BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket John Bunyan. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket John Bunyan. Wys alle plasings

Donderdag 04 November 2021

EK TWYFEL...

WAT NOU?


Kan God se ware kinders tye van twyfel beleef? Kan egte gelowiges se geloof wankel? Die antwoord is JA! Ons is baie keer skaam of bang om daaroor te praat, maar dis die realiteit. 

Spoel die golwe van twyfelangste oor jou? Is jy dalk vasgevang in ‘n wurggreep van twyfelaanvegtinge? Ek vertrou die Woord gaan vir jou HOOP bring! Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde van twyfel by God se kinders. Die Bybel is verrassend eerlik oor die twyfel van die geloofshelde...

Abraham. Hy word genoem die vader van die gelowiges. Hy is ‘n geloofsheld. En tog was sy geloof nie altyd so rotsvas nie. Toe hy bang was en vir sy lewe gevrees het, het hy gelieg oor Sara en gesê dat sy, sy suster was. Toe die belofte van ‘n eie seun te lank vat het hy na Sara se verkeerde raad geluister en Hagar as byvrou gevat… Ismael is gebore en dit het groot ellende veroorsaak... (tot vandag toe nog) Maar op die lange duur het Abram volhard in die geloof en word hy as ‘n voorbeeld vir ons voorgehou in Romeine 4 en Hebreërs 11.

Johannes die Doper. Hy was die kragtige profeet van die Jordaanrivier wat met oortuiging en geloof na Jesus gewys het en gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Maar toe hy in die tronk was het daar ‘n twyfel hom beetgepak en hy het sy dissipels na Jesus gestuur om te vra : “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” (Matteus 11:3) Kan dit wees? Ja, hierdie dapper man van God het begin twyfel. Jesus het hom egter nie afgeskryf nie en hom bemoedig deur hom te herinner aan die OuTestamentiese profesieë wat in Jesus vervul is.

Ja, dissipels van Jesus (insluitend sy uitgestuurde apostels) kan twyfel oomblikke ervaar. Ons het lees in Matteus 28 hiervan  kort voor sy hemelvaart, toe Jesus vir hulle die sendingopdrag gegee het en hulle uitgestuur het na al die nasies. 


Sommige aanbid, sommige twyfel! Dis opmerklik dat Jesus nie vasgehaak het by hulle twyfel nie (Hy moes mos daarvan geweet het), maar voortgaan om hulle uit te stuur. Hy verwag maar net gehoorsaamheid. En dan maak Hy die heerlike belofte aan die wat gehoorsaam is : “En kyk Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matt 28:20b)





John Bunyan
Daar is ook baie voorbeelde uit die kerkgeskiedenis van God se kinders wat twyfelwroegings ervaar het.. John Bunyan, die skrywer van die “Pelgrim se Reis na die Ewigheid” was eerstehands baie goed bekend met geestelike stryd. Dis sekerlik juis hierdie worstelinge wat tot gevolg gehad het dat dié boek so ̕n akkurate beskrywing van die Christen se wel en weë op die pad van geloof is. Aan die einde van “Grace Abounding to the Chief of Sinners” (die boekie wat sy persoonlike getuienis bevat) maak hy ̕n paar slotopmerkings wat vir elke Christen wat deur geestelike stryd gaan tot groot bemoediging en seën behoort te wees. Ek deel die eerste versoeking wat hy noem. 



Bunyan skryf : “Van al die versoekings wat ek ooit in my lewe teëgekom het, is om die bestaan van God en die waarheid van die evangelie te bevraagteken die ergste en die ergste om te verduur. As hierdie versoeking kom vat dit die gordel van my af weg en verwyder dit die fondament onder my uit.” (Wat ‘n troos om te weet dat die sterkste Christene en geestelike reuse ook soms deur twyfel aangeval word!) Ook Luther die bekende reformator het geweldige geloofsworstelinge beleef – hy noem dit aanvegtinge.

Daar is natuurlik soorte twyfel. 

Twyfel oor die waarheid van die Bybel.  Twyfel oor die bestaan van God of oor Jesus se kruis en opstanding. Twyfel oor jou eie geloof – is dit eg? Is dit nie maar net iets wat ek van my ouers outomaties aangeleer het nie? Twyfel of ek sal kan volhard tot die einde toe? Hierdie verskillende soorte twyfel vereis verskillende benaderings, en tog is daar uiteindelik EEN OPLOSSING!*

Wat is die oplossing? 

Bring jou twyfel in gebrokenheid na Jesus! Hy verwerp geen gebroke sondaar nie, ook nie twyfelaars nie!

Dis hier waar die verhaal in Markus 9:14-29 ons baie help. Dis ‘n pa wat sy seun wat die gees van stuiptrekkings gehad het na Jesus gebring het. Hy sê vir Jesus : “As U iets kan doen, ontferm U tog oor ons en help ons.” Jesus sê toe vir hom : “As U kan? Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.” “Onmiddelik roep die vader uit : ‘Ek glo! Kom my ongeloof te hulp!” (vers 24) 

Kyk mooi wat gebeur hier. Hierdie pa is eerlik oor sy twyfel. Hy glo wel, maar dit voel vir homself soos ongeloof. Hy is nie baie seker van sy geloof nie. Tog het hy die essensie van geloof gehad, al het hy dit klaarblyklik self nie besef nie - hy bring sy probleem (sy geteisterde seun) na Jesus toe! 

Om na Jesus uit te reik en uit te roep is tog die kern van geloof! 

Jesus eer sy geloof, al is dit ‘n brose en gebrekkige geloof. Hy maak die seun gesond. Hier is ‘n belangrike les – die vraag is nie hoe groot of sterk my geloof is nie.  Die belangrikste is om te weet hoe sterk, Jesus is! Jesus self is die oplossing vir al ons sonde en swakheid ook die sonde van ons twyfel. Ja, twyfel is verkeerd, maar Jesus wys nie twyfelaars weg nie. Hy skryf jou nie af as jy begin twyfel nie.


Ons het dit mos nou telkens gesien. Dink maar ook aan Thomas na die opstanding. Hy werk saggies en geduldig met Thomas. Mag ek en jy soos Thomas ook weer opnuut voor Hom neerval in aanbidding en uitroep : “My Here en my God!” (Johannes 20:28)





Net 'n PRAKTIESE WENK. Die beste teenvoeter teen twyfel is nie om te konsentreer op die twyfel nie, maar jou geloofsplantjie water te gee uit die Woord. Spandeer tyd in die Woord van God! Lees en bedink byvoorbeeld die wonderlike  Johannes evangelie met sy rykdom en fyn struktuur en nuanses. Jy sal besef dit is onmoontlik dat dit sommer net deur ‘n mens uitgedink kon wees.  Jy sal jou ook verwonder oor Jesus self en die geloof sal in jou hart begin groei! Die belangrikste -Begin net gehoorsaam raak aan Jesus selfs al is daar nog twyfelvrae wat aan jou siel knaag...

Jesus ontmoet jou in sy Woord deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees!

*As jou twyfel veral van intellektuele aard is kliek op TWYFELVRAE

Dinsdag 08 Mei 2012

NIE VOETE NIE

- maar God se versorgende genade hou my op my voete.

Soos dit gaan in alle beroepe en bedrywe, het stalletjiehouers by feeste en skoue ook ‘n standaardklagte. (of dit gaan oor verskoning of dalk 'n manier van selfvertroosting is, weet ek nie) In hulle geval is dit : “Hier is nie voete nie!” Ek weet, want ek het ook (seker  genoeg)  “gefees en geskou” vanuit ‘n boekstalletjie.  Kom ek vertel.

In 2004 het ek my as werklose in die Vaaldriehoek bevind. Maar God wat getrou bly, gee altyd weer uitkoms. Ons Vader versorg ons nie net wat betref ons geestelike nood nie, maar voorsien ook in ons fisiese behoeftes.  Hiervoor gebruik Hy normaalweg mense. In hierdie geval, was dit deur my aptekersvriend, Josef Coetzee van Sonlandpark Apteek, wat ook die baas van Woordverspreiding Uitgewers is. Hy het  my genader  met ‘n voorstel om Christelike boeke by skoue en feeste te verkoop. So het dit gekom dat ek in die winter van 2004 die boonste deel van die land met boeke, tafels en plakkate deurkruis het... in my Toyota Tazz 1300 en ‘n klein waentjie.

My eerste probeerslag was in Mei by die Pogietersrus Skou en ek het afgesluit met die Vaalharts Skou op Magogong in Oktober. In die tydperk het ek kennisgemaak met ‘n wye verskeidenheid van mense, plekke en dinge. Van die Garnaalkarnaval by Komatipoort tot die Gariepfees by Kimberley. So ver noord as Louis Trichardt en so ver wes as Upington.

Nou kyk, om ‘n stalletjiehouer by ‘n fees te wees is geen maklike werk of vinnige geldmaak nie. Beslis nie as jy Christelike boeke verkoop nie. Jou normale feesganger is nie juis daar om geestelike versterking te soek nie, maar om allerhande behoeftes van ‘n meer vleeslike aard te bevredig. Dis ook nie juis die lees-tipe nie, maar eerder die eet en die jol soort  wat by ons feeste aangetref word. (laat ek onmiddellik bieg, by ‘n werklike groot skou soos  Nampo, en die groot kunstefeeste soos KKNK en Aardklop was ek nooit nie) Ek moes dus baie hard werk om ‘n Christelike boek aan die (dikwels etende) fees en skougangers verkoop te kry. So moenie dink jy sit op ‘n stoel agter ‘n tafel en wag dat belangstellendes jou gretig nader nie. Nee, jy staan op jou voete, roep nader, bied ‘n gratis traktaatjie aan, praat en verduidelik! Ai, hoeveel keer het ek die belangstelling probeer wek deur te vertel van Bunyan se karakters wat hulself in die Kasteel van Vertwyfeling bevind het en deur die Reus Wanhoop gemartel is!  En nadat jy jou saak met oortuiging en entoesiasme gestel het, hoor jy dalk die gevreesde woorde, iets in die lyn van : “Ons kom maak later weer ‘n draai.” Dis een van die model antwoorde wat gedekodeer,  min of meer beteken : “Jy het nou klaar jou asem op ons gemors. Ons sien jou gelukkig nooit weer nie.”  Nou, ja, met wie gaan ek die volgende oortuigingsgesprek aanknoop...?

Maar die boekverkopery het darem baie meer as net  teleurstellings en seer voete opgelewer.  Inderdaad het ek baie van Bunyan se “Die Christen se Reis na die Ewigheid” verkoop.  Maar daar was ook ander bonusse....die opwinding van nuwe mense leer ken, onverwagse herontmoetings en sommer  ‘n verskeidenheid van ervarings!  Verrassings! Na baie jare het ek my Matriekafskeidmeisie op Upington se Kalahari Kuierfees raakgeloop en my niggie in Kimberley.  Op Lichtenburg, ‘n toegewyde Christen  Afrikaanssprekende vrou wat aan die Russies Ortodokse kerk behoort. (Rita O’Sullivan, ek wonder wat het van jou geword?) Die groot voorreg om tydens my besoek aan die Ellisras Bosveldfees saam met André en Janet Botha van Bushveld Biltong House te kuier. (Julle groot liefdesgawe was op daardie tydstip in ons lewens besonder kosbaar) Willie Korb se aangrypende getuienis van genade wat hy op Brits met my gedeel het... Hendrik Pretorius wat my op Nelspruit kom bemoedig het. Annette Olivier op Komatipoort  wat vir my pannekoek gebring het.  Phillip Gittens se gasvryheid en ondersteuning in Kimberley. Gert Oosthuizen hulle by wie ek op Secunda kon oorbly... En, Josef, weereens dankie vir die geleentheid. Aan julle almal sommer ‘n groot dankie, en mag die Here julle ryklik seën!

Ja, uit ‘n stalletjiehouer se oogpunt, was daar nooit genoeg voete en verkope nie. Maar ook in hierdie tye het die Here vir my (en my gesin) op ons voete gehou en nooit laat val nie. Ook hierdie was ‘n tydperk van ryke genade en onverdiende guns!



Ek en my boeke op Brits 2004

Maandag 19 Maart 2012

BEMOEDIGING UIT BUNYAN SE BEPROEWINGS

- alle Christene beleef versoekings!

John Bunyan, die skrywer van die “Pelgrim se Reis na die Ewigheid” was eerstehands baie goed bekend met geestelike stryd. Dis sekerlik juis hierdie worstelinge wat tot gevolg gehad het dat dié boek so ̕n akkurate beskrywing van die Christen se wel en weë op die pad van geloof is. Aan die einde van “Grace Abounding to the Chief of Sinners” (die boekie wat sy persoonlike getuienis bevat) maak hy ̕n paar slotopmerkings wat vir elke Christen wat deur geestelike stryd gaan tot groot bemoediging en seën behoort te wees. Ek deel dit graag met jou en gee so ‘n kort stukkie kommentaar in hakies:

1. Van al die versoekings wat ek ooit in my lewe teëgekom het, is om die bestaan van God en die waarheid van die evangelie te bevraagteken die ergste en die ergste om te verduur. As hierdie versoeking kom vat dit die gordel van my af weg en verwyder dit die fondament onder my uit.
(Wat ‘n troos om te weet dat die sterkste Christene en geestelike reuse ook soms deur twyfel aangeval word!)

2. Partykeer nadat ek ̕n sonde gedoen het en ek juis harde tugtiging van God se hand verwag het, was ̕n ontdekking van Sy genade wat ek volgende van Hom gekry het.
(God se liefde en genade is verrassend groot, as dit nie daarvoor was nie, het niemand van ons ‘n kans gehad om die wenstreep te bereik nie.)

3. Ek het baie oor hierdie saak gewonder. Wanneer God my siel besoek het met ̕n geseënde ontdekking van Homself, was dit my belewenis dat ek daarna sulke donkerte in my siel beleef het, soveel so dat ek nie eens kon dink wat daardie God en troos was waarmee ek verkwik is nie.
(Met ander woorde, ̕n groot hoogtepunt in ̕n Christen se lewe word dikwels gevolg deur ̕n laagtepunt! Wees bedag daarop. Lees hieroor ook in : PROFEET ONDER DIE BOS)

4. Soms het ek meer in een reëltjie van die Bybel gesien as wat ek kon hanteer. En tog, op ̕n ander keer was die Bybel vir my kurkdroog, of liewer my hart was so dood en droog teenoor die Skrif dat ek nie die minste troos daaruit kon put nie, al het ek oor en oor daarna gekyk.
(Hoe goed kan mens Bunyan se klagte verstaan! Dit wys maar net ons totale afhanklikheid van die Heilige Gees. As Hy my hart nie aanraak nie, bly dit ongevoelig en dood, selfs al lees ek die Bybel.)

5. Van alle vrese is die beste die wat veroorsaak word deur die bloed van Christus; van alle vreugdes is die soetste die wat gemeng is met treur oor Christus. O, dis ̕n goeie ding om op ons knieë te wees, met Christus in ons arms voor God. Ek hoop ek weet iets van hierdie dinge.
(‘n Besef van die werklikheid van Jesus se kruisdood bring ‘n vrees vir sonde. Maar die kinders van God beleef ware vreugde en is op hulle gelukkigste as ons stukkend oor ons sonde net maar krampagtig en desperaat vashou aan Jesus se afgehandelde versoeningswerk aan die kruis.)

6. Tot op hede vind ek sewe afskuwelikhede in my hart: 1) ̕n Neiging tot ongeloof. 2) Om die liefde en genade wat Christus uitstraal te vergeet. 3) Om op die werke van die wet te steun. 4) Koudheid en afdwaling van gedagtes wanneer ek bid. 5) Om te vergeet om uit te kyk waarvoor ek gebid het. 6) Geneig om te klae omdat ek nie het nie, en tog gereed om dit wat ek het te misbruik. 7) Ek kan niks doen van die dinge wat God my beveel sonder dat my verdorwenheid inmeng nie. “Wanneer ek die goeie wil doen is die kwaad by my aanwesig.”
(Tot aan die einde van ons lewens sal ons as God se kinders ‘n stryd hê teen sonde oorblyfsels in ons lewe. Die daaglikse stryd van heiligmaking sal eers eindig by die voleinding. Lees gerus ook PALEISPRINS IN OPLEIDING)

7. Bogenoemde dinge sien en voel ek gedurig en ek word daardeur gesteister en verdruk. Tog laat die wysheid van God dit vir my ten goede meewerk : 1) Dit maak dat ek myself verag. 2) Dit bewaar my daarvan om my eie hart te vertrou. 3) Dit oortuig my van die gebrekkigheid van alle eie inherente geregtigheid/goedheid. 4) Dit wys my op die noodsaak om na Jesus te vlug. 5) Dit dwing my om tot God te bid. 6) Dit wys my op die nodigheid om te waak en nugter te wees. 7) Dit spoor my aan om tot God te bid deur Christus om my te help en deur die wêreld te dra.
(Selfs ons sonde en mislukkings word ook deur God postitief tot ons voordeel gebruik. Hoe meer ons ons eie sondigheid ontdek, hoe meer vlug ons na Jesus met die besef dat sy volmaakte offer aan die kruis ons enigste hoop is!)

(Vry vertaal en verwerk uit “Grace Abounding to the Chief of Sinners” )

Donderdag 23 Februarie 2012

VOLTOOI JOU COMRADES

- RAAD VIR DIE RESIES

Die Hebreërs skrywer moedig God se kinders aan : “Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop!” (Lees gerus nou eers Hebreërs 12:1-4) Praktiese Christenskap kan vergelyk word met ’n wedloop, ’n resies wat voltooi moet word. (Nie net ’n vinnige 100m nie, maar ’n uitmergelende Comrades!) Daar is ’n duidelik begin, dan noodsaaklike volharding en vasbyt, en uiteindelik is daar ’n heerlike finale eindpunt en beloning. Al drie is eintlik ewe belangrik!

~ Wegspring. As jy nie begin nie, kan jy nie deelneem nie. Dis die wedergeboorte. Dis wanneer ek persoonlik my vertroue op die Here Jesus stel. Johannes 3:3! Jy moet amptelik inskryf vir die wedloop - jy kan nie sommer skelm langs die pad inval nie.... al jou moeite sal tevergeefs wees. (John Bunyan se Pelgrim’s Progress beeld dit treffend uit. Christen ontmoet baie ouens soos byv. Onkunde wat nie by die Poort ingegaan het nie, maar valslik dink dat hulle in die Hemelse Stad toegelaat sal word)* Het jy al begin......? Jy sal weet, jy moet weet!

~ Volharding en deursettingsvermoë. Die grootste deel van ’n wedloop gaan hieroor. Die grootste deel van Christenskap gaan daaroor om aan te hou. Op die Christelike pad is daar baie versoekings, valstrikke, vyande en valse leringe. Ons moet ten spyte van hierdie dinge volhard en aanhou tot by die hemelse wenpaal. As ons geval het moet ons opstaan en voortgaan!

~ Die finale fase van die wedloop is die aankoms by die wenpaal. Die kind van God moet weet daar wag ’n onwankelbare Koninkryk, ’n stad met vaste fondamente. Ons moet hierdie belofte glo en daarna uitsien. Dis ons heerlike finale doelwit. As iemand nie regtig uitsien en opgewonde is oor die eindpunt nie, moet mens wonder of hy deel is van die wedloop? Dan is daar iewers iets fout... En jy, dink jy oor die eindpunt?

Die skrywer moedig God se kinders aan om te volhard. Die rede : mens kan aflei dat sommige begin moedeloos en slap raak het! (3b, 12) Baie gevaarlik! Dit kan veroorsaak dat jy nooit die wedloop van geloof voltooi nie

Ons kry nou praktiese aanwysings en aanmoediging om te kan volhard. Drie groot sake is hier van belang :


~ Neem kennis van die skare geloofshelde wat reeds die wedloop voltooi het. Hulle word  “geloofsgetuies” genoem. Dis die ouens van wie ons in hoofstuk 11 lees.... Hoekom word hulle getuies genoem? Hulle lewens getuig van die moontlikheid dat ’n mens in geloof kan volhard ten spyte van versoekings, valstrikke en vyande. Geloof kan oorwin! Hulle lewens as gelowiges bewys dat mens kan volhard. Moses is een van die voorbeelde wat genoem word. Hy het ’n doelbewuste keuse gemaak teen die lekker sondige gemaksugtige paleislewe in Egipte! (Vers 24-26) Kies teen sonde en sy genietinge en werp jou volle gewig in by God se verstote en veragte kinders in hierdie wêreld!

~ Raak ontslae van alles wat jou kan hinder in hierdie wedloop. (elke atleet weet ... geen ekstra gewig, niks onnodig mag saamgesleep word nie) Hier word van twee soorte hindernisse gepraat : laste en sonde

Laste is dinge wat nie noodwendig opsigself verkeerd is nie - daar’s nie ’n teks wat sê dis sonde nie, maar dit hinder jou Christenskap. Dit slurp onnodig tyd en energie op. Dit verhoed jou om al jou aandag aan die Here te gee. Dit vat jou fokus van Jesus weg. Laste is soos ’n ekstra gewig, dit sal jou miskien nie dadelik laat val nie, maar dit tap geleidelik jou kragte, jy hardloop al moeiliker en stadiger. Dit kan enige gewoonte, tydverdryf of obsessie wees.... Voorbeelde : ’n verkeerde leefstyl (te laat gaan slaap), tydrowende stokperdjies, ’n obsessie met hoe jy lyk, rekenaarspeletjies, sinlose boeke, sportverslawing... of dalk Facebook? Wees sensitief vir die Heilige Gees. Moenie ander oordeel nie, maar wees baie eerlik met jouself.

Wat hinder jou volle oorgawe aan Jesus op hierdie oomblik?


Sonde is dinge wat God verbied in sy Woord. Enige sonde is dodelik gevaarlik vir ’n kind van God. Al is dit hoe klein in jou oë. Sonde is soos ’n los veter, dit lyk klein en onbenullig, maar dit gaan jou laat val en kan maak dat jy die wedloop dalk nooit voltooi nie. Wat is die los veters in jou geestelike lewe wat jou kort-kort laat struikel? Dis tyd om klaar te kry daarmee. Werp alles in die stryd teen sonde! (Vers 4) Volhard in die stryd selfs al kos dit jou lewe! Ons kry ’n ernstige waarskuwing teen sonde in vers 15,16! Die skrikwekkende voorbeeld van Esau moet ons laat sidder!

Volharding in die Christelike wedloop, kan met een woord beskryf word - heiligmaking! Streef na heiligheid met alles wat jy het! Vers 14 is ewigheids belangrik :

"Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie!"

 
~ Hou Jesus voor oë. Hier gaan dit oor Jesus as voorbeeld. Hyself het die wedloop van geloof op aarde voltooi. Hy was as’t ware die pionier. (Jesus as Trailblazer) Die raad wat aan ons gegee word is : Dink oor Jesus se lewe en loopbaan. Laat Jesus voorop staan in jou gedagtes. Hoe hy absoluut getrou was en Sy Vader se wil gedoen het. Hy is bespot, beledig, verag! Mense het Hom uitgeskel vir ’n Samaritaan, van die duiwelbesete! Al hierdie dinge verdra Hy om die wil van die Vader te doen. Hierdie stryd het ’n hoogtepunt bereik in Getsemane.... daar was Hy voor die werklikheid van die kruis, die skande en pyn wat daarmee saam sou gaan..... Hy het Sy eie wil prysgegee. (Dis ware heiligheid) Ja, dit was ’n geweldige stryd. Hoe kon Hy dit regkry? Hy het uitgesien na die vreugde wat wag na die oorwinning. Dink aan sy swaarkry, dink aan sy beloning! Jesus het alle swaarkry en teenstand oorkom, Hy het die oorwinning behaal. (Openb 3:21) As ons saam met Jesus oorwin, sal ons ook in sy heerlikheid en eer deel! Daar wag ’n beloning....dink jy daaroor?

Jesus is nie net ons Verlosser nie, ook ons Inspireerder!
Die Christelike wedloop is nie maklik nie. As jy moedeloos raak, as dinge vir jou te swaar raak, as jy dink aan tou opgooi - dink aan die Here Jesus! Fokus op Hom en jy sal kan volhard! Moenie die wenpaal misloop nie!

* Een van die beste boeke wat oor die tema van die Christen se volharding gaan is die klassieke werk van John Bunyan, "The Pelgrim's Progress" ook in Afrikaans beskikbaar as "Die Christen se Reis na die Ewigheid"





Hierdie boodskap is gebring by die Belydenisaflegging op 26 Februarie 2012 in die NG Kerk Tsumeb van Johan Arangies, Hugo Arangies,  Hendrik Barkhuizen, Lezaan Groenewald, Beulah Mans, Elvonie Meyer, Domenique Otto, Elmi Redelinghuys, Gower Stoman, Hermien Ströh, Reimund van Eeden en Joscha Weyand.