BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 21 Februarie 2014

SONDE IS NIE SNAAKS NIE

- kom ons los die grappies daaroor en bestraf liewer die duisternis!

God haat sonde. Hy maak nooit grappies daaroor nie. Trouens Hy neem dit so ernstig op dat Hy sy eie geliefde Seun die allervreeslikste marteldood laat sterf het, om ons daardie straf, wat ons sonde oor ons gebring het, te spaar.

Sonde mag nooit ‘n onderwerp vir vermaak wees nie, want volgens God se Woord behoort ons nie eers te praat oor die dinge wat die goddeloses in die geheim doen nie.

“Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. 

Wees dan nie hulle deelgenote nie. 

Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here--wandel soos kinders van die lig. 

Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid. 

En beproef wat die Here welbehaaglik is; 

en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. 

Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.” (Efesiërs 5:6-12)

Hoe kan ons lag, grappe maak (en hande klap!) oor wellus, homoseksualiteit en dronkenskap – dis dan als dinge wat die Heilige God se toorn opwek?  Die kind van God is mos juis iemand wat van hierdie soort goed verlos is, hoe kan ons dit nou weer amusant vind? En wat is die boodskap wat ons oordra deur hierdie sondes as "vermaak" te beskou, wil ons vir ons kinders nou laat verstaan dat hierdie dinge darem nie so erg is nie? Dis die euwels waarteen die Woord ons waarsku dat diegene wat daaraan skuldig is nooit die koninkryk van God sal beërwe nie. Vieslikheid bly vieslikheid al word dit as vermaak aangebied. Sonde kan met geen verskoning of verduideliking opgedollie word om minder aaklig te wees nie. Dit moet net met minagtig, verwerp, bely en laat staan word. "Verafsku wat sleg is," sê die Woord.

Lig is lig en duisternis is duisternis... ons moenie hierdie twee dinge probeer meng en God se toorn op ons laat afkom nie... “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.” (Jesaja 5:20)

Vrydag 14 Februarie 2014

MEER AS BOEREMATRIEK

- openbare belydenis van geloof maak net sin as dit ‘n saak van hart en mond en lewe is!

Paulus se groot begeerte en wens (wat hy so duidelik in Romeine 10 uitspreek) is dat sy eie volksgenote gered sal word! Dit lê hom baie na aan die hart. (Dis seker ook die begeerte van elke wedergeborene vir sy naaste.) Hy is diep besorg oor sy mense, dat al is hulle godsdienstig en al het hulle die wet, hulle nog steeds verlore is, sonder hoop vir die ewigheid! Hoor sy versugting : “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry." Die OAV stel dit treffender : “hulle probeer hulle eie geregtigheid oprig”

Ja, alle mense (ook goeie godsdienstige verbondsmense) het nodig om gered te word. Dis so, want almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. Alle mense staan inderdaad onder die oordeel van God.

Daar is slegs twee opsies oor hoe om gered te word : die mens se eie manier of God se manier. 

Ons kan dit ook noem die mens se plan of God se plan. Eersgenoemde lei tot mislukking en teleurstelling, laasgenoemde tot ewige heerlikheid!

MENS SE PLAN

Die mens se plan is ‘n selfhelp plan. Ek probeer om God tevrede te stel, ek probeer om God se guns te wen deur sekere dinge self te doen. ‘n Mens kan dit vergelyk met die klim van ‘n LEER. Deur sekere prestasies en pogings probeer die sondaar self opklim na God. Ek probeer met menslike inspanning loskom van my sondeskuld. 

Kom ons kyk na ‘n paar van die sporte van hierdie leer :

Godsdienstigheid – sommiges dink omdat hulle lidmaat is van ‘n kerk, darem so af en toe kerk toe kom of sekere godsdienstige pligte nakom, al hulle sondes vergewe word.

Sakramente – baie mense redeneer dat as hulle gedoop is en die nagmaal mag gebruik is hulle outomaties kinders van God.

Seremonies – ‘n groot getal mense dink dat ‘n paar kerklike seremonies en rituele hulle gaan red. Hoe anders verklaar mens so baie se totale afwesigheid by die byeenkomste van gelowiges, maar die enorme gewildheid van kerklike begrafnisse? Dis niks anders as bygeloof nie...

Moralisme – ek dink my mooi lewe en goeie waardes sal vir my vrede bring by God. Ek probeer minder vloek, ek probeer om “Christelik” op te tree, ek voel darem ek is nie heeltemal so sleg soos party ander mense wat ek ken nie. Ek dink die Here sal my in die hemel toelaat, want ek help mos darem graag ander mense. (Waarskynlik maak die meerderheid van kerkmense staat op moralisme, al besef hulle dit self nie)

Moenie ‘n fout maak nie, mense wat op hierdie selfhelp leer probeer opklim na God is dikwels baie opreg en vol ywer! Maar dit help niks nie. Dis wat Paulus van sy eie volk sê. (kyk weer na vers 2 hierbo) Maar hoeveel die ywer ook mag wees, die leer van menslike verdienste sal altyd te kort wees...

Dis juis die ironie, die leer van menslike verdienste is oneindig lank en vermoeiend, maar dit bly altyd te kort om die Goddelike standaard van geregtigheid te bereik...

GOD SE PLAN

God se plan, God se oplossing is naby, dis hier by ons. Ek hoef nie ver te gaan soek nie! (8) God se plan is Sy Seun Jesus Christus wat vir sondaars gesterf het en ons volle straf (wat ons verdien het) gedra het aan die kruis en weer opgestaan het uit die dood! Anders gesê, GOD STEEK SY HAND EERSTE UIT na ons deur Jesus Christus. 



God inisieer en bewerk ons redding. Ons moet wel God se plan aanvaar, ons moet dit glo – nie net uit gewoonte of met ons verstand nie, maar met ons hart! Dis ‘n keuse wat my diepste binneste raak. Dis ‘n ontmoeting met die lewende Jesus deur die geloof! Hierdie geloof sal natuurlik ook sigbaar word. Ek bely dit met my mond. Dit is behels nie net om ja te sê nie, maar om my keuse om Jesus te volg telkens weer openlik met my mond en dade te bevestig. Dis om nie net 'n eenmalige belydenis in die kerk nie, maar ook om môre by die skool as ek voor keuses gestel word, openlik te sê : “Jong, ouens ek kan nie saam met julle lag vir hierdie vuil grap nie, ek kan nie saam met julle hierdie ding doen nie, ek gaan nie na hierdie smerige fliek kyk nie, want ek behoort aan Jesus!” Om so my aan Jesus se kant te skaar is iets heel anders as moralistiese selfredding, dis heilige en lojale dankbaarheid vir my redding uit genade! 

Belydenis is ‘n daaglikse voortgaande aksie. Dit beteken dat ek nie skaam moet wees om smaad en spot ter wille van Jesus Christus te verduur nie!

AFGRYSLIKE TELEURSTELLING OF SEKER HOOP?

As ek op die leer van menslike planne staatmaak is daar geen hoop nie. Op die oordeelsdag wag daar ‘n afgryslike teleurstelling. As ek egter God se plan, Jesus as Here aanvaar, kan ek seker wees van my bestemming. Ek sal nie teleurgestel word nie. “Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie." (11) Wat beteken dit om in Hom te glo? Hoe kom ek tot geloof in Hom? Ek roep Sy Naam aan. Ek vra Hom om my te red en vertrou dat Hy sy beloftes sal hou. “want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word." (13)

Ongelukkig is belydenisaflegging (of selfs ook die belydenisdoop) vir baie mense bloot ‘n seremonie. In die ou dae het hulle selfs gepraat van boerematriek, asof dit jou sleutel tot die volwasse lewe, trou en kinders kry sou wees! Hoor mooi, as jou belydenisaflegging bloot ‘n seremonie is, dan is jy maar weereens net besig om ‘n trappie te klim op die leer van eie geregtigheid. Dis nutteloos, dit kan jou nie red nie – en dis my plig om jou te waarsku hieroor... Maar as dit wat jy met jou mond bely (het), waarlik die oortuiging van jou hart is, dan het dit groot waarde, want hoor die belofte van God... “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.” (Romeine 10:9,10)

Baie geluk aan :


[Mariselle Stofberg, Charis van Eeden, Jacquiline Fryer, Karien Ströh, Marius Smit, Dannè Stoman, Ju-An Smit, Jacqueline Boshoff, Elrika Grobbelaar, Michael Faulds, Colette Rossouw]

Maandag 10 Februarie 2014

DR. WILLIE MARAIS OORLEDE

- die ontmoeting met die slegste vrou in Kaapstad

Die welbekende prediker en geestelike vader van baie, dr. Willie Marais is volgens 'n berig gister oorlede. Hierdie getuie van God is oor jare heen deur die Here gebruik om baie mense na die Verlosser te lei. Soms was dit weens ‘n besondere woord van “wysheid” op die kansel. Onder diegene wat Christus as Verlosser onder sy dienste gevind het, was ook die “slegste vrou in Kaapstad” Dr. Willie vertel self daarvan in sy outobiografie, “‘N MAN DEUR GOD GESTUUR”

Tydens een van my preke in ‘n gemeente in Kaapstad, het ek in my boodskap gesê : “Al sit die slegste vrou in Kaapstad vanaand in hierdie gebou en sy sou haar tot God bekeer,

Woensdag 05 Februarie 2014

DIS MOS VIR ‘N GOEIE DOEL!

- morele pragmatisme of gehoorsaamheid aan God se Woord?

Volgens watter beginsels neem die gemiddelde mens (maar dikwels ook die Christen en kerk as geheel) deesdae besluite? Vra ons nog wat God se Woord sê, of kyk ons eerder na wat gerieflik en voordelig vir onsself is?

Die aangrypende gebeure in 1 Samuel 15 wat fokus op koning Saul se ongehoorsaamheid roep ons om weer ‘n bietjie oor hierdie aspek van besluitneming en alledaagse keuses te dink.

God gee ‘n opdrag, maar koning Saul maak sy eie slim plan...

Saterdag 01 Februarie 2014

VERPLIG TOT VOORTDURENDE VREUGDE

– hoe om blydskap te bou en te behou! 

In 1 Tessalonisense 5:16-17 lees ons: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Ja, kort en kragtig kom die opdrag na die kinders van God : “Wees altyd bly!” Dis ‘n opdrag – nie maar net ‘n stukkie goeie raad van ‘n motiveringspreker, onderwyser of predikant nie, maar ‘n bevel van God. Dis wat God van ons verwag...

Goed dis ‘n opdrag, maar hoe gaan ons dit regkry? Ja, bly is ons partykeer, maar ALTYD bly - is dit hoegenaamd realisties uitvoerbaar?