BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Boesmans. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Boesmans. Wys alle plasings

Dinsdag 03 Mei 2022

Ons besoek Jesus se mense in Boesmanland...

'n Groep van ons uit die NGK Tsumeb het die opwindende geleentheid gehad om saam met Andries en Tracey Gous vir ’n kort uitreik verlede naweek na Boesmanland te gaan. Vir sommige was dit die eerste kennisname met hierdie pragtige deel van ons land. Die opvallendste was egter nie net die besondere natuurskoon nie, maar veral die pragtige kinders van God. Ja, dis mense van ’n totaal ander kultuur as ons, maar omdat dieselfde Heilige Gees wat in ons woon ook in hulle woon is daar ’n wonderlike band van eenheid.

In die weste van Boesmanland het ons Kanovlei en Omatako besoek. Dis in 'n pragtige vallei met reuse kameeldorings waar die Vasekele !Kung (voorheen van Angola) woon. Die Woord is aan klein en groot gebring. Trudie van Niekerk en haar medewerker Elvin van CEF het voorgevat met die kinders. Hierna is daar ’n vinnige draai by M’Kata gemaak waar soos Andries ons ingelig het die Mpunguvlei !Kung woon. (Hulle is dus oorspronklik afkomstig uit die Kavango.) Hier is ’n baie groter mate van ontwikkeling en blykbaar is hier ’n beleid dat as iemand nie wil werk nie, hy ook nie mag eet nie!


Uiteindelik was ons op Mangetti Duin. Dit was vir my ’n groot voorreg om ’n jong man, Amon Petrus op Sondag 1 Mei hier as leraar te bevestig. Kom ons bid vir hom en sy vrou Nyama se bediening. Jaõ, ’n ou kennis uit my weermagdae het as tolk opgetree. 


Linguïsties is hierdie gemeente (die amptelike naam is Luhebu Noord) 'n mini Babel... Die mense praat natuurlik hulle variant van !Kung wat uit Angola kom... Maar daar het die mans uiteraard Portugees gepraat as soldate in die koloniale tyd. Hulle kerktaal was Luchazi. Hulle sing vandag nog Luchazi liedere in die kerk. Met hulle deel word van die destydse SAW en hulle vestiging in die ou Suidwes het Afrikaans bygekom. En deesdae in die onafhanklike Namibië is die voertaal in die skole natuurlik Engels. Die jong geslag verstaan natuurlik nie meer Luchazi nie... aanpassings moet gemaak word.

Terug by die bevestiging. Dit was opmerklik dat mense uit ander gemeentes ook die bevestiging bygewoon het. Ons moet nooit vergeet dat Andries se bediening onder die vaandel van DEGNOS baie wyer strek as net NG lidmate nie.

Later die dag het ons via Aasvoëlnes na Nhoma gegaan. Dis ’n pragtige omgewing. Dis in die ooste van Boesmanland en is die woongebied van die Juǀʼhoansi. Hier kon ons ook kennismaak met twee van die oorlewende Boesmans wat deel was van ’n groep wat met hulle lewens ’n paar jaar gelede ’n Australiese toeris in ’n veldbrand beskerm het. Drie manne het letterlik hulle lewens verloor om haar lewe te red! Hier het Herman Fuls en Andries die Woord gebring en daar is ook weer ’n geleentheid vir die kinders aangebied.







Herman Fuls en Andries Gous. Ons hou kerk onder pragtige  Rhodesian teak bome.





Gert en Bertus op Nhoma. Gert dra nog die littetekens van die vreeslike brandwonde.








Ongelukkig sien mens nie net mooi dinge nie. Dis was skokkend om te sien hoe gierige mense die bastermopanie woud (rooshout/osiwi) in hierdie afgeleë gebied uitgeroei het. ’n Reuse stapel houtblokke oorgelewer aan wind en weer was die hartseer getuienis. Nêrens is die skepping meer veilig teen die mens se verwoestingswerk nie.



Maar, kom ek keer weer terug na die positiewe. Ons moet die Here dank vir sy kerk in Boesmanland. Jesus Christus self hou sy kerk in stand. Daar is natuurlik verskeie uitdagings... die reuse afstande, tekort aan fondse en arbeiders, uitbuiting van die Boesmans deur gewetenlose handelaars, die binnedring van ander meer gegoede volke en die bedreiging van valse leringe soos die van die Sewendedaagse Adventiste wat daarop uit is om mense van die kerk af te rokkel. (hulle doen dit met fondse van oorsee.) Te midde van alles doen Andries en Tracey reuse-werk. Min van ons het ’n besef wat dit als behels. Om net ’n kerkraadsvergadering te hou moet daar honderde kilometers gereis word! Dan het ons nog nie eers gepraat oor die ondersteuning van die skooltjies, die aanbied van opleiding en die onderhoudswerk aan eiendom nie.

Kom ons raak betrokke deur gebed en ondersteuning. Bid vir al die leraars, kerkraadslede en onderwysers, maar spesifiek vir Andries en Tracey (hulle is nog lidmate in Tsumeb) wat ’n byna bomenslike verantwoordelikheid moet dra. En miskien moet jy dalk volgende keer saamgaan...




Dinsdag 06 Augustus 2019

BRUILOFSMAAL OP MAKALANI


- Sigbare boodskap van evangelieheerlikheid!

Ek sit saam met ‘n Hai//om bruidspaar aan die nagmaalstafel. Johannes Tampan en sy vrou Rosa. Stralende egpaar! Een brood, een beker, maar ‘n groot verskeidenheid van nagmaalgangers – Hai//om, Afrikaans, Duits, Engels. Ja, dis meer as net ‘n normale bruid en bruidegom wat hier bymekaar is, dis die Bruid van die Lam, losgekoop met sy kosbare bloed uit elke stam, taal, volk en nasie… 



Vroeër (as deel van dieselfde erediens) het ons immers ook sigbaar beleef hoe Jesus deur die Woord en Gees sy bruid self bymekaarmaak deur die volwasse doop van ‘n jongman, Karel wat tot bekering gekom het. Hierdie was nou nie die gewone standaard erediens waaraan ons gewoond is nie – vooraf was daar twee getuienisse, toe die doop, daarna ‘n huweliksinseëning en uiteindelik die nagmaalsviering! Deurgaans word die Woord bedien- uit Genesis, Hooglied en Openbaring en dit vorm ‘n pragtige eenheid. Die bedienaar van die Woord en sakramente is ons broer ouderling Andries Gous. Hy en ouderling Herman Fuls is onlangs amptelik met goedkeuring van die Namibiese Kuratorium as gemeentebedienaars bevestig . (KLIEK) 

Wat hier gebeur is ‘n pragtige getuienis en ‘n helder boodskap. Ja, die omgewing is eenvoudig, armoedig, kultureel anders... ‘n Hond, ‘n hoender, ‘n seuntjie wat ‘n wieletjie rondstoot, iemand wat in die agtergrond hout kap, iewers daag ‘n polisievoertuig op… dis alles deel van die toneel. Maar sentraal is die Here Jesus wat vandag nog sorg dat die evangelie juis ook aan die armes verkondig word. En Hy sorg self en Hy bou self sy kerk. Deur dissipels wat gehoorsaam is aan die GROOT OPDRAG!

Tampan en Rosa is eenvoudige mense, maar hulle verhaal wonderbaarlik. Tampan het vir jare die Woord onder sy mense verkondig (onthou hy is ongeletterd) sonder amptelike hulp van die kerk. Hy het egter met ‘n probleem gesit. Hy en sy vrou was nie wettig getroud nie. Dit was ‘n moeilike saak om reg te stel, want beide hy en sy vrou was voorheen wettig in ander huwelike, maar beide se eggenotes het hulle deur die dood ontval. Om weer te trou sou ‘n groot klomp dokumentasie vereis. En vir ‘n ongeletterde Boesman, wat ook nie die nuwe Namibiese amptelike taal van Engels magtig is nie was dit ‘n bykans onmoontlike hoë berg om te bestyg. Totdat die Here vir Andries oor sy pad gebring het… Andries het die saak selfs tot by die Ombudsman se kantoor gevoer… Hulle is toe die vorige Vrydag wettig voor die landdros getroud. 

Nou is dit erediens en feesdiens in die hart van die gemeente! Die bruid van die Lam is hier bymekaar... sigbaar!

Andries het later getuig van sy indrukke: 

“Tydens die doop het ek geweldig bewus geraak van die teenwoordigheid van die Here. Nadat die doop bedien is aan Karel Awaseb het ek my hand op hom gesit om te bid en ek was tasbaar bewus van die Gees van God. En toe ek opkyk en ek sien die trane loop, toe weet ek dat Karel Awaseb het net soos ek bewus geword van God se tasbare teenwoordigheid. 

Na die diens gesels ek met die Tsintsabis mense wat ek terugvat en ek vra vir hulle wat was vir hulle die mooiste? Maria sê die doop, want dit is 'n bewys dat God nog iemand bygevoeg het tot sy liggaam. Sy reken die troue en nagmaal was mooi maar die doop is die bevestiging dat God sy kinders bymekaar maak. Nog 'n verlore siel is gered. Ek hoor ook iemand sê dat hulle so 'n troue wil hê, want dit was so mooi, daar was nie 'n klomp tradisies en dronk mense nie. 

Op pad terug na Grootfontein ry ds. Regina en ander vrouens saam voor in die bakkie en ek begin uitvra oor die indrukke van die diens. Die een vrou sê dat sy sien dat Tampan en Rosa het getrou al het hulle nie werk en geld nie. (Ja, daar is ook maar die wanopvatting by die Boesman mense dat mens geld nodig het om te trou.) Ek het verduidelik dat as ‘n mens wil wag vir geld dan moet jy ook jou lyf se plesier laat wag tot dat jy geld het.” 

Loof God vir die kosbare boodskap wat uitgegaan het – nie net deur Woord alleen nie, maar ook deur sigbare tekens en veral deur die diep bonatuurlike werk van die Heilige Gees! Wat ‘n voorbeeld is hierdie Boesman broers en susters se erns met God en sy opdragte. En dit in ‘n tyd waar ons blanke jongmense in totale sedeloosheid verval. Oor saambly en buite egtelike kinders word daar nie eers meer gefrons nie! (Trouens dit word op sosiale media geprys en ondersteun!) God se standaarde het egter nog nooit verander nie! 

"Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie." (1 Tessalonisense 4:3-5) 

Die bruid van die Lam is immers ‘n rein bruid!



Maandag 24 Junie 2019

SAN GESIGTE


Die San (Boesman) mense by wie ons gemeente betrokke is, dra nie meer stertrieme of jag met pyl en boog nie. 



As daar nog mense is wat hulle as lewende kuriositeite wil beskou of behou sal hulle uiters teleurgesteld wees.


Hulle is mense in transito wat sukkel om suksesvol die oorgang tussen ‘n jagter-versamelaars bestaan en die moderne westerse ekonomiese stelsel te maak. In die proses verarm en verwaarloos hulle. Hulle word maklik die prooi van alkoholisme, politieke uitbuiting, diskriminasie en valse godsdiensgroepe. 








Hulle onlangse geskiedenis is besaai met mislukte opheffingsprojekte… Ontnugtering, ontworteling, veragtering en hope misverstande!


Dis alles baie kompleks, maar hulle is MENSE, behorende tot die Hai//om en !Kung groepe, mense wat die Here voor ons deur geplaas het en teenoor wie ons ‘n verantwoordelikheid het. Mense wat die evangelie nodig het net soos ander mense. Mense wat ook slegs troos sal vind en ‘n nuwe toekoms deelagtig sal word as hulle aan Jesus behoort! 


 Andries Gous en Karl Ganseb doen moeite om die evangelie aan hierdie mense te bring. Gaan jy ook betrokke raak?



Hierdie is ‘n paar gesigte wat hulle menswees uitbeeld. 



Baie dankie aan Duncan en Ida Irvine wat die foto’s geneem het.

Sondag 05 Mei 2019

BOESMANS HOOR BOODSKAP UIT DIE HEL

Een van ons ouderlinge, Andries Gous is getrou besig met ‘n bediening onder die Boesmans (San) mense noord van Tsumeb. Andries deel ‘n merkwaardige ondervinding of twee: 



Sondag 28 April 2019 



Wat ‘n aaklige en fantastiese dag! 


Soos my gewoonte is, was ek besig om reg te maak vir die eredienste by my Boesmans broers en susters in die Tsintsabis omgewing. 

Tydens my voorbereiding en ook van die vorige dag af beleef ek enorme spanning en onrustigheid, selfs twyfel, moedeloosheid en geheel en al ‘n gevoel van verlatenheid, van alleen wees, alleen stry. 

Ek is kwaad en ontsteld en hartseer alles in een en ek voel ek gaan moed opgee met die bediening onder die Hai//om mense. Ek is siek en sat vir die alleen pad, vir die aankarring met, soos dit vir my voel, geen ondersteuning. 

Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie, want daar is broers en susters wat my ondersteun, maar op hierdie Sondagoggend kon ek niks daarvan ervaar nie en het ek regtig gevoel daarna om alles net eenvoudig te staak. Dit is die Here se werk, het ek vir myself gesê en Hy sal ’n plan moet gee, want ek sien nie meer kans op aan te gaan nie, die taak is te moeilik. 

Hierdie is die gedagtes waarmee ek halfhartig my twee preke voorberei vir die dag. Die twee preke is vir die gemeente by Oupos en die ander vir die gemeentetjie by Makalani. 

Voordat ek in die pad val sien my vroutjie dat my gemoed vol is en dat ek glad nie lekker is nie. Ek vertel haar ook sommer luidkeels dat die Here self sy kerk moet in stand hou en dat ek nie meer kans sien om hierdie werk alleen te doen nie. 

Sy bid saam met my, eintlik bid sy maar alleen want my hart is nie in vandag se werk nie, my gemoed is vol van myself en my selfbejammering en gedagtes van moed opgee. 

In my stoutste verwagtinge kon ek nie voorsien wat op hierdie pragtige Sondag sou gebeur nie. 

Oupos 

Die tema van die preek by Oupos handel oor die 5000 mense vir wie Jesus kos gegee het en die tema gaan daaroor dat ons ook geestelike versorging nodig het en nie net fisiese versorging nie. 

Ouder gewoonte vra ek en Karel na die diens as daar mense is wat gebed benodig dat hulle uitkom en saam met ons kom bid. Die normale siektes en kwale word gebring – hoofpyn, lyfseer ens. en ons bid vir elkeen vir fisiese herstel maar altyd ook geestelike herstel en versterking. 

Emka bly eenkant staan en wag geduldig dat almal klaar bid en toe kom sy vorentoe en vertel vir ons van ’n droom wat sy gehad het. 

Sy het gedroom dat haar pa se ma haar besoek het. Haar ouma het haar gewys dat van haar familie op pad is na die hel. 

Sy sien in haar droom hoe haar familie brand in die hel! 

Volgens die manier waarop sy dit beskryf het, kon ek amper die helse vuur sien brand in my geestesoog. Nadat sy wakker geskrik het uit die droom, het sy vroeg môre opgestaan en begin om van familielid na familielid te stap en vir hulle te sê dat hulle hul moet bekeer en na God toe moet gaan want hulle is op pad hel toe en dat die hel ‘n verskriklike plek is. 

Ek ervaar voorwaar die kragtige bekerings boodskap van hierdie jong vrou. 

Emka is die vrou van die derde paartjie wat onder die indruk gekom het dat hulle moes trou en nie verder in sonde moes saamleef nie. Sy en haar man Petrus is dan ook getroud op 1 Maart 2019. (Kliek BY DIE NEDERIGES

Wat vir my opmerklik was hoe die gesig van Emka verander het na haar troue. Hoe haar gesig begin straal het nadat sy die stap in gehoorsaamheid geneem het en nie meer in sonde saamgeleef het nie. Wat my ook verder opgeval het is hoe die Here haar aanwend nou nadat sy in gehoorsaamheid opgetree het, hoe die Here haar as ’n instrument gebruik in hierdie gemeente. 

Makalani 

Na die diens op Oupos het ek en Karel oorgery na die samekoms plek by Makalani waar ons die tweede diens van die dag sou hou. Op Makalani aangekom merk ons ’n paar nuwe gesigte op, maar sonder om te veel daaraan aandag te gee gaan ons voort met die erediens . Hierdie keer is die preek se tema die sondeval – van Adam en Eva wat in opstand gekom het teen God. Op Makalani tolk Johannes Tampan vir die ere diens. 

Die diens het goed afgeloop en ouder gewoonte kom ons na die diens bymekaar om te bid vir almal wat gebed nodig het. Terwyl ons bid vir ’n jong man dra die vrouens/of ondersteun hulle swaar ’n vrou wat vir my baie oud lyk na ons toe. 

Karel, Johannes Tampan en ekself is besig om te bid terwyl hulle haar nader bring en ek merk haar eers regtig op toe ek omdraai om te begin groet . Ek neem sommer dadelik aan dat sy daar is dat ons vir haar gesondheid moet bid, maar oudergewoonte vra ek haar uit oor hoe haar saak met die Here staan. Jy kon my omtik met ’n veer toe die ou vrou sê dat sy haar saak met die Here wil regmaak dat sy nie in Hom geglo het nie, maar sy glo nou wel. EK het haar deeglik deur die twee tolke uitgevra om seker te maak of sy verstaan. Sy bely haar skuld saam met ons en doen ’n oorgawe aan die Here Jesus. 

Dit was voorwaar ’n baie kosbare oomblik vir elkeen van ons. Nog ’n “kind” het huis toe gekom! 

Net so kosbaar is dit wat na die gebed gebeur het. Nadat ons saam met haar gebid het, en toe nooit eens vir genesing gebid het nie, staan sy op en loop self terug na die huis se stoep toe! Ek was oorstelp van vreugde vir haar en gevul met absolute blydskap in my Here. 

Ek het weereens deeglik besef dat wanneer ons gedruk voel om moed te verloor en om tou op te gooi dan is dit baie maal omdat daar ‘n felle veldslag aan die gang is in die realm wat ons nie verstaan nie en omdat die vyand weet hy moet alles in die stryd werp want hy gaan een van sy kinders verloor want hulle gaan terugdraai na die Here toe. 

Soli Deo Gloria 

NS. Saterdag 4 Mei was ons weer aan by Makalani om ‘n foto van ouma te neem en dit wil vir my voorwaar lyk of sy jare jonger geword het in die kort paar daggies. Die duiwel is ‘n harde meester, wat mense moeg, gebreek en uitgeput agterlaat terwyl die Here se juk sag is en sy las lig.

Karel Ganseb, getroue geestelike leier, medewerker en tolk!


Sondag 23 Desember 2018

BY DIE NEDERIGES...

- Kersbome of nie, wat saakmaak is nederige harte wat ontvanklik is vir genade! 


Ouderling Andries Gous het Sondag (2 Desember) ‘n Kersdiens gereël by Oerwoud, ’n hervestigingsnedersetting waar hy gereeld die Woord bedien. Twee ander Boesman “gemeentetjies” het saamgemaak. Die Woord is gebring en geskenke is uitgedeel. Met “die Woord is gebring” bedoel ek nie sommer net ’n kort teksie en vinnige boodskappie nie. Nee! Daar is eers ’n deeglike oorsig oor die heilsgeskiedenis gegee met die hulp van prente (letterlik van Adam en Eva af) en toe is daar uit Matteus onder andere die implikasies van Jesus se maagdelike geboorte verduidelik... en natuurlik ook die belangrikheid om Jesus self, die groot Geskenk van God te aanvaar. 

Die groepie Boesmanmense het hulle eie inisiatief gebruik om ’n Kersboom te versier. Terloops, hulle het ook self ‘n klein sink en skadunet geboutjie opgerig waarin die Woord bedien kan word. Nou weet ek van al die “slim mense” wat weer hierdie tyd van die jaar te kere gaan oor die heidense wortels van Kersfees, kersbome en kersgebruike. Onder hulle is daar ook die Israelvisie ouens wat juis glo dat aan mense soos die Boesmans nie die evangelie behoort gebring te word nie. Allerhande lang bedrieglike redenasies. Ek moet sê, al is ekself nie ‘n aanhanger van kersbome nie, laat mense wat tot satwordens toe oor kersbome kibbel en hare kloof my nogals dink aan die Fariseërs wat verontwaardig was toe Jesus siekes op die sabbat genees het. So vasgevang in feite en vertolkings van feite dat hulle vergeet om die genade raak te sien! Hier tussen die eenvoudige, spontane en vriendelike mense, het ek Goddelike genade raakgesien en maar net gedink aan die woorde in Jesaja 57:15 wat sê : “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees,...” 

God was hier teenwoordig in die warm somerhitte van Noord Namibië, hier by die geringes en nederiges. En Hy praat met hulle deur sy Gees. Twee paartjies het later vir Andries ‘n aanduiding gegee dat hulle wil trou omdat dit nie reg is om so saam te bly nie... Ja, die Here is vandag nog besig met die nederiges en geringes. Jesus is self immers in ‘n stal gebore...






Hoe moet mens Kersfees vier? Kliek op SOOS SAGGEUS

Sondag 05 Augustus 2018

SATERDAG OP TSINTSABIS

- trane en evangelie toe 'n getroue Boesmanbroer begrawe is.

Dit was 'n emosionele terugkyk, tuiskoms en evangelie geleentheid. Toti Tsam een van die eerste Boesmanbekeerlinge wat deur my oorlede pa, Johan de Koning se bediening op die plase in die Tsumeb omgewing die Here gevind het, is verlede Saterdag begrawe op Tsintsabis. Dis 'n nedersetting so ongeveer 60 km noord van Tsumeb. Toti was destyds 'n plaaswerker op Paul Smith se plaas Driehoek, oos van Tsintsabis. Daar onder 'n groot wildevye boom wat skuins groei het Toti die saak met sy Verlosser uitgemaak. Oom Reinhard Friederich een van die baie bekende Duitse boere in die omgewing, 'n sendingvriend en kenner van die Hai//om Boesmans en hulle taal het aan die groot groep mense vertel hoe opgewonde my pa was oor Toti en sy broer Atrabe se bekering. Dit was die jaar 1972. Dit was ook lekker dat Rudolf, oom Reinhard se seun wat ook 'n hart het vir hierdie mense, saam was by die begrafnis.

Toti en 'n ander Boesman bekeerling, Markus is later op 'n keer deur my pa saamgeneem na die verjaarsdag geleentheid van die Dorothea Sending noord van Pretoria om te gaan getuig van wat die Here vir hulle gedoen het. Maar ook hier in die omgewing is mense wat nog vertel hoe Toti hulle na die Here gebring het. Een van hulle is 'n tuinwerker van my vriend Andries Gous.  Andries, wat self nou 'n kosbare bediening onder die Boesmans op die Oerwoud nedersetting het, was ook by die begrafnis.

Vir ons haastige westerse mense was dit 'n lang (en luide!) begrafnis, maar die hoofsaak is die evangelie van hoop kon uitgedra word. Die dood is 'n vyand wat oorwin is deur ons Here Jesus. Ja, die dood is soos 'n aaklige skerpioen, maar sy angel is nou af! Daarom hoef ons nie te treur soos mense sonder hoop nie. Dit was vir my 'n reuse voorreg om aan so 'n groot klomp mense die kernwaarhede van die evangelie uit te spel soos ons dit saamgevat kry in 1 Korintiërs 15. "Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;
Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte."

Die groot skare mense wat geluister het, van wie baie deesdae aan elke denkbare vorm van dwaalleer blootgestel word, moet ons tog met groter erns laat bid dat die Here van die oes arbeiders in sy oesland sal stuur. Miskien is jy wat hier lees dalk deel van die antwoord van hierdie gebed...

Almal staan tou om eers die oorskot te besigtig.

Op sy laaste aardse reis.


Maandag 21 September 2015

DIS SO LEKKER OM TE GEE...

- dit was 'n vreugde vir die NGK Tsumeb se vroue om hulle susters in die geloof op Tsintsabis te bederf!

Hierdie groep vroue het handsakke gemaak en dit vol verrassings gestop. Saterdagmiddag 19 September is hulle toe met 'n bussie na die San vroue van Tsintsabis wat deel vorm van Wildevy gemeente om dit te gaan oorhandig. Trudie van Niekerk het die Woord uit die woordlose boekie gebring, daar is gesing, geëet en gedrink en sommer net die liefde van die Here gevier! Geloof in Jesus en liefde vir die heiliges, leer die Woord ons, is dinge wat saamgaan...





Lukas 6:38

"Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word."

Woensdag 04 Maart 2015

DS. FERDIE WEICH

- voltooi sy aardse loopbaan.

Die baanbreker NG sendeling onder die Boesmans van  Namibië  is nou onlangs in Pretoria oorlede. Hy is in 1961 met oplegging van hande bevestig in Orumana en begin in dieselfde jaar die werk onder die Boesmans te Tsumkwe in die destydse tuisland, Boesmanland in die noord-ooste. Nadat hy tussen 1976 en 1980 die NG Sendingkerk Grabouw bedien het, keer hy terug na hierdie land om in die gemeente Wildevy  (Grootfontein, Tsumeb, Otavi omgewing) die werk onder die Boesmans voort te sit. In 1988 word hy die Uitvoerende Sekretaris van die Namibiese Bybelgenootskap tot met sy aftrede. 

Ds. Weich was veral bekend vir sy taalkundige baanbrekerswerk onder die Boesmans. Oom Ferdie en my eie Pa, Johan de Koning het ook nou saamgewerk. Lees gerus sy nuusbrief wat hy geskryf het na aanleiding van die groot deurbraak onder die Boesmans by Tsumkwe in 1973.  (Kliek op NUUSBRIEF)



[Op hierdie ou foto van my Pa, kan ds. Weich in die agtergrond gesien word. Nou is altwee stryders nie meer met ons nie...]

Vrydag 11 Oktober 2013

GETROU OP TSINTSABIS

- aansporing vir ons.

Dit was vir my ‘n baie aangename voorreg om saam met die kerkraadslede van die NG Gemeente Wildevy nou die dag op Tsintsabis rondom die Woord bymekaar te kom. Dit het ook vir my ‘n bykomende persoonlike dimensie aangesien daar van hulle is wat deur my oorlede vader se bediening jare gelede tot bekering gekom het en nou nog steeds op die pad volhard. 

Een van hulle is Toti Tsam ‘n (Hei-//om Boesman) wat meer as veertig jaar gelede tot bekering gekom het! Hy kon my vertel van die preek van Pa wat destyds sy hart geraak het. Dit het gegaan oor die vyeblaarkleed wat Adam en Eva aangehad het.

Kom ons dink in gebed aan die Wildevy gemeente. Hulle het so pas een van hulle eie mense, Josef Gevers as hulle leraar beroep, nadat hy teologiese opleiding onder leiding van ds. Hendrik van Zyl-hulle op Grootfontein voltooi het en onlangs gelegitimeer is.

Mag die getroue volharding van ons medegelowiges ons opnuut aanvuur om self te volhard en ook met verwagting die Woord aan alle nasies te verkondig, met die wete dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie!

Dinsdag 30 April 2013

BESINNING IN BOESMANLAND

- oor rentmeesterskap. 



‘n Groep manne was bevoorreg om die afgelope naweek in die natuurskoon van Boesmanland uit die Bybel na te dink oor ons verantwoordelikheid voor God. Elke kind van God sal eendag verslag doen oor wat ek met my geleenthede, gawes, bates, ja met my lewe as geheel gedoen het. In hierdie tyd terwyl ons nog op aarde is, word daar van ons verwag om vrug te dra tot eer van God en nie vir onsself te leef nie.

Behalwe vir ‘n paar klein voorvalletjies het ons Vrydag almal Tsumkwe veilig bereik. Roelf se sleepwaentjie het dit egter net-net gemaak – dit was so ‘n amperse wonderwerk dat die ding se bakwerk nie heeltemal van die onderstel afgespring het nie. Die doel hiervan sou ons eers later besef.

KOM KYK EN BELEEF SAAM MET ONS:



Daar is ook manne wie se vaardighede meer insluit as net 4x4 ry! Mooi oom Pieter!
(vir die ouens wat laas in julle "army dae" op Tsumkwe was, ja jy sien reg, daar is nou ook al 'n stuk teerpad in die dorp!)

Saterdag is ons die bosse in. Oom Ollie se merke was orals te sien. Maar waar was hy? Vir Hennie het dit nogals ‘n ernstige kwessie geword soos ons gevorder het al dieper die bosse in... 


Baie groter as olifante is natuurlik die reuse ou kremetartbome.

  Die bekende holboom toon ongelukkig tekens van agteruitgang. Dit herinner ons maar net dat niks op aarde vir altyd is nie. Aan alles en almal kom daar ‘n einde... 



Manus Naude, Johannes de Koning  Pieter Pretorius, Ryno Mans, Deon Louw, Eddie van der Merwe, Pieter-Jan Schoonbee, Hennie  en Hentie Kruger, Buys Steenkamp, Roelf van Tonder, Johan (met die kruk) en Sakkie Steenkamp, Pieter Jooste. (Andre Neethling  het die foto geneem)



Sakkie soek 'n wyer visie...









Hierdie watergat is duidelik die olifante se drinkplek. Vir Eddie is dit darem ‘n geleentheid om ‘n lemoen te eet. 







Andre verduidelik iets. Buys probeer sin maak van die gedenkplate?




Nou raak die onsigbare olifante erg ongeskik. Hulle aktiwiteite het ‘n versperring in die pad veroorsaak en ‘n ompaadjie moet gemaak word. Hennie swaai die byl... 







Deon en Pieter hou die situasie dop... 







Tyd vir ‘n lekker noenontbyt onder ‘n groot hardekool. 

Pieter, Ryno,   en Manus.


‘n Groepie vriendelike Boesmans doer in die bos bied ons die geleentheid om iets van die Here se liefde in die vorm van mieliemeel met hulle te deel. Pieter Jooste gee ook sommer raad oor patatsplant. Hierdie ouma was deel van die groep.



Oppad deur die bos....

Ons bereik die Ahaberge. Ja, reg gehoor, hierdie plat heuweltjies in die konteks van ‘n vlakte vol Kalaharisand is berge! 





Pragtige herfskleure by die Ahaberge.









Die tergende vraag van : “Waar is Oom Ollie?” word amper op rampspoedige wyse beantwoord.” Roelf word darem genadiglik ‘n botsing met die meneer gespaar, maar dit kon maklik anders gewees het. (dan was hy minus ‘n waentjie en bakkie...)



Saterdgaand kon ons weer lekker saamsing met behulp van Eddie se begeleiding en heerlik rondom die Woord vergader. Daar is nie meer diesel beskikbaar nie, so die Here wysig dus ons planne vir Sondag en ons besluit om nie verder rond te ry nie. 

Na Sondag se byeenkoms gaan besoek ons vir Louise Steyn. Sy kry ‘n goeie klompie voorraad en sommer ook Roelf se afgetrede waentjiebak as ‘n pakplek! Toevallig...?


Louise by haar blyplek.








Nogmaals 'n groot dankie aan Roelf van Tonder vir al die reëlings en moeite en sommer almal wat saam was! Ons moet beslis weer so maak...

As jy nou nie hierdie keer kon saamkom nie, kan jy darem nog so ietsie ervaar van waarmee ons besig was. Kom maak oop jou Bybel en kyk bietjie saam met ons manne na die uitdagende gelykenis van Jesus in Lukas 19:11-27. Dit bring ons by die vraag : WAT MAAK EK MET MY LEWE? 

1. Die agtergrond in vers 11 is belangrik. Die dissipels het gedink die Koninkryk van God gaan sommer nou dadelik aanbreek in Jerusalem. Hierdie gelykenis gee ’n duidelike antwoord, dat daar nog ’n tydsverloop sal wees tot by die finale koms van die Koninkryk eers by Jesus se wederkoms. Die gelykenis sê vir ons hoe ons hierdie tyd moet benut tot by die wederkoms. Hierdie tyd op aarde voor die wederkoms is baie belangrik, ons moet dit reg gebruik. Ons sal rekenskap hieroor moet gee. 

2. Vers 14. Sommige mense is teen Jesus se koningskap gekant (die onbekeerdes) en hulle sal by die wederkoms gestraf word. Sien vers 27. Terloops : Het jy al persoonlik Jesus se koningskap oor jou lewe aanvaar? 

3. Die klem van dié gelykenis lê egter op die geleenthede en vrugdra van die diensknegte van Jesus (God se kinders) in hierdie tyd voor die wederkoms. Elke kind van God (ook jy as man) word as ’n rentmeester aangestel. Dit beteken dat die Here geleenthede, mense, werk, bates ens. aan jou spesifiek toevertrou het tot by sy wederkoms en dan sal jy rekenskap moet gee wat jy hiermee gedoen het. 

4. Dink oor die verantwoordelikhede wat God aan jou gegee het in jou posisie as (gee praktiese voorbeelde wat hierdie verantwoordelikheid behels): 
~ kind van God in ’n gemeente(heel eerste moet ek God met my alles eer en liefhê)............................................ 
~ man van ’n vrou..................................................
~ pa van kinders....................................................
~“besitter/bestuurder” van eiendom, geld ens.......
~ werkgewer/werknemer.....................................................

5. Onthou al hierdie posisies, gawes of geleenthede is net deur God aan jou tydelik geleen, dis nie regtig joune nie, dis soos die muntstukke wat aan die diensknegte toevertrou word om iets mee te doen. Alles wat ons het (of is) moet bestuur en versorg word in belang van God en sy Koninkryk ......hetsy my plek as gemeentelid, my geld, vrou, kinders.... Doen ek dit? Dink ’n bietjie na. Van ons word inisiatief gevra op grond van ons liefde vir ons Here en Verlosser. Die tyd wat ek nou nog op aarde het moet tot die Here se voordeel gebruik word. 

6. Vir die wat hulle geleenthede benut het en hulle verantwoordelikhede nagekom het wag daar heerlike lof en beloning. (Vers 15-19) Die koning het nie hulle winste juis nodig gehad nie, Hy het net hulle getrouheid en liefde getoets! 

7. Vir die ontroue dienskneg wag daar ’n vreeslike lot. (Vers 20-24) Vergelyk ook Matteus 25 :30. 

8. Opvallend : die ontroue dienskneg het nie juis iets verkeerds gedoen nie, hy het net niks gedoen nie! Pasop dat al jou Godgegewe kanse en verantwoordelikhede by jou verbygaan en jy doen net niks daaraan nie. 

9. In hierdie tyd voor die wederkoms moet ons besig wees met dit wat God oor ons pad gebring het. Hy gee nie vir elkeen dieselfde geleenthede of gawes of verantwoordelikhede nie. Dit maak nie saak nie. Ek hoef myself dus ook nie met ander kinders van God te vergelyk nie. Wat wel belangrik is, is dat ek dit wat Hy voor my deur lê voluit sal doen. Interessant : vrees was die oorsaak dat die nuttelose dienskneg niks gedoen het nie! (Vers 21) Dis ’n valse selfsugtige vrees, want wie werklik ontsag vir die Here het sal juis waag en inisiatief neem om dinge aan te pak. 

10. Dis juis die feit van genade wat my bevry van vrees, sodat ek (al is ek bewus van my swakheid) ten volle kan leef, gee en werk in diens aan God. Die volledige vergifnis en vryspraak wat ons as sondaars kry die oomblik wanneer ek my volkome vertroue op Jesus alleen stel, skep vir my die ruimte om voluit vir my Verlosser te leef in al die geleenthede wat hy my bied as lidmaat, in huwelik en gesinsverband, as eienaar en bestuurder van bates, as medemens in die algemeen.


Bid vir Tsumkwe se Boesmans. Oor die wonderlike werk wat God al in die verlede hier gedoen het - kliek op BOESMANS TOT BEKERING