BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vervolging. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vervolging. Wys alle plasings

Vrydag 31 Januarie 2020

WAARHEIDSKOMPAS

- God se WOORD in tye van misleiding en lyding! 


Die lering van die valse profete word gekenmerk deur ‘n liefde vir die self. (Kliek op Selfbeheptheid) Teenoor die leer van die vals leraars het Timoteus die voorbeeld van Paulus, die ware apostel gevolg. Ons lees hiervan in 2 Timoteus 3:10-17. Dis ook in hierdie gedeelte waar Paulus positief vir Timoteus (en ook vir jou en my) aanmoedig! 

‘N LEWE VAN VRUG ÉN VERVOLGING 

Dit is ‘n totaal teenoorgestelde koers en rigting. Die pad van die valse leraars is ‘n pad van selfgesentreerdheid – selfbeheptheid, selfbelang, ‘n liefde vir geld en ‘n liefde vir genot eerder as vir God! Die leefstyl en loopbaan van Paulus staan in skrille kontras met die van die vals leraars. 

Paulus se lewe word bepaal deur ‘n liefde vir God en selfopoffering. Die pad wat Paulus geloop het en wat Timoteus nagevolg het is ‘n lewenswyse gekenmerk deur geloof, geduld, liefde en dit lei noodwendig tot vervolging en ontbering. “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (12) Kategoriese uitspraak! En dis waar van alle Christene, alle tye, in alle omstandighede... As jy dus nog nooit teenstand, bespotting of vervolging gekry het ter wille van jou Christenskap nie, dan is daar iewers fout... Hoor mooi ter wille van Christenskap – met ander woorde as jy ly omdat jy nie jou skuld betaal nie, is dit jou eie fout en nalatigheid. Dis iets heel anders as Christelike lyding! 

Terloops, Paulus het op baie plekke gely, maar hy noem waarskynlik juis hierdie drie stede in Galasië, naamlik Antiochië, Ikónium, en Listra, omdat Timoteus self ‘n inwoner van Listra was en heel moontlik ‘n ooggetuie was toe ‘n skare hom daar buite die stad uitgesleep het en met klippe gegooi het. (Vgl. Hand 16:1)* 

Die punt wat Paulus maak is – “Timoteus, daar sal altyd vervolging en swaarkry wees vir Christene en daar sal altyd die gevaar wees van goddelose bedrieërs wat ander mislei. Jy weet mos wat het met my gebeur!” 

AANMOEDIGING 

Timoteus het die regte pad geloop en nou wil Paulus hom aanmoedig om in die toekoms nog steeds die regte pad te bewandel. Teen die agtergrond van die misleiding van die mensgesentreerde boodskap van die dwaalleraars word Timoteus nou aangemoedig. (14) Die hoofsaak is: “Bly by wat jy geleer het.” Die boodskap wat jy by my as apostel geleer het. Moenie nou agter hierdie nuwe rigting en nuwe idees aanloop nie. Pasop vir die sogenaamde progressiewes! Progressiewe Christenskap is niks anders as regressiewe dwaling nie! Bly by die oorspronklike evangelie boodskap wat ek Paulus die apostel aan jou verkondig het. Terloops – as mense beweer dat hulle nou ‘n nuwe openbaring ontvang het, of dat God nou iets nuuts aan die kerk in die laaste dae bekend gemaak het- dan moet die rooi ligte flikker. Die evangelie is vir eens en altyd oorgelewer. God sal nooit n nuwe boodskap gee in stryd met die Skrif nie. Orals in die NT word ons opgeroep om vas te hou aan die boodskap wat reeds aan die apostels en kerk gegee is. “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Judas 3) 

Pasop vir nuwe morele waardes. Byvoorbeeld- Dwarsdeur die Bybel was God se bedoeling vir die huwelik ‘n lewenslange verbintenis tussen man en vrou – nou skielik wil mense dit verander, omdat ons in nuwe tye woon! Paulus vermaan Timoteus om te bly by wat hy van hom (Paulus) geleer het. 

DIE HEILIGE SKRIF HOU ONS OP KOERS! 

Maar nou - baie belangrik! Paulus se prediking het nie sommer uit die lug geval nie. Paulus se prediking was vanuit die Skrifte, gebou op die Skrifte! Luister na wat Paulus aan koning Agrippa tydens sy verhoor vertel in Handelinge 26:22. “Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het” (Vgl. Romeine 1:2) 

In ’n vyandige omgewing van misleiding en swaarkry, is daar net een manier hoe jy gaan oorleef - ken die Skrif! 

In die stormsee van teenstand en dwalings is daar net een manier hoe jy veilig gaan seil - as jy die kompas van die Woord het. Hoe gaan jy volhard as jy nie die beloftes van God ken wat mens krag gee om vas te byt nie? Hoe op aarde gaan jy onderskei wat is misleiding en wat is waarheid as jy nie spesifieke Bybelse kriteria en voorskrifte ken nie? Geestelike dwaling kom waar mense nie die Skrif ken nie... “Maar Jesus antwoord hulle: "Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22:29) Die groot vyand is Satan en sy bose magte - hoe oorwin ons en bly staande? Ons het 'n kragtige wapen nodig. Wat is dit? Die swaard van die Gees. En wat is dit? Die Woord van God! (Efesiërs 6:10ev)  Selfs Jesus het hierdie wapen gebruik tydens sy versoeking in die woestyn. "Daar staan geskrywe..." (Matteus 4.) 

Voordat die Woord vir jou tot nut kan wees, moet jy dit lees en ken. Toe onder die stof op jou bedkassie is die Bybel wat jou ouma jou geskenk het van weinig waarde! Ken die Woord soos jy die alfabet of maaltafels ken. Iewers het jy dit geleer - anders sou jy dit nie geken het nie. Iewers moet jy die Woord leer ken. En neem tog kennis, Timoteus het dit van kleins af geken. “en jy ken van kleins af die heilige Skrif.” (15) Die belangrikste kennis wat jy jou kind kan leer, is kennis van die Skrif. In Timoteus se geval was dit waarskynlik sy ma en ouma wat dit vir hom geleer het. 

DIE WAARDE VAN DIE WOORD 

Watter praktiese verskil maak Skrifkennis aan ’n mens? Anders gesê, waarom moet ek die Bybel ken? 

1) Dit vertel jou hoe jy verlos kan word. Dit lei jou na die Persoon, Jesus! “...Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.” (15) Ken jy dit? Weet jy wat ’n mens moet doen om gered te word? Sal jy dit met beloftes uit die Skrif kan verduidelik? As jy dit nie vir ander kan verduidelik nie, ken jy dit self waarskynlik ook nie. Dis tog op grond van die Skrifbeloftes wat mens glo, dat jy gered word. 

2) Dit rus jou as reeds verloste toe vir goeie werke. Dit vertel jou hoe om as kind van God op die regte manier uit dankbaarheid te leef. Paulus noem ’n paar praktiese dinge in vers 16. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,” Dis ‘n mondvol. Dink bietjie daaroor. 

Voel jy geestelik onseker, moedeloos en verward? Word jy gebombardeer deur versoekings en beskuldigings van Satan? Begin erns maak met die Woord. Dit verg ’n doelbewuste poging. 

Vat daai Bybel en begin dit lees en leer! Gaan na 'n kerk waar die Woord suiwer binne konteks uitgelê word!

GOD PRAAT MET JOU! 

Die kruks van die saak kry ons in 16. “die hele Skrif is deur God geïnspireer...” Glo jy werklik dat God deur hierdie boek praat? Die lewende God, die Skeppergod wat alles gemaak het, die genadige Verlossergod, ook die God wat ons eendag gaan oordeel... Hier in hierdie boek praat Hy duidelik en persoonlik met jou en my... Stel jy belang om te hoor wat Hy sê? 

Wat jy met hierdie Woord maak, gaan ’n radikale verskil in jou lewe maak NOU en EWIG! 

* “Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa ‘n Griek.”

Donderdag 05 November 2015

IS DIE EVANGELIE NOG RELEVANT?

Maak Jesus en die evangelie regtig ‘n verskil vir mense wat worstel met droogtes, geldelike probleme en siektes? Bied die evangelie enigsins hulp vir mense met hartseer, pyn, bekommernisse of vrese? Kom ons wees eerlik - Die meeste mense dink die evangelie is nie meer relevant nie! Daarom doen hulle selde die moeite om daarna te luister en nog minder moeite om dit te glo en daarvolgens te leef!

Jesus sê vir ons baie duidelik wat die relevansie en die belangrikheid van die evangelie is in MARKUS 10:28-31. Die agtergrond van Jesus se woorde is natuurlik sy ontmoeting met die ryk jongman. Die ryk jongman wou baie graag die ewige lewe verkry, maar hy was nie bereid om afstand te doen van die een groot ding wat hom verhinder het om Jesus te volg nie. Ons weet sy groot probleem, sy sonde wat tussen Hom en Jesus gestaan het was sy gierigheid – sy liefde vir geld en besittings. Toe Jesus hom dus uitdaag om afstand te doen daarvan en Hom te volg het hy bedruk weggegaan. 

So baie mense sien nie kans om Jesus te volg nie weens een of ander ding wat ‘n houvas op hulle het....

In teenstelling met die ryk jongman het Jesus se dissipels wel alles verlaat om Jesus te volg. Dit klink byna of Petrus so bietjie daarmee wil spog. “Petrus sê toe vir Hom: "Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U." (28) Dis asof hy wil sê, “Here neem asseblief net kennis, ons het alles opgeoffer om U te volg, wat sal ons beloning wees? Watse voordele gaan ons kry? Ons het gedoen waarvoor die ryk jongman nie kans gesien het nie” Jesus se antwoord sou ‘n baie insiggewende perspektief gee...

Kom ons vra net weer die vraag. Is die evangelie relevant? Maak dit ‘n positiewe verskil? Antwoord : JA! Hoekom?

Die evangelie is relevant in die eerste plek omdat ons sondaars is. Ons sonde is ons grootste probleem al besef ons dit nie, want ons sonde maak skeiding tussen ons en God en as daar nie iets aan gedoen word nie sal dit ewige finale skeiding (in die hel) bring. Dit was juis die ryk jongman se probleem. Hy het nie besef dat hy regtig ‘n sondaar was nie. Hy het uiterlik ‘n mooi lewe gehad- hy het nie egbreuk of moord gepleeg nie en ook nie gesteel nie... Maar intussen is sy lewe deur gierigheid oorheers. En toe Jesus hom uitnooi om Hom te volg en teen sy sonde van gierigheid te kies was hy nie bereid nie en moes teleurgesteld weggaan van Jesus. (22) So het hy die vergifnis en verlossing in Jesus misgeloop.

Goeie mense sonder Jesus is nog steeds verlore!

Die voordeel en relevansie van die evangelie is dat dit vergifnis en verlossing bring, vir die wat tot geloof en bekering kom. Jesus is die enigste oplossing vir ons sondenood en slawerny! En al word ons geknel deur droogte, al druk die skoen van finansiële verpligtinge en al mergel een of ander siekte ons uit – ons grootste las is ons sondelas en net Jesus kan ons van hierdie las bevry. Droogte is erg, maar dit kan ons nie uit die hemel hou nie, finansiële probleme is bitterlik swaar, maar dit kan ons nie uit die koninkryk weer nie, siekte is pynlik en vernietigend, maar weereens dit kan ons nie van God se liefde skei nie! Dis net sonde wat kan maak dat ons vir ewig in die buitenste duisternis sal beland, en dis hiervoor wat Jesus gekom het. Ons lees gelukkig van ‘n ander ryk man wat wel bereid was om Jesus in sy lewe te ontvang, Saggeus! Hy het bevryding gekry van sy gierigheid en bedrog. Dit het bewys dat niks vir God onmoontlik is nie. “Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: "Wie kan dan gered word?" Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik." (25-27) Vergifnis van sonde en die herstel van ons verhouding met God is die groot voordeel van die evangelie!

Maar daar is ook ander "voordele". Kyk weer na 29-30. “Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

Jesus sê in effek : Ja, mens verloor inderdaad baie om my te volg. Jy kan familie verloor (en ons weet dit gebeur, mense se familie draai teen hulle as hulle Jesus werklik wil dien), jy kan besittings verloor. (ons weet dit gebeur dat as mense eerlik in gehoorsaamheid wil leef dat hulle finansiële verliese ly) En tog gee die Here vir ons soveel meer seëninge. Moenie dt verkeerd verstaan nie, dit betken nie as jy Jesus begin volg gaan jy nou skielik 'n eiendomsmagnaat word nie! Nee, dit gaan oor Vaderlike seëninge binne die konteks van die Nuwe Verbond soos die Here dit wil geen en nodig mag ag. Dit gebeur veral binne die heerlike gemeenskap van gelowges. Dit kan wees in die vorm van geestelike broers en susters wat nader aan ons is as ons eie bloedfamilie. Geestelike tuistes! Natuurlik, die Here voorsien ook op wonderlike maniere in ons materiële behoeftes soos HY wil. Die punt wat Jesus wil maak is, nou reeds in hierdie lewe wen julle baie meer as wat julle ter wille van My verloor het! Maar dan voeg Hy onmiddellik by – “saam met baie vervolging.” In hierdie lewe sal die kind van God nooit net seëninge kry nie, vervolging en swaarkry ter wille van Jesus is onmisbaar deel van die pakket. Elke kind van God sal vervolging beleef – hetsy beledigings, valse beskuldigings, verwerping ... (2 Tim 3:12) In die bedeling wat kom, in die hiernamaals kry ons die ewige lewe. In hierdie lewe is die kind van God se seëninge altyd gemeng met swaarkry, maar in die toekomstige bedeling wag daar vir ons net seëninge. Anders gesê, nou is ons deel van die strydende kerk, eendag deel van die triomferende kerk! 

Nou bring die evangelie voordele gemeng met nadele, eendag sal dit net ewige voordeel wees!

Net ‘n slotwoord. Wat beteken vers 31? “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste." Dis moontlik ‘n subtiele berisping van Petrus. Jesus het dalk so ‘n tikkie selfvoldaanheid, ‘n bietjie gespog by Petrus opgetel. “Here, U moet darem net kennis neem ons het als verlaat ter wille van U, ons is darem oraait of hoe?” Jesus wil vir hom sê: “Onthou Petrus dis alles nog steeds net genade, die feit dat julle My volg is net genade. Moenie op julleself en julle goedheid vertrou nie. Ook julle wat My volg verdien niks nie. Moenie spesiale behandeling verwag nie. Alles, alles is genade, daarom is daar ook hoop vir laastes!” Ja, vir mense soos die ryk jongman is daar steeds hoop as hulle hulle bekeer en Jesus begin volg...

Saterdag 22 Junie 2013

JESUS EN DIE SWAARD

Wat maak ons met sy skokkende uitspraak in Matteus 10:34 en verder?

"Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.  Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees."

“Swaard en tweedrag”, kan dit regtig die woorde wees van die Prins van Vrede? Pas dit nie dalk eerder by Mohammed en sy Islam nie?

Die nag toe Jesus gebore is het die engele met hemelse note uitgeroep: “Vrede op aarde...” Inderdaaad het Jesus ‘n boodskap van vrede gebring en ander aangemoedig om vrede na te jaag. In die bergrede leer hy tog duidelik: “Geseënd  is die vredemakers want hulle sal kinders van God genoem word.” Jesus se hele doelwit was tog vrede. Hy het juis mos  gekom sodat daar vrede tussen ons en God kan wees. Jesus het ook sy dissipels uitgestuur met ‘n boodskap van vrede. Ons lees daarvan in die begin van hierdie hoofstuk: "As julle in ‘n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit.  As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe.” (Matteus 10:11,12)

Maar hoe nou? Ons hoor dan nou dat Jesus self sê dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard en tweedrag! Weerspreek Jesus homself of het die skrywer Matteus iewers ‘n liederlike fout begaan?

Kom ons kyk bietjie mooi na hierdie gedeelte in sy konteks.  Jesus stuur sy dissipels op ‘n sendinguitreik en berei hulle voor vir die teenstand wat hulle te wagte kan wees.  Hy praat openhartig oor die vervolging wat voorlê, maar herinner hulle ook daaraan dat hulle nie mense met beperkte mag hoef te vrees nie, maar eerder God, wat liggaam en siel in die hel kan laat vergaan. In die lig hiervan spoor Hy hulle aan om sy naam openlik te bely. Hierdie dinge kan hulle dalk vir hulle vreemd op die oor val en daarom gee Hy nou ‘n belangrike perspektief op sy koms en doel.  Dis asof Hy wil sê: “Julle moet nie verbaas wees oor al hierdie moeilikheid wat ek vir julle voorspel nie, julle moet verstaan dat my boodskap  en bediening noodwendig tot vyandskap en tweespalt gaan lei.”

Ons kry in Jesus se woorde ‘n rowwe verwerkte aanhaling uit  die Ou Testamentiese profeet  Miga. “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword. Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (Miga 7:6) Dit gaan daaroor dat die profeet weet dat hy teenstand en vyandskap van sy eie mense sal moet verduur (dalk sy vrou – sien vers 5) om in die geloof te volhard.

Jesus bring verdeeldheid omrede nie almal sy boodskap van vrede aanvaar nie. Sommige reageer positief en bekeer hulle, ander verset hulle bly onbekeerd en verhard. Reeds toe Jesus die twaalf apostels uitgestuur het, het Hy met hierdie dubbele reaksie rekening gehou en hulle daarop voorberei. Daarom sê vir hulle:

“As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.
As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.
Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp." (Matteus 10:13-15)

Die probleem is nie by Jesus se boodskap nie, maar by die mense wat sy boodskap van bekering en vrede verwerp!

Omdat nie almal Jesus se boodskap aanvaar en voor Hom wil buig nie, omdat sommige vir Jesus en ander teen Jesus kies, bring dit verdeeldheid binne ‘n gemeenskap, ja, selfs binne families, huisgesinne en eggenotes! Die evangelie bring nou reeds ‘n mate van skeiding in aanloop tot die groot en finale skeiding wat eenmaal by die wederkoms sal plaasvind. Die eggo van Sodom en Gemorra (15) is ‘n belangrike leidraad. Net soos die engel wat Lot hulle kom waarsku het, aangedring dat hulle hulle moes afskei van hulle ongelowige verwante en stadsgenote in die aangesig van die naderende oordeelsvuur, net so skei Jesus mense af van die ongelowiges deur die verkondiging van sy bekeringsboodskap!

Jesus se woorde oor die familie in vers 37 klink baie hard. “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.” Wat sou dit beteken? Natuurlik, Jesus begeer nie familietwis nie, maar Hy wil tog nie hê dat mense ter wille van familie se opinie en invloed die ewige lewe moet misloop nie!* Om Jesus te volg kom eerste, al moet ek dan nou my ongelowige ouers of rebelse kinders ongelukkig maak en myself hulle gramskap op die hals haal!

Neem standpunt in vir Jesus in alle omstandighede, anders is jy nie werd om Hom te volg nie!

Die rede vir die ervaring van verwerping deur jou eie mense kry ons in vers 38. Jesus sinspeel duidelik hier op sy eie kruisdood. Ja, Jesus is die bewerker van ewige vrede, maar juis sy boodskap en optrede het die swaard eerstens oor Homself gebring.  Jesus se pad na vrede het via die bittere en eensame kruisdood geloop. Sy verkondging van God se wil het daarop uitgeloop dat Hy op wrede manier gekruisig is. Jesus is deur die wêreld gehaat en vervolg, en daarom moet ons wat aan Hom behoort ook bereid wees om gehaat en vervolg te word.

Vra jouself : Word ek vervolg oor my Christenskap?

Ons keuse om ter wille van Jesus vervolg te word, is maar net die verlengstuk van sy eie lyding in hierdie wêreld! Die lojaliteit teen die gekruisigde Jesus maak ook ons onaanvaarbaar vir ander mense!

Jesus se woorde moes baie skokkend vir die dissipels gewees het! Dit klink nou asof volgelingskap van Jesus net tot onmin, geweld en vernietiging sal lei!  Is dit dan nog die moeite werd om Jesus te volg? Bring dit nie maar net moeilikheid nie? Daarom bemoedig Hy hulle in vers 39. Wie op aarde sy lewe verloor (dit verwys na al die vyandskap en teenstand wat God se kinders moet verduur, selfs tot die dood toe) sal dit juis vind! Die tydelike verliese wat ons lei omdat ons Jesus volg, word opgevolg  met ewige wins! Die wins van die Koninkryk!

Jy sê jy wil Jesus volg. Dis goed so. Maar wees realisties, wees voorbereid om harde bene te kou, dink mooi voor jy sommer net "ja", sê.  Hou rekening met die gevolge. (sien Lukas 14:28ev) Hier op aarde gaan dit vir jou nie altyd vrede bring nie.  Moet onder geen illusie leef nie. Moenie van die mensdom beter behandeling verwag, as wat Jesus te beurt geval het nie. Maar weet ook, dis oor en oor die moeite werd om jou openlik met die verworpe gekruisigde Jesus te identifiseer! By Hom alleen vind ons die lewe!

Jesus is nie ‘n populistiese people’s pleaser  of ‘n beginsellose verdraagsaamheidsvraat nie!

“Jesus en die swaard”, impliseer nie ‘n wrede Jesus nie, maar ‘n Jesus wie se kompromislose liefdesboodskap van bekering en vergifnis vir die meerderheid van sondaars onaanvaarbaar is - daarom het die swaard op Hom (en sy volgelinge) neergekom! Jesus bring noodwendig verdeeldheid, want niemand kan neutraal staan teenoor Hom nie!

Aan wie se kant is jy?


*Eksegese : erkenning aan Jakob Van Bruggen 

Dinsdag 24 April 2012

HANS NIELSEN HAUGE

- ‘n Noorweër wat ons oproep tot ‘n radikale lewe.

Die afgelope tyd is die wêreld weer herinner aan die massamoordenaar van Noorweë, Anders Breivik se gruweldade. Terwyl Breivik altyd onthou sal word vir sy radikale boosheid, is daar ‘n ander Noorweër wat ons gerus kan onthou vir sy radikale toewyding aan God. Hans Nielsen Hauge is deur God aangeraak en uitgestuur as ‘n lekeprediker en het ‘n merkwaardige geestelike sowel as ekonomies-maatskaplike invloed op Noorweë gehad. Die Here het hom kragtig gebruik in ‘n tyd toe die Lutherse staatskerk van Noorweë gebuk gegaan het onder ‘n dooie tradisionalisme.

Hans Hauge is in 1771 gebore as die vyfde van tien kinders en het op die familieplaas grootgeword naby Tune in die distrik Østfold.  Hulle was ‘n godsdienstige gesin, wat elke Sondag kerk toe gegaan het en as hulle nie kon nie, hardop uit Luther se versameling preke gelees het. Hans was self ook lief vir lees.

Op 5 April 1796 het ‘n ontmoeting met God, Hauge se lewe omgekeer. Dit was terwyl hy op die landerye gewerk het. Soos ‘n Elisa is hy agter die ploeg geroep.  Hy beskryf sy bekering as volg:

 “Soms het ek op my knieë neergeval en God almagtig gebid om ter wille van Jesus sy Seun my te vestig op die geestelike Rots, Christus Jesus... Een dag terwyl ek buite gewerk het onder die oop lug, het ek uit my kop uit ‘n lied gesing : “Jesus ek verlang na U geseënde gemeenskap” Op daardie oomblik is my gedagtes so opgehef, dat ek nie bewus was van myself nie en ook  kan ek nie verduidelik wat in my siel plaasgevind het nie. Want ek was buite myself. Onmiddellik toe ek weer tot my sinne kom, is ek gevul met berou dat ek nie hierdie liefdevolle transendente goeie God gedien het nie. Nou het dit vir my gelyk asof niks in hierdie wêreld enigiets werd was nie...”

Hauge het God gevra wat hy moes doen en die antwoord in sy hart was :  “Jy moet my Naam bely voor die mense, roep hulle op tot bekering en om my te soek terwyl Ek gevind kan word en aan te roep terwyl Ek naby is en hulle harte aan te raak dat hulle hulle mag wegkeer van die duisternis tot die lig.”

Vir Hauge het alles inderdaad nuut geword. Hy het ‘n begeerte gehad om die Bybel te lees en nuwe insig ontvang om dit te verstaan. Ook was daar ‘n diep liefde vir God by hom en ‘n begeerte dat andere ook deel sal kry aan hierdie genade wat hy ontvang het. Die eerste persone wat deur die nuutgemaakte Hans beïnvloed  is, was twee van sy eie susters op daardie selfde dag. Dit was die begin van ‘n herlewing wat eers die bure in Tune aangeraak het, daarna die naburige dorpie en uiteindellik ‘n geweldige invloed op Noorweë as geheel.

Hauge was ‘n doelgerigte, vasbeslote en hardwerkende mens. Hy het oor die land heen gereis, meestal te voet en gepreek.  Dikwels word Christenwerkers daarvan beskuldig (miskien soms tereg) dat hulle ver van die werklikheid leef met hulle koppe in die hemel en op ander teer... Wel, niemand sou so ‘n verwyt voor Hauge se kop kon gooi nie. Terwyl hy geloop het, het hy gebrei en dan die handskoene en sokkies weggegee aan armes. Hy het ook ‘n besondere besigheidsvernuf en inisiatief gehad wat daartoe gelei het dat hy verskeie industrieë opgerig het. Sy aktiefste jare was tussen 1800 en 1804. Van Lista in die suide tot Tromsø  in die noorde was hy betrokke by die vestiging van fabrieke, myne, meulens, drukkerye ens..

Hauge was ‘n populêre prediker. Hy het met krag en gesag gepreek in ‘n taal wat die mense kon verstaan. Hy het orals gepreek waar mense bymekaargekom het : huise, kerktrappe, fabrieke... Hy het gepreek oor sonde, die Christelike lewe en hoe om die pad na God te vind. Maar hy het ook nie gehuiwer om te praat oor die Christen se verantwoordelikheid teenoor sy medemens en die gemeenskap waartoe hy behoort het nie. Hauge het ‘n God gegewe liefde vir sy medemens gehad, wat deur mense raakgesien is en gemaak het dat hulle hom vertrou het. 

Hauge het sy boodskap ook nie net deur prediking oorgedra  nie. Gedurende 18 jaar het hy 33 boeke gepubliseer en daar word geskat dat 100 000 Noorweërs een of meer van hulle gelees het  in ‘n tyd toe daar ongeveer 900 000 geletterdes in die land was. 

Verenigings van Vriende (ook genoem Haugiane) is georganiseer soos die herlewing deur die land versprei het. Hulle het by huise bymekaargekom en tyd in gebed en lering spandeer. Hierdie mense het mekaar nie net geestelik nie, maar ook prakties bygestaan. (soos om tuisnywerhede te begin) Die klasseverskille in die landbou samelewing is ook oorbrug deurdat daar plek was vir boere, knegte, kreupeles en ou mense. Hauge het leiding gegee aan hierdie Verenigings van  deur sy briewe. Hierdie briewe het gehandel oor beide geestelike sake en besigheidsaangeleenthede.

Hans Hauge se suksesse moet ons nou nie laat dink dat sy pad heeltyd met gerief en lofredes besaai was nie. Verre daarvandaan! Teenstand, valse aanklagte en vervolging het sy lewe gekenmerk. Sy prediking het die vyandskap van kerkleiers en owerhede opgewek omdat hy volgens hulle die “Konventikkel Ordonnansie” van 1741 oortree het. Hiervolgens het die predikante die alleenreg gehad gehad om God se Woord te preek en leke kon dit net doen in die teenwoordigheid van die leraar van die kerk. Afguns op Hauge se sukses en invloed het hom seker ook  nie juis geliefd onder sommige ampsdraers gemaak nie. Hauge is altesaam tien keer gearresteer en was van 1804 tot 1811 meestal  in die tronk.  Aan die einde van sy lewe het Hauge wel respek by die owerhede afgedwing. Maar volgens alle aanduidings is sy gesondheid deur die gevangenisstraf aangetas.

Hauge het ook persoonlike smart op ander terreine geken. Na sy vrylating uit die tronk het hy by Bakkehaugen naby Christiana gaan bly as boer en nyweraar. In 1815 is hy met Andrea Andersdatter getroud wat met die geboorte van sy seun, Andreas gesterf het. In 1817 is hy weer getroud met Ingeborg Marie Olsdatter. Al drie kinders wat hy by haar gehad het, het gesterf.  Op 29 Maart 1824 is hierdie besondere kneg van die Here oorlede.

Na Hauge se dood het sy erfenis voortgeleef in die mense wat deur sy boodskap aangeraak is. In 1842 het die Haugiane en die Morawiërs, Noorweë se eerste sendinggenootskap, die Noorweegse Sendinggenootskap gestig. Die baie Noorweërs wat in sy leeftyd na Amerika geëmmigreer het, het tot gevolg gehad dat sy invloed ook daar in die Amerikaanse Lutheranisme  uitgedra is.

Die geskiedenis van Hans Hauge het ‘n hoopvolle boodskap van God vir ons in ons tyd van afvalligheid in  kerk en samelewing:
  • Die soewereine God is enige tyd instaat om ware predikers van die Woord op te wek ongeag hoe donker die omstandighede. Dis uiteindelik die Here van die oes wat self arbeiders uitstuur en ons word opgeroep om juis daarvoor te bid. (Lukas 10:2) God gebruik nie net  geordende leraars nie, maar elkeen wat waarlik geroep is.
  • Die oplossing van ons land se geestelike nood, lê  nie in die stigting van nuwe denominasies nie, maar in herlewing van die lidmate van die  bestaande kerke. Hauge het in die Lutherse kerk en teologie gebly, maar juis binne hierdie raamwerk sy kragtige boodskap van bekering gebring. Daar word te vinnig in ons dag, nuwe kerke gestig asof dit nou 'n verskil sal maak. 
  • Die aanvaarding van die ware evangelie as verlossingsboodskap mag ons nooit blind maak vir mense se tydelike nood nie. Dit maak ons ook nie afsydig teenoor die harde bestaanswerklikhede rondom ons nie. Hauge het leer en lewe bymekaargebring. Die Christen se daaglikse werk is deel van sy aanbidding!* Dis 'n etiek wat al deur Luther na vore gebring is en waaraan ons in ons samelewing 'n groot behoefte het.
  • Die prys vir getrouheid aan die waarheid is lyding en vervolging. (Is ek en jy bereid daartoe?) Hieroor moet daar geen illusie wees nie, die wat vrugdra sal vervolg word. Die grootste vervolgers van God se ware kinders sal juis  kerkmense wees, wat die gedaante van godsaligheid het, maar nie die krag daarvan ken nie.
* Die bron stel dit in Engels "work is part of worship" Verskeie bronne op die Internet is geraadpleeg, o.a. ook Wikipedia.


 Hauge standbeeld in Oslo