BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Desember 2022

GOD WORD ‘N BABA!

 - en bring daarom hoop vir alle mense, ook babas!

 [ Lees gerus tog weer die bekende verhaal van die herders van Betlehem in Lukas 2:8-20]

Ons kan so liries raak oor al die byspelers in die Kersdrama dat ons die Persoon in die hoofrol vergeet. Ek bedoel ons raak meegevoer deur die engelekoor, die nederige herders,  wyse manne, Josef en Maria, maar eintlik gaan alles oor die Kindjie in die krip – GOD wat ‘n Baba geword het! Baba! Ja jy het reg gelees. Probber bietjie dink aan die implikasies...

God word mens in Jesus Christus. Regte mens! "Vleis" soos die Johannes evangelie ons leer. (Johannes 1:14) Hierdie God-mens bring hoop en ‘n nuwe toekoms. Die engele beskryf hierdie hoop so in Lukas 2 vers 14 :




Hoe pragtig kom hemel en aarde saam in hierdie oorbekende teks!  Godwees en doodgewone menswees. Die ewige, maar ook die tydelike! Jesus se koms na die aarde bring juis eer aan God in die hemel! Hier is dus nie ‘n botsing tussen hemel en aarde nie, maar ‘n heerlike harmonie! 

Ons menswees op aarde in al sy stadiums en fasette is BELANGRIK!

Die feit van Jesus se babawees onderstreep dit so mooi. Jesus kom nie as ‘n superwese, gees of  simbool na hierdie aarde nie. Maar as mens.  Regte mens. Hy kom soos alle regte mense in die wêreld in, as hulpelose baba!  'n Baba wat aan sy moeder sou moes drink. Maar Jesus is ook regtig God. Hy bring God se boodskap en Hy leef God se waardes uit, Hy wys God se heerlikheid (genade en waarheid), maar Hy doen dit hier op aarde binne in die gewone alledaagse lewe. Hy woon soos ander gewone mense ‘n troue by en dan maak Hy nog wyn ook. In die proses bring Hy die boodskap van ‘n nuwe bedeling die oorvloed van die nuwe verbond. Hy word ook diep geraak as hy voor die graf van sy vriend Lasarus staan en huil. Maar dit bly nie net by huil nie... Hy bring Goddelike hoop in die donker aardse  situasie van dood deur die opwekkingswonder. Na sy eie opstanding uit die dood (geen groter bewys van sy Godheid as dit nie!) doen Hy ook iets heeltemal alledaags, hy braai vis vir sy dissipels, maar dis ook sommer die geleentheid waar Hy openbare vergifnis aan Petrus skenk. (Johannes 21) Vir Jesus is daar nie ‘n spanning tussen hemel en aarde nie. Hy is mens, tussen die mense en as mens leef Hy volgens die wil van Sy Vader. Hy werk in ‘n timmermans werkswinkel, Hy betaal belasting, maar Hy verkondig die geheime van God se koninkryk en bewandel ’n intieme gebedspad met sy Vader. 

Terloops, Heiligheid beteken nie om op te hou mens wees nie, maar om mens te wees volgens God se wil!

Dis die punt - Die geboorte van Jesus, ja die hele evangelie van Jesus raak ons en verander ons terwyl ons hier op aarde as mense leef! Die evangelie maak nie van ons hemelwesens, wolkbewoners of verbandlose indiwidue  nie. Maar nuwe mense in die harde werklikheid van ‘n aardse bestaan. Die evangelie pad is daarom nie ‘n pad wat menslike aardse familiebande ignoreer nie.  Vrede op aarde raak ook gesinne op aarde. Doodgewone huisgesinne! En hierdie gesinne sluit alle ouderdomme ook  die babas van die gesinne in. Jesus se verlossingswerk raak alle ouderdomme... ook babas


Irenaeus die bekende kerkvader en biskop van Lyons het dit so treffend gestel : "For he (Christ) came to save all through means of himself; all I say, who through him are born again to God; infants and children, boys, youths, old men. He therefore passed through every age becoming an infant for infants, thus sanctifying infants; a child for children, thus sanctifying those who are of this age, being at the same time made to them an example of piety, righteousness, and submission; a youth for youths becoming an example to youths, and thus sanctifying them for the Lord. So likewise, He was an old man for old men, that he might be a perfect master for all, not merely as respects the setting forth of the truth, but also as regards that age, sanctifying at the same time the aged also and becoming likewise an example to them. Then, at the last, He came unto death itself, that he might be the firstborn of the dead, that in all things he might have the preeminence, “the Prince of Life,” existing before all and going before all."

Die vraag is nou presies hoe word ons as gesinne geraak?  Hier is ‘n fyn balans. 'n Positiewe boodskap. Maar ook ‘n spanningslyn. 

Die gesinsband word nie geignoreer nie, maar wel gerelativeer deur die Kersboodskap.

Kom ons kyk eers na die eerste fasset. Jesus bring vrede na hele gesinne. Dink maar aan Saggeus se bekering in Lukas 10. Aangrypend en veelseggend is Jesus se uitspraak na dat Saggeus tot bekering gekom het : 



"Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom..."  Die bekende  Handelinge 16:31 (die tronkbewaarder van Filippi se bekering) onderstreep ook die belangrikheid van 'n huisgesin in die konteks van verlossing. 



Waar die gesinshoof tot bekering kom, word die hele huis positief geraak. Dis duidelike verbondstaal wat hier gebruik word. Die gesin word nou ingesluit in God se verbondsgenade, net soos in die Ou Testament die geval was.

VERDEELDHEID EN KONFLIK

Maar daar is ook ‘n anderkant. Gesinne en families word juis ook verdeel deur Jesus. Hartseer, maar ons mag dit ook nie verswyg nie!  Gaan lees maar die skerp uitsprake van Jesus in Matteus 10:32-36. Jesus veroorsaak konflik binne in huise!



Op die ou end is dit belangriker om aan die huisgesin van God (sy verloste kerk) te behoort as aan ‘n aardse gesin. Jesus het dit self op dramatiese wyse gestel. Matteus 12:46-50 laat geen onduidelikheid nie.



HY IS KONING!

Hoekom hierdie teenstrydigheid? Hoekom hierdie skerp verdelingslyn?  Hoekom is vrede dan so skaars in die wêreld? Nie net in oorlogsones nie, maar juis ook in baie huwelike en gesinne?  Ons moet verstaan wie hierdie Baba is. Die baba in die krip, Jesus Christus die Godmens is ‘n omstrede kontroversiële figuur. Hy bring vrede sowel as verdeelheid. Juis omdat nie almal Hom wil aanvaar en voor Hom wil buig nie. Soos die apostel Paulus dit sou stel vir sommige is die evangelie van Jesus ‘n lieflike geur, vir ander is dieselfde evangelie ‘n doodsreuk. Hoekom? Die Baba in die krip is die Verlosser koning. Hy is die finale koning van die Dawidsdinastie. Juis daarom word beklemtoon dat die baba in Betlehem die stad van Dawid gebore is. Teenoor ‘n Koning kan jy nie neutraal wees nie. Jy onderwerp jou aan sy koningskap of jy verwerp sy koningskap. Kersfees is ‘n fees van blydskap, maar dis juis ook ‘n konfronterende fees. Ons word gekonfronteer met die Babakoning in die krip. Geen draadsittery is moontlik nie. Wat jy oor Hom besluit raak jou lewe nou op aarde en natuurlik het dit implikasies tot in alle ewigheid.  As jy niks besluit nie, is jy teen Hom. 

Gaan jy eenkant staan of gaan jy soos die herders jou haas om Hom, die Baba van Betlehem te ontmoet?