BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Namibië. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Namibië. Wys alle plasings

Woensdag 08 Julie 2020

Avontuurlike kerkwees in Namibië

 – my beskeie bydrae tot ‘n aktuele gesprek. 


Wat ‘n heerlike voorreg om deel te wees van die kerk van Jesus Christus in Namibië. Deel van die heilige algemene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges! Ons het so ‘n pragtige land – van suid na noord, van oos na wes. ‘n Ryk natuurskoonheid en ‘n ryke kultuurverskeidenheid. 

‘n Ryk heroïese kerkgeskiedenis – dink aan die baanbreker van die NGKN, eerwaarde Leonard, maar ook soveel ander soos pioniers van ons eie kerk. Natuurlik ook baanbrekers van ander kerke en sendinggenootskappe : Schmelen, Hahn, Rautanen en vele ander wat hulle lewens opgeoffer het vir Jesus en sy kerk! ’n Land vol heerlike geleenthede vir die evangelie! En groot uitdagings! 

BEDREIGINGS

Die NGKN as deel van die uitdrukking van die liggaam van Christus besin tans weer oor ‘n roepingsgedrewe volhoubare kerkwees. So ‘n gesprek en kritiese selfondersoek is beslis nodig, want ons kan die bedreigings en uitdagings wat die kerk in die gesig staar nie ignoreer of wegwens nie: Toenemende sekularisasie van ons lidmate en gevolglike dalende lidmaatgetalle, totale gebrek aan kerklike dissipline (lidmate en ampsdraers leef in openbare sonde en geen haan kraai daaroor nie), teologiese liberalisme en etiese relativisme (elkeen glo soos hy wil en maak soos hy wil), finansiële verknorsing van baie gemeentes wat nou deur die korrupsie in ons land en die Covid-19 situasie vererger word. 

Die grootste bedreiging, die skrikwekkende GEVAAR is natuurlik as ons God se vyand word weens ons kompromie met sonde. 

“Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” (Jakobus 4:4) 

LUISTER NA DIE WOORD!

Wat staan ons te doen? Ek dink ons almal stem saam dat ons weer ernstig na God moet luister deur die Woord van God ter harte te neem. In die lig van die Woord sal ons ons dan voor God moet verootmoedig. Net Hy kan ons weer optel en op koers plaas! Weereens het Jakobus vir ons raad: 

“Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 
Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 
Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jakobus 4:8-10) 

In die konteks van Jakobus en die res van die Nuwe Testament is dit duidelik dat ons as kerk ons veral sal moet bekeer van sondes wat in ons geledere nes geskop het soos hoogmoed, materialisme, losbandigheid en wêreldgelykvormigheid. 

In plaas van kompromie met die sondige tydsgees moet ons weer sout en lig wees! 


TWEE OLIFANTE

As ons erns wil maak met God se opdrag tot bekering en vordering wil maak in ons gesprek en praktyk is daar in ons NGKN konteks tans twee OLIFANTE in die vertrek wat ons nie mag ignoreer nie. 

  • Die besluit van die AS2019 om selfdegeslagverbintenisse goed te keur en kerklik te seën! Ons mag nie iets seën wat God ‘n gruwel noem nie. Punt! 

  • Die liberale teologie van die teologiese fakulteite.(Pretoria, Stellenbosch en Bloemfontein) Ons moet eerlik wees met ons lidmate dat daar dosente is wat ons predikante oplei wat nie glo dat Jesus histories liggaamlik opgestaan het nie! 


Die rysmiere van kompromie met sonde het ons ondergrawe en belemmer ons voortgang en getuienis! 

VOORSTELLE

Ten slotte net ‘n paar praktiese voorstelle: 

1. Die NGKN moet breek met die AS totdat daar bekering en ‘n terugkeer na die Woord is. (Weereens baie dankie aan die 38 bedienaars van die Woord in Namibië wat hulle in die openbaar uitgespreek het teen die AS2019 selfdegeslag besluite!) Kliek - VERKLARING

2. Die NGKN moet haarself distansieer van alle liberale teologiese instellings en die opleidingsgeleenthede wat ons reeds in Namibië het verder uitbou en ondersteun. 

(Ons is in die bevoorregte posisie dat ons reeds die vrug kan sien van bedienaars van die Woord wat plaaslik opgelei is!) 

3. Die belangrikste - Die NGKN sal biddend haar sonde moet bely en God se aangesig moet soek. Kom ons wees almal eerlik – wat het nog van bidure oorgebly in die NGKN? Is gebed en smeking deel van ons kerklike leefwyse? (Of bid ons net so af en toe as daar weer ‘n droogte knel?) 

FINANSIES

En wat van die finansiële probleme? God beloof en die geskiedenis bewys dat God sy kerk in stand sal hou ook wat finansies betref as ons maar net in gehoorsaamheid God se werk op God se manier sal doen. Dit sal wel heel moontlik beteken dat ons nuut moet dink oor bedieningspatrone en minder materialisties moet leef, maar ons Vader sal in al sy kinders se daaglikse behoeftes voorsien! 

TRIOMF

Kom ons gaan voort met gehoorsaamheid aan vertroue op die lewende God! Glo in die triomf en die veilige bewaring van God se uitverkorenes!

"Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen." (Judas vers 24,25) 



Broer en suster, om God te gehoorsaam is nie altyd maklik nie maar dis inderdaad ‘n heerlike avontuur! Verfrissend soos ‘n stroom water in die Namib!

Dinsdag 01 Januarie 2019

STEINKOPF VERTEL ‘N STORIE!

- Dis die merkwaardige storie van die vader van sendingwerk in Namibië! Op die rug van sy ry-os, met ‘n skaapvel karos (wat in die dag as saal moes dien en in die nag as kombers), ‘n Bybel, geweer en ‘n stuk vleis as padkos het hierdie stoere baanbreker die bloedig warm en dorre suide van Suidwes (Namibië) deurkruis met die evangelie. 

Wie was hierdie merkwaardige pionier wat deur die ontdekkingsreisiger Anderson beskryf is as : “the most gifted and most enterprising of missionaries that ever set foot on African soil.” 

As Namibiërs af ry Kaap toe vir vakansie gaan hulle verby die klein gehuggie Steinkopf in die Richtersveld. Ek vermoed dat die meeste van ons weinig notisie neem van hierdie warm, droë klipperige plekkie kort voor ons Springbok kry. Die naam van hierdie onbenullige dorpie vertel egter ‘n wonderlike verhaal van Goddelike genade, pionierswaagmoed en opoffering! 

Johann Heinrich Schmelen het hierdie sendingstasie gestig en dit na sy geestelike vader, ‘n predikant met die van Steinkopf vernoem. Schmelen is gebore op 7 Januarie 1777 in Kassebruch, naby Bremen in Duitsland. 


Hy gee sy getuienis soos volg in ‘n brief : “My ouers was nie ryk of arm nie en het vir my broers en susters en myself ‘n opvoeding gegee wat algemeen was vir die middelklas in daardie dae. Soos ek grootgeword het, het ek egter ook gegroei in goddeloosheid en ligsinnigheid. In 1776 het daar oorlog uitgebreek tussen Frankryk en Duitsland en baie van ons jongmense is opgeroep weermag toe. Met die toestemming van my ouers het ek na Engeland toe gegaan. Ek het my vader se huis verlaat as ‘n rebel en ongelowige. Maar die Here wat ‘n beter lewe vir my in gedagte gehad het as die lewe van ‘n verlore seun tussen die varke, het my weë op ‘n wonderlike manier in Londen gelei. Dit het so gekom dat ek in ‘n huis gaan bly het waar daar baie Godvresende Duitsers was wat my na die Savoje Kerk geneem het, waar ‘n prediker Meneer Borgmann die leraar was. Meneer Steinkopf was sy opvolger. Dit was veral onder die prediking van my geestelike vader Meneer Steinkopf dat dit die Here behaag het om my hart te open en vir my die verlore toestand van my siel te wys. In daardie tyd het ek geweet dat as ek my nie bekeer nie en sou aangaan om die waarheid van God te verwerp , ek ewig verdoem sou wees!

Die besluit van Schmelen om ‘n sendeling te word het nie maklik gekom nie. Na ‘n drie jaar lange worsteling het hy egter met aanmoediging van pastoor Steinkopf vir studie na die Jänicke Sending Instituut in Duitsland gegaan. Uiteindelik het hy in diens van die Londense Sending Genootskap (LMS) na Suid–Afrika gekom. Hy arriveer in 1811 in Kaapstad saam met ander sendelinge. 


Schmelen het noordwaarts gereis na die Oranjerivier. Hier help hy met die stigting van die sendingstasie, Pella. Met Pella as basis verkondig hy die evangelie aan die nomadiese Oorlams Namas Hulle was verwesterse Khoi-Khoi wat klere gedra het en Afrikaans (Nederlands) gepraat het. (Dis terloops ook hulle wat Afrikaans oorspronklik na Namibië gebring het.) Dit het egter nie gelyk of daar vrug op sy arbeid was nie en Schmelen was baie ontmoedig. 

Op ‘n stadium het daar egter ‘n deurbraak gekom. Schmelen het gehoor hoe iemand agter ‘n bos besig was om te bid. Dit was Amraal Lamberts. (Later jare het hy in by Gobabis met sy mense gaan woon.) Dit het gelyk asof ‘n gees van gebed posgevat het onder die mense. ‘n Aantal mense is in 1814 gedoop. Onder hulle was Zara Hendriks en haar suster Leentjie. 

GESLAGSREGISTER VAN GENADE 

Schmelen neem die groot stap en trou met Zara Hendriks. Aangesien daar geen predikant beskikbaar was nie, het hy getuies geroep en met die hulp van ‘n Hollandse formulier homself in die huwelik met hierdie Nama meisie bevestig! 

Dit was dus ‘n uitsonderlike manier van trou en tog het God hierdie huwelik en die nageslag wat daaruit voortgekom het ook uitsonderlik geseën en in sy koninkryk gebruik! 

Schmelen en sy vrou het vier kinders gehad. Een van die dogters, Johanna het met die Rynse sendeling Heinrich Kleinschmidt getrou in 1842. (Hy het in Rehoboth onder die Swartboois gewerk en is na ‘n vlugtog weens ontbering op Otjimbingwe oorlede.) Hulle het agt kinders gehad en een van hulle dogters Frieda het met die Finse pionier sendeling in Ovamboland, Martin Rautanen in die huwelik getree in 1872. Hulle geskiedenis is ‘n heroïese verhaal op sy eie. Die Rautanens moes geweldige offers bring om die evangelie aan die Ovambo mense bekend te stel. Hulle het nege kinders gehad waarvan net drie volwassenheid bereik het. Die drie oorlewende kinders was weer op hulle beurt almal in die sending betrokke. (My Pa het nog die voorreg gehad om vir een van hierdie kinders die siek Johanna Rautanen in die vroeë sestigs uit die Bybel te lees in Ovamboland.) Die sendingwerk onder die Namas, Hereros en Ovambos is dus met een geslagslyn aan mekaar verbind! 'n Goue koord van genade! 

OP SY RY-OS 

Maar weer terug na Schmelen en die vroeë jare. Kaptein Vleermuis die hoof van die Velskoendraers het Pella besoek en versoek dat Schmelen ook in Groot Namakwaland (Namibië) 'n sendingstasie moet aanlê. ‘n Ekspedisie onder leiding van Schmelen is uitgestuur en hulle het ook die mond van die Oranjerivier besoek. Daar is probeer om ‘n hawe te vind. Schmelen se dagboek tydens hierdie reise getuig van sy intense begeerte om die evangelie te deel met die Nama groepe wat hulle teëgekom het. Geen geskikte hawe is gevind nie, maar 'n sendingstasie is by Uigantes aangelê waar hy deur die kaptein, Jacobus Frederick Boois verwelkom is. Schmelen het hulle sendeling geword en die plek Bethanien, (later Bethanie) genoem. Dit was sy passie om die kruisevangelie aan hierdie mense te verkondig. Feitlik die hele dorpie en stam is deur sy boodskap aangeraak. Schmelen het homself heeltemal met hierdie mense vereenselwig. 'n Voorbeeld van die sogenaamde inkarnasie model in sending. Vedder verwys na sy "taai uithoudingsvermoë, die trou waarmee hy sy beroep vervul het en sy buitengewone vermoë om vir die Nama 'n Nama te word sonder om op te hou 'n Christen te wees."* Schmelen het dus uitermate eenvoudig gelewe. Hy het voorwaar “lig” gereis met sy ry-os en net die nodigste met hom saamgeneem. So het hy baie omliggende Namastamme bereik. 

Hy vertel : “Die Here het my dikwels van die bek van leeus en ander wilde diere verlos en Hy het my swakke pogings geseën so veel so dat ek by tye heeltemal vergeet het van die honger en dors wat ek dikwels op my reise moes verduur. My kos was net ‘n bietjie vleis. Ek het geen brood gehad nie, maar die Here het my daagliks krag gegee sodat ek deur sy genade kon volhard.” 

Na ‘n tyd in die wildernis was sy klere heeltemal verslete. Uiteindelik het hy geen hemp of broek, hoed of skoene gehad nie. Hy het klere van vel gedra en skoene soos die Namas. Die tyd het gekom dat hy moes teruggaan Kaapstad toe vir nuwe voorrade en noodsaaklike behoeftes. In Kaapstad het hy ‘n brief ontvang van die LMS waarin hy meegedeel is om nie weer na Bethanie terug te gaan nie, maar ‘n sendingstasie in Namakwaland te stig. Dis hierdie stasie wat hy toe na sy geestelike mentor Steinkopf vernoem het. 


Eers in 1817 kon Schmelen weer na Bethanie terugkeer. By sy terugkeer was die eerste ding wat hy gedoen het om ‘n kliphuis te bou. Dis vandag ‘n nasionale monument. Geestelik gesproke was dit moeilike tye. Die Namastamme het verval in ‘n lewe van oorlog en roof. Schmelen het hierdie gebruike openlik teengestaan en dit het hom natuurlik ongewild gemaak. Tog was daar altyd ‘n groepie wat getrou gebly het aan hulle Here en sy dienskneg. By alles was daar ook die probleem van ‘n langdurige droogte. Schmelen is selfs daarvoor blameer. Daar was agterdog dat die droogte deur die sendeling afgebid is as straf vir die berowing van die Herero's. Weer moes hy Bethanie verlaat. Hy het saam met ‘n groepie volgelinge langs die Oranje gaan bly. ‘n Jaar later is hy versoek om terug te kom. Die vrede het egter nie langer as ‘n jaar geduur nie en hy moes weer die plek verlaat. Sy huis is ook geplunder! 

Hy gaan na Kaapstad, maar besluit om weer in 1824 terug te keer. Hy bereik Bethanie weer in 1825. Dit was steeds sy begeerte om ‘n geskikte hawe te vind aan die Namibiese kus sodat skepe die toekomstige sendingstasies makliker van lewensmiddele kon voorsien. Hy het die Kuisebrivier gevolg en die hawe van wat vandag bekend is as Walvisbaai bereik. Hier het hy ook die Topnaarstam ontmoet. Later is hier ‘n sendingstasie genaamd Scheppmannsdorf (1845) aangelê. 

Na al die moeilike jare is hy in 1830 terug geroep na Kommagas in Namakwaland. Hier het hy in die bediening volhard tot met sy dood op 26 Julie 1848. Sy skoonseun, Kleinschmidt skryf : “Sy einde was gevul met die vrede van God en sy laaste woorde is uitgespreek in blye verwagting : ‘Die Here is naby, die Here is naby!’” 


En wat het van Zara geword? Sy het Schmelen wonderlik bygestaan in sy vertaalwerk in die moeilike Namataal met sy ingewikkelde klapklanke. Net na die druk van die Evangelies is sy waarskynlik oorlede aan tering. Sy het blykbaar nadat sy die laaste bladsy geproeflees het, haar pen neergesit en gesê : “Nou is my werk op aarde klaar gedoen. Ek kan huis toe gaan!” Sy het op pad na Kommagas in die ossewa gesterf. Volgens Vedder is sy op die plaas van Lodewyk Bothma by Tulbagh oorlede. 

As jy weer by Steinkopf verbyjaag, los vir net ‘n oomblik die vakansiegedagtes en dink met dankbaarheid aan Heinrich en Zara Schmelen. Bid dan tot God dat ons ook getrou in die werk wat Hy vir ons gegee het sal volhard. 

Mag die Heilige Gees, Schmelen se voorbeeld gebruik om jou tot volle toewyding aan ons Verlosser en volharding in jou roeping in 2019 aan te spoor!

*Dr. H Vedder, Die Voorgeskiedenis van Suidwes-Afrika, p223-226

Maandag 06 April 2015

LAASTE BEKER KOFFIE OP ONKOSHI

Sommer so onverwags is 'n stukkie geskiedenis vanoggend vir my verder ingekleur...

Verlede naweek is een van die baanbrekers van die Tsumeb omgewing, tannie Sientjie Fourie oorlede. Ek het haar nie geken nie, maar haar dogter tannie Matie Stehle is ons skriba. Die Fourie gesin was pioniers wat op die plaas Ruimte (naby die Etosha wildtuin) vanaf 1947 geboer het en was baie betrokke by die kerk en gemeenskap. Hulle het ook op 'n ander hartseer manier deel van die omgewing se geskiedenis geword  toe Sientjie se man, Louis Fourie in 1982 deur terroriste op sy plaas vermoor is. Tannie Sientjie het heldestatus verwerf toe sy deur haar dapper optrede 'n groter ramp voorkom het. Deur aanhoudend op die aanvallers te skiet het sy verhoed dat hulle oor die veiligheidsheining rondom die opstal geklim het... Dit was rowwe dae van pyn, hartseer, lewensverlies... Hierdie Tsumeb, Grootfontein en Otavi omgewing was nie verniet bekend as die Driehoek van die Dood nie.

Vanoggend praat ek met tannie Babsie du Plessis wat my huis hier op Tsumeb huur. Sy vertel toe dat wyle Louis Fourie sy laaste beker koffie by hulle op die plaas gedrink het. Hulle het op die plaas Onkoshi geboer. Toe hulle die skokkende nuus van Louis se dood kry, het die beker nog op die tafel gestaan... Dit het die hele saak net nog meer hartseer gemaak.

Mag ons wat nie eers wat binne die volgende minute gaan gebeur nie, voluit lewe vir God en ons naaste... die beker koffie wat jy vandag vir iemand inskink kan dalk 'n laaste liefdesdaad aan daardie persoon wees!

Vrydag 05 April 2013

MISLEIER MARIETTA

- so dof soos die dood! 

In ‘n vertoning van verregaande onkunde berig DIE REPUBLIKEIN oor Marietta Theunissen se besoek aan Namibië onder die opskrif : OM DIE WAARHEID HELDER TE SIEN. Niks kan meer vals en foutief wees as so ‘n stelling ten opsigte van hierdie misleier nie. Dis nie net hopeloos verkeerd nie, maar ook ewigheidsgevaarlik... Helder? Nee, dof, doodsdof! 



Marietta ly duidelik aan die siekte van ons tyd. Subjektiewe relativisme. Eiesinnige hoogmoed. Sy dink sy doen niks verkeerd nie, want sy "glo" wat sy doen is reg. Sy is dus haar eie norm en verwerp dus God se Woord as enigste maatstaf. Die koerant lig ons in : “Marietta vertel dat sy elke dag mediteer, bid en stiltetyd hou en haar dae afsluit deur langs die see te draf of te stap. Ek het die kontak met die natuur nodig om myself te herlaai." Dit klink so vroom en onskuldig, die vraag is net tot wie bid sy? Definitief nie tot die God van die Bybel nie, want Hy beveel uitdruklik in sy Woord: 


“Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie ‘n besweerder by jou wees nie en ook nie ‘n towenaar of iemand wat voortekens lees of ‘n goëlaar of ‘n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie. Die Here het ‘n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.” (Deuteronomium 18:10-12) 

Mense wat sogenaamde “waarsêersgawes” besit is bloot skerpsinnige misleiers (wat met jou kop smokkel) of andersins is hulle onder demoniese invloed wat bonatuurlike kennis aan hulle oordra. Paulus het met so ‘n geval te doen gehad by Filippi: 

“Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ‘n slavin teëgekom in wie daar ‘n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 
Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: "Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word." 
Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: "Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!" Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.” (Handelinge 16:16-18) 

Let ‘n paar dinge op : Hierdie besete meisie het inderdaad kennis gehad, selfs korrekte kennis en dit oor God en sy dienaars! Nieteenstaande die feit dat sy korrekte inligting gegee het, was haar sogenaamde gawe en inligting afkomstig van ‘n bose gees! Toe die demoon uitgedryf word, het sy dan ook haar "gawe" verloor! Die dryfveer agter als was natuurlik soos vandag die geval is materiële gewin. Ja, geld, die wortel van alle kwaad! (Dis so maklik vir Marietta om haar sakke te vul met die fooie van geestelik onkundiges, hartseer naïewes en verleë verdwaaldes...)

Marietta “help” mense met betrekking tot gestorwe geliefdes, werk, verhou­dings, finansies... Regtig? Nee, sy buit hulle uit, erger sy mislei en lei hulle in die sfeer van die Bose in! Die Woord van God het vir ons duidelike inligting, antwoorde en oplossings ten opsigte van al hierdie vraagstukke waarmee mense worstel. Waarom sou mens God se Woord verlaat en antwoorde by ‘n agent van die Satan soek? Wees gewaarsku dit kan afgryslike gevolge hê! 

Hierdie pad van spiritisme lyk vir Marietta dalk reg, maar dit het 'n skrikwekkende einde! "Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.", waarsku Spreuke 14:12 ons.

Toe koning Saul weens sy volhardende ongehoorsaamheid deur God verlaat is en tevergeefs gebid het, moes hy hom noodgedwonge in ‘n tyd van krisis tot ‘n heks (spiritistiese medium) wend. Dit het vir hom geen verligting of oplossing gebring nie, maar was slegs ‘n tydelike verposinkie oppad na sy tragiese selfmoord. As jy op Saul se pad na vernietiging is, mag jy jou betyds bekeer en Jesus as jou Middelaar aanvaar. Daar is nou nog GENADE!

JESUS, DIE WAARHEID!

Marietta het nie die waarheid nie en ken ook nie die waarheid nie. Die Waarheid is Jesus Christus! (Johannes 14:6) Gelukkig het Hy gekom om ons te bevry en die werke van die duiwel, die mensemoordenaar te verbreek! Wie Jesus as persoonlike Hoëpriester ken, het vrye toegang tot die troon van genade en hoef  hulle nie op hekse, mediums, spiritiste, toordokters... en allerlei duiwelse kunste te verlaat nie. Bevind jy jouself in ‘n doodloopstraat of knypende krisis? Hy is die oplossing : 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 
Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 
Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." (Hebreërs 4:14-16)

Nou wie het mal Marietta nodig, as daar 'n Volmaakte Middelaar is?


Vrydag 13 April 2012

TWEE JAAR OP TSUMEB


- “ek is al U gunsbewyse nie werd nie!”

Hoe vinnig knibbel die tyd aan ’n kalender. Die kalender wat sê dat ons nou (April 2012) al twee jaar hier op Tsumeb is!  En vir my is dit boonop ook weer twee jaar van wonderlike terugwees in my besondere geboorteland.  Ek wil sommer net hier reg aan die begin vir al die Tsumebmense (en spesiaal almal in die gemeente) sê : Ons as gesin is almal baie gelukkig hier!  Vir die wat dalk wonder... Ek voel (en my vrou sekerlik nog meer so) ek het nou genoeg geswerf ... Pretoria... Rundu... Waterval-Boven... Vereeniging... Koppies...  Bray... Tsumeb!

Soos almal weet het ’n trekkery oor ’n landsgrens maar ’n kwota administratiewe en logistiese hobbels om oor te kom. Ons was geen uitsondering nie!  Dit was vorms, vertragings en veral frustrasies... Maar dit daar gelaat. Die seëninge oortref die ongerieflikhede by verre! 

Die saak van seëninge voer my gedagtes na die aartsvader Jakob se geskiedenis terug. Verskoon my die vergelyking. Maar ek dink tog dat ek aspekte van my omswerwings  gereflekteer sien in Jakob van die Bybel se veelbewoë wedervarings. Vergun my maar om ’n bietjie soos Jakob te voel met sy aankoms in  Kanaän. Julle weet mos dat Jakob vir Esau gevlug het en as enkeling daar by sy ma Rebekka se broer, Laban aangeland het. Heelwat jare later, met sy terugkeer na Kanaän bid Jakob tot die Here en sê onder andere :

 “Ek is al U gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.”  (Genesis 32:10)

Dit is inderdaad my belewenis! As eensame enkeling het ek  in 1998 oor die Oranjerivier verhuis en in 2010 kon ek as geseënde man van ’n wonderlike vrou en pa van twee pragtige meisiekinders terugkeer na Namibië. Maar toe kom daar sommer nog ’n bonus by : die geboorte van Natanie Vreugde in Januarie 2011! Soos dit heel dikwels met seën en verrassings die geval is, was dit ook nie sonder pyn nie, maar ons kan die Here waarlik dank vir hierdie gesonde dogtertjie wat tot ons gesin toegevoeg is.

Natuurlik, ons ware rykdom bestaan nie uit kinders nie (al is hulle baie kosbaarder as enige aardse besitting!) maar uit die oorvloedige rykdom van God se genade wat Hy oor ons uitstort deur Jesus Christus! (Efesiërs 1:7) Uit hierdie rykdom van genade ontvang ons volkome vergifnis en word ons herstel om gelykvormig aan Jesus te word. ‘n Deel van hierdie genade en barmhartigheid behels ook die voorreg om die Woord van God te kan bedien hier op Tsumeb. Mag die Here ons altyd hieraan herinner, want dit sal verhoed dat ons moed opgee. In 2 Korintiërs 4 (die hoofstuk waaruit ek my intreepreek in Tsumeb gelewer het) stel Paulus dit so treffend (vers 1) :

“God het Hom oor ons ontferm 
en hierdie bediening aan ons opgedra. 
Daarom word ons nie moedeloos nie.” 

Dis so nodig om hierdie waarheid gedurig  voor oë te hou, want die bediening van die Woord is nooit ‘n  gelykpad nie. Geleenthede en oop deure loop dikwels parallel met teenstand en stryd. Paulus sê  oor sy bediening in Efese : “hier staan ‘n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.” (1 Korintiërs 16:9) Met blydskap kan ek egter getuig dat die Woord harte aanraak. Daar is bemoedigende druppels van seën; mag die Here in sy genade vir ons nog die strome ook skenk!

Kort na ons aankoms hier op Tsumeb het ek papajapitte geplant. Een van die bome het besonder mooi gegroei en het op die oomblik ’n pragtige drag vrugte. Bid asseblief vir ons en die gemeente as geheel, dat God ons deur sy genade instaat sal stel om oorvloedige vrug tot sy eer te dra!





Aan al ons vriende uit ons Suid-Afrikaanse verlede : Julle is baie welkom om te kom kuier. Ons het so pas ’n lekker weersiens beleef toe Johan en Marie van Zyl van die Vrystaat (saam met Lettie en Christelle)  hier kom oë wys het. So kon ons weer op datum kom met Koppies se mense en dinge!

Lettie, Christelle, Marie en Johan van Zyl.



En aan almal wat ver van die Afrika son, waar ookal in die wêreld julle roeping uitleef : Dis so lekker om via die moderne tegnologie ook iets van die sonskyn van God se genade met julle te deel! En dis altyd aangenaam om van julle te hoor. Ons het bemoediging van julle kant af net so nodig!

SAAM OPPAD NA ONS HEERLIKE BESTEMMING!

Dinsdag 06 Maart 2012

AS DIE OMURAMBA LOOP

- strome van lewende water!

Min dinge maak ons Suidwesters (Namibiërs as jy wil) so opgewonde soos ’n omuramba (droë rivierloop) wat afkom! Lopende water is vir my van kleinsaf ’n vreemde en fassinerende verskynsel. Vir die wat ons land dalk nie ken nie; die enigste standhoudende riviere is op die verre Noordgrens (Kunene, Kavango en Zambesi) en die verre Suidgrens (Oranje). In Windhoek waar ek grootgeword het was lopende water maar ’n skaars gebeurtenis. As dit gereën het en die stroompies kom af, het dit groot opgewondenheid veroorsaak! Toe ons kinders was het ons huisgesin so ongeveer elke twee jaar die lang (en warm) pad af Kaap toe aangedurf. Hoe wonderlik dan om na die lang tog deur die vaal suide oor die bruisende groenomsoomde Oranjerivier te ry. 'n Lafenis vir die oog. Maar dis maar ’n kort verposinkie. Gou bevind jy jouself weer in die droë Richtersveld en Namakwaland. (Onthou dis Desember skoolvakansie - daar’s nie blomme nie) Maar dan... daar in die omgewing van Klawer en Clanwilliam is daar ’n oorvloed van lopende water! Verruklik!

’n Rivier wat afkom sal altyd vir my ’n opwindende belewenis bly. Toe ek dus nou die dag hoor dat die omuramba by Tsintsabis water in het, is daar sommer ’n vinnige besluit geneem om dit vir vroulief en die kinders te gaan wys! Hoe aangenaam! Statige makalani’s wat ons met hulle weerkaatsings in die water bederf. In die plek van droogte en hitte is daar nou water en Boesmans wat babers vang! Ja, water maak werklik ’n wonderlike verskil!




Dit herinner sterk aan Jesus se veelseggende uitnodiging en belofte in Johannes 7:37&38. Jesus staan te midde van ’n skare mense en roep hardop uit:

“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê : Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Jesus alleen kan aan die dorstige sondaar lewe en verkwikking bied. Deur die persoonlike geloof in Hom ontvang ons die vernuwende lewegewende Heilige Gees. Dis ’n lewe van oorvloed - volledige vergifnis, volhoubare vreugde (ten spyte van hartseer en slegte omstandighede) en ’n onaantasbare ewige erfenis in God se teenwoordigheid! Dis inderdaad strome wat opborrel uit ons binneste!

Jesus nooi jou ook uit tot hierdie tot hierdie nuwe lewe!



'n Stroom in die woestyn! Die Kuiseb kom af in 2011 na buitengewone goeie reën!





Die Swakoprivier bereik die see in 2011. Die eerste keer in my lewe wat ek die voorreg kon smaak om dit te sien.




Vasgekeer deur die geelstroom! Februarie 1997. Dit was oppad van Walvisbaai na Windhoek via die Gamsbergpad dat hierdie stroom my voorgekeer het. Wat 'n onvergeetlike belewenis!





Hierdie foto is deur my pa geneem tydens 'n sendingveldtog in Kaokoland nog in die tyd van die Bosoorlog. Ek dink die weermag het hulle deurgesleep.




Dors les in die Ugab (Damaraland) - Maart 2012