BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 20 Oktober 2013

WERP ALLES IN DIE STRYD

- Elke kind van God is so heilig soos hy regtig wil wees!

Ons het by 'n vorige keer gesien hoe Petrus die mat van die ou bekende verskoning onder ons voete uitruk. Die verskoning van : “Ag, ek is maar net ‘n swakke mens, daarom bly ek maar sondig.”
 (kliek op "SWAK" CHRISTEN) Petrus verklaar duidelik dat God aan sy kinders reeds alles geskenk het wat nodig is om vir Hom te lewe en Hom te dien. Onthou weer die kragtige betekenisvolle uitspraak in 2 Petrus 1:3 wat lees : “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.



Ons moet eers mooi verstaan wat ons van God ontvang het, voordat ons moet vra wat ons nou moet doen.


Nou kom ons by die doen deel. 2 Petrus 1:5 spoor ons ernstig aan : “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met...” Dit verg aksie van ons kant af. Vordering in heiligheid kom nie sommer outomaties nie, dit verg inspanning, gehoorsaamheid, stryd, kies teen jouself, volharding...

Anders gesê : God het ons al die wapens gegee, die beste, maar nou moet ons verwoed en vasberade daarmee veg...

Kom ons kyk nou bietjie in groter detail na die dinge wat ons by ons geloof moet voeg volgens 2 Petrus 1:5 en verder:

~ DEUGSAAMHIED is 'n skaars woord in die Nuwe Testament, wat eintlik uit die heidense wêreld kom. Dit beteken voortreflikheid. (excellence) Voortreflikheid kom neer op die volle vervulling van iets. (‘n Voortreflike mes is ‘n skerp mes, ‘n voortreflike perd is ‘n vinnige perd...) Wat is 'n voortreflike mens dan nou? Ware deug, ware voortreflikheid word in die volle sin in Jesus se karakter gevind. Hy is die (enigste) volkome perfekte mens soos God bedoel het dat die mens sou wees. Kinders van God word dus hier opgeroep om deur ons lewens iets van die aantreklikheid van Jesus se karakter te reflekteer. Jesus self is in alle situasies ons norm! Gelykvormigheid aan Jesus is immers God se doel met elkeen van sy kinders! (vgl. Romeine 8:28,29) Nou vra jy : "Sal ek dit kan regkry om soos Jesus te leef?" JA, want SY GODDELIKE KRAG HET ONS ALLES GESKENK...

~ KENNIS. Dit behels nie wetenskaplike kennis nie, maar praktiese insig om as Christen te lewe, groeiende kennis van die Here Jesus self. Kinders van God ken Jesus, maar moet en sal al beter verstaan wat sy dood en opstanding vir ons bewerk het! Dis in lyn met die opdrag in 2 Petrus 3:18. “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” Dit was terloops ook Paulus se grootste ideaal. (Filippense 3:10)Nou vra jy : "Sal ek dit kan regkry...?" JA, want SY GODDELIKE KRAG HET ONS ALLES GESKENK...

~ SELFBEHEERSING. Dit moet toegepas word in elke aspek van mens se lewe. Dit kom daarop neer dat ek my drange en begeertes sal beheer, hulle moenie my beheer nie. (Die gebrek aan selfbeheersing is die ware rede vir die saambly tendens - onbekeerde mense het nie selfbeheersing nie.) Selfbeheersing is nie maar net blote selfdissipline nie, maar oomblik na oomblik onderwerping aan die beheer van Jesus wat deur sy Gees in my woon. (Die onbekeerde mensdom is slawe van hulle sondige begeertes, soos diere oorgelewer is aan hulle ingebore instinkte.) Sal ek as Christen al meer selfbeheers kan leef? JA, want SY GODDELIKE KRAG HET ONS ALLES GESKENK...

~ VOLHARDING. Dis 'n vrug en kenmerk van ware saligmakende geloof. Die kind van God is 'n ster wat skyn, jaar na jaar, nie net 'n meteoriet wat vir 'n rukkie vir 'n groot skouspel sorg nie. Sal ek kan volhard, ook as dit lyk asof alles verkeerd gaan en skeefloop? JA, want SY GODDELIKE KRAG HET ONS ALLES GESKENK...

~ GODSVRUG. Dit gaan oor ’n vrome voortdurende wandel met God. ‘n Lewe wat die vrugte van die Gees sal vertoon (ook in moeilike omstandighede). Sal ek dit regkry? Weereens onthou wat Petrus ons geleer het. JA, want SY GODDELIKE KRAG HET ONS ALLES GESKENK... 

~ BROEDERLIEFDE. (liefde vir medegelowiges) Hieroor het die Here Jesus self en die res van die Nuwe Testament baie te sê. Dit kom egter nie sommer so van self nie. Soos die ander stappe, moet ons alles in die stryd werp om dit prakties te implementeer. Dis nie sommer net ‘n natuurlike warm gevoel nie. Dit beteken onder andere om moeite te doen om mekaar te verstaan en ten spyte van foute en gebreke te aanvaar. Dis om alles moontlik te doen om eenheid te bewaar deur ons te weerhou van skinder, verdagmakery, afguns... Ons sal moet praktiese stappe neem om mekaar se laste te dra deur te luister, meegevoel te betoon, praktiese hulp te verleen... ( Weereens daar is ‘n duidelike verband tussen dit wat ons ontvang het en wat ons moet byvoeg— ons het reeds volle liefde en vergifnis van God ontvang! Nou moet en KAN ons dit aan ander gee. Daar is GEEN verskoning om enigiemand nie te vergewe nie. Weiering om ander te vergewe is 'n sekere resep vir verlore gaan... Kyk maar na Matteus 6:15.) Gaan ek dit regkry om my medegelowiges (wat party maar moeilike mense is) lief te hê? JA, want SY GODDELIKE KRAG HET ONS ALLES GESKENK...

~ NAASTELIEFDE (liefde vir alle mense) Behalwe vir broederliefde, d.w.s. die liefde vir my medegelowiges, moet die kind van God ook liefde in die algemeen beoefen. Dis so wyd.... dit sluit selfs my vyande in, en juis ook daardie een persoon wat ek glad nie kan verdra nie, wat ek nie eens wil sien nie...wat my loopbaan verongeluk het of my finansieël verwoes het... Hierdie is nie net maar 'n mooi onbereikbare ideaal nie; deur die eeue het die kinders van God dit reggekry en uitgeleef. Sal ek dit kan regkry om selfs my bitterste vyande te kan vergewe? JA, want SY GODDELIKE KRAG HET ONS ALLES GESKENK...

Om saam te vat :

~ ’n Christen is eers ’n Ontvanger en dan ’n Doener! Nie andersom nie. Die volgorde is belangrik. As jy Jesus aanvaar  as Verlosser - ontvang jy vryspraak, volkome vergifnis, maar ook alle krag wat nodig is om ’n nuwe lewe te leef. Jy word nie ’n kind van God as jy ’n nuwe lewe probeer leef nie! Om hard te “probeer” vromer lyk, minder te vloek ens. gaan jou nie ‘n kind van God maak nie. Nee, omdat jy ’n kind van God is deurdat jy Jesus aanvaar het, kry jy krag om nuut te leef en sal jy inderdaad nuut leef.

~ Die nuwe lewe verg inspanning... Werp alles in die stryd! Dit impliseer harde werk, vasbyt, stryd, selfverloëning en moeilike keuses! Dit kos dikwels teenstand en ongewildheid, dit kan selfs jou besittings en lewe kos! Leuenstoel Christenskap is uit! Dis onmoontlik om maar net rustig hemel toe te dryf... Nee, dis 'n saak van aksie en uiterste inspanning!

~ Omdat elke kind van God, elkeen wat wedergebore is, hierdie krag van God ontvang het, beteken dit dat elkeen so heilig is as wat hy regtig wil wees. (A.W. Tozer) Al die verskonings van “ek is net ’n mens” ... is nie regtig eerlik nie.

As jy voortgaan met sonde, met daardie slegte en vernietigende gewoonte, is dit nie omdat jy nie genoeg krag het nie, maar omdat jy nie regtig van daardie sonde wil ontslae raak nie... Kom ons dink 'n bietjie hieroor...


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.