BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Die Gelofte. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die Gelofte. Wys alle plasings

Vrydag 04 Desember 2020

DIE GELOFTE

- net weer 'n herinnering

Wat was die inhoud van die Gelofte wat die Voortrekkers  in 'n tyd van diepe angs en nood plegtig aan God gemaak het?

Die Gelofte is vandag grootliks vergete, maar vir Sarel Celliers en die manne saam met hom was dit 'n saak van absolute erns. Dis nie ligtelik gedoen nie en mens kan aflei dat hy gehuiwer het om tot so 'n ernstige stap oor te gaan, juis omdat hy geweet het hoe gou die mens vergeet. 'n Latere mededeling van Celliers klink soos volg : "en ik vond mij er over diep bezwaard, en zij tot hem (Pretorius) : mijn heer, ik bevind mij er onder bezwaard dat wij die dag zal vergeten, en ook zal verwaarloozen, en dat de toorn des Heeren dan tegen ons zal ontbranden."*  Dit laat mens wonder...was Celliers nie baie reg nie?

Hier is die woorde van die GELOFTE:

In Nederlands

"Mijne broeders en medelandgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een Heilige God van hemel en aarde om een Belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat zij met ons erin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven."

 

In Afrikaans

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n sabbat sal deurbring, en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee." **


*Aangehaal deur GDJ Duvenhage,  Die Groot Trek,  Die eerste drie jaar DIE GELOFTE, p143

** Soos die geval met baie handgeskrewe historiese dokumente bestaan daar verskillende weergawes van die Gelofte wat onderling verskil. Vergelyk die weergawes van Hofstede, Cachet en Gerdener in Duvenhage.

Dinsdag 16 Desember 2014

GELOFTE, BLOEDRIVIER EN VALSE SEKURITEIT

 - vormgodsdiens gee ‘n valse indruk dat God altyd aan ons kant is.

Daar is geen twyfel dat God op 16 Desember 1838 die ernstige smeekgebede van ‘n groepie Voortrekkers verhoor het nie… Wonderbaarlik gryp Hy in en gee uitkoms! En let wel, God het hulle gebede verhoor nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle Christene was…* (Kliek op BLOEDRIVIER)

God het ons voorouers uitgered, maar beteken dit dat Hy nou outomaties altyd aan ons kant gaan wees? Dit lyk asof sommige so redeneer…

Dis presies die tragiese fout wat die volk Israel in die tyd van die profeet Jeremia begaan het. Hulle was baie godsdienstig en vol vertroue dat dinge sal goed gaan. Die fokus van hulle godsdiens was die tempel en al die offers wat daar gebring is. Daar in Jerusalem het die groot imposante tempel gestaan, ‘n indrukwekkende gebou en dit het mense veilig laat voel. Hulle was heeltemal gerus. Hulle het geredeneer die Here is mos in sy tempel en daarom sal Hy die land beskerm. Hy sal mos nie toelaat dat sy tempel en sy stad Jerusalem iets oorkom nie. “God is mos aan ons kant, sy tempel staan dan hier!” Al die waarskuwings van Jeremia dat God sy volk gaan straf het dus op dowe ore geval. Sy oproepe tot bekering was tevergeefs!

Maar nou skielik kom die Here deur sy profeet en ruk die matjie onder hulle voete uit.  Ondubbelsinnig waarsku die profeet die geruste inwoners van Jerusalem : “Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!" (Jeremia 7:4) Met ander woorde, hulle vertrou tevergeefs op hulle godsdienstigheid, die onheil van God gaan hulle tref!

VORMGODSDIENS

Nou wat was fout met Israel se godsdiens? Waarom het hulle godsdiens valse hoop en sekuriteit gebied? Dit was :

~ ’n Godsdiens ter wille van hulleself.  Hulle het godsdiens beoefen om veilig te kan voel. In vandag se taal... hulle godsdiens was ‘n polis teen droogte, misdaad, siekte en die hel. In droogte tye bid ons, as daar siekte is bid ons, as daar eksamen is bid ons, as iemand sterwe - dan moet daar skielik gelees en gebid word, selfs al het die oorledene nooit die binnekant van ‘n kerk geken nie. Hierdie tipe godsdiens is suiwer mensgerig, dit gaan slegs oor die mens se belange en gerief.

~ ’n Vormgodsdiens. Godsdiens met die regte woorde en terminologie, maar nie die regte inhoud en fokus nie. Hulle het nog uiterlik die regte tradisies gevolg, hulle het by die poorte ingegaan om die Here te dien. Hulle het wel nog offers gebring, nog gebid. Die regte vorm en korrekte geluide! Maar dit was nie meer ’n godsdiens van toewyding aan God nie, nie meer ’n godsdiens van dankbaarheid vir God se groot verlossingsdade nie! Dit was nie ’n hartsgodsdiens nie. Hulle lippe was  nog betrokke, maar die harte was  ver van God. Ook Jesaja waarsku teen hierdie uiterlike godsdiens: “Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.” (Jesaja 29:13)

~ ’n Godsdiens wat gerieflik was en almal gepaai  en gevlei het. ’n Goedvoel rugkrapper godsdiens. “...almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog. Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie.” (Jeremia 8:10,11) Die leiers het maar net gerusstellende  en mooi dingetjies gesê. Dit was ’n godsdiens wat niemand ontstel het nie, wat niemand laat nadink het nie, wat niemand tot bekering opgeroep het en niemand uitgedaag het  nie. Ook die Nuwe Testament waarsku teen hierdie tendens. “want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”  (2 Timoteus 4:3) Kerk en godsdiens is oraait solank ons net kan hoor wat ons graag wil hoor. ’n Godsdiens sonder uitdagings, sonder selfverloëning - ’n gemaklike rusbankgodsdiens met mooi woordjies

~ ’n Godsdiens sonder heiligheid en sonder lewensverandering. Hierdie godsdiens het geen verskil aan hulle praktiese lewensstyl gemaak nie. Hulle het rustig voortgegaan met sonde... Jeremia noem die dinge by die naam :  “Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie.  Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: "Ons is veilig" nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge!” (Jeremia 7:8-10) Dit was ’n teoretiese godsdiens maar sonder die krag om lewens te verander. Ook in die Nuwe Testament word ons teen hierdie godsdiens gewaarsku. Sien 2 Timoteus 3:1-5.  Ja, Jesus self waarsku ook teen hierdie soort godsdiens in  Matteus 7:21 (Kliek op SKOKWOORDE)

 Israel het  godsdiens sonder God beoefen.

Israel was besig met godsdiens, ja, maar nie met God nie. Dit was ’n mens gemaakte en mens gefokusde godsdiens slegs ingestel op hulle eie gerief en veiligheid. Daar was gebede, maar gebede wat nie meer by God uitgekom het nie. Daar was baie aktiwiteite, maar dit was aktiwiteite wat geen indruk op God gemaak het nie. Godsdiens sonder God. Sonder ’n liefde vir God, sonder gehoorsaamheid aan God, sonder die teenwoordigheid van God, sonder ‘n hart vir God! Wat ’n verskriklike ding. Nou sê God : Hierdie godsdiens gaan julle in die steek laat, die oordele gaan julle tref!  Ek sal hulle vrouens aan ander gee en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.”  (Jeremia 8:10)

Inderdaad het dit gebeur. Die tempel is verwoes en die volk is weggevoer. Laat ons raaksien : Uiterlike vormgodsdiens bied geen skuiling teen God se oordele nie. God se groot dade van verlossing in die verlede, waarborg nie dat Hy altyd aan ons kant is nie. Mense wat tevrede is met ’n uiterlik  aangeplakte Christenskap sal eendag hoor : “Ek het julle nooit geken nie.” Wat nodig is, is ware geloof in Jesus en bekering!


Ware godsdiens en ware aanbidding begin by ’n hartsverandering,  ‘n aanvaarding van God se genade in Jesus, by vergifnis wat net Jesus vir jou kan gee. Dis wat alle mense in hierdie land, ook die Afrikanervolk... Ja, vier die Gelofte, maar maak seker dat ons die God van die Gelofte nog as God en Verlosser eer en gehoorsaam!


SONDER NUWE HARTE MAAK DIE VIERING VAN GELOFTEDAG GEEN SIN NIE!


                [Voorstelling van die slag van Bloedrivier]

*Natuurlik kan dit nie ongekwalifiseerd van enige groep mense gesê word nie. Orals is meelopers en afvalliges, maar dat daar baie ware gelowiges onder ons voorouers was, ly geen twyfel nie.

Maandag 15 Desember 2014

BLOEDRIVIER

- se geestelike dimensie. 

‘n Christen kan nooit bloot uit ‘n sekulêre oogpunt na die geskiedenis kyk nie. Allermins nog na ‘n gebeurtenis soos die Slag van Bloedrivier as mens die plegtige Gelofte in ag neem wat die Voortrekkers in diepe nood tot God gemaak het. (Kliek op AGTERGROND VAN DIE GELOFTE) Die geestelike betekenis van Bloedrivier is nie sommer ‘n stuk verdigsel of wensdenkery nie. Dit kom duidelik na vore uit ’n verhaal van R.B Hully, die tolk van die sendeling Owen wat hom in 1837 in Zoeloeland gevestig het. Dit handel oor die eerste diens wat Owen vir Dingaan en sy mense gehou het. 

Nadat Owen omtrent ’n halfuur gepraat het, het die koning hom stilgemaak en gesê “Ek het ’n paar vrae wat ek jou wil vra sodat ek jou kan verstaan. Sê jy dat daar ’n God is en net een God? Die sendeling antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hemel vir goeie mense is en net een hemel? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n duiwel is? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hel is vir slegte mense? Antwoord : Ja. Toe sê die koning : ‘As dit jou geloof is, dan is jy vir my en my mense van geen nut nie. Ons het al daardie dinge geweet voordat jy vir ons kom preek het. Ek en my mense glo dat daar alleen een god is - ‘Ek is daardie god’ Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle goeie mense gaan - dit is Zoeloeland. Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle slegte mense gaan. Daar! Terwyl hy na ’n rotsagtige heuwel in die verte wys. ‘Daar is die hel waar al my slegte mense heen gaan. Die kaptein wat daar bly is Matiwane, die hoof van die Amagwane. Ek het hom doodgemaak en hom die hoofduiwel gemaak van al die slegte mense wat doodgaan. Jy sien daar is net twee kapteins in hierdie land, Matiwane en ekself. Ek is die groot kaptein, die god van die lewendes, Matiwane is die groot kaptein van die slegte mense. Ek het jou nou my geloof vertel. Ek wil hê jy moet my nie weer pla met die stories van julle Engelse mense nie. Jy kan in my land bly solank jy jouself behoorlik gedra. 

Dit was blykbaar die eerste en laaste geleentheid wat Owen toegelaat is om die evangelie aan die Zoeloes te bring. Dingaan se despotiese mag was dus ’n duidelike struikelblok in die weg van die evangelie. Kan jy sien, by Bloedrivier was daar meer op die spel as net die politiek van die dag?

Met dit alles as agtergrond kan mens twee aspekte van die geestelike dimensie van die oorwinning by Bloedrivier uitlig*:

~ Bloedrivier open die weg vir die evangelie in Zoeloeland. Vyf dae na die moord op Retief skryf die sendeling Owen in sy dagboek : “Die regverdige Regter ... sal nie toelaat dat hy (Dingaan) in vrede rus nie ... Dit wil voorkom asof hy self nie verstaan nie, maar as hy die karakter van sy teenstanders, die Voortrekkers, ken soos wat omstandighede onlangs uitgewys het in hulle oorloë met Silkaats, dan sal hy weet hoe verskriklik dit is om hul grimmigheid uit te lok en watter vasberade en magtige vyande hy gemaak het deur hierdie daad van aggressie wat onbesonne en onwys, verraderlik en wreed was.
Maar al hierdie dinge sal ten goede werk, ook vir die verspreiding van die Evangelie. Ons het gebid dat ‘n weg geopen mag word vir die bekendstelling van die Evangelie onder die Zoeloevolk. En nou, op ‘n manier wat ons nie verwag het nie, is God besig om sy eie planne uit te werk. Die hoogmoed en brutaliteit van die Zoeloekapteins, is die hoofstruikelblokke vir die verkondiging van die waarheid. Wanneer die hoogmoed verflou het, sal die weg vir die Evangelie makliker wees. God is nou besig om die trots van die volk in die algemeen en die kapteins in besonder, te verneder. Hy het toegelaat dat hulle deur hulle eie hoogmoed, verwaandheid en boosheid in sulke afskuwelike gruwelikhede verval, wat hoog waarskynlik hulle eie ondergang en dié van hul volk sal meebring, waarvan hulle nooit sal herstel nie en wat die weg sal voorberei vir die sendelinge van die wêreld.” Owen het dus al iets van die geestelike dimensie raakgesien.

~ Bloedrivier is ‘n bewys dat God ’n geestelike doel het met die Afrikaner se voortbestaan in Afrika. Ons glo dat God ’n wonder bewerk het en die oorwinning gegee het... Natuurlik het Hy middele en omstandighede gebruik....die mis wat opgeklaar het, die feit dat die Zoeloes nie in die nag aangeval het nie... In elk geval sê die Skrif duidelik : “Perde kan afgerig word vir die oorlog, maar dit is die Here wat die oorwinning gee” (Spreuke 21:31).... God is in beheer van die geskiedenis (“His story”), God bepaal die lotgevalle nie net van enkelinge nie, maar ook volke en nasies. Nou as ons sê dat God die oorwinning gegee het, het Hy dit met ’n doel gegee, en die doel is die uitbreiding van sy Koninkryk. En daarom is Geloftefees nie ’n poltieke fees nie, nie ‘n fees om mense te vereer nie, maar ’n Godgesentreerde fees. (Terloops God se doel was nie politieke mag nie... Na slegs  ’n paar jaar het die Trekkers in Natal  hulle onafhanklikheid verloor.) Geloftedag gaan nie oor nasionalisme nie, maar herinner ons aan die Goddelike roeping, spesifiek aan die sendingroeping wat God aan Christen Afrikaners gegee het in Afrika. 

Christen Afrikaners was nog altyd bewus van hierdie sendingroeping wat God aan ons volk in Afrika gegee het. Ware Christen Afrikaners sal altyd sendingmense wees!

Een van die jong seuns wat die Groot Trek meegemaak het was Paul Kruger. Het jy geweet hy was ’n uitgesproke sendingondersteuner? (Kliek op PAUL KRUGER)


FEES VIR ALLE CHRISTENE

Wanneer die geestelike dimensie en betekenis van Geloftedag en Bloedrivier besef word, styg hierdie gebeure uit bokant die konteks van blote etniese konflik, vergelding en volksbelang. God het immers die noodroep van die Voortrekkers verhoor, nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle (ten minste 'n beduidende deel van hulle) Christene was wat hulle vertroue op Hom gestel het en nie slegs op wapens vertrou het nie! God se uitverkorenes is nie een of ander etniese groep nie, maar almal wat aan Jesus Christus behoort. Daarom kan die gebedsverhoring by Bloedrivier en die positiewe Koninkryksgevolge wat daaruit voortgevloei het, deur ALLE Christene, hetsy Afrikaners, Zoeloes of wie ook al gevier word deur danksegging aan God op hierdie wonderlike dag van 16 Desember. Die misbruik van hierdie kosbare dag deur sommige, verhoed nie God se kinders om Hom op die regte manier te eer en te dank nie! 

*Vir hierdie artikel in geheel is ek in groot mate dank verskuldig aan Prof. Billy Heiberg vir 'n Geloftefees toespraak wat hy gelewer het.


                                                                Dingaan

Sondag 14 Desember 2014

DIE GELOFTE VAN 16 DESEMBER

- verstaan die agtergrond en aanloop.*



Vir baie moderne Afrikaners maak die Gelofte voor die slag van Bloedrivier nie meer sin nie. Vir sommige het dit ietwat van ‘n oorlas en stuk bagasie uit die verre verlede geword. Vir ander selfs ‘n verleentheid. Heel moontlik is die oorsaak dalk skryende onkunde oor die geskiedenis... Dis daarom dalk nuttig om net weer eerlik na die verwikkelinge wat as aanloop tot die Gelofte en Bloedrivier gedien het, te kyk. Stel jouself bietjie in die skoene van ons voorvaders... Die Voortekkers in Natal was op ’n laagtepunt van hulle bestaan, op die randjie van mislukking en totale uitwissing. Dit het voorwaar gelyk asof alles wat verkeerd kon loop inderdaad verkeerd gegaan het. Die jaar 1838 was ‘n jaar van ontstellende benoudheid en ellende:



~ Op 6 Februarie 1838 word Retief en sy ongewapende manne koelbloedig en wreed vermoor nadat hulle eerlik en opreg oor grond onderhandel het en ‘n ooreenkoms met Dingaan gesluit is. (Ongeveer 70 mans waaronder ’n paar seuns verloor hulle lewens op uiters wredaardige manier.) Francis Owen ’n sendeling onder die Zoeloes was nog die oggend besig om uit sy Bybel te lees toe daar ’n boodskapper van Dingaan kom met die skokkende nuus dat Dingaan besluit het om Retief hulle te laat vermoor. Voordat Owen nog kon besluit wat om aan die saak te probeer doen, wys die boodskapper na die heuwel buite Umgungundlovo waar die Zoeloes reeds besig was om die moorde te pleeg. Die Voortekkers verloor dus hulle groot leier op barbaarse wyse.

~ Dan volg die nag van verskrikking, 17 Februarie toe die Zoeloehordes op die niksvermoedende slapende laers van die Voortrekkers toesak en almal voor die voet probeer uitwis. Niks en niemand word ontsien nie. Onbeskryflike treurspele en kloekmoedige heldedade... Selfs suigelinge is in die arms van hulle moeders deurboor. Volgens J.N Boshoff se skatting het nie minder nie as 40 mans, 56 vrouens, 185 kinders en oor die 200 bediendes gesterf. Uiters grusaam gesterf! Die Voortrekker leraar Erasmus Smit skryf : “Dit was sug op sug, klag op klag. Ag God, Ag Heer! Hoe gedug, hoe groot is U oordele oor ons! Die gekerm van die gewondes en die angs en die skrik van die ander het ten hemel opgestyg”

~ Nou volg daar die verdere tragedie van Italeni op 10 April. Die Voortrekkers se strafekspedisie teen Dingaan misluk, toe hulle sterk kommando die onderspit delf teen Dingaan se impi’s en nog ’n leier, Piet Uys sterf. Dinge wou maar net nie reg loop nie. (Terloops,  hier het ons ‘n bewys, gewere wen nie sommer vanselfsprekend teen assegaaie nie!)

~ Kort hierna was daar ’n verdere terugslag vir die Nataltrekkers toe Hendrik Potgieter Natal verlaat en sowat die helfte van die trekkers hom gevolg het. Dink aan die moedeloosheid van die groepie agtergeblewenes!

~ Verdere ellende is veroorsaak deurdat die oorlewendes in beknopte laers saamgetrek is uit vrees vir nog Zoeloe aanvalle. (wat inderdaad plaasgevind het) As gevolg van aanhoudende reën het siektes uitgebreek en tientalle kinders het aan masels en koors gesterf. Daar was ook ’n vreeslike haelstorm wat hulle watente en seile aan repe geslaan het. Dit moes seker vir sommige gelyk het asof die land vervloek was. 

~ Nog was dit het einde niet! Op 23 September het ’n nuwe laagtepunt aangebreek toe die laaste erkende groot leier Gerrit Maritz op die jong ouderdom van 41 jaar gesterf het na ’n kort siekbed. Die laaste van die bekende leiers was daarmee heen.

Die trekkers kon nie nog 'n nederlaag of ramp bekostig nie!

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom die oorwinning by Bloedrivier so deurslaggewend was. ’n Mens kan jou die vrae en vertwyfelinge in menige hart voorstel – “Wie sê dinge sou nou regloop nadat dit gelyk het asof alles teen ons was - miskien was God self teen ons?” Aan die anderkant, dis nogal verstaanbaar dat gelowige mense wat fyngemaal is deur soveel beproewinge in hulle nood hulle vertroue op God gestel het en selfs so ver gegaan het om ‘n plegtige gelofte aan Hom af te lê. Die oorlewing en voortbestaan van hierdie groepie dapper pioniers was op ’n mespunt gebalanseer. Laat diegene wat die aflê van die Gelofte aan God kritiseer, belaglik wil maak of maar sommer net wil vergeet, liewers weer mooi dink... 

God het inderdaad in hierdie uiterste toestande ’n wonderwerk bewerkstellig nadat die Voortrekkers hulle vertroue in Hom verwoord het deur die Gelofte onder leiding van Sarel Celliers. Dit gaan oor die Goddelike verhoring van gebed, en daarom kan ons weet dit gaan hier oor meer as net 'n stukkie Afrikanersgeskiedenis, ja dis wel gesiedenis, maar met 'n besondere geestelike dimensie. (Kliek op BETEKENIS VAN BLOEDRIVIERAan God alleen die eer en dank!






Sarel Celiers gedenkteken op Kroonstad.






*Die Gelofte word gekoppel aan 16 Desember, maar dit was natuurlik die datum van die slag van Bloedrivier. Die Gelofte self is op Sondag 9 Desember by die Wasbankspruit afgelê. (GDJ Duvenage, DIE GROOT TREK, DEEL 3, p144-149)