BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Voorspraak. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Voorspraak. Wys alle plasings

Donderdag 25 Januarie 2018

SKAAP OF VARK?

VALS EN WARE CHRISTENSKAP : Hoe kan dit onderskei word?



Wat is die verskil tussen ware en valse Christenskap? Dis baie belangrik en uiters noodsaaklik om dit te kan onderskei. Hoekom? 

Daar is baie mense wat ‘n valse sekerheid het. Hulle glo vas dat hulle kinders van God is, dat hulle deelgenote aan die ewige lewe is, maar hulle is nie. Hulle mislei hulleself. Wat ‘n aaklige verrassing wag daar eendag op diesulkes! 

Aan die anderkant is daar weer mense wat opregte kinders van God is, maar nog geteister word deur twyfel en onsekerheid. "Kyk, ek sondig nog, hoe kan ek dan 'n kind van God wees?" is die vretende bekommernis in hulle onrustige binneste.

Die 1 Johannes brief kan ons help om die onderskeid te kan tref. Die doel van die brief is juis ook om sekerheid aan God se kinders te gee:

"Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo." (5:13)

HOUDING OOR SONDE

Een duidelike verskil tussen vals en ware Christenskap kom na vore in ‘n persoon se houding teenoor sonde. Johannes verduidelik die duidelike verskil tussen valse en ware Christene aan die hand van die verskillende benaderings teenoor sonde. Ons gaan kyk na 1 Johannes 1:5-2:2 

Met betrekking tot die houding oor sonde is daar ‘n duidelike kontras tussen die vals en ware Christen. 

GOD IS LIG!

Johannes se vertrekpunt is baie duidelik : "God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie." (1 Johannes 1:5) God self is nie neutraal teenoor sonde nie, God kan nie kompromie maak met sonde nie, God is met ander woorde nie ‘n post moderne relativis vir wie als maar reg is nie. God hou van party dinge en God haat party dinge! Onthou dit as ‘n basiese waarheid en fondasie. 

DUISTERNIS OF LIG?

Die valse Christen leef in duisternis en in ontkenning van sy sonde. Dis die een wat rustig voort leef in sonde. Hy is gemaklik en ongeërg oor sonde. So iemand leef in ‘n leuen. “As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.” (6) Let mooi op – dit gaan nie hier oor mense wat openlik vir God of Jesus verwerp nie, nee hulle beweer dat hulle deel het aan God, maar dis vals en leuenagtig. Daar is nog ‘n verder kenmerk van valse Christenskap. Daar is geen eerlike erkenning van sonde nie. Daarom ook geen berou en opregte belydenis nie. “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” (8) Daar is by die valse Christen geen sensitiwiteit oor sonde nie, sonde word ontken, afgemaak as iets ligtelik. Ja, natuurlik sal almal (dikwels met ‘n glimlag) erken : “ons is sondaars”, maar dit word sommer so op ‘n lighartige manier gesê. Dit word eintlik as ‘n verskoning bedoel. Valse Christene versag sonde met allerhande eufemismes. Ek word nooit dronk nie, maar ek het net “bietjie te veel gekuier”. Nee, ek is glad nie ‘n hoereerder nie, maar “ek knyp net die kat so af en toe in die donker.”

Die ware Christen se lewe word gekenmerk deur lig, maar juis ook 'n bewustheid van sonde. ‘n Lewe van gehoorsaamheid aan God. Dis die algemene koers, rigting en benadering van egte ware Christenskap. Geloof maak ‘n praktiese verskil in jou leefstyl. Beteken dit nou dit die ware Christen nooit sondig nie? Nee, die ware Christen is juis die een wat voortdurend bewus is van sy sonde, sensitief en jammer is daaroor en dit bely! Die ware Christen kan in sonde val, maar kan nooit daarmee gelukkig volhard nie. 



Dis soos die verskil tussen ‘n skaap en ‘n vark. ‘n Skaap kan ook met modder besmeer raak, maar anders as ‘n vark is hy nie ‘n dier wat van modder hou nie.

Ons kan dit so stel : 

Ware Christenskap word nie gekenmerk deur die totale afwesigheid van sonde nie, maar deur die voortdurende aanwesigheid van berou, belydenis en bekering. 


HEERLIKE BELOFTE

Dis juis die ware Christen wat troos vind in een van die wonderlikste beloftes in die Bybel. “Maar as ons ons sondes bely -Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (9) Dis ‘n belofte wat ons nooit moet vergeet nie. Die idee dat bekering en die belydenis van sonde net ‘n eenmalige stap is wat by die begin van jou Christelike lewe plaasvind is verkeerd. Johannes skryf sy brief juis aan mense wat alreeds kinders van God is, mens wat reeds deur die geloof en bekering deel het aan Jesus en die ewige lewe. Ons moet onderskei tussen aanvanklike bekering (conversion) en voortdurende berou en bekering (repentance)! Luther het die saak van bekering in die eerste van sy beroemde 95 stellings so gestel: “Ons Here en Meester, Jesus Christus het beveel: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). Die hele lewe van ‘n gelowige, moet een wees van bekering.”* 

Voortdurende berou en bekering is deel van die kind van God se daaglikse belewenis!

Dis ‘n belangrike waarheid. Daar is opregte kinders van God wat twyfel oor hulle Christenskap, want hulle val in sonde of hulle het ‘n stryd teen sonde en versoekings. Wees verseker, die Bybel is realisties en weet dat kinders van God nog steeds kan sondig. Ook Jesus self het dit geweet. Daarom is daar die vierde bede in die Onse Vader gebed. “Vergewe ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”

Kinders van God kan nog steeds in sonde val. Ons mag nie sondig nie, ons behoort nie te sondig nie, en tog is dit die hartseer en harde realiteit. Kinders van God se houding teenoor hierdie sonde verskil egter drasties van die houding van die wêreldling of valse Christen. Luister mooi (en dalk gaan dit jou skok) – dis moontlik dat pary onbekeerde mense se lewens minder sonde vertoon op die oppervlak as sommige ware Christen s’n. Kru gestel, party mense wat op pad hel toe is het oënskynlik mooier lewens as sommige wat op pad is hemel toe. Want onthou Christenskap word nie bepaal deur hoe baie of min sonde ek doen nie, maar of ek ‘n Middelaar het! Dit bring ons by die baie belangrike 1 Johannes 2:1! “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” 

Hier kry ons die pragtige suiwer Bybelse balans:

-Sonde is ‘n baie ernstige saak. Ons moet dit ten alle koste vermy. Ons moet selfs ten bloede toe daarteen weerstand bied soos ons in Hebreërs lees.** Sonde mag nooit ‘n ligtelike saak wees nie. Dis nie humoristies nie, dis nooit iets waaroor ons durf grappe maak nie. Nee, want dit pas nie by die lig nie, dit bring oneer aan God, dit bedroef die Heilige Gees. Dit versteur die gemeenskap met God en met mekaar. Daar’s niks positief aan sonde nie, aan geen sonde nie!

-Aan die anderkant is Johannes baie realisties. ‘n Kind van God kan wel nog sondig. “En as…” ‘n Kind van God kan val, maar dis nie dan die einde nie! Dit beteken nie ek behoort dan nie meer aan Jesus nie. Nee, as ons sondig kan ons weer net opnuut met berou en belydenis ons hoop stel op Jesus Christus ons voorspraak, ons advokaat, ons middelaar! Dis juis die kern verskil tussen die verlorene en die geredde mens : Die geredde mens maak nie staat nie op homself nie, maar op sy Middelaar en advokaat, Jesus Christus! Die ongeredde persoon dink hy is darem oraait genoeg om God tevrede te stel met sy eie pogings.

Om op te som:

  • Ware Christenskap maak altyd erns met die probleem van sonde. 
  • Valse Christenskap vat sonde ligtelik op.

  • Ware Christenskap word gekenmerk deur voortdurende opregte berou en bekering. 
  • Valse Christenskap maak verskonings en skram weg van berou en bekering.

Ware Christenskap soos iemand dit gestel het, is “not about perfection, its about direction.” Ons is nie perfek en volmaak nie, maar ons beur weg van die sonde met alle mag en groot ontsteltenis, terwyl ons verlangend uitreik na die arms en die vergifnis van Jesus! 


Notas
*In die Duits het hy dit so gestel : “ Da unser Herr und Meister Jesus Christus spricht „Tut Buße“ u.s.w. (Matth. 4,17), hat er gewollt, dass das ganze Leben der Gläubigen Buße sein soll.”

**Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.”

Donderdag 08 September 2016

HEILIGE BYBELSE BALANS

- vrees en vertroue



In hoofstuk 1 van die Eerste Johannes brief hoor ons duidelik watter ernstige saak sonde is. (Kliek op GEMEENSKAP). Sonde en gemeenskap met God is twee onversoenbare dinge. Dis baie duidelik gestel, gemeenskap met God en ‘n lewe in duisternis is onderling uitsluitend! Dis of die een of die ander, saam kan dit nie bestaan nie. Aan die ander kant het Johannes die hele waarheid van vergifnis sterk gestel waar daar belydenis van sonde is. (1:9) Die vergifnis wat God skenk is volledig, ruim en oorvloedig!

TWEE REAKSIES, TWEE GEVARE

Waar mense hierdie waarhede hoor is daar dikwels twee uiterste reaksies wat altwee gevaarlik en verkeerd is.

Die een groep beklemtoon vergifnis en dink baie ligtelik oor sonde. Die gevoel is amper : “Ag, dis eenvoudig, dis my voorreg om sonde te doen en dis God se plig om my te vergewe. Waarom sou ek bekommerd wees oor sonde?” Dis juis hierdie groep wat nie sal skroom om Nagmaal te gebruik terwyl hulle doelbewus in onvrede, onvergewensgesindheid of onsedelikheid voortleef nie. Dis mense wat nog nooit die geweldigheid van God se heiligheid of die erns van sonde besef het nie. Dis baie gevaarlik om so ‘n houding te hê. Dis ‘n misbruik van genade! Die genade van God word as verskoning gebruik om losbandig te leef!

Die ander groep beklemtoon slegs die erns van sonde en is dikwels onseker oor vergifnis. Hulle redeneer so : “O, ek val so dikwels en so maklik. Daar is vir my geen hoop nie. Ek voel onwaardig en vuil, ek durf seker nie Nagmaal gebruik nie. God se heiligheid wek by my die heeltyd ‘n gevoel van vrees en verwerping. Dit vul my met onsekerheid en moedeloosheid.” Dis ook ‘n verkeerde houding. In hierdie groep kry mens soms ook mense met ‘n oorsensitiewe gewete wat oor allerlei nietige en onbenullige dinge voortdurend skuldig voel. (Kliek op OORSENSITIEWE GEWETE)

Johannes spreek beide groepe aan in 1 Johannes 2:1. Vir die eerste groep sy hy duidelik : “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.” Die kind van God moet dit nie eers oorweeg om sonde te doen nie. Die moontlikheid moet nie eers by ons opkom nie. Sonde is ‘n vreemde verskynsel, dit pas hoegenaamd nie by God se kinders nie. Verder in sy brief stel hy dit nog sterker! Hy stel dit eintlik oordrewe, hiperbolies : “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.” (1 Joh 3:9,10) 

As iemand dus ‘n ligtelike, ongeërgde, slap houding teenoor sonde het, moet jy weet dat jy op ‘n baie gevaarlike terrein beweeg! Die eerste groep moet dus duidelik hoor, sonde is ‘n bitter ernstige saak. God is lig! Dis nooit iets waarmee ons kan speel nie! Sondevergifnis het immers Jesus se dood gekos!

Ons moet sonde vrees!

Johannes spreek ook die tweede groep aan en wil vir hulle hoop gee. “En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Johannes beveel ons ernstig om nie te sondig nie, maar indien dit wel gebeur (hy weet dit is iets wat kan gebeur), moet ons nie moed en hoop verloor nie, maar weet dat ons nog steeds Jesus as Voorspraak, as Advokaat het! Sonde is baie ernstig, dis iets wat ons hoegenaamd nie moet oorweeg nie, maar as dit wel gebeur, kan die kind van God die vertroue hê, daar is iemand wat vir my intree. My Advokaat, my Voorspraak, my Hoëpriester, Jesus! Hy stel my saak by God, daarom hoef ek nie te wanhoop as ek geval het nie. 

Hierdie waarheid van Jesus wat vir ons intree is ‘n duidelike Bybelse waarheid wat ook op ander plekke beklemtoon word. In Romeine 8:34 roep Paulus uit : “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Weens Jesus se pleitrede staan ons onskuldig! En Hebreërs 7:24,25 wat sê : “Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” 

Ons moet op Jesus vertrou en hoopvol wees!

WIE IS KIND VAN GOD?

As Johannes vir Jesus ons Voorspraak noem, raak hy die hart van Christenskap aan. ‘n Kind van God is iemand wat Jesus as Middelaar en Voorspraak het! Die vraag is nie in die eerste plek of my sonde min of baie is nie, die vraag is nie of my sonde darem minder ernstig is as ander mense s’n nie, die vraag is nie of ek nog wel Bybel lees of bid nie, die vraag is ook nie of ek goed voel oor myself nie. Al vraag wat tel is : “Is Jesus my Advokaat?” Kan jy dit met oortuiging sê? Sonder Jesus geen hoop, met Jesus ‘n vaste heerlike hoop! Later sê Johannes dit nog duideliker in ‘n baie skerp kontras. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

BYBELSE BALANS

Johannes het ‘n pastorale hart wat omgee vir ander Christen gelowiges, wat omgee vir ons. En daarom wil hy help dat ons nie in een van bogenoemde uiterstes verval en so skade ly nie. Ons moenie ligtelik dink oor sonde nie, ons moet ook nie alle hoop verloor as ons wel in sonde geval het nie. Dis die gesonde heilige Bybelse balans! Hy sê in effek : “Maak erns met sonde, kies teen sonde, bely en laat staan dit!”, maar hy sê ook : “Moenie moed verloor nie, hou vas aan die Middelaarskap van Jesus!” Dis in wese ook die voorwaarde vir die gebruik van die Nagmaal. Besef die erns van sonde, bely dit en breek daarmee. Besef die voorreg om Jesus as Middelaar en Advokaat te hê! Hy pleit vir jou omdat Hy met sy eie bloed jou sondeskuld betaal het! 

Ons gebruik juis die Nagmaal, nie om ons goedheid en sondeloosheid daarmee te verklaar nie, maar om opnuut ons vaste vertroue in Jesus se Middelaarskap, ja, vir my persoonlik te bely! Ons gebruik veral die Nagmaal omdat Jesus self deur sy Gees juis daardeur Sy getrouheid en genoegsaamheid vir ons tasbaar bevestig!