BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 27 Januarie 2023

Vier goeie redes om ALTYD vol HOOP te wees (1)

 [Maak die Woord op by 2 Korintiërs 4]

Besef die groot genade wat jy reeds ontvang het.


Dis sleg as dit sleg gaan. As die berg te hoog raak of die pad te steil. Maar as dit so sleg gaan dat mens moed verloor, wil tou opgooi, sommer maar net wil oorgee aan die ellende dan is dit nie net sleg nie, maar ‘n ramp! Dalk het jy al by so ‘n punt gekom, of dalk is jy naby daaraan… Jy wil hoop verloor in hierdie lewe met sy ellende, jy oorweeg dit om tou op te gooi wat betref jou geloofspad... Dan het jy hierdie boodskap dringend nodig!


Ons gaan kyk na : Vier redes vir ‘n kind van God om nooit moed te verloor nie, mens sou ook kon sê vier feite/perspektiewe wat sal keer dat ek nie moed verloor nie. (Die rede kom uit 2 Korintiërs 4 en 5) Mens kan die redes natuurlik nie waterdig van mekaar skei nie – dit  oorvleuel. (Dus sal daar noodwendig ‘n mate van herhaling wees) 

Paulus raak hier baie persoonlik in die brief aan die gemeente van Korinte. Hy praat oor homself ("ons" – eintlik hyself) Nou as daar nou iemand was, wat eintlik lankal moes moed verloor het was dit nou juis Paulus. Hy skryf ‘n passievolle brief vol emosie, hy maak eerlik sy hart oop. Hierdie gemeente het hom groot hartseer en teleurstelling besorg. Dis hy wat eerste die evangelie aan hulle verkondig het. Hy het dit kosteloos gedoen. ("Was dit dan nou 'n fout?", vra hy.Hy is bietjie sarkasties hier)


Ook belangrik om te onthou - Paulus het die ware kruisevangelie aan hulle verkondig nie met menslike wysheid nie, maar met die krag van die Heilige Gees. 



Paulus was die instrument wat hulle uit die heidendom na Jesus gelei het. En tog het juis hierdie gemeente van Korinte hom die meeste teleurgestel – deur partyskappe,  onenigheid (hofsake), deur sonde (erge sedeloosheid!), maar ook is Paulus persoonlik verneder en aangeval.Daar was sogenaamde superapostels in Korinte wat o.a.veral klem gelê het op die praat in tale en wat Paulus se bediening as minderwaardig beskou het en hulle het ook sy motiewe bevraagteken. Hy skryf nou hierdie brief om  homself teen hulle aanvalle te verdedig. (LEES 2 Korintiërs 4:1-6) 

NOOIT MOED VERLOOR NIE!

En een van die deurlopende temas in hfst 4en 5 is dat Paulus beklemtoon dat hy tsv al die aanslae, swakheid, beledigings en beskuldigings nie moed verloor nie. (4:1; 4:16; 5:6)








Ons gaan nou kyk na die eerste groot rede waarom Paulus kan sê dat hy nie moed opgee nie.  Hy is diep bewus van die groot genade (ontferming) wat hy reeds van God ontvang het. En as jy as kind van God wil aanhou en moedhou is dit ook waar jy moet begin – besef en dank God vir die onbeskryflike groot genade wat jy reeds ontvang het!

Paulus was diep bewus van die feit dat sy redding en die bedieningsopdrag (roeping) wat hy ontvang het alles net suiwer genade was! Daarom  die wete  : "Ek kan nie ophou om Jesus te volg nie, ek kan nie ophou om te volhard nie, ek kan nie ophou om my werk as bedienaar van die nuwe verbond te doen nie – want ek verdien nie hierdie posisie nie – dis alles net vrye guns en genade alleen.  Dis ‘n reuse voorreg en guns wat God my gee om vir Hom te lewe en te werk! Ek het die hel verdien, maar nou kan ek getuig van die pad na die hemel!" Ons moet onthou, Paulus was ‘n passievolle hater en vyand van Jesus en al Jesus se volgelinge. Hy het al sy kragte  ingespan om die kerk uit te roei en Jesus se Naam sleg te maak – (hy was by toe Stefanus met klippe doodgegooi is) maar Jesus gryp hom op pad na Damaskus en kies hom vir ‘n spesiale werk! Hy word uitverkies vir ‘n spesiale taak – nie op verdienste nie, maar uit genade!


Die genade wat Paulus en elke ware kind van God ontvang het is ‘n asemrowende, verbysterende wonderwerk ...! Dis soortgelyk aan die skeppingswonder van lig. (6) God openbaar sy Seun Jesus aan sondaars . Die ware kennis en heerlikheid van God straal uit Jesus. Dis ‘n heerlikheid vol genade en waarheid. Ek besef dat Jesus die belangrikste persoon is. Dat Hy die beeld van die onsienlike God is. Dat Hy algenoegsaam is vir my diepste nood en behoeftes as mens. Dat geloof in Hom kosbaarder is as goud. As God sy LIG in my hart laat skyn dan besef ek dat  om Hom te ken alles in waarde oortref. Niks en niemand is meer kosbaar as om Hom te ken nie! Alle aardse roem verloor sy glans in vergelyking met Jesus. Slegs dit wat in sy naam en tot sy eer gedoen is sal ewig standhou. Wat Paulus hier beskryf is niks anders as die wedergeboorte nie! Dis nét as die wonder van die wedergeboorte in jou hart gebeur het dat jy regtig die waarde van Jesus insien. Die wêreld kan mooi vroom dingetjies sê, maar sien nie waarde in Jesus nie. (Hulle kan Jesus probeer misbruik – vir geld en gesondheid – maar is nie bereid om vir Hom op te staan en te ly nie.)

So, Paulus besef, "God was vir my so goed, ek het die hel verdien, maar Jesus het my vergewe en vir my ‘n werk gegee – daarom sal ek nie moed verloor nie! Ek verkondig die evangelie ten spyte van teenstand en beledigings omdat God my genadig was. Ek het geen verborge motiewe nie, ek het nie geheime agendas nie, ek verdraai nie die Woord van God vir eie gewin nie, my gewete is skoon, ek probeer my bediening in opregtheid doen. As mense dan nog steeds nie die evangelie wil aanvaar nie, is dit omdat die Satan hulle verblind het. Ek verkondig ook nie myself nie, ek trek nie mense na myself of maak hulle my volgelinge nie, ek verkondig net die heerlike persoon van Jesus Christus. Dit gaan nie oor my nie – laat ek maar beledig word en uitgestoot word, ek weet ek is ‘n ontvanger van genade, ek kan nie omdraai op hierdie pad nie!"



Het jy al besef wat ‘n groot wonder van genade God vir jou gedoen het sodat jy aan Jesus kan glo en aan Hom kan behoort?  Dank God! Dan hoef jy nooit moed te verloor nie, want sy genade wat jou tot hier gedra het sal jou ook verder dra. Miskien is jy onseker… deel ek in die genade? Jy kan dit vandag ontvang! (Matt 11:28  2 Kor 6:2)


JY HET REDE OM VOL MOED TE WEES, KIND VAN GOD!

Luister na die volledige preek op YouTube. Kliek op VOL HOOP (1)

Maandag 23 Januarie 2023

Irritasie, frustrasie en onreg

 - hoe moet ek dit hanteer?


Kliek op JAKOBUS om sy ingrypende antwoord te hoor!

(Ook baie van toepassing in 'n huwelik met spanning en onmin)