BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Reën. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Reën. Wys alle plasings

Vrydag 25 Oktober 2019

BID VIR REËN?


DIS DUIWELDOR DROOG EN VERSKROEIEND WARM 


Hier in Namibië smag ons met elke vesel in ons liggame na reën. Almal van ons. Boere of nie boere. Mag ons bid vir reën? Wie mag bid vir reën? Die antwoord op hierdie vraag is nie so eenvoudig soos dit op die oor af mag klink nie. Droogte is ‘n komplekse saak. Dit het nie net met reënval en El Nino te make nie, maar ook met gierigheid, met jare se oorbeweiding en roekelose veldbestuur. En dan leer die Bybel boonop vir ons dat God vir Elia op ‘n keer aangesê het om te bid dat dit NIE moet reën nie. Vir drie jaar en ses maande lank! (Jakobus 5:17) Hoe nou? 

Die modelgebed van Jesus, die Onse Vader (Lukas 11) wys vir ons ‘n duidelike pad aan. Maar baie belangrik ons moet nie net na die Onse Vader in isolasie kyk nie, maar die hele lering van Jesus oor gebed in Lukas 11:1-13 oordink. (Maak jou Bybel hier oop) 

OP REIS 

Hier in Lukas is ‘n bepaalde konteks wat baie belangrik is. Wat is dit? Vanaf Lukas 9:51 word dit duidelik dat Jesus doelgerig op reis was na Jerusalem om daar te gaan ly en daarna na die hemel te vaar. In Lukas 13:1 word ons as’t ware herinner aan Jesus se reis situasie deur die gebruik van die woorde “sekere plek, êrens” (NAB). Iewers op pad. Die dissipels kom op hierdie tydstip met ‘n versoek (nadat hulle Jesus sien bid het) dat Jesus hulle moet leer bid. ‘n Gepaste gebed vir hulle tyd en omstandighede. Onthou, Jesus en Sy dissipels is besig met ‘n opmars na Jerusalem. Die dissipels sou wonder : “Gaan die koninkryk nou kom, het die tyd van oordeel nou aangebreek? Gaan die groot insameling van die oes nou plaasvind? Hoe moet ons nou bid?” 

In hierdie situasie is dit opvallend dat Jesus spesifiek hierdie gebed vir Sy dissipels leer. 

MODELGEBED VIR DIE GEVAARLIKE PAD 

Net kortliks die inhoud van die gebed. Dit begin met ‘n aanroep van die Vader. (by einde van hierdie stuk lering kom Jesus weer terug by die onderwerp van “Vader” - vers 13). Daarna is daar drie uitroepe (“U Naam, U Koninkryk, U wil”) waarin die bidder God se beloofde toekoms toejuig en dringend vra dat dit mag aanbreek. Dit word dan gevolg deur drie afsonderlike versoeke. Al drie hierdie versoeke het betrekking op die bidders wat op pad is na God se beloofde ryk. Dis belangrik om raak te sien dat hierdie gebed nie oor twee losstaande afsonderlike sake gaan nie. ( eers God se eer en dan bloot ons behoeftes nie) Nee, dis juis mense wat onderweg is na die koninkryk wat lewensbehoeftes (fisiese versorging) nodig het, wat vergifnis nodig het, wat beskerming teen die Bose nodig het. Hierdie behoeftes gaan nie sommer oor versoeke van die mens in die algemeen nie. Dis dinge waarvoor mense net kan en mag bid in hulle ywer vir die koninkryk. In hulle op pad wees na die koninkryk. Hierdie is hoegenaamd nie versoeke wat in diens mag staan van ons eie selfsugtige behoeftes en ideale nie. Dit gaan oor versoeke binne koninkrykskonteks. 

Dis heel waarskynlik dat die gebed wat Jesus hier vir Sy dissipels geleer het, bots met die verwagting wat hulle op hierdie stadium gehad het. Hulle het gedink die finale heerlikheid gaan nou aanbreek in Jerusalem, die Messias gaan nou Sy koninkryk triomfantelik vestig. Ons weet mos dat hulle ten spyte van Jesus se duidelike lering oor Sy naderende lyding , dit nie juis kon sluk nie. Hulle het vir hulle self ‘n triomftogsituasie voorgestel. Hulle wou ‘n nuwe gebed leer wat by hierdie verwagtinge inpas. En nou? Nou leer Jesus vir hulle ‘n gebed wat hulpbehoewendheid veronderstel (daaglikse brood), wat sonde en versoeking veronderstel (vergewe ons...), wat aanvegtinge en stryd veronderstel (bewaar ons van die Bose). Jesus leer hulle nie ‘n gemakstoel gebed nie, maar ‘n reisgebed vir ‘n gevaarlike pad. 

Die toekoms wat Jesus sou bewerk word voer die dissipels langs ‘n gevaarlike pad. ‘n Pad wat voortdurende afhanklikheid sou vereis. ‘n Pad wat besaai is met beproewing en stryd. Die goeie nuus egter is dat op hierdie gevaarlike pad, hulle op Jesus se gesag met vertroue tot die Vader kan bid. 

Die pad is gevaarlik maar ons kan met vertroue bid. 

DIE VRYMOEDIGE VRIEND 

Die gedagte van vertroue word nou verder deur Jesus onderstreep met ‘n gelykenis. Dis seker nie toevallig dat hierdie gelykenis juis handel oor iemand wat op reis was nie! (6). Moontlik wil Jesus ook aansluit by die “ons” van die gebed wat Hy aan sy dissipels so pas geleer het. Dis ‘n vriend wat namens ‘n ander vriend hulp vra by ‘n vriend. Gebed gaan nie bloot oor onsself nie, maar die ander wat saam met ons op pad is. Hoe dit ook al sy, die hoofsaak wat Jesus met die gelykenis onder ons aandag wil bring is die vertroue en die versekering wat met die vrae gepaard gaan. Die een wat klop maak staat op die vriendskap van die slapende vriend wat reeds in die bed is. Daarom is hy onbeskaamd, vrypostig. Let wel die onbeskaamdheid verwys na die onbeskaamdheid van die kloppende vriend. Sy onbeskaamdheid, sy buitengewone vrymoedigheid blyk duidelik dat hy op so ‘n onbehoorlike tyd aanklop om hulp te vra namens ‘n ander vriend. Die punt is : Leerlinge van Jesus mag maar met groot vrymoedigheid by die Vader kom aanklop. 

Wanneer ons nood ervaar (ook in droogte) op ons pad na die Koninkryk mag skaamte ons nie weerhou om God te nader nie. 

DIE KLIMAKS VAN GEBEDSVERHORING : DIE HEILIGE GEES 

Die versekerings van vers 9-10 moet ons ook binne koninkrykskonteks verstaan! Jou vra, jou soek en jou klop op pad na die koninkryk sal nie op dowe ore val nie! Die lering sluit af met die voorbeeld van ‘n pa wat telkens vir sy kinders die beste wil gee. As dit die houding is van ‘n onvolmaakte aardse pa, hoeveel te meer dié van ons volmaakte Hemelse Vader! 

En wat is die beste wat Hy vir ons gee! Wat is die toppunt van gebedsverhoring? Die Heilige Gees! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra." (Lukas 11:13) Die inwoning van die Gees is immers die duidelike bewys en deposito dat die koninkryk onstuitbaar op pad is! Dat al God se beloftes vervul gaan word! Vir die eerste dissipels is hierdie belofte met Pinksterdag vervul. Dit vind ook daagliks neerslag in ons lewe, as ons ‘n lewe leef onder beheer van die Heilige Gees! 

KOM ONS RAAK PRAKTIES 

1.Gebed is bedoel vir God se kinders. Dis die unieke voorreg van elkeen wat God, Vader kan noem deur Jesus Christus. Ons mag dus bid vir bepaalde behoeftes in ons op pad wees na die koninkryk : fisiese versorging (en dit is ook reën) , vergifnis, beskerming teen die bose. Wat ‘n wonderlike troos - Jesus skryf hierdie gebed voor omdat Hy bewus is van ons omstandighede op die pad - ons behoeftes, nood, swakheid en gevare waarmee ons te kampe het. 

2. Ons mag nie net nie, ons moet bid. Sonder hierdie gebed sal ons dit nie oorleef op pad na die koninkryk nie! Skaamte mag nooit in ons pad staan nie. Nooit hoef ons terug te deins om te vra nie. Ons Vader is meer as ‘n vriend, meer as ‘n aardse vader met gebreke. Hy is ‘n volmaak liefdevolle Vader. Ons mag maar vra, ons het die versekering uit Jesus se eie mond. 

3. Belangrik : Dit wat ons mag vra, dit waartoe ons aangespoor word om met vrymoedigheid te vra, mag nie in diens staan van ons eie sondige en selfsugtige belange nie. Dit gaan wel ook oor ons behoeftes, maar oor ons behoeftes as mense met ‘n koninkryksvisie. Op pad na die God bedoelde toekoms! Die fokus mag nooit wees myself en my welvaart nie, maar die eer van God! 

Die implikasie is : 

Reën mag nie vir ons belangriker wees as God se eer nie! (Neem ek en jy standpunt in vir dit wat eer bring aan God en teen dit wat Hom beledig en oneer aan doen?) 

Reën mag nie vir ons belangriker wees as bekering nie! 

Reën mag nie belangriker wees as heiligheid nie. 

Reën mag nie belangriker wees as ‘n begeerte om daagliks God se wil te doen nie! 

Reën mag nie belangriker wees as ons bywoning van eredienste en ons bereidheid vir sendingwerk nie. 

Kortom, as ons meer smag na reën as wat ons smag na die krag en die leiding van die Heilige Gees in ons lewens, is daar fout! 


Wie nie met erns bid vir en smag na geestelike reën – (die aanbreek van die koninkryk) nie, het geen reg om vir fisiese reën te vra nie!

Mag God ons beide skenk uit genade!



Dinsdag 01 Desember 2015

BLYDSKAP OOR MY NAAM IN DIE BOEK...

-die grootste vreugdesfeit wat die vyand nie kan roof nie en selfs die westewind* nie kan wegwaai nie! 

Daar is baie dinge wat ons bly maak – goeie eksamenuitslae, finansiële voorspoed, gesondheid, reën (ja, veral reën as jy in Namibië woon), allerhande suksesse... Dis nie verkeerd nie, dis normaal om bly te wees oor hierdie dinge...Die probleem met hierdie blydskap is dat dit net so maklik as wat dit kom ook kan verdwyn... dit gaan nie altyd goed met die eksamenuitslae nie, daar is baie dinge wat finansiële voorspoed kan opvreet, gesondheid is iets wat oornag kan verdwyn, reën weet ons baie goed kom nie altyd wanneer ons dit wil hê nie, ons is nie altyd suksesvol nie... wat word dan van ons blydskap?

GOEIE TYDING VAN GROOT BLYDSKAP

En ons sou ook kon vra, wat het geword van die belofte wat saamgegaan het met Jesus se geboorte? Die belofte van blydskap wat die herders van Betlehem op daardie besondere nag gehoor het? “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” (Lukas 2:10)

Groot blydskap! Is dit hoegenaamd waar? Hoe is dit waar en vir wie is dit waar? Wat dan van al die slegte dinge wat gebeur?

WEES REALISTIES EN KYK NA BLYDSKAP UIT 'N EWIGHEIDSOOGPUNT!

In Lukas 10:17-20 gee Jesus vir ons ‘n kosbare en belangrike perspektief op blydskap.

Die agtergrond is die uitsending van die sewentig dissipels. Hulle is op ‘n uitreiking gestuur met die opdrag om vir siekes te bid en die boodskap van die koninkryk te verkondig. (9) Dit was nie ‘n maklike opdrag nie. Jesus het vir hulle gesê, Hy stuur hulle soos skape onder wolwe. Hulle moes teenkanting en moeilikheid te wagte wees!

Dit blyk egter dat dit baie goed gegaan het met hierdie sendinguitreik. Die dissipels was vol blydskap met hulle terugkoms. “Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: "Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam." (17) Jesus beaam en erken hulle “sukses”. “Ja, dis goed so, julle is bevoorreg...”

Maar dan gee Hy ‘n belangrike perspektief, dis eintlik of Hy ‘n korreksie wil aanbring op hulle blydskap. “En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is." (20) “En tog...” Dis asof Hy sê: “Ja, dis goed om bly te wees oor julle sukses en gesag, maar blydskap gaan oor iets baie belangriker. Wees veral bly dat julle name in die hemel opgeskrywe is...”

BOEK VAN DIE LEWE

Uit die res van die Skrif weet ons dat daar ‘n boek van die Lewe is. Reeds in die Ou Testament kry ons hierdie begrip.

Moses verwys daarna as hy by God pleit vir die volk na die petalje van die goue kalf toe God die volk wou vernietig. “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” (Eks 32:32) Ons kry ook ‘n verwysing daarna in Daniël 12 :1 “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ‘n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.”

Om opgeskrywe te wees in God se boek is dus ‘n aanduiding van God se guns, van redding, van ewige sekuriteit. In Openbaring kry ons die duidelikste verwysing na hierdie boek. (lees Openbaring 20:11-15) Wat ‘n geweldige, verbysterende toneel! Menigtes en menigtes van mense so ver soos die oog kan sien... Almal verskyn voor die groot wit troon! Dan word God se boeke oopgemaak en elkeen se lot finaal en ewige beslis. Ewige lewe of ewige dood. Ewige blydskap of ewige smart!

As jy weet dat jy opgeskryf is vir die ewige lewe, begin jou blydskap nou al. En dis die grootste blydskap van almal. Dis die punt wat Jesus wil maak.

Daar is net een blydskap wat blywend is en alles oortref. Dis die blydskap oor ons verlossing. Die westewind kan dit nie eers wegwaai nie... Op die ou end is ons ewige verlossing, ons name in die boek van die lewe, al wat saakmaak. Dis iets waarvoor die mens vandag blind is. Om jou naam geskryf te hê in die hemelse burgerskaplys oortref alle ander suksesse en genadegawes! Om te weet die verlossing van sonde is ook my deel is die grootste rede tot vreugde. Ons kan dit toets aan die engelboodskap by die geboorte van Jesus. “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (2:11) 

Die blydskap gaan oor die Verlosser en die verlossing wat Hy bring! Die verlossing van sonde, satan, dood en hel!

Hoe kan ek seker wees van my naam in die boek van die lewe? Hoe kan ek seker wees dat ek in hierdie vaste verlossing deel? Deur my volle vertroue op Jesus, die Saligmaker te stel! Deur weg te kyk van myself en op HOM en SY WERK te fokus! (Vir meer hieroor kliek op SEKERHEID)

GROOT VERRASSING

Kom na Hom toe in berou en geloof! En weet jy wat dan wag daar ‘n verrassing. Dan leer jy dat jou naam al van voor die ontstaan van die aarde al in sy boek geskryf is. Want God se genade is al van ewigheid vir sy kinders bedoel en staan onwankelbaar vas in God se onveranderlike raadsbesluite! (Sien Openbaring 13:8, 17:8 en vgl. met Efesiërs 1:4**)

Dis nie verkeerd om oor alledaagse seëninge, voorregte en suksesse bly te wees nie! Maar as jy nie deel aan blydskap oor jou ewige verlossing nie, het jy eintlik geen rede om bly te wees nie! Anders gestel : “Waar gaan jy die ewigheid deurbring?” ‘n Positiewe antwoord hierop is die essensie van ons blydskap, in die Kerstyd, maar ook enige ander tyd. AMEN

*Die westewind spel vir ons hier in Namibië net een ding : droogte!

** Efesiërs 1:4 (OAV) “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,” (lees eintlik die hele gedeelte van vers 3 tot 14)




Sondag 22 Februarie 2015

DROOGTE

- die mees gevreesde woord in die land waar ek woon.

Jy wil dit nie weet nie, maar tog weet jy dit kom, want die westewind (“Bankrotwind”) waai aanhoudend, die satelietfoto’s wys al die wolke is bymekaar in die Mosambiek kanaal en oor Madagaskar... Die kere wat daar wel reën val is dit plek-plek en kol-kol. Enkele gelukkiges praat van ‘n lekker bui terwyl die ander met onrus (en seker ook maar ‘n tikkie jaloesie) luister. Ja, dis droog en selfs die swarthake se blare word hier in Februarie al geel...

Watter invloed het droogtes op mense, wat is die oorsaak van droogtes en hoe moet ons, spesifiek as Christene dit hanteer?

Reg aan die begin moet ons sê dat die belewenis van droogte nie iets is waarteen God se geseëndes vrywaar nie. Gelowiges gaan ook deur die pyn van droogte! Kort nadat God Abram geroep en geseën het, kom hy voor ‘n hongersnood te staan in die einste beloofde land. Droogte in die beloofde land! Dus moes die aartsvader noodgedwonge na Egipte trek... (Genesis 12:10) As God droogte stuur in Kanaän om Agab se booshede te straf, ly Elia en die seweduisend wat nie voor Baal gebuig het nie ook daaronder.

HOE VERWERK ONS DIT?

Hoe verwerk mense (ook Christene) die bitter omstandighede van ‘n verwoestende en uitmergelende droogte? Die hantering van ‘n droogte herinner baie aan die manier hoe mense ander slegte nuus soos byvoorbeeld die nuus oor ‘n terminale siekte verwerk. Daar word deur ‘n reeks fases geworstel. 

Die eerste fase in droogte verwerking is gewoonlik ontkenning.* As die reën laat kom, dan veg ons (veral die optimiste) teen die gedagte van ‘n moontlike droogte... “Nee, wat dis nog nie so erg nie, ons goeie reën begin in elk geval eers in die helfte van Januarie. Julle moet net positief wees manne!” As Januarie reënloos en snikkend warm verbygaan... “Daar’s nog hoop, Februarie is mos die eintlike reënmaand.” Aan die einde van Februarie** wanneer die hemel steeds wolkloos gebly het en slegs hier en daar ‘n verdwaalde los bui geval het, hoor jy : “Vorige jare het ons al baie goeie reën in Maart gekry...” Later : “ Onthou julle daardie een jaar toe dit so vreeslik in April gereën het?” Dikwels is daar ook humor as ‘n manier van ontkenning en verwerking : “Ja, by my het 60 geval... sestig druppels. Ek het 50mm gekry, die druppels was 50mm van mekaar af. Lyk my as ek hierdie jaar kommandowurms gaan kry sal ek vir hulle veld moet huur.” Daar is ook diegene wat probeer troos, perspektief en hoop skep. “Onthou ons het darem verlede jaar buitengewone goeie reën gehad, dit kan darem nou ook nie elke jaar so goed reën nie. Ek het gister die bloukop teen ‘n paal sien sit, dit wys die reën is naby, die miere raak die afgelope tyd baie bedrywig...” Gaandeweg sak die bitter wete egter dieper in, hierdie jaar gaan die algemene reën nie kom nie...

Soos die dorre werklikheid meer sigbaar en voelbaar word ontwikkel daar woede, wanhoop en depressie. Soos die hitte meer word en die seisoen reënloos aanstap begin daar opstand en verwyt groei in die harte. Ook teen God! “Here wat help my gebede? Gee U dan nie om nie? Sien U nie die lyding van mens en dier nie...” By sommige gaan die woede gou oor in depressie... “Dit help nie om te boer nie. Elke paar jaar verloor mens maar weer alles...”

Onderhandeling en dalk angs. Hieroor word nie baie gepraat nie. “Here, ek sal hierdie jaar twee beeste vir die basaar gee, as ek maar net soveel of soveel reën kan kry. Party ouens het ‘n langtermyn “kontrak” met die Here. “Vir elke 10mm gee ek soveel vir U....” Daar word rondgerol in laaang slapelose warm nagte... “Hoe gaan die kinders se skoolgeld betaal word, die voerrekening raak nou roekeloos hoog, die beespryse is nou so sleg, dit help nie om te verkoop nie...”

Uiteindelik as daar genoeg gespartel is kom daar wel by die meeste ‘n gelate aanvaarding en berusting. As die oes klaar misluk het, die groeityd van die gras verby is, dan weet ons ons moet hier deur kom en ons sal ook, volgende jaar is daar weer ‘n reënseisoen. Dis nie die eerste droogte nie en seker ook nie die laaste nie. Nou moet ons maar plan maak vir oorlewing. Vee verminder, weiding gaan soek, kyk na ‘n ander bron van inkomste... Uiteindelik vind God se kinders rus by Hom en sy beloftes. Na alles getuig sy kinders aan die einde van ‘n droogte dat Hy wel voorsien het en op een of ander manier uitkoms gebring het... 

En tog bly daar ook maar vrae spook, soos wie se skuld is die droogte, waar kom dit vandaan, hoekom moet sulke slegte dinge gebeur?

Soos die meeste ander rampe dink ek kan mens rofweg drie verklarings van oorsprong vir ‘n droogte gee. 

Droogte is ‘n natuurlike verskynsel. Daar is van menseheugenis af, droë en nat jare. Droë siklusse en nat siklusse. Dis ‘n werklikheid waarmee saamgeleef moet word. Dis deel van ‘n vervloekte aarde, deel van die harde geswoeg in die sweet van ons aanskyn... Dis iets waarteen die mens grootliks magteloos staan... 

Ongetwyfeld is daar ook mensgemaakte droogtes. ‘n Lat wat mense deur onoordeelkundige gebruik van grond en hulpbronne vir hulleself gepluk het. Dikwels is die dryfveer gierigheid, maar soms ook blote onkunde en swak bestuur. Oorbeweiding of die omploeg van grond wat nooit geskik was vir akkerbou nie. Of dalk die jare lange oorbenutting van waterbronne... In sommige lande is dit oorlogstoestande en anargie wat agter die ellende sit maar dan word daar gepraat van droogte. Hoe dikwels kry die Here die skuld vir ‘n droogte as die ware oorsaak mense se swak besluitneming is? In sulke gevalle is die baie skerp waarneming van Spreuke 19:3 seker van toepassing : “Sy eie dwaasheid bring ‘n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here.”

Die gelowige hou egter ook rekening met God se rol. Ons besef inderdaad die realiteit van die vorige twee verklarings, maar ons sien ook God se hand agter alles. Die God wat ons aanbid is immers die Skepper en Onderhouer van sy skepping. Hy is ook die God wat ten nouste bemoeienis maak met die mens en als wat met ons as mense gebeur. Reg van die begin af moet ons sê dat God se rol in droogtes (en ander rampe) nooit ons verantwoordelikheid van ons wegneem om rekening te hou met reën siklusse nie. Nog minder vat dit ons verantwoordelikheid weg om al die hulpbronne tot ons beskikking met sorg en kundigheid te bestuur nie.

God gebruik en stuur inderdaad ook droogtes om sy doelwitte te bereik en ook dinge vir ons te sê. (selfs al sou ons ‘n natuurlike oorsaak kon aandui. Hy is immers die Een wat die natuur bestuur) Niemand wil dit seker graag hoor nie, maar dis duidelik dat Hy droogte kan gebruik as middel om sy mense te tugtig weens hulle sonde. Positief gestel, soos in die geval van alle goeie gawes is dit God wat reën gee! Hy is ten volle in beheer van die reën! Oor waar elke bui en elke druppel val! "Ek het die reën drie maande voor oestyd van julle af weggehou; Ek het laat reën oor een stad en oor ‘n ander die reën laat wegbly; die een stuk grond het goed reën gekry en die ander waar dit nie gereën het nie, het uitgedroog."  (Amos 4:7) Dit klink so bekend... Ja, ons moet oppas vir vinnige gevolgtrekkings en veralgemenings, maar droogte is inderdaad ‘n manier hoe God sy eie mense tot besinning bring en tot bekering oproep! Die profeet Elia moes selfs vir droogte bid (kan jy jou indink wat sou gebeur as ‘n predikant dit vandag sou waag...? ) Eers baie later moes hy vir reën bid, ook in direkte opdrag van God! Die mens en sy sondes is dus nie vry te spreek van ten minste sommige droogtes nie... Sal ons dit kan vat as die profeet van die Here vir ons sou moet sê? : “Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het.” (Haggai 1:10) 

Ons moet baie versigtig wees om te bespiegel oor die oorsake al dan nie van droogtes. Ja, al kan ons dit wetenskaplik weerkundig verduidelik (El Nino, kweekhuis effek en baie ander faktore...), is God in die finale sin die bestuurder van sy skepping en het Hy die laaste sê oor waar en wanneer dit sal reën of nie. God gebruik als volgens sy voorsienigheid om sy raadsplanne tot uitvoering te bring!

Dis belangrik dat Christene verder sal vorder as maar net ‘n gelate aanvaarding van droogte... kom ons dink bietjie dieper...

DEUR ‘N DROOGTE MET GEJUIG!

DROOGTE is positief ‘n geleentheid vir :

Verootmoediging en gebed. God dwing ons as’t ware hiertoe, want ons vergeet Hom mos maar maklik in die goeie tye! Dis ‘n manier hoe God ons van sondes bewus maak en opnuut weer leer om Hom te behaag. Veral lê Hy dalk die vinger op ons sondes van selfgeregtigheid, hoogmoed en materialisme... Soos iemand gesê het : “Een plaas, een bees vir die kerk, twee plase, een bees, drie plase, een bees, vier....” Is ons bereid om ons van hierdie dinge te bekeer? Die uitdaging in Maleagi 3:10 laat ons dalk ongemaklik voel, maar dit staan in die Woord! “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

Groei en openbaring. Dis ‘n tyd wanneer ons getoets word, soos Abram. ‘n Tyd wanneer ons eie harte ontdek en weer moet terugkeer na ‘n besef van hoe afhanklik ons werklik van God is. Dis 'n tyd waarin ons gedwing word om ons plek weer te ken en te besef GOD IS GOD en ons is nietige mense! Dalk ook ‘n tyd wat ons ons selfsug aan die lig bring en ons weer gedwing word om mekaar te ondersteun en ‘n buurman in die oë te kyk. 

Lof en aanbidding. Dit klink dalk vreemd. Maar ons kry as Christene die opdrag om ALTYD bly te wees in die Here, ook in ‘n droogtejaar! “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar," (1 Tessalonisense 5:16-18) Die gelowige is in staat tot iets meer as maar net gedweë aanvaarding! Dis die duidelike boodskap en uitdaging van Habakuk. “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie-- nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” (Habakuk 3:17,18) 

Gaan deur die droogte met gejuig! Dit klink na malligheid vir almal, behalwe God se kinders! Ons dien ‘n bonatuurlike God wat sy kinders in staat stel tot menslik gesproke onmoontlike dinge!

Die kind van God gaan ‘n stappie verder, verder as net verduur en oorleef....

BID VIR REËN? JA, MAAR DIT GAAN OOR BAIE MEER... 

Ons lees in Sagaria 10:1 ‘n wonderlike belofte : “Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom. Hy maak die reënwolke en laat die stortreëns val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld.”

Wat wil hierdie teks vir ons sê? Kan ons as Christene die Here bid vir reën? Ja beslis, in die “Onse Vader” moedig Jesus ons aan om ons daaglikse behoeftes aan ons Hemelse Vader bekend te maak en op sy sorg te vertrou. Dit sluit beslis reën as ‘n baie basiese middel in. As God en sy koninkryk ons fokus en verwagting is kan ons alle fisiese en materiële behoeftes na ons Vader bring! Bid vir reën is egter ‘n groter saak as om vir ‘n kort rukkie ‘n spesiale biddag of geleentheid te hou... Dink maar aan Elia se worsteling... Is ons hart en siel in die saak, staan ons in ‘n verhouding met God, is daar egte toewyding of is als net “windowdressing”... is daar nog geloof onder ons? Vir Israel was verootmoediging, gebed, bekering en reën, sake wat saamgegaan het. Salomo se rede by die inwyding van die tempel is tog duidelik. "Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.” (2 Kronieke 6:26,27)

Na alles kan en moet ons bely :

Ons Vader sorg vir sy kinders, ook binne in ‘n droogte!

As ons egter eerlik na die konteks van die belofte in Sagaria kyk, moet ons besef dat dit oor iets baie dieper gaan as oorvloedige reën, baie weiding en goeie oeste. Dit gaan hier oor die bemoediging van die moedelose bannelinge wat teruggekeer het na hulle land, maar met wie dit alles behalwe voorspoedig gegaan het. Hulle kry nou ‘n profetiese boodskap van die heerlike verlossing wat God vir sy volk sal bewerk. “Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in ‘n kroon.” (Sagaria 9:16) Ons weet vanuit die Nuwe Testament dat dit gaan oor die verlossing wat Jesus bring, want Sagaria se profesie wys ten diepste op Jesus self. Net ‘n bietjie terug lees ons die bekende profesie wat sê : “Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.” (Sagaria 9:9) Ons weet mos wie Hy is... Dit gaan dus hier in Sagaria oor die omvattende verlossing en nuwe bedeling wat die Messias tot stand sal bring. Hierdie verlossing en heerlike bedeling word beskryf in terme wat vir ‘n landbouvolk in ‘n droë streek soos Israel sin maak, naamlik stortreëns en groen plante! Hierdie gebed in Sagaria gaan dus oor ‘n vertroue op God en ‘n gebed tot Hom dat Hy die nuwe bedeling waar sal maak. Dis ook waarvoor Christene in die eerste plek moet en sal bid. Die koms van die Koninkryk van God! (weer terug by die fokus van die “Onse Vader”, nê?)

Ja, ons mag bid vir reën en enige fisiese behoefte, maar dit moet altyd ‘n onderdeel wees van ons groot versugting vir die koms van die Koninkryk. Verlang ons werklik na die uitbreiding van God se heerskappy soos ons verlang na reën? Is ons net so desperaat en geskok oor die geestelike dorheid in die hart van die kerk as die droogte op ons velde? Is ons gebede, ook in hierdie tyd van droogte en nood nie baie keer uiters kortsigtig en deurspek met selfsug nie?

Die grootste gevaar in die tyd van droogte is dat ons op ons fisiese nood sal fokus en die ramp geestelike droogte as minder belangrik beskou! Droogte en hitte veroorsaak intense ongemak, maar ons geestelike nood is (onbewustelik) baie erger!

Mag God genadiglik vir ons uitkoms gee in ons geestelike en fisiese nood, soos wat Hy goed dink! Mag ons Hom nog loof vir fisiese en geestelike verkwikking en oorvloed!

Psalm 68:10 "U het oorvloedige reëns laat uitsak, o God, U het u verdorde land weer lewe gegee.” 

DROOGTE IS DEEL VAN GOD SE PAD MET ONS, GELUKKIG REËN EN SEËN OOK!



MY HARTSBEGEERTE IS DAT HY VIR ONS SPOEDIG UITKOMS SAL GEE...

*Dis bietjie anders as by die aanhoor van nuus oor ‘n terminale siekte. Dan is die eerste fase gewoonlik skok. Omdat droogte geleidelik ontvou is daar nie so ‘n skielike skok nie, maar die ander fases verloop min of meer dieselfde.

** Die totale reënval wat ek vir Februarie hier by die pastorie op Tsumeb gemeet het was minder as 'n skamele 6mm. Dis skrikwekkend droog! Verlede seisoen het ek 206mm vir Februarie gemeet.

Sondag 01 Junie 2014

MEER AS ALGEMENE GENADE IS NODIG

- reën, gesondheid en geluk is genadegawes van God, maar dit beteken nie noodwendig dat ek God se kind is nie!


Jesus doen ’n heerlike wonderwerk vir 10 melaatse manne, tog het net een tot geloof gekom en net een is gered! (Ons lees hiervan in Lukas 17:11-17) Net een van hierdie manne hoor die wonderlike uitspraak uit Jesus se mond... “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered." (19) Hierdie verhaal is nie bloot ’n mooi morele lessie om te wys ons moet altyd dankbaar wees nie. Dit gaan oor bekering, dit gaan oor egte geloof, dit gaan oor redding!

'n Opvallende kontras word sigbaar : Tien manne ontvang tydelike fisiese tydelike genesing, maar net een glo in Jesus en verkry ewige verlossing. Tien manne het nuwe liggame gekry, maar net een het ‘n hart ontvang – ‘n hart wat oorgeloop het van ware dankbaarheid tot God! Tien manne het ‘n aardse seën gekry, net een ‘n hemelse wat tot ewigheid sal voortduur

Ons kan dit ook so stel :

Tien manne beleef God se algemene genade (common grace), net een verkry reddende genade (saving grace)!

Daar is ‘n reuse verskil tussen dié twee manifesterings van God se genade:

Algemene genade is seëninge wat God aan alle mense gee soos Hy wil, beide gelowiges en ongelowiges. Dis seëninge wat nie te doen het met ewige verlossing nie. Dis God se goedheid wat ons beleef in die reën, gesondheid en ‘n lang lewe, voedsel, krag, kennis, ‘n algemene sin vir orde en ordentlikheid wat Hy aan mense skenk. Hierdie algemene genade van God sien ons die feit dat mense wat nie Christene is nie, dikwels ook gelukkige lewens kan lei, hulle kan ook goeie huwelike hê, hulle ontvang krag om ook sinvolle en goeie dinge op aarde te doen. [Dis juis op hierdie punt dat die Prosperity Gospel en die Word of Faith Movement onder andere dwaal. Gesondheid en geld is vir hulle tekens van God se besondere guns wat ek kan verseker deur sekere geestelike wette na te kom. God gee egter sulke dinge aan almal soos wat Hy wil uitdeel. Ons kan Hom nie daartoe dwing deur geloofstruuks nie!]

Reddende genade is die genade wat ons tot bekering en geloof bring, wat ons kinders van God maak, wat ons verlos van die hel en deel laat kry aan die ewige erfenis.

NET EEN MELAATSE KRY REDDENDE GENADE!

Hoe weet ons dat net een van die melaatses ‘n ontvanger van reddende genade geword? Wel, net een van die 10 manne wat fisiese genesing beleef het, het waarlik in Jesus as Verlosser geglo! Hoe weet ons dat hy geglo het? Die ander nege gaan gewoonweg aan met hulle lewens. ‘n Mens kan jou voorstel dat hulle seker baie belangrike dinge gehad het om te doen nadat hulle so ’n radikale genesing beleef het. Hulle sou weer familie opsoek, hulle lewe weer aan die gang kry, besighede weer opbou of werk soek. Net een man, en dit nogal ’n uitgeworpene, ’n Samaritaan los egter eers al sy eie planne, draai om en kom sê dankie. Dit lyk asof Markus die begrip “omdraai” nogal beklemtoon. (15,18)

Sy besluit om om te draai, wat niks anders is as bekering nie, wys dat hy waarlik nou geglo het in Jesus. Dis ‘n bewys dat die reddende genade van God in hom werksaam was. As ek God se reddende genade beleef, maak dit dat ek glo in Jesus en gevolglik omdraai van my ou pad en ‘n nuwe lewe van dankbaarheid tot God leef. Hierdie dankbaarheid sal prakties sigbaar word – ek sal volgens God se wil begin leef, ek sal ’n begeerte hê om die Here te aanbid in die erediens, ek sal God begin loof en prys!

Ongelukkig is baie van ons mense soos die nege melaatses tevrede met die algemene genade van God. Hulle dink die algemene genade van God is maar genoeg. Dis ‘n groot fout. Hulle kom nooit tot geloof en bekering nie, hulle lewens word nooit in dankbaarheid aan God toegewy nie.

Pasop vir verkeerde afleidings omdat jy die algemene genade van God beleef:

Moenie dink omdat jy ‘n lang en vol lewe gehad het, dat jy noodwendig ‘n kind van God is nie – Mugabe het ook ‘n lang lewe...

Moenie dink omdat jy geseënd is met baie rykdom dat dit noodwendig ‘n teken is van jou redding nie. Daar is baie oliesjeiks wat skatryk is en hulle is nie een ‘n Christen nie. Daar is ook baie Christene wat brandarm is...

Moenie dink omdat God jou wonderbaarlik genees het, beteken dit dat jy noodwendig ‘n verloste mens is nie.

Moenie dink omdat die Here jou lewe destyds op die grens gespaar het jy, dis noodwendig 'n teken dat jy sy kind is nie. Hy het immers baie van die vyande se lewens ook gespaar!

Moenie dink omdat God jou in antwoord op gebed uit ‘n krisis gehelp het, dat jy outomaties nou sy kind is nie. Koning Saul het ook gebedsverhoring gesmaak, maar het as verworpene ver van God gesterf...

Moenie omdat jy ‘n verbondsmens is die reddende genade as vanselfsprekend aanvaar nie. Dis so opvallend - hier het nege verbondsmense die ewige lewe misgeloop en ‘n Samaritaan het dit gekry!

Om ‘n algemene wonderwerk te beleef maak my nie noodwendig ‘n kind van God nie, ek het die wonderwerk van die wedergeboorte nodig. So ‘n wonderwerk word sigbaar in ware bekering, geloof en 'n lewe van vrug.

God se algemene genade is ‘n feit. Hoe raak dit ons? Wat sê dit vandag vir my?

Sien die algemene goedheid en genade van God in jou lewe raak. Besef dis God se goedheid wat maak dat jy vandag krag en gesondheid het. Dat jy kan werk en eet...


[ Goeie reëns en 'n rivier wat afkom is voorbeelde van God se algemene genade. Alle mense trek voordeel daaruit. Die Molopo loop...]

Alle goeie gawes kom van Hom. Dank Hom, ja, dank Hom met ware geloof en bekering!

Moenie tevrede wees net met God se algemene genade nie. Sy algemene genade moet jou juis laat besef dat Hy jou liefhet en vir jou die reddende genade deur Jesus wil skenk. Kom ontvang soos hierdie Samaritaan die reddende genade, deur om te draai van jou ou paaie en waarlik in Jesus as Verlosser te glo. AMEN