BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 15 Julie 2019

WALGING, AFGRYSE...

EN ONTSTELTENIS!

Van erg na erger... Elke slag 'n bietjie verder en brutaler! DIE KERKBODE berig met groot fanfare oor die bevestiging van prop. Dietmann, 'n homoseksueeel wat onlangs met 'n man getroud is wat nou in die NG Kerk Stellenberg bevestig is as tentmakerleraar! En bid jou aan, met die oog op meditatiewe dienste!

Wat erger kan nog met ons kerkverband gebeur? Wanneer is genoeg, genoeg? Hoe moet Bybelgetroue leraars, lidmate en gemeentes protes aanteken? Moet ons maar oppak en aanbeweeg? Waarheen? Wanneer kom daar 'n punt dat die uittarting van God te ver gegaan het? Sodom het nie eens die Skrif gehad nie...

Dit raak my alles baie persoonlik en ingrypend. Ek is baie gelukkig in die NGK Tsumeb, ek is lief vir hierdie kudde, veral vir diegene wat elke Sondag met verlange na die Woord kom luister... Ons beleef goeie dinge in die gemeente. Maar my kerkverband maak dit vir my al moeiliker... bitterlik moeilik!

Ja, ek weet ons as plaaslike gemeente is ecclesia completa! Dankie daarvoor! Maar die NG etiket het 'n smet geword! Die NG verband 'n intense verleentheid!

Daarom as eerste stap wil ek my persoonlike walging, afgryse en ontsteltenis uitspreek oor hierdie optrede van NGK Stellenberg se kerkraad!

Maar wat verder? Dalk 'n persoonlike ontrekking aan alle NGK strukture? Vroeë aftrede? 'n Permanente staat van dolering?  Dis so kompleks... HELP my en BID vir my, vir ons, vir almal wat alhoewel diep bewus van ons eie gebrokenheid, tog dit ernstig bedoel met Jesus en Sy kerk... En ja, kan ander leraars wat vir die waarheid  staan ook maar 'n bietjie hulle stem laat hoor!

Luister maar net weer na die onfeilbare Woord! Romeine 1:22-27 is seker duidelik?

"Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 
 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 
Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe (hulle is nou op die kansel!) en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. "


As jy 'n sterk maag het, kan jy maar kliek op AFGRYSE!

As jy weer bly wil word oor God se krag kan jy kliek op GENADE  (Wonderlike eerlike getuienis van 'n voormalige Lesbiese postmodernis se ontdekking van God se genade!)

Vir die Tsumeb NG kerk se amptelik standpunt oor hierdie sake kliek op STANDPUNT


[foto - DIE KERKBODE]


10 opmerkings:

  1. Ai Johannes ek steun jou tenvolle. Dit is vir my godslasterlik, absolute uitlokking en sensasie soek, om God oneer aan te doen, nou kan ons maar netsowel n praktiserende prostituut bevestig. Dit kom op dieselfde neer.

    AntwoordVee uit
  2. Die NG Kerkverband in Namibië sal baie ernstig moet besin rakende hul voortgesette deelwees van die NG Kerkverband in Suid-Afrika (Algemene Sinode). Die bespotting wat die Algemene Sinode maak van God en sy Woord deur mense wat skaamteloos teen God se wil standpunt inneem, te legitimeer as proponente, skreeu ten hemele. Die Algemene Sinode het skynbaar ‘n bende ongelowiges en heidene geword. Die Skrif sê: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?” 2Kor. 6: 14 tot 16.

    Wat my egter ook bekommer is die stilswye wat ek ervaar van my kollegas in die bediening hier in Namibië. Dit was die geval in 2015 toe die saak die eerste keer op die tafel gekom het en dit was die geval met Van der Riet aan die begin van die jaar en dit is skynbaar nou weer die geval. Dit is nie dat ek verwag dat almal ‘n reuse lawaai moet opskop nie, maar dit sal goed wees om te weet jou kollegas deel jou siening rakende die Skrif en die toepassing daarvan. Die lidmate op grondvlak verwag dit, maar hulle staan telleurgestel want hulle gemeente-dominees swyg heeltemal oor hierdie saak. Wat betref hierdie aangeleentheid blyk die situasie in Namibië te wees skape sonder herders (Mark. 6: 34). En as die dominees hulle wel uitlaat oor die saak word daar geskuil agter die wette van die land (Namibië) terwyl die beginsel in die verband glad nie gestel word nie. Het die NG Kerk dan so heeltemal teologies verarm die afgelope dekades onder die verrottende invloed van die liberalisme in ons teologiese fakulteite?

    Mag die HERE ons krag gee!

    AntwoordVee uit
  3. Ek stem van harte met jou saam. Ek voel of ek sak en as kan aantrek en ween en ween ....

    AntwoordVee uit
  4. Goeie dag Johannes
    Eerstens, baie geluk met jou verjaarsdag van die afgelope Saterdag.Sterkte en wysheid en Vader se Vrede vir jou vir die nuwe lewensjaar.Baie dankie vir die Bastion wat jy is in die Gees daar in die verre Noorde van Namibie asook die profetiese stem.
    Rakende die saak..2 Tim 3 en 4:1-5..Paulus praat tog hier met sy geliefde geestelike seun,Timoteus oor wat in die "kerk" gaan gebeur...Hierdie is geen geringe saak nie...Mag daar werklik leiers saam ons opstaan vir die waarheid van God se kragtige WOORD en nie t.w.v. medies en pensioen en voordele die status quo twv daarvan aanvaar nie.
    Net GELOOF behaag God en daaruit SAL ons lewe! Soli Deo Gloria

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Albie. Ons stem saam oor die Waarheid van die Woord, maar om te weet wat dit praktie in 'n bepaalde situasie behels en impliseer is nie eenvoudig nie. (Daarvan lewer die kerkgeskidenis baie bewyse) Dit hang ook baie af van mens se kerkbegrip... Dankie vir jou bydrae en help met dink, bid, raadgee... Ek waardeer dit.

      Vee uit
  5. Jou stryd is presies ook my stryd. Amen ook op Hector Jooste en ander. Ons kerkraad weet ook nie watter kant toe nie. Dit is Tafelberg Gemeente in Kaapstad. Dalk is daar 'n ander streeksinode wat band losmaak met AS veral na Oktober se AS. Dan sou 'n gemeente by so 'n sinode kon gaan inskakel want streeksinodes mag losmaak van die AS en steeds NG bly. En gemeentes kan hulle losmaak van hul streeksinodes en by ander gaan inskakel. Tafelberg gemeente sou argumentshalwe by die Ring van Windhoek kon inskakel. Dis hoe ek dit verstaan.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja, ek dink daar kan 'n herskommeling kom. Wat nou belangrik is, is dat elke leraar en gemeente hard en duidelik wys aan wie se kant ons staan!

      Vee uit
  6. Ja, dit is nie maklik nie, maar laat ons almal, al is ons nie almal in die NGK nie, baie bid en besin oor Op. 18:4 vir hierdie situasie. Ons mag nie van enige kerkverband 'n afgod maak nie, en Jesus het ons ook geleer om opofferings te maak, veral as dit oor sy Woord en sy eer gaan.

    Dit is goed om geduldig te wees, maar is dit genoegsaam om bloot in 'n kerkverband te bly en te getuig 'ons stem nie saam nie', maar die afval word net erger, die sonde word net meer goedgepraat en geakkomodeer. In my kerkverband is die homoseksuele debat nie op die tafel nie, maar wel ander sake wat daartoe kan lei, daarom moet ons ook aanhou getuig en die kostes bereken, dit geld dus vir my en ons almal ook.

    As daar geen ander meer regsinnige kerkverbande was in SA/Namibië nie, kan mens nog verstaan om te probeer bly, maar ek dink nie dit is die geval nie, en as dit moet, dan is dit beter om 'alleen' te staan vir die waarheid, as saam baie die breë weg te volg.

    Baie sterkte toegebid vir die pad vorentoe, mag ons hemelse Vader jul en ons almal wysheid gee.

    Onthou die Here se Woord se belofte:

    "En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig." (1 Joh. 2:17)

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Broer Slabbert, dankie ek hoor jou! Die saak is egter nie so eenvoudig nie om verskeie redes. Moet ek my gemeente wat onskuldig is straf deur net weg te gaan? Hulle in die steek laat wat so graag na die Woord luister en soveel opgeoffer het om hierdie kerk (plaaslike kerk) in stand te hou? As ek hulle uitlei, waarheen? En wat van ons Boesman broers en susters, waar gaan hulle 'n heenkome vind? En dan kyk ek na hoe die NT praat en ek sien nerens dat afskeidng as 'n opsie oorweeg word nie. Kyk nou maar na die ernstige toestande in sommige van die sewe gemeentes wat in Openbaring aangespreek word... hulle word telkens net tot bekering opgeroep! Maar ek dink hardop... jou bydrae en gebede word waardeer.

      Vee uit
  7. Ek het die volgende e-pos ontvang :

    Ek weet nie of ek dankie moet sê vir die video nie. Dit het my geweldig ontstel. Ek het besef dat die hofuitsprak en die besluit van 2015 hierdie implikasie het, maar dit het skielik ‘n afgryslike werklikheid geword met die “plegtige” bevestiging van ‘n aktiewe getroude gay man. Ek het die hele tyd vir myself gevra: Wat sou God daaroor dink terwyl Hy sy wil daaroor bekend gemaak het? Het God dan verander? Sedert die hofbesluit het die spreekwoordelike damwal gebreek. Laurie Gaum word gebruik om die Andrew Murray-toekennings waar te neem; Nelus Niemandt spog in ‘n openbare foto glimlaggend met ‘n gay T-hemp waar die slagspreek van die gay gemeenskap op verskyn (“Love is Love”). Nelis Janse van Rensburg sê in ‘n radio-onderhoud “Ons gaan mekaar nie oortuig nie”. Doleansie (die gereformeerde kerkreg se uitweg) word inderdaad ‘n groter moontlikheid maar ons lidmate is so verdeel dat ‘n besluit van ‘n gemeente om te dolereer skeuring kan veroorsaak. Ek sien werklik nie meer hoop vir die NG Kerk nie.

    My hart is seer en ontsteld.

    Groete in Christus,
    JOHAN

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.