BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gemeente as huisgesin. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gemeente as huisgesin. Wys alle plasings

Vrydag 27 Januarie 2017

DAAR VIR MEKAAR

IN GOD SE HUISGESIN


Bybelse Christenskap is ‘n persoonlike saak (ek word gered deur ’n persoonlike geloof in Jesus Christus), maar dis terselfdertyd ook ’n gemeente saak (as geredde mens word ek by ‘’n gemeente gevoeg deur God).* Ons het gesien die gemeente is die huisgesin van God (kliek op HUISGESIN), waar elkeen sy taak het, waar ons mekaar ondersteun, waar ons groei, waar ons beskerm word teen dwaling... 

Miskien dink jy, “Ag, hierdie huisgesinstorie is te idealisties, dis net ‘n mooi prekie, dis net studeerkamerteorie, dis onrealistiese wensdenkery en werk nie uit in die harde lewe van kompetisie en selfsug nie.” Nee, die Bybel is realisties en weet baie goed als gaan nie altyd soos dit moet in hierdie huisgesin nie, want ons is gebroke mense. 

Hier in 1 Tessalonisense 5:12-15 kry ons praktiese raad oor probleme in God se gesin en om diegene in die gesin met wie dit nie goed gaan nie te help. 

Maar ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; 
en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar. 
En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig (geduldig) teenoor almal. 
Sorg dat niemand 'n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal.

Die opdragte in vers 12 en 13 veronderstel ‘’n bepaalde werksverdeling en leierskap binne ‘n gemeente. En natuurlik is daar die groot oorkoepelende opdrag om in vrede met mekaar te lewe. Ek wil graag nou die klem laat val op die opdragte oor hoe ons optrede moet wees teenoor drie groepe van persone binne die gemeente:

~ Leeglêers (NAV) of onordelikes moet aangespreek word. Vanuit 2 Tess 3:6-12 kan ons aflei daar was moontlik mense in die gemeente wat geredeneer het dat omdat die wederkoms op hande is, hulle maar kan ophou werk en net passief rondlê en wag vir Christus se koms. Dis super geestelike, bemoeisieke, ongebalanseerde en onordelike mense wat hulleself verhewe voel bo die alledaagse pligte van menswees. Dit gaan dus hier oor mense in die gemeente wie se lewenswyse onverantwoordelik is. Hulle hardloop weg met sekere waarhede... Soos ons maar sê, hulle ruk die dam onder die eende uit. Hulle moet op ’n mooi maar duidelike manier verduidelik word wat hulle pligte is en tot nugterheid en insig gebring word. Die gewone dinge van menswees, ons arbeid en werk is nie minderwaardige en minder belangrik nie. Maak praktiese voorstelle aan hulle oor ’n sinvolle lewe wat eer sal bring aan God. Gee vir hulle ’n Bybelse perspektief op arbeid en verantwoordelikheid. Ons eer God deur hard en ordentlik te werk. Luther het dit so treffend gestel : Die Christen skoenmaker doen sy plig nie deur klein kruisies op sy skoene aan te bring nie, maar deur goeie skoene te maak, want God stel belang in goeie vakmanskap.”

~ Die kleinmoediges moet moed ingepraat word. Dis die gelowiges wat van nature pessimisties is, maklik vrees bevange raak, maklik moed verloor, wat dikwels dreig om tou op te gooi. Hulle vir wie die stryd van die geloof te swaar raak. Ons moet hulle bemoedig - deur die beloftes van God se Woord op hulle harte te druk, maar ook deur iets van onsself te gee. Ook deur soms iets van ons eie bekommernisse, broosheid en vertwyfelinge te deel. Niks is so ontmoedigend as om altyd gekonfronteer te word met hierdie beeld van ’n onaantasbare, onwankelbare super Christen nie - ons moenie dit projekteer terwyl dit in elk geval so is nie. 

~ Swakkes moet gehelp word. Dit gaan oor die wat geestelik swak is - wat miskien onkundig is oor sekere aspekte van die geloof, wat geestelike dinge nie reg kan beoordeel nie, wat die Christelike vryheid nie reg verstaan nie. Hoe word die swakkes gehelp? In die eerste plek dat ons hulle in liefde sal verdra en tweedens om hulle op te bou en te ondersteun. “Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.” (Romeine 15:1,2) Let Wel - Verdra in plaas van verkleineer en veroordeel en verwens. Om niks te doen wat hulle aanstoot kan gee of hulle gewetens kan kwes nie. Gaan daaroor dat ons tegemoetkomend sal wees en hulp sal verleen aan almal wat hulp nodig het op een of ander stadium. Ons moet van ons kant af alles doen om te help dat elkeen van ons broers en susters die einddoel van die geloof bereik! 

SAAM OP PAD NA DIE KRUIN...

Dink aan ’n strawwe bergklimekspedisie. ‘n Groot span klim saam. Elkeen het sy plek en funksie, elkeen is onmisbaar, elkeen se talente word benodig. Maar op pad na die kruin tel party probleme op... Sommiges raak onordelik en wil lyf wegsteek en hulle moet vriendelik, maar ernstig aangespreek word; ander raak moedeloos as hulle sien hoe vêr die eindbestemming lê, hulle moet moed ingepraat word, “komaan, vasbyt, ons gaan dit maak!” Ander is fisies of emosioneel swak en moet op verskeie maniere prakties ondersteun word. Dis presies soos dit in die huisgesin van God, die gemeente werk.

Saam op pad na die kruin... Omatako

DIE REGTE GESINDHEID

’n Verdere drie opdragte handel oor ons gesindheid en houding teenoor ander mense. (Spesifiek diegene in die gemeente, maar ook ander mense wat oor ons pad kom.) As ons positiewe inspraak in ander mense se lewens wil lewer is dit van groot belang om hieraan gehoor te gee:

~Werklike sinvolle hulpverlening vereis geduld. Geduld met almal (insluitend die leeglêers, kleinmoediges en swakkes) Hoe belangrik is dit nie! Dikwels is ons nog bereid om betrokke te raak maar dan doen ons dit met ongeduld. “Jy moet nou luister, jy moet nou regkom, ek wil resultate sien. Laat ek jou gou wys...” ’n Ongeduldige hart is ’n hoogmoedige hart. So iemand kan van geen hulp wees nie al beskik hy oor al die nodige kennis. Jesus het vir ons gewys wat geduldige en nederige betrokkenheid behels. Hy het op sy knieë die voete van sy dissipels een vir een gewas. By wyse van spreke - as ek nie op my knieë voor my broers en susters wil neerbuig nie sal ek nie werklik hulp kan verleen nie...

~As ek positief betrokke wil wees by my broers en susters moet ek gesuiwer wees van alle vorme van vergeldingsdrang. So dikwels gebruik ons geleenthede vir hulp om ’n appeltjie te skil of ’n stekie in te kry. Pasop vir skimpe en humor wat ’n steek bevat - praat liewer reguit as daar iets is wat pla. Pasop vir ’n houding van : “Ek kom help jou, maar dit wat oor jou gekom het, is eintlik jou verdiende loon omdat jy dit of dat gedoen het.” Pasop dis onmoontlik om iemand regtig te help, as jy dit op so ’n manier doen dat hy moet sleg voel.

~’n Positiewe inset in ander se lewens is net moontlik as ek opreg ander se belange op die hart dra. Wat is my motiewe? “Ag, ek sal maar gaan help , want netnou voel ek skuldig!” Wil ek werklik die beste hê vir die ander persoon? Kan ek werklik bly wees saam met die een en werklik treur saam met ander? By wyse van spreke - Is dit regtig vir my belangrik dat my broer met blydskap die top van die berg sal bereik? Of wens ek heimlik dat hy misluk en ek alleen daar kom? Laat ons bid :”Here skep vir my ’n begrypende en onselfsugtige hart!” 

GEEN DRILPELOTON

Hierdie opdragte maak ons weer attent op die realiteit van die samestelling van ’n gemeente. ’n Gemeente bestaan nie net uit geestelike reuse, "go-getters" en presteerders nie. Daar sal ook altyd leeglêers (onordelikes), kleinmoediges en swakkes in ons gemeentes wees. Vir al diesulkes is daar steeds plek in die gemeente van Jesus. Die idee van ’n super gemeente wat soos ’n afgerigte drilpeloton foutlose bewegings op elke bevel uitvoer is nie realisties haalbaar nie. As ons nie plek het vir die swakkes nie, is ons mos niks beter as ’n klomp wilde diere nie. In die natuur gaan dit net om selfbehoud en selfoorlewing en daarom word die swakkes gelos om te vrek (of word sommer opgevreet!) In die kerk van Jesus kan dit tog nie so werk nie. 

Hierdie opdragte veronderstel intense en moeitevolle betrokkenheid bymekaar. Dis juis ons probleem. Onbetrokkenheid en ongeërgdheid teenoor mekaar is seker die moeilikste sonde om te oorwin. Dis niks anders as die sonde van liefdeloosheid en selfsug nie. Dis deel van die kern van ons sondige natuur om net vir myself te leef. Soms as ’n mens ’n Christen word dra jy onbewus hierdie selfsugtige benadering in jou nuwe lewe in. ’n Selfsugtige wêreldling op pad nie die hel, word nou ’n selfsugtige geloofsreisiger op pad na die hemel. ’n “Ek het niemand nodig nie”- gesindheid is presies waarmee ons ou natuur gemaklik voel - maar dit druis reguit in teen Christus se bedoeling vir sy kerk. (Hier is soveel bekering nodig by ons almal!) Gaan kyk maar hoeveel - “mekaar” tekste daar in die Nuwe Testamentiese briewe is! Een van die kern Nuwe Testamentiese waarhede oor die kerk is : 

Ons is daar vir mekaar binne-in God se huisgesin! Vind dit neerslag in jou lewe? Help jy jou broers en susters geduldig op pad na die kruin?


*Hand 2:47b “...En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.”


Vrydag 20 Januarie 2017

GOD SE HUISGESIN

- is onmisbaar belangrik vir jou en my.



In 1 Timoteus 3:14,15 beskryf Paulus die gemeente as die huisgesin van God!



Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom.



Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. (reeds in vroeër vers 5 kry ons al ‘n verwysing na huisgesin in gemeentelike konteks)* 

Hoe heerlik en wonderlik is ‘n huisgesin! Om aan ‘n huisgesin te behoort is ‘n reuse voorreg en vreugde! Dis so onmisbaar belangrik vir ‘n kind se ontwikkeling en vorming. (terloops dis waarom Satan so naarstigtelik huisgesinne en huwelike probeer vernietig) Dis mos die plek waar ons kos kry, grootword, vertroos word, geleer word, veilig voel... en ook broodnodige opvoeding en selfs straf kry! Hoe meer nog is dit onmisbaar belangrik vir God se kinders om deel van God se huisgesin te wees. As iemand hom bekeer en deur die geloof in Jesus ‘n kind van God word, word hy/sy onmiddelik in God se huisgesin opgeneem (vgl. Hand 2:47). Deur die wedergeboorte word ons in God se gesin gebore en God word ons Vader en God se ander kinders word ons broers en susters. (en ook mede erfgename van Jesus die oudste broer!) En hierdie band is belangriker en inniger as die bande van aardse gesinne. Regtig? Wel, dis die implikasie van Jesus se woorde in Lukas 8:19-21.**

Soos ‘n kind nie gelukkig, gebalanseerd groot kan word en optimaal kan ontwikkel sonder ‘n liefdevolle huisgesin nie, het elke kind van God die huisgesin van God, die gemeente nodig!

ELKE LIDMAAT, MAAR OOK OUDERLINGE EN DIAKENS IS DEEL VAN GOD SE PLAN

In ‘n gesonde huisgesin is daar struktuur, orde en reëls. Elkeen het sy plek en funksie. Indien een lid van 'n gesin nie gesag erken of nie sy pligte uitvoer nie, is daar wanfunksionering en ly die hele gesin skade. In God se gesin is dit ook so. Paulus verwys hier terug na die spesifieke opdragte van hoe mense hulle in God se gemeente moet gedra. Spesifiek na die rol en pligte van mans, vrouens, ouderlinge en diakens. Ja, party mense dink aan ouderlinge en diakens as menslike tradisies of outyds en verkramp – Nee, dis deel van God se plan vir sy huisgesin! Net terloops, waar hierdie reëls nie toegepas word nie, kom daar groot hartseer in God se huisgesin. (byv. ouderlinge wat nie moes gekies gewees het nie, kerkraadslede wat nie hulle werk doen nie, gesagstrukture wat nie erken word nie ens.)

DIE GEMEENTE BESKERM DIE WAARHEID

Dis egter nie al wat hier van die gemeente gesê word nie...Die gemeente word verder ook hier genoem die draer en beskermer van die waarheid. (OAV - 'n pilaar en grondslag van die waarheid. ) Die (stulos) pilare het die dak gehou , maar meer nog dit as’t ware hoog opgelig sodat almal dit van ver kan sien. Die (hedraioma) fondasie het beskerming verleen.

Vir die wat skerp luister klink dit dalk vreemd – die kerk is mos gebou op die waarheid (evangelie), hier klink dit nou of die kerk die waarheid beskerm. Inderdaad staan kerk en waarheid in noue verband. Die kerk is afhanklik van die waarheid vir haar bestaan, maar die waarheid is ook weer afhanklik van die kerk vir haar verdediging en verkondiging. Die kerk, die gemeente beskerm die evangelie sodat dit nie vervals kan word nie. Die gemeente moet dus sorg dat die evangelie nie verdraai en verwring word nie. Dis in ons dag so nodig. Julle weet van al die dwalinge wat in sirkulasie is en mense verwar : mense wat beweer dat Jesus nie opgestaan het nie, mense wat nie die kruisboodskap verkondig nie, maar moralisme. Valse rigtings soos die Hebrew Roots Movement, goedkoop genade, die prosperity Gospel, mensgerigte "evangelies" waar God die mens se drome moet bewaarheid.... ("Gemeentelose Christene" en selfgesentreerde belangegroepies word veral maklik die prooi van allerhande dwalinge.)

Die waarheid wat in die gemeente beskerm en voortgedra moet word en as’t ware hoog opgelig moet word is die waarheid oor Jesus Christus wat uitgespel word in vers 16.*** Die kerninhoud van die waarheid wat ons as kerk moet bewaar is die waarheid oor Jesus Christus. (die kerk is nie bloot net nog ‘n NGO wat moet goed doen aan mense nie, ons het ‘n boodskap van redding en bevryding vir sondaars!) Dis waarskynlik ‘n ou Christelike lied wat Paulus  hier aanhaal. Dit bestaan uit drie koeplette : Die openbaring van Christus – Hy het mens geword en die Heilige Gees het deur die opstanding bevestig dat Hy waarlik die Seun van God is. Die getuienis van Christus – deur engele gesien, verkondig onder die nasies. Die ontvangs van Christus – Hy is geglo en Hy is in die hemel opgeneem. Hier is ‘n sterk verlossingsboodskap en ‘n sendinggerigtheid te bespeur. Die waarheid wat die kerk moet bewaar is die boodskap van Jesus as Verlosser van alle nasies! As ‘n gemeente nie meer Jesus verkondig as die redder van sondaars nie, het die gemeente gefaal en die waarheid verloor!

WIE EN WAAR?

Wie en waar is hierdie Gemeente? Dis die heilige algemene Christelike kerk wat ons bely om in te glo. Dis die kerk oor die wêreld heen versprei, die kerk van alle eeue! Dis natuurlik ook die plaaslike sigbare gestalte daarvan, ja inderdaad dis ook die gemeente van Jesus op Tsumeb. Dis die gemeente waar God jou tans geplaas het...

Ons kan nie sonder die gemeente nie – dis ‘n veilige huisgesin waar ons leer en groei, dis ‘n veilige kasteel waar die waarheid suiwer beskerm word. Maar dan moet ons erns maak om hierdie gemeente in te rig en te versorg volgens God se wil en opdragte!

Om ernstig te wees oor Jesus, behels ook dat ek ernstig sal wees oor die gemeente waar die Here my geplaas het! Hoe ernstig is jy oor Jesus, hoe ernstig is jy oor God se huisgesin? Is jy betrokke, bid jy, werk jy...?

*Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem? (1 Timoteus 3:5)

**En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie. 

Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien. 

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen. (Lukas 8:19-21)

***En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem. (1 Timoteus 3:16)