BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Nuwejaar 2018. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nuwejaar 2018. Wys alle plasings

Donderdag 11 Januarie 2018

’n Vaste Afspraak op God se Almanak

waaroor die “lifecoach” en motiveringspreker swyg!



(en sommige dominees en pastore ook)



Ons ken almal ’n almanak. Hier aan die begin van die jaar maak almal seker dat ons almanakke het. By wyse van spreke kan ons ook sê dat God ’n almanak het. Ons kan nie God se almanak sien nie. Ons ken byvoorbeeld nie ons eie persoonlike sterfdatum nie. Ons weet nie wanneer Jesus se wederkoms gaan plaasvind nie. Daar is wel vaste afsprake op God se almanak al ken ons nie die datums nie. Sommige van God se belangrike gebeure op sy almanak is reeds verby. Die skepping, die menswording van Jesus, die kruisiging en opstanding, Sy hemelvaart en die heerlike uitstorting van die Heilige Gees. Daar is wel nóg ’n groot gebeurtenis op God se almanak wat in die toekoms lê – die wederkoms en oordeel. Paulus praat ondubbelsinnig duidelik hieroor. Dis ’n vaste seker punt op God se program vir die toekoms. Ons almal is op pad na daardie afspraak. Dalk wonder jy :”Goed en wel, maar is dit relevant om daaroor te praat?” Wel Paulus het so gedink…

Kom ons kyk bietjie na Handelinge 17:16-34. Paulus bevind homself hier in die groot wêreldstad Athene. ‘n Sentrum van geleerdheid. Baie filosowe en 'n menigte van idees. Ook vol afgodsbeelde en verwarring. Hierdie mense ken nie vir Jesus nie, hulle weet niks van die evangelie nie. Tog is hulle baie godsdienstig. Nog kry Paulus die wonderlike geleentheid om op die beroemde Areopagusheuwel die evangelie te verkondig! Hy moet dit goed en wys benut... 

Areopagusheuwel vandag. (Foto  Wiki)

Paulus sluit aan by hulle kennis en omstandighede... Hy is nie lelik en veroordelend nie, eintlik baie strategies en taktvol. Hy begin by die “onbekende God”... Daar is net een God wat aan alles lewe en asem gee. Paulus praat ‘n taal wat hulle verstaan en haal sommer een van hulle digters ook aan. (28)

Dan kom Paulus by die klimaks van sy toespraak. 

""God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (30-31) 

Paulus verkondig die boodskap van bekering. Hoe dan anders? Dit was mos die duidelike opdrag van Jesus aan sy dissipels, kort voor sy hemelvaart. 

“Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (Lukas 24:46,47) 

God beveel mense deur sy diensknegte om hulle te bekeer. Wat is bekering? Om ’n keuse te maak! Om van gedagte te verander oor God en sy verlossingsplan deur Jesus. Om anders te dink en te doen. ‘n Bekering na God toe en weg van die afgode. Geloof en bekering gaan altyd saam. Om weg te draai van my verkeerde koers, om van gedagte te verander en op Jesus te vertrou. Terloops die boodskap van bekering en geloof was nie net die boodskap van Johannes die Doper* en die apostels nie, maar ook van Jesus self! 

“Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15)

Waarom is bekering so belangrik? Waarom doen Paulus die moeite om dit met hierdie vreemde Grieke te deel?

Daar is ’n oordeel wat kom. God gaan die wêreld oordeel volgens Sý standaard en norm. Sý wet! (Terloops, die opinie van Die Huisgenoot of Oprah Winfrey gaan nie tel nie!) God gaan mense tot verantwoording roep. Mense sal moet verduidelik. Hierdie waarheid vind post-moderne mense afstootlik, want ons redeneer mos : “Ek kan maak soos ek wil. Daar is nie reg en verkeerd nie, elkeen moet vir homself besluit.” Nee, die Bybel leer anders. “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” (Romeine 2:16) 

Die mens staan verantwoordelik voor God, want God is ons Maker. 

Of mense in God glo of nie- elke mens gaan verantwoording doen voor God van sy lewe hier op aarde. (Sien Openbaring 20:11-21)

Hierdie naderende oordeel op God se kalender is nie bangmaak stories nie. Die bewys dat God dit regtig gaan doen is die opstanding van Jesus uit die dood. Deur die opstanding het God onteenseglik onomstootlik bewys dat Jesus wel die Seun van God is. 

God gaan die wêreld oordeel. Deur ‘n Man. Jesus Christus. Daar’s baie verkeerde opvattings oor Jesus. Jesus is nie ‘n lewensafrigter of leefstylkonsultant om van ons suksesvolle en gemaklike mense te maak nie. Hy is ‘n Redder van sonde. ‘n Genadige Redder! Maar as Jesus weer kom, kom Hy oordeel. Dan is die genadetyd verby. Nou is Hy nog hier as die Redder van sondaars, maar as Hy weer kom, kom Hy nie as Redder nie, maar as Regter!

Wat ‘n geweldige boodskap van die apostel Paulus. So baie- selfs kerkmense glo nie hierdie boodskap van oordeel en bekering nie. Dis al afleiding wat mens kan maak, as mense houtgerus voortleef en op hulle ou paaie van sonde en onverskilligheid volhard. As daar vir als tyd is behalwe vir God se Woord…

Hierdie gedeelte is so belangrik as ons weer wil besef waaroor die eintlike boodskap van die Bybel gaan. Soos ons gesien het gaan Paulus baie slim, ordentlik en diplomaties te werk met sy gehoor. Maar hy bly eerlik. Hy praat oor dit wat waar en relevant is, oor die mens se basiese behoefte. Die noodsaak om betyds vrede met God te vind. Hy vertel NIE vir die Atheners hoe hulle suksesvolle, welaf en gesonde lewens kan kry nie. Nee, hy vertel hulle eerlik van God se naderende oordeel en hoe hulle gered kan word van daardie oordeel! Onverskrokke bring Paulus sy boodskap van waarheid aan die heidense en kritiese Atheners! 

Wat sou die reaksie wees? “Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal jou weer hieroor wil hoor." So het Paulus van hulle af weggegaan.‘n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.” (32-34) 

Die waarheidsevangelie bring altyd skeiding. Sommige verwerp dit en lag daaroor**, ander glo. Hier gebeur dit ook weer.

Die Bybelse metode van evangelie verkondiging sluit ook die waarskuwing oor die naderende oordeel in, as ons dit verswyg is ons oneerlik… Moenie die jaar ingaan as ‘n onbekeerde nie. Dit sou dwaas wees! Sorg dat jy die Man wat gaan oordeel, Jesus, ken, dan is jy veilig! AMEN!

*Sien hoe Johannes die Doper bekering baie prakties verduidelik. (Lukas 3:7-14)

**Uit hierdie gemengde reaksie is dit duidelik dat baie mense destyds ook nie in Jesus se opstanding kon glo nie. Geleerdes wat wil maak of geloof in die opstanding sommer net iets is wat algemeen in destyds se “primitiewe” kultuur was, maar slegs in ons tyd nie meer geglo kan word nie, praat dus nie die waarheid nie. Vir die ongelowiges van destyds was die opstanding ook iets belaglik. Om dieper op die sekerheid van die opstanding in te gaan kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE

Donderdag 04 Januarie 2018

MY PLANNE WERK NIE UIT NIE...

WAT NOU? 



AS GOD ANDERS BESLUIT, KAN EK TEVREDE WEES DAT HY WEET WAT HY DOEN!

Ons kry soms van die kosbaarste boodskappe sommer so uit minder opvallende gedeeltes van die Bybel. Hier aan die einde van die beroemde Romeine brief nadat Paulus klaar die groot teologiese waarhede van sonde, verlossing en dankbaarheid uitgelê het , skryf hy oor sy reisplanne. (Sien ROMEINE 15:23-33) En juis hier as ons die hele konteks van die Nuwe Testament in ag neem kry ons ‘n baie belangrike en troosvolle boodskap!

Paulus vertel aan die gemeente in Rome van sy planne en begeerte om na Spanje* te reis. 

“As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis.” (Romeine 1:28)

Dit sou beteken dat hy deur Rome moes reis en dan sou hy ook uiteindelik die geleentheid kry om die kerk daar te besoek. Heel moontlik was sy gedagte ook dat Rome dan sommer as basis kon dien vir sy verdere uitreik na die weste. Voor dit was daar egter eers ‘n baie ‘n belangrike taak wat hy moes afhandel. Hy moes ‘n kollekte van die heiden Christen gemeentes wat hy ingesamel het afbring na die Joodse Christene in Jerusalem. Dit was ‘n barmhartigheidstaak en Paulus het dit as baie belangrik beskou en hy het dit dan ook gedoen… Dit het heel waarskynlik ook vir Paulus om meer as bloot liefdadigheid gegaan, dit was ‘n handeling wat die diepgaande eenheid van die kerk sigbaar sou demonstreer – die feit dat God se kerk, die ware Israel uit gelowiges van beide Joodse en heiden afkoms bestaan. 

Sommige sien in hierdie daad van Paulus die simboliese vervulling van ‘n profetiese teksgedeelte soos Jesaja 66:20. “Hulle (die heidene) sal al julle volksgenote uit al die nasies as ‘n geskenk vir die Here saambring op perde, op waens, op drastoele, op muile en op kamele. Hulle sal hulle bring na my heilige berg toe, na Jerusalem toe, sê die Here. Hulle sal hulle bring soos die Israeliete die graanoffers in rein skottels na die huis van die Here toe bring.” 

Die heidennasies se bydrae is ‘n simboliese verteenwoordiging van hulleself as offer aan God. Hierdie offer afkomstig van heiden christene sou ook ‘n bevestiging van Paulus se apostelskap wees, spesifiek van hom as apostel wat geroep was na die heidennasies. Hoe dit ook al sy, hierdie reis was vir Paulus van uiterste belang…

God besluit toe anders...

Die volle verhaal van Paulus se reis na Jerusalem word in Handelinge vertel. In Jerusalem het daar egter dramatiese verwikkelinge gekom. Paulus is gearresteer. Handelinge vertel al hierdie gebeure in detail – hoe Paulus voor die Joodse raad en daarna voor goewerneur Feliks, en daarna voor sy opvolger Festus en ook voor koning Agrippa verskyn en getuig het. So het meer as twee jaar verbygegaan. (Hand 24:27) Toe het Paulus hom einde ten laaste op die keiser beroep en daar is besluit dat hy na Rome gestuur moet word om voor die keiser te verskyn. En eers na ‘n baie lang en gevaarlike seereis, wat ‘n skipbreuk op die eiland Malta ingesluit het, het Paulus in Rome aangekom. Hy bereik Rome ja, maar nie as ‘n reisende sendeling op pad na Spanje nie, maar as ‘n gevangene van die keiser! 

Die mens wik, maar God beskik! Ja, God bereik sy doel dikwels met ‘n lang en moeisame ompad en nie sommer met maklike kortpaaie nie!

Het die verandering van planne vir Paulus ondergekry? Het hy tou opgegooi? Het hy vertroue in God se beskerming verloor? Nee! Hoekom nie? Hy het ‘n duidelike doel gehad, wat groter was as sy eie ambisie en begeertes. Reeds op reis na Jerusalem het dit begin duidelik word dat vervolging daar op hom wag in Jerusalem. 

Ons lees daarvan in sy afskeidswoorde aan die ouderlinge van Efese. 

“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie.
Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag.
Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:22-24.) 



Hoe kon Paulus ten spyte van terugslae en teleurstellings met BLYDSKAP volhard? Jy sien, Paulus se reisplanne en toekomsvisie het nooit oor sy eie eer of eie plesier of eie avontuurlus gegaan nie. Dit het gegaan oor sy gehoorsaamheid aan die opdrag en roeping wat die Here hom gegee het. En toe die Here dus sy reisplanne wysig en bepaal dat dit lyding en tronkstraf moet insluit het hy met blydskap daarby ingeval! Mens sien hierdie selfde gesindheid van oorgawe aan God se besluite en vergenoegdheid in alle omstandighede ook baie treffend in die Filippense brief. Daarin verklaar hy : “Of ek lewe en sterwe maak nie saak nie, solank ek net Christus verheerlik!” (Filippense 1:20,21) 

PRAKTIESE OPMERKINGS: 

  • Ons planne werk nie altyd uit nie, selfs al is ons getroue kinders van die Here, selfs al het ons die beste bedoelings, selfs al bid ons baie oor die planne. Ons moet dus nie moed verloor as als nie verloop soos ons dit voorsien het nie. Dit beteken nie die Here het ons afgeskryf nie. Ons moet net nooit ons passie vir sy eer en sy evangelie verloor nie. Dis wat tel!
  • God is soewerein, sy planne werk altyd uit en Hy bereik altyd sy doel, al is dit op ‘n ander manier as wat ons sou wens of verwag! Niks en niemand kan God keer om sy ewige doelwitte te gebruik nie.
  • Ons moet ons blymoedig onderwerp aan God se planne al behels dit ‘n ander opsie as wat ons vir onsself sou kies. Jy wou dalk graag ‘n reisende sendeling word, maar God het beskik dat jy ‘n siek familielid moet versorg of na jou klein kindertjies by die huis omsien. Of andersom, jy wou dalk graag ‘n ma van klein kindertjies wees, maar nou het God beskik dat jy enkellopend moet wees sodat jy vry is om ander mense te bereik. Jy wil dalk nou iets groots vir die Here doen,maar HY plaas jou eerste deur ‘n toets van lyding, siekte of opleiding. Jy het dalk beplan om die wêreld vol reis vir die evangelie, maar helaas nou is jy op ‘n siekbed... 
Wees geduldig, God het Sy tyd en Sy manier! 

Onthou : Paulus se belofte in Romeine 15:29** het waar geword, maar op ‘n ander manier as wat hy beplan het of seker graag sou wou sien... En beslis op ‘n ander datum as wat hy oorspronklik voorsien en gedink het. Hou dit ook in gedagte as jou planne vir 2018 ook nie altyd gaan uitwerk soos jy dit wou gehad het nie.

Die besondere verhaal van ds. A.A. Louw die pioniersendeling van Masjonaland (Zimbabwe/Rhodesië) is ‘n baie bemoedigende bevestiging van hierdie waarheid dat God SY TYD en SY PLAN het wat die beste is! (Kliek LOUW)


Andrew Louw en sy vrou Cinie

*Het Paulus ooit toe by Spanje uitgekom? Daar is interessante inligting wat moontlik daarop kan dui soos ‘n verwysing van Clemens in die eerste eeu en ook in die Muratoriese kanon. Daar is egter geen duidelike bewyse nie. Sien Morris, Epistle to the Romans, p518 voetnota 119.

** “Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.” Romeine 15:29

Maandag 01 Januarie 2018

‘N NUWE TOEKOMS IN 2018!

- Die sleutel is vertroue op die Woord.

Die hele nag het hulle hard gewerk, maar nie een vis gevang nie! ‘n Algehele mislukking. Onthou net Petrus en sy makkers was nie hengelaars wat vir ontspanning vis gevang het nie, dit was hulle brood en botter, hulle hele bestaan het van die sukses van hulle vangste afgehang. Ons lees van hierdie gebeurtenis in LUKAS 5:1-11. Petrus moes baie mismoedig gewees het, maar toe maak hy ‘n keuse, ‘n keuse om Jesus op sy woord te vat. ‘n Keuse om Jesus se woord te glo al maak dit nie sin nie en al druis dit teen sy logika in... en toe verander als. Dit lei nie net tot ‘n wondervangs nie, maar ook tot ‘n wonderlike toekoms!

God praat met mense. Hy hou Hom nie maar net stil eenkant en onbetrokke nie. Hy maak bemoeienis met mense. Hoe? Hy doen dit deur sy Woord. Sy beloftes. Wanneer ons God se Woord glo, gebeur daar heerlike en kragtige dinge. Die krag van God se Woord word besonderlik bewys in hierdie gebeurtenis. Die belangrikheid van God se Woord en beloftes is ‘n deurlopende tema in hierdie verhaal. Reg aan die begin hoor ons dat die skare gretig vorentoe beur om God se Woord te hoor. “Op ‘n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor,” (1) 

PERSOONLIKE KEUSE OM DIE WOORD TE GEHOORSAAM

Jesus bring die Woord aan almal wat maar wil luister. Maar dan kom God se Woord baie persoonlik na Petrus. (4) "Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang." Dit het nie vir Petrus na ‘n logiese opdrag gelyk nie. Hy was ‘n visser van beroep, hy het die water geken, hy het geweet daar’s niks... Jesus was nie ‘n visserman nie, hy het in ‘n timmermans besigheid grootgeword. Maar Petrus neem ‘n geloofsbesluit! "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." (5) – met ander woorde - “Ek sal gehoorsaam en vertrou al maak dit nie vir my sin nie! Net omdat U so gesê het sal ek dit doen! Dit klink nie vir my reg nie, dit lyk nie vir my reg nie, dit voel nie vir my reg nie, maar net omdat U so gesê het sal ek dit doen.”

Dis op hierdie punt (in ‘n sekere sin) waar Christenskap begin. Dis die draaipunt. Wanneer ek ‘n keuse maak om God op sy Woord te vat, maak nie saak wat die feite en omstandighede is nie. Ek moet doelbewus reageer op God se beloftes. As Petrus Jesus se opdrag gehoor het, maar vol verduidelikings, verskonings en ekskuse gebly het, sou hy ‘n wonderwerk gemis het.

DIE WONDERWERK IN PETRUS SE HART

Die wonderwerk wat Petrus beleef het was natuurlik baie meer as net ‘n groot vangs van visse. Daar gebeur ‘n groter wonder in sy hart as in die skuit. "Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens."(8) Hy besef sy eie sonde. Hy kom onder sonde oortuiging. Dis inderdaad ‘n groot wonderwerk en teken van God se genade as mens jou ware sonde toestand voor die Here besef, want eintlik dink elke mens ek is goed genoeg of darem ten minste beter as ander mense. Petrus word bang toe hy sy sonde besef... Soos die profeet Jesaja in Jesaja 6...

DIE WOORD BRING TROOS EN HOOP

Maar weer kom die Woord na Petrus (soos destyds ook na Jesaja). “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (10) Dis ‘n kosbare woord van uitnodiging, liefde, vergifnis, hoop... En wat maak Petrus? Hy kies weer om Jesus se woorde te glo en maak so ‘n keuse om Jesus te volg. Belofte. Geloof. Bekering.

God se Woord, God se Beloftes kom na jou toe. Sy beloftes van vergifnis, van kindskap, van die ewige lewe...

Wanneer ek hierdie beloftes glo en daarop reageer, kry ek vergifnis en sluit dit ‘n nuwe lewe en toekoms vir my oop. Ek moet hierdie beloftes glo ongeag my toestand van mislukking en sonde. Ja, dis waar ek het al hoeveel keer misluk, ja dis waar my sonde is baie se groot. Ja dis waar ek voel moedeloos en bang. Maar onthou, God se beloftes bly waar in alle omstandighede. God se beloftes tel meer as my gevoelens en die sigbare feite (dank maar weer aan die geskiedenis van Abram).

Hoor weer opnuut die beloftes van God... Wat gaan jy daarmee maak? Jy het vandag dit gehoor en jy het dit al baie keer gehoor, het jy gereageer?

Maak soos Petrus, kies om Jesus se Woorde te glo. Maak nie saak wat my sonde is nie, maak nie saak hoe baie my mislukkings is nie, maak nie saak wat ander mense gaan dink nie... “op U woord sal ek...” Onthou, as als misluk het, as als verkeerd gegaan het, as als donker lyk, dan is God se Woord, God se beloftes daar vir ons...

Miskien was 2017 dalk vol mislukkings... veral dalk op geestelike gebied... Onthou net, nie jou mislukkings nie en ook nie jou suksesse nie, maar vertroue op die Woord is bepalend vir jou toekoms. Vertroue op die Woord gaan bepaal of jy die roeping wat die Here vir jou in 2018 het gaan volvoer. Vertroue op die Woord gaan jou ewigheidstoekoms bepaal.

2018 lê voor ons. Ons weet nie wat wag nie, maar of ons dit maklik of moeilik gaan hê, of ons gaan lewe of sterwe, net een ding maak saak : Vertroue op God se Woord met ander woorde op God se beloftes, die beloftes wat Hy in Jesus Christus aan ons maak!

Mag 2018 vir jou die jaar van die Woord wees!


Goeie wense van ons hier op Tsumeb!