Almal wat hulle enigste vertroue stel op die Gekruisigde en Opgestane Jesus Christus, Seun van die Lewende God as enigste Saligmaker, is my broers en susters in die Here! En ek het geen begeerte om met hulle te baklei oor ‘n bepaalde siening van kerkregering, doopbeskouing of dergelike sake nie. Tog verreis ons gehoorsaamheid aan die Skrif, die hedendaagse vraagstukke rondom leer en lewe en die aanslae teen ons geloof dat ons die waarheid waarin ons glo nader moet formuleer.
Formeel onderskryf ek die Drie Formuliere van Eenheid, te wete :
- die Nederlandse Geloofsbelydenis
- die Heidelbergse Kategismus
- die Dordtse Leerrreëls.
(Ek voorsien nie dat my handtekening onderaan die Belharbelydenis sal pryk nie)
- die Nederlandse Geloofsbelydenis
- die Heidelbergse Kategismus
- die Dordtse Leerrreëls.
(Ek voorsien nie dat my handtekening onderaan die Belharbelydenis sal pryk nie)
Ons bestaande belydenisskrifte is briljante Bybelgetroue uiteensettings van die suiwer leer wat die toets van die tyd deurstaan het. Die Belydenisskrifte sê egter nie als oor alles nie. Boonop is daar in ons dag nuwe leerstellige vrae, nuwe variasies van dwalinge en nuwe etiese uitdagings waarop ons vanuit die Skrif ons moet kan verantwoord. Dit is dus nodig vir elke Christen om fyner te definieer wat ons glo oor beide leerstellige en etiese sake in eietydse konteks. Beydenisvorming is dus 'n vootgaande proses! Die kind van God groei voortdurend in heiligmaking en ook in verstaan van die waarheid soos die Heilige Gees al meer ons denke vernuwe vanuit God se Woord. Hierdie verstaan is baie persoonlik, maar tog nie ‘n suiwer individuele saak nie, want die waarheid is so ryk en omvattend dat ons dit slegs saam met die heiliges van alle tye kan begryp. Vir kastige “nuwe insigte” wat in stryd is met die lering van die historiese kerk van alle eeue se verstaan van die Skrif, moet ons dus maar baie lugtig wees! Dit verhinder ons egter nie om telkens met nuwe verwagting en openheid na die Skrif te luister nie.
Hieronder volg my (dalk voorlopige) verstaan van ‘n paar leerstellige en etiese kwessies waarmee ek al geworstel het. (Ek is altyd oop vir korrigering vanuit die Skrif)
Oor die volgende temas wil ek iets met jou deel (die lys mag mettertyd uitgebrei word):
1. Die uniekheid van Jesus Christus as enigste Verlosser
2. Bybel en Inspirasie.
3. Die kwessie van die Kerk.
4. Oordeel en Hel.
5. Die Christen en die Wet.
1. Jesus Christus die enigste unieke Verlosser
Daar mag dalk baie paaie na Rome toe wees, maar na God toe is daar net een Pad, Jesus van Nasaret, die Seun van die Lewende God, wat self verklaar het : "Ek is die weg die waarheid en die lewe" (Johannes 14:6) Hieroor is geen kompromie moontlik nie. Laat die goddelose mensdom ons maar beskuldig van onverdraagsaamheid, Jesus is die enigste toegang tot God. Ons kan nie anders as om saam met die Woord te verklaar dat daar geen ander Naam is waardeur die mens gered kan word nie (Handelinge 4:12) en dat daar geen ander Middelaar tussen God en mens is nie! (1 Timoteus 2:5) Van hierdie ononderhandelbare feit moet ons helder getuig en vir hierdie onomstootlike waarheid moet ons selfs bereid wees om te sterf!
2. Die Bybel en inspirasie.
Van harte bely ek : “God se Woord is die waarheid!” Dis 'n saak van geloof. Geloof wat die Heilige Gees uit genade in my wek. Hoe dit tegnies teologies byvoorbeeld in terme van ‘n bepaalde inspirasieleer uitgedruk moet word, is egter nie vir my so eenvoudig nie. Dit gaan oor die verhouding tussen die menslike aspek van die Skrif (mense as skrywers) en die Goddelike aspek. (die rol van die Heilige Gees) Daar is verskeie faktore wat die formulering van so ‘n inspirasieleer en daarmee die belydenis oor die onfeilbaarheid van die Skrif of die “inerrancy” konsep nie so eenvoudig maak nie. Ek noem ‘n paar : Die verskille tussen die Hebreeuse OT (oorspronklik geskryf en dus geïnspireer) en die Septuagint (die Bybel van die vroeë kerk en hoofbron van die evangelieskrywers se sitate, dus tog ook geïnspireer?). Die feit dat ons nie oor die autographa (oorspronklike weergawes) van enige Bybelboek beskik nie, maar oor afskrifte daarvan wat van mekaar verskil. Onmiddellik moet bygevoeg word dat hierdie verskille betreklik gering van aard is en nie enige leerstellige kwessie in ons geloof raak nie. Dis wel belangrik vir die formulering van ‘n inspirasieleer, want om te beweer dat die autographa verbaal geïnspireer is sonder enige foute, is prakties irrelevant, juis omdat ons dit nie het nie. Sou God wat sy Woord kan bewaar en dit inderdaad gedoen het, dan nou nie dit volledig woord vir woord kon doen nie? Of gaan dit hoegenaamd nie oor enkel woorde nie, maar oor ‘n omvattende boodskap met duidelike hooflyne? Dis in hierdie rigting waarin soos dit vir my tans lyk die oplossing lê : Die waarheid en onfeilbaarheid van die Skrif word eerstens gevind in die groot geheelboodskap. In die groot duidelike deurlopende lyne en waarhede soos die lering oor die een God as Skepper en Verlosser, die verbond met Abraham, God se bemoeienis met sy volk, Jesus Christus se persoon en werk (sy kruisdood en liggaamlike opstanding), vergifnis van sonde deur geloof in Jesus, die opstanding van die dooies, die nuwe hemel en aarde. (König) Beteken dit dat kleinere detail nie waar of onbelangrik is? Nee, maar presies hoe die menslike aspek van Skriftotstandkoming impakteer op die onfeilbare boodskap daarvan is vir my ‘n misterie net soos die feit van Jesus se twee nature : waarlik God en waarlik mens.
3. Die kwessie van die Kerk.
Hoe lyk die ware kerk? Wanneer is ʼn kerk nie meer kerk nie? Wanneer mag en moet ek my afskei van ʼn (volgens my beoordeling) vals kerk? Ons weet wat is die belydenisskrifte se antwoord hierop, maar hoe ver kan ‘n kerkverband hiervan afwyk en nog steeds ware kerk wees? Dis nie so eenvoudig om hierop te antwoord nie. Wie dit te eng beoordeel sal kort-kort van kerk verwissel of ‘n nuwe een stig. Natuurlik, wie te wyd hieroor dink kom ook te staan voor gruwelike gevare vir homself en sy nageslag. Die hoofsaak is natuurlik nie persoonlike belang nie, maar die eer van God.
Kom ons wees eerlik : vir ons as mense is dit moeilik om te bepaal waar die grense van die ware kerk lê. Net ʼn paar lyne wat die saak in perspektief stel:
- Die verbondsvolk van God in die OT was dikwels (meestal) in ʼn uiterste toestand van verval en het selfs polities geskeur na Salomo se regering. Tog word godsdienstige afskeiding of skeuring nêrens as ʼn oplossing voorgehou nie. Dis ʼn minderheid van die Verbondsvolk wat die ware God by tye gedien het, maar die sewe duisend wat nie die knie voor Baäl buig nie, kry nie die opdrag om eenkant hulle eie ding te gaan doen nie.
- Die NT se herhaalde en ernstige waarskuwings om gereed te wees, om selfondersoek te doen, om in die geloof te bly en ook die oproep tot bekering byv. tot die kerk van Laodicea, is 'n duidelike bewys dat gevallenheid ook deel van die Nuwe Testamentiese kerk was. Daar is nie 'n outomatiese is gelyk aan tussen wedergeborenes en die huidige gestalte van die kerk nie. Die toestand van die kerk op aarde kan natuurlik wissel in gesondheid en waarheid, soos die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring duidelik aantoon. Dit blyk dat sommige kerke (gemeentes) bloot nog net die naam gehad het dat hulle leef. Tog word hulle nog steeds as KERK vermaan en aangespreek en opgeroep tot bekering. Die getroue gelowiges in hierdie afvallige gemeentes word nie in ʼn enkele geval beopdrag om hulle af te skei nie! Die kerk in Korinte word steeds as gemeente van Christus deur Paulus hanteer al was daar gruwelike ongerymdhede... Hy het sonder om te skroom hulle sonde by die naam genoem, maar noem nie eens die moontlikheid van afskeiding van die gemeente nie.
- Die selfstandigheid (in beginsel) van elke gemeente bied bewegingsruimte en kan dien as ʼn vertrekpunt vir reformasie. Ons moet tog waak om nie die beginsel van ecclesia completa te vergeet en kollegialisties aan die kerk te dink nie. Die plaaslike gemeente is volledig kerk en nie bloot takke van ʼn instituut nie. Elke plaaslike kerk staan onder die regering van Christus deur middel van die Woord en onder leiding van die ampte. Elke plaaslike gemeente wat dit ernstig opneem, het die heerlike voorreg en ruimte om toe te neem in insig van God se wil en gehoorsame gelykvormigheid aan Christus. Meerdere vergaderings is slegs meerdere vergaderings omdat meer kerke teenwoordig is en nie omdat hulle meerdere gesag het nie. Een kerk (gemeente) het wel ʼn getuienistaak ten opsigte van ander kerke (gemeentes) wat die pad byster geraak het, maar kan tog nie verantwoordelik gehou word vir hulle sondes nie. Nietemins hierdie getuienistaak moet ons erns wees!
- Die geskiedenis bewys by herhaling dat afskeidings op die lange duur nie noodwendig lei tot suiwerder kerkwees nie. (Dink maar aan Nederland!) Hoeveel van diegene wat hulle spesifiek van die NGK afgeskei het se bedienings het in ʼn doodloopstraat beland en nie juis tekens gelewer van God se seën en goedkeuring nie?
- Solank die Woord binne ʼn kerk gevind word en verkondig mag word en die Heilige Gees mense daardeur aanraak is daar hoop en kan ons nie sê dat 'n bepaalde kerkverband deur God afgeskryf is nie!
- Ons mag en hoef nie moed te verloor oor die uitsprake van diegene in leiersposisies nie; ons is ook nie afhanklik van misleide akademici aan ons universiteite nie. God kan ʼn magtige werk op voetsoolvlak doen as ons Hom entoesiasties gehoorsaam en die waarheid verkondig. En bo alles tot Hom bid. Die werk van Hans Hauge (1771-1824) in Noorweë is ʼn pragtige en besielende voorbeeld hiervan.
- Al die verwarring in die kerk, die verskille, foute, twis, uiteenlopende standpunte, halwe waarhede, gemengdheid (sommige is op een punt reg en weer in 'n ander aspek verkeerd en andersom), onsuiwer elemente en invloede (politieke belange wat vermeng raak met Koninkryksbelange) wil mens soms tot raserny dryf, laat handdoek ingooi of soms desperaat laat vra : “Bestaan die kerk van Christus nog?” Dit help as mens besef dat die kerk altyd stryd sal beleef van binne en van buite. Die kerk kan nie anders as strydende kerk wees nie. Ons staan midde in ‘n konflik tussen lig en duisternis. Die hoofrede is seker die haat en venyn van die Satan teenoor die kerk as bruid van Jesus. Sy slegte bedoelings met die kerk word aangehelp en moontlik gemaak weens die feit van inwonende sonde in die heiligste van die heiliges, valse leraars en dwalinge, die swakheid van die mens, die feit dat ons in 'n gebroke en ook ingewikkeld verweefde wêreld leef waar ons dit moeilik vind om ons van ons voorveronderstellings, agtergrond, politieke idees, kultuur ens. los te maak. Stryd as gevolg van hierdie en ander faktore was daar altyd in die kerk en sal daar altyd wees. Dink maar aan die heerlike reformasie onder aanvoering van Luther, maar watter stryd moes hy en die kerk in sy dag nie deurgaan nie. Daar was teenstand van buite ( Roomse bedreiging), gemengde motiewe (Duitse nasionalisme en politieke magstryde), interne onenigheid binne die Reformasie (verskille met Zwingli), fanatisisme (Karlstadt, Müntzer ), moeilike maatskaplike situasies (boere opstand) en seker nog legio ander struikelblokke. Ons moet weet daar sal altyd stryd en teleurstellings wees, maar uitstyg in die vertroue dat die Bose nie die kerk van Jesus ooit sal kan vernietig nie.
4. Oordeel en Hel.
Hoe behou mens jou “sanity” of anders gesê wat verhoed mens om van jou kop af te raak as jy glo dat daar werklik 'n ewige hel is, waar mense onbeskryflike lyding onder die toorn van God sal verduur, onbeperk en nimmereindigend? (En die meerderheid familie, vriende, "goeie kerkmense" is hierby ingesluit?) En wat van baie opregte Christene deur die eeue wat deur een of ander ander dwaalleer opgeslurp is of nooit 'n alternatief geken het nie?...Ariane, Nestoriane.... Duisende Christene se kinders wat deur Moslems gevang is en so grootgemaak is? Of die heidene wat nooit gehoor het nie? Eeue se Boesmans wat maar net 'n oorlewingsbestaan wou maak in die harde natuur? Hordes klein Kanaänietjies wat onder Israel se swaarde deurgeloop het......ens...ens?) Dis als vrae wat deur mens se kop flits... (en als wat deur ons koppe warrel is natuurlik nie noodwendig waar en sinvol nie)
As ons glo in die hel sou ons nie meer fanaties wees in die verkondiging van die evangelie nie? Glo jy nie in die hel nie dan is jy ongehoorsaam aan God se Woord. As die hel wel vir jou 'n werklikheid is en wetend dat die grootste deel van die mensdom daarheen oppad is, hoe kan mens dan nog egte vreugde ervaar? Het baie “evangelicals” nie verskriklike harde gevoellose mense geword nie? Hoe kan 'n sensitiewe gemoed die hel met kleur en geur beskryf sonder 'n diepe bewoënheid? ( Jesus kon, want Hy het die skares “innig jammer gekry” en gehuil oor Jerusalem) Is dit dalk hierdie ontsettende ewigheidswerklikhede wat teoloë laat gryp na 'n apokatastasis? Ek het nie al die antwoorde nie...Daar is baie moeilike vrae, maar vanuit diepe eerbied vir God en sy Woord wil ek bely:
- Ek maar net buig voor die Skrif en met vertroosting weet dat God vanuit Sy diepste wese nooit onregverdig kan wees nie en dat die Bose nooit die laaste sê sal hê nie...Mens kan alleenlik rus vind in die feite oor die soewereiniteit van God, sy regverdigheid, sy heiligheid en almag! Ons vind ons vreugde nie in die oordenking van of spekulasie oor die mens se ewige bestemmings nie, maar in die volmaakte wese van God self!
- God is inderdaad 'n God wat straf en oordeel. Wie dit wil ontken sit met 'n morele probleem (ons voel tog almal dat Hitler ten minste darem 'n bietjie straf verdien), maar meer nog God se Woord en die hele heilsgeskiedenis maak dit baie duidelik, dat God wraak uitoefen oor die ongehoorsames en goddeloses. “ons God is 'n verterende vuur...”
- Mense moet dus gewaarsku word teen God se oordeel. Dis duidelik ons verantwoordelikheid. Van hierdie oordeel en toorn kan net Jesus ons verlos. (1 Tessalonisense 1:10)
- Die duidelikste bewys en rasionaal van 'n hel is vir my Jesus se “helse lyding” aan die kruis waar Hy van God verlaat was. As daar nie 'n hel is nie, waarom sou God Sy eie Seun helse straf ter wille van die uitverkorenes se sonde laat ly? Die kruis bevestig vir my God se liefde, maar juis ook die bestaan van ‘n hel. Ek verstaan nie nou als rondom God se oordele nie, maar ek weet dat wanneer ons eendag volmaak sal wees, soos Hy is, ons ons sal verheug oor die regverdigheid van al sy oordele!
- Ten slotte. Ontkenning van die bestaan van die hel en die eindoordeel is gebaseer op menslike wensdenkery, ‘n verwronge sin van geregtigheid en nie die boodskap van die Skrif nie. Dis die gewilde boodskap van die valse profeet wat dinge maar op die maklikste manier wil regdokter (veral by begrafnisse) en uitroep : Vrede, vrede! (Terwyl daar geen vrede is nie) Hieraan wil ek tog nie skuldig wees nie.
5. Die Christen en die Wet.
Hierdie is ‘n groot teologiese tameletjie waaroor daar seker nog baie gekou en gedink moet word. Mag ons in die proses verdraagsaam wees en nie mekaar sommer van verkeerde motiewe beskuldig nie.
Gewoonlik word die verhouding Christen en wet maklik opgelos deur terug te val op ‘n sogenaamde driedeling in die wet naamlik : die morele wet, die seremoniële wette en die burgerlike wette. Eersgenoemde is dan van toepassing op die Christen en die ander is heenwysings na Christus wat deur Hom vervul is en nie meer reglynig op ons van toepassing is nie. So ‘n oplossing is vir baie dalk aanvaarbaar, maar val vas as daar eerlike eksegese gedoen word. Teen hierdie agtergrond dus die volgende opmerkings:
- Die Mosaïese wet is in wese 'n eenheid en daar is geen Bybelse bewyse vir 'n streng onderskeiding tussen sogenaamde morele, burgerlike en seremoniële wette nie. Dis 'n skolastiese indeling en alhoewel dit tot 'n mate nuttig is, kan dit nie die toets van die Skrif deurstaan nie. So 'n onderskeiding word nie deur Jesus in Matt 5-7 gemaak nie (van sy ses teenstellings kom sommige uit die Tien Gebooie en ander weer uit die res van die Mosaïese wetgewing.) Ook Paulus werk nie met so 'n onderskeiding nie. As hy van die wet praat, bedoel hy die Tora en sluit hy duidelik die Tien Gebooie daarby in. (Vgl. Gal 5:14 en Rom 13:8-10)
- Die Mosaïese wet as eenheid was die konstitusie van die Ou Verbond. Dit sluit die Tien Gebooie in. (1 Kor. 3) Die Tien Gebooie se belangrikheid is nie daarin geleë dat dit in onderskeiding van die res alleen moreel is nie, maar dat dit die opsomming van die hele wet of ander gesê die basis vorm waarop die van res van die Mosaïese wetgewing berus.
- Die funksie van hierdie wet (Mosaïese wet as geheel) was tydelik tot met die koms van Christus. 'n Opvoeder en bewaarder. 'n Kinderopasser. Gal 3:24 moet heilshistories verstaan word as 'n verwysing na 'n vergange bedeling. Om 'n sogenaamde “law work” as voorafvereiste te stel voordat Christus verkondig mag word gaan nie op nie. Ek haal graag Horatius Bonar aan (konserwatiewe Skotse Calvinis in 'n tyd van herlewing) : “As to what is called a ‘law-work’, preparatory to faith in Christ, let us consult the Acts of the Apostles.....We have several inspired sermons, addressed both to Jew and Gentile; but into none of these is the law introduced.”* Dis die evangelie opsigself wat sondaars van sondes oortuig. Paulus het nie sy sondebesef aan die voete van Gamaliël deur middel van die wet gekry nie, maar toe hy met die lewende Christus gekonfronteer is. (Brinsmead) Natuurlik moet ons die evangelie as relevant slegs vir sondaars (die wat siek is) verkondig word. Natuurlik, moet ons nog steeds beide wet en evangelie verkondig. Bedoelende met “wet” die standaard van God se volmaakte heiligheid en die eise en norme wat dit aan ons stel. Dit vind ons nie slegs in die Tien Gebooie nie, maar in Jesus se lewe en uitsprake, asook die talle normatiewe en vermanende gedeeltes van die Nuwe Testament.
- Jesus het die wet vervul. Hy het deur sy lewe en sterwe gerealiseer dat wat nog ontbreek het. Sy optrede in lewe en sterwe maak nie die openbaring van God in die wet en die profete tot niet nie, maar Hy rond dit af en voltooi dit wat nog onafgehandel is (dink byvoorbeeld aan die offerwette) en bring aan ons deur sy werk en lering die finale openbaring van God. As Messias het hy groter gesag as Moses en het hy die volmag om op sy eie berg, die wet van Moses te herinterpreteer, te verander en te radikaliseer. (Matt 5-7) Vervulling van die wet behels ook dat sekere aspekte van die Mosaïese wet se funksie sal verval omdat dit skaduwees was, terwyl Christus die werklikheid is. (Kol 2:16,17) Christus het inderdaad ook mag om dele van die wet op ‘n sigbare vlak op te skort. Volgens Moses se wet moes melaatses afgesonder word, maar Christus raak doelbewus aan 'n melaatse en maak hom gesond!(Markus 1) Maar dis juis vervulling, want die wet kon nie melaatses genees nie, terwyl Jesus kan. Jesus het dus in 'n sin beide die wet gehandhaaf en opgeskort. My broer, Jacobus de Koning stel dit so : "Die Tora onder die nuwe verbond sluit al die wetselemente dwarsdeur God se verbondsverhouding, of dan Tora-verhouding met die mens, in. Hierdie wetselemente vorm egter nou die “wet” -kant van die Tora, soos dit in en deur Christus onder die kruis deurgegaan het. Dit bring ‘n radikaal nuwe dimensie. Die “wet” onder die nuwe verbond, wat die riglyn vir ’n Christen se dankbaarheidslewe vorm, kan dus nie bloot ’n bevestiging van die “morele” wette (Dekaloog) van die Mosaïese verbond wees nie. Dit beteken selfs dinge soos reinigingswette is nou “wet” vir die gelowige onder die nuwe verbond, maar die kruis het so ’n radikale verandering hieraan teweeg gebring dat die gehoorsaamheid hieraan die teenoorgestelde sal lyk as onder die Mosaïese verbond. Waar jy nie die onreine mag aanraak onder die Mosaïese verbond nie, beteken reinheid nou juis om die onreine aan te raak en na hom uit te reik met die evangelie!"
- Al die Ou Testamentiese lyne kom in Jesus saam. Jesus self is ons Tora (wet). My broer Jacobus wat sy doktorale studie hieroor gedoen het vat dit so saam : "Na afloop van hierdie studie kan daar dan onomwonde verklaar word dat ‘n verbondsmatige teologiese beskouing van die plek en funksie van die Tora, ná die koms van Christus, Jesus Christus as God se skeppingsdoel moet sien en as sodanig die inhoud van die verbond dwarsdeur die Bybel; met die gevolg dat Hy, na sy menswording, die rol van die Tora vir die gelowige binne die koninkryk vervul."
- Die feit van Jesus se vervulling van die wet (vervulling is iets anders as bloot maar net onveranderde handhawing) is dus heeltemal in lyn met Paulus se beklemtoning dat ons dood is vir die wet. (Rom 7; Gal 2) "Dood" is 'n baie sterk term. Dit wil sê dat tussen ons as gelowiges en die wet as kodeks met reëls, geen verhouding meer bestaan nie. As deelnemers aan die Nuwe Verbond het ons tog niks meer te doen met die konstitusie van die Ou Verbond as kodeks nie. Dit geld ten opsigte van regverdigmaking sowel as heiligmaking! (Gal 5:16ev) Dis baie opvallend in die Nuwe Testament dat Christus self die standaard is vir Christelike gedrag en nie die wet van Moses nie. (Goldsworthy)
- Soos egter uit die Galasiërs brief duidelik is, beteken vryheid van die wet en 'n lewe van liefde nie 'n normlose, wettelose en etieklose lewe nie. Inteendeel, as vrymense is ons juis slawe van Christus wat ons vrygekoop van die vloek (van die hele wet) om in radikale gehoorsaamheid aan Christus te leef. In hierdie gehoorsaamheid lei die Heilige Gees ons tot 'n lewe van navolging aan Christus. Die eis van liefde dryf ons tot 'n hoër etiese standaard en opoffering as wat die wet ooit vereis het. Om dit in 'n beeld te verduidelik (elders gekry) : Destyds toe melk nog in bottels voor die huis afgelewer is, sou ek in 'n situasie kon beland waar ek verby my buurman se huis stap en die vol bottel melk voor sy voordeur sien staan. Ek kon dan een van drie dinge doen. Ek kon die melk steel. Dis 'n oortreding van die wet. Ek kon die melk net uitlos. Dan doen ek niks verkeerd nie en is ek geregverdig in die oë van die wet. Of, ek kon redeneer dat die son netnou op die bottel gaan skyn en die melk dan dalk bederf. Uit liefde vir my buurman gaan klop ek aan die deur en oorhandig dit aan hom om in die yskas te bêre. Die liefde dring my tot hoor hoogtes as die wet! Dis waartoe ‘n lewe in gehoorsaamheid aan Jesus (ons Tora) ons lei.
- Moet ons as mense wat vry is van die wet nog hoegenaamd kennis neem van die inhoud van die Tien Gebooie en die ander Mosaïese wette? Moet ons uit hierdie gedeeltes preek? Ja, beslis, want al hierdie sake is nog steeds deel van die Heilige Skrif. Ons verstaan dit egter nie meer as opdragtelike konstitusie van die Ou Verbond nie, maar ons interpreteer dit via Christus vir ons as gelowiges in die Nuwe Verbond. Byvoorbeeld as ons preek oor die besnydenis, verstaan ons dit nie meer as 'n letterlike opdrag wat ons moet uitvoer nie, maar ons ondersoek die ryke betekenis van die besnydenis en hoe dit lig werp op die afgehandelde werk van Christus. Immers die wet en profete maak vir ons as Christene net sin as ons dit fokus deur die brandglas van Christus se lewe en werk. Die hele etiek van die Nuwe Testament het Christus as vertrekpunt. As Paulus byvoorbeeld teen onsedelikheid waarsku, is sy vertrekpunt nie een of ander gebod uit die wet van Moses nie, maar ons verbintenis met Christus. “Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou 'n deel van Christus neem en dit 'n deel van 'n ontugtige vrou maak? Beslis nie!” (1 Korintiërs 6:15)
- Inhoudelik kan ons die verhouding tussen die opdragte van die Mosaïese wet en die Nuwe Testamentiese etiek onder andere as volg verstaan (Andrews) : Die Mosaïese wet is soos 'n gebou wat gesloop is met die koms van Christus. Die etiek van die Christene (die wet van Christus) is 'n nuwe gebou. In hierdie nuwe gebou word baie van die materiaal vanuit die ou gebou gebruik. Byvoorbeeld, moord, wat in die sesde gebod verbied word is dus nie skielik in die Nuwe Verbond aanvaarbaar nie. Inteendeel die sesde gebod is nou in 'n meer geradikaliseerde vorm aanwesig en omvat ons diepste motiewe en gedagtes. Selfs net die een wat sy broer uitskel is al skuldig...
- Die geredekawel oor die plek van die wet is in baie gevalle grotendeels bloot van akademiese belang insoverre dit ons praktiese etiek raak. Die praktiese etiese verskille tussen diegene wat uitgaan van 'n onveranderde morele wet en diegene wat dink in terme van nuwe wet van Christus is minimaal en draai grotendeels indien nie eksklusief rondom een saak naamlik die onderhouding van die Sabbat. (Die Hebrew Roots Movement wat ons weer onder die juk van die hele tora wil bring is natuurlik ‘n ander saak. Met hulle sienswyses word daar so duidelik in Handelinge 15 mee afgereken, dat verdere debat daaroor eintlik onnodig is) Wat glo ek oor die Sabbat/Sondag? Kortliks. Daar is geen Skrifgetuienis dat die Sondag bloot 'n verskuifde Sabbat is nie. Die Sondag is 'n nuwe feesdag wat draai rondom die opstanding van Jesus. Opstanding sowel as Pinkster vind op 'n Sondag plaas. Christene het bymekaargekom vir gesamentlike aanbidding, maar daar was byvoorbeeld geen werksverbod nie. Dis tog onmiskenbaar opvallend dat daar in al die uitgebreide sondelyste van die Nuwe Testament geensins 'n verwysing na die Sondag of Sabbat is nie. Trouens vir die eerste drie eeue van die kerk se bestaan was daar nie iets soos 'n werkvrye Sondag nie. Ekself het 'n behoudende Sondagbeskouing. Ek gaan nie winkels toe nie, kyk nie sport nie, gaan nie draf nie... 'n Arbeidsvrye Sondag is nie ‘n gebod nie, maar wel 'n kosbare voorreg en 'n geleentheid vir geestelike gemeenskap en aanbidding wat gekoester moet word. Alles wat inbreuk hierop maak moet afgewys word, maar dit moet gedoen word op grond van ons liefde vir Christus en nie op die bedenklike gronde van 'n Sabbatsgebod waarna duidelik verwys word in die Nuwe Testament as 'n skaduwee nie. Alhoewel dus konserwatief in my Sondagbeskouing kan ek nie saamgaan met die Westminster Confession as die Sondag 'n “Sabbath” genoem word en daar verwag word dat mens “after a due preparing of their hearts, and ordering of their common affairs beforehand, do not only observe a holy rest, all day, from their own works, words, and thoughts about their worldly employments and recreations, but also are taken up, the whole time, in the public and private exercises of his worship, and in the duties of necessity and mercy” (kursief myne) Hoeveel onderskrywers van hierdie belydenis beoefen geen ontspanning op 'n Sondag nie? As ons sê dat die Sondag 'n Sabbat is, moet ons al die Sabbatwetgewing van Moses ernstig opneem en ook nie kosmaak op 'n Sondag nie (Eks.35:3), om nie eens te praat van al die konsekwensies van 'n Sabbatsjaar nie! (Lev.25) Kortom, 'n Sabbatariese siening van die Sondag wemel van inkonsekwenthede!
- Om saam te vat : ons as Christene is inderdaad in 'n sin wetloos (vry van die wet van Moses), maar nie wetteloos nie; ons is in integriteit en vrywillig uit dankbaarheid onderworpe aan die leiding van die Heilige Gees wat ons lei om die wet van Christus, die beginsel van oorvloedige liefde uit te leef, wat in diepte en rykwydte die Mosaïese wet by verre oortref. Hierdie oorvloedige liefde tot God en naaste is nie bloot 'n inhoudlose sentimentele gevoel nie, maar het 'n duidelik konkrete gestalte wat ons aanskou in die lewe van Christus en hoor in die duidelike konkrete opdragte en vermanings van die Nuwe Testament. In hierdie vermanings is inderdaad baie beginsels opgeneem wat reeds in die Tien Gebooie en ander bepalings van die Mosaïese wet vervat is, alhoewel dit nie sondermeer daarmee gelykgestel kan word nie, omdat dit die konstitusie van die Ou Verbond was en ons in Christus onder die Nuwe Verbond leef.
*Horatuis Bonar, God’s Way of Peace, p90 So ook D. Moo “There is "slim" biblical support that the Mosaic law should be preached in preparation for the gospel. None of the evangelistic examples in the NT show the law being used this way, except for the rich young ruler (Matt. 19:16-22). However, the law was not used to drive the young man to despair, but Christ's "gospel" command to follow him. Also, this was a Jew who was under the law to begin with.”
Goeie more Johannes
AntwoordVee uitJy ken my nie en waarskynlik sal jy my graag nie wil ken nie! My naam is Herman Pienaar en ek het "toevallig" op jou blad afgekom met 'n soek op Google na Gelofte inligting.
Ek het 'n paar plasings begin lees en na 'n stryd myself geregistreer (iets wat ek by my volle positiewe NOOIT sal doen nie).
Ek wil by jou smeek om, as 'n saak van grootste dringendheid, die Woord van voor af deur te lees(soos in begin dadelik). As ek so verwaand kan wees om verder te vra dat jy jou 53 vertaling sal gebruik, en verder om met 'n skoon, eerlike, onbevooroordeelde gedagte (sonder die invloed van dogma of ander invloede) te begin en dalk saam met 'n Strongs of Youngs die bedoelde betekenis van woorde na te vors.
As jy dit sou goeddink om met my in aanraking te kom, is my e-pos hermanpeiaar@live.com
Groete en sterkte
Herman Pienaar
Herman, baie dankie vir die moeite om te reageer. Ek verstaan nie regtig wat jy vir my wil sê nie, maar ek kan jou verseker ek maak baie erns met die Bybel, die hele Bybel! En terloops vir my persoonlike stiltetyd gebruik ek inderdaad die 1933/53 vertaling soos ek aflei jy ook doen. Jy is welkom om meer spesifiek kommentaar te lewer...
Vee uitvriendelike groete
Johannes
Johannes
AntwoordVee uitEk het gehoop dat ek 'n e-pos sou ontvang. Die rede daarvoor is dat die blad deur enigiemand gelees kan word. Ek wil nie dat dit wat ek op die hart het, sou beinvloed of verkeerd op gereageer word deur "pligbesef", of verantwoordelikheidbesef teenoor besoekers aan die blad voordat jy deeglik besin het oor dit wat ek te sê het nie.
Terloops, jy sou my nie kon antwoord nie want ek het die adres verkeerd geskryf! Dit moet wees hermanpienaar@live.com.
As ons wesenlike raakpunte mag vind sal ek met groooot plesier verder op die blad praat.
Ek sal jou kontak.
Vee uit