BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Maak vas;Maak seker!. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Maak vas;Maak seker!. Wys alle plasings

Saterdag 08 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (2)

- BESEF WAT HET GOD GEDOEN! 



Een van die grootste foute wat ‘n twyfelende Christen maak as dit by die kwessie van sekerheid kom is om by jouself te begin. Dit lei tot n gedurige wroeging en wankelrigheid : “Was MY besluit, MY bekering eg genoeg, is MY geloof opreg genoeg, is EK heilig genoeg, voel EK goed genoeg...? Niks anders as ‘n gedurige, bykans sieklike introspeksie nie. Redding word deur diesulkes gesien as ‘n groot werk wat ekself moet doen en ek weet nooit of ek dit heeltemal reg of goed genoeg gedoen het nie. Dis natuurlik ‘n doodloopstraat... Dis ‘n resep vir permanente onsekerheid! 



So hoe kry ons sekerheid? Wel, waar begin Petrus? (Hy praat met mense wat reeds Christene is.) Hy begin by die Bron van ons verlossing. Hy verwys ons na wat GOD GEDOEN HET! Dis waar ons elkeen moet begin... 

"Simeon Petrus, 'n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so 'n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus: 
Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! 
Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, 
waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is."  ( 2 Petrus 1:1-4) 

ONTVANGERS 

'n Kind van God is in die eerste plek 'n ontvanger. Hoor ons dit! Ontvangers, mense wat so gelukkig was om 'n geskenk te kry. En dis deur God so beskik, God wat regverdig is! Dit skakel onmiddelik alle verdienste alle roem uit. Ons is Begunstigdes, begenadigdes, bevoorregtes! God begenadig nie sondaars wat effens beter is as anders sondaars nie. God begenadig soos Hy wil en wie Hy wil. Daarom kan Petrus sê dat sy lesers en ook ons dieselfde kosbare geloof ontvang het as wat die apostels ontvang het. Onverdienstelike ontvangers! Ja, natuurlik ons moet ook doeners wees, ons sal noodwendig doeners word, dit word later aan in die sterkste moontlike taal gesê , maar ons moet eers baie duidelik hoor ons het alles ontvang, alles, alles wat nodig is. 

ALLES! Wat is die alles? Wel, dis alles wat ons nodig het om kinders van God te wees en as kinders van God te leef. Alles! Ja, alles! Glo jy dit? Jy sê : “Ek voel so swak, nietig, my geloof is so klein...Geld hierdie waarheid van 1:3 ook vir my? Ja!                                                                                                     

Dink bietjie aan 'n reuse kremetartboom!

Hierdie boom was eens ‘n klein plantjie wat net ontkiem en sy kop bo die grond uitgesteek het. 


As ’n kremetart saadjie ontkiem het daardie plantjie via sy moederplant al die genetiese materiaal ontvang wat nodig is om ook ’n reuse kremetart te word. Niks DNA hoef bygveoeg te word nie. Ja, daar lê nog baie groei voor, baie gevare en terugslae, veldbrande, droogtes...maar alles is reeds in daardie plantjie aanwesig. 

Kinders van God het alles reeds ontvang. Alles! Wat is die bron van die alles? God self! Goddelike krag. Die krag waardeur die heelal tot stand geroep het en in stand gehou word. Die krag wat sigbaar geword het met Jesus se opwekking uit die dood. Jy wat kind van God is deur die geloof in Jesus, het reeds ’n Goddelike kragtige ingrype beleef. Jy moet dit glo. Jy moet dit gedurig besef. 

KENNIS VAN JESUS 

Wat behels hierdie geskenk, hierdie "ontvang" in die praktyk? Hoe en wanneer gebeur dit? Vers 3b "deur die kennis van Hom wat ons geroep het.” Kennis van Jesus. Dit gebeur wanneer ons Jesus leer ken. Kennis van wie Hy is en wat Hy gedoen het! 


Kennis van Jesus maak iets aan 'n mens. Hier wys Petrus op ‘n tweeledige gevolg

Ons kry deel aan die goddelike natuur, d.w.s. ons word kinders van God. ( Dit bedoel nie dat ons klein godjies word nie. Hy sê maar net in ander woorde wat Joh 1:12 sê. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” LW – dis ‘n daad van God! “uit God gebore” 
Daarmee saam draai ons ons rug op die verdorwenheid van hierdie wêreld wat in opstand is teen God. Ware Kennis van Jesus laat my nooit toe om ongesteurd in die gemors voort te ploeter nie. 

Dis duidelik hierdie kennis van Jesus meer behels as om maar net 'n paar Sondagskooltoetse deur te kom, dit behels 'n openbaring van Jesus aan ons. Ek bedoel nie dat jy ‘n visioen van Jesus sal sien nie, maar bloot dat ’n mens geestelik sal sien en glo dat Jesus vir my verlossing vir eens en altyd aan die kruis bewerk het. My sondes was op Hom gelaai en my sondes is dus klaar by die kruis gestraf... Jesus ondergaan die straf en ek is vry. Dit behels ‘n besef van die betekenis en waarde van Jesus se werk, ook vir my. Dit gebeur alleenlik deurdat God my oë daarvoor oopmaak. Die boodskap van die KOPERSLANG! Aan die kruis is als gedoen wat nodig is vir my verlossing, ek kan net glo en kyk! Kind van God, om te kom tot kennis van Jesus is 'n radikale ingryping van God, dit beteken daar het 'n wonder binne in jou gebeur, jy sien iets (Iemand) raak wat ander mense nie raaksien nie al sit hulle in die kerk. Daar het reeds iets wonderliks met jou gebeur. 

Twyfel jy nog? Kyk dan nou gelowig na die kruis en besef jy het deur Jesus klaar alles ontvang wat nodig is! 

GOD SE BELOFTES 

Hier kom ons nou by die basis en fondasie van sekerheid! Deur die kennis van Jesus word die kosbare beloftes van die evangelie myne. Reddende geloof is geloof gegrond op die beloftes van God, wat o.g.v. Jesus se verdienste nou myne is. Die beloftes is nou nie meer net oorbekende droë Bybelversies nie , maar kosbare beloftes wat ek aan my hart druk, wat lewe in my binneste. (As jy kind van God word, kry die Bybel mos lewe) Beloftes van Kindskap, volkome vergifnis, van die Heilige Gees, oorwinning oor die Bose, van finale oorwinning en volharding. Al hierdie beloftes is joune deurdat jy Jesus ken of meer korrek dat hy homself deur jou laat ken. Kind van God jy het iets wat ander nie het nie. Daar is radikale verskille tussen jou en die onbekeerde. 
Onsekere, moedelose en wankelrige kind van God. Hou op wag vir ‘n gevoel of wonderwerk. Hou op wag daar moet iets groots met jou gebeur, een of ander ervaring moet jou te beurt val of dat een of ander teks of teken jou tref. Nee, God wil jou laat besef, jy het alles ontvang wat nodig is om as nuwe mens te leef! Hy skenk dit via eenvoudige vertroue op Jesus. (Goeie raad. Pasop om ander mense se subjektiewe ervarings jou norm te maak. Dis die gevaar van die verkeerde gebruik van Christen biografieë. God werk uniek met elke mens.) Ons plig is om kinderlik die beloftes en waarheidsstellings in Gods Woord, binne konteks te glo. Dis juis Petrus se doel om sy lesers (ons) aan hierdie heerlike waarhede te herinner, hy dink dis nodig, inderdaad nodig. Vers 12! 

Eers as ons besef wat God gedoen het, kan ons nou vra wat ons te doen staan. Daarby gaan Petrus nou kom in die volgende verse... Kliek op Maak Vas; Maak seker (3)

MAAK VAS; MAAK SEKER! (1)


[Petrus se resep vir Christene wat onseker en wankelend is!] 



Ons oorkoepelende tema vir Pinkster vind ons in 2 Petrus 1:10 waar ons lees : “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (OAV) Ons gaan deeglik na die hele 2 Petrus hoofstuk 1 kyk, maar nou eers net so ‘n algemene inleiding tot die vraagstuk van sekerheid en volharding. 


Petrus wil graag hê sy lesers moet sekerheid en vastigheid beleef. Hy verlang dat hulle die einddoel van hemelse heerlikheid sal bereik en weet dat hulle dit sal bereik. Een van die redes is waarskynlik juis om hulle te beskerm teen die valse leringe van dwaalleraars. (sien hfst 2) Onsekere en onvaste Christene is oop en maklike teikens vir verdraaiings, kortpaaie en kitsoplossings. So word hulle mislei en verder van God af gelok en nog meer verwar en moedeloos gemaak. (Of dalk nog erger, ‘n vals fondasie en gerustheid gee!) 

KWELVRAE 

Word jy gekwel en geteister deur hierdie vrae : "Is ek regtig ‘n kind van God, is ek uitverkies, sal ek die eindpaal haal, sal ek kan volhard, kyk hoe maklik val ek vir sonde...?" Vir party pla hierdie onsekerheid, ander word nooit eens daardeur gepla nie en dis nog gevaarliker... Daar is natuurlik ook baie wat wel seker is, maar op verkeerde fondamente bou... Daar is iets soos valse sekerheid. Baie sal eendag hoor: “Ek het julle nooit geken nie...” (Matteus 7:21-23) Verbondsoutomatisme bly ‘n baie gevaarlike bedreiging in sekere kerklike kringe! (Dis die idee dat ek outomaties gered is aangesien ek gedoop is en in die verbond grootgeword het.) 

OORSAKE VIR ONSEKERHEID BY GOD SE KINDERS 

Daar is ‘n hele klomp moontlike oorsake waarom kinders van God onsekerheid beleef t.o.v. hulle ewige saligheid. (En terloops, ons moet dit duidelik sê : Dit is moontlik om ‘n kind van God te wees en onsekerheid te beleef. Alle kinders van God het nie altyd outomaties noodwendig sekerheid en vastigheid nie.) Dis juis waarmee die apostel Johannes wil help as hy vir kinders van God skryf : “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Joh 5:12,13) en waarom ook Petrus dit nodig vind om hieroor te skryf. Wat is die redes waarom opregte kinders van God onsekerheid beleef?* 

Eensydige introspeksie. Dit kan veroorsaak word deur ongebalanseerde prediking wat altyd net die erns van sonde onderstreep en nie die genoegsaamheid van Christus nie. (Dis skaars in ons dag, maar dit kan wel gebeur) Daar is ook sekere persoonlikheidstipes (veral introverte) wat gedurig geneig is tot introspeksie. Hier is balans belangrik. Ja, selfondersoek is noodsaaklik, goed en gesond, maar ware prediking wys mense op die genoegsaamheid van Christus se werk aan die kruis. Onthou : ”Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil!” Vrede is nie in onsself te vind nie! Vrede en sekerheid begin by die besef wat God gedoen het! Ons sal sien dis ook hoe Petrus die saak aanpak. 

Onkunde oor die aard van redding. Baie Christene dink die deurslaggewende faktor is hulle eie geloof en eie bekering en besef nie dat redding eerstens van God af kom nie. Hulle dink hulle redding word deur hulle eie geloof en bekering bewerk i.p.v. die feit dat ons redding deur Jesus aan die kruis bewerk is. Onthou, geloof en bekering is bloot (onvolmaakte) reaksies op die (volmaakte) werk van Jesus aan die kruis. So dikwels kyk ons te veel na onsself en te min na die kruis! Jesus is die REDDER, nie ekself nie! My geloof is maar altyd onvolmaak. Die deurslaggewende faktor is egter Jesus die volmaakte OBJEK van my geloof! Horatius Bonar het dit so goed gestel : “What God demands from us is not satisfaction with our faith, but satisfaction with Christ and His work!” 

Ek weet nie wat die datum van my bekering is nie. Baie mense, veral diegene wat in Christelike huise grootgeword het, weet nie altyd presies wanneer hulle tot geloof in Jesus gekom het nie. Dit kan by hulle later twyfel laat ontstaan. Aan die anderkant is dit juis ‘n datum wat vir party mense valse sekerheid gee...Hulle leef in die verlede (daardie gebeurtenis by ‘n CSV kamp in 1972 of die Mannekamp te Okahandja, 1998) en hou vas aan ‘n ervaring van lank gelede, maar hulle huidige lewe wys hulle is ver van God. Onthou, die belangrikste datum is Golgota! Dis goed om te weet van datums van God se werkinge in my, maar my vertroue moet nie op ‘n datum wees nie, maar op Jesus self! Ons al sien hoe Petrus en die ander apostels nie die klem plaas op ‘n bekeringsdatum nie, maar op die werk van God deur Jesus aan die kruis. En in reaksie daarop die belangrikheid van volharding in 'n heilige wandel.

Skuldgevoelens en die aanklagte van die duiwel. Sommige mense sukkel om die verlede te vergeet en te aanvaar dat hulle volledig vergewe is. “Ek sukkel om myself te vergewe,” moet mens dikwels hoor. Partykeer gaan dit oor “daardie een sonde” wat soveel skade en skande veroorsaak het! God het my als vergewe, maar wat van daardie een ding...? Hierdie Christene wat so gekwel word verstaan nog nie regtig die vryspraak deur die geloof alleen nie of hulle hou nie rekening met die Satan as aanklaer en beskuldiger van God se kinders nie. Hy kla juis die broers aan! “Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: "Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.” (Openbaring 12:10) Ons moet leer om na God se beloftes te luister en nie na die verwyte en beskuldigings van die duiwel nie! William Bridge, een van die Puriteine het dit so gestel : “He that lacks assurance of God’s love converses too much with Satan...” Die kruisoffer van Jesus was algenoegsaam, sy vergifnis is volledig! 

Stryd teen versoekings en sonde wat verkeerd geïnterpreteer word.  “Kyk watse versoekings beleef ek, kyk hoe dikwels het ek al geval! Dis seker onmoontlik dat ek God se kind kan wees!” Wel, hulle vergeet die grootste deel van die Nuwe Testament is juis geskryf om raad te gee aan Christene hoe om sonde en versoeking te oorwin. Stryd teen versoeking is deel van die daaglikse Christelike lewe. Daarom is die kwessie van vergifnis en die beskerming teen versoekings en die Bose deel van die gebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het. 

Beproewings wat verkeerd verstaan word. “As ek ‘n kind van God is, hoekom kry ek so swaar?” Dis ‘n vraag wat ‘n beproefde kind van God onseker en mismoedig kan maak. Ons vergeet so maklik van die Bybelse lering oor beproewing, tugtiging en opvoeding. “Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem." Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie." (Hebreërs 12:5-8) Swaarkry is nie ‘n teken dat jy nie God se kind is nie. Inteendeel! Dis ‘n bewys dat Hy vir jou lief is en met jou besig is! 

‘n Ongedissiplineerde en ongehoorsame lewe wat die Heilige Gees bedroef. Miskien is dit die mees algemene rede in ons tyd. Dis die Heilige Gees wat vir ons sekerheid en blydskap gee, as ons Hom bedroef kan ons nie juis verwag om blydskap en sekerheid te beleef nie. “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” (Ef 4:30) Wie nie hartseer is oor sonde nie, sal ook nie die vreugde van verlossing beleef nie! Geen ware kind van God sal sekerheid en blydskap beleef terwyl hy bewustelik voortploeter in sonde nie. 

Angs of ek sal kan volhard. Miskien is jy nou redelik seker, maar daar is tog by jou ‘n vrees of onsekerheid oor die toekoms. Sal ek die eindpaal kan bereik, ek is so swak, wat as ek val, wat as daar ernstige toetse of vervolging kom? Dit dui op ‘n gebrekkige verstaan van hoe verlossing werk. Die kind van God se verlossing is van ewigheid deur God beplan en sal deur God in stand gehou word! Petrus gaan vir ons wys dat dit in die eerste plek gaan oor God se krag! 

Al hierdie redes het eintlik te maak met onkunde oor die Bybel of ongehoorsaamheid aan die Bybel! Die Woord van God moedig ons aan om seker te wees en ons roeping en verkiesing vas te maak! Ons gaan na die kosbare lering in 2 Petrus 1 kyk en hoe dit ons by vaste sekerheid wil uitbring.  Kliek op Maak vas;Maak seker (2)

*Met erkenning aan John MacArthur