BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Wanhoop. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wanhoop. Wys alle plasings

Vrydag 15 April 2016

AS EK REEDS ALS PROBEER HET...

en niks of niemand kon my help nie, dan is HY nog steeds daar...


Ons het verlede Sondag gekyk na die noodsaaklikheid om na Jesus te kom en so die lewe by Hom te kry. Dis nie genoeg om die Bybel te lees en te ken nie, die Bybel wil ons juis na Jesus lei. (kliek op BLINDE BYBELLESERS) Miskien weet jy dis die enigste oplossing om na Jesus te kom, maar daar is baie dinge wat jou laat terugdeins. Baie dinge het nou al in jou lewe gebeur wat jou moedeloos of bang laat voel om na Jesus te kom. Ek hoop dat jy deur hierdie wonderwerk van Jesus (waarvan ons lees in Matteus 17:14-21) jou sal oortuig dat jy regtig maar kan kom! Dat jy met kinderlike vertroue na Jesus sal kom, vandag nog.

Jesus keer terug van die berg van verheerliking. (1-8) Daar het die stem uit die hemel sy Goddelike majesteit bevestig! “Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom." (5) Die Goddelike heerlikheid en gesag van Jesus wat so helder geskyn het in die teenwoordigheid van Moses en Elia op die berg word nou getoets en gelukkig bevestig in die harde werklikheid van ‘n stukkende wêreld waar die duiwel verwoesting saai! 

Jesus en sy drie leier dissipels is nou weer terug by die mense en hier kom kniel ‘n man voor Hom. Dis duidelike dat hy ‘n groot nood het, dat hy desperaat is. Waarom is sy nood so groot? Hy het ‘n seun wat geestelik versteurd is en in ‘n toestand van uiterste ellende verkeer. Hierdie is nie maar net ‘n gewone siekte of versteuring nie, maar die direkte werk van ‘n bose gees. ‘n Seun vasgevang in die greep van Satan. (Terloops, alle mense wat aan epilepsie ly of ‘n versteuring het is nie noodwendig van ‘n bose gees beset nie) ‘n Mens kan jou die desperaatheid en die smart van die pa kwalik voorstel. Dit was al ‘n probleem wat ‘n lang pad gekom het. “Jesus het vir die pa gevra: "Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?" "Van kleins af," antwoord hy, "en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak.” (Mark 9:21-22) Om alles te vererger het die gees hom stom en doof gemaak (Mark 9:25), so jy kon nie eens met die seun ‘n sinvolle gesprek voer om te probeer vasstel wat die probleem is nie.

Asof alles nie reeds erg genoeg is nie, het hierdie man tevergeefs sy seun na die dissipels gebring, hulle kon hom nie help nie. “Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie." (16) Dink net die geweldige teleurstelling! In effek het hulle hierdie seun tot ‘n ongeneeslike geval verklaar. Wat ‘n ontmoediging! 

"BRING HOM NA MY TOE!"

Maar toe in die diepste donkerte van wanhoop, die helder stem van Jesus : “Bring hom na My toe!” Toe die seun na Jesus self gebring word, moet die duiwel die onderspit delf en die hasepad kies. 

Teen die mag en majesteit van Jesus het die duiwel geen kans nie! 

Twee troosvolle feite kom na vore:

  • Jesus se almag en gewilligheid om mense uit die mag van die duiwel te verlos! 

Jesus bevry hierdie seun van ‘n bose gees en hy word ook genees. Hier is hoop vir sondaars. Alle sondaars is weliswaar nie besete nie, maar alle sondaars is onder die mag van die bose. (Ef 2:1-3) Alle onbekeerdes is maar slawe van satan, of hulle dit besef of nie! Maar Jesus kan en wil sulke slawe bevry! Miskien is jy moedeloos oor jou toestand... jy’t al alles probeer om vergifnis en vrede te kry, maar dit ontwyk jou steeds. Jy het al alles geprobeer om van verkeerde gewoontes en verslawing vry te kom, maar dit teister jou nog steeds. Jy het al hulp en raad gevra by kerkmense, sielkundiges, psigiaters, predikante, pastore en profete en selfs professore, maar niks het gewerk nie... Jy is moedeloos, wanhopig, stukkend, verward... Vriend, hoor Jesus se woorde : Bring hom na My toe!”

WAAROM SOU JY NOG WANHOOP?

Moenie moedeloos wees nie, moenie wanhoop nie. Waarom sal jy moedeloos wees as daar ‘n almagtige God is? Waarom sal jy moedeloos wees terwyl hierdie almagtige God ‘n genadige God is? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus sy liefde vir jou, ‘n liefde tot die dood, reeds aan die kruis bewys het? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus uitgeroep het : “Dis volbring!” Waarom sal jy moedeloos wees terwyl Jesus self stukkendes en moedeloses soos jy uitnooi : ”Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is”? (Matteus 11:28) Waarom sou jy langer wanhoop en twyfel aan die krag van Jesus se genade as Jesus ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus, ‘n Maria Magdalena en ontelbare ander reeds gehelp en uit die mag van Satan bevry het?

  • Jesus openbaar sy reddende mag waar daar geloof is, al is die geloof opsigself maar baie swak. 

Geloof is die hand waarmee ons aan Jesus vashou en sy seëninge ontvang, die oog waarmee ons hoopvol na Hom kyk soos die Israeliete na die koperslang op die paal gekyk het en genees is van die gif! Die dissipels kon hierdie seun nie help nie en Jesus raas baie ernstig met hulle. Hy sinspeel met sy woorde in vers 17, “ongelowige en ontaarde geslag” op Deuteronomium 32:5,20 waar dit verwys na die volk Israel se ongeloof en verdorwenheid. Maar juis deur die Here (JHWH) se woorde in sy mond te neem wil Hy hulle laat verstaan dat dit die HERE self is wat nou in Hom (Jesus) na hulle kom. 

Jesus se dissipels het met hulle eie krag en gesag genesing probeer bewerk. Dit was hulle fout... Sonder geloof in Jesus kan ons niks vermag of verwag nie. Geloof is vertroue op Jesus en juis nie op onsself nie. Geloof self is maar gering soos ‘n mostertsaadjie, maar dit is gerig op Jesus en dis wat belangrik is. Dit gaan dus nie oor ‘n klein bietjie geloof nie (geloof kan tog nie gemeet word nie), dit gaan oor geloof in Jesus al lyk dit maar gering! Dit gaan nie oor die krag en kwaliteit van ons geloof nie, dit gaan oor in WIE ons glo. Die pa se houding soos ons dit in Markus kry verduidelik dit mooi. “"Ek glo," roep die seun se pa dadelik uit. "Help my in my ongeloof." (Markus 9:24) Sy eie geloof lyk vir homself maar gering, hy beskryf dit self as “ongeloof”... maar Jesus help hom, want die essensie van geloof is by hom aanwesig – hy kom na Jesus! Dis geloof – om na Jesus te kom, Hom te vertrou, al voel my geloof nie baie sterk nie! Moenie op die grootheid van jou geloof vertrou nie. Geloof kom in aksie wanneer jy met jou sondenood na Jesus kom en Hom vertrou om jou te vergewe en te red! 

Jesus het nie hierdie pa wat erken het dat sy geloof swak is, teleurgestel nie, Hy sal jou ook nie wegwys nie!

Geliefde, weet net dit: 

As al my eie pogings en probeerslae misluk het, as al die raad wat ek gekry het, gefaal het, as al die mense na wie ek opgekyk het, my teleurgestel het, dan is Jesus nog steeds daar, die magtige Verlosser, die Gesalfde van God, die Lam wat vir ons geslag is, die magtige Koning, die Helper van sondaars in nood!




Donderdag 07 Maart 2013

KOU JY GRUISKLIP?

- maak kopskoon saam met Klaagliedere en kry weer hoop. 



[Maak gerus jou Bybel self oop by Klaagliedere 3] 


Daar kom tye ook in die lewe van ’n gelowige dat dit werklik ellendig gaan…Alles loop skeef, alle hoop vervaag... die ergste is dat ek beleef dat die Here se hand teen my is. Hierdie skrywer was in so ’n posisie:  “Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan”. (Klaagliedere 3:1) Hy het lyding in die uiterste vorm ervaar. Hierdie swaarkry was so erg dat dit geblyk het dat bid nie eers meer help nie! “Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.” (3:8) Daar was net geen uitkomkans nie. Het jy al só vasgekeer gevoel in ellende met geen uitsig op verlossing nie? “Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie.” (3:9) Dit voel vir jou of jy klippe kou en jou tande besig is om een vir een te breek. Kyk net hoe treffend beskryf die digter dit : “Hy het my gruisklip laat kou” (3:16) Vriend, ek weet nie watter ellende of teistering jy tans beleef nie, maar hier het ons iemand met wie dit rowwer as rof gegaan het, so ons kan gerus luister wat hy te sê het. 

Een ding kan jy ten minste sommer hier reg aan die begin weet, jy is nie die eerste of enigste wat deur bitter beproewing benou word nie. 

Nou as mens in ellende verkeer, as mens benoud is, dan kom daar allerhande gedagtes of herinneringe by jou op. Die terugdink aan foute, sonde, verlore kanse, dinge wat nooit weer reggemaak of gewens kan word nie.... Slegte herinneringe is soos ’n ruwe houtknuppel vol splinters wat jou gewonde gewete verder stukkend slaan en laat bloei. Grimmige gedagtes oor my gruwels van gister is soos swaar gewigte wat my aftrek in die donker diepsee van uiterste wanhoop. Hoe meer ek dink, hoe meer ondraaglik raak my situasie. “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.”(Vers 18-20) Klink dit bekend? 

DIE DRAAIPUNT

Gelukkig het die digter nie op hierdie punt ophou dink nie. Hy het verder gedink en dit het ’n wending, ’n verandering gebring. VERS 21! Hier kom ‘n heerlike draaipunt! “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:” (vergelyk ASV “This I recall to my mind; therefore have I hope.”) Nadenke en herinnering kan ’n stok wees waarmee die reus Wanhoop mens stukkend slaan, maar die bepeinsing van Bybelse beloftes en waarhede is juis ’n vuurhoutjie waarmee ek weer die lamp van hoop aan die brand kan steek. ’n Lig wat al die duisternis van wanhoop en moedeloosheid kan verdryf. 

Watter gedagtes, eerder watter selfherinnering aan Goddelike waarhede het die vlam van hoop weer vir hierdie man in sy ellende aangesteek? (Waaraan moet ons onsself herinner om weer hoop te kry?) Kom kyk saam in Klaagliedere: 

1. Sien raak dat jy deur God se genade nog nie vergaan het nie. “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;” (22) Hoe erg jou situasie nie, jy is nie op hierdie oomblik in die hel nie. Dis net mense in die hel wat geen hoop ooit kan hê nie! Kom ons gestel jy is in ’n diep onderaardse kerker opgesluit en die sleutel is weggegooi... Dis klam, donker eensaam, groen mos groei al op jou lyf. Dis inderdaad erg, maar dis ‘n toestand nog oneindig beter as iemand wat hom vandag in die ewige verdoemenis bevind… Vir jou wat hier lees is daar hoop. Vir jou staan die deur nog oop, want God se Woord kom na jou en jy kan dit hoor, glo en lewe… 

2. Maak oop jou oë vir God se getrouheid in jou lewe ten spyte van jou baie moeilike omstandighede, wankelende geloof of ergere depressie*. “Tel jou seëninge” bly na al die jare steeds goeie raad vir elkeen van ons. (as jy sukkel, vat ‘n stuk papier en skryf dit neer, jy kan dalk verbaas wees hoe lank die lys raak) God het nie verander nie, Sy getrouheid is ‘n gegewe. “God bly getrou, by Hom is daar onbeperkte ontferming daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” (22/23) Miskien het jy baie geld verloor....maar jy het darem nog geëet vanoggend - dank God vir daardie ontferming. Dalk verkeer jy in ’n ernstige gesondheidskrisis... jy kan darem hier lees of jy kan nog God se Woord hoor - dank God vir hierdie ontferming. Miskien beleef jy ‘n familiekrisis...jy het darem nog ’n familie - dank God vir hulle, (ook die wat jou kwaadmaak, ja!) Moontlik bevind jy jouself in ‘n put van verworpenheid of vasgevang in ‘n net van skuldgevoelens. Sien raak, dat Hy Sy genadewoord nou na jou toe stuur en dank hom reeds daarvoor! Onthou ons verdien niks goeds nie, trouens ons almal verdien die hel en tog is God so goed. 

3. Besef : God is nog steeds my God! “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom." (24) Miskien het jy wel alles op aarde verloor...dalk sonder enige familie, sonder enige besittings, sonder enige vooruitsigte vir beterskap of beter omstandighede, maar kind van God jy het nie jou Here verloor nie. Hy is mos meer as alles en almal. My familie kan almal teen my draai, maar as die almagtige God my persoonlike Vader is, bied dit nie vir my troos nie? Ek kan al my besittings verloor, maar as ek weet daar wag ’n erfenis in die hemel vir my wag, sal dit nie die verlies baie versag nie? Het jy al besef dat God alles is? Die skrywer van Psalm 73 is ook diep getref deur ellende, hy was ook onsteld dat dit so goed gaan met die goddelose en met hom wat regverdige is gaan dit sleg. Maar dan maak hy ’n heerlike ontdekking in vers 25 : “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (OAV) “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie.” (NAV) Het jy al dit besef? Ja, jy het dalk in verterende twyfel geval, daar is baie vrae wat jou siel vaswoel, maar diep onder al die as van selfverwyte of skeptisisme, leef daar nog ‘n kooltjie van verlange na God. Anders sou jy nie nou hier gelees het nie. Diep binnekant weet jy God is jou enigste hoop! 

4. Daar bestaan nog steeds iets soos gebed en God se Woord. "Die Here is goed vir die vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra: dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here" (25,26) Hierdie man in ellende herinner homself aan ’n vaste uitkoms. Gebed en vertroue op God. Ja, ten spyte van sy negatiewe belewenis oor gebed (vers 8) dring die besef maar weer tot hom deur: Daar is nog steeds iets so gebed, daar is nog steeds God se beloftes! Wanneer alle mense en middele my teleurgestel het, kan ek in my angs en nood nog steeds na my Vader roep. Herinner Hom aan sy beloftes! Ja, daar kom tye dat dit voel of ons gebede nie help nie, asof God sy ore sluit. Dan moet ons weer sy beloftes oor gebed opnuut glo.” Roep my aan in die dag van benoudheid....., bid en vir julle sal gegee word…” Die troon van God is ’n genade troon en deur gebed in Jesus se naam kry ons toegang tot daardie troon. Miskien voel dit vir jou asof jy vasgekeer is deur omstandighede, asof daar ’n blokkade rondom jou opgerig is wat alle hulp verhoed. Weet : As Jesus jou hoëpriester is kan jy bid, met vrymoedigheid... Hebreërs 4:12-16  En wag geduldig vir die regte tyd waarop Hy jou gaan help!

5. Dink daaroor en besef dat God ‘n plan met jou lewe het. Ook hierdie ellende wat ek nou beleef is nie maar net ‘n wrede toevalligheid nie. Dis God wat dit oor my pad laat kom het…Daar is sin en rede in alles, al is dit vir my menslike logika ontoeganklik. “dit is goed vir ‘n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig—miskien is daar hoop— laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.”(27-30) Laat ons ons onderwerp aan God se tugtiging. Hy het ‘n heerlike doel daarmee. Hebreërs 12:10,11 sê dat God se doel daarmee is om ons in sy heiligheid te laat deel. Hierdie swaarkry (en dis uiters pynlik en voel beslis soos iets om oor te huil) is dus deel van God se goedheid oor jou! Regtig? Ja! Psalm 119:71 maak hierdie onbegryplik heerlike stelling : “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer. En kyk wat sê vers 75 “Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van u trou.” Spurgeon* sê dit so mooi :”Baie van God se beloftes is in onsigbare ink geskryf, wat jy nie kan lees voordat die vuur van beproewing nie die letters sigbaar maak nie. (Soos daardie geheime briefies wat mens met uiesap skryf) 

6. Hierdie swaarkry, hoe erg ook al is net tydelik. Kind van God, jou siekte, hartseer, depressie…gaan nie vir ewig duur nie. As jy in die diepste ellende verkeer, onthou hierdie tyd van ellende gaan nie vir altyd aanhou nie, daar is uitkoms! “Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.”(31-33) 

As God ellende oor ons lewe toelaat is dit eintlik teësinnig. Soos ‘n pa wat sy kinders met ‘n seer hart pak gee en self elke hou voel. God is nie ‘n sadis nie. Sy werklike begeerte vir ons is vreugde. Nou reeds in hierdie stukkende wêreld, maar in die volmaakte sin eendag. Hierdie volmaakte vreugde gaan finaal aanbreek by die wederkoms en vir altyd aanhou. Ons ellende hoe erg ook al, is kort. In vergelyking met die ewigheid sommer baie kort en onbenullig. Ja, selfs iemand wat ’n sieke moet oppas, wat swaarkry onder ‘n wrede man, wat spot moet verduur van goddelose kinders, wat dag vir dag met pyn moet leef… kan dit weet... dis kort, laat ek moed skep, dis kort! 

Die swaarkry wat jy nou ervaar beteken nie dat God se liefde vir jou opgehou het nie. 

Die  bittere swaar waardeur Jesus aan die kruis moes gaan, het nie die einde van sy Vader se liefde vir Hom beteken nie. Die lyding, ellende en verwerping waaronder God se kinders gebuk gaan, mag ons nooit die afleiding laat maak dat Hy nie meer vir ons lief is nie. Glo dit, die Woord sê so, ja die duiwel sê anders, maar luister eerder na die Woord as na die Satan! 

UITERSTE ELLENDE; STEEDS HOOP!

Miskien is jou ellende so groot, jy sê : “Ek weet nie of hierdie mooi beloftes op my van toepassing is nie, want ek weet nie meer of ek hoegenaamd ’n kind van God is nie. Ek weet en glo hierdie beloftes geld vir God se kinders, maar ek weet nie meer of ek onder sy kinders tel nie.” 

As jy so sê wil ek jou verseker daar is nog steeds hoop. Daar is ’n vaste waarheid in God se Woord wat ook vir jou kan hoop bring. 1 Timoteus 1:15 lees : “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” As jy nie op hierdie oomblik na die Here Jesus kan kom as ’n kind van God nie, kom as ’n sondaar. Hy bring hoop vir sondaars, hoor dit : “sondaars”! Regte werklike, aaklige sondaars is welkom by Jesus! 

 “if you cannot come as a saint come as a sinner”

Spurgeon** vertel die volgende verhaal : ‘n Koning het ‘n maaltyd aangebied vir al bedelaars van ‘n stad. Daar was egter in die stad ook ‘n edelman wat sy geliefde koning graag wou sien, maar weens die koning se program was ‘n afspraak nie moontlik nie. Die edelman maak toe ‘n blink plan. Hy kry ou klere in die hande en gaan in sy vodde saam met die bedelaars na die maaltyd, solank hy maar net die koning kon sien! Kom na Jesus, werp jou in sy arms kom op die manier waarop duisende sondaars, moordenaars, prostitute, twyfelaars, moedverloorders… al gekom het... Hy wys niemand weg nie… 

*Lees verder oor depressie by PROFEET ONDER DIE BOS
**Ek gee graag erkenning aan CH Spurgeon vir sy preek in “Finding Place in Life’s Storms”, getitel “The Gift of Memory”