BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Verdraagsaamheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verdraagsaamheid. Wys alle plasings

Vrydag 08 Februarie 2019

VERWARRING

AS DIE ONDERSKEID TUSSEN LIG EN DUSTERNIS VERDWYN! 



Niks is so erg soos verwarring nie. Dink nou maar aan die frustrasie as ‘n skeidsregter nie konsekwent is in die toepassing van reëls nie of nog erger as daar glad nie meer reëls is nie! Hoe sal ‘n rugbywedstryd lyk sonder reëls? As niks verkeerd is nie… As jy maar ‘n drie onder jou eie pale ook mag druk? Chaos! En dis presies wat op geestelike gebied in die wêreld aan die gang is. Erger nog, dis wat in die kerk aan die gang is… Onder mense wat hulleself Christene noem. Daar is nie meer onderskeid tussen reg en verkeerd nie! 



Hier in Jesaja 5:8-25 vind ons ‘n hele lys van dinge wat God kwaad maak en wat tot die tragedie van die ballingskap sou lei. God waarsku onomwonde : “Ellende wag vir julle...” Ja, en vir sommige is dit dalk nuus, maar daar is inderdaad dinge waarvan God nie hou nie en wat sy toorn opwek. Een van die sake wat die profeet noem wat God kwaad maak en wat sy oordele oor die volk gebring het, word in vers 20 genoem. 



“Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.” 



Die sonde van geen onderskeid. Van verdraaiing en vermenging. Van hiperverdraagsaamheid teenoor als wat afwyk van God se Woord. Ek gaan hierop fokus want dit is ‘n uitstaande kenmerk van ons postmoderne tyd! In ons huidige tydsgewrig is als mos reg. Elkeen maak soos hy voel. “Ek voel dis reg...” 

WAAR KOM DIE VERWARRING VANDAAN? 

Natuurlik van die Satan. Die vader van alle leuens. Reeds in die tuin het hy verwarring gesaai. “Het God regtig gesê?” Maar as ons spesifiek na hierdie gedeelte in Jesaja kyk, kom nog ‘n skokkende feit na vore. Die groot bron van verwarring is nie die bose wêreld daarbuite nie, maar mense wat veronderstel is om God se mense te wees. (Onthou met wie hier gepraat word – nie die heidense Egiptenaars of Babiloniërs nie, maar God se Verbondsvolk!) 

Christene wat nie meer wil onderskei tussen reg en verkeerd nie, is vandag die groot bron van verwarring en morele chaos! Dis hoekom ‘n “uitgesproke Christenmeisie” haarself halfkaal in ‘n manstydskrif kan uitstal! *

Die probleem van verwarring kom as Christelike kerke nie meer die moed het om te sê : Dis reg en dis verkeerd nie! (Die kerk is mos selfs bang om te sê wat ‘n huwelik is). As Christelike skole maar alles goedpraat en eintlik niks verskil van ander skole nie. (Dobbelary word gebruik om fondse in te samel!) As Christelike huise nie meer leiding gee aan kinders wat reg en verkeerd is nie. As “Christelike tydskrifte” (soos Finesse) in wese niks verskil van enige ander tydskrif nie! Sogenaamde Christen sangers en filmsterre, sporthelde en politici lewe openlik teen God se reëls, maar hulle verklaar dat hulle gelowiges is en word toegejuig deur almal wat net so min onderskeid het as hulleself! Hierdie vermenging en verdraaiing skreeu ten hemele.

'n Ongetroude paartjie leef saam as man en vrou en vertel ewe vroom dat hulle saambid en saam die Bybel lees. Mens wonder watse Bybel? Vertel hulle Bybel hulle niks van bekering en breek met 'n sondige leefstyl nie? Iemand is besig met 'n skelm onder die tafel deur transaksie en sal ewe vroom vertel van God se voorsiening in moeilike tye! Watter God is dit wat oneerlikheid goedkeur? Dis die probleem : Goed word sleg genoem en sleg word goed genoem! 

GOD MAAK DUIDELIKE ONDERSKEID 

Nou wat leer die Woord ons? God maak deurgaans ‘n duidelike onderskeid tussen goed en sleg, lig en duisternis, soet en bitter! Ons durf nie sy reëls probeer verander nie. Blaai so vinnig deur die Skrif, 

Skepping. ‘n Duidelike onderskeid tussen lig en duisternis. God is lig!

Adam en Eva. Daar was ‘n duidelike reël. Oortree dit en julle sal sterwe! Geen vaagheid. 

Noag. Hierdie geskiedenis wys God maak weereens ‘n duidelike onderskeid. Sommige word gered, ander (die groot meerderheid word gestraf). Slegs binne die ark is redding te vind, daarbuite net oordeel en vernietiging. 

Dwarsdeur die geskiedenis sien ons duidelike skeidslyne. God maak die reëls en Hy is ernstig daarmee. Dink maar aan die voorbeelde van Akan (wat die bangoed gaan begrawe het) en Ussa (wat aan die verbondsark gevat het). Beide het God se opdragte nie ernstig opgevat nie! Beide het die vreeslike wraak van die heilige God gevoel! 

EN JESUS? 

“Ja, maar dis die Ou Testament. In die Nuwe Testament is Jesus mos nie so ernstig nie!”, sal mense beweer. Dis ‘n groot fout,, my vriend. Jesus het die lyne tussen reg en verkeerd net baie dieper getrek. Hy kyk verby die uiterlike na die diepste bedoeling van die hart. Dink aan sy verklaring van die sesde en sewende gebod. Jy is al skuldig aan moord as jy iemand uitskel, jy is skuldig aan egbreuk as jy net die eerste stap tot seksuele onreinheid oorweeg. (Matteus 5) Dis alles behalwe ‘n verslapping van die onderskeid tussen reg en verkeerd. Alles behalwe 'n relativering van morele waardes. 

Jesus se radikale lering oor die twee weë, maak dit duidelik dat daar nie ‘n derde middelpad is nie. 

Daar is ‘n duidelike onderskeid tussen die smal pad en die breë pad! Ja, Jesus het radikale vergifnis aan die grootste sondaar gegee, maar sy opdragte aan hierdie sondaars was eweneens duidelik : Moenie aangaan op die verkeerde pad nie! (Dink aan die vrou in Johannes 8) Maar is hierdie boodskap van ellende, darem nie tog te negatief nie? Pas dit by Jesus en sy mense? Ja, Jesus self het oor seën én ellende gepraat. (Vgl. die veldrede in Lukas 6) 

Die duidelikste bewys dat God onderskeid maak tussen reg en verkeerd, tussen lig en duisternis kry ons by die kruis. As alles maar reg was, waarom moes Jesus so bitterlik ly? As alle mense in elk geval die straf sal vryspring en daar nie ‘n hel is nie, waarom het God dit nodig gevind dat Jesus helse straf deurgaan? 

In 1 Johannes 1:5ev word hierdie saak van verwarring tussen reg en verkeerd ook aangespreek. 

“Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 
As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 
Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 
Maar as ons ons sondes bely- Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 
As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. God maak nie kompromie met duisternis nie. Hy maak ‘n duidelike onderskeid.” 

Moenie God se reëls, bepalings, ordes en norme probeer verander, verdraai en omseil nie. Moenie verskonings uitdink nie. Nee, erken eerder dat jy verkeerd is, dat jy sy heilige wil en gebooie oortree het, kom in berou en belydenis na Jesus Christus, dan is daar beslis vergifnis en reiniging! 
Mag God ons help om in 'n wêreld van verwarring, duidelike onderskeid te maak tussen lig en duisternis!

* Vir 'n bespreking en voorbeelde van skokkende mengelgodsdiens kliek op MELINDA


                                                          Die lig verdryf die duisternis....




Saterdag 22 Junie 2013

JESUS EN DIE SWAARD

- Wat maak ons met sy skokkende uitspraak in Matteus 10:34 en verder?

"Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.  Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees."

“Swaard en tweedrag”, kan dit regtig die woorde wees van die Prins van Vrede? Pas dit nie dalk eerder by Mohammed en sy Islam nie?

Die nag toe Jesus gebore is het die engele met hemelse note uitgeroep: “Vrede op aarde...” Inderdaaad het Jesus ‘n boodskap van vrede gebring en ander aangemoedig om vrede na te jaag. In die bergrede leer hy tog duidelik: “Geseënd  is die vredemakers want hulle sal kinders van God genoem word.” Jesus se hele doelwit was tog vrede. Hy het juis mos  gekom sodat daar vrede tussen ons en God kan wees. Jesus het ook sy dissipels uitgestuur met ‘n boodskap van vrede. Ons lees daarvan in die begin van hierdie hoofstuk: "As julle in ‘n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit.  As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe.” (Matteus 10:11,12)

Maar hoe nou? Ons hoor dan nou dat Jesus self sê dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard en tweedrag! Weerspreek Jesus homself of het die skrywer Matteus iewers ‘n liederlike fout begaan?

Kom ons kyk bietjie mooi na hierdie gedeelte in sy konteks.  Jesus stuur sy dissipels op ‘n sendinguitreik en berei hulle voor vir die teenstand wat hulle te wagte kan wees.  Hy praat openhartig oor die vervolging wat voorlê, maar herinner hulle ook daaraan dat hulle nie mense met beperkte mag hoef te vrees nie, maar eerder God, wat liggaam en siel in die hel kan laat vergaan. In die lig hiervan spoor Hy hulle aan om sy naam openlik te bely. Hierdie dinge kan hulle dalk vir hulle vreemd op die oor val en daarom gee Hy nou ‘n belangrike perspektief op sy koms en doel.  Dis asof Hy wil sê: “Julle moet nie verbaas wees oor al hierdie moeilikheid wat ek vir julle voorspel nie, julle moet verstaan dat my boodskap  en bediening noodwendig tot vyandskap en tweespalt gaan lei.”

Ons kry in Jesus se woorde ‘n rowwe verwerkte aanhaling uit  die Ou Testamentiese profeet  Miga. “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword. Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (Miga 7:6) Dit gaan daaroor dat die profeet weet dat hy teenstand en vyandskap van sy eie mense sal moet verduur (dalk sy vrou – sien vers 5) om in die geloof te volhard.

Jesus bring verdeeldheid omrede nie almal sy boodskap van vrede aanvaar nie. Sommige reageer positief en bekeer hulle, ander verset hulle bly onbekeerd en verhard. Reeds toe Jesus die twaalf apostels uitgestuur het, het Hy met hierdie dubbele reaksie rekening gehou en hulle daarop voorberei. Daarom sê vir hulle:

“As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.
As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.
Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp." (Matteus 10:13-15)

Die probleem is nie by Jesus se boodskap nie, maar by die mense wat sy boodskap van bekering en vrede verwerp!

Omdat nie almal Jesus se boodskap aanvaar en voor Hom wil buig nie, omdat sommige vir Jesus en ander teen Jesus kies, bring dit verdeeldheid binne ‘n gemeenskap, ja, selfs binne families, huisgesinne en eggenotes! Die evangelie bring nou reeds ‘n mate van skeiding in aanloop tot die groot en finale skeiding wat eenmaal by die wederkoms sal plaasvind. Die eggo van Sodom en Gemorra (15) is ‘n belangrike leidraad. Net soos die engel wat Lot hulle kom waarsku het, aangedring dat hulle hulle moes afskei van hulle ongelowige verwante en stadsgenote in die aangesig van die naderende oordeelsvuur, net so skei Jesus mense af van die ongelowiges deur die verkondiging van sy bekeringsboodskap!

Jesus se woorde oor die familie in vers 37 klink baie hard. “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.” Wat sou dit beteken? Natuurlik, Jesus begeer nie familietwis nie, maar Hy wil tog nie hê dat mense ter wille van familie se opinie en invloed die ewige lewe moet misloop nie!* Om Jesus te volg kom eerste, al moet ek dan nou my ongelowige ouers of rebelse kinders ongelukkig maak en myself hulle gramskap op die hals haal!

Neem standpunt in vir Jesus in alle omstandighede, anders is jy nie werd om Hom te volg nie!

Die rede vir die ervaring van verwerping deur jou eie mense kry ons in vers 38. Jesus sinspeel duidelik hier op sy eie kruisdood. Ja, Jesus is die bewerker van ewige vrede, maar juis sy boodskap en optrede het die swaard eerstens oor Homself gebring.  Jesus se pad na vrede het via die bittere en eensame kruisdood geloop. Sy verkondging van God se wil het daarop uitgeloop dat Hy op wrede manier gekruisig is. Jesus is deur die wêreld gehaat en vervolg, en daarom moet ons wat aan Hom behoort ook bereid wees om gehaat en vervolg te word.

Vra jouself : Word ek vervolg oor my Christenskap?

Ons keuse om ter wille van Jesus vervolg te word, is maar net die verlengstuk van sy eie lyding in hierdie wêreld! Die lojaliteit teen die gekruisigde Jesus maak ook ons onaanvaarbaar vir ander mense!

Jesus se woorde moes baie skokkend vir die dissipels gewees het! Dit klink nou asof volgelingskap van Jesus net tot onmin, geweld en vernietiging sal lei!  Is dit dan nog die moeite werd om Jesus te volg? Bring dit nie maar net moeilikheid nie? Daarom bemoedig Hy hulle in vers 39. Wie op aarde sy lewe verloor (dit verwys na al die vyandskap en teenstand wat God se kinders moet verduur, selfs tot die dood toe) sal dit juis vind! Die tydelike verliese wat ons lei omdat ons Jesus volg, word opgevolg  met ewige wins! Die wins van die Koninkryk!

Jy sê jy wil Jesus volg. Dis goed so. Maar wees realisties, wees voorbereid om harde bene te kou, dink mooi voor jy sommer net "ja", sê.  Hou rekening met die gevolge. (sien Lukas 14:28ev) Hier op aarde gaan dit vir jou nie altyd vrede bring nie.  Moet onder geen illusie leef nie. Moenie van die mensdom beter behandeling verwag, as wat Jesus te beurt geval het nie. Maar weet ook, dis oor en oor die moeite werd om jou openlik met die verworpe gekruisigde Jesus te identifiseer! By Hom alleen vind ons die lewe!

Jesus is nie ‘n populistiese people’s pleaser  of ‘n beginsellose verdraagsaamheidsvraat nie!

“Jesus en die swaard”, impliseer nie ‘n wrede Jesus nie, maar ‘n Jesus wie se kompromislose liefdesboodskap van bekering en vergifnis vir die meerderheid van sondaars onaanvaarbaar is - daarom het die swaard op Hom (en sy volgelinge) neergekom! Jesus bring noodwendig verdeeldheid, want niemand kan neutraal staan teenoor Hom nie!

Aan wie se kant is jy?


*Eksegese : erkenning aan Jakob Van Bruggen 

Dinsdag 04 Junie 2013

OP MAURITIUS?


- of waar blom die regte liefde?

So maklik en so dikwels verwyt ons God : “Waarom verander God nie my omstandighede nie? Ek bid nou al hoe lank oor my finansies, maar dit verbeter nie. Ons moeilike kind word net al moeiliker, my kwaai vrou word net al kwaaier, my foutvinderige skoonma net erger, my onbillike baas al hoe brutaler! Dis als net te moeilik vir my. Hierdie mense gaan nog my siel hel toe sleep, hulle maak dit onmoontlik vir my om ‘n Christen te wees!"

Kom ons stel dit as ’n feit - die omstandighede hier op aarde is nie maklik nie. Vir ingeval jy dalk vergeet het, die paradys op aarde is iets van die verlede en geen politieke party, protesoptog of probeerslag gaan dit kan terugbring nie. Mag ek jou net vriendelik herinner : Ons bly op ’n vervloekte aarde. God self het alles aan verganklikheid onderwerp! (Romeine 8:19,20) Die sonde het groot verwoesting aangerig. Almal en alles word daardeur geraak... Baie mense verkeer onder ’n valse indruk. Hulle dink as hulle hul lewens vir Jesus gee gaan alles sommer regkom: die gout gaan verdwyn en die bediende gaan nie meer die stofsuier breek nie... Weet u in die meeste gevalle werk dit nie so nie. Mense wat so maklik getuig - alles is reg vandat ek ‘n Christen geword het, lieg of is nog nie lank op die pad van die Here nie. Wees eerlik - God beloof nêrens dat ons hemel op aarde sal hê nie.

Nou wat verander dan as ek Christen word? Die Woord sê tog immers : alles word nuut. Weet u - die kind van God se reaksie op slegte en moeilike omstandighede verander. Jy beleef nog dieselfde probleme, maar jy reageer nou anders…

Hierdie beginsel kom baie duidelik na vore in die oorbekende 1 Korintiërs 13. Ons weet mos almal dit gaan oor die liefde. Nou sit ons met ‘n probleem : as daar van liefde gepraat word, dink meeste van ons aan ‘n romantiese gevoel, ’n tropiese eiland toneeltjie… Hier gaan dit egter nie oor liefde as ’n gevoelsbelewenis nie. In 1 Korintiërs 13 gaan dit oor liefde as ’n heilige selfbeheerste reaksie in negatiewe, slegte en moeilike omstandighede.

Kom ons bekyk hierdie liefde van naderby. As ons nou deur die verskillende fassette of aspekte van die liefde gaan sal u oplet dat almal ’n negatiewe situasie of omstandigheid veronderstel. Liefde behels dat ek nou anders moet reageer as wat ek normaalweg sou… ek moet anders optree as wat ‘n onbekeerde sou optree… 

Jy kan amper sê dat die liefde geaktiveer word deur slegte omstandighede! 

Die liefde vra amper, tree verkeerd op teenoor my dat ek kan wys wat beteken liefde! 

Kom ons bekyk die anatomie van Geesgewerkte liefde soos dit vir ons beskryf word van vers 4 tot 7.

DIE LIEFDE IS:

geduldig. Ek moet geduldig wees in omstandighede wat my normaalweg ongeduldig sou maak. As alles vinnig en volmaak gebeur soos ek dit bestel, is geduld mos in elk geval nie nodig nie. Dit gaan nie net daaroor om geduld te hê as ek byvoorbeeld in die motor moet sit en wag nie. Maar veral geduld met andere se foute, swakhede, gebrekkige verstaan, se gesukkel ook in hulle geestelike lewe. Liefde maak tyd vir die ander om by te kom, te leer, te verstaan. As dit vir jou moeilik is - dink bietjie na oor God se geduld met jou sedert en voor jy 'n Christen geword het... Hoe lank praat hy nou al met jou oor daai slegte gewoonte…?

vriendelik. Ek moet vriendelik wees, nie net in ’n lekker situasie waar mense met my vriendelik is nie (dis mos maklik), maar juis in omstandighede waar dit vir my moeilik is. Waar ek dalk sou wou kwaad of negatief sou geword het. Egte vriendelikheid, is juis vriendelikheid met diegene wat nie met my vriendelik is nie.

nie afgunstig nie. Dis die uitdaging van egte liefde, juis in omstandighede waar ek dalk minder kry as ander, slegter behandel word as ander, oor die hoof gesien word... Die liefde aanvaar daar is ander wat mooier, slimmer, sterker, beter is as ek. Vir sulke liefde is daar 'n diep vrede in my hart nodig oor wie en hoe God my gemaak het. Ek berus in Sy pad en doel vir my lewe.

nie grootpraterig nie, nie verwaand nie. Juis in slegte omstandighede waar ek myself graag op die voorgrond sou wou plaas. Die kind van God vol liefde probeer himself nie bewys nie, hoef homself nie te laat geld nie, of met angs sy kleim af te steek nie.

handel nie onwelvoeglik nie. Die liefde behandel mense op die regte manier, juis wanneer ander my nie reg behandel nie. Wat behels dit? Volgens die voorskrifte en beginsels van die Skrif byv. : “Doen aan andere wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.” Die liefde tree reg op, juis wanneer ander verkeerd en lelik met my maak!

soek nie eie belang nie. Hierdie fasset van die liefde kom juis veral na vore in omstandighede waar ek moet veg vir oorlewing. Die liefde druk nie voor in die ry in as die kos te min is of die tyd opraak nie... Die liefde kies teen selfgesentreerdheid en vra eerder : Hoe gaan dit hom of haar raak? Wat sal vir hom die beste wees? Dit kyk nie in die eerste plek waar kan ek wen of 'n slag slaan ten koste van my naaste nie. Die liefde weerhou homself van subtiele maniere van selfsug soos lyf wegsteek as ander al die werk moet doen.

is nie liggeraak nie. Juis in omstandighede waar ek seergemaak word of in ’n situasie is waar ek verloor of fouteer. Liefde kan verloor. Kan kritiek verwerk. Dis 'n teken van liefdeloosheid om altyd bedreig te voel en reg te staan om my self te verdedig. Net so is selfbejammering ook dikwels 'n teken van liefdeloosheid : “Kyk wat het hulle nou weer aan my gedoen.” Die liefde sê : “God sal reg laat geskied!” Liefde bevorder ‘n ontspanne houding en sien nie altyd in ander se woorde 'n bedekte aanval op my nie, en al is dit so reageer ek glad nie daarop nie.

hou nie boek van die kwaad nie. Ook hier word duidelik negatiewe omstandighede veronderstel, want as almal mooi met my is, is daar mos niks om van boek te hou nie! Liefde skenk volledige vergiffenis aan almal wat verkeerd teen my optree. (Terloops dit sal altyd so wees - ook in enige gemeente) Die Christen se enigste hoop is dat God my sondes my nie sal toereken nie. Hoe kan ek enige iets teen iemand anders hou? Ware liefde neem nie wraak nie. Ja, natuurlik sal niemand van ons iemand gaan skiet of sy huis afbrand nie, maar wat van al die subtiele vorme van wraak soos stilstuipe of om die ander een net te ignoreer? 

verbly hom nie in onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Die liefde is juis in slegte situasies nie neutraal en staan maar net eenkant nie, nee dit kies kant vir dit wat reg is en teen dit wat verkeerd is. Die liefde is dus nie net 'n soetsappige gevoel nie, maar beywer hom vir die norme wat die Skrif stel in ’n bose en slegte omgewing. Liefde sal dus soms veroorsaak dat ek my teen die opinie van die meerderheid moet uitspreek, as dit nie strook met die Skrif nie...

bedek alles. Juis in slegte situasies waar ander fouteer sê die liefde : “Ek gaan jou behandel asof jou foute nie bestaan nie.” Ek gaan steeds kies om vir jou lief te wees, al weet ek van die vuil sokkies onder die bed... Ek gaan kies om nie te skinder en jou foute aan ander oor te vertel nie.

glo alles, hoop alles. Die liefde streef om die bona fides van andere te aanvaar. Die liefde is nie altyd agterdogtig nie, dit vertrou dat ander Christene ook deur die Gees gelei word. Dit gee aan ander die voordeel van die twyfel. Die liefde berus in die feit : oordeel is in elk geval God se saak. 

verdra alles. As dit goed gaan is daar niks om te verdra nie, dis juis in slegte omstandighede waar liefdevolle verdraagsaamheid moet blom! Ja, verdraagsaam ook as manlief vergeet het om die kragrekening te betaal en hulle sny dit af, as vroutjie vir die soveelste keer die kar gestamp het, as die buurman se hond weer my tuin omgeploeg of die vuilgoedsakke stukkend geskeur het....Die groot toets vir die liefde is of dit onreg kan verdra, of dit nog steeds liefhet al word ek te nagekom of benadeel in die proses. Dis ook die groot verskil tussen gewone menslike gevoel en die liefde van Christus! 

WARE LIEFDE BLOM IN DIE KONTEKS VAN ONREG EN MOEILIKE OMSTANDIGHEDE!

1 Korintiërs 13 bevestig dat ’n Christen nog steeds met slegte omstandighede te kampe het, anders sou dit nie nodig gewees het om hierdie hoofstuk te skryf nie. ’n Christen se omstandighede word nie verander nie, wat verander is jou reaksie binne in daardie omstandighede. Anders gesê - Die Heilige Gees wat in die kind van God kom woon verander nie noodwendig jou omstandighede en die mense rondom jou nie, maar stel jou instaat om anders te reageer as voorheen in daardie selfde omstandighede. Hierdie reaksie is radikale liefde. Dis ’n liefde ten spyte van negatiewe omstandighede, moeilike mense en onseker toestande! Hierdie liefde is net moontlik as jy wedergebore is, want dis ‘n vrug van die Heilige Gees!

Naskrif : As mens eerlik na die norme van ware liefde kyk, dan besef jy weer : Ek is ‘n sondaar met ‘n bose hart wat werklik behoefte het aan ‘n Verlosser!