangrikste inhoud van wat dit hier beteken om deur die Heilige Gees gelei te word, want vers 13  onderstreep die belangrikheid om alle sondige praktyke in ons lewens uit te roei. Ons self moet praktiese stappe neem, maar dis die Heilige Gees wat ons oortuig van wat verkeerd is en die krag en moed gee om daadwerklik op te tree.

Romeine 8:13 sê : “...maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.”

6. Die Heilige Gees gee ons nie net krag om die verkeerde uit te roei nie,  maar produseer positiewe vrug in ons lewens. Die  vrugte van die Gees. Galasiërs 5:22  (Lees) Alle Christene sal al die vrugte vertoon in toenemende mate. Die Gees lei ons dus om heilig en al heiliger te leef!  

Alle Christene het die Heilige Gees en alle Christene word gelei deur die Heilige Gees. Sonder sy werk in ons kan ons nie kinders van God word nie en ook nie as kinders van God leef nie! Kom ons bid vir ‘n groter bewuste werk van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons verbind ons tot ‘n groter gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding, spesifiek om teen sonde te stry en dit uit te roei. 

* Dis in hoofsaak dinge wat  D.Martyn Lloyd-Jones in sy reeks oor Romeine noem.