BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Liefdesverhaal. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Liefdesverhaal. Wys alle plasings

Vrydag 10 Mei 2019

RUT : RAMP TOT TRIOMF

Rut is ‘n aangrypende liefdesverhaal. Min liefdesverhale begin egter op ‘n droewiger noot. (Lees gerus nou eers Rut hoofstuk 1) Dit begin met gebrek, droogte en dood! Dit lyk asof als wat vir hierdie familie verkeerd kan loop wel verkeerd loop. Jy ken dalk ook sulke tye... 

En dis nie net droogte en dood nie, maar so tussen die lyne is hier nog ook ‘n ander tragedie. Moenie vergeet nie, die twee seuns wat nou gesterf het, was getroud met Moabiete! Dit was duidelik teen God se wil. “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.” (Deut 23:3) 

NAOMI WORD MARA 

Kyk bietjie na die verhaal uit Naomi se oogpunt. Sonder man, sonder seuns, sonder ‘n toekoms…Wanneer als so verkeerd loop, gooi dit jou lewe onderstebo en dan gebeur daar dikwels, seker die ergste wat met ‘n mens kan gebeur – wantroue oor God se liefde! In geen onduidelike taal nie, verwyt Naomi vir God! Hoor haar pyn:

“Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai." (1:13) 

“Hierop het Naomi vir hulle gesê: "Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 
My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring." (1:20,21) 

Hartseer en stukkend! Haar lewe was vol en nou is dit leeg! Sy is so stukkend dit tas haar hele identiteit aan – Sy wil nou Mara genoem word en nie meer Naomi nie. Die kontras tussen die twee name is baie groot. Naomi beteken, “lieflik, aangenaam”. Mara beteken “bitter”. 

GODDELIKE INGRYPE;MENSLIKE KEUSES! 

Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie. Dit eindig nie by bitterheid en depressie nie. Die Here doen wonderlike dinge in hierdie uitsiglose hopelose situasie. Maar belangrik : In hierdie wonderlike dinge wat God doen is mense en hulle keuses betrokke. 

Twee belangrike keuses is opvallend. Rut se keuse om saam met Naomi te gaan. Dis nie net ‘n stukkie medemenslikheid nie, dis eintlik ‘n radikale bekering. Sy was ‘n heiden Moabiet, maar sy bekeer haar tot die lewende God. “Maar Rut het geantwoord: "Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei." (1:16-17) Hierdie keuse van Rut, wat nie ‘n maklike keuse was nie, het verreikende gevolge gehad. Heerlike gevolge wat sy nooit sou kon besef nie. 

Maar daar is ook Boas se keuse. Boas was ‘n verlangse familielid, ‘n welvarende man en Rut het gaan koringare optel op sy lande. En om die lang storie kort te maak (want dit het nie sommer als vanself gebeur nie), het Boas besluit om homself oor Naomi te ontferm en haar losser te word (volgens destyds se gebruike) en met haar te trou! 

Dit alles loop uit op ‘n heerlike einde. Ons lees:

“Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring. 

Die vrouens sê toe vir Naomi: "Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 
en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring." 
Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem. 
Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: "‘n Seun is vir Naomi gebore." Obed was die voorvader van Dawid.” (4:13-17) 

Wat ‘n geweldige kontras met die begin van die verhaal. Van ‘n doodloopstraat na ‘n belofteryke toekomspad. Van ‘n dodelys, na ‘n geslagsregister. In die begin hoor ons ‘n bitter verwytklag teen God uit Naomi se mond, hier hoor ons lofsange aan die Here uit die mond van ‘n klomp vroue! 

God se werke en menslike keuses is in verweef met mekaar. Ja, dis uiteindelik God wat ‘n ramp verander in ‘n triomf – en tog maak Hy gebruik van menslike keuses. Menslike keuses is belangrik! Jou keuses het gevolge! Dink weer aan Rut se keuse om die ware God te dien en die afgode te los. Dink aan Boas se keuse om hom oor hierdie arm meisie te ontferm. Dit het heerlike gevolge gehad! 

Is jou keuse op die oomblik die regte keuse in die lig van God se Woord? 

En onthou die belangrikste keuse ooit – ‘n keuse vir Jesus! Dis ‘n eenmalige keuse, maar ook ‘n voortdurende keuse! Hoe kies jy nou? 

KLEIN SKARNIERE 

Iemand stel dit so : “Groot deure draai op klein skarniere!” Een regte keuse, hoe gering dit ook al mag blyk, het reuse positiewe gevolge vir jou en vir baie ander mense. Baie groter as wat jy dalk sou besef. In jou ellende en hartseer. Daarom - kies reg, kies volgens wat God wil. Kies volgens die Woord! Doen die regte ding, doen wat jy weet jy moet nou doen, al lyk dit hoe onbelangrik of nederig. As Rut nie bereid was om die nederige werk te gaan doen om te gaan are op tel op die lande nie, sou sy nooit by Boas uitgekom het nie! 

Doen jy net dit wat jy kan en moet, God sal die res doen! 


GOD SE GROTER PLAN : DUBBELE PLUS!

Die boek Rut is ‘n boodskap van hoop in tye van swaarkry en ellende. Gebrek, droogte en dood en ja, ook mislukking en sonde is nie die einde nie! Ook jou ellende en hartseer wat jy nou beleef is nie die einde nie! Hartseer omstandighede en gebeure het nie die laaste sê in ons lewens nie. God verander ‘n minus in ‘n plus. Maar God se plan is ook groter as wat ons as mense kan besef en verstaan. Hoe so? Die verhaal van Rut is natuurlik baie meer as ‘n liefdesverhaal tussen twee mense. Dis baie meer as ‘n mooi einde van "hulle het lank en gelukkig gelewe..."  Dis die liefdesverhaal van God vir sondaars. Dis uiteindelik verhaal van God se Seun, want hierdie geslagsregister aan die einde van die boek koppel die bekeerde Moabiet, Rut aan Jesus, via die voorvader Dawid. Rut word ‘n groot-groot oumagrootjie van Jesus! (Sy sou dit in haar leeftyd nooit kon droom of raai nie) Matteus noem ook spesifiek haar naam in sy geslagsregister van Jesus aan die begin van sy evangelie! (Matt 1:5) Die noodsituasie van ‘n gewone Israelitiese familie word deur God in ‘n seën vir ‘n hele volk (Dawid), maar meer nog in ‘n seën vir die wêreld omskep. (Jesus) God het ‘n minus in ‘n plus verander en uiteindelik in ‘n dubbele plus!* 

God ken jou persoonlike detailomstandighede en gryp genadiglik in, maar God sien ook die groter prentjie van Sy RAADSPLANNE wat ek en jy nie nou verstaan nie. Dis ‘n heerlike troos!

*W.S.Prinsloo, Die boek Rut

Vrydag 26 Februarie 2016

LOSPRYS VIR ‘N SLAWEBRUID

- die aangrypende boodskap van die “mooiste” liefdesverhaal ooit!


Die evangelie is eintlik ‘n aangrypende liefdesverhaal. Ons sien dit ook hier in die beeld wat Paulus in 2 Kor. 11:2-4 gebruik. 

"Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom, want julle is soos ‘n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus.

Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.

Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ‘n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ‘n ander gees en ‘n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het."

Kom ons vertel dit in storievorm... ‘n Ryk en dapper Prins onderneem ‘n wêreldtoer... Op ‘n dag loop Hy by ’n slawemark verby in ’n verre land. Wat Hy sien bring sy hart in beroering. Hy sien ’n pragtige slawemeisie, vasgeketting, vuil en verwese. Dadelik steel sy die Prins se hart. Sy verkeer in ‘n uiterste toestand van ellende en verwaarlosing, maar die Prins kyk verby haar vuil vodde en vernedering, verby die letsels van lyding en smart. Hy sien haar potensiaal as toekomstige bruid in sy Koninkryk. Op daardie oomblik is sy nog ’n gevangene in die mag van ’n uiters gewetenlose en wrede baas. Die Prins is egter vasbeslote om haar vryheid te bewerk en Hy betaal ’n ontsaglike groot prys vir haar. Sy word losgekoop. Sy kry haar vryheid terug, maar dis nie al nie! Hy vra haar onmiddellik om sy bruid te word! En? Sy sê "Ja!" Dan vra Hy haar om geduldig eers vir Hom te wag sodat Hy die paleis in Sy Koninkryk in gereedheid kan bring vir die grootste Bruilof ooit! Vir ’n feestelikheid wat die wêreld nog nooit gesien het nie! Hulle groet en die meisie beloof om geduldig te wag totdat Hy haar kom haal. Sy onderneem plegtig om aan Hom getrou te bly en haarself gereed te maak vir die groot dag...

VERLEIERS

Maar weet jy wat? Die Prins is skaars weg, toe kom die eerste vreemde vryer en verleier al aan die meisie se deur klop... Wat sal nou gebeur, sal sy getrou kan bly...? Gaan hulle dit regkry om haar te verlei? Gaan sy vergeet van die Prins se opofferende liefde? Gaan sy ontrou word? Gaan sy haar heerlike toekoms net so weggooi...?

Natuurlik verstaan jy die verhaal seker baie goed: Die Prins is Jesus Christus wat ons oneindig liefhet! Die wrede slawemeester is natuurlik Satan. Hy bind ons vas met kettings van sonde. Ons lewens is verniel en geskend. Ons (die slawemeisie) is egter vrygekoop op Golgota met Jesus se kosbare bloed, die hoogste prys moontlik; sy eie lewe! Dis die kernevangelie! “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45)

Toe jy jou bekeer het en vir Jesus deur die geloof “Ja” gesê het, het jy ingestem om sy bruid te wees. So het die Korintiërs ook deel van die bruid geword. Paulus het deur sy prediking die gemeente van Korinte voorgestel aan die Verlosser Prins Jesus Christus. Hulle het reageer in geloof en so die aanstaande bruid van Jesus geword. Sy Verloofde. Maar nou was daar die gevaar dat hulle mislei sal word deur ʼn “ander Jesus” en ʼn “ander evangelie.” Anders gestel : daar was die gevaar dat daar vreemde vryers sou kom en hulle sou afrokkel van die een ware bruidegom Jesus Christus. Dis ‘n voortdurende gevaar wat almal wat aan Jesus behoort bedreig : dat ons sal val vir ‘n ander Jesus en ‘n ander evangelie. 

Oor hierdie bedreiging skryf Paulus ook aan die Galasiërs :

“Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem.
Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.
Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref!”  (Galasiërs 1:6-8)

Wie of wat is hierdie “ander Jesus” waarteen Paulus ons waarsku? (Let wel, dis ‘n valse Jesus, so hierdie ander Jesus gebruik steeds die naam Jesus en dis hoekom ons so wakker en waaksaam moet wees dat ons nie mislei word nie!) Hierdie tipe misleiding is immers net so subtiel en gevaarlik soos die gladbekkige misleiding van Eva deur die geslepe slang in die paradys!

Die enigste manier hoe om die ander valse Jesus uit te ken en te vermy is om die ware Jesus baie goed te ken. Die beste manier om vals geld te leer uitken is om die kenmerke van die egte geld baie deeglik onder die knie te kry.

WIE IS DIE WARE JESUS?

Die ware Jesus is die Een wat gekom het om ons van ons sondes te verlos! Dis reeds duidelik van voor Jesus se geboorte af! “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matt 1:21) Hy bring vergifnis en bevryding van sonde! Die valse Jesus beloof ander dinge soos geld, gerief, genot en gewildheid, maar hy laat jou rustig voortgaan met sonde! Die valse Jesus minimaliseer sonde en soek verskonings vir sonde. “relax maar net en wees happy!” Jy kan die aanhangers van die valse Jesus maklik uitken... “Ag, wat dis nie so erg om in dronkenskap, onsedelikheid, gierigheid... te leef nie, die Here sal maar verstaan ons is net mense!” Die ware Jesus se volgelinge jaag na heiligheid en dankbaarheid, want hulle besef hulle verlossing het 'n groot prys gekos!

Die ware Jesus se kruisoffer was genoegsaam en finaal. Toe Hy aan die kruis gehang het Hy uitgeroep : “Dis volbring” (Joh 19:30) Die valse Jesus voeg ekstra dinge by as voorwaarde vir redding. Jy moet die Joodse Saterdag sabbat hou, jy moet in tale praat, jy moet Hebreeuse name gebruik,  jy moet net aan hierdie kerkgroep behoort... Die valse Jesus se volgelinge is altyd aan die rondskarrel agter nuwighede, hoorsêstories en godsdienstige foefies aan. Die ware Jesus se volgelinge vind gemoedsrus en vergenoegdheid in sy volledige en volmaakte werk!

Die ware Jesus het vir sy volgelinge gesê julle sal verdrukking hê in hierdie lewe, maar hou moed ek het die wêreld oorwin. (Joh 16:33) Hy beloof nooit dat ons dit nou maklik sal hê nie, maar Hy beloof vir ons die ewige heerlikheid. Hy beloof vir ons ‘n hemelse erfenis. Sy volgelinge is pelgrims wat uitsien na ‘n beter vaderland. Die valse Jesus sê : “Die beste lewe is hier en nou!” Sy volgelinge is ingestel op die bymekaarmaak van skatte, maar verklaar ewe vroom hoe die “Here ons seën!”

PASOP

Die hoofboodskap van Paulus is duidelik. “Moenie na almal luister wat met mooi stories na julle kom nie. Sulke mense is glad met die tong maar hulle bly nie meer by die ware Jesus en die ware evangelie nie! En onthou die ware evangelie is die evangelie wat ek aan julle verkondig het.” Nou waar vind ons dan die suiwer evangelie wat Paulus en die ander apostels verkondig het? In die Bybel! Dit bring ons weer terug by die belangrikheid van die Woord, om dit te ken en binne konteks te verstaan. Ons noem die Woord ‘n genademiddel. Dit dra genade oor aan ons, dit versterk en verhelder die genade. 

LIEFDESMAALTYD

God het ons ook ander genademiddele gegee soos die doop en die nagmaal. Dis nie goedvoelrituele nie, maar dit onderstreep weer die basiese evangelie waarhede. Anders gesê dit herinner ons weer aan wie die ware Jesus is! Dit fokus ons hart en gedagtes en hoop op die kern verlossingswerk van Jesus, sy genoegsame en afgehandelde werk wat ons volkome verlos van God se wraak en ons bevry om as nuwe mense te leef. Die nagmaal is ‘n liefdesmaaltyd wat ons elkeen opnuut aanspoor om getrou aan die ware Jesus, ons aanstaande bruidegom te bly en alle valse Jesusse en valse evangelies te verwerp. Ons word weer opnuut bewus van die groot losprys wat vir ons betaal is tydens hierdie liefdesmaal. Die ware Jesus is die een wat sy lewe vir jou gegee het, wat jou straf aan die kruis gedra het in jou plek en jou nou uitdaag om Hom met gehoorsaamheid en dankbaarheid en blydskap te volg ! 

Is jy getrou aan Hom?


Donderdag 15 Desember 2011

VREEMDE VRYERS

(Wenk : Hou jou Bybel oop om hierdie verhaal ten volle te geniet)



Ek wil vir julle ʼn besondere liefdesverhaal vertel. Eendag stap ’n baie ryk Prins op ’n wêreldtoer by ’n slawemark verby in ’n verre land. Wat Hy sien bring sy hart in beroering. Hy sien ’n pragtige slawemeisie, vasgeketting en verwese. Dadelik steel sy die Prins se hart. Sy verkeer in ‘n uiterste toestand van ellende en verwaarlosing, maar die Prins kyk verby haar vuil vodde en vernedering, verby die letsels van lyding en smart. Hy sien haar potensiaal as toekomstige bruid in sy Koninkryk. Op hierdie oomblik is sy ’n gevangene in die mag van ’n uiters gewetenlose en wrede Baas. Die Prins is egter vasbeslote om haar vryheid te bewerk en Hy betaal ’n ontsaglike groot prys vir haar. Sy word losgekoop. Sy kry haar vryheid terug, maar dis nie al nie! Hy vra haar onmiddellik om sy bruid te word! En? Sy sê "Ja!"  As teken van hulle verbintenis gee Hy aan haar ’n besonder kosbare Ring om altyd te dra. Dan vra Hy haar om geduldig eers vir Hom te wag sodat Hy die paleis in Sy Koninkryk in gereedheid kan bring vir die grootste Bruilof ooit! Vir ’n feestelikheid wat die wêreld nog nooit gesien het nie! Hulle groet en die meisie beloof om geduldig te wag totdat Hy haar kom haal. Sy onderneem plegtig om aan Hom getrou te bly...



Maar weet jy wat? Die Prins is skaars weg, toe kom die eerste vreemde vryer al aan die meisie se deur klop... Wat sal nou gebeur, sal sy getrou kan bly...? Gaan hulle dit regkry om haar te verlei? Gaan sy vergeet van die Prins se opofferende liefde? Gaan sy haar heerlike toekoms net so weggooi...?



Natuurlik verstaan jy die verhaal seker baie goed: Die Prins is Jesus Christus wat ons oneindig liefhet!



Die wrede slawemeester is natuurlik Satan. Hy bind ons vas met kettings van sonde. Ons lewens is verniel en geskend. Ons (die slawemeisie) is egter vrygekoop op Golgota met Jesus se kosbare bloed, die hoogste prys moontlik!



Wanneer ons ons bekeer, sê ons “Ja” vir die Prins, om vir ewig aan Hom te behoort.



Die Prins Jesus gee vir ons ʼn Ring naamlik die Heilige Gees. Die Gees wat in ons woon is die bewys dat ons aan Jesus behoort. (Efesiërs 1:14) Hy herinner ons dat ons Jesus se eiendom is, die waarborg dat Jesus ons sal kom haal.



Jesus maak vir ons plek gereed en kom ons haal! (Joh 14:1-3) Ons moet vir Hom wag en ons rein hou vir Hom. (1 Joh 3:3)




In 2 Korintiërs 11:2-4  (lees) gebruik Paulus  ʼn soortgelyke beeld om uitdrukking te gee aan sy wens dat ons nie van Jesus afvallig moet word nie. (Ook op ander plekke in die Skrif word die kinders van God beskryf as die Bruid van Jesus) Paulus het deur sy prediking die gemeente van Korinte voorgestel aan die Verlosser Prins Jesus Christus. Hulle het so die aanstaande bruid van Jesus geword. Sy Verloofde. Maar nou was daar die gevaar dat hulle mislei sal word deur ʼn “ander Jesus” en ʼn “ander evangelie.” Anders gestel : daar was die gevaar dat daar vreemde vryers sou kom en hulle sou afrokkel van die een ware bruidegom Jesus Christus .



Elke kind van God word deur hierdie vreemde vryers bedreig, wat ons van Jesus wil afrokkel. Hule kom met mooi stories om ons te verlei met valse lering en ʼn verkeerde lewe.




Die gevaar van vreemde vryers is ’n werklikheid. Kom ons kyk na ’n paar van hulle. Elkeen het ’n naam en sy eie werkswyse en metodes. (Kyk of jy hulle kan herken) :



~ Meneer Wêreldgelykvormigheid. Sy argumente kan duidelik uitgeken word : “Ag, almal maak so, almal dink so, almal lyk so...moet tog nie vir jou so heilig hou nie” Ons word dringend gewaarsku teen hom in 1 Johannes 2:15-17, Romeine 12:1-2.

 

~ Meneer Onreinheid. Dis alle vorme van voor en buitehuwelikse seks, losbandigheid ens. Hy kom skielik en onverwags. Dis ’n baie glibberige vreemde vryer. Hy glip baie maklik in jou huis, gedagtes en lewe in (via sepies, tydskrifte, die internet ens.) Hy saai verwoesting en maak mense afvallig van Jesus. Ons word ook ernstig gewaarsku teen hom.1 Tess 4:7-8.

 

~ Meneer Materialisme. Hierdie vryer sê graag : “Kyk, kyk hoeveel het ander, kyk jy het nie genoeg nie,” of “Jy is nou te besig om aan die Here se dinge aandag te gee....” As jy begin luister na hierdie vreemde vryer word jou hart koud teen die bruidegom Jesus. Dit lei tot baie probleme. Geldgierigheid is die wortel van alle euwels! 1 Timoteus 6:10

 

~ Meneer Bitterheid. Hierdie vryer se geliefkoosde woorde is : “Onthou, onthou jy wat het hy aan jou gedoen, onthou jy destyds hoe het sy jou beledig..... ?” Ons word gewaarsku teen hom. Moet geen plek maak vir haat en bitterheid nie. Jaag hom weg. Hoe? As iemand jou benadeel het, vergewe. Hbr 12:14-15

 

~ Meneer Valse leringe. Dis eintlik waarteen Paulus die gemeente pertinent waarsku in hierdie gedeelte. Valse lering wat ʼn ander valse Jesus verkondig. (2 Kor 11:4) Ja, daar is mense wat van Jesus kan praat, wat sy Naam gebruik, maar dis nie die Jesus van die Bybel nie. Die Jesus wat hulle verkondig het ’n ander inhoud as die Bybelse Jesus. Byvoorbeeld : Hulle “Jesus” is net ʼn lekker ou, wat nie omgee dat ons voortleef in sonde nie. Dis ‘n mensgemaakte, mensuitgedinkte Jesus wat net regstaan om ons behoeftes te vervul, dis niks anders as ‘n mensgemaakte afgod nie! Daar is so baie valse leringe wat verwoesting saai en mense wegrokkel van die ware Jesus. Ongelukkig is daar selfs mense wat hulself teoloë noem en valse leringe verkondig  (binne die kerk en universiteite) soos dat Jesus nie regtg uit die dood opgestaan het of dat daar nie iemand soos die duiwel is nie! Ons word duidelik gewaarsku : Valse lering vernietig mense se geloof - 2 Timoteus 2:16-18





Het jy al Ja gesê vir die Prins Jesus? Dan is jy deel van sy bruid, Sy verloofde! Hy gaan jou kom haal, maar ons moet gereed wees. Ons moet ons heilig en rein hou vir die Bruidegom Jesus. Watter vreemde vryer is op hierdie oomblik besig om jou van Jesus af te rokkel? Gaan jy maar so aangaan of gaan jy dit bely? Gaan jy getrou bly aan Jesus en die vreemde vryers wegjaag? O, weet die Bruidegom het jou lief!   Vasbyt, Hy kom binnekort!