BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Luther 500. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Luther 500. Wys alle plasings

Donderdag 16 Maart 2017

HEELTEMAL VRY!

maar vrywillig diensbaar.



Een van Martin Luther se beroemdste geskrifte wat in 1520 verskyn het, heet : DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN. Hierin maak hy ‘n baie grondige, diepsinnige en heerlike stelling. 

Dis (tipies Luther) in die vorm van ‘n paradoks : 

"‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; ‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan." 

VRY ÉN DIENSBAAR! Natuurlik het Luther nie die stelling uit sy duim gesuig nie, dis ‘n samevatting van wat Paulus in 1 Korintiërs 9:19 sê : "Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.”

DIE CHRISTEN IS VRY. 

‘n Christen is heeltemal volkome vry. Hieroor bestaan soveel onkunde wat lei tot soveel vrees en onsekerheid. So baie mense dink Christenskap is een stuk vreeslik harde werk. Byna soos slawerny. Hulle voel die hele tyd : Ek moet myself beter maak, ek moet harder werk, ek moet my bes probeer om al die reëls te hou, dan sal God my aanvaar. 'n Vreesagtige gevoel van onsekerheid : "Jong, as ek nie in my spoor trap nie, gaan ek dit nie maak nie..."  (As jy hulle vra oor hulle Christenskap, is hulle antwoord altyd : “Ek probeer om een te wees.”) Wat ‘n groot misverstand! Kom ons maak seker vanuit die Woord. Wat verwag God van ons? Wat moet ons doen sodat ons kan weet Hy is tevrede met ons en het ons as sy kinders aanvaar? Gelukkig het Jesus self die antwoord op hierdie uiters belangrike vraag gegee. “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het." (Johannes 6:28,29) Geloof alleen! Dis die basis van Christelike vryheid en vrede. Om te weet God het my aanvaar omdat ek in Jesus glo. Daar is geen ekstra voorwaardes of fynskrif nie! Om te weet God het my aangeneem nie op grond van my prestasies nie, maar op grond van Jesus se prestasie en verdienste aan die kruis! 

Deur die geloof in Jesus kry ek deel aan ‘n heerlike uitruiling – Jesus vat my sondeskuld en onvolmaaktheid op Hom (en sterf daarvoor) en Hy skenk sy geregtigheid en sy volmaaktheid aan my! 

In God se oë is ek dus ‘n regverdige! Dis die basis van my vrede. (Rom 5:1) Niks kan my meer bangmaak of veroordeel nie. Ek is vry van die vrees vir die wet, sondeskuld, satan, dood en hel! Jesus se sterwe het hierdie vyande volledig en finaal uitgeskakel. Daarom kan Paulus uitdagend uitroep in Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is duidelik, ons is vry van alle oordeel nie weens ons goedheid of prestasies nie, maar vanweë Jesus se sterwe opstanding en voortdurende intrede vir ons!

DIE CHRISTEN IS DIENSBAAR. 

As praktiese voorbeeld van hoe vryheid en diensbaarheid saamgaan gebruik Luther die verhaal van Jesus en die tempelbelasting. Ons vind dit in Matteus 17:24-27. Elke meelewende Jood moes jaarliks ‘n bedrag betaal waarmee die offerdiens in stand gehou is. Dit lyk nou asof Petrus deur ‘n vraag of Jesus die belasting betaal in die verleentheid gestel is.* Jesus is vooraf bewus van Petrus se dilemma en wag hom in met ‘n ander vraag. (25) "Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?" Die antwoord binne die denke van destyds is baie duidelik. Konings belas mos nie hulle eie familie nie. Koningseuns is vrygestel van belasting. Dit geld ook van die groot hemelse Koning. Jesus se insinuasie is duidelik : As Hy nie tempelbelasting betaal nie, is dit nie uit suinigheid, slordigheid of gebrek aan belangstelling nie. Hy, Jesus is die Seun van God, Hy as Prins word tog nie aangeslaan vir die onderhoud van sy eie Vader se paleis nie! Hy is vry van tempelbelasting en skuld niks! 

Tog besluit Jesus om wel vrywilliglik die voorgeskrewe tempelbelasting vir Homself en Petrus te betaal. Sommer so uit ‘n vis** se bek. Die eerste die beste vis. Geen groot issue nie! Hy doen dit nie omdat Hy daartoe verplig is nie, maar om nie onnodig aanstoot te gee nie! Jesus is vry om dit nie te betaal nie, maar betaal dit vrywillig! Jesus doen dit sodat daar nie misverstand sou wees nie. As Hy nie die belasting sou betaal nie, sou mense dink dat Hy die tempel of die offerdiens minag. Jesus wil nie ‘n onnodige struikelblok daar stel wat dit vir mense moeiliker sal maak om sy boodskap te glo en gered te word nie. Jesus betaal belasting al is Hy as Seun van God vry van hierdie verpligting. Dis ‘n pragtige demonstrasie van Christelike vryheid. Ek is vry van alle wette, maar maak myself vrywillig diensbaar aan God en my naaste.

Ek dien en gehoorsaam God nie om gered te word nie. Ek dien Hom omdat Hy my liefhet, my vryheid geskenk het en ek Hom wil dien. Ek kom kerk toe, ek bid, ek werk vir Hom vrywilliglik omdat Hy vir my alles reeds gegee het en ek wil dankie sê. Ek is vry, maar ek kies in vryheid om te dien. Ook om my medemens te dien tot hulle voordeel. Dis soos Paulus sy vryheid verstaan het. “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen." (1 Kor. 9:20) Hy besef hy is vry van die Joodse wette, maar hy onderwerp hom daaraan in soverre dit nodig is om die Jode na Christus te lei. Hy doen dus nie dinge wat die Jode onnodig aanstoot sal gee nie. Kom ons dink ons in aan die situasie van ‘n vroue sendeling in ‘n Moslem land. As Christen is sy vry om nie ‘n Hijab (haarbedekking) te dra nie, maar ter wille daarvan om nie ‘n aanstoot vir die mense onder wie sy werk te wees nie, sal sy dit vrywilliglik dra. Juis om die evangelie te bevorder. Dis presies wat Jesus doen met die tempelbelasting – uit liefde vir ander mense en sensitiwiteit vir hulle gevoelens gee Hy op hierdie punt sy vryheid prys en betaal! Laat ons veral hierdie beginsel onthou as dit kom by omstrede sake soos die gebruik van alkohol en tabak, kleredrag en grimering, ontspanning en vermaak... Ja, as Christen is ek vry, maar is my keuses in die beste belang van ander mense? Veroorsaak my keuses nie dalk ‘n struikelblok in die weg van die evangelie nie?

Deur geloof in Jesus is ons vrygemaak van ons skuld, vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel. Hierdie vryheid is nie ‘n selfsugtige vryheid, wat ek net tot my selfsugtige voordeel gebruik nie. Nee juis deur geloof in Christus is ons verlos en vry tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! 

Kortom : ons is vry sodat ons in vreugde (sonder vrees) en uit dankbaarheid God en ons naaste kan dien en liefhê. 

Die Christen is iemand wat nie in en vir homself leef nie, maar in Christus en in sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

*Volgens van Bruggen sou die vraag ook kon vertaal word met ‘n stellig. “Julle leraar betaal die didrachma nie!” Petrus se “Ja’ bevestig dan dat Jesus nie die tempelbelasting betaal het nie. 

**Net terloops. Wat is nou die betekenis van die geldstuk in die vis se bek? Die opvallende en besondere is nie dat ‘n vis ‘n geldstuk in die bek kan hê nie. (dit sou kon gebeur) Die opvallende is dat Jesus die mag het om so ‘n opdrag te gee en te kan weet dat die eerste vis wat gevang sou word so ‘n geldstuk in sy mond sou hê. Hierdeur bewys Hy dat Hy werklik die Prins is in die Vaderhuis, werklik die Seun van God, want dis net Goddelike Almag en Alwetenheid wat dit kan vermag.


Donderdag 05 Januarie 2017

AANVEGTINGE : AAMBEIE TOT WELLUS

en die nut daarvan om God se Woord regtig te verstaan.


Ons dink hierdie jaar aan die geestelike reus Martin Luther se rol in die Protestantse Reformasie. 

Laat ons een ding sommer van die begin af duidelik weet : Luther se lewe was nie net vol geestelike oorwinnings en heilige suksesse nie. Hy self was baie eerlik oor sy lyding, mislukkings en stryd, maar ook oor die positiewe gevolge daarvan in die lewe van die gelowige.

Luther het daarop gewys dat die skrywer van Psalm 119 nie net oor die Woord gebid en gemediteer het om dit te verstaan nie, maar dat persoonlike lyding ook ‘n groot rol gespeel het. “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.” (vers 67) “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” (vers 71)

Volgens Luther bestaan die regte metode om teologie te studeer drie reëls wat in Psalm 119 voorkom naamlik : oratio, meditatio, tentatio (gebed, bepeinsing, versoeking/beproewing) Die pragtig beskrywende woord wat hy vir sulke beproewings of toetsings gebruik het is aanvegtinge. Aanvegtinge leer jou nie net ken en verstaan nie, maar ook te ervaar hoe reg, hoe waar, hoe soet, hoe lieflik, hoe magtig en hoe vertroostend God se Woord is, die absolute hoogste wysheid.

Hierdie uitsprake van Luther was nie blote studeerkamer teorie nie. Die harde werklikheid van sy lewe was gekenmerk deur allerlei vorme van lyding en swaarkry.

Sy lewe was konstant in gevaar. (Juis daarom het sy weldoener Keurvors Frederik hom vir sy eie veiligheid na die Wartburg kasteel laat ontvoer.) Keiser Karel V het alles in die stryd gewerp teen Luther. Hy het immers verklaar : “Ek het besluit om alles teen Luther te mobiliseer. My koninkryke en domeine, my vriende, my liggaam, my bloed en my siel.” Die aanslag is op ‘n wye fronte teen hom gevoer, veral deur die ergste beswadderinge en swartsmeer van sy naam. Hy is uitgekryt as ‘n duiwelbesetene en sy ma as ‘n hoer. (Terloops, is dit nie ook van die lastering wat teen Jesus self ingespan is nie?)

Luther se aanvegtinge en beproewings het nie net van buite gekom nie. Hy het met allerlei liggaamlike kwale te kampe gehad. Pynlike nierstene, hoofpyne, oorinfeksie en hardlywigheid. Die ergste aanvegtinge was egter op geestelike en emosionele vlak. So skryf hy op 2 Augustus 1527 aan sy bondgenoot en vriend Melanchton : “Vir meer as ‘n week is ek heen en weer gewerp in dood en hel, my hele liggaam voel voos, my ledemate bewe nog steeds. Ek het Christus byna heeltemal verloor, gedrewe op die golwe en storms van wanhoop en laster teen God. Maar as gevolg van die voorbidding van die gelowiges was God my genadig en het Hy my siel uitgeruk uit die dieptes van die hel." 

Uiterlik het Luther vir baie mense sekerlik na die onaantasbare geestelike reus en gelowige held gelyk. Maar mense soos Melanchton wat naby aan hom geleef het, het ook sy swakheid, worsteling en versoekings geken. Op 13 Julie 1521 skryf hy soos volg weer aan Melanchton : 

“Ek sit hier in gemak, verhard en sonder gevoel – ag tog! Bid min, treur min vir die kerk van God, brandend eerder in die erge vure van my ongetemde vlees. Dit kom hierop neer : ek behoort aan die brand te wees in die gees, maar in werklikheid is ek aan die brand in die vlees, met wellus, luiheid, ledigheid, slaaploosheid. Miskien is dit omdat julle ophou bid het vir my, dat God weggedraai het van my...Vir die laaste agt dae het ek niks geskryf nie, nie gebid of gestudeer nie, deels weens my eie soeke van genot, deels weens nog ‘n tergende hindernis [hardlywigheid en aambeie]... Ek kan dit regtig nie meer langer uithou nie... Bid vir my, ek smeek jou, want in my afsondering hier word ek oorweldig deur my sonde.”

Onthou net hierdie brief kom uit die tyd toe Luther besig was met die reuse werk om die Nuwe Testament in Duits te vertaal. Mens kan nie anders as om getref te word deur Luther se pynlike eerlikheid oor sy innerlike stryd nie! (Natuurlik is daar kwaadwillige vyande van Luther wat vandag nog hierdie bekentenisse probeer gebruik om hom in diskrediet te bring.)

Wat leer ons as gelowiges hieruit? Versoekings, beproewinge, aanvegtinge, stryd en worsteling is deel van die proses wat God in ons lewens gebruik om Sy Woord beter te verstaan en beter toe te pas. Dis nie bloot net lastige hindernisse op ons pad nie, maar instrumente in God se vormingsproses met ons. Opsigself is hierdie dinge natuurlik nie lekker nie, maar dit het ‘n heerlike uiteinde en doelwit. “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God." (Hebr 12:11)

Vir 'n meer volledige skets oor Luther se merkwaardige en avontuurlike loopbaan, kliek op LUTHER 500.

(Erkenning aan die uitstekende biografiese skets van John Piper oor Luther. Kliek op LESSONS)

Woensdag 02 November 2016

AFSLAG IN DIE VAGEVUUR?

- Martin Luther se aanval teen die onbybelse sisteem van aflate word ‘n kernmoment van die Protestantse Reformasie.


Vanaf 1516 het Luther reeds van die Schlosskirche in Wittenberg se preekstoel die gevare van die aflaatstelsel begin uitwys. Volgens hom het dit mense aangemoedig om te sondig en hulle weggehou van ‘n ware kennis van God. Dit was ‘n baie dapper standpunt van Luther, want die universiteit waaraan hy verbonde was het befondsing ontvang van die Sclosskirche uit aflate gekoppel aan die enorme relikwieë versameling van die kerk. Frederik die Keurvors van Sakse het hom beywer vir die uitbreiding van die kerk en universiteit se versameling relikwieë. Die kerk het toestemming van die pous gekry vir die reg van volkome kwytskelding van sonde aan diegene wat die relikwieë sou besigtig en die voorgeskrewe fooi sou betaal! Die 1 ste November, All Saints day was die dag van die proklamasie.

Die kerk in Wittenberg het alreeds in 1509 ‘n verstommende versameling van 5 005 stukke relikwieë gehad waarvan die besigtiging ‘n mens se tyd in die vagevuur met 1 443 jaar kon verminder! (Die vagevuur is die plek van pyniging waarheen gestorwe Katolieke volgens die kerk se lering gegaan het om eers boetedoening vir hulle sondes te doen voordat hulle in die hemel toegelaat sou word) Teen 1518 het die getal relikwieë aangegroei tot 17 443 stukke. Dit het na bewering ingesluit ‘n sluier waarop daar bloedspatsels van Jesus was, ‘n takkie van Moses se brandende bos en ‘n stukkie brood van die laaste Avondmaal. Dat mense deur sulke bedrog mislei kon word gaan mens se verstand te bonatuurlik te bowe, maar as mens sien watter snert mense vandag nog glo, moet ons seker nie te haastig wees met ons kritiek nie...

Net ietsie meer oor die aflaatstelsel. Dis gebou op die Roomse idee van goeie werke en oortollige goeie werke. Volgens die Roomse kerk het Christus, Maria en die heiliges sonder sonde geleef. Hulle goeie werke word as ‘n skat in die hemel bewaar. Die gewone Christen se goeie werke is nie so baie nie en eindig gevolglik met meer sonde as goeie werke en daarvoor moes die sondaar in die vagevuur (purgatory) gestraf word voordat hy gereed sou wees om in die hemel toegelaat te word. Deur aflate te koop en deur die mis te sê kon vriende en familie hulle geliefdes se tyd in die vagevuur verkort! Net deur pouslike goedkeuring kon die meriete van Christus en die heiliges oorgedra word aan lewendes en dooies. Hierdie konsep het klaarblyklik in die tyd van die Kruistogte ontstaan. Onnodig om te sê dat die Roomse kerk hierin ‘n reuse geleentheid gesien het om geld te maak uit bygelowige mense wat die Skrif nie geken het nie!

Luther wat op hierdie stadium reeds tydens sy sogenaamde Turmerlebnis die ware evangelie ontdek het, kon nie meer stilbly oor die aflaatstelsel nie. Hy het sy tyd om op te tree, baie goed gekies. Johannes Tetzel, ‘n uitstekende smous en Dominikaanse monnik was besig met ‘n groot veldtog om aflaatbriewe in Duitsland te verkoop en was nou net oorkant die rivier naby Wittenberg. Hy was baie suksesvol met sy gladde mond en het die mense verseker : “Wenn das Geld im Kasten klingt, die Seele aus dem Feuer springt” *

As mens besef wat die regte rede agter die entoesiastiese verkoop van die aflate was, laat dit jou met nog groter weersin in die skrikwekkende toestand van die kerk van destyds en nog groter bewondering vir Luther se mannemoed.

Albert van Brandenburg, ‘n edelman uit die ambisieuse Hohenzollern familie moes ‘n klomp geld uithaal om die aartsbiskop van Mainz te word! Ja, kerklike ampte is verkoop! Hiervoor het hy geld by die Fuggers, die ryk bankierfamilie van Augsburg geleen. Pous Leo X het hierin ‘n geleentheid vir groot geldmaak gesien om sy bouwerk van die St. Peters Basilika in Rome te befonds. Aangesien Albert op die ouderdom van 23 te jonk was om een bisdom te beklee, maar nou oor twee bisdomme was, het die pous 12 000 dukate geëis in plaas van die gebruiklike 10 000. Die verkoop van aflate sou die nodige geld kon genereer. Daar is ooreengekom dat die wins uit die verkope van die aflate om die helfte gedeel sou word tussen Albert en die pous. Met hierdie agtergrond kan mens nou beter verstaan waarom Luther party mense so bitterlik omgekrap het...

Op die vooraand van All Saints Day, op 31 Oktober 1517 het Luther 95 stellings teen die deur van die kerk in Wittenberg vasgekap. (Oor die presiese datum van hierdie gebeurtenis is daar nie altyd heeltemal duidelikheid nie.)** Dit was nie maar net ‘n oppervlakkige protes teen uitbuiting nie, maar ‘n aanval op die fondasies waarop hierdie bedenklike praktyk berus het. Hierin het hy onder andere gesê : “Die ware skat van die kerk is die mees heilige evangelie van die heerlikheid en die genade van God.” (62) Hy het ook die ware aard van die aflate ontbloot toe hy gesê het : “Die skatte van aflate is nette wat nou hengel vir die rykdom van mense” (66) Luther het ook ‘n bytende aanval op die pous se motiewe geloods. “ Waarom maak die pous nie die vagevuur leeg ter wille van heilige liefde nie as hy ‘n onbeperkte aantal verlos ter wille van blote geld vir ‘n basilika of vir sulke nietige redes?” (82) Luther se siniese aanval is baie duidelik, as die pous mos inderdaad die mag het om mense uit die vagevuur te verlos soos hy beweer, hoekom dit dan nie volledig doen op grond van die liefde nie, waarom probeer hy dan geld daaruit maak?

Dis duidelik, Luther het nou ‘n bom laat bars wat hom op ‘n pad van konfrontasie met die Roomse kerk geplaas het en die vonk was wat die Reformasie uiteindelik al sterker sou laat brand. Volgende jaar sal dit presies 500 jaar wees sedert hierdie gebeurtenis en het ons rede om fees te vier, maar ook weer te besin of ons vandag nou by die suiwer evangelie hou en nie ook maar stelselmatig in onskriftuurlike praktyke verval het nie.

*As die geld in die kassie klingel, spring die siel uit die vuur!

**Professor Reinhard Schwarz : Dass Luthers Thesen in Wittenberg angeschlagen wurden, ist gar nicht zu bezweifeln. Ob am 31. Oktober oder einige Tage später, ist nicht so wichtig. Viel wichtiger sind zwei andere Tatsachen.

Erstens: Am 31. Oktober 1517 hat Luther einen Brief an den Kirchenfürsten Kardinal Albrecht, Erzbischof von Magdeburg und Mainz, geschrieben. Er trug in Deutschland die Hauptverantwortung für die damals laufende Ablasskampagne. Dieser Brief ist sogar im Original erhalten. Ohne Scheu vor bischöflicher Autorität, die sich hinter der angeblichen apostolischen Sukzession der Bischöfe verschanzen konnte, fordert Luther in diesem Brief, dem er ein Druckexemplar seiner 95 Thesen beilegte, den Kirchenfürsten auf, in pastoraler Verantwortung für die Gläubigen mit dieser Ablassgeschichte schleunigst Schluss zu machen.

Das Datum dieses ungewöhnlichen Briefes gibt uns noch eindrücklicher als ein Wittenberger Thesenanschlag Anlass, den 31. Oktober als Reformationsgedenktag zu begehen.

Zweitens: Die 95 Thesen wurden schnell in Deutschland bekannt, weil sie Luther auch an auswärtige Universitätskollegen verschickt hat. Was die Zeitgenossen aufmerken ließ, war der Inhalt der Thesen. Der Inhalt hat bis heute nicht an Aktualität verloren.

Denn Luther kritisierte nicht nur jenen Ablass gegen Geldalmosen. Seine Kritik richtete sich letztlich gegen jede Art von Ablass, auch gegen die Formen, die noch heute in der römisch-katholischen Kirche mit päpstlichem Segen praktiziert werden, so zum Beispiel im Jahr 2000, als das sogenannte Römische Jubeljahr gefeiert wurde, oder wie im Jahr 2005 beim Kölner Weltjugendtag. Kirchlich registrierbare fromme Teilnahme an diesen Feierlichkeiten war Voraussetzung für den Empfang des Ablasses, und das heißt für den Empfang einer religiösen, kirchlich verbürgten Entlastung von Gottes zeitlichen Sündenstrafen, von denen der Gläubige sich zu diesem Zeitpunkt belastet fühlte.

Nach reformatorischem Verständnis jedoch wird dem Glaubenden durch das Evangelium ohne jede Vorleistung uneingeschränkte Vergebung zuteil. Er erfährt Versöhnung mit Gott.