BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 31 Julie 2015

LIG, SKADU, ROOK...

en die geur van braaivleis!





BABILON IS NIE BY DIE BRUILOF NIE

- basiese besonderheid oor die hemel wat algemeen vergeet word.



Kom ons vra weer : Hoe lyk dit in die hemel? Ons het gesien dis die plek waar God bewonder en aanbid word in ‘n ewige erediens. (kliek op HOE LYK DIE HEMEL?) Ons aardse erediens is ‘n afbeelding daarvan. (die wat die aardse erediens vervelig en onnodig vind sal ook nie welkom voel by die ewige erediens nie) Natuurlik is daar nog baie ander aspekte van die hemel wat deur ‘n verskeidenheid metafore uitgebeeld word.

Die werklikheid van die hemelse koninkryk word dikwels voorgestel as ‘n Bruilofsmaaltyd – ‘n huweliksfees wat innige gemeenskap, saamwees, harmonie en uitbundige vrolikheid simboliseer. 

Om in die hemelse koninkryk te wees beteken dat ek bevoorreg is om uitgenooi te wees na die bruilofsfees van die Lam (Jesus)! “Toe sê die engel vir my: "Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is." Verder sê hy vir my: "Dit is die woorde van God, en hulle is waar." (Openbaring 19:9!) Dis die een fees wat tel, dis die een partytjie wat mens nie moet misloop nie! Dit maak nie saak wie jy is en hoe swaar jy nou kry nie...arm, siek, bespot of uitgestoot... as jy ‘n genooide is na Jesus se bruilof is jy ‘n uitermate geseënde! Ek hoop jy besef jy is baie meer geseënd as Bill Gates. Juig daaroor en dank God dat jy so ‘n uitverkorene mag wees!

Wie is die gelukkige uitgenooides en hoe lyk hulle?

Die uitgenooides is die bruid self, dit wil sê almal wat waarlik deur die wedergeboorte deel geword het van Jesus se kerk!

BRUID OF HOER?

Johannes skets vir ons die verhewe skoonheid en rein heerlikheid van Jesus se kerk in kontras met ‘n onheilige hoer/prostituut. Daar is natuurlik geen skerper kontras as juis dit nie – ‘n maagdelike bruid en ‘n onrein/onsedelike prostituut.

Die prostituut word beskryf met die term Babilon. (Babilon en die val van die stad word in hoofstuk 18 in detail beskryf.) Die bruid word in hoofstuk 21 beskryf as die Nuwe Jerusalem. “Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. "Kom," het hy gesê, "ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam."Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ‘n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.” (21:9,10) Babilon is simbool van als wat onrein, onheilig en in opstand is teen God en sy norme en wette. Die prostituut Babilon met haar uitlokkende klere van mag, wellus en ydele rykdom staan in skrille kontras met die bruid, wat versier is met die blink klere wat die regverdige dade van die gelowiges simboliseer. Vergelyk self Openb. 17:4;18:2,16 met Openb. 19:8. 

Openb.17:4 "Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ‘n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid."

Openb. 18:2,16 “En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,...” "Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helder rooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels!”

Openb. 19:8. “God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek." Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.”

SY IS SO MOOI!

Die duidelike boodskap is :Die bruid van Jesus lyk anders as die sedelose onheilige wêreld! Sy word uitgeken aan haar versiering van regverdige dade. Regverdige dade, goeie werke is alles wat ons doen uit dankbaarheid vir ons verlossing en in gehoorsaamheid aan ons Verlosser! Moenie ‘n fout maak nie – goeie werke, maak saak, heiligheid maak saak – dis volgens die Apostoliese belydenis die groot kenmerk van die ware kerk van Jesus! “Ek glo aan ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.” Vir onheiliges gaan daar geen plek wees aan die bruilofstafel van Jesus nie!

BABILON SAL NIE BY DIE BRUILOFSFEES WEES NIE!

Openbaring in sy geheel is baie duidelik : Ons word nie gered deur goeie dade nie! Nee, net deur die bloed van die Lam. Ons maak ons klere wit in die bloed van die Lam. Dit beteken ons ontvang volkome vergifnis op grond van Jesus se kruisdood. Ons word nooit deur ons goeie dade gered nie. Maar goeie dade is die noodwendige gevolg van ware redding uit genade. Goeie dade is die versiering, die sigbare kenmerk van dié wat vergifnis ontvang het. Goeie dade maak die ware kinders van God, die bruid, MOOI! Hierdie mooi bruid gaan vir ewig feesvier saam met die Lam! Dis hemels!

DIE BRUID VAN JESUS IS ‘N REIN BRUID, VERSIER MET REGVERDIGE DADE!

Is jy deel van die Bruid, of gaan jy saam met Babilon? Dra ons die blink klere van heiligheid of vertoon ons die magsug, onreinheid en wellus van die onheilige prostituut? Is jy besig om jouself gereed te kry vir hierdie fees, of ploeter jy voort in ongehoorsaamheid en vuilheid? “Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.” (7) Daar is nou nog tyd vir bekering...

Die Nagmaal bevestig al die heerlike waarhede van Openbaring met betrekking tot die bruid: Redding deur die bloed van Jesus, aansporing tot goeie dade, ‘n feesmaal wat ‘n vooruitskouing is op die ewige bruilofsmaal saam met Jesus, die LAM!


[Dankfees ete 2015]

Vrydag 24 Julie 2015

SO LYK DIT IN DIE HEMEL

Gaan jy saam juig en is jy alreeds besig?

Hoe lyk die hemel? Daar is soveel idees oor die hemel. Allerhande mense beweer deesdae om in die hemel te gewees het. (Kliek op SONEL) Daar word ook roekelose en wilde aannames gemaak van wie hemel toe sou gaan en wat hulle daar sou maak. ‘n Mens verstom jou oor die uitlatings wat op begrafnisse gemaak word oor wie nou almal in die hemel rondjaag op motorfietse of daar vir ‘n span rugby of krieket speel... Dis net so bisar soos die Moslems se idee van ‘n hemel met maagde wat die wellus van jihadi’s moet bevredig...



GOD IS DIE FOKUS!

Hoe lyk die hemel? Op die ou end het ons net een betroubare bron, en dis God se Woord. Kyk gerus na twee Bybelse beskrywings van die hemel (se heerlikheid) in Openbaring 4:1-11 en JESAJA 6:1-7. Die ooreenkoms tussen Openbaring en Jesaja is merkwaardig en opvallend. Dis duidelik, die hemel is die plek waar God in sy volle majesteit volmaak geëer, bewonder en geloof word. God is in die sentrum! Hyself is die fokus! (Terloops, alle teologie en godsdiens waar Hy nie in die middelpunt is nie, is mensgemaak en vals.) 

Anders gestel, die hemel is die plek waar daar ‘n ewige volmaakte permanente erediens gehou word!


Natuurlik, ken ons nie al die detail van die hemelse bestel nie, maar die essensie daarvan word saamgevat in die konsep van 'n erediens!

Die vraag vandag is : Is ek en jy gereed vir hierdie ewige erediens? Baie mense is ooglopend nie gereed nie, want hulle stel nie eers nou belang in die erediens nie, dis nie vir hulle lekker nie en hulle sal beslis nie eendag daar inpas nie! So baie sien God bloot as ‘n helper (Hy moet spring as ons in die moeilikheid is of hartseer beleef), maar daar is min ywer om Hom te bewonder, te aanbid en sy wil te gehoorsaam.

Uit Jesaja 6 blyk dit drie dinge is nodig om voluit, nou en vir ewig saam deel te neem aan die hemelse erediensvieringe! Besef wie God is, besef hoe groot my sonde is, ontvang vergifnis!

BESEF WIE GOD IS. God het Homself aan Jesaja gewys en toe besef hy eers wie God regtig is. Net terloops – daar word melding gemaak van die “sterfjaar van Ussia” - dis ’n krisis tyd, die Here gebruik dikwels een of ander krisis om mens se oë te open. Jesaja sien die grootheid en heerlikheid van God raak! Liewers, God openbaar Homself aan die profeet. Wat ’n ontsagwekkende gesig! God op ’n baie hoë troon! Heerser van die heelal. Ten volle in beheer, absoluut soewerein! (dis ‘n feit wat deurgaans ook in die boek Openbaring beklemtoon word) Kyk, luister... Sien en hoor saam met Jesaja.. “Heilig, heilig, heilig…” Voel die kosyne rammel; ruik die rook. Angswekkend, verstommend heerlik en groots! Een saak is duidelik : Jesaja moes eers besef wie God is. Nie maar van hoorsê nie, nie bloot wat tradisie hom geleer het nie, maar werklik van aangesig tot aangesig. Dis moontlik om vir jare vaagweg te besef daar is ‘n God, maar op ‘n dag openbaar Hy Homself deur sy Woord en Gees aan jou! Dis wat ons die nodigste het.... ons moet besef wie God is, ons moet besef Hy is groot, ons moet besef HY IS GOD, HY IS HEILIG!

BESEF SONDE. Toe Jesaja besef wie God is, toe gebeur daar nog iets. Sy geestelike oë gaan oop, hy sien sy eie sonde raak. In die lig van God se heiligheid sien hy sy eie onreinheid. Dis asof die helder lig van God se heiligheid en heerlikheid deur sy siel skyn en elke stukkie onreinheid ontbloot. Hy roep uit: “Dis klaar met my, ek is verlore!” Wat gaan ons nie alles sien as hierdie lig deur ons skyn nie.... ? Sulke donker swart kolle van selfsug, haat, onreinheid...valsheid. Die vuil vlekke van hardvogtigheid, liefdeloosheid , jaloesie... Dit bring ’n wanhopigheid in Jesaja. “Dis klaar met my! Hierdie gesig bring hom tot ’n erkentenis van sy toestand van totale verdorwenheid. “Elke woord....” Nie net ’n paar klein foutjies nie! Lippe word beklemtoon... Sy bedoeling is moontlik ook hier dat hy vanweë sy onrein lippe nie kan deelneem aan die lofsange van die serafs om God te besing nie! Sonde verhinder ons om God te eer. Sy onrein lippe is ’n hindernis om te doen wat hy eintlik moet doen. 

Ons sonde keer ons om God te eer en te geniet! En dis dan juis waarvoor God ons gemaak het. Sonde verhoed ons om deel te neem aan die ewige erediens! Dis wat ons uit die hemel hou!

As die Heilige Gees met mens werk dan slaan dit jou plat en laat jou sprakeloos. Alle slimmigheid en verskonings verdwyn en al wat oorbly is om ‘n belydenis van sonde uit te stotter. Jy kan nie draaie loop met God nie. Nog iets. Jesaja sien die sonde rondom hom raak! As die Heilige Gees in ’n mens werk, kan jy nie meer dink alles in die gemeenskap is maar reg nie; jou oë gaan oop vir die afskuwelikheid van sonde. Nie net jou eie sonde nie, maar die sonde rondom jou word ’n pyn. 

ONTVANG VERGIFNIS. Nou gebeur daar iets dramaties met die gebroke sondebewuste Jesaja. God bewerk die versoening. (Op die altaar, dis waar die offers gebring is) Met ‘n gloeiende kool van die altaar word sy lippe aangeraak. Hy kry die versekering dat sy sondes versoen is, die versekering dat hy vergewe is. As jy vandag besef wie God is, en bewus word van jou eie sonde en onwaardigheid - dan is daar ook Goeie nuus vir jou : Op ’n altaar 2000 jaar gelede, is daar ’n volmaakte Offer gebring. ‘n Genoegsame offer, eens en vir altyd. (Hebr 10:14) Daar het ’n Lam gesterf - die Lam van God... op die altaar van die kruis. Die versoening is bewerk! Die oomblik as ek in erkentenis en berou my tot Jesus wend, dan ontvang ek die versoening persoonlik! ’n Bewende Jesaja sien die skrikwekkende heiligheid van God, hy besef sy sonde - en die wonder gebeur, hy word nie vernietig of weggestoot nie... hy ontvang vergifnis.

God vernietig nie ’n gebroke berouvolle sondaar nie. God red hom! Dawid sê : “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God!” (Psalm 51:19) Terloops, daar is eintlik net een ding wat tussen ’n mens en verlossing kan staan, dis hoogmoed! ’n Trots wat nie wil buig nie! Niks kan keer dat God jou vergewe nie, nie ’n donker verlede nie, nie die aakligheid van al ons sondes nie, nie die getal oortredings nie, maar as ek hoogmoedig is en my sonde nie wil erken nie, dan gaan ek die genade misloop. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5) Jesaja verneder homself voor God en hy hoor die wonderlikste woorde wat enige sondaar op aarde kan hoor : “Jou oortredinge is vergewe, jou sonde is versoen.” (Vers 7) Dis die woorde wat Jesus op aarde ook telkens vir gebroke sondaars wat na Hom gekom gesê het... die verlamde man, die sondares wat Sy voete gewas het...

Het jy vergifnis ontvang op grond van Jesus se genoegsame offer? Dan kan jy deelneem aan die ewige erediens waar God geloof word. Dit begin nou reeds. Kom neem gerus elke Sondag deel...


[Felsenkirche]

Saterdag 18 Julie 2015

IN DIE DONKERSTE NAG...

- is ons nie "embarrassed" nie!


“Paulus wat help jou evangelie jou, wat het al jou geloof jou in die sak gebring? Kyk na die feite Paulus : jy sit in die tronk, jy ly ongerief, jy is niks, jy besit niks, 'n wrede dood wag op jou... Is dit soos jou Jesus jou behandel, is dit nou wat jy vir al jou moeite en geloof kry?”

WERK DIE EVANGELIE? IS DIT DIE MOEITE WERD?

Dis nogal ‘n goeie vraag : Werk die evangelie, is dit soos in regtig, baat dit 'n mens enigsins - of het dit dalk eerder 'n verleentheid geword, dalk 'n kat in die sak? 

Ek sou my kon voorstel dat sommige van Paulus se kennisse hom met sulke opmerkings gekonfronteer het. Dis heel moontlik dat sommige van ons ook al met sulke aanmerkings voor die kop geslinger is. "Jong, jy is mos 'n groot Christen, maar kyk hoe sleg gaan dit met jou..." Nog meer waarskynlik dat ons al self in tye van angs, hartseer, beproewinge hierdie soort vrae in ons binneste geopper het: “Ek wonder, werk die evangelie regtig, maak dit 'n verskil, is dit die moeite werd om 'n Christen te wees?”

Hoe sou jy sulke twyfelvrae beantwoord van andere of in jou eie gemoed? Ek dink ons kan 'n goeie aanduiding in 2 TIMOTEUS 1:3-12 kry hoe Paulus dit sou geantwoord het.

Paulus self verkeer inderdaad in haglike 'n toestand; dis sy tweede gevangenskap in Rome. Hy verwag enige oomblik om tereggestel te word. Ons lei dit af uit 2 Tim 4:6 – “die tyd van my dood is voor die deur”. (Hy is vir alle praktiese doeleindes in die dodesel) Tog is dit merkwaardig, juis in hierdie omstandighede skryf hy 'n bemoedigingsbrief aan Timoteus. 

Timoteus was nog betreklik jonk en sy verantwoordelikhede het miskien vir hom te veel geword. Ons kan aflei dat hy ook swaargekry het – (8)- “ontberings”. Dit lyk asof hy miskien depressief, bevrees of dalk moedeloos geraak het. Daarom Paulus se kragtige bemoediging in vers 7 : "Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing." 

Nou hoe moedig Paulus vir Timoteus aan, wat sê hy om hom weer moed in te praat? Dis nogal belangrik dat ons dit sal raaksien. Paai Paulus hom met : “Ag,Timoteus alles is darem nie so erg nie, jong jy moet jouself maar net 'n bietjie regruk, wees 'n man en byt vas?” Nee, weet u wat - hy vat hom terug na die "basics" - die basiese feite van die evangelie. Hy voer hom weer 'n opsomming van die grondwaarhede van die evangelie. Natuurlik het Timoteus dit baie goed geken, maar Paulus herinner hom net so 'n bietjie. 

"Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.
Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring." (9-10) 

Let op - "die mag van die dood gebreek het" - dis veelseggend as mens besef dat Paulus self die dood hier in die gesig staar. (Dit lyk vir my baie belangrik as mens verward voel, hartseer, vol twyfel, moedeloos - vergewis jouself net weer van die basiese feite van die evangelie!)

Paulus se onwrikbare vertroue op God en die evangelieboodskap bring hom by die klimaks van 12. 

"Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou."

Wat wil Paulus nou eintlik hier sê? Hy sê in effek, ek weet ek is in die tronk juis omdat ek hierdie evangelie verkondig. maar ek staan nie beskaamd as gevolg van die evangelie nie. Ek is nie in 'n verleentheid nie, ek is nie uitgeboul nie. Inteendeel! Ek is trots op die evangelie... Ek wonder nie of ek die regte keuse gemaak het nie. Ek is hoegenaamd nie ontnugter nie, die Here het my nie in die steek gelaat nie (onthou weer, hierdie man sit in 'n dodesel) Waarom hierdie positiewe gesindheid, blydskap en vertroue? Sê Paulus nou maar net vir homself, “ag dinge is nie so erg soos dit lyk nie?” 

Nee, hy gee 'n gewigtige rede. "Ek is daarvan oortuig....!” (12) Uit die konteks is dit die waarheid van die evangelie. Ek is nie verleë nie, ek kan alles hanteer, probleme in die oë kyk, ek is wat ek is, selfs hier in die tronk staan ek nie beskaamd nie, agv die vaste waarheid van die evangelie. Die Here self waarborg sy evangelie, Hy is magtig om dit in stand te hou. In hierdie feit lê my hoop en troos. “Timoteus, jy moet ook vashou aan hierdie vaste waarheid aan die evangelie. Dan sal jy nie bang en verskrik en paniekerig wees nie.” Paulus bemoedig Timoteus deur hom weer terug te bring na die sekerheid van die evangelie, die Godgewaarborgde evangelie. Die Goeie nuus van die kruis en opstanding!

Wat anders is vas en seker as juis die evangelie, en net die evangelie?

Laat ons realisties wees. Oornag (letterlik) kan jou finansiële bates, jou gesondheid, jou intellektuele vermoëns, jou geliefdes weggeneem word... (kliek op MATRIEKDOGTER)  Enige oomblik kan dit ook die einde van jou aardse bestaan wees. Al wat gewaarborg kan word is die kosbare beloftes van die evangelie omdat ons Here dit waarborg.(Let wel - die evangelie waarborg nie ons gesondheid, voorspoed ens. nie, maar die Ewige Lewe.) Die evangelie laat jou nie in die steek nie, daarom kan Paulus sê : “Maar dit skrik my nie af nie...” Dus, dink vir jouself, wat is dit wat regtig tel, wat maak ten diepste saak, waarvan moet jy ten alle koste seker maak, wat moet jy soek met alles, wat moet heel eerste kom? 

Vriend, jy moet seker maak dat jy persoonlik deel in die beloftes van die evangelie, dit toe eien. Die wat die evangelie glo sal nooit beskaamd staan nie - die teenoorgestelde is natuurlik net so waar- diegene wat hulle sekuriteit en geluk bou op enige iets of iemand anders sal defnitief beskaamd staan, teleurgesteld word. Hulle sal eendag uitroep : “Wat 'n dwaas was ek nie gewees nie!” 

Waarop bou jy? Is die evangelie jou anker? Sonder hierdie boodskap kan ons nie lewe nie en nog minder kan ons sterwe.

Die troos van die evangelie behels nie om as ek hartseer is 'n gepaste Bybelteks te soek en te hoop ek voel vir 'n rukkie beter nie. Nee, ek ontvang die waarheid, omvattende waarheid wat handel oor verlossing en genade maar ook oor straf! Hemel, maar ook hel. Die evangelie gee waarheid, en die gevolg daarvan is troos. Jy kan nie by die waarhede verbyglip en net vat wat jy graag wil hê of nodig het nie. Nee, jy moet die waarheid as geheel aanvaar en die byproduk is troos, blydskap en al daardie dinge..

Die wat die evangelie vertrou en op Jesus hoop word nooit teleurgestel nie, staan nooit verleë nie, selfs nie in hulle donkerste ure van smart en lyding nie. Paulus se lewe en gesindheid wat hy in die brief weerspieël is 'n praktiese bewys daarvan. 

Kom ons dink sommer aan ‘n ander bekende voorbeeld : H G Spafford was ‘n welaf man, maar het als verloor in die bankineenstorting in die VSA. Dit was nie die ergste wat hom getref het nie. Hy kry op ‘n dag die nuus van sy vrou wat saam met sy vier dogters per skip na Europa toe is dat al vier sy dogters verdrink het na ‘n botsing op see! Wat was sy reaksie op hierdie uiterste tragedie? Hy het ‘n lied geskryf... When peace like a river attendeth my way,When sorrows like sea billows roll,Whatever my lot, though hast taught me to say,It is well, it is well, with my soul! 

Geliefdes, die evangelie werk, dis nie 'n kat in die sak nie, maar 'n kosbare, die kosbare skat ook in nagdonker tye! AMEN



[erkenning aan 'n boodskap van dr.Martyn Lloyd-Jones]





Vrydag 17 Julie 2015

TSUMEB IS STUKKEND

Ons dorp is in rou, want ons het drie pragtige jongmense in een ongeluk verloor...

Dis 'n onbeskryflike hartseer gebeurtenis, dis ook onherroeplik verby... Niks kan hulle weer terugbring nie, daarom is dit nie nou 'n tyd vir verwyte en verduidelikings nie, ook nie vir blameer en bespiegel nie. Dis wel 'n tyd om stil te word en voor God en sy Woord te buig... "Here, wat sê U vir ons, vir my..."

Om die boodskap by Magda se roudiens te lees, kliek op GOEIE NUUS OP 'N SLEGTE DAG.

Woensdag 15 Julie 2015

VER GEVORDER?

'n Koerantopskrif beduie vir ons dat die NG Kerk al ver gevorder het omdat 'n gay egpaar se kinders gedoop is.  Die leraar en gemeente "vorder" nie net met die nuwe siening van wat huwelik is nie, daar word ook "geworstel" met die manlike metafore oor God. Dit blyk dat ons nou ook 'n nuwe siening van God moet akkommodeer! Vordering is seker 'n goeie ding wat verwelkom moet word, maar alles hang af van die rigting waarin gevorder word. In hierdie geval blyk dit "vordering" weg van die Skrif te wees...  Lees maar self by VER GEVORDER en beoordeel dit vanuit die Woord.

Nee, liewe leraar/s, om mense te sus wat op die verkeerde pad is, is nie vordering nie en ook nie liefde nie!

In Maleagi spreek God vreeslike oordele oor die priesters uit. God is moeg vir hulle geknoei en ontrouheid... Een van die redes wat uitgelig word is die volgende:

"Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog: "Waarmee het ons Hom moeg gemaak?" Julle het dit gedoen toe julle gesê het: "Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle," of toe julle gevra het: "Waar is die God wat reg moet laat geskied?" (Maleagi 3:17)

Nee, God wil nie hê ons moet mense paai terwyl hulle op die verkeerde pad is nie, ons moet mense laat afsien van hulle sonde (Maleagi 3:6), terwyl ons waak om nie in dieselfde slaggate te val nie.

Dis nie leraars se taak om almal te laat goed voel of agter die meerderheid en gees van die tyd aan te praat nie, maar om God se volk, SY WIL te leer!

"‘n Priester moet met kennis kan praat, daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat my wil is, want hy is ‘n boodskapper van die Here die Almagtige." (Maleagi 3:7)

Leraars wil nie meer iets verkeerd noem nie! Te hoflik en kruiperig! Netnou neem die mense aanstoot en weerhou hulle hulle bydraes...

Hoe voel God oor hierdie houding?

"Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie;..." (Esegiël 22:26)

Kom ons keer terug na God en sy Woord, dan sal ons ook met ware liefde die regte pad kan aanwys. Laat ons maar eerder erken, dat ons ver afgedwaal het. Laat ons vorder in die vrees van die Here!

Sondag 12 Julie 2015

DOOD VAN 'N MATRIEK DOGTER

Vanoggend vroeg voor kerk lui die telefoon... verskriklike nuus : Magda van Nieuwholtz is vanoggend vroeg in ‘n motorongeluk hier op Tsumeb oorlede. Sommer net hier naby ons. My vrou het die slag gehoor. Dis soooo hartseer. In die begin van die jaar het sy belydenis van geloof afgelê. Minder as twee weke gelede het ek huisbesoek by hulle gehad. Hoe bly is ek nou dat ek daar was...

Daar is ook ‘n ander meisie saam in die motor dood. Sy was in my dogter se hokkiespan by Tsumeb Gimnasium. Doelwagter. ‘n Jong man is ook ernstig beseer.

Dood is altyd erg, maar die dood van ‘n kind is onbeskryflik rou en seer... Waarom ‘n kind? Soveel verwagtinge, soveel drome...stukkend! Hoekom nou, hoekom ons, hoekom so onverwags en skielik? Dis die pynlike vraag!

Watter ander hoop of ander troos is daar as die troos in Jesus Christus wat sonde, Satan, dood en hel oorwin het? Die dood is en bly ‘n aaklige (kliek) SKERPIOEN, maar Jesus het sy angel afgebreek... Daar is 'n opstanding! 'n Nuwe liggaam, 'n ewigheid sonder dood en pyn... Wat ‘n verligting en vreugde vir elkeen wat Hom waarlik as Verlosser ken.

Maar hoekom wil so min Hom ken? Hoekom wil so min na Sy Woord, die Lewende Woord kom luister...? Waarom is Hy dan altyd laaste op die prioriteitslys? Dis nou eers ‘n pynlike vraag!

Aan al die vriende en familie : Mag God julle self met sy evangelie en barmhartigheid aanraak...

Saterdag 11 Julie 2015

WAT VAN DIE WET?

- moet ons nog daaraan aandag gee?

Het die wet/die Tien Gebooie* nog iets vir ons te sê? Die wet is mos deel van die Sinai verbond wat tussen God en sy volk by Sinai op die trekpad uit Egipte gesluit is. Moses het dit self van God ontvang. Raak dit ons, want ons leef mos nou in die bedeling van die genade, van die Nuwe Verbond? Jesus se antwoord is : “JA.” Maar dis ‘n baie gespesifiseerde JA. 

Ja, die wet geld vir ons soos Jesus dit aktueel gemaak het. 


Ons kyk na die wet deur die vergrootglas van Jesus se woorde en werke. Jesus herinterpreteer (gee nuwe betekenis), intensiveer (maak dit skerper en dieper) en internaliseer (maak dit deel van jou binneste) die wet. Hy het die volmag daartoe.  Matteus teken Hom juis in die bergrede as die nuwe Moses, die totstandbringer en wetgewer van God se Koninkryk!

Kom ons kyk hoe Jesus dit doen: 

“Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. 

Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur. 

As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, 

laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. 

Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie. 

Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste oortjie betaal het nie. 

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. 

Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. 

As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. 

En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. 

(Matteus 5:21-30)

Die bostaande voorbeelde maak dit mos baie duidelik. Die gebod oor moord pleeg gaan nie net oor fisiese doodmaak nie, maar raak alle negatiewe en skadelike woorde en dade teenoor my medemens. Ja, om vir iemand uit te kryt as, “Jou stupid ding!” klink soos moord in God se ore! Die konsekwensie van Jesus se toepassing van hierdie gebod is dat elkeen wat vandag eerlik is voor God moet erken : “Here, ek is skuldig aan moord! Vergewe my en wees my genadig! O, God ek bekeer my van hierdie dinge!”

Net so gaan die gebod oor egbreuk nie net oor ‘n fisiese daad van egbreuk nie, maar dit veroordeel alles wat daartoe lei en als wat maar net die eerste stap in daardie rigting is. Weereens, die konsekwensie van Jesus se toepassing van hierdie gebod is dat elkeen wat vandag eerlik is voor God moet erken: “Here, ek wis skuldig aan onreinheid en egbreuk! Vergewe my en wees my genadig!” As ek hierdie gebod ernstig opneem sal ek ook weer nuut dink oor watter klere ek dra, watter liedjies ek na luister, watter flieks ek na kyk... Neem drastiese stappe om hierdie sonde teen te staan... gooi weg, skakel af, kyk ander pad, los uit!

DIE NUWE VERBOND

Wat Jesus oor die wet leer is natuurlik ‘n vervulling van die belofte rondom die Nuwe Verbond. Luister na Jeremia 31:31-33. “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.”

DEUR DIE WEDERGEBOORTE WORD GOD SE WETTE INGEWEEF IN ONS GEWETE.

Die volk Israel was nie in staat om God se gebooie te onderhou nie. En dis 'n ernstige saak... Die wet was immers die konstitusie, die kontrakvoorwaardes van die Sinai verbond. Israel het dus die verbond oortree en die straf van God vir hulleself op die hals gehaal. Daarom is hulle uit hulle land uitgedryf en moes in ballingskap en ellende leef. Maar die profete het toe ‘n Nuwe Verbond voorspel. Dit is in Jesus vervul. Hy het die straf vir die oortreding van die wet op Hom geneem. Maar Hy het ook iets meer gedoen. Volgens die Nuwe Verbond gee Hy aan ons nuwe harte, harte wat vrywillig onderworpe is aan sy wil en sy wense graag wil uitvoer. Of anders gestel, Hy skryf nou sy wet in ons harte. Sy wette word nou deel van ons geheiligde gewete.** Die wet is nie bloot ‘n uiterlike klomp reëls wat ons dikbek moet probeer hou nie. God se wet, God se wil word nou deel van ons nuwe begeertes. Dit word ‘n verlustiging van die nuutgemaakte mens. Hierdie nuutmaking noem ons die wedergeboorte. Hierdie wedergeboorte behels dat God se Gees nou in ons woon. Dis ook deel van die vervulling oor die Nuwe Verbond soos ons dit in Esegiël 36:25-28 aantref : “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees.”

Kom ons raak baie prakties: Wat sê die wet en by name die Tien Gebooie nou vir ons? Ten minste twee dinge:

Die radikale toepassing van die wet deur Jesus ontbloot ons sondigheid. Dit laat ons die boosheid van ons eie harte besef. Dit maak ons bewus van ons behoefte aan genade, ja aan ‘n Verlosser! Dalk het jy dit nog nooit voorheen besef nie. Dan kan jy miskien vandag voor die Here erken: “Ek, ja ek is ‘n moordenaar, ek is onrein, ek is ‘n leuenaar of ‘n dief, ek is 'n egbreker, 'n onreine... Ek het Jesus nodig as die persoonlike Verlosser van my sonde!” Vriend, kom na Hom toe met jou gebrokenheid...

Die wet soos Jesus dit geleer het gee ook vir ons ‘n duidelike standaard oor hoe om as dankbare verloste mense te leef. Genade en vergifnis is heeltemal verniet, maar diegene wat dit regtig ontvang het, moet en sal radikaal anders leef en wil leef! Soveel mense het ‘n valse sentimentele geloof: “Ja, ek is lief vir Jesus en ek leef soos ek wil, alles sal OK wees!” (Dis die tipiese houding van die Progressive Christianity) Dis ‘n helse leuen wat tot die hel sal lei! Jesus verlos ons van ons sonde om nuut en anders te leef. 

Hoe lyk hierdie andersheid? Dis ‘n lewe van radikale liefde, heiligheid en gehoorsaamheid soos wat Jesus self geleef het. Jesus, sy woorde en sy lewe self is eintlik die vergestalting van die wet. Jesus is ons Tora! Jesus en wet staan nie teenoor mekaar nie. Jesus het die wet kom sigbaar maak volgens sy diepste bedoeling. Om Jesus lief te hê is nie bloot ‘n sentimentele gevoel nie, maar juis om erns te maak met al sy gebooie en opdragte! "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Johannes 14:15) Dit sluit ook die radikale opdragte volgens Jesus se interpretasie van die Tien Gebooie in!

*As ons die woord “wet” hoor is ons geneig om eksklusief aan die Tien Gebooie te dink. Die term wet, oftewel Tora, sluit natuurlik die Tien Gebooie in, maar omvat eintlik die eerste vyf boeke van die Ou Testament.
** Fr. "...j'inscrirai mes instructions non plus sur des tablettes de pierre, mais dans leur conscience..."


Dalk wonder jy nog. Wat van die Sabbat en die voedselwette? Dieselfde beginsel geld. Ons kyk ook na daardie wette deur die vergrootglas van Jesus se afgehandelde werk en sy duidelike lering...  Kliek op: STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?





Jy is vry om "smiley"  te eet of nie, die wet gaan oor die hart...

Woensdag 08 Julie 2015

AL GESIEN OP FACEBOOK?

- PROGRESSIEWE CHRISTENDOM*: sagter benadering of sluwe beswaddering van die ware evangelie?

Jy moes al van hulle gehoor het… Marcus Borg, Rob Bell, Roger Wolsey se boek, Kissing Fish: Christianity for People Who Don't Like Christianity of meer onlangs in die nuus was Nadia Bolz Weber (amptelik deel van die Lutherse kerk in Amerika) en vele ander... Maar leraars wat hulle denkwyse deel word al hoe meer in NG geledere ook aangetref... kyk maar hoe word progressiewe Christendom op Facebook blaaie en Twitter rekenings geprys en gepropageer...


Wat glo die sogenaamde Progressive Christianity (ook genoem emerging church)? Dis ‘n benadering wat baie sterk gekleur word deur post-liberalisme en post modernisme. Alle vaste waarhede en dogma is onder verdenking... Op die oog af beklemtoon hulle die radikale aard van Jesus se lewe en lering. Jesus se meng met die sondaars is ‘n geliefkoosde tema... Vir hulle is die hier en nou belangriker as die eendag en die ewigheid, sosiale geregtigheid is belangriker as die korrekte dogma. Hulle beweer om erns te maak met die Bybel, maar verkies ‘n meer metaforiese verstaan. Om reg te doen is belangriker as om die regte dinge te glo. In die proses word baie Bybelse waarhede egter oorboord gegooi en as “outdated” beskou. Natuurlik is daar baie variasies en verskillende beklemtonings.

Soos met bykans alle strominge en dwalinge die geval is, vind ons by hulle ‘n buitensporige reaksie teen sekere foute in die kerk. Ja, inderdaad... die kerk was dikwels nie oop genoeg vir die nood van die wêreld nie, afsydig teenoor die tollenaars en sondaars van ons tyd, te vas aan ‘n bepaalde tydgebonde kulturele inkleding in erediens en leefstyl, vasgevang in haarklowery oor minder belangrike dogmas... Dis alles foute waarvoor ons gerus maar meer sensitief kan wees. En tog moet mens ongelukkig sê dat die hierdie sogenaamde progressiewe Christene in baie opsigte so ver verwyderd geraak het van die evangelie en die heilige algemene Christelike kerk van alle eeue, dat hulle hulle buite die waarheid van die Woord en die evangeliese Christendom bevind.

Hierdie “progressives” maak ‘n indruk op sommiges met hulle tatoes en kru taal, maar is bra skrikkerig vir die Bybelse boodskap oor sonde, bekering en kruis!

Maar wat dan van die liefde? Is die progressiewes se beklemtoning van die liefde dan nie ‘n Bybelse waarmerk van egtheid nie? Liefde is tog immers die groot gebod? Ja, beslis staan liefde sentraal in God se boodskap, liefde word egter baie duidelik in die Bybel gedefinieer. Dink maar aan Jesus se woorde (ook waarskuwings) en dade, asook Paulus se radikale beskrywing daarvan in 1 Korintiërs 13. Johannes die apostel van die liefde, maak dit duidelik dat liefde nie ‘n normlose sentimentele gevoel is nie, as Hy Jesus se woorde onder ons aandag bring : "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer." (Johannes 14:15) Jesus het nogals radikale opdragte in terme van naaste liefde ja, maar ook oor sake soos seksuele reinheid... iets waaroor die “Progressives” graag swyg...

Dis juis as dit kom by die opdragte en waarhede van die Woord dat mens verstom staan oor die dwalinge van hierdie progressiewe profete van ons dag:

Die Woord leer dat Jesus die enigste weg na God is (Johannes 14:6), die “Progressives” beweer dat Jesus een van baie roetes na God is.

Die Woord veronderstel die beginsel van absolute waarheid (Johannes 17:3), die “progressives” is relatiwiste en glo dat elkeen sy eie waarheid het.

Die Woord leer ons dat Jesus juis gekom het om ons van ons sonde te verlos (Matteus 1:21), die “Progressives” is maar baie lugtig vir die begrip sonde. Dis blykbaar wel "sonde" om iets sonde te noem!

Die Woord leer dat sekere dinge sonde is (baie dinge waaronder homoseksuele gedrag), die “Progressives” aanvaar homoseksuele gedrag en ‘n gruwel soos “gay huwelike” as normaal. Die Bybelse veroordeling van homoseksualiteit is vir hulle nie meer geldig nie.

Die Woord leer dat God man en vrou gemaak het met verskillende rolle (Efesiërs 5), die “Progressives” wil niks van hierdie onderskeie rolle en gesagstrukture weet nie.

Die Woord en veral Jesus in sy eie woorde, waarsku oor ‘n hel en eindoordeel, “Progressives” is maar eintlik universaliste wat glo dat almal gered sal word. Inklusiwiteit is die norm, alle eksklusiwiteit word gehaat, al leer die Bybel dit duidelik dat daar nie net skape is nie, maar ook bokke!

Die Woord leer dat Jesus nie maar net ‘n wonderwerker of wyse prediker was nie, maar sy lewe aan die kruis as losprys gegee het (Markus 10:45), die “Progressives” se Christus is weinig meer as ‘n liefdevolle morele navolgingswaardige persoon. Van die versoeningsoffer, die plaasvervangende sterwe, met ander woorde die boodskap van die kruis (1 Korintiërs 1:18ev) hoor jy nie by hulle nie.

Die mens is die norm...

Die “Progressives” maak baie en graag daarvan melding dat hulle die ouens is wat na die stukkende mensdom uitreik. Die vraag is net met watter “evangelie” word daar uitgereik? Oor Jesus en die apostels se opdrag om te bekeer swyg hulle.

Kom ons wees billik en hoor wat skryf Roger Wolseley self: "Progressive Christianity is about loving more deeply and living more meaningfully. It’s about following Jesus’ invitations for practicing radical compassion and loving-kindness, living-out Jesus’ Kingdom values, and experiencing a fuller, more profoundly connected and meaningful life. You don’t have to believe in any of the theologies about God that have been used to damn, judge or exclude people. You don’t have to believe in Satan or the Devil. You don’t have to believe in Heaven or Hell. You don’t have to believe in a virgin birth or a physical resurrection, or that someone walked on water, or that Christianity is the only way that God is at work in the world (though many progressive Christians believe many of those things). Instead, it’s about cultivating a sense of appreciation for what God has done for the world though Jesus. It’s about nurturing direct experience with the Divine and practical actions to inclusively live in right relationships and make a positive difference in the world in the name of Christ – without denying that God is at work in the world in other ways."

Dis duidelik, hierdie sogenaamde progressiewe Christenskap is ‘n sentimentele humanistiese (en baie idealistiese) boodskap oor ‘n ongedefinieerde Christus wat die kern Bybelse waarhede soos die uniekheid van Jesus, sy liggaamlike opstandig en ‘n finale oordeel onder die mat invee. Wat bly oor? ‘n Vae mistieke gemeenskap met ‘n god wat die mens vir homself geskep het en wat heeltemal inpas by ons sondige begeertes en dade! Hierdie ouens glo blykbaar nie in ‘n duiwel se bestaan nie, maar hulle word wel deeglik deur hom gebruik! En ja, dikwels is die "kindness" ook net gaafgeit soos en wanneer dit hulle pas...



[Om uit te reik na gemarginaliseerdes is dit nie nodig om die kernwaarhede van die evangelie prys te gee nie. Dis juis wat hulle ook nodig het! Hier bring ons die Woord en sommer 'n klomp groente na 'n arm San gemeenskap net buite Tsintsabis.]

*Neem tog net in ag dat hierdie nie 'n teologiese studie oor die Progressiewe Christendom is nie, maar bloot 'n inleiding vir die gewone man in die kerkbanke...




Donderdag 02 Julie 2015

NEE DR. NELUS!

Kerklik geseënde gay huwelike? Kan dit wees? Sê u dit as 'n bedienaar van die Woord of dalk as woordvoerder van SCOTUS?

Die moderator van die NG Kerk (Algemene Sinode) is volgens persberigte ten gunste daarvan dat die NG KERK die huwelik herdefinieer. Miskien is hy daartoe aangemoedig deur die onlangse beslissing van SCOTUS (Supreme Court of the United Sates) ten gunste van sogenaamde selfde geslag huwelike, want in die Bybel sal jy dit nie kry nie!

“Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die kerk voltrek word.
Dit is die pleidooi van prof. Nelus Niemandt, algemene moderator van die NG Kerk.
Hy hoop die besluit oor gay predikante sal in Oktober op die algemene sinode opgehef word en dat hulle ook sal kan trou.”*


Nee, niemand(t) durf homself bo die Woord ag nie!

Hoe kan dr. Niemandt sulke uitlatings maak wat indruis teen vorige sinode besluite, maar veel erger wat direk teen God se Woord ingaan? In Romeine 1* leer die Woord ons dat God juis mense oorgegee het aan die skandelike drifte van homoseksualiteit omdat die mens die waarheid verruil het vir die leuen en skepsele gedien het bo die Skepper. Nou word skepsele se sienings weer bo die waarheid van die Skepper in sy Woord gestel!

Hierdie wendig moet seker nie as 'n verrassing beskou word nie, want nie te lank gelede nie het DIE KERKBODE die lof van 'n lesbiese huwelik besing. Tog het sy blatante afwykende uitspraak skokgolwe deur die kerklike publiek gestuur en voorsien ek dat daar 'n groot rimpeleffek gaan wees. Daar word nou reeds van alle kante af wal gegooi om die skade te besweer, maar dis ongelukkig reeds gedoen. Die feit dat dit nie die amptelike besluit van 'n sinode (en dus die kerk) is nie, bring maar weining troos. Net die feit dat 'n moderator so 'n skrikwekkende Skrifafwykende uitspraak kon maak, laat mens sidder. En tog...miskien word evangeliese gelowiges in die NG Kerk nou wakker geskud om vas te skop en verdere verdraaiing van die Skrif halt te roep! Of is die padda dalk al te lank in die al warmer wordende pot water?

Lees ook : As mens jou op die Skrif beroep in 'n debat oor homoseksualiteit, dan word jy mos bykans sonder uitsondering met die skulpvis argument gegooi. "Eet jy dan nie skulpvis nie? Die Bybel verbied dit ook mos. So ons kan nie sê gay huwelike is verkeerd omdat die Bybel daarteen gekant is nie!" Kliek op SKULPVIS.


*Dit lyk nie of Niemandt voel dat hy verkeerd in die pers aangehaal is nie, want hy het die skakel na hierdie berig ge -retweet.


**Romeine 1:22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 
Rom 1:23  en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
Rom 1:24  Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 
Rom 1:25  hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 
Rom 1:26  Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; 
Rom 1:27  en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. 

Lees ook : Wat maak homoseksuele sonde anders? Kliek op DIFFERENT  (artikel deur John Piper)

"At this moment in history, contrary to the other sins listed..., homosexuality is celebrated by our larger society with pioneering excitement. It’s seen as a good thing, as the new hallmark of progress."

Woensdag 01 Julie 2015

STERWE OM TE KAN LEWE

- geboorte op Tsumeb na ‘n miskraam.

Die Here is altyd betyds, al voel dit dikwels vir ons of Hy heeltemal te laat is en ons in die steek gelaat het... Jesus was oënskynlik te laat om Lasarus te genees (mens kry die indruk dat Hy met opset getalm het*), maar toe doen Hy iets baie groter vir die man, Hy skenk hom ‘n nuwe lewe vanuit die graf en toon so sy Goddelike genade en almag!

Die pad wat die Here met ons gestap het tot in Tsumeb, was darem nou nie so dramaties nie, maar tog in baie opsigte die van ‘n nuwe lewe nadat die oue eers moes sterf. En sterwe is natuurlik nooit maklik of aangenaam nie.

Ons het die tyd in Bray (Onder-Molopo gemeente) aan die Botswanagrens baie geniet, maar weens verskeie redes het ‘n skuif (veral na Namibië) baie wenslik gelyk. My ouers in Walvisbaai het ook bejaarde ouderdom bereik en daar was ander oorwegings ook...

Die gemeente Verre Noord, in die noorde van Namibië (Ovamboland soos ons hom ken, met dorpe soos Oshakati, Ondangwa, Ongwediva, Ruacana ens.) het vakant geword. Ek het aansoek gedoen en maar gewag om te sien wat gaan gebeur. Op Woensdag 7 Oktober 2009 bel Mev. de Lange uit Oshakati om te hoor waar Bray is. (Ja, min mense weet waar dié afgeleë plekkie homself bevind.) Verder sê sy niks nie. Ek gee die saak aan die Here oor: “Here, dis alles in U hande”

Ek hoor later daar was 12 aansoeke. Dis nogal heelwat. Menslik gesproke is die kanse baie skraal dat ek beroep sou word of selfs net ‘n preekbeurt sou kon kry. Ek is doer ver in die gramadoelas. Wel, dis wonderlik, ek kry toe tog ‘n e-pos van Oshakati om te hoor of ek die naweek van die 30ste Oktober daar kan wees. Wat ‘n geleentheid! Ek kry toestemming van my gemeente dat ek die kerkbakkie kan gebruik om Namibië toe te gaan – dis ‘n groot verligting!

Als begin mooi in plek val vir ons groot reis na die noorde. Ek maak ook kontak met my vriende Vic en Milly Basson in Rundu. Ons beplan om met die terugpad sommer via die ooste van Ovamboland deur die Kavango te gaan en daar oor te bly voor ons terugtog deur Botswana.

Die moontlikheid van ‘n nuwe begin bo in die noorde is nie al nuwe begin en nuwe lewe nie. Hier aan die einde van Oktober vermoed Jacolette sy is swanger! Nuwe lewe! So op die vooraand van ons vertrek.

Ek kry juis ook in hierdie tyd ‘n brief kry van Pa waarin hy skryf oor Martin Rautanen – pionier van Ovamboland. (In Ovamboland het my Pa self ook kosbare dinge beleef.) Ek het ‘n boek oor dié sendeling se besondere lewe van volharding ‘n paar jaar tevore vir hom as geskenk gegee. Is dit toevallig dat hy nou oor hom skryf, is dit dalk ‘n aanduiding van die rigting vir die toekoms?

Die reis na die noorde lewer wel ‘n kwota moeilikheid op as die bakkie se petrolpomp probleme gee, maar ons kom veilig aan by ons bestemming. Oom George Benz is ons baie behulpsaam en dit word opgelos. Na soveel jare is die verandering en ontwikkeling in Ovamboland verstommend. Oshakati-Ongwediva-Ondangwa het ‘n polsende stad geword! Die manne wat Ovamboland laas in hulle “army dae” gesien het, sal nie meer weet waar om te trap nie...

Ek preek Sondag 1 November op Oshakati oor 1 Kor. 1:18-25. Dis vir my aangenaam om die Woord te bring en die mense luister aandagtig. Nou het ek gedoen wat ek kon en is alles in die Here se hande! Die Saterdag koop Jacolette ‘n swangerskaptoets by ‘n apteek op Oshakati, maar sy gebruik dit nog nie. Direk na kerk vat ons die lang pad terug via Eenhana – Okongo – Nepara tot by Rundu. Wat ‘n eindelose lang pad. ‘n Groot deel is vreeslik sinkplaat. Ons slaap die Sondag en Maandagaand by Vic hulle oor. Maandagoggend doen Jacolette haar tuis swangerskaptoets – dis positief! Groot opgewondenheid, nuwe lewe!

Op Woensdag 4 November is ons weer terug op Bray! Nou begin daar ‘n uitmergelende tyd van wag en wonder... Ek was onder die indruk dat Verre Noord reeds op Donderdag 5 November ‘n beroep so uitbring. Hoor Donderdag niks, hoor Vrydag niks...

Onseker, wonder ook, sal als goed gaan met die nuwe baba? (My dierbare vroutjie is nie meer so jonk nie.) Wat van die beroep, ek hoor niks, moet ek weer iewers anders aansoek doen?

Later lei ek af van ‘n e-pos van Anina, die skriba dat hulle nog nie beroep het nie, maar dinge bly baie vaag...

Op 11 November vat ek die bakkie vir sy diens op Vryburg. Die urine toets van die dokter bevestig dat Jacolette swanger is. Die bloedtoets se uitslag moet nog kom.

Die volgende dag bevestig ook die bloedtoets se uitslag amptelik, ons gaan ‘n baba hê. Goeie nuus. En dan, slegte nuus. Dieselfde dag is daar ‘n e-pos met wat my heeltemal uit die veld slaan. Vriende van my het op Oshakati in die kerk opgetree en volgens die e-pos gaan hulle Oshakati toe. Die gemeente het blykbaar nie geld om nou al ‘n predikant te beroep nie. Hulle gaan vir ‘n tydperk soontoe om die bediening waar te neem. Wat gaan aan? Ek wonder waarom ek niks hoor nie, waarom is die gemeente dan nie meer openlik met my nie? Is dit die dood van die Verre Noorde droom? Moet ek Namibië afskryf en uit my hart verban? Moet ek op ander plekke aansoek doen en kort-kort toestemming vra om elders te gaan preek? Ten spyte van probleme wat ek by Verre Noorde raakgesien het, het ek my nogtans ingestel om te gaan en opgewonde geword oor die moontlike beroep en skuif na ‘n nuwe plek met nuwe uitdagings. Dalk ‘n effens benoude beklemmende opgewondenheid soos ek oor die laatlam baba opgewonde is?

Nie lank nie toe word nie net Oshakati nie, maar ook die swangerskap ‘n groeiende (sterwende?) krisis. Jacolette het baie pyne, bloeding... Iewers is iets fout.

Net na die kerkdiens op Bray op Sondag 15 November vat ek vir Jacolette Vryburg toe. Hospitaal toe. Hulle doen ‘n sonar. Daar is geen hartklop waarneembaar nie! Ek besef dis verby. Na twee dae is daar geen twyfel nie, die swangerskap is iets van die verlede. Sy ondergaan die nodige prosedures. Dis vir haar ‘n hartseer tyd; ‘n vrou beleef ‘n miskraam baie intens. Die gemeentelede is baie simpatiek en ondersteunend. Ek aanvaar als meer gelate. Dis tog dalk ten goede. Die feit dat daar nie meer ‘n baba gaan wees nie, sal ‘n trekkery iewers heen makliker maak... of probeer ek dalk maar net als vir my rasionaliseer? 

Uiteindelik ontvang ek die tyding per e-pos van Oshakati wat sê dat hulle nie nou ‘n beroep gaan uitbring nie, maar eers die volgende jaar in die eerste kwartaal. Dit plaas my in ’n moeilike posisie. Moet ek vir ander plekke aansoek doen of geduldig wag en dan dalk in elk geval nie soontoe beroep word nie?

Aan die einde van ‘n veelbewoë jaar op 31 Desember skryf ek : “Here, my tye is in U hand. Hoe lank gaan ons nog op Bray bly? Mag die Here insig gee. Ek sien geen langtermyn toekoms vir my en ons kinders hier nie... Wat gaan met Oshakati gebeur, wat gaan hulle besluit?”

En toe heel onverwags op Dinsdag middag 19 Januarie 2010 bel ds. Darius Botha onverwags van Tsumeb. (ek het hom nog nooit ontmoet nie) Hy gaan na Kroonstad en wou weet of ek beskikbaar is. Ek sê dadelik "JA" en hoor van hom dat hulle op die 31ste Januarie gaan beroep. Daar wag dus ‘n spanningsvolle tyd op my...

Saterdagaand 30 Januarie bid, skryf ek : “Môre gaan DV ‘n baie deurslaggewende dag in my lewe en toekoms wees! O, Here God ek bring dit alles na U toe! Here Jesus U het ons leer bid : Vader, laat U wil geskied! Ek bid dit, laat my hart vreugde in U vind.”

Sondagaand 31 Januarie om 17:30. Ek het pas gehoor ek is na Tsumeb beroep! Piet Gous het my geskakel.

Ek sou later verneem dat die feit dat ek vir Verre Noord aansoek gedoen het, ‘n rol gespeel het in my beroeping. Dis waar Tsumeb my naam gekry het. My Verre Noorde ideaal en verwagting moes sterf, sodat ek op Tsumeb nuwe lewe kon vind. Die Verre Noorde moontlikheid was ‘n miskraam, maar nie die einde van God se pad met ons nie. Op 11 April 2010 word ek op Tsumeb as leraar bevestig en so begin ‘n nuwe opwindende fase in ons lewe... Ons is besonder gelukkig hier, en ja, minder as ‘n jaar later maak nog ‘n nuwe lewetjie haar opwagting, toe Natanie Vreugde op 20 Januarie 2011 die lewenslig aanskou. God het sy tyd en sy plek!

NS En nou kan my gebed maar net wees : "Here dankie vir U onbeskryflike genade en asseblief Here gee vir ons weer LEWE, lewe soos in HERLEWING, 'n vars werk van U Gees in ons binneste wat sal lei tot ware toewyding, heiliging en entoesiasme in onsself en die gemeente, sodat U Naam geheilig kan word!

*Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. (Johannes 11:6)



[Die meubels word gelaai op Bray. Stephanie en Christien Eloff, Jonette en Marisja.]


[Natanie]