BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Suid-Afrika. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Suid-Afrika. Wys alle plasings

Woensdag 25 April 2018

BRAND, BREEK EN BEROOF

- die geweldkultuur van Suid-Afrika! 

Die bisarre (eensydige) koor van lofbetuigings oor Winnie Mandela se bydra en opofferings het skaars verstil, toe word ons weer herinner aan wat die ware nalatenskap van haar en (ten minste sommige) van haar bevrydingsbewegingskollegas behels. Ja, ja, ek weet dis dalk ‘n oorvereenvoudiging en dis eensydige kommentaar... maar ons moenie vergeet nie, tannie Winnie het gespog dat die land met vuurhoutjies en buitebande bevry sou word. Die land is nou “bevry”, maar die brand en breek kultuur duur steeds voort onder die sogenaamde demokratiese bestel. Winnie se vuurhoutjies vuur nog strykdeur... Hoeveel jaar nou al? Die houding is :"As ons ontevrede is wend ons ons tot geweld, dan maak ons vlamme en gooi klippe..." Maak nou nie saak of dit ontevredenheid met politieke leiers, gebrekkige dienslewering of ‘n sokkeruitslag is nie! Wat jy saai sal jy maai! Dis ‘n Bybelse beginsel wat gesê moet word of dit nou polities korrek is of nie. Dit lyk ook of die Tien Gebooie vergete geraak het... 

Ek wil nou nie baie tyd spandeer om hieroor navorsing te doen of ‘n debat te voer nie. (Daar is veel heerliker dinge om oor te praat...) Kyk sommer maar net na ‘n paar baie onlangse uittreksels uit RSG se nuusberigte en vorm jou eie opinie... 

Nege mense is in Mahikeng in Noordwes in hegtenis geneem in verband met openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging. Geweld het Woensdag uitgebreek uit protes teen Premier Supra Mahumapelo wat van bedrog beskuldig word. Inwoners eis sy bedanking. Winkels, voertuie en geboue het onder plunderaars en brandstigters deurgeloop. Die verdagtes is van die Montshioa-township, Dibate, Motlhabeng en Lomanyaneng. Van hulle is leerders. Hulle sal Maandag in die Molopo landdroshof verskyn. 

Wanorde het losgebars toe Kaizer Chiefs met 0--2 teen die Free State Stars verloor het. Volgens die polisiewoordvoerder het hulle berigte ontvang van verskeie mense wat tydens die voorval beseer is. Die ontevrede ondersteuners het 'n brand gestig en die polisie met klippe bestook. Die polisie het later skokgranate gebruik om die skare uiteen te dryf. 

Die Minister van Polisie, Bheki Cele sou vanaand samesprekings met die twee vegtende taxiverenigings in Mthatha in die Oos-Kaap voer. Hy sal ook ander rolspelers ontmoet om oplossings vir die voortgesette geweld te probeer vind. Die taxigevegte het reeds die dood van talle mense veroorsaak. Tussen 2016 en 2018 is meer as 60 mense dood, wat eienaars, bestuurders en passasiers insluit. Cele het vroeër die taxistaanplekke in Mthatha, Libode en Tsolo gesluit wat meegebring het dat talle mense nie vervoer gehad het nie. 

Die lisensiekantoor by die Modimolle-Mookgopong munisipaliteit in Limpopo is in 'n brand beskadig. Die burgemeester, Marlene van Staden sê brandstigting word ondersoek. Groot skade is aangerig met die dak wat aan die een kant ingetuimel en rekenaars wat in die slag gebly het. Van Staden sê die lisensiekantoor is onlangs deur die Departement van Vervoer se teenkorrupsie-eenheid gesluit weens beweerde bedrog en korrupsie. Sy sê die vermoede bestaan dat mense wat by die ondersoek betrek word, moontlik bewyse wou vernietig. 

Die munisipale kantoor in Keiskammahoek in die Oos-Kaap is aan die brand gesteek. Inwoners het vroeër begin betoog en eis beter dienslewering, veral wat paaie en HOP-huise betref. Paaie in die omgewing is vroeër met brandende bande versper. 

Twee geboue, insluitende die munisipale kantore is op Steynsrus in die Vrystaat aan die brand gesteek. Die inwoners betoog oor `n tekort aan woonerwe. Die polisie monitor die gebied, maar die toestand is gespanne. 

Die polisie se Openbare Orde Eenheid is op die N-12 tussen Wolmaransstad en Bloemhof in Noordwes ontplooi waar gewelddadige betogings voorkom. Betogers het vroeër die pad met brandende bande en klippe versper. Die polisiewoordvoerder, Adel Myburgh sê die polisie monitor die situasie. Die betogers eis ook die verwydering van Supra Mahumapelo as premier. Vroeër het gewelddadige betogings ook by Mahikeng voorgekom. 

Intussen is die 33 betogers wat van openbare geweld aangekla is sedert die onrus in die hoofstad Mahikeng in Noordwes uitgebars het, op waarskuwings vrygelaat. Die beskuldigdes het in die Molopo-landdroshof verskyn. 

Die burgerorganisasie Sanco het die brandstigting van 'n munisipale gebou in Keiskamma in die Oos-Kaap skerp veroordeel. Die gebou is tydens betogings oor dienslewering aan die brand gesteek. Inwoners het vroeër paaie met brandende bande versper. Hulle eis behoorlike paaie en HOP-huise. 



Meer as 30 skole is 'n jaar gelede in die Vuwani-distrik afgebrand tydens protesoptrede oor die afbakening van munisipale grense. 

Die aantal vragmotors wat deurgeloop het in gisteraand se geweld op die N3 by Mooirivier is aansienlik meer as wat aanvanklik gereken is. Volgens die Departement van Vervoer is meer as 20 vragmotors aan die brand gesteek, terwyl talle geplunder is.

Twee busse, drie voertuie en kantore is in Phuthaditjhaba in QwaQwa in die Vrystaat deur studente van die Maluti Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleidingskollege aan die brand gesteek. Die studente wil hê die rektor moet bedank omdat hy nie aandag aan hulle klagtes gegee het nie. Die voorsitter van die studenteraad, Tseliso Nhlapo, sê hulle eis ook nuwe infrastruktuur. Nhlapo sê talle studente het nog nie hul diplomas ontvang nie en die bestuur is nie bereid om die probleme te takel nie. 



Dis natuurlik baie maklik om sinies of selfs bitter oor hierdie toedrag van sake te word. Maar dit sou beteken dat ons reaksie maar net dieselfde as die van ander ongelowiges sou wees. Nee, terwyl ons die waarheid oor die chaos onomwonde en onverskrokke moet uitwys, moet ons juis met nog groter passie die bevrydende waarheid van die evangelie uitbasuin en uitleef!

Naskrif 

Ek is darem nie die enigste wat krities oor Winnie se styl is nie. Mondli Makhanya bekwame joernalis van City Press ook, alhoewel ek darem in alle billikheid moet meld dat hy ten spyte van kritiek ook nog veel rede tot lof in haar vind.

Hieronder net ‘n aanhaling uit ‘n onlangse artikel van hom.

“Dare we forget that, in 1989, the leadership of the Mass Democratic Movement publicly distanced itself from the so-called Mother of the Nation because of the "reign of terror" that she and her Mandela United Football Club were conducting in Soweto. The football club, which was nothing more than her private vigilante gang and whose only association with soccer was its kit, had terrorised the township and was almost as feared as the Jackrollers gang. Such was the extent of grievance against Madikizela-Mandela and her thugs that members of the Congress of SA Students even attempted to burn down the Mandela house. 

After numerous attempts to rein her in and put a stop to conduct that undermined the struggle, the leaders had to act. 

Accusing her of abusing the trust and confidence of the people, and falling into "conflict with various sections of the oppressed people and with the Mass Democratic Movement as a whole", the leaders said her practices had "violated the spirit and ethics" of the movement. 

Madikizela-Mandela's excommunication by the anti-apartheid movement did not come at the whim of an individual or individuals who despised her. An instruction had already come from the ANC headquarters in Lusaka – on the authority of no less a person than Oliver Tambo – that her criminal gang should be disbanded. But because Madikizela-Mandela was, in her view, above the ANC and the internal liberation movement, this instruction was ignored. 

This unruly streak had frightened many in liberation circles since Madikizela-Mandela's return from Brandfort. Some celebrated this as a rebellion against patriarchy and chauvinism, but it was in fact ungovernability of the highest order. At the height of the necklacing phenomenon – which she encouraged with her matchboxes and tyres speech – she had defied instructions from Lusaka to withdraw her endorsement of the cruel punishment that was meted out to suspected traitors.”

Donderdag 01 November 2012

EIENDOM IN ANATOT


- bobaas belegging in ‘n ramp scenario.


Lonmin. Marikana. Malema. Moody’s. Zuma. Zimbabwe scenario... Praatjies oor bloed en grond. Dalende Rand... dit plus die “normale”  korrupsie, stakings en nimmereindigende renosterstropery (waarin wildbewaarders ook hulle deel het om dit tot dusver ‘n rekordjaar te maak)... en natuurlik die daaglikse moorde... plaasmoorde, stadsmoorde, gesinsmoorde, kapingsmoorde met die onlangse moord op die matriekmeisie, Minke Aucamp as nog ‘n hartseer voorbeeld wat mens aan die hart ruk.  Die wêreldbekende blad “The Economist” in ‘n artikel, “Sad South-Africa : Cry, the beloved country”* sê dit wat ons almal lankal reeds weet: “South-Africa is sliding downhill...” Genoeg vertrouevreters om die mees patriotiese Suid-Afrikaanse optimis te laat steier en te laat wonder : “Waar belê ek in sulke omstandighede?” of   “Watter ekomomiese besluite neem ek nou as denkende Christen?” Hoe nou en waarheen?

Die Bybelse argief van eiendomstransaksies gee ons ‘n insiggewende vars perspektief op ‘n tyd soos hierdie. Ons lees hiervan in Jeremia 32.  Kaart en transport : Grond in Anatot. Koopsom : Sewentien sikkels silwer. Geregistreer in die naam van die profeet Jeremia. Gekoop van sy neef Ganamel volgens die lossingsreg. Datum: tiende regeringsjaar van Sedekia...

In Jeremia 32:10 vertel die profeet verder :

“Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ‘n skaal.”

Wat die transaksie verbysterend merkwaardig en onbegryplik maak is die datum en die gepaardgaande omstandighede waartydens dit plaasvind. Sedekia se bewind en die  koninkryk van Juda is besig om te wankel. Jeremia self is onder huisarres, want hy word van dislojaliteit verdink, juis weens sy negatiewe boodskappe rakende die toekoms van sy land. Geen slim Clem Sunter van sy dag met jakkalswysheid en al, sou Jeremia kon oortuig van ‘n moontlike positiewe scenario vir Koning Sedekia en sy land Juda nie!  Nebukadneser se weermag het reeds rondom Jerusalem stelling ingeneem. (2) Belangriker : God het immers self met die profeet gepraat en die oordele wat oor Juda wag aan hom geopenbaar. Daar was geen moontlikheid dat Sedekia die bedreiging van die Galdeërs sou vryspring nie. Allerhande planne van die optimiste om op Egipte te probeer steun, ten spyt. Want ons moet onthou, hierdie donker scenario  was nie maar ‘n toeval van die geskiedenis  nie, maar God se aangekondigde straf oor sy afgedwaalde volk. (3,4) 

Die oordeel oor Juda was  ‘n uitgemaakte saak. Nou waarom maak Jeremia dan ‘n belegging in vaste eiendom in ‘n gedoemde land? Is hy dalk mal? Finansieël onverantwoordelik? Koop ‘n denkende mens tans wildsplase in Zimbabwe???

Nee. God het Jeremia  dit beveel en hy gehoorsaam maar net. Trouens, die verloop van die geskiedenis maak dit baie duidelik dat die arme Jeremia geen persoonlike voordeel ooit uit die transaksie sou trek nie. Hy sou nie ‘n enkele koringkorrel op sy grond plant of oes nie!

God verskaf self die rede vir hierdie uitsonderlike, oënskynlik dwase transaksie. In Jeremia 32:15 lees ons: “want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel : Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Jeremia koop die grond in Anatot (naby Jerusalem) as ‘n sigbare getuienis teenoor koning Sedekia en sy landgenote. Dit dien as ‘n bewys dat Jeremia nie maar net bloot ‘n swartgallige pessimis was, soos Sedekia dalk gedink het nie. Hy was maar net die eerlike aankondiger van God se oordeelsboodskap. Maar, hy wat Jeremia is het ook eerlik geglo in God se goeie beloftes van vergifnis en herstel.

Jeremia 32:42 : “So sê die Here: Soos Ek hierdie  groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.” 

ENIGSTE SEKURITEIT : GOD SE BELOFTES!

Jeremia gehoorsaam God se beleggingsopdrag omdat hy geglo het in die sekuriteit wat God bied, die God wat die toekoms bepaal. Ons wat ook glo in God se beloftes, se toekoms lê nie in ‘n bepaalde geografiese gebied of ‘n  spesifieke politieke bestel op aarde nie, maar in die waarborge wat die onfeilbare God bied.  Ja, die lewe by God self. Hoe so?

Die essensie van God se beloftes aan Jeremia is die Nuwe Verbond. Ja, daar was ‘n tydelike voorlopige vervulling met die terugkeer van die ballinge uit Babel en die heropbou van die verwoeste Jerusalem. (Iewers sou ‘n verlangse familielid van Jeremia dalk dus voordeel uit sy geloofsdaad getrek het) Maar, die Nuwe Verbond vind egter eers volledige  vervulling in Jesus Christus wat ‘n ewige koninkryk kom vestig, eers in ons harte, maar ‘n koninkryk wat uiteindelik sigbaar gestalte sal vind in die nuwe hemel en nuwe aarde. Jeremia 31:33 stel dit so : “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here : Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”  Ons word so mooi in Openbaring 21:3 vertel hoe die Nuwe Verbond tot finale vervulling kom as daar oor die voleinding gepraat word in  verbondstaal : “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” Dis in wese die vervulling van die ewige genadeverbond wat God reeds met Abraham gesluit het! (vergelyk Genesis 17:7)

Alleenlik God se beloftes verskaf ewige beleggingssekuriteit! Dit wat geen aardse regering kan waarborg nie. Maar juis ook dit wat geen Malema, Mugabe of Zuma kan beskadig nie!  Ons vertroue is gebou op die Middelaar van die Nuwe Verbond, ons Here Jesus Christus! In sy koninkryk moet ons belê en ons vertroue in Hom demonstreer deur “grond  in Anatot” te koop! Die Nuwe Testamentiese ekwivalent hiervan is nie luukse  beleggings aan die Weskus of in die Tuinroete se Gholflandgoedere nie. (Bied daardie plekke  hoegenaamd meer sekuriteit as  geweldadige Gauteng?) Ook nie soos sommige dink ‘n plaas in Kanada, ‘n loopbaan in Brittanje of ‘n nuwe toekoms in Australië nie, maar die duidelike opdrag : “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.”

Is jy ‘n ewigheidsbelegger deur geloof in Jesus, gehoorsaamheid, goeie werke en dankbaarheidsdiens? Weerspieël hierdie beleggings jou vertroue op God se beloftes en ‘n Goddelike toekoms?

Wie weet dat sy vaste eiendom in die koninkryk onaantasbaar veilig is, sal ook met groter gerustheid hier en nou kan leef... ten spyte van die Malemas en Zumas... en dalk selfs iewers ‘n grondjie aanskaf (welwetende  ons is net pelgrims hier op aarde en nie permanente inwoners nie)... ja, moontlik ook  in  onstuimige Suid-Afrika, as die Here jou daartoe lei en instaatstel.

Die punt is maar net : Wie skatte in die hemel het, kan met groot vreugde en vertroue ook op aarde voluit leef, in alle omstandighede! As my skat in die hemel is kan ek met vreugde my aardse roeping uitleef, waar ookal  God my in sy voorsienigheid plaas,  hier in Afrika of iewers oorsee! Maak net seker waar jou skat is...

* In die uitgawe van 20 Oktober 2012

Vrydag 18 Mei 2012

ZUMA PORTRET

- giftige adder pik sy baas.

RSG berig : Die ANC is ontsteld oor 'n portret van president Jacob Zuma wat in die Goodman gallery in Johannesburg uitgestal word. In die afbeelding is die president se privaatdele ontbloot. Die ANC se woordvoerder, Jackson Mthembu sê die kunswerk tas die waardigheid van die president aan. Hy sê in geen land in die wêreld sal die reg van burgers - wat nog te sê dié van die president - so misbruik word nie. Die party het sy prokureurs opdrag gegee om die gallery te versoek om die portret te verwyder.

Ek is geen Zuma aanhanger of ANC ondersteuner nie, maar ek kan my tog  vereenselwig met die verontwaardiging oor die veelbesproke Zuma skildery. Alle Christene sal vanuit ons respek vir God se Woord sulke immorele kuns verwerp met die minagting wat dit verdien ongeag wie nou daardeur benadeel word. Tog is dit ook ons Christelike plig om daarop te wys dat Zuma en sy party self hierdie  giftige adder van goddeloosheid deur hulle beleidsrigtings sowel as optrede help grootmaak het.

Die ANC en al die medewerkers aan die uiters liberale Suid-Afrikaanse grondwet het net hulleself te blameer vir hierdie siek gemors waarin die land hom bevind. Dis die gevolg van ‘n grondwet wat net mense se regte beskerm terwyl dit God se wette vertrap. Dis 'n dokument wat geskoei is op die humanistiese vryheid van die outonome mens. Hierdie eensydigheid is ‘n giftige adder wat vertroetel word en een of ander tyd sy slim base gaan byt.  Dis wat nou gebeur het toe Brett Murray onder die dekmantel van hierdie (valse) vryheid ruimte gevind het vir sy vieslikheid.  Dis eintlik logies dat ‘n grondwet sonder God op die ou end sal “backfire”.  God het sy wette daargestel, eerstens tot sy eer, maar ook om ons as sy skepsels, wat eer aan Hom moet bring  te beskerm. As ‘n land (sy president, regering,  grondwet en burgers) nie meer ontsag het vir God en sy gebooie nie, moet hulle nie dink dat hulle skotvry daarvan gaan afkom nie.

Die ANC kla nou weer oor die reg van die ('n) mens wat geskend word, maar wat van God se REGTE AS SKEPPER wat permanent in hierdie gruwelike grondwet (en deur 'n heidense veelwywer) geskend word?


Die ANC in hulle protes dink alweer net in die een rigting/groef waarin hulle altyd vasval. "Dis rassisties en teen Swartmense gemik", is hulle beswaar. Weet hulle dan nie van die Swart kunstenaar, Ayanda Mabulu se skildery, "Un-mute my tongue", wat beide 'n kaal Zuma en kaal Tutu afbeeld nie? Nee, ANC, die probleem moet eerder gesoek word by 'n samelewing, wat hulle nie meer steur aan God se Woord nie. En julle en julle president, is aandadig!

‘n Goddelose grondwet soos die van Suid-Afrika wat nie respek het vir lewe nie (aborsie toelaat), wat die huwelik minag (gay huwelike erken) en wat dus die regte van die mens (skepsels) hoër ag as die regte van God (Skepper) is uiteindelik ‘n dokument van die dood. Dit verskans sonde. En sonde lei tot die dood.

Mag Zuma en ander leiers hulle tot God bekeer en die land tot sy eer regeer!