- net twee opmerkings.
Die Belharbal word nog steeds fluks rondgegooi en geslaan. Die jongste besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk het nog uiteraard geen rus vir die voorstanders en teenstanders...
van hierdie omstrede belydenisskrif (vir sommige) of tydbepaalde verklaring (vir ander) of politieke lat (vir nog ander) beteken nie.
Oor die inhoud van Belhar (en of dit suiwer Bybelgefundeerd is al dan nie) en oor die meriete daarvan as belydenisskrif (of dit aan die vereistes van so ‘n gewigtige dokument voldoen al dan nie) wil ek my nie nou uitspreek nie. Die onderskeie standpunte is al dikwels gestel deur mense wat heelwat bekwamer is as ek.
Ek wil tans slegs volstaan met twee opmerkings of perspektiewe :
DIE NOOD OP GRONDVLAK WORD MISGEKYK. EN HIER IS BELHAR IRRELEVANT EN ONMAGTIG.
Ek het die voorreg gehad om tydens my verblyf in Suid-Afrika verskeie kere in beide die VGK (in die Vrystaat) en in die NGKA (in Noord-Wes) die Woord van die Here te bedien. [Amptelik (vir die wat nie weet nie) is die VGK sterk pro-Belhar en die NGKA sterk anti-Belhar.] In beide gemeentes is ek as blanke lidmaat van die NG Kerk met baie groot liefde en waardering ontvang. Sonder enige verhindering of belemmering kon ek met vrymoedigheid die verlossingsboodskap bring. Niemand het ooit eers navraag gedoen oor my standpunt oor Belhar of hoegenaamd die saak probeer aanroer nie. My indruk was dat dit met beide kerke op grondvlak maar nie te goed gaan nie. Ek sou dit sterker kon stel – beide is kwynende en sukkelende kerke. Daar is ‘n groot gebrek aan finansies en nood aan permanente bediening. Die ruim imposante kerkgebou van die VGK op Kwakwatsi by Koppies het getuig van ‘n roemryke verlede... Baie jare gelede moes daar ‘n sterk gemeente gewees het... Maar dis lank gelede... Die hartseer was dat hierdie sukkelende gemeentetjie betrokke was in ‘n hofstryd met die NGKA oor ‘n gebou! Is Belhar regtig so belangrik vir hierdie lidmate op grondvlak, wat voortsukkel soos skape sonder ‘n herder? My gevoel is : Nee! Ek het hierdie siening gedeel met ‘n leraar wat in die “bruin” deel van die VGK in die bediening gestaan het, en hy het dit bevestig. Belhar of nie-Belhar gaan weinig verskil aan die geestelike nood van hierdie kosbare broers en susters van ons in die NG familie maak. Terwyl die groot kanonne op ons kerkvergaderings slim speletjies speel oor Belhar ly die kerk van Jesus skade. Het Belhar nie dalk 'n speelbal in belang van kerkpolitiek en aandagsoek geword nie?
Kom ons wees eerlik. Die NG Kerk wil nie en kan nie die rol tot ondersteuning speel wat ons Christelike plig van ons vra nie. (Natuurlik is daar pragtige uitsonderings) En die rede is nie Belhar of die gebrek aan Belhar nie, maar die lae standaard van geestelike lewe en die onbetrokkenheid van die meerderheid van ons lidmate in die meeste van ons eie gemeentes. Onbekeerde lidmate het nou maar eenmaal nie ‘n passie om na mede Christene of na verlorenes uit te reik nie. (ongeag die kleur of nasionaliteit) Lou en liefdelose lidmate het nie juis die wil en die vermoë om die warm liefde van Christus met ander te deel nie. Die geskiedenis, ja ons eie NGK geskiedenis bewys dit, dat wanneer daar bekering, herlewing en toewyding by die plaaslike lidmate kom, het dit ‘n uitkringende effek na buite. Na alle volke en na alle vlakke van die samelewing. Belhar gaan niemand beweeg tot opoffering en evangelie ywer nie, maar ‘n broodnodige bekering van die NG Kerk as geheel tot die God van die Bybel sal maak dat die liefde van Christus ons begin dring...!
DIE “ONBELANGRIKHEID” VAN ONS HUIDIGE BELYDENISSKRIFTE LAAT VRAE ONTSTAAN.
Daar word van die kerkleiding se kant geweldig energie ingesit en kostes aangegaan om Belhar aan die kerkvolk te verduidelik en te verkoop! Nou wonder mens waar kom hierdie ywer vir Belhar vandaan, terwyl die ander bestaande belydenisskrifte so onbekend en ongebruik in ons daaglikse kerklewe is? (Ek wonder of hulle meer gebruik word as al ons vergete tugformuliere...?) Die meerderheid lidmate, en ja mag ek sê, die meerderheid van ons kerkraadslede kan nie eens die name van die Drie Formuliere van Eenheid opnoem nie! Hoe bekend die waarhede wat daarin vervat word, is kan mens seker maar net raai... Selfs op die Teologiese Fakulteit waar ek gestudeer het (Pretoria), is daar bitter min aandag gegee aan ons eie belydenisskrifte! Die kerk laat ook toe dat teoloë uitsprake maak wat teenstrydig is met sommige leringe van ons belydenisskrifte. (Sien Ferdie Mulder se boek “OPGESTAAN”) Hoe ernstig is ons oor belydenisskrifte en watter praktiese rol speel hulle in die NG Kerk?
Ons kerk het in die drie Ekumeniese Belydenisse en in die Drie Formuliere van Eenheid ‘n kosbare skat van waarheid en toerustingsmateriaal wat uiters omvattend en aktueel is. Kan ons kerkleiding (en ja, elke predikant) nie dalk meer moeite doen om lidmate hieroor in te lig nie? Wanneer laas het jy ‘n preek gehoor wat die waarhede van die Dordtse Leerreëls reflekteer? Soos – Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Onderskryf (en vertoon) ons nog in praktyk die kenmerke van die ware kerk soos gestel in die Nederlandse Geloofbelydenis in Artikel 29. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken is die volgende : wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf! (Oeps! Daai woorde “sonde”, “tug” en “straf” het blykbaar verdwyn uit die kerk se woordeskat.) As ons die waarde van ons bestaande kosbare belydeniskrifte weer ontdek, opgewonde daaroor raak en begin toepas wil ek my verstout om te sê dat Belhar dalk heeltemal oorbodig blyk te wees. Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 21 Vraag 55 is mos baie duidelik oor eenheid, liefde en diens in die kerk. Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges? Antwoord : Eerstens dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Jesus Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Tweedens dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend. Wie het nog Belhar nodig as ons hierdie ernstig opneem?
Moet die kerk “Belhar” of nie? Besluit vir jouself in die lig van die Skrif. Wat ons wel nodig het as NG Kerk is om ons te bekeer terug na 'n waarlik opgestane Jesus en God se onfeilbare beloftes in sy Woord!
Ek het 'n neef wat as NG leraar wel die tug toegepas het en het dit die "liefdestug' genoem. Die resultate was dat mense wel tot bekering gekom het, of hulle het padgegee.
AntwoordVee uitWolf, ek sal graag wil weet of hy dit nog doen? Ek haal my hoed af vir so 'n persoon. Natuurlik kan tug nie iets anders wees as liefdestug nie... Die verhardes sal natuurlik altyd kla dat dit liefdloos is...
Vee uit