BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Oorsaak van vrees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Oorsaak van vrees. Wys alle plasings

Vrydag 22 Junie 2018

GOD IS NIE MEER KWAAD NIE!


Wie die versoeningswerk van Jesus aanvaar kan weet : “God is nie meer vir my kwaad nie, ek hoef nie te vrees nie, want ek kan Hom vertrou!” 


God werk soms baie hard met die mense vir wie Hy liefhet! Dalk het jy dit ook al beleef? Als loop skeef... "Die Here se hand druk swaar op my..." Die volk Israel het dit deeglik gevoel. Hulle het God se toorn, sy wraak en straf oor hulle sondes aan hulle eie lyf ervaar. Die ballingskap in die verre Babilonië was sekerlik die toppunt van God se oordele! God se oordele is voorwaar skrikwekkend. Tog... Deurgaans maak die profete dit duidelik : God se finale doel is egter nie straf nie, maar redding. Redding vir die oorblyfsel. Hy straf en tugtig mense om hulle tot redding te bring. Sy strawwe is nooit bedoel om ons weg te dryf nie, maar om ons nader te trek. Dis wat die volk Israel telkens beleef het. Dalk kan jy ook getuig : “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.” (Psalm 119:67) 

Ons lees hier in Jesaja 12* ‘n danklied vir Goddelike verlossing. God het weer uitkoms en verlossing gebring vir sy volk. Dit beteken dat God nie meer kwaad is nie. Ja, God was kwaad, Sy toorn en wraak oor die sonde was inderdaad verwoestend! Dis geen ligtelike saak nie! Hoor bietjie...

“Ellende wag vir dié wat helde is by wyndrinkery, dapper by die meng van hulle drank, wat die skuldige vryspreek vir omkoopgeld, maar ‘n onskuldige sy reg ontneem. 
Daarom, soos stoppels deur vuur verteer word en hooi in vlamme opgaan, so sal dit met hulle gaan. Hulle sal met wortel en tak uitgeroei word, want hulle het hulle nie gesteur aan die openbaring van die Here die Almagtige nie, hulle het die woord van die Heilige van Israel verwerp. 
Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk. Hy het sy hand teen hulle uitgesteek en hulle getref, sodat die berge gebewe het en die lyke soos vuilgoed op die strate gelê het. Ondanks dit alles bedaar die toorn van God nie en bly sy hand uitgesteek teen hulle." (Jesaja 5:22-25) 

HEERLIKE VERLOSSING

Verlossing is dus iets radikaals en onverdiend. Verlossing beteken dat God sy toorn afwend, dat hy volkome vergewe, dat Hy die kwaad nie meer teen ons hou nie. Wat behels dit presies? Die Here sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) Dis wat by die kruis gebeur het! Die dag as jy met ‘n gebroke hart gelowig na die kruis kyk dan beleef jy dit. Dan kan jy ook sê : “"Ek loof U, Here! U was kwaad vir my, maar U is nou nie meer kwaad nie en U het vir my uitkoms gegee.” (Jesaja 12:1) Dis wat mens besef as jy raaksien en regtig glo wat Jesus aan die kruis vir jou gedoen het. As ek dit beleef het sal dit ‘n verskil in my lewe maak.. Ek sal nie meer dieselfde kan bly nie. Hierdie danklied in Jesaja 12 bevat die reaksie van die verlostes op God se verlossingsdade. Dis ‘n noodwendige reaksie - as ek die verlossing raakgesien en beleef het kan dit nie anders nie , ek sal reageer. 

REAKSIE

Ons tref hier 'n drieledige reaksie aan : vertroue, blydskap en dankbare lofprysing. Vandag kyk ons na die reaksie van vertroue in vers 2. “God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder." 

Ons gaan twee sake van nader bekyk: 

1) Wat is vertroue? Vertroue behels 'n bewuste daad en ingesteldheid van my denke. Jy weet wat jy doen wanneer jy vertrou. Dis nie maar net 'n lekker of positiewe gevoel nie. Om te glo en te vertrou is min of meer dieselfde ding. Maar hoe sal mens dit nou prakties verduidelik ? 


John Paton (1824-1907), 'n Skot, het na die New Hebrides ('n groep eilande in die suidwes-Stille Oseaan) gereis om die stamme daar oor Jesus te vertel, maar hy het gesukkel om die regte woord vir 'geloof' te vind. Eendag, toe sy inheemse bediende ingekom het, het Paton albei voete van die vloer af opgelig, agteroor in sy stoel geleun en gevra: 'Wat doen ek nou?' In sy antwoord het die bediende 'n woord gebruik wat beteken: ‘om met jou hele gewig te leun op '. Dit het die uitdrukking geword wat Paton gebruik het. Geloof behels om met ons hele gewig op Jesus te leun! 

Dis die betekenis van vertroue op God, ek leun, maak staat eksklusief op Hom, sonder om in die minste op enige van my eie bronne of bates staat te maak. Natuurlik omdat ons onvolmaakte mense is moet ons onmiddelik sê, solank ons in hierdie lewe is, sal ons vertroue in God ook nooit volmaak wees nie. Ja, selfs ons wat volledig vertrou op Jesus vir ons verlossing is nog so dikwels geneig om van ons eie valse selfvertroue en trots, vertroue op die werke van die wet in ons verhouding met God in te dra. Ons moet gedurig daarteen waak en dit uitroei. Met 'n doelgerigte beslistheid moet ek dag vir dag en keer op keer besluit ek gaan op God vertrou ongeag my gevoelens en omstandighede. Ek gaan net op Jesus leuen. Ek gaan glo en nie bang wees nie, al slaan die golwe van die lewe my van my voete af. Al voel ek asof ek wil sink in die branders van vrees... Ek vertrou op God se beloftes en die stellings in sy Woord.... (Terloops dis veral belangrik as jy ly aan Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring – die “twyfelsiekte” – kliek op OCD

Vertroue, geloof en verlossing is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Vertroue is die eerste daad van die wedergebore siel. Ek vertrou die Here. As jy nie Jesus persoonlik vertrou vir jou verlossing nie is jy nie 'n Christen nie. Dis die eerste verskil as ek kind van God word : “Ek vertrou nie meer op my geregtigheid, my gebede, my ordentlikheid, my afkoms, godsdienstigheid of prestasies nie. Ek vertrou op Jesus, ek vertrou op sy prestasie, sy meriete! Ek vertrou dat omdat hy reeds die volle straf vir my eie persoonlike sondes ondergaan het,dat God nie meer vir my ook sal straf nie.” 

Vertroue is 'n opdrag van God wat ons moet gehoorsaam Vertrou God, glo God! Dis die herhaalde opdrag in die Bybel, as ek vertrou doen ek nie iets besonders of snaaks nie (dis nie 'n buitengewone geloofskragtoertjie wat slegs vir 'n paar supergeestelikes beskore is nie), dis maar net die basiese minimum wat God van my verwag. Vertroue op God is die primêre manier, belangrikste manier hoe ons eer bring aan God. 

Op wie vertrou 'n mens normaalweg? Jy vertrou iemand op wie jy kan staatmaak, iemand met 'n standvastige karakter. Vol eerlikheid en integriteit. Om God te vertrou behoort eintlik die mees natuurlike ding te wees, want God se karakter is volmaak. Hy is goed, betroubaar, eerlik. Liefdevol, genadig! 

Kan jy iets inbring teen God se karakter? Nou waarom vertrou jy Hom dan nie? 

Waarom vertrou jy nie sy beloftes wat hy maak in Jesus nie? Sy beloftes dat hy al jou skuld kwytskeld, sy beloftes dat niks jou kan skei van sy liefde nie. Om God te vertrou is om eer aan hom te bring, te erken dat hy waarlik die volmaakte God is; om God nie te vertrou nie is 'n mosie van wantroue in Hom. Wat 'n dwaasheid van my 'n klein swak onvolmaakte mensie om die lewende almagtige God nie te vertrou nie! Gaan terug na die Woord, gaan na God se beloftes, sê : "Here ek vat U op U woord, want U is God" U is nie 'n mens dat U sou lieg nie. (Sien Numeri 23:19!) 

2) Die gevolg of uitvloeisel van ware vertroue op God 

“Ek vertrou...ek is nie meer bang nie.” Wat 'n heerlike uitspraak. Hoe wonderlik vir 'n mens om nie meer te vrees nie. Hoekom sê ek so? U sien van nature het ons as mense rede om bang te wees, veral bang te wees vir God vanweë ons sondeskuld (dink aan Adam in die paradys). Sondaars is vreesagtig. Ons is bang want ons dink aan ons sondes, die dwase sondes van ons jeug , die diep verskuilde en partykeer subtiele sondes wat in ons harte skuil, elke dag se sondes - dit laat ons vrees, want ek weet die lewende God sien alles. Ons vrees God, die dood, die oordeel, die ewigheid ....ja, maar as ek op God se beloftes vertrou kan ek sê: “Ek vertrou en is nie meer bang nie." Ja, ek is deeglik bewus van my skuld en ek huil daaroor, maar ek vertrou God se beloftes in Jesus, dat Christus aan die regverdige eis van die wet voldoen het, die doodstraf in my plek gekry het. Ek glo dit , my skuld is betaal ek glo dit en is nie meer bang nie. Nie omdat ek voel my sonde is nie so erg nie, maar omdat daar vir die sonde wat wel baie erg is volkome betaal is. Ek is nie meer bang nie, want God se karakter is volmaak. Hy sal sy beloftes van vergifnis nie breek nie. God sal nie op sy woord teruggaan nie- “EK is die Here, ek verander nie,” sê Hy in Maleagi 3:6. 

Kom ons vertrou God! Vertrou Hom altyd en in alle omstandighede. Vertroue op die volmaakte God wat Sy Seun as offer gegee het. Hy sal jou vrese en angste verban en selfs in die aangesig van die dood sal jy nie vrees nie, maar met verlange uitsien dat Hy jou die kroon van die lewe sal gee. AMEN

NASKRIF

Hoe wonderlik om te kan sê "ek vertrou en sal nie vrees nie" Donald MacDonald sê in aansluiting by hierdie teks dat mens in die lig hiervan eintlik 4 soorte mense kry : 

1) Die wat vertrou en nie vrees nie. (Reeds hierbo bespreek) 

2) Die wat vertrou en tog nog vrees. Ja, ek maak nie staat op myself nie, ek het my vertroue op Jesus gestel, en tog bly ek wonder en verval in ‘n voortdurende sieklike introspeksie: Is ek regtig vergewe, mislei ek nie dalk myself nie? Ek begin weer twyfel soos Petrus op die water... Hou gedurig jou vinger op die pols om seker te maak of ek regtig lewe, i.p.v. te lewe. Ware kinders van God kan twyfel en vrees ervaar. Johannes 5:9-13 is van groot hulp. Vertrou God se beloftes! Jesus het met groot geduld en sagtheid met die twyfelende Thomas gewerk. Vertrou Hom om ook jou vrese weg te neem en vastigheid en sekerheid te gee. 

3) Daar is sommige wat vrees, maar hulle vertrou nie. Jou sonde pla jou, jy weet jy kan nie so voor God verskyn nie, jy weet daar is 'n hel en dit laat jou by tye sidder van vrees en tog weier jy om jou vertroue op Jesus te plaas. Jy kom wel kerk toe , jy hoor die woord, maar jy deins terug van om die stap te neem om jou aan Jesus oor te gee en jou vertroue op Hom te stel. Onthou om bang te wees vir God se oordeel, om jammer te wees oor jou sonde kan jou nie red nie, jy moet by Jesus uitkom - Hy nooi jou! 

4) Laastens is daar die wat nie vertrou nie, maar ook nie eers bang is nie. Miskien is daar diesulkes ook hier. Jou hart is kliphard, jy ken die feite, jy weet jy is nie reg met God nie, jy weet daar is 'n oordeel en tog lewe jy ongesteurd voort. Mag God jou hart laat ontwaak en jou weer leer om te vrees sodat jy Hom sal soek en vertrou vir jou verlossing. 

*In hierdie kort, maar heerlike hoofstuk kry ons twee psalms of liedere, wat ons kan noem lofsange van bevryding of verlossing. Sommige sien hierin 'n verwysing na die wonderbaarlike bevryding van Jerusalem uit die hand van Sanherib die koning van Assirië in die tyd van koning Hiskia toe die engel van die Here 185000 soldate doodgemaak het (hfs. 37) . Dis moontlik, maar dis ook duidelik dat die blikrigting van hierdie vreugdesuitinge verder gaan as net die tyd van Hiskia. Ons kom dit agter as ons kyk na die heerlike beloftes wat hoofstuk 12 voorafgaan. In hfs. 7 kry ons die aankondiging van Immanuel (Jesus) se geboorte, in hfs. 9 'n verdere aankondiging van 'n Seun wat gebore sou word met Goddelike eienskappe, wat nie op 'n gewone aardse koning van toepassing gemaak kan word nie (vers 5) en in die voorafgaande hoofstuk weer 'n duidelike verwysing na die verlossingswerk van Jesus (11:1) Dit gaan dus in hfs. 12 oor iets dieper en heerliker as net Israel se fisiese bevryding.



Saterdag 01 November 2014

BEVRY VAN VREES!

VREES : OORSAKE, GEVOLGE EN GENESING 

Vrees. Koue beklemmende vrees. Daardie kol op die maag. Vir sommige ’n alledaagse ellende. Die voortslepende kanker in baie mense se lewens, ’n beperkende faktor wat jou tot passiwiteit rem. Natuurlik, nie alle vrees is ongewens, verkeerd of sondig nie. Normale vrees (bangheid) vir ‘n leeu verhoed dat ek in die wildtuin uitklim en sy voorpoot probeer skud... Maar vrees kan maklik verkeerd word en buite beheer raak. ’n Gesonde normale vrees kan oorgaan in ’n irrasionele onlogiese vrees. ‘n Verlammende fobie. Dit kan sondig word as my vrees vir leeus so erg is dat ek nie in Tsumeb se hoofstraat wil stap nie, want net dalkies het daar een uit Etosha ontsnap...! (Dit klink my amper die Amerikaners se buitengewone paniekerige vrees vir Ebola val so half en half in hierdie kategorie...) In hierdie boodskap gaan dit oor sondige vrees. Godonterende vrees. Ons kyk na die oorsake, die gevolge en die genesing. 

OORSAKE. Waar kom vrees vandaan? Ons lees vir die eerste keer van vrees in Genesis 3:10. Adam en Eva wat bang was vir God en daarom wegkruip. Die eerste waarneembare gevolg van die sondeval was dus vrees.* Voor daar sonde was, was daar nie vrees nie. Sedert die sondeval is vrees die oorheersende faktor in mense se lewens. Kom ons kyk prakties hierna. Wat maak mense bang, watter vrese hou mense gevange en beheer hulle lewens? Daar is baie dinge - vrees vir die onbekende toekoms, vrees weens ’n gevoel van gebrekkige sekuriteit, vrees vir eensaamheid, vrees vir armoede en gebrek, vrees vir die dood, vrees vir die oordeel, vrees vir mense, vrees vir God self. Baie keer vrees mense net hulle vrees - dit het al so ’n bose kringloop geword dat daar eintlik nie meer vasgestel kan word waaroor dit nou regtig gaan nie. Later is ek bloot net bang omdat ek bang is. So wat is die grondliggende oorsaak van die mens se vrese? Ons het eintlik reeds die antwoord gekry. Sonde. Hoekom veroorsaak sonde vrees? Sonde dryf ’n wig in tussen ons en God. En dis juis die punt - ons is gemaak om van God afhanklik te wees, ons is gemaak om in ‘n verhouding met Hom te staan. Dis hoekom Hy ons geskape het. Sonder ’n liefdevolle vertrouensverhouding met Hom is ons uitgelewer aan vrees. Ons is afhanklik van sy liefdevolle Vaderlike sorg en gemeenskap en wanneer dit versteur is, lei dit tot vrees en ellende. Die groot vrees van die mens is dus eintlik die vrees vir God en dit lei tot ’n menigte ander gestaltes van vrees, want wie bang is vir Sy Maker se totale lewensewewig is versteur. (Soos ‘n motor se onderstel wat skeef is!) Alle ander vrese in ons lewe, al kan daar baie sekondêre oorsake wees, is dus op een of ander manier herleibaar na haakplekke in ons verhouding met God. 

GEVOLGE. Wat is die praktiese gevolge van hierdie vrese? Martyn Lloyd-Jones noem die volgende**: 

~ VREES is ’n verlammende swakheid. Jy kan nie die lewe leef wat God wil hê jy moet leef nie. Jy kan nie jou pligte as Beelddraer van God, as Christen, as man, vrou of kind nakom nie. Vrees maak jou oneffektief. Veroorsaak mislukking. 

~ VREES lei tot selfsug. Dit gee aanleiding tot die houding van : “Ek moet net myself beskerm, ek trek my terug in die klein wêreldjie van my eie selfsugtige belange.” Jy word kopsku vir mense, vir uitreiking, vir menseverhoudings... Jy is net ingestel op selfoorlewing. 

~ VREES veroorsaak ongelukkigheid. Vrees en blydskap gaan nie juis saam nie. Vrees gooi ’n droewige skaduwee oor ’n mens se hele lewe. Die bang mens kan niks werklik geniet of waardeer nie. Daar is altyd ’n werklike of fiktiewe gevaar wat my bedreig laat voel. 

~ VREES lei dikwels tot irrasionele denke en optrede. Dit beklem mense so dat hulle dom en onlogiese dinge doen. Hulle tree snaaks op en neem impulsiewe besluite. Hulle kan nie nugtere besluite neem nie. Hulle oorreageer op nietighede of is bang vir belaglike dinge. 

~ VREES laat mens vlug. Dit beteken nie altyd fisies weghardloop nie, maar behels ’n verskeidenheid van ontvlugtingsmetodes. Ek probeer uit die werklikheid van my vrese en onsekerhede te ontsnap deur buitensporige vermaak, alkohol, plesiersug, seksuele avonture en losbandigheid. Dit kan natuurlik ook sommige aanspoor tot veg. Ek wil teen alles en almal baklei.

~ VREES kan ook negatiewe liggaamlike effekte hê weens die oormatige afskeiding van sekere hormone. Daai ding wat ons (abnormale) stres noem! Dit gaan draai by maagsere, hartaanvalle, beroertes... 

~ VREES kan vererger tot wanhoop! Ek sien geen sin meer in die lewe nie. In sommige gevalle tot so ’n mate dat mense selfmoord pleeg. 


OPLOSSING. 

Die emosies van vrees moet gebreek word deur feite!

Ons gemoed kan net tot rus kom op vaste feite. Dit help nie net om vir jouself (of andere) te sê : “Moenie bang wees nie, ruk jou reg, hou op om simpel te wees...” 

Watter feit(e) breek die patroon van sondige vrees? Kom ons kyk na 1 Johannes 4:16 - 21. (lees gerus in jou Bybel) Hier word dit baie duidelik gestel : Die groot feit wat vrees verdryf is die feit van God se liefde en ’n lewe in ooreenstemming met daardie feit! Solank hierdie feit nie vir jou ’n persoonlike werklikheid is nie sal jy altyd gebuk gaan onder vrees. Liefde en vrees staan teenoor mekaar en is onderling uitsluitend. 1 Johannes 4:18 stel dit so kragtig en pragtig: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite....” Die liefde waaroor dit hier in die eerste plek gaan is God se liefde vir ons. Vrees kan net oorwin word as ons God se liefde leer ken en dit glo. Ek moet oortuig wees dat die almagtige God, wat lewe en dood in sy hande hou my waarlik innig liefhet! Hierdie liefde het God vir ons gewys het deur Jesus te laat sterwe. (16) Dis die vertrek punt. Dis die begin van die oplossing. Dit gebeur wanneer ek tot ware geloof in Jesus kom en weet dat my sonde op grond van sy verdienste vergewe is! Dan weet ek daar wag nie meer straf nie en verdwyn my vrees vir die oordeel! (17) Het jy al hierdie liefde proefondervindelik leer ken of dalk nog net daarvan gehoor? 

Maar die oplossing strek verder. Onthou :"Die volmaakte liefde verdryf die vrees." Wat is volmaakte liefde? Dis duidelik dat dit hier gaan oor ’n liefde wat ons moet hê en betoon. (want hy sê : “wie nog vrees het nie volmaakte liefde nie.”) Ons kan nie volmaak hier as volmaak in absolute sin verstaan nie. Dis tog net God self wie se liefde absoluut volmaak is. Dit gaan hier oor ’n volledige liefde, ’n liefde wat in ons ’n begeerte opwek om God se bevele te gehoorsaam. En wat is dit? Liefde vir God en mekaar. Volmaakte liefde is dus die liefde wat uitdrukking vind in ons liefde vir God en mekaar. Hoe is ons in staat tot sulke liefde? Hoe gaan ons dit regkry? 

Volgens 1 Johannes 4:19 is dit in die eerste plek God se liefde vir ons wat ons in staat stel tot wederliefde vir Hom en gevolglik ook teenoor mekaar. Deur liefdevolle gemeenskap met God word hierdie liefde vervolmaak, dit bereik wasdom, dit bereik sy doel met ons. Prakties kom dit daarop neer dat hoe meer ons van God se liefde bewus word, en gevolglik hoe meer ons met God en met mekaar in liefde wandel, hoe minder vrees en hoe meer vrymoedige vertroue sal daar wees. 

Die antwoord op vrees is dus om as’t ware dieper te delf in God se liefde. Glo dit en leef dit! Dis ‘n feit! ( per slot van rekening - God is liefde! Ons kan dit met oortuiging verkondig - al misbruik sommige hierdie waarheid), Om onsself al meer en meer daarvan te vergewis en met blye wederliefde daarop te reageer. So bevry die liefde ons van vrees! 

DALK WENSDENKERY OF SELFBEDROG? NEE! DIS 'N FEIT!

Hierdie liefde is nie iets wat in ons verbeelding bestaan nie, dit is ’n sigbare historiese feit (vir elke kind van God) in die persoon en werk van Jesus Christus. Om God se liefde te leer ken beteken juis dat ek Jesus moet leer ken! Hy het gekom as Redder van die wêreld. (14) Deur in Hom te glo leer ken ons God se liefde baie prakties. Hy het ons bevry van die vrees vir die dood. (Hebr 2:14,15) Hoe? Deurdat Hy die straf vir ons sonde reeds volledig gedra het. Vrees is gegrond op die beginsel van straf. Mense vrees want hulle verwag straf. Maar as ek bewus is van God se liefde in Christus hoef ek nie meer straf te vrees nie. Hoe so? Die gelowige is iemand wat glo dat God Jesus in my plek aan die kruis klaar gestraf het. Omdat Christus se werk volledig afgehandel is sal die gelowige nie gestraf word nie! Hierdie feit bring my gewete tot rus. Kan jy sien, dis die feite van God se liefde in Christus wat die vrees uit ons lewens verdryf. Natuurlik as hierdie feite van Christus se liefde vir my ’n werklikheid is, sal dit tot wederliefde lei - ’n lewe van liefdevolle gemeenskap met God en my naaste. 

Nou sal iemand sê : “Ja, maar ek is nie bang vir God nie, dis moeilike lewensomstandighede en uitdagings wat my bang maak.” Die groot punt is net : Hy wie se vrees vir God, dood en oordeel deur die feit van die liefde aangespreek is, kan ook ander kleinere vrese oorkom op dieselfde basis. Byvoorbeeld, wie oortuig is van God se egte liefde, besef tog dat daardie liefde ook Vaderlike sorg insluit. Deur die feit van God se Vaderlike sorg word my vrese oor byv. finansies en die toekoms besweer. (Sien Hebreërs 13:5-6) 

WARM TRUI VAN DIE LIEFDE 

As mens koud kry trek jy ’n trui aan. Die koue van vrees en angs kan net buite gehou en verdryf word deur die warm trui van liefde. Hierdie trui is gebrei van drie soorte liefdeswol. Eerstens God se liefde vir ons wat Hy onomstootlik vir ons deur Jesus se kruis dood bewys het - hierdie liefde moet ek leer ken en glo. Ek moet daarop konsentreer en daaraan vashou. Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie....! (Rom 8:31ev.) Maar natuurlik as God se liefde vir my ’n werklikheid word, reageer ek ook daarop. Ek reageer deur wederliefde vir Hom en vir my medemens. Die res van die trui bestaan dus uit hierdie liefde wat ek aan God en my naaste bewys. 

Glo in God se liefde, beoefen wederliefde - dit verdryf die vrees. 




Verdere studie oor die oorwinning van vrees...