BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Jesus - barmhartigheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus - barmhartigheid. Wys alle plasings

Dinsdag 22 Februarie 2022

DIE EEN GROOT HAAKPLEK

- wat keer dat jy vergifnis en vrede beleef!

Die grootste ontdekking wat ‘n sondaar kan maak is die ontdekking van vergifnis! Dis die heerlike boodskap van Psalm 130. Dit bevry jou uit die diep put van moedeloosheid, selfverwyt, depressie en desperaatheid… ja, dit bevry jou van die angste van die hel. Anders gesê, almal wat in die hemelse Koninkryk sal ingaan, het een gemeenskaplike deler – dis almal wat vergifnis ontvang het! Toegang tot die Koninkryk hou direk verband met genade en dis deur genade dat ons vergifnis ontvang!

Tog lyk dit asof die geskenk van vergifnis party mense net ontwyk. Die lig van vergifnis wil net nie deurbreek nie. Miskien sê jy – "ek het my sonde voor God bely, Ek vertrou op Jesus, ek het Hom aanvaar, ek stel nie meer my hoop in myself nie, maar alleen op die verdienste van sy kruisdood… en tog, ek het nie vrede nie, ek sukkel om te beleef dat ek vergewe is…" Wat is fout?

In Matteus 6:14 en 15 kom daar ‘n baie belangrike uitspraak uit die mond van die Here Jesus. 




 Dis ‘n baie direkte skokkende uitspraak. En dis nie die enigste plek waar Jesus ons vergifnis wat ons by God kry, koppel aan die vergifnis wat ons aan ander mense moet gee nie. “En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef.” Markus 11:25

Hierdie uitspraak oor vergifnis in Matteus, volg soos ons gesien het op die Onse Vader gebed. Volgens die verklaarder Van Bruggen gaan dit oor meer as net ‘n voetnoot op die een bede. Dit sluit aan by die Onse Vader gebed as geheel. In die Onse Vader gaan dit soos in die res van die Bergrede oor die groot saak van INGANG TOT DIE KONINKRYK VAN GOD! Om in die koninkryk in te gaan het ons genade nodig. Dis die enigste pad na die koninkryk. Genade, wat natuurlik die ontvangs van vergifnis behels. As ons wat bid om in die koninkryk te mag ingaan, hardvogtig en sonder genade is, dan kanselleer ons as’t ware ons eie gebed. As ons genade en vergifnis aan ander weier sal dit ook aan ons geweier word. 


Dis eintlik ‘n bevestiging van wat Jesus reeds in die inleiding tot die Bergrede geleer het. “Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.” (5:7) Sien jy, ook hier is ‘n duidelike verwantskap tussen die barmhartigheid wat ons aan ander gee en die barmhartigheid wat ons van God ontvang! Anders gestel - Wat jy weet dat jy van God nodig het, betoon dit ook aan ander mense!* Iemand wat nie barmhartigheid bewys nie sê dus maar net ek het self dit ook nie nodig nie, met ander woorde ek hoef nie in Jesus te glo nie. Onbarmhartiges is dus by implikasie mense wat nie in Jesus glo nie en daarom verlore is! Barmhartigheid is ‘n bewys dat ek barmhartigheid ontvang het, en dat ek dus in Jesus glo. 



Martyn Lloyd-Jones  sê dit so :“What makes me merciful is the grace of God. But the grace of God does make me merciful. So it comes to this: if I am not merciful there is only one explanation, I myself have never understood the grace and mercy of God; I am outside Christ; I am yet in my sins , and I am unforgiven” Skrikwekkende woorde, maar so waar!






Gaan jy erns maak om ander te vergewe? Die groot beswaar is mos : “Ek kan nie, want ek voel nie so nie!” Ons moet duidelik verstaan – vergifnis is nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit in gehoorsaamheid aan God se opdrag. As ek waarlik my eie sonde voor God besef, as ek besef ek verdien nie vergifnis nie, maar God gee dit vir my uit genade omdat Jesus met sy lewe betaal het, omdat Jesus my straf aan die kruis gedra het... as ek weet dat ek absoluut afhanklik is van God se genade en vergifnis – dan kan en sal ek besluit om ander te vergewe. Dis nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit/keuse om niks meer teen die ander persoon te hou nie. Dis ’n besluit wat ek aan die voet van die kruis neem, wetende dat ekself ook nie God se genade verdien nie! In elk geval die sondes waarvoor God my vergewe is baie kleiner en minder as die sonde wat die ander persoon teen my gepleeg het.

As ek vergifnis aan ander weier dan wys dit eintlik maar net dat ek nog nie ’n eerlike skuldbesef het van die grootheid en aakligheid van my eie sonde nie. As ek aanhou om wraakgedagtes te koester dan kan ek hoegenaamd nie die Onse Vader bid nie, want dan wys dit maar net dat my eie eer en ego belangriker is as die heiligheid en eer van GOD se Naam! Met onvergewensgesindheid kan ek nie opreg bid : “Laat U Naam geheilig word.” nie! 


 My bitterheid belemmer my gebed as geheel.



Laat die bitterheid in jou lewe vervang word deur – Bedink, Berou, Besef, Bely en Besluit!

Bedink dus eers die erns van jou eie sonde. Hoe groot is my sonde! Ek het al tien van God se gebooie op een of ander manier oortree. Ek het God nie so lief soos ek moet nie, ek het my medemens nie so lief soos myself nie. Mag God jou dan berou skenk, ware berou soos die van Dawid en Petrus... wat mens laat uitroep om genade!

Besef dat jou enigste hoop lê in die vergifnis wat jy van God ontvang, omdat Jesus vir jou gesterf het toe jy nog ‘n sondaar was.

Bely jou sonde en bring dit na Jesus. En vertrou volkome dat Sy sterwe ’n genoegsame offer was daarvoor.

Besluit om dan die vergifnis wat jy van God nodig het, ook aan ander te skenk – maak nie saak wat jou eie gevoelens is nie! Dit gaan oor gehoorsaamheid en nie gevoel nie!


Saterdag 06 Oktober 2012

GERED UIT 'N GRAFBESTAAN

- Jesus is bedrywig in Satan se "scrapyard"

Kom ons gestel vir ’n oomblik dat daar destyds ’n Departement van welsyn in Palestina en omstreke was. Sê nou maar met  ’n hoofkantoor in Jerusalem. Dan sou jy daar iewers in ’n rak ’n stofbedekte lêer gevind het, gemerk mnr. So-en-So van Gerasa. Stofbedek, want niemand sou meer die moeite doen om aan hierdie saak aandag te gee nie. As jy die lêer wel sou oopmaak sou jy gou verstaan waarom dit daar eenkant vol stof lê. Dis een droewige verhaal van hopelose ellende. Die kliënt het geen vaste adres nie, bevind homself iewers tussen die grafte, dis onmoontlik om met hom te kommunikeer, hy is van sy verstand af, hy is ’n gevaar vir die samelewing, niks anders as ’n wilde dier nie - volgens alle logika volkome onrehabiliteerbaar. (Die gebreekte kettings is  ‘n verdere grusame bewys dat die enigste beskikbare “behandeling” nie juis suksesvol was nie!) Eintlik was hy maar net iemand uit wie se pad mens moes bly. Sonder hoop, afgeskryf ....tot op daardie dag....tot op die ingrypende dag toe Jesus Christus die Seun van God op sy pad gekom het.

Markus 5:1-20 gee vir ons ’n dramatiese vertelling van  hierdie merkwaardige en aangrypende gebeurtenis. Daar is twee pole in die vertelling wat uitstaan: Die ellendige toestand van hierdie man in die mag van die Bose. Die ander pool (en dis waar die klem val) is die Goddelike almag van Jesus wat hom bevry het. 

1) Die haglike hopelose toestand van hierdie man. Markus skets dit vir ons in volle realistiese detail. (Dis eintlik ‘n beskrywende videoskoot) Lees vers 3-5. Kan jy vir jou so ’n bestaan voorstel? In hierdie man se lewe kan mens duidelik sien waarom Jesus die duiwel as ’n mensemoordenaar beskryf.  Hy is ’n sprekende voorbeeld van die duiwel se vernietigingswerk. Afgetakel na gees en liggaam.  Die beeld van God is bykans onherkenbaar in hom geskend. Hy het inderwaarheid ’n doodsbestaan, ‘n graflewe  gevoer, buite enige hoop (let op die herhaling van “grafte” - 2,3,5)

Klink dit alles bekend? Mens hoef nie vêr te gaan soek nie. Die duiwel se verwoestingswerk in mense is ’n alledaagse gesig en werklikheid al mag die besonderhede van hierdie  man se situasie verskil.  Hy doen dit op sigbare maniere sowel as op subtiele wyses. Satan belowe wel aan mense die lewe,  maar hy takel hulle af tot ’n minderwaardige doodsbestaan. Satan maak slawe van mense al dink hulle hulle is vry - net soos in die geval van hierdie man. Slawe van slegte en vernietigende gewoontes wat hulle  aftakel. Slawe van hulle sondige begeertes, vasgevang in ’n dodelike web waarvan die uiteinde die ewige dood is. Uiteindelik beroof die duiwel jou van alle vrede en rus en jy word ’n beangste vlugteling wat nie meer kans sien vir die lewe nie. Satan dompel mense in ‘n grafbestaan van vrees, disternis en sinloosheid! Dit gebeur ook met goeie ordentlike  kerkmense, ja! 

Dis moontlik om selfs met ‘n glimlag in die kerk te sit, terwyl ek eintlik maar ‘n graflewe sonder vreugde en vrug voer!

Maar terug by die man van Gerasa - sy lewe was een groot stuk ellende. ’n Somber uitsiglose bestaan van duisternis en grafte!

2) Jesus se genadige almag bring ‘n omkering in die toneel. Teen die donker agtergrond van uiterste ellende skyn die helder lig van  Jesus se krag en barmhartigheid. Let op die absolute kontras tussen 3-5 en 15. Kyk die groot verskil tussen wat hy was en wat hy nou is. Totaal ’n nuwe mens - geestelik, emosioneel, selfs uiterlik! Nie meer ’n werktuig en woonplek van Satan nie,  maar nugter onderworpe aan die Seun van God!  Wat maak die verskil, of eerder Wie maak die verskil? Jesus Christus die Seun van God. Dis op hierdie Jesus wat die klem en fokus in Markus se vertelling val. Onthou die evangelie wat hy skryf is die evangelie van Jesus en spesifiek Jesus die Seun van God. Jesus die Seun van God - dis Markus se groot tema. (1:1)  Hierdie verhaal is ’n klinklare bewys dat Jesus die Seun van God is, selfs die Bose erken dit! As Seun van God is Jesus almagtig. Markus vertel vier agtereenvolgende verhale om dit aan te toon. Jesus maak die storm stil (mag oor die natuur). Jesus genees die vrou wat aan ongeneeslike bloeding ly  (mag oor siekte).  Jesus maak Jaïrus se dogtertjie lewend. (mag oor die dood).  In hierdie vertelling gaan dit oor Jesus se mag oor die Bose. Jesus bevry hierdie man uit die kloue van Satan. Jesus doen hierdie bevrydingswonder in ’n heidense gebied van duisternis. (die groot trop varke is seker al klaar ’n aanduiding daarvan - die Jode was mos nie ywerige varktelers nie)

Jesus bevry hierdie man uit sy ellendige bestaan. Twee uitstaande eienskappe van Jesus as Seun van God kom hier na vore. Soos reeds gesê - Jesus se almag. Hierdie man was nie net deur een gees beset nie - Sy naam was Legio. (’n legioen was ’n Romeinse leërafdeling van ten minste 6000 man sterk) Hierdie man was totaal besmet en oorgeneem deur ’n klomp demone. Jesus bevry hom in ’n oogwink. Ons sien hier ’n praktiese demonstrasie van Jesus se oorhand en oppergesag oor die Satan. Ons aanskou hier ’n klinklare konkrete bewys van die waarheid wat ons in
1 Johannes 3:8 lees

“Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn,  om die werke van die duiwel te verbreek!” 

Geliefde, mag ons harte op hierdie oomblik verbly word deur Jesus se almag en mag ons opnuut (of dalk die eerste keer) ons vertroue in Hom stel!

As Jesus se krag om te verlos indrukwekkend is, dan is sy liefde, barmhartigheid en medelye met ’n ellendige sondaar net so aangrypend. Ons moet verstaan,  hierdie man was seker nie juis ’n mooi prentjie nie! (Hy het sleg gelyk en geruik!) Waar ander mense  maar sal wegkyk of  sal hulp aanbied aan iemand  met meer potensiaal,  ontferm Jesus Hom oor hierdie mens in die diepste denkbare nood. Jesus is onbevooroordeeld barmhartig teenoor die mees diep gesonke sondaar!

Jesus spesialiseer in die herwinning en herstel van afgeskryfde wrakke in Satan se skrootwerf!

Jesus se almag en barmhartigheid bring volledige bevryding en herstel in hierdie man se lewe. ’n Vuil grafbewoner, ‘n  besete boemelaar word ’n verkondiger van God se boodskap! (20) ’n Willose werktuig van die duiwel word herstel  en omvorm in ’n herout van God! Jesus verlos hierdie man nie net van ‘n aardse grafbestaan nie, maar ook van die ewige helse graf!

Twee laaste sake :

~ Alle mense is nie besetenes nie. Maar, alle mense wat nog nie deur Jesus verlos is nie, is slawe, slagoffers en werktuie van Satan. Alle mense het Jesus se reddende  mag en barmhartigheid nodig!

~ Hierdie verhaal wat Markus vertel het ’n blye hoopvolle einde - ’n man wat bevry is en ’n boodskapper word van God se groot dade. Tog is daar ook ’n hartseer kant. Die mense van die omgewing vra dat Jesus moet weggaan. Hoekom? Ons weet nie presies nie. Miskien was hulle bang vir Hom en sy groot krag, bang Hy raak betrokke in hulle lewens. Heel waarskynlik ontsteld oor die verlies van ’n groot trop varke. Hulle varke het vir hulle meer getel as die bevryding van ’n gebroke medemens.  Hoe dit ook al sy, hulle toon nie veel belangstelling in Jesus nie. Dis tragies, want baie van hulle het seker ook nood gehad.... Wat ’n ironie! Hierdie man wat tot die laaste vlak van die samelewing gedaal het,  sal eendag ’n bewoner wees van die nuwe aarde, terwyl baie van die ordentlike en welaf mense van Gerasa  dalk nie daar sal wees nie, omdat hulle die kans laat verbygaan het om die Magtige Verlosser te vind! 

Geliefde, moenie jou oor die “varke” (allerhande aardse kleinighede) bekommer en so die verlossing mis nie!