BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Afgryslike afgodery. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afgryslike afgodery. Wys alle plasings

Maandag 04 Julie 2022

LEWE OP DIE BERGTOP!


- wat is die lewe wat jy vir jouself en ook vir jou kinders begeer?




Elke ouer wil graag die beste vir sy kind in die lewe hê. My kinders moet tog eendag ‘n goeie lewe lei en ‘n suksesvolle bestaan kan maak. Maar wat presies is ‘n goeie lewe en wat behels ‘n suksesvolle bestaan? Daaroor kan baie opinies wees… Miskien moet ons dalk vir Jesus vra?

Maar wees gewaarsku Sy antwoord is baie radikaal. Dis ontstellend en meer nog dit gaan die totale bankrotskap en dwaasheid van ons westerse samelewing en spesifiek ook ons leefstyl en denke hier op Tsumeb ontbloot! 

Kom ons luister na ‘n paar van Jesus se uitsprake in Matteus 16.


Jesus het so pas aan sy dissipels bekend gemaak dat sy loopbaan en doel deur lyding moet gaan. (21) Laat ons dit maar onthou ons aanbid nie ‘n populere en gemaksugtige Christus nie, maar ‘n lydende en stewende Christus. 













Petrus het nie hiervan gehou nie. Hy het ‘n ander tipe verlosser en Messias verwag. (22) Jesus bestraf Hom sterk. (23) Jesus maak dit duidelik dat Petrus volgens menslike waardes en standaarde dink. 







Maar direk hierna rig Jesus nou ‘n radikale uitdaging om Hom te volg aan sy dissipels... (24) Ons moet onthou hierdie uitspraak is gemaak lank voor die kruis, die simbool geword het van die Christendom. Daar was niks mooi aan ‘n kruis nie, mense het nie kruise om hulle nekke gedra nie. Inteendeel almal het geweet as jy iemand met ‘n kruis sien is daardie ou op pad om die wreedste en skandelikste dood te sterf. ‘n Verworpene! 




Dit kan vergelyk word met die emosie rondom ‘n galgtou toe ons land nog doodstraf gehad het. Jesus se woorde sou daarop kon neerkom – AS jy regtig my wil volg hang ‘n galgtou om jou nek…wys vir almal jy het die dood gekies ter wille van My. Skokkend. Afgryslik. Heeltemal ongewoon. Kies teen jouself, kies vir die dood as jy my volgeling wil wees. Jesus se implikasie is duidelik – sy eie pad is die pad van selfverloening, lyding en dood en as ek Hom wil volg moet ek ook bereid wees om daardie pad te loop! ‘n Keuse vir Jesus is ‘n keuse teen my eie sondige begeertes, selfs my eie gerief, eie planne en eie aspirasies… dis ‘n keuse om Hom eerste te stel! 




Dan verduidelik Hy verder. (25) Ter wille van Jesus moet ons bereid wees om alles prys te gee. En net deur Hom kan die ware lewe gevind word. Loop die sterwenspad van verwerping en lyding saam met Jesus en jy sal die ware lewe vind! LEWE in die volle sin van die woord. (en net die Heilige Gees kan dit vir jou laat sin maak).







Jesus beklemtoon NET in Hom is die ware lewe te vind! (26) Als sou ek die hele wêreld besit, dan gaan dit my als niks help as ek Hom nie waarlik ken en volg nie! Die menslike soeke na sukses, geld en belangrikheid en besit is ‘n doodloopstraat! Jy moet die lewe soek buite jouself en jou eie prestasies en dit in Jesus vind. Die lewe in verbintenis met Hom wat nooit sal verbygaan en nooit sal teleurstel nie. Die ewige lewe wat nou reeds begin en vir altyd sal voortduur. Die lewe wat beteken dat ek God en sy Seun Jesus sal ken. Jy kan sien. Jesus se idee van lewe en die algemene siening in die wereld van lewe staan reëlreguit teenoor mekaar. 

LEWE is ‘n lewe van navolging van Jesus al kos dit lyding en verwerping. Lewe op die bergtop is lewe saam met Jesus!

Nou is die groot vraag : Is die goeie lewe wat jy vir jou kinders wil hê, is die goeie lewe waarop jy jou kinders wil voorberei in lyn met Jesus se siening van lewe? Leer ons ons kinders deur woorde en deur voorbeeld dat die heel belangrikste ding op aarde is om Hom te ken? Leer ons ons kinders dat alle dinge uiteindelik tot niet sal gaan, maar dat om Hom te ken alles in waarde oortref? Leer ons ons kinders dat al ons dade eendag deur Jesus beoordeel gaan word? Sy lof, sy goedkeuring is al wat tel? (27)




Dit wat ek oor die algemeen rondom my sien, laat my dink dat ons nie die waardes en waardevolheid van Jesus aan ons kinders oordra nie. Voorbeelde: Is huisgodsdiens die eerste prioriteit – in ons huise? Of is sepies en ander programme belangriker? (Ek ken die antwoord, want die oorgrote meerderheid van kinders met wie ek in aanraking kom, ken glad nie die Bybel nie. Maar hulle kom uit "Christelike huise" en gaan skool in 'n "Christelike privaatskool') Leer ons vir ons kinders dat om Jesus te ken die belangrikste is, as ons bereid is om naweek na naweek honderde kilometers agter sportbyeenkomste aan te ry, maar min moeite doen om by die kerk te kom. 

Leer ons ons kinders dat hulle verlore sondaars is sonder Jesus, as hulle altyd net vertel word hulle is ysters? Ons kweek ‘n generasie van ysters met so ‘n oordrewe selfbeeld dat hulle nooit hulle aaklige sonde sal besef en God om genade sal smeek nie…

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek sê nie ons met heeldag net Bybel lees vir ons kinders nie… Ja, natuurlik moet ons gebalanseerde kinders grootmaak- ons moet tyd en geld bestee aan hulle akademiese en fisiese ontwikkeling, maar ons eerste groot passie moet wees om hulle te begelei om volgelinge van Jesus te word. Dit help als niks hulle word akademiese reuse en sportsterre, maar hulle sal vir ewige verlore gaan in die hel sonder God nie! (26)

God gee aan ons verbondskinders om vir Hom groot te maak. Hy beskou hulle as baie belangrik, as syne. Luister na God se snydende verwyt in Esegiël 16:20-21. 



Israel het hulle kinders soms letterlik aan afgode geoffer. Doen ons dit nie ook as ons deur ons voorbeeld en praatjies kinders laat verstaan dat geld en prestasies die belangrikste in die lewe is nie? Vertel jy jou kinders dat om Christus Jesus te ken alles in waarde oortref? Sien jou kinders jou gereeld in die kerk, sien hulle jou besig wees met die Bybel, hoor hulle jou bid? Die waarde van Jesus en die allerbelangrikheid om Hom te volg, dis die lewe. Dis die lewe op die bergtop in God se teenwoordigheid saam met Jesus!



Maandag 15 Julie 2019

WALGING, AFGRYSE...

EN ONTSTELTENIS!

Van erg na erger... Elke slag 'n bietjie verder en brutaler! DIE KERKBODE berig met groot fanfare oor die bevestiging van prop. Dietmann, 'n homoseksueeel wat onlangs met 'n man getroud is wat nou in die NG Kerk Stellenberg bevestig is as tentmakerleraar! En bid jou aan, met die oog op meditatiewe dienste!

Wat erger kan nog met ons kerkverband gebeur? Wanneer is genoeg, genoeg? Hoe moet Bybelgetroue leraars, lidmate en gemeentes protes aanteken? Moet ons maar oppak en aanbeweeg? Waarheen? Wanneer kom daar 'n punt dat die uittarting van God te ver gegaan het? Sodom het nie eens die Skrif gehad nie...

Dit raak my alles baie persoonlik en ingrypend. Ek is baie gelukkig in die NGK Tsumeb, ek is lief vir hierdie kudde, veral vir diegene wat elke Sondag met verlange na die Woord kom luister... Ons beleef goeie dinge in die gemeente. Maar my kerkverband maak dit vir my al moeiliker... bitterlik moeilik!

Ja, ek weet ons as plaaslike gemeente is ecclesia completa! Dankie daarvoor! Maar die NG etiket het 'n smet geword! Die NG verband 'n intense verleentheid!

Daarom as eerste stap wil ek my persoonlike walging, afgryse en ontsteltenis uitspreek oor hierdie optrede van NGK Stellenberg se kerkraad!

Maar wat verder? Dalk 'n persoonlike ontrekking aan alle NGK strukture? Vroeë aftrede? 'n Permanente staat van dolering?  Dis so kompleks... HELP my en BID vir my, vir ons, vir almal wat alhoewel diep bewus van ons eie gebrokenheid, tog dit ernstig bedoel met Jesus en Sy kerk... En ja, kan ander leraars wat vir die waarheid  staan ook maar 'n bietjie hulle stem laat hoor!

Luister maar net weer na die onfeilbare Woord! Romeine 1:22-27 is seker duidelik?

"Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 
 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 
Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe (hulle is nou op die kansel!) en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. "


As jy 'n sterk maag het, kan jy maar kliek op AFGRYSE!

As jy weer bly wil word oor God se krag kan jy kliek op GENADE  (Wonderlike eerlike getuienis van 'n voormalige Lesbiese postmodernis se ontdekking van God se genade!)

Vir die Tsumeb NG kerk se amptelik standpunt oor hierdie sake kliek op STANDPUNT


[foto - DIE KERKBODE]


Donderdag 18 Julie 2013

VEROORDEEL TOT WURMKOS

- wanneer die vleiery verstil en Goddelike wraak ‘n werklikheid word.


Die openlike mensverering wat losgebars het sedert Mandela in die hospitaal opgeneem is, het die (dalk verskoonbare) grense van misplaaste heldeverering en belaglike bewondering oorskry. Ten minste by sommige Mandelavereerders loop dit die gevaar om te ontaard in lastering. (nie alle mense wat bewondering vir Mandela se rol in die geskiedenis koester maak hulle natuurlik aan sulke uiterstes skuldig nie, maar ek dink dat Christene van alle rasse en politieke oortuigings nou behoort op te staan en duidelik die mensverheerliking van die afgelope tyd moet veroordeel) Die onderstaande foto wat op die BBC se nuusblad verskyn het, laat alle illusies wat daar nog sou kon bestaan oor die neiging tot afgodery van die hedendaagse mens verdwyn.


(die afgryslike lastering spreek vanself!)

Dis natuurlik niks nuuts nie. Die mens wat die Skepper nie dank, ken en vereer nie, verval al te maklik in skepselverering. Dit wek die toorn van God en laat Hom die mens oorgee aan sy selfvernietigende bose gesindheid. (Romeine 1:18ev)

Die gebeure in Handelinge 12:20-24 gee vir ons ‘n verhelderende perspektief op die waansinnige dwaasheid van die buitensporige beheptheid met Mandela : 

"Die mense van Tirus en Sidon het hulle die woede van Herodes op die hals gehaal. Daarom het hulle saam ‘n afvaardiging na hom toe gestuur. Nadat hulle vir Blastus, die koning se kamerheer, op hulle hand gekry het, het hulle vrede gevra, omdat hulle land van die koning s’n afhanklik was vir lewensmiddele.
Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek.
Die mense het toe geskreeu: "Dit is ‘n god wat praat, nie ‘n mens nie!"
Op daardie selfde oomblik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe.

Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen."

Bostaande stuk uit die Skrif herinner my kortliks dat:

~ die maak van menslike afgode niks nuuts is nie, maar van altyd af eie aan die verdorwe mens. Alle mense is hiertoe geneig, maar diegene wat gunste by ander soek val die maklikste in hierdie sentimentele en valse verering. Die vleiers van Tirus en Sidon was beslis nie bekend vir lojaliteit teenoor Herodes nie, maar ter wille van voedsel was hulle bereid om die regte heuning-om-die mond-smeer-liedjies te sing. 

~ om ‘n bepaalde persoon of selfs mense in die algemeen te vergoddelik gebeur makliker as wat mens dalk sou kon dink. Die afgelope tyd het ek besef dat die beskrywing in Openbaring van die dier (Antichris) wat deur mense aanbid sal word, glad nie snaaks en vergesog is nie. Ek sal nie verbaas wees, dat as Mandela wel weer uit die hospitaal sou kom, daar inderdaad mense sal wees wat hom aanbid nie. (sou hy sterf sal hy seker in elk geval ‘n belangrike rol as spesiale voorvadergees in baie mense se lewens speel) Die punt is net dat as die regte persoon na vore kom sal die goddelose massas soos vlieë agter die misreuk van sy sjarme, “verdraagsaamheid” en wonderwerke aanswerm. Die wêreld vol beskaafde en gekultiveerde mense sal die Antichris met oorgawe aanbid sonder om ‘n oomblik te twyfel. (Christene wat nie wil saamgaan met hierdie mensverering nie sal as dwarstrekkers en onverdraagsames uitgekryt word.)

~ God deel sy eer met niemand nie en sy wraak op die huidige (en soortgelyke) mensverering wat aan die orde van die dag is sal nie uitbly nie. Die feit van Goddelike toorn en vergelding is nie ‘n bangmaakstorie wat deur pretbederwers uitgedink is nie, maar onmiskenbar deel van God se selfopenbaring in Sy Woord. (Sien meer, kliek op GOD SKRIK NIE.)

~ die verblydende perspektief wat deur Lukas die skrywer uitgelig word is dat die Woord van God onstuitbaar voortgaan en die Koninkryk van God beslis sal aanbreek. In die eerste gedeelte van Handelinge 12 word ons uitvoerig vertel hoe die einste Herodes tevergeefs Petrus uit die weg probeer ruim en so die verspreiding van die Woord probeer kortwiek het. God verlos Petrus wonderbaarlik van die swaard, maar die hooghartige Herodes word wurmkos! Oor die gewaarborgde oorwinning van die Woord mag alle kinders van God bly wees. Laat die wêreld maar hulle lofprysinge sing, ons verbly ons oor die onstuitbare vooruitgang en verspreiding van die evangelieboodskap tot op die dag wanneer ons Koning in heerlikheid verskyn!

Die Christen hoef regtig nie Mandela dag te vier nie, ons vier elke week die Sondag ter herinnering aan ons Verlosser se opstanding en oorwinning oor die dood. Die kind van God hoef nie 67 minute van goeie dade uit te dink en te doen nie. Ons weet mos ons is uit genade gered, sodat ons ons hele lewe kan wy aan die goeie dade waarvoor God ons bestem het. (Efesiërs 2:8-10)

Ja, die mens se hart is gemaak vir, en ons het ‘n behoefte aan aanbidding (worship). Dis ons as kinders van God se heerlike voorreg om Hom wat waarlik mens, maar ook waarlik God is nou reeds te aanbid en te bewonder, maar ook uit te sien na daardie heerlike dag, die hemelse erediens (wat ewig sal aanhou):

"Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is.
Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.
Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ‘n siter gehad en ‘n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.
Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.
U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."
Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ‘n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor uitroep: "Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang."
Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid."
Die vier lewende wesens het gesê: "Amen!" En die ouderlinge het gekniel en God aanbid." (Openbaring 5:6-14)

Kniel jy saam?

Naskrif 1 : Dis duidelik, God werk deur Woord en Wurms. Hy gebruik genadeverkondiging en oordeel om sy koninkryksdoelwitte te bereik. Nou staan die Woord, die evangelie voorop en dis 'n geleentheid wat ons nie moet versmaai nie, maar eendag sal Hy defnitief ook geëer word deur die ongehoorsames weg te werp in die plek waar die wurms nooit sal sterf nie....

Naskrif 2

Ook die spotprentkunstenaar Zapiro word meegevoer deur die Mandela kultus... Nee, vriend, dis nie Mandela wat die bron van goeie werke is nie, maar Jesus Christus alleen...