BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Verganklikheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verganklikheid. Wys alle plasings

Donderdag 19 Maart 2020

GOD EN SIEKTE


- DIE TOEKOMSTIGE VERLOSSING VAN ONS LIGGAME IS ‘N HEERLIKE WERKLIKHEID! 



Die algemene opvatting onder baie mense behels die volgende: “Die duiwel maak mense siek en God maak mense gesond. Die duiwel laat mense doodgaan en God maak mense lewend." Die gevolgtrekking of implikasie is dan dat as iemand siek word en doodgaan, het die duiwel gewen en as iemand gesond word en hy lewe het God gewen. So baie keer wen die duiwel dus met kanker, motorongelukke, Wuhan griep… “Maar”, word beweer “as ons net die regte formule ken om lewe te spreek en as ons geloof net sterk genoeg is hoef ons nooit siek te word of in ‘n ongeluk te kom nie…” 

Is dit wat die Skrif leer? NEE! Nou wat leer die Skrif? Kom ons kyk net na drie perspektiewe uit Romeine 8:18-25 betreffende die skepping en die nuutmaking van die skepping (ons ingesluit): 

1.God het die hele skepping aan verganklikheid onderwerp. Dis nie die duiwel wat besluit het dat daar iets soos siekte, veroudering en dood moes wees nie. Dis God! Dis Sý straf op die sondeval. “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.” (Romeine 8:20) God se waarskuwing aan die mens was mos baie duidelik – “as jy van hierdie boom eet sal jy sterwe.” Verder was deel van die straf dat die hele aarde vervloek is weens die mens. “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie--vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” (Genesis 3:17) God is in beheer van als. Ook van ons liggame wat Hy geskape het, “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?" (Eksodus 4:11) 

Belangrik egter : 

Die feit dat siekte die gevolg van die sondeval is beteken nie noodwendig dat alle siekte die gevolg van ’n persoonlike sonde is nie. 

In Johannes 9 kry ons die geval van die blindgeborene. Die dissipels wou dadelik die afleiding maak dat sonde die aanleiding was vir hierdie man se blindheid. Jesus gee egter ’n totaal ander perspektief wat die dissipels lekker in die bek ruk! 

“En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? 
Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Joh. 9:2,3) 

Daar is verskeie perspektiewe op siekte in die Skrif. Soms is siekte selfs as gevolg van uitputting in die werk van die Here. “Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. 
Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. 
Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. 
Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. 
Ontvang hom met oop arms as ‘n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, 
want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie."  (Fil. 2:25-30) 

In sekere gevalle kan siekte en ellende die gevolg wees van demoniese invloed. (Veral waar mense by die okkulte betrokke was.) Jesus het op ‘n keer ‘n vrou genees en dit blyk duidelik dat haar siekte ‘n demoniese oorsprong gehad het, want ons lees : “Daar was ook ‘n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ‘n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.” (Lukas 13:11) 

Inderdaad kan God siekte ook as tugtiging gebruik in die lewe van sy kinders. Dit word geïmpliseer in Jakobus 5:14,15. “As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.” Dat God siekte en selfs dood kan gebruik om sy eie kinders te tugtig kom ook treffend na vore waar Paulus met die Korintiërs praat oor die belangrikheid om die heiligheid van die nagmaal ingedagte te hou – “Elkeen wat op ‘n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. 
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, 
want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself. 
Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. 
As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. 
Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie." (1 Korintiërs 11:27-32) 

Die punt is, pasop daarvoor om simplistiese verklarings vir siekte te gee! En onthou daar is net een Almagtige Regeerder van die heelal!

2.Die hele skepping sal eendag van hierdie verganklikheid bevry word. “die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.” (Romeine 8:21) God belowe ‘n nuwe hemel en nuwe aarde waar daar nie meer sonde, swaarkry, siekte, en dood sal wees nie. Die wortels van hierdie belofte vind ons reeds in die Ou Testament. “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, in my diens sal staan, sê die Here, so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.” (Jesaja 66:22 ) Dis ‘n eksplisiete waarheid in die Nuwe Testament en nie net in Openbaring nie! Ook Petrus praat hiervan. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” (2 Petrus 3:13) Ons toekoms is nie hier op hierdie stukkende aarde nie Ons beste tyd is nie nou nie, maar eendag! Alle siekes gaan nie nou genees word nie. Daar is geen reseppie om alle siekte te vermy of die dood te systap nie. Raak realisties en moenie jou ore uitleen vir die (kliek) spreek lewe dwaling nie. Moenie dink daar is ‘n geheime formule om altyd gesond te bly nie. Ja, natuurlik soos in die geval van alle gebrokenheid in die skepping mag ons alle moontlike wettige middele gebruik om siekte te bestry. Ek sê wettig – want daar is ook ongeoorloofde middele – soos die okkulte. En terloops, baie sogenaamde alternatiewe geneesmiddel is niks anders as versuikerde okkultisme en duisternis nie! (Die duiwel buit hierdie drang om gesond te wil wees uit en so kry hy juis mense nog verder in sy mag…) Maar daar is wel geoorloofde middele wat ons mag gebruik om siekte te bekamp. Paulus se raad aan Timoteus wat klaarblyklik dikwels siek was is veelseggend. “Moenie langer net water drink nie. Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.” (1Timoteus 5:23) Wyn is beskou as medisyne. Volg ‘n gesonde leefstyl met die regte oefening en voedsame kos. Maak gebruik van die mediese wetenskap. Die Bybelis positief oor die mediese wetenskap - een van die Nuwe Testamentiese skrywers, Lukas was 'n dokter.  En natuurlik gebed! Gebed saam met behandeling. (Ons het dit reeds gesien in Jakobus) Deur gebed erken ons ons Vader se soewereine beheer en stel ons ons hoop op Hom om vir ons te sorg (en te genees) volgens Sy wil! 

Ons besef hierdie wêreld is gebroke en stukkend en verlang daarom veral na die toekomstige bedeling wat God beloof het!

3.Ons liggame gaan ook eendag bevry word. God se kinders sien uit na die verlossing van hulle liggame, die volle uitwerking van die aanneming tot kinders. “En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.”*(23) Ons sug as’t ware saam met die res van die skepping. Daar leef by ons ‘n sterk verlange na die bedeling van geestelike en liggaamlike volmaaktheid! Dis ‘n verdere bewys dat ons nie nou reeds liggaamlike volmaaktheid geniet nie. Wanneer gaan dit gebeur? Dieselfde tyd wanneer hele skepping nuutgemaak sal word. Dit gebeur nie nou al nie. Daar is ‘n bepaalde orde in God se herstel; eers geestelik dan fisies. (Dieselfde volgorde was waarneembaar net na die sondeval – dit het eers geestelike dood veroorsaak, daarna fisiese dood.) 

KORONA VIRUS EN WUHAN GRIEP 

Tot met Jesus se wederkoms sal siekte (ja ook virusse!) met ons wees en word alle mense (ook God se kinders) daaraan blootgestel. 

Jesus bring ‘n omvattende en heerlike verlossing. Hy herstel nie net sondaars nie, Hy maak die hele skepping nuut! Hy red nie net siele nie, Hy verlos uiteindelik die totale mens – ook ons liggame! As totaal nuutgemaakte en volmaakte mense sal ons op ‘n nuwe aarde woon. Dis ons vaste hoop. Die hoop wat ons nie nou al sien nie, maar geduldig en volhardend op wag! Dit maak ons bly ook in die tye waarin ons ons nou bevind. (Romeine 8:25) 

Met Jesus in jou lewe het jy ‘n TOEKOMS al is jy nou sieklik of gebreklik. Sonder Jesus is jy gedoem al is jy topfiks en blakend gesond!


*So in die OAV wat ‘n direkte weergawe is van die Grieks - την  απολυτρωσιν  του  σωματος ημων (die verlossing van ons liggame) Ek verkies dus die OAV hier bo die NAV.


Vrydag 02 Januarie 2015

KYK NA DIE SKAAL

- en kry hoop vir 2015 en nog verder!

Aan die begin van die jaar het ons almal tog maar sekere verwagtinge of planne, al stel ons dit nie formeel in vaste nuwejaarsvoornemens nie... Jy wil dalk hierdie jaar jou huis klaar renoveer, vasbyt en ’n nuwe motor koop, jou boerdery uitbrei, weer studeer, aandag aan jou liggaam gee en begin fiks word... Of moed bymekaar skraap en vir die meisie begin kuier wat jy al lankal in die oog het, dalk trou, ‘n gesin begin... Met al hierdie planne en projekte is daar natuurlik niks verkeerd nie en as kinders van God kan ons ook sy seën vra op hierdie dinge. (mits dit binne sy geopenbaarde riglyne en wette geskied) Tog is daar een demper, een vals noot, een lang skaduwee wat nie ontvlug kan word nie.... VERGANKLIKHEID! Alles en almal is verganklik, als word oud, gaan tot niet, raak stukkend of sterf... ! Als en almal sal vergaan! Eendag word die nuwe huis ‘n murasie, iewers word die gesondste liggaam siek, alle geliefdes word net tydelik aan ons geleen voor die dood hulle kom wegvat... (Dis weer persoonlik vir my die onderstreep, toe ek die afgelope vakansietyd vier begrafnisse moes hanteer...) 

Vir die hartseer werklikheid van nietigheid, tydelikheid en verganklikheid het net die Bybel ‘n troosvolle boodskap. Die Bybel leer daar is ‘n onverganklike erfenis wat eendag vir God se kinders wag! As ek wedergebore is, is ek ‘n kind van God. As kind van God is ek ‘n erfgenaam! “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” (Romeine 8:17) 

HOE LYK DIE ERFPORSIE?

Die erfenis wat vir God se kinders wag behels twee groot sake volgens Romeine hoofstuk 8 :

~ die hele skepping gaan tot volmaaktheid herstel word.

~ God se kinders gaan tot volmaaktheid herstel word.

1) DIE SKEPPING gaan volmaak herstel word.

God gaan sy hele stukkende skepping weer vernuwe en heelmaak tot iets beter as wat dit ooit was! Die hele skepping gaan weer voldoen aan sy oorspronklike plan. Dit gaan weer “goed” wees in die oortreffende trap! (Daar is twee beduidende uitsonderings : die afvallige engele m.a.w. Satan en sy demone en mense wat die evangelie van Jesus nie aanvaar het nie, sal nie deel wees van hierdie herstel nie, maar onder die ewige toorn van God ly.) Hoekom moet die skepping herstel word? Die eenvoudige rede is - hierdie skepping is tans nie soos God bedoel het dit moet wees nie. Dis vol ellende en verganklikheid. Ons sien die gevolge in alle vorme van verwoesting en dood... van die besoedeling van ons oseane, uitroei van woude tot by die grusame stroping van renosters... Waar kom dit vandaan? Wat is die diepste oorsprong van al hierdie euwels en ellendes? “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.” (Romeine 8:20) God het dit gedoen - God het hele aarde vervloek as gevolg van die sondeval! Die mens se straf het gelei tot die vervloeking van die hele skepping. Die skepping ly direk en indirek onder die gevolge van die mens se rebelllie! Maar net so, die mens se verlossing deur Jesus lei weer tot die hele herstel van die hele skepping. Anders gesê: Jesus se verlossingswerk het geweldige implikasies, kosmiese implikasies - dit lei tot die herstel van mens sowel as die ganse skepping. Jesus se bevrydingswerk lei daartoe dat ons en die skepping herstel word tot God se oorspronklike bedoeling, nl. om in volmaaktheid eer aan God te bring. Die skepping sien met gespanne verwagting hierna uit, sê Paulus deur die treffende stylfiguur van personifikasie! “Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.” (Romeine 8:19-21) 

Die ellende wat ons nou in die skepping sien en in die alledaagse lewe ervaar is nie God se bedoeling nie. God gaan dit nie daar laat nie. Die skepping weet dit as’t ware en verlang na die herstel wat God gaan bring. Die nuwe hemel en die nuwe aarde. Hoe dit presies gaan lyk weet ons nie. (beslis nie minder mooi as die huidige nie) Wat ons wel weet, die nuwe hemel en nuwe aarde is die plek waar volmaakte harmonie sal heers, waar geregtigheid sal woon, waar God se wil volkome sal geskied! ( 2 Petrus 3:13)

2) GOD SE KINDERS gaan volmaak herstel word.

As iemand Jesus as Verlosser aanneem, dan word hy volledig vrygespreek van alle skuld, volledig vergewe deur God, volledig deel van God se volk. Ons verlossing is vas en seker en afgehandel. Maar in ‘n sekere sin is ons verlossing nog nie voltooi nie. Ons liggame is nog steeds aan verganklikheid onderworpe. Ja, wat ons liggame betref leef ons nog steeds onder die vloek van die sondeval. Daarom word kinders van God siek, daarom is ons vol gebreke en skete, gaan ons liggame daagliks agteruit en sterwe ons uiteindelik. Ons leef nog in ’n onvolmaakte wêreld; daarom beleef ons hartseer en lyding. Om hierdie rede is daar by die kinders van God ’n verwagting en versugting dat ons verlossing voltooi sal word. Net soos by die skepping is daar ’n hoopvolle versugting by God se kinders na ’n volmaakte bedeling.’n Versugting en ’n uitsien na die volle heerlikheid wat nog openbaar moet word. God se kinders kan met reg uitsien na die volle verlossing. 

Wat behels hierdie volle verlossing waarna ons kan uitsien? Die verlossing van ons liggaam! (Romeine 8:23 OAV vgl. ook NIV) God se kinders gaan volmaakte verheerlikte liggame ontvang, bevry van alle verganklikheid en sondigheid. Sonder skete en kwale, sonder siekte en ellende, sonder smart en dood. Sonder enige sonde! Ons weet nie nou al presies hoe hierdie liggame sal wees nie, maar ons kry ‘n belangrike leidraad in Filippense 1:20-21, waar ons lees : “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” Ons gaan liggame hê soos Jesus se verheerlikte opstandingsliggaam. ‘n Liggaam, maar ‘n liggaam sonder beperkings en gebreke!

Wat ’n heerlike toekoms wat wag vir elkeen wat aan Jesus Christus behoort. Ons gaan nie spoke wees wat op wolke ronddryf nie, maar mense met volmaakte liggame wat God gaan bewonder in ‘n nuwe skepping!

Wat is die praktiese funksie van hierdie heerlike waarheid wat Paulus hier in Romeine 8 bespreek? Dis bedoel as troos en aanmoediging vir God se kinders wat nou swaarkry weens hulle geloof! “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie." (Romeine 8:18) Daar wag vir God se kinders ‘n heerlike toekoms wat ons huidige hartseer, pyn en ellende na niks sal laat lyk!



Paulus se woorde hier bring ’n skaal in mens se gedagte. (daardie balansseerskale) Dis asof hy wil sê : Kyk ’n bietjie na die skaal. Pak op aan die eenkant al die lyding, hartseer, vervolging... (ja, dit wat ons nou beleef is erg...) Maar pak nou op die anderkant van die skaal die heerlikheid wat vir God se kinders wag.... die volmaakte skepping, volmaakte liggame sonder gebreke, letsels of beperkings. Geen brille, pille of krukke. Geen emosionele pyn of hartseer. Volmaakte paradysgeluk en harmonie. Kyk hoe staan die skaal nou!

Op hierdie heerlikheid hoop ons met volharding, want God wat nie kan lieg nie het dit beloof! As die glans van hierdie heerlikheid vir ons deur die geloof ‘n werklikheid word, dan verdof ons swaarkry amper tot iets byna niksseggend in vergelyking met hierdie heerlikheid wat wag. 

Kyk na die skaal en kry perspektief! Mag die werklikheid van hierdie skaal ook vir jou perspektief gee op die onbekende 2015 wat wag... onthou dit veral in tye van swaarkry, pyn, onreg, vervolging, ellende... Maar maak veral seker dat jy ‘n erfgenaam van God is!




[Die voormalige spogdorp, maar nou spookdorp, Kolmanskop is 'n sigbare simbool van verganklikheid.]

Donderdag 26 Julie 2012

FEIT : DIE TYD IS MIN!

- herrangskik jou prioriteite.

1 Korintiërs 7:29 verklaar : “Die tyd is min.”  Dis ’n vaste feit. Dis onomstootlik waar. Dit geld vir elkeen van ons. Dis  waar in ten minste twee opsigte :

Ons lewens is kort en onseker en kan enige oomblik tot ’n einde kom. Die Bybel is realisties as dit ons leer dat die lewe maar ‘n kortstondige dampie is. (Soos daardie stoompie by die ketel se tuit wat so vinnig verdwyn.) Ons lewe is soos veldgras wat gou na die laaste reëns verdor.

Die Wederkoms van Jesus is voor die deur. Dis waarskynlik veral wat Paulus in hierdie konteks bedoel. Ons lewe in ’n unieke tydsgewrig in die geskiedenis. Die laaste dae.* Die koninkryk van God het naby gekom. Dis die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Die wêreldgeskiedenis spoed nou voort na ’n beslissende einde... Dis nou die tyd van keuse, wat ons ewigheidsbestemming bepaal. Dis ‘n tyd van geleentheid, maar ook ‘n gevaarlike tyd. Vervolging, versoeking en verleiding... Ons moenie nou kop verloor nie, ons durf nie van koers af gaan  nie...

Die tyd is min. Hierdie aardse bestaan en bestel gaan binnekort vir altyd verby wees.  Dis die groot agtergrondsfeit wat ons hele bestaan hier op aarde kleur.  Hierdie feit behoort  al ons keuses te beïnvloed. Waarmee ons ook al besig is - dis die waarheid wat ek altyd hier in my agterkop moet hou. 

Wat is die regte houding in hierdie tyd?  Paulus sê vir ons baie duidelik wat ons benadering en houding in hierdie tyd moet wees.

Paulus praat hier in 1 Korintiërs 7 oor verskeie vrae rondom  die huwelik. Hier maak hy amper ‘n terloopse opmerking, maar wat diepgaande besinning van elkeen van ons vra. Volgens Paulus se  persoonlike gevoel was dit  beter om nie te trou nie. Hy sê nie dis verkeerd om te trou nie, maar “as jy getroud is”, sê Paulus,  moet jy “leef asof jy nie getroud is nie.”  Sjoe, dis radikaal! Wat sou hy bedoel? Die huwelik is tog die intiemste en belangrikste verhouding waarin mens op aarde staan.  Dis goed en mooi en reg en deur God self ingestel. Paulus self teken die belangrikheid daarvan o.a. in Efesiërs 5.

 So wat wil Paulus eintlik sê? Selfs nie eers iets so belangrik soos die huwelik moet ons aardse bestaan oorheers nie. Ons mag nie opgaan in die huwelik  asof dit nou die essensie van die lewe is nie. Dis baie waardevol maar ons lewe moenie daarom draai nie. Die huwelik,  hoe goed ook al is nie die einddoel of sin van die lewe nie. Ons harte moet los wees van selfs ons kosbaarste verhouding op aarde. Dis wat die dringendheid van die  tyd van ons eis. Die Here Jesus en sy Koninkryk is belangriker selfs as die intiemste en wonderlikste verhouding. Daar is nou iets groter en belangriker, selfs as die  huwelik. Dis om gereed te wees vir die koms van Jesus. Dit gaan hier oor die beginsel van ondergeskikte prioriteit. Daar is baie wonderlike en belangrike dinge, maar een saak is belangriker as alles. Alles is minder belangrik as  hierdie een belangrike saak nl. Die Koninkryk van God. As hierdie beginsel geld vir iets soos die huwelik geld dit onteenseglik ook vir al die fasette en terreine van ons lewe.

Paulus gaan nou  verder en noem voorbeelde van dinge wat belangrik is, maar wat nie ons lewens totaal moet bepaal of in beslag neem nie. Dis dinge waarby ons as mense noodwendig  betrokke sal wees, maar waarvoor ons moet pasop dat dit nie ons lewens sal oorheers nie. Ons harte moet los wees van hierdie dinge al is dit nie opsigself slegte dinge nie.....

Kom ons kyk na die sake wat hy hier aanraak:

Hartseer. (“Dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie.”). Hartseer en droefheid  is deel van ons almal se lewens - ook kinders van God. Ons ondervind pyn, teleurstellings, mislukkings.... Dis nie verkeerd om te huil en bedroef te wees nie. En tog, die tyd is so dringend, Jesus se koms so naby, daar is soveel om vir die koninkryk te doen,  ons moenie gaan stilstaan by ons droefheid nie. Ons moenie gaan lê onder ons hartseer nie. Moenie vashaak by die seer van die verlede nie. Hierdie dinge mag nie al ons aandag in beslag neem nie. Dit mag nie al ons tyd en krag vat nie. Ons moet huil en klaar huil en aangaan om vir Jesus te leef. Hy sal wel eendag al ons trane afvee.

Vreugdes en plesier. (“Dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie.”) As mense is daar baie dinge wat ons bly en opgewonde maak. Dis nie verkeerd nie. God gee vir ons dinge om te geniet (1 Tim 6:17),  maar net soos die hartsere, mag die vreugdes nie ons lewe oorheers nie. Die tydelike vreugdes mag nie ons visie op die ewige Koninkryk verdof nie. Ons moet pasop dat ons smaaklike vreugdes nie ons aptyt bederf vir die feesmaal wat God vir sy kinders voorberei nie. Onthou alle vreugdes is maar vaal in vergelyking met die heerlikheid wat wag vir God se kinders. Ons harte moet dus los wees daarvan. Geniet dit wat God oor jou pad bring, maar die tyd is so kort, die Koninkryk kom eerste.

Normale werksaamhede.  (“Dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie.”) Alle mense moet werk om ’n bestaan te maak. Arbeid is ‘n seën. Om eiendom te mag koop en besit is ‘n Godgegewe voorreg. Arbeid en geld en besittings is dinge wat ons tydelik nodig het, maar dis nie die doel van ons bestaan nie. Ons lewe mag nie daarom draai nie. Ons hoofdoel is om God te ken, om sy heerlikheid raak te sien, om sy teenwoordigheid te geniet. Ons moet goed doen wat ons doen, maar die kind van God se hart moet los wees van alles, ook ons kosbaarste besittings. (Is dit regtig nodig om huise te bou met uitspattige luukshede wat nooit eers benut gaan word nie?)

Paulus gee in vers 31 ’n opsomming van wat hy bedoel.

“Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle niks daaraan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken,  is aan die verbygaan.” 

Christene is doodgewone mense. Dis onvermydelik dat ons net soos ander mense sal trou, hartseer beleef, vreugdes ervaar, werk....handel dryf ens. Maar omdat ons God se kinders is en daar ’n Koninkryk vir ons wag, mag hierdie dinge nooit ons hoofdoelwit word nie. Ons sal noodwendig besig wees met hierdie dinge, maar ons mag nie ons harte daarop verloor nie.  Dit sou dwaas en ondankbaar wees. Hoekom? Want hierdie wêreld gaan verby. Alles rondom ons is net tydelik. Die huwelik duur nie vir altyd nie, al die hartsere en vreugdes is net tydelik. Niks wat jy besit gaan  vir altyd joune wees nie. (Dit lyk asof selfs baie Christene dit vergeet en vir hulle paleise bou met die oog op 'n gewaande ewige aardse verblyf) Kinders van God, met 'n Bybelse gerigtheid verwag ’n beter bedeling. ‘n Permanente stad waarvan God self die bouer is. Kinders van God sien uit na ’n beter toekoms en dit bepaal ook hoe ons besit beskou en hanteer.

Die belangrikheid en die nabyheid van die koninkryk relativeer alle ander dinge. 

Dit maak alles minder belangrik. Omdat ons ’n beter bedeling en ’n beter Koninkryk verwag moet ons gefokus wees op onverdeelde toewyding aan God. Die kort tydjie wat  ons het moet benut word om :
~ God te ken.  Dis nou die tyd vir bekering.  Gebruik jy die kanse wat God gee om Hom werklik te leer ken?  Het jy al God se allesoortreffende heerlikheid besef? Is dit jou vreugde om Hom te bewonder en lief te hê?
~ God te dien.  “Soon this world will be passed, only what’s done for Christ will last” Die tyd is min, binnekort sal ons moet rekenskap gee. (2 Kor 5:10) Ook God se kinders sal verantwoording moet doen van ons dade. Wat het ek gemaak met tyd, kanse, geld en gawes? Kliek op RENTMEESTERSKAP)

Ons leef in ’n unieke tyd in die geskiedenis. Die einde van alle dinge is naby. Die wederkoms van Jesus is voor die deur. Dan sal die groot sifting plaasvind. Die skape sal van die bokke geskei word. Die tyd is kort. Dis nou nog genade tyd. Dis nou die tyd van beslissing. Dis nou die tyd om Jesus te omhels en om jou volkome aan Hom toe te wy. Daarom is alle ander dinge ondergeskik en minder belangrik!


*Kliek op die reeks, MAAK OOP BY OPENBARING vir ‘n volledige bespreking van die Laaste Dae.

Hierdie preek uit 1 Korintiërs 7 het ek by een van die mees uitstaande Godsmanne, die Skot,  Robert Murray M’Cheyne gekry.

Dinsdag 17 Julie 2012

ROLTRAPPE EN RUÏNES

- Rip van Winkel op Rundu.

Dit was my heerlike voorreg om verlede maand 'n reeks Pinksterdienste op Rundu in die Kavango waar te neem. Rundu was my eerste gemeente (1991-98) en die dorp en sy mense langs die pragtige Kavango rivier sal altyd ‘n spesiale plekkie in my hart hê. Dit was aangenaam om weer daar te kom, die Woord te deel, ou kennisse te sien en Vic en Milly Basson se gasvryheid te geniet. 

Maar dit was ook weer ‘n tyd van nadink, besin en herkou... Toe ek Rundu binnery in kruipende verkeersdrukte (ja, glo my!), het ek so ‘n amperse Rip van Winkel gevoel beleef. Rundu is nie meer ‘n veraf voorpos van die beskawing langs ‘n rustige rivier nie. Dis nou ‘n polsende stad. Rundu het ingrypend verander! 

Die vooruitgang op Rundu die afgelope dekade of wat is baie opsigtelik : nuwe moderne geboue, roltrappe en robotte.  Dit woel en werskaf, ‘n reuse nuwe mark word opgerig...  Die stofstraat voor die voormalige ENOK woonstelle waar ek gebly het, het onlangs ‘n splinternuwe teerstraat geword. 

Maar daar is ook minder aangename veranderings : die skrikwekkende uitroei van pragtige inheemse bome (selfs teen die skuins walle langs die vloedvlakte word dit ontbos), die verspreiding van uitheemse indringerplante, verwaarloosde tuine (mense wat die dorp nog van “army” dae geken het, sal in hulle wortels geskok wees), die hope vullis  in die strate...


Ek gooi ‘n draai by die ROK  van ouds. (Vir die wat Rundu nie ken nie, dit was die bekende Rundu Ontspanningsklub) Almal in Rundu het dié kuierplek geken, geleë op ‘n pragtige hoogte wat uitkyk oor die rivier. Vir party was dit eintlik iets baie meer as net ‘n kuierplek... amper ‘n bestaanswyse of dalk ‘n ontvlugtingsoord. Nou is dit onooglik en verwaarloos. In die proses om 'n volwaardige ruïne te word. Eintlik pateties, tragies... Ek kyk binne in. Die kroegtoonbank is nog daar, ‘n leë stilte klink in jou ore. Die plafon val inmekaar. Louw Potgieter se pragtige skildery op die muur by die ingang is swart bekrap. Rommel en nogmaals rommel... Die vergane glorie van die ROK is vir my simbolies van die mens se tydelikheid en gebrokenheid. Van verkeerde keuses en geleenthede wat vir altyd verby is. Dis hartseer om te sê, maar sommige van die gereelde ROK besoekers het destyds toe ek hier in die bediening was, hulle eie praatjies bo die Woord gekies. Nou is die ROK stil, uitgedien... en  van sy voormalige besoekers is nie meer met ons nie.

“Here, alles vergaan, maar U Woord bly ewig staan.”

Gelukkig kon ek die vreugde beleef dat daar nou nog op Rundu mense is wat begerig die Woord van God indrink en selfs op weeksaande moeite gedoen het om te kom luister. Dit was vir my heerlik om die kosbare Woord van God aan julle te bedien. Mag ons weet, dat elkeen wat na Jesus en sy Woorde luister en dit doen, sal wees soos die man wie se huis op die rots gebou is. So ‘n huis sal die storms van die tyd, verganklikheid, vervolging en die Laaste Oordeel deurstaan en permanensie kry in God se ewige Koninkryk. Wie bou op die valse sekuriteit van rykdom, losbandigheid en die najaag van selfgesentreerde ambisies se lewenshuis sal verkrummel tot ‘n bouval soos die ROK. Dis ‘n skrikwekkende werklikheid, wat selfs in hierdie lewe al in sommige gevalle  met die blote oog sigbaar is...

Rundu en omgewing het baie blyplek van goeie gehalte: Kavango River Lodge, Omashare River Lodge, Sarasungu River Lodge, Ngandu Safari Lodge, Kaisosi River Lodge...  Maar enige aardse verblyf en menslike akkommodasie is net tydelik. Maak seker van jou ewige blyplek. Dis die huis van die Vader waar Jesus vir ons woonplek gereed gemaak het deur sy genoegsame versoenende sterwe. Weet jy hoe om daar te kom? Wel, dis eenvoudig, Jesus self is die pad daarheen, Hyself is die volledige waarheid, Hy in Homself  is die lewe. (Johannes 14:6) Wie Jesus aangeneem het, deel in die volle pakket van ewige vreugdevolle verblyf.  Die woonplek waarheen Hy ons gaan neem as Hy sy mense kom haal is ‘n  onverganklike woonplek, volmaak in die heerlike teenwoordigheid van God. Anders as die ROK kan dit nooit ‘n ruïne raak nie...

Naskrif

Die tydelikheid van ons bestaan is nog verder onderstreep, toe die jarelange en getroue tuinwerker van die kerk, Irenaeus juis in die tyd van Pinkster, oorlede is.


Kroegtoonbank ROK


Muurskildery by die ROK



Die Kavango het die pragtigste inheemse boomsoorte. 
Een van my gunstelinge is die Baster Mopanie.
(Guibourtia coleosperma)


Van kosbare bome word pale gekap en met vragmotors weggery.



Moderne geboue op Rundu