BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 28 Oktober 2012

WIE GOD KEN

... vrees nie vlamme of leeus nie.

Wat is die ewige lewe?  Is dit bloot die inhoud van ‘n “polis” wat uitbetaal as ek die dag sou sterf? Nee, by verre nie! Die ewige lewe is om God en sy Seun Jesus  te ken. Jesus sê dit self in sy aangrypende gebed: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U die ware God ken en Jesus Christus wat deur U gestuur is!” (Johannes 17:3)  Om in gemeenskap met God te wees is ware  lewe, ewige lewe! Dis die grootste opwindendste voorreg wat die mens beskore is : om die ewig heerlike en ontsagwekkende God te kan ken!  

As iemand God ken is dit nooit bloot ‘n teoretiese of akademiese saak nie. Dit het ingrypende praktiese  implikasies. Dit word daagliks  sigbaar. Mense wat God ken en dus gereed is vir die wederkoms, sal anders optree! Ander sal dit sien en kan sê : “Daardie man, vrou, kind, ken God!”  Hoe lyk iemand in die alledaagse lewe wat God ken? Die boek Daniël antwoord dit op ‘n praktiese manier. Blaai gerus saam met my deur hierdie wonderlike boek!* 


Daniël was nie ‘n professionele leeutemmer nie, Daniël was ‘n man wat God waarlik geken het. 

Dit word op ten minste drie maniere duidelik :

1. Mense wat God ken besef, bedink en bely sy heerlikheid.

Die hele boek Daniël is ‘n getuienis oor die grootheid, soewereiniteit en almag van die Lewende God! Dis veral merkwaardig as mens die omstandighede van destyds in agneem. Die  magtige Babiloniese ryk het die klein volkie van Juda ingesluk en baie is weggevoer na die groot wêreldstad Babel. Dit het gelyk asof die Babiloniërs kon maak net wat hulle. Maar Daniël het God geken en geweet dat God, en nie die heersers van Babel nie, die geskiedenis bepaal! Ons kry al ‘n voorbeeld hiervan in Daniël se gebed, toe hy God geprys het dat Hy  hom insig in Nebukadneser se droom  gegee het. “Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel...” (Daniël 2:20-22) Nie Babel nie, maar God is soewerein in beheer!  Dis ook hierdie heerlike wete van wie God is, wat Daniël daartoe bring om die heidense koning se opdragte te minag en God meer gehoorsaam te wees as mense. Ons sien dit al in hoofstuk 1 waar hy en sy vriende weier om die heidense kos te eet, ons sien dit in Daniël 6:11-13 waar hy weier om die koning se opdrag te gehoorsaam wat hom wou verbied om tot die ware God te bid! Dekreet ten spyt! Leeus ten spyt! Daniël se besef van wie God is bewaar hom daarvan om met die stroom saam te gaan! Daniël besef nie net die grootheid van God nie,  maar ook sy regverdigheid, genade en getrouheid. Ons sien dit in Daniël se roerende gebed in hoofstuk 9. (Kyk na vers 4,7,9,14) “Ag, Here groot en ontsagwekkende God....U is regverdig Here ...” Hierdie heerlike wete wie God is laat Daniël vertrou en maak hom vreesloos! Wat is ons siening oor God? Wat vertel ons gebede oor wat ons van God dink? Het ons ‘n besef van God se almagtige heerlikheid, sy heilige volmaaktheid en sy genadige getrouheid? As ons God ken en bewus is van hierdie eienskappe sal dit duidelik wys in die bewondering wat ons vir Hom het, ons nederige afhanklikheid van Hom en ook in daaglikse gehoorsaamheid. Daniël se dapper gehoorsaamheid aan God, tot binne die leeukuil kom uit sy diepe besef van wie God is en sy groot respek vir hierdie God ! Weet ek en jy al wie God is? Is ons proefondervindelik bewus van sy attribute (eienskappe) soos sy almag, alomteenwoordigheid, alwetenheid, soewereiniteit, heiligheid, getrouheid, liefde, genade... en maak dit ‘n verskil in ons lewensbeskouing en leefstyl? So baie mense wat beweer dat hulle Jesus aangeneem het se denke en dade openbaar na jare nog steeds ‘n totale onkunde oor God! 

Ware bekering bring ‘n besef van wie God werklik is!

2.  Mense wat God ken is vergenoeg en tevrede  in God.

Die mens wat God ken het vrede, vervulling en rustigheid in God. Ook in gevaarlike en onstuimige tye. Toe Daniël hoor van die nuwe wet/dekreet wat bedoel was om hom skade aan te doen het hy rustig soos altyd voortgegaan om te bid. (6:11) Geen paniek of vrees! Ongestoord! Ons sien ook hierdie vrede en tevredenheid in die gesindheid van Daniël se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego toe hulle met ‘n brandende oond gedreig is omdat hulle nie Nebukadneser se goue beeld wou aanbid nie. Hulle dapper maar kalm antwoord in die flikkering van die vlamme,  spreek boekdele van rustige vergenoegdheid in God. Luister bietjie : “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” (Daniël 3:16-18) Die koning word wit van woede, maar dié  drie manne wat God ken is vol berusting en vrede in die aangesig van die dood. Hierdie vrede is ‘n vrede onder alle omstandighede. Dit word so treffend in Romeine 8:35-39 (lees) 
Beleef ek en  jy ‘n tevredenheid in God? Ook in die aangesig van slegte landsomstandighede of persoonlike krisisse?  Dit sal wys tot watter mate ek en jy Hom waarlik ken!

3. Mense wat God ken vertoon dapper standvastigheid en lojaliteit teenoor God. 

Hierdie beginsel word pragtig gestel in Daniël 11:32 “...maar dié wat God ken sal vasstaan.”  Dit was waar van Daniël self. Hy en sy vriende weier dapper om die koning se heidense kos te eet en hulle  met afgodery te besoedel!** Daniël verseg vreesloos om die koning se wet dat hy nie tot God mag bid nie, te gehoorsaam. Hy bid voor sy venster, oop en bloot daar waar almal dit kan sien! Diegene wat God ken het ‘n passie vir sy eer! Hulle wat God ken is lojaal en radikaal in hulle toewyding.  Ware Godskennis bring ons in beweging tot gebed, diens en  getuienis, maak nie saak wat die gevolge is nie!  Ware kennis van God gee ons ‘n ywer om Hom in ons lewe te eer en ons nie met sondekompromie te besoedel nie.  Wie God ken, kan NEE sê! Dwarsdeur die eeue was dit ‘n kenmerk van God se kinders.  So was die gesindheid van die apostels.(Handelinge 5:29) Dit was die dapper houding van Paulus. “Ek weet dat die Heilige Gees  my in elke stad verseker dat gevangeneskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van Jesus Christus gekry het, kan klaar maak : dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”  (Handelinge 20:23,24) 

Natuurlik kan God se kinders ook in ‘n oomblik van swakheid swig, soos Petrus. (Wie van ons was nog nooit lafhartig nie?) Maar as hulle God waarlik ken, kry hulle deur die genade weer nuwe moed en volg Hom daarna weer met groter dapperheid soos Petrus se verdere geskiedenis bewys. (Hy het uiteindelik ‘n marteldood vir sy Verlosser gesterf)

‘n Ander voorbeeld hiervan is die bekende Thomas Cranmer. Cranmer was ‘n leidende figuur in die Protestantse Reformasie in Engeland. In die tyd van Mary Tudor is hy gevange geneem. Hy is gedwing om die verbranding van twee ander Protestantse leiers, Latimer en Ridley te aanskou. Cranmer het uiteindelik onder druk geswig en ‘n dokument waarin hy sy Reformatoriese oortuigings terugtrek geteken. Ten spyte hiervan het Mary voortgegaan met sy teregstelling op die brandstapel. Cranmer se dapperheid het genadiglik teruggekeer. Kort voor sy martelaarsdood het hy  sy verloëning van sy geloof teruggetrek en teen die Pous te velde getrek. Toe die vuur  aangesteek is, het hy sy regterhand wat die dokumente onderteken het, uitgestrek sodat dit eerste kon brand. By herhaling het hy gesê : “This unworthy right hand” Cranmer het dapper geëindig, want hy het God geken!

Ken ons God? Die heerlike almagtige lewende God? Wie Hom ken sal ‘n ander gesindheid en lewensstyl hê. Ons sal sy almag besef, ons sal sy vrede beleef, ons sal dapper weier om kompromie met die wêreld en sonde te maak!  Diegene wat God ken kan vlamme blus, leeus oorwin, ook die Brullende leeu wat soek om te verslind...

* met erkenning aan JI Packer, “Knowing God”
** Die heidense kos was waarskynlik eers aan die Babiloniese afgode gewy.

Maandag 22 Oktober 2012

ROOMSE RAAISELS EN RELIKWIEË

- Kateri word ‘n “heilige”.

Verlede Sondag (21 Oktober 2012)  het Pous Benediktus XVI, ‘n Indiaanse meisie  wat alreeds in 1680 in Quebec,  Kanada oorlede is, tot  heilige verklaar oftewel gekanoniseer. Catherine (Kateri) Tekakwitha is die eerste inheemse Noord-Amerikaner wat hierdie “eer” te beurt val.  Die geskiedenis van Kateri voor haar dood as jongmeisie, maar ook wat na haar dood met haar (nagedagtenis en beendere!) gebeur het, laat mens diep aangeraak, hartseer, maar juis ook met dankbaarheid teenoor God dat Hy die Reformasie van die 16de eeu gebruik het om ons van baie Roomse dwalinge te bevry.

Kateri was die dogter van Kenneronkwa, ‘n Mohawk hoofman en Tagaskouita, ‘n Alogonquin Indiaanse vrou wat tot die Roomse geloof behoort het. Haar ouers is beide oorlede weens pokke en sy het as weeskind by haar oom grootgeword. Sy het die pokke aanslag, wat in daardie jare onder die inheemse bevolking gemaai het, oorleef, maar dit het merke op haar gesig gelaat en haar sig belemmer. In 1667 toe Kateri 11 jaar oud was, het sy met Jesuïte sendelinge in aanraking gekom. Haar oom was gekant teen kontak met hulle, want hy wou nie dat sy ‘n Christen word nie. In die lente van 1675 ontmoet sy vader Jacques de Lamberville en hy begin haar katkiseer. Hy het haar op die ouderdom van 20 jaar gedoop op Paassondag, 18 April 1676. Sy het teenstand van die ander Mohawks ondervind en het op die Jesuïte sendingstasie van Kahnawake, suid van Montreal gaan woon.

Kateri het haarself aan ekstreme selfkastyding onderwerp soos om langdurig te vas, haarself te slaan, met kole te brand, op ‘n bed met dorings te slaap... Dit wil voorkom asof sy van hierdie praktyke vanuit die Mohawk kultuur oorgeneem het. In 1679 het sy die eed van kuisheid afgelê en onderneem om nooit te trou nie.

Die jong Kateri is op die ouderdom van net 24 jaar oorlede. Vanaf haar dood het gerugte van wonderwerke die rondte begin doen. Die Jesuïte by haar sterfbed het beweer dat die pokke letsels op haar gesig heeltemal verdwyn het en kort daarna het mense visioene van haar begin sien. (Eeue later, in 1943 het Pous Pius XII die verdwyning van die pokmerke op Kateri se gesig as ‘n outentieke wonder verklaar.)  Vader Chauchetière, wat ook by haar sterfbed was,  het ‘n kapel naby haar graf gebou en teen 1684 het pelgrims haar begin vereer.

Daar is aansprake dat relikwieë* wat verband hou met Kateri genesings tot gevolg gehad het.  So is ‘n seun, Joseph Kellogg na bewering in die 18de eeu van pokke genees deur ‘n stukkie hout van Kateri se kis. Tot vandag toe is daar mense wat wonderwerke aan haar toeskryf. In 2006 het daar na bewering so ‘n genesingswonder deur haar plaasgevind toe ‘n jong seun, Jake Finkbonner van ‘n potensieël dodelike bakteriese infeksie genees is. ‘n Sekere Suster Kateri (!) Mitchell het ‘n stukkie van Kateri se polsbeen na die seun in ‘n hospitaal in Seattle geneem, wat sy teen sy liggaam gesit het en toe saam met sy ouers gebid het. Jake is nou 12 en het nog steeds mediese aandag nodig, maar sy herstel word deur sommige Rooms Katolieke as ‘n wonderwerk beskou. Dis hierdie wonder wat Kateri laat “kwalifiseer” het vir die status van Heilige** volgens die Roomse vereistes.

In die lig van komende Hervormingssondag, voel dit vir my dat Kateri se lewensverhaal die steeds diepgaande verskille tussen ons as Protestante en die Rooms Katolieke opnuut beklemtoon. Anders gesê, die kort maar  veelbewoë lewe van hierdie meisie en die Roomse interpretasie van haar lewe,  maak mens opnuut dankbaar vir die kosbare kernwaarhede wat die Reformasie van die 16de eeu vir ons nagelaat het.  Kom ons vergewis onsself weer hiervan:

SOLA SCRIPTURA. Die Woord van God  alleen is die enigste basis en bron van dit wat ons glo en hoe ons moet lewe. (2 Timoteus 3:14-17) En die Woord is genoegsaam!  Sogenaamde of beweerde wonders bewys nog nie dat ‘n bepaalde persoon of lering aan die kant van die waarheid is nie! Valse profete vanaf die  Egiptiese towenaars in die tyd van Moses tot die Antichris self is instaat tot buitengewone wonders. (Vgl.  2 Tessalonisense 2:9-12) ‘n Menigte Roomse tradisies soos die rol van Maria, gebruike soos relikwieë  of die verklaring van sekere persone as heiliges het geen steun vanuit God se Woord nie!

SOLA GRATIA. Ons word gered uit genade alleen sonder enige menslike verdienste of bydra. (Romeine 3:23,24)  Geen selfkastyding of selfopgelegde strafmaatreëls kan my saak by God bevorder nie. Omdat alle kinders van God alleen op grond van sy genade in Jesus vryspraak ontvang het, is ons status gelyk voor God.  Ja, die Bybel leer immers duidelik dat alle gelowiges, “heiliges” is in Christus (1 Korintiërs 1:2 OAV). Geen Pous hoef ons eers heilig te verklaar op grond van beweerde wonderwerke nie. Kinders van God, as geheiligdes in Jesus Christus is seker van hulle ewige saligheid op grond van sy soenverdienste en die beloftes van God en hoef nie te wag op een of ander amptelike  kerklike bevestiging hiervan nie.

SOLA FIDEI. Redding geskied uit genade alleen deur die geloof alleen. (Efesiërs 2:8)  Geloof is ook nie ‘n stuk menslike verdienste nie, maar ‘n leë hand waarmee ons God se geskenk van vergifnis ontvang. Ons geloof en verwagting is gerig op God en dit wat Hyself deur Jesus vir ons gedoen het en nie op besondere mense of sogenaamde heiliges nie. Nog minder is ons hoop op enige goeie werk van ons kant af, terwyl ons die belangrikheid besef dat ons geloof goeie werke as vrug moet voortbring.

SOLUS CHRISTUS. Ons verlossing geskied alleenlik deur Jesus Christus as volkome en unieke  Middelaar tussen ons en God. (1 Timoteus 2:5) Roomse teologie en trouens alle ander dwalings en afwykings (soos ook die Hebrew Roots Movement)  struikel juis op hierdie vraag : Was Jesus se eenmalige offer aan die kruis volledig genoegsaam vir ons versoening en ewige geluksaligheid? Die sondaar wat besef dat hy vrye toegang tot die genadetroon van God het deur ons volmaakte Hoëpriester, Jesus Christus,  het geen verdere behoefte aan hulpmiddels soos rosekranse, relikwieë en heiliges nie. Ons gebede in die naam van Jesus op grond van sy verdienste is genoeg en benodig nie die magiese versterking van stukkies hout en been nie! Inteendeel, alle menslike krukke van verdienste bedreig ons belydenis oor Jesus se algenoegsaamheid en verlei ons maklik om ons oog van Hom weg te neem.!

SOLI DEO GLORIA. Aan God alleen kom alle eer en aanbidding  toe. God is gesteld op sy eer - Hy deel dit met niemand nie. Een praktiese implikasie van hierdie waarheid is  dat ons Hom slegs sal aanbid op die manier wat Hyself in sy Woord vir ons voorskryf. Watter logiese redes nou ook al deur die Roomse tradisie uitgedink kan word vir die gebruik van relikwieë of die rol van gestorwe heiliges, bly dit vir ons onaanvaarbaar en grens dit aan afgodery, want God het nie opdrag gegee dat ons Hom op sodanige maniere moet aanbid nie.

En wat nou van Kateri? Ek het baie simpatie met haar. Ek hoop dat sy ten spyte van baie mensgemaakte tradisies en onkunde tog die genade ontvang het om haar persoonlike vertroue op Jesus alleen as enigste Verlosser te plaas. Haar laaste woorde voor sy gesterf het,  was immers  na wat berig word : “Jesus, ek het U lief.”   Met die Roomse kerk as instituut het ek egter weinig simpatie. Ek verwyt hulle dat hulle nie die suiwer eenvoudige evangelie van genade in Jesus aan mense soos Kateri duidelik verkondig  nie. Ek dink dis afgryslik tragies dat hulle vandag nog waarde kan heg aan onskriftuurlike praktyke soos relikwieë en die verering van heiliges. Maar natuurlik as ek (en ons) hierdie beskuldigings maak, moet ons dit met nederige versigtigheid doen, wetende dat ook ons  (as Protestante) so maklik van die voorskrifte van God se Woord afwyk en leringe van mense navolg. Mag God ons deur sy genade van dwaling bewaar!


* Relikwieë is liggaamlike oorblyfsels van heiliges en voorwerpe wat met hulle in aanraking was. Hierdie voorwerpe word dan vereer. Hoe mooi die Roomse Kerk dit probeer regverdig, lei die gebruik van relikwieë ongetwyfeld tot bygeloof en blatante afgodery, om natuurlik nie van uitbuiting van die liggelowiges en onkundiges te praat nie  

** Heiliges (gekanoniseerdes) is volgens die Roomse teologie persone van wie die  kerk amptelik erken dat hulle in die hemel is. Kanonisering geskied na deeglike ondersoek, wat moet kan bewys dat twee wonders aan die betrokke persoon gekoppel kan word. Om as heilige verklaar te word, het die volgende praktiese implikasies :
So ‘n heilige se naam word geskryf in die katalogus van heiliges.
Die  heilige se naam word aangeroep in die openbare gebede van die kerk.
Kerke mag aan God toegewy word ter herinnering aan sulke heiliges.
Die Eugaristie word gevier tot eer van ‘n heilige.
So ‘n heilige se feesdag word deur die kerk gevier.
Op prente van die betrokke heilige word hy/sy met ‘n stralekrans (halo) afgebeeld.
Relikwieë wat met die heilige verband hou word in kosbare houers geplaas en in die openbaar vereer.

Vrydag 19 Oktober 2012

NET DESPERATES


 - gaan deur die smal deur.

Nie almal wat dink hulle sal in die koninkryk van God ingaan sal daar wees nie. Nie almal wat uiterlik deel is van die kerk sal uiteindelik gered word nie. Dis die skokkende onthulling wat deur die gelykenis van die 5 dwase en 5 verstandige meisies verwoord word. (Matt 25) Dit laat mens onwillekeurig wonder : Hoeveel mense sal dan gered word? Sal dit maar min wees? 

Lukas 13:22-30 gee ‘n belangrike perspektief hierop. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie belangrike vraag direk vir Jesus te vra : “ Here, is dié wat gered word maar min?” (23) Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die volk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering sou mense dalk hieroor kon laat wonder.) Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord... Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (Vers 24) en ‘n waarskuwing.  (Vers 27,28)

UITDAGING. 

“Span al jule kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) 
Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer  nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat jy wel sal ingaan! Iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. Hoe nou?  Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning  in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat  nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Jesus onderstreep  maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat  regtig met hulle hele hart daarna verlang! Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13)  Jesus wil dus sê : "Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU!"
Hoekom, nou? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Baie dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry, waar vyf voor ‘n geslote deur beland het.)

"Span al julle kragte in" beteken dus : 

Gryp ten volle die genade aan terwyl 
die geleentheid daar is.

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? Iemand wat regtig in God se genade en vergifnis belangstel sal sekere dinge anders doen. As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal:
~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. (Iemand wat Sondag vir Sondag laat slaap en ander dinge eerste stel is nie juis baie ernstig oor genade nie)
~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart?
~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n seker struikelblok wat vergifnis by God verhinder! 
~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Politiek, sakebelange en rugby kan maar eers ‘n bietjie wag!

WAARSKUWING. 

Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” Baie mense leef onder ‘n vals illusie. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. (Vers 27, 28)

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uitendelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene, sondaars en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word!

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Terselfdertyd is hy ook ‘n voorbeeld van iemand wat alles in die stryd gewerp het. Die misdadiger aan die kruis.  Hy was een van die laastes. Hy was ‘n slegte mens wat iets vreesliks moes gedoen het, anders sou hy nie tot ‘n kruisdood veroordeel gewees het nie. Maar hy word nou ‘n eerste, ‘n bevoorregte, want hy kry toegang tot die koninkryk van God. Hy het al sy kragte ingespan om in die koninkryk in te gaan. Weereens dit beteken nie dat hy deur sy eie goeie werke of prestasies gered is nie. Dit beteken maar net hy het die genade heelhartig aangegryp en die geleentheid vir redding voluit benut. Ons weet mos wat het gebeur : Terwyl sy medemisdadiger met Jesus spot, het hierdie sterwende man met sy laaste krag uitgeroep : “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry  dan ‘n  heerlike waarborg uit Jesus se mond : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! ‘n Sondaar wat al sy krag ingespan het om by die smal deur in te gaan!

Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk!

Woensdag 17 Oktober 2012

CHRISTENE WAT ROU


- is huil nie vir ongelowiges en sissies nie?

Mag ‘n kind van God treur oor ‘n ramp wat ons tref, ‘n groot verlies, ‘n geliefde wat gesterf het?  Daar mag sommige Christene wees wat trane en treur as ‘n teken van kleingeloof of minderwaardige Christenskap probeer afmaak. Maar so ‘n houding het geen Bybelse gronde om op te staan nie.

Kind van God, dink jy nou regtig ons moet probeer sterker wees as die dapper krygsman Dawid, ‘n leeujagter en ‘n reusdoder? Dink weer. Toe Dawid en sy manne ontdek dat hulle vesting Siklag verbrand is en hulle vroue en kinders ontvoer is, het hulle so “hard gehuil dat hulle nie meer kon huil nie.” (1 Samuel 30:4)

Beweer  jy regtig ons is taaier  as die onverskrokke eerste Christene in Jerusalem wat getreur het oor Stefanus wat deur ‘n wrede dood van hulle af weggeneem is?  Ons lees : “Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou.” (Handelinge 8:2)

Probeer ons dalk “geesteliker” en minder mens wees as Jesus? Sy hartseer en trane oor sy vriend Lasarus se dood word baie duidelik en meer as een keer  vermeld in Johannes hoofstuk 11. Die OAV stel dit so : “...het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel” (33) “Jesus het geween.” (35) “En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword...” (38)

Kinders van God mag maar emosies hê. 

Vreugde en blydskap, maar ook droefheid en rou. In die Ou Testament vind menslike emosies seker die duidelikste neerslag in die Psalms. Vreugde en rou lê soms baie na aan mekaar soos in Psalm 30:12 waar ons lees : “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans.” Smart en ellende word dikwels pynlik eerlik en reguit verwoord : “Die swaarkry het vir my te veel geword; ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie.” Gelowiges hoef nie vals te wees, en ons hartseer en benoudheid weg te steek nie. Ons mag maar eerlik dit wys en daaroor praat, met ons medemens en ja, ook met God! Moenie bang wees om oor dood of verlies te praat nie. Dis feite van alledaagse menswees. In die Nuwe Testament word ons nêrens beveel om ons hartseer weg te steek of te ontken nie. Ons kry immers ‘n direkte opdrag om te treur saam met die wat treur! (Romeine 12:15) As dalk jy iemand anders moet troos, moenie te veel wonder wat om te sê nie, wees net eg, eerlik en natuurlik.

“daar is ‘n tyd om te treur.” (Prediker 3:4).

Kinders van God mag maar rou, maar hoe moet ons rou? En hoe sal ons rou verskil van die wêreld s’n wat God nie ken nie?

Christene se rou en smart (juis oor ellende wat vir ons onverstaanbaar is) dryf ons na  ‘n nuwe berusting en vertroue in God.   Psalm 131 is ‘n juweel! Ons probeer nie alles uitpluis en onsself moeg maak met antwoorde soek nie, maar  werp ons met kinderlike vertroue op God, in tye van smart. By Hom vind ons rus soos ‘n klein kindjie by sy moeder.
Hierteenoor gebeur dit nogal dikwels dat die goddelose en onverskillige se smarte hulle verder verhard teen God.

Christene se rou bevat ‘n sterk element van hoop.  Die opstanding van Jesus uit die dood, open vir ons ‘n nuwe bestaan na die graf. “Daarom, alhoewel ons treur, treur ons nie soos mense sonder hoop nie." (1 Tessalonisense 4:13,14)

Om te rou  is menslik.  Natuurlik beteken treur nie altyd noodwendig trane nie. Dit behels wel dat ons eerlik sal wees oor die pyn van ons verlies. Die Heilige Gees wat in elke kind van God woon, maak nie van ons super bo-aardse en emosielose wesens nie,  maar juis meer eg mens

Kinders van God is voete op die grond realistiese mense!

Om self te rou, maar ook  medelye te hê  met ander wat rou is  deel van ons as Christene se lewe in hierdie stukkende wêreld van afskeid, seer en dood. Uiting gee aan ons gevoelens van rou is  belangrik vir die helingsproses. Ons hoef nie in ontkenning of in ‘n skyndapperheid te leef nie. Die Heilige Gees maak ons juis meer eerlik, deursigtig en oop. Ons kan eerlik wees oor ons hartseer, want ons weet juis dat ons God, die God van alle vertroosting is, wat op sy tyd en sy manier ons aanraak en heelmaak. Die troos van God, kan die hartseerste tyd in ons lewens ‘n tyd van groot seën maak. Teen die einde van die jaar waarin hy die dood van sy pasgebore seun gesien het, en toe die dood van sy vrou en daarna aanvalle op sy eie gesondheid beleef het, het Hudson Taylor geskryf: 'Dit was die hartseerste en geseënde jaar van my lewe'. Wanneer dit sonnig is, wil ons hardloop en speel. Dis wanneer dit die donkerste is wat ons die Vader se hand die styfste vashou!

Met erkenning aan Grantley Morris vir sy artikel op www.net-burst.net 

Saterdag 13 Oktober 2012

UITGESLOTE GASTE

- voorkom ‘n ewig afgryslike teleurstelling.

Dis ’n groot ontnugtering as mens ’n onverwagse teleurstelling op die lyf loop!  Dis ‘n groot skok as mens dink als is reg en te laat uitvind, dit was nie...  Hier in Matteus 25:1-13  word so ’n skokkende ontnugtering beskryf : bruilofsgaste wat voor ’n toe deur te staan kom en summier weggewys word. Hulle hoor al die vrolikheid en feestelikheid wat binne aangaan, maar hulleself is eensaam buite uitgesluit! So iets sou nooit in die konteks van Midde-Oosterse gasvryheid gebeur nie. Dis abnormaal. Dis juis hierdie abnormale gebeurtenis in die verhaal wat Jesus gebruik om Sy luisteraars te skok en ‘n ewigheidsbelangrike waarheid by hulle (en ons)  tuis te bring.

Kom ons kyk bietjie dieper na die gelykenis. (Natuurlik is dit belangrik om nie in te veel detail te verval en ‘n simboliese betekenis in als te soek nie - dit gaan eerder oor ‘n paar duidelike lyne) 

Daar is tien meisies in die verhaal, ‘n afgeronde getal. Hulle  lyk dieselfde en op die oog af kan jy geen verskil sien nie! Almal lyk gereed, almal vol verwagting. Almal het lampe, almal het olie. Tog is daar ’n dieperliggende  verskil : Een groep  tref ekstra voorsorgmaat reëls. Hulle vat  ekstra olie saam, hulle het  verder gedink, hulle maak dubbeld seker, en is gereed om enige gebeurlikheid te hanteer. Die ander het net bloot nie gedink dat ekstra olie nodig sou wees nie. 

Die groot saak, die finale verskil en onderskeid  is : Vyf was gereed en vyf nie!

Die bruidegom bly ongewoon lank weg, om een of ander rede het hy sy koms uitgestel. Dit word bewys deur die feit dat almal aan die slaap raak. Dan kom Hy wel op ’n tydstip wanneer niemand dit verwag nie. Die betekenis daarvan is baie duidelik. Dit sluit aan by Jesus se uitdruklike uitspraak dat Hy soos ‘n dief in die nag sal kom - onverwags! (Matteus 24:43-44) Terloops, weereens ‘n bewys, niemand sal die dag en datum kan uitwerk nie!

Die vyf meisies wat goed voorbereid was ondervind geen probleem nie. Die ander vyf probeer haastig ’n plan maak. Hulle is egter te laat.  Laat planne werk nie noodwendig nie. Ook ‘n goeie plan wat te laat is, is te laat om nog ‘n verskil te maak! Die skokkende is dat hulle voor ’n geslote deur kom en dat alle pleidooie om dit oop te maak tevergeefs is. Wat ‘n afgryslike lot! Geen tweede kans! Die skerp punt is : So sal dit nooit by ’n aardse bruilofsfees gaan nie. So sal dit wel gaan as die Hemelse Bruidegom Jesus kom.  

Drie sake is opvallend en vra ons aandag:

Almal was nie gereed nie.  Hulle lyk dieselfde, deel dieselfde verwagting, maar almal was nie gereed nie. Dis duidelik dat hierdie boodskap nie gemik is op buitestaanders wat ooglopend nie gereed is nie, maar op mense in die  kerk wat dink dat als reg is. Die waarheid is : Almal wat formeel tot die kerk van Jesus behoort,  is nie noodwendig  gereed nie! Almal wat gedoop en aangeneem is, is nie outomaties gered en gereed  nie!  Nie gereed vir die dood, nie gereed vir die wederkoms nie! Daar wag nare verassings. Jesus het dikwels op hierdie waarheid gesinspeel - Sien Matteus 7:21 (vgl. vers 12 in die gelykenis) “Maar die bruidegom antwoord : ‘Ek sê  vir julle : Ek ken julle nie!’” Skrikwekkende woorde! Die meisies voor die toe deur was nie gerat vir ’n lang wag nie. Olie wys nie op ’n spesifieke saak nie - die punt is maar net hulle was nie voorbereid nie, hulle was nie gereed nie. Daar is verskeie redes waarom kerk mense nie gereed sal wees nie. Sommige het hulle nog nooit tot Christus bekeer nie, andere het afgedwaal... Die gelykenis van die Saaier wys ons daar  kan verskeie redes waarom mense wat wel die Woord hoor nie altyd vrug dra nie.

Daar vind ’n onherroeplike skeiding plaas as die Bruidegom,  Jesus  weer kom! Geen tweede kans nie. Net soos in die gelykenis van die Ryk man en Lasarus. Ook Hebreërs 9:27 dui daarop. “ ‘n Mens is bestem om net eenmaal te sterf, en daarna kom die oordeel.” (Terloops dit is genoegsaam bewys dat die hele mite van reïnkarnasie* ‘n bedrogspul van Satan is. Daar bestaan nie so iets nie.)  As die deur gesluit is, is hy gesluit tot in alle ewigheid!

Tot almal wat kan hoor kom  hier ’n duidelike oproep en vermaning! Vers 13. “Waak dan omdat julle nie weet  op watter dag en uur dit sal gebeur nie.” Dit wil maar net sê : Wees voorbereid. Maak seker dat jy gereed is. Vriend, moenie deel wees van die vyf dwase meisies se somber statistiek nie. Dis bitter noodsaaklik om hierdie boodskap en waarskuwing uit Jesus se eie mond te hoor. 

Die algemene indruk, as ons rondom ons kyk en mense se prioriteite gadeslaan is dat die verre meerderheid  nie juis besig is om voor te berei nie! 

So baie leef sorgeloos met ‘n valse illusie van sekerheid en saligheid. Grusame ontnugtering is die voorland!

Baie maak nie erns  met die Woord nie, hulle benut nie hulle kanse nie.
Baie mense het ‘n valse sekerheid, gebou op godsdienstigheid, gevoelens of aannames, maar nie op die genoegsame versoeningswerk van Jesus nie!
Baie steur hulle nie aan heiligheid nie - hulle dink dis nie nodig nie. Hulle vergeet Hebreërs 12:14 se dringende waarskuwing.
Baie kerklidmate sit onder die geklank van die Woord, maar het nog nooit ’n drastiese keuse gemaak om Jesus te volg nie...hulle stel altyd deur maar weer uit.
Baie het moeg en pap en slap in toewyding geword... die opgewondenheid om Jesus te volg het verdwyn.
Baie leef in onvrede, bitterheid, met wrokke...hulle weier vergifnis aan ander en wys so dat hulleself nog nooit vergifnis ontvang het nie.
Baie het lou geword. Hulle dink, praat en doen maar net soos die sondige wêreld rondom hulle, hulle is lankal nie meer warm nie...
Baie is net besig om aardse skatte bymekaar te maak, en dis ‘n duidelike bewys dat hulle geen aanddele het in die koninkryk van God nie!

Dis alles simptome van olie wat opgeraak het en lampe wat nie brandend is nie! Die gevaar van ‘n geslote deur is die   grusame gevolg...

BRAND JOU LAMP?



Die koms van Jesus gaan onverwags wees. Ons dood kan onverwags wees. Beide - ons dood of Jesus se koms is nou ‘n jaar nader, as wat dit verlede jaar hierdie tyd was! Is jy voorbereid? Brand jou lamp? Waarmee is jy besig?

Die oplossing is : tref bestyds voorsorg! Hoe? Wees eerlik oor jou toestand, erken voor die Here : Ek is nie gereed nie! Reageer op Jesus se uitnodiging! Kom net soos jy is, kom kry die lewe verniet, maar kom betyds!  Dis ‘n waarheid wat alreeds in die Ou Testament  onderstreep word in Jesaja 55:1 (lees dit gerus) Maar ook vers 6 is dringend belangrik. “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.”

Roep na  Hom. Vind Hom! Volhard in waaksaamheid!

* Baie in ons dag glo hierdie leuen van Satan. Selfs iemand soos die skryfster Annelie Botes.

Dinsdag 09 Oktober 2012

BISARRE ABELSE BABBELING

- soos kaf in die wind.

Daar is ‘n groep verdwaaldes wat hulle graag self tipeer as soekers en hulle onder die skyn van nederigheid beroem op die feit dat hulle altyd soekers sal bly. Onder hulle tel die uitgesproke Abel Pienaar, een van Rapport se aangestelde dwaalskrywers in diens van die liberale pers se aanslag op die Christelike geloof. Hierdie voormalige NG predikant (en tans deel van die "Renaissance Spirituele Gemeenskap") probeer homself verkoop as ‘n eerlike neutrale soeker. (weliswaar met ‘n "breë Christelike denkraamwerk"??) Nou wonder mens waarna hy soek, want vanuit die staanspoor bestaan daar vir Abel nie iets soos waarheid nie. Hy verklaar  : “Daarom is my oortuiging om nie ‘n afgod te maak van enige leerstelling oor of van die goddelike nie. En alhoewel ek nog bewustelik vanuit die Christelike tradisie (in sy breedste sin) werk, is ek oop en verdraagsaam teenoor alle religieuse tradisies en menslike gemeenskap van alle tye en kulture...” Abel se beweerde neutrale openheid en breë Christelikheid is natuurlik pure verdigsel. Hy is nie neutraal nie, want sy denke is deurspek met Oosterse godsdiens en heidense denke soos die panteïsme.

[Hieronder volg Abel se geloofsbelydenis. Ek gee dit weer in kursief en lewer kortliks kommentaar op elke artikel vanuit ‘n Bybelse perspektief]

Geloofsbelydenis van ‘n soeker

Ek glo in die Ewige
van die ewig veranderende kosmos
wie se naam verander soos die
soekers tydelik vind en noem.

Abel soek in die wind en die gevolg is ‘n waardelose en waarheidlose  windlawaai. Hy glo iets, maar daardie iets is alles en dus niks. Sy selfgewaande geloof is totaal sonder inhoud.  Uiteindelik dink hy sy eie antwoorde uit en skep hy sy eie “windwaarhede”.  Hierteenoor glo die Christen in ‘n Ewige God wat Homself duidelik bekend gemaak het in Jesus Christus as die finale hoogtepunt van die Godsopenbaring. (Hebreërs 1:1-3) Daar is vir ons ‘n duidelike Naam gegee waardeur ons gered kan word, die Naam, Jesus Christus! (Handelinge 4:12) Hierdie Jesus is die enigste Middelaar tussen die enigste ware God en die mens. (1 Timoteus 2:5)

Ek glo in God my vader
ook my moeder
en ook myself.

Abel is sy eie god. Hoe kan dit anders want sy “god” het geen identiteit en geen naam nie? Wat bly dan oor as dat ek maar op myself aangewese moet wees?  Onsinnige selfaanbidding!  Die ware God het Homself duidelik bekend gemaak. Ons God is die Vader van ons Verlosser Jesus Christus en daarom (en net daarom) ook ons Vader. Nêrens bely Abel vir  Jesus Christus nie. Dit wys dat hy deur die Satan verblind is en dan verstaan mens ook sommer waar sy windwyshede vandaan kom. Ja, inderdaad is hy deur sy god, die god van hierdie wêreld verblind, sodat hy nie die lig van die evangelie kan sien nie. (2 Korintiërs 4:4) Abel se god is uiteindelik (of hy dit weet of nie)... die Satan self!

Ek glo dat elke vorm van lewe
‘n manifestasie van God se liggaam is
en daarom wat ek aan ander doen
ek inderwaarheid aan myself doen.

Abel ontken die grens tussen Skepper en skepsel. Alles is vir hom, God. (Panteïsme) Abel se soeke het hom weer terug gelei tot  by die heidendom wat bome en diere aanbid! Hy aanbid en vereer die skepping en dus homself. Dis presies wat volgens Romeine 1:18-23 gebeur as ons nie God as God eer en dank nie. En dit het skrikwekkende gevolge soos ons verder in daardie hoofstuk lees... Ons glo dat daar 'n ewige onderskeid is tussen Skepper en skepsel. Ons glo nie dat die mens ooit 'n god word nie, maar dat ons as kroon van die skepping, ons sin en vreugde vind in die aanbidding van die een ware Skeppergod!

Ek glo in die liefde
wat mense inspireer
tot eerlikheid en weerloosheid
wat soms die ewige
tydelik sigbaar maak.

Abel glo in die liefde, maar dis vir hom ‘n normlose vaagheid. Slegs kinders van God weet wat ware liefde is, want ons het die uiterste vorm en hoogste norm daarvan aan die kruis gesien, toe die Sondelose in die plek van sondaars gesterf het. God het ons  eerste liefgehad en hierdie liefde roep ‘n wederliefde by ons op. Dis ‘n liefde met inhoud, naamlik die opdragte van ons Verlosser Jesus Christus, wat gesê het : “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly...” (Johannes 15:10)

Ek glo dat ek en almal om my
deel is van dieselfde siklus
van geboorte tot dood tot geboorte.

Hier verraai soeker Abel sy oorgawe aan Oosterse bygeloof in  ‘n nimmereindigende siklus! Hy is nie so neutraal en onskuldig as wat hy probeer voorgee nie. Gelukkig is die Christen nie vasgevang in ‘n eindelose siklus nie, maar doelgerig oppad na ‘n heerlike voleinding, wanneer al God se vyande verslaan sal wees en God ten volle geëer sal word. (1 Korintiërs 15:24-28)

Ek glo dat vrede
voortvloei vanuit ‘n aanvaarding van wat jy is
en dit bepaal die misterie van wie jy is.

Abel het hier ‘n halwe waarheid beet, wat gegrond is op ‘n gevaarlike leuen. Reg teen die Bybel in wat leer dat ons sondaars is wat onder die regverdige toorn van God staan. Dis eers wanneer ‘n sondaar tot geloof in Jesus Christus gekom het, dat hy vrede met God het en daarom ook in vrede met sy medemens en homself kan leef. (Romeine 3:23,24; 5:1)

Ek glo dat die lewe ‘n dans is
en die doel daarvan – om jouself
in die ritme te verloor.

Abel mag dalk dans, maar hy weet nie waarom of waarheen nie. Wat ‘n stukkie leë nikseggende wollerige retoriek! Die “verloor” maak wel ietwat sin. Abel het duidelik koers verloor en as hy hom nie bekeer tot God en sy Seun Jesus Christus nie, gaan hy vir ewig verlore wees. Dis net die kind van God wat vrede met God deur die kruis van Jesus gevind het, wat nou en tot in ewigheid kan rondspring van vreugde! Ja, ons het ‘n duidelike doel en sin in hierdie lewe, en in die lewe hierna : om die Lewende God te aanbid en te geniet! Die doel van my lewe is nie myself nie, maar God!

Ek glo dat die wat soek sal vind
en wat hulle vind sal hulle verder laat soek
want alle waarheid en kennis
van God en die lewe
is altyd voorlopig.

Abel kom hier op die klank af  na aan die Bybelse waarheid, wat  wel duidelik leer dat die wat soek sal vind. Hy bedoel egter nie die Bybelse soeke  en die Bybelse Antwoord,  naamlik Jesus Christus nie. Abel en sy vriende sal ongelukkig bly soek, want hulle soek op die verkeerde plek. God openbaar Homself in sy Woord, en dis waar ons moet soek. Ons weet ook dat niemand van ons van nature God soek nie (Romeine 3:11), maar gelukkig soek God se uitverkiesende genade ons eerste op! Ja, die kind van God se verstaan is inderdaad in baie opsigte nog gebrekkig - niemand van ons is nou al instaat om die volle omvang van sy heerlikheid en genade te begryp nie, maar om te beweer dat alle waarheid tydelik is, is ‘n infame leuen. Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe (Johannes 14:6) - en Hy is nie voorlopig nie, maar God se finale spreke tot die mens. Hierdie Waarheid kan ons ken, en deur hierdie Waarheid word ons vrygemaak! (Johannes 8:32) En hierdie Waarheid is weereens, die Seun van God! (Johannes 8:36) Sy versoeningswerk deur sy kruis en opstanding was finaal en genoegsaam, beslis nie net voorlopig nie.

Ek glo, ek hoop en ek het lief
en hiervan is die sterkste
my geloof in die Liefde.

Abel verval hier in ‘n  onsinnige sirkelredenasie.  Wat of in wie glo Abel - daar is dan volgens hom geen kennis van God beskikbaar nie?  Waarop stel hy sy hoop? Vir wie het hy lief? Sy vae onwerklike god, wat eintlik hyself is? Hy probeer vir Paulus na-aap, maar anders as by Paulus het Abel se geloof, hoop en liefde geen inhoud nie. Uiteindelik glo hy in die liefde, maar dis ‘n liefde van sy eie illusie, aangesien Abel duidelik die unieke enigste ware liefde wat God deur sy Seun Jesus Christus bewys het, minag en verwerp. Christene kan slegs liefde betoon, omdat God ons eerste liefgehad het deur die Gekruisigde! Die natuurlike (nie-wedergeborene) is nie instaat tot ware liefde nie, omdat die sondeval ons vol selfsug en selfgesentreerdheid gelaat het.

Abel Pienaar

Abel is allesbehalwe ‘n soekende reisiger na die waarheid. Nee, as beoefenaar van die Zen Boeddhisme is hy eintlik maar niks anders as ‘n afgodsdienaar nie. Sy betrokkendheid by Tai Chi en meditasie laat mens sterk vermoed dat hierdie “spirituele begeleier” diep in die net van die okkulte vasgevang is. Dit laat mens sidder om te dink waarheen hy sy aanhangers begelei!

Nee wat Abel, jy gorrel in die wind! Die gelowige wat die Bybel as die onfeilbare Woord van God aanvaar en wie se oë deur die Heilige Gees geopen is om die Woord (Jesus) in die Woord te aanskou is nie meer ‘n kind van die wind nie. Ons is gelukkig ook nie meer swerwers sonder roeping nie, want God het ons uit genade geroep om erfgename van Hom te word. Ons is ook nie meer soekers wat nooit vind nie, want God het ons eerste gevind en gegryp, en daarom kan ons ons losmaak van dit wat agter is en uitstrek na dit wat voor is met die heerlike vooruitsig van ‘n hemelse prys! (Filippense 3:12-14)

Abel (en sy mede Nuwe Hervormers en Vervormers)  is nie 'n regtig vry nie, al beskou hulle hulself as  vrydenkers. Nee, hulle is verknegtes van die Verleier! Vryheid is alleen te vinde in ons Verlosser Jesus wat ons vrygekoop het met sy kosbare bloed!

Addendum

Abel sanik nou weer onlangs in Beeld (20 Februarie 2013) dat die kerk 'n geleentheid tot "oop gesprek" misloop deur die Kerkbode se onttrekking aan die Woordfees. Sy uitsprake wys maar net weereens sy totale geestelike onkunde en absurde arrogansie. Van wanneer af is dit die kerk se roeping om "oop gesprek" met wolwe in skaapsklere te voer? Is Abel werklik so oningelig of is dit nou maar net 'n manier waarop hy wil skerm vir die Kerkbode se omstrede kletsjoernalis Jean Oosthuizen wat nou in die warm water beland het? Abel  behoort mos te weet dat Elia nie gesprek met die Baäl profete op Karmel gevoer het nie, maar eers met hulle gespot het... en toe laat slag het! En ook in die Nuwe Testament is die kerk se taak nooit "oop gesprek" nie maar duidelike en vreeslose verkondiging van die Waarheid!

Saterdag 06 Oktober 2012

GERED UIT 'N GRAFBESTAAN

- Jesus is bedrywig in Satan se "scrapyard"

Kom ons gestel vir ’n oomblik dat daar destyds ’n Departement van welsyn in Palestina en omstreke was. Sê nou maar met  ’n hoofkantoor in Jerusalem. Dan sou jy daar iewers in ’n rak ’n stofbedekte lêer gevind het, gemerk mnr. So-en-So van Gerasa. Stofbedek, want niemand sou meer die moeite doen om aan hierdie saak aandag te gee nie. As jy die lêer wel sou oopmaak sou jy gou verstaan waarom dit daar eenkant vol stof lê. Dis een droewige verhaal van hopelose ellende. Die kliënt het geen vaste adres nie, bevind homself iewers tussen die grafte, dis onmoontlik om met hom te kommunikeer, hy is van sy verstand af, hy is ’n gevaar vir die samelewing, niks anders as ’n wilde dier nie - volgens alle logika volkome onrehabiliteerbaar. (Die gebreekte kettings is  ‘n verdere grusame bewys dat die enigste beskikbare “behandeling” nie juis suksesvol was nie!) Eintlik was hy maar net iemand uit wie se pad mens moes bly. Sonder hoop, afgeskryf ....tot op daardie dag....tot op die ingrypende dag toe Jesus Christus die Seun van God op sy pad gekom het.

Markus 5:1-20 gee vir ons ’n dramatiese vertelling van  hierdie merkwaardige en aangrypende gebeurtenis. Daar is twee pole in die vertelling wat uitstaan: Die ellendige toestand van hierdie man in die mag van die Bose. Die ander pool (en dis waar die klem val) is die Goddelike almag van Jesus wat hom bevry het. 

1) Die haglike hopelose toestand van hierdie man. Markus skets dit vir ons in volle realistiese detail. (Dis eintlik ‘n beskrywende videoskoot) Lees vers 3-5. Kan jy vir jou so ’n bestaan voorstel? In hierdie man se lewe kan mens duidelik sien waarom Jesus die duiwel as ’n mensemoordenaar beskryf.  Hy is ’n sprekende voorbeeld van die duiwel se vernietigingswerk. Afgetakel na gees en liggaam.  Die beeld van God is bykans onherkenbaar in hom geskend. Hy het inderwaarheid ’n doodsbestaan, ‘n graflewe  gevoer, buite enige hoop (let op die herhaling van “grafte” - 2,3,5)

Klink dit alles bekend? Mens hoef nie vêr te gaan soek nie. Die duiwel se verwoestingswerk in mense is ’n alledaagse gesig en werklikheid al mag die besonderhede van hierdie  man se situasie verskil.  Hy doen dit op sigbare maniere sowel as op subtiele wyses. Satan belowe wel aan mense die lewe,  maar hy takel hulle af tot ’n minderwaardige doodsbestaan. Satan maak slawe van mense al dink hulle hulle is vry - net soos in die geval van hierdie man. Slawe van slegte en vernietigende gewoontes wat hulle  aftakel. Slawe van hulle sondige begeertes, vasgevang in ’n dodelike web waarvan die uiteinde die ewige dood is. Uiteindelik beroof die duiwel jou van alle vrede en rus en jy word ’n beangste vlugteling wat nie meer kans sien vir die lewe nie. Satan dompel mense in ‘n grafbestaan van vrees, disternis en sinloosheid! Dit gebeur ook met goeie ordentlike  kerkmense, ja! 

Dis moontlik om selfs met ‘n glimlag in die kerk te sit, terwyl ek eintlik maar ‘n graflewe sonder vreugde en vrug voer!

Maar terug by die man van Gerasa - sy lewe was een groot stuk ellende. ’n Somber uitsiglose bestaan van duisternis en grafte!

2) Jesus se genadige almag bring ‘n omkering in die toneel. Teen die donker agtergrond van uiterste ellende skyn die helder lig van  Jesus se krag en barmhartigheid. Let op die absolute kontras tussen 3-5 en 15. Kyk die groot verskil tussen wat hy was en wat hy nou is. Totaal ’n nuwe mens - geestelik, emosioneel, selfs uiterlik! Nie meer ’n werktuig en woonplek van Satan nie,  maar nugter onderworpe aan die Seun van God!  Wat maak die verskil, of eerder Wie maak die verskil? Jesus Christus die Seun van God. Dis op hierdie Jesus wat die klem en fokus in Markus se vertelling val. Onthou die evangelie wat hy skryf is die evangelie van Jesus en spesifiek Jesus die Seun van God. Jesus die Seun van God - dis Markus se groot tema. (1:1)  Hierdie verhaal is ’n klinklare bewys dat Jesus die Seun van God is, selfs die Bose erken dit! As Seun van God is Jesus almagtig. Markus vertel vier agtereenvolgende verhale om dit aan te toon. Jesus maak die storm stil (mag oor die natuur). Jesus genees die vrou wat aan ongeneeslike bloeding ly  (mag oor siekte).  Jesus maak Jaïrus se dogtertjie lewend. (mag oor die dood).  In hierdie vertelling gaan dit oor Jesus se mag oor die Bose. Jesus bevry hierdie man uit die kloue van Satan. Jesus doen hierdie bevrydingswonder in ’n heidense gebied van duisternis. (die groot trop varke is seker al klaar ’n aanduiding daarvan - die Jode was mos nie ywerige varktelers nie)

Jesus bevry hierdie man uit sy ellendige bestaan. Twee uitstaande eienskappe van Jesus as Seun van God kom hier na vore. Soos reeds gesê - Jesus se almag. Hierdie man was nie net deur een gees beset nie - Sy naam was Legio. (’n legioen was ’n Romeinse leërafdeling van ten minste 6000 man sterk) Hierdie man was totaal besmet en oorgeneem deur ’n klomp demone. Jesus bevry hom in ’n oogwink. Ons sien hier ’n praktiese demonstrasie van Jesus se oorhand en oppergesag oor die Satan. Ons aanskou hier ’n klinklare konkrete bewys van die waarheid wat ons in
1 Johannes 3:8 lees

“Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn,  om die werke van die duiwel te verbreek!” 

Geliefde, mag ons harte op hierdie oomblik verbly word deur Jesus se almag en mag ons opnuut (of dalk die eerste keer) ons vertroue in Hom stel!

As Jesus se krag om te verlos indrukwekkend is, dan is sy liefde, barmhartigheid en medelye met ’n ellendige sondaar net so aangrypend. Ons moet verstaan,  hierdie man was seker nie juis ’n mooi prentjie nie! (Hy het sleg gelyk en geruik!) Waar ander mense  maar sal wegkyk of  sal hulp aanbied aan iemand  met meer potensiaal,  ontferm Jesus Hom oor hierdie mens in die diepste denkbare nood. Jesus is onbevooroordeeld barmhartig teenoor die mees diep gesonke sondaar!

Jesus spesialiseer in die herwinning en herstel van afgeskryfde wrakke in Satan se skrootwerf!

Jesus se almag en barmhartigheid bring volledige bevryding en herstel in hierdie man se lewe. ’n Vuil grafbewoner, ‘n  besete boemelaar word ’n verkondiger van God se boodskap! (20) ’n Willose werktuig van die duiwel word herstel  en omvorm in ’n herout van God! Jesus verlos hierdie man nie net van ‘n aardse grafbestaan nie, maar ook van die ewige helse graf!

Twee laaste sake :

~ Alle mense is nie besetenes nie. Maar, alle mense wat nog nie deur Jesus verlos is nie, is slawe, slagoffers en werktuie van Satan. Alle mense het Jesus se reddende  mag en barmhartigheid nodig!

~ Hierdie verhaal wat Markus vertel het ’n blye hoopvolle einde - ’n man wat bevry is en ’n boodskapper word van God se groot dade. Tog is daar ook ’n hartseer kant. Die mense van die omgewing vra dat Jesus moet weggaan. Hoekom? Ons weet nie presies nie. Miskien was hulle bang vir Hom en sy groot krag, bang Hy raak betrokke in hulle lewens. Heel waarskynlik ontsteld oor die verlies van ’n groot trop varke. Hulle varke het vir hulle meer getel as die bevryding van ’n gebroke medemens.  Hoe dit ook al sy, hulle toon nie veel belangstelling in Jesus nie. Dis tragies, want baie van hulle het seker ook nood gehad.... Wat ’n ironie! Hierdie man wat tot die laaste vlak van die samelewing gedaal het,  sal eendag ’n bewoner wees van die nuwe aarde, terwyl baie van die ordentlike en welaf mense van Gerasa  dalk nie daar sal wees nie, omdat hulle die kans laat verbygaan het om die Magtige Verlosser te vind! 

Geliefde, moenie jou oor die “varke” (allerhande aardse kleinighede) bekommer en so die verlossing mis nie!