BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 27 April 2024

TOE EN NOU

 Die verganklikheid van die mens is 'n harde werklikheid... ons sien dit elke dag gebeur. Mense, geliefde mense word ouer, sterf en raak mettertyd buite bereik van 'n huidige generasie se geheue. Selfs foto's kan uiteindellik nie die uitwissing van dierbares uit ons geheues verhoed nie.

Ek het dit nou onlangs weer besef toe ek en my jongste spruit Natanie so 'n bietjie deur die Kaap, Suid Kaap en Oos Kaap getoer het.

Ons het ook so vinnig aangedoen op Heidelberg. Oupa Piet en ouma Marie de Wit het jare lank op die plaas Bloemendal geboer en met hulle aftrede hulle op Heidelberg kom vestig. In Fouriestraat, regoor die kerk, langs die spoorlyn.

Ek is in besit van 'n familiefoto wat nog voor hierdie statige ou huis geneem is. (Oupa en ouma de Wit is in die middel voor. Pa links agter met die swart pak, Ma regs voor met Maria op haar skoot en ek langs haar) Die grootmense is op enkele uitsonderings na vandag nie meer met ons nie. Die kinders is nou self ook al grootmense met hulle eie nageslag...


Ek en Natanie het nou weer by hierdie einste huis aangedoen. Dis nou 'n gastehuis. Die mense daar was baie vriendelik en het ons binnegenooi en bietjie rondgewys. Ek het hulle vertel, my oupa en ouma het hier gewoon. So baie het verander... Hulle weet natuurlik niks van die familie wat voorheen hier gewoon het nie...



Heidelberg is natuurlik ook die dorp waar Pa en Ma op 10 Februarie 1962 in die huwelik bevestig is. In die besonder indrukwekkende gebou van die NG Kerk.



En nou na soveel jare later...






Die hartseer oor die verganklikheid wil mens soms oorweldig. Maar as ons waarlik die blye evangelie van Jesus glo, dan kry mens natuurlik 'n nuwe perspektief. Dan juig ons oor die oorwinning van Jesus oor sonde, Satan, dood en hel.  Jesus se verlossingswerk het ONVERGANKLIKHEID weer 'n blye vooruitsig gemaak!

"Hy het ons verlos en geroep
met 'n heilige roeping –
nie op grond van ons dade nie,
maar op grond van sy eie besluit en genade.
Reeds van ewigheid af is dit in Christus Jesus aan ons geskenk,
en nou is dit geopenbaar
deur die verskyning van ons Verlosser, Christus Jesus,
wat die dood vernietig het,
en die lewe en die onverganklikheid
deur die evangelie aan die lig gebring het." (1 Timoteus 1:9,10)

Kliek ook op TOER


Donderdag 25 April 2024

Die Afkop Hond

 FAMILIE IS KOSBAAR...

Dis deel van die De Konings se familie oorleweringe. Pa het ons al daarvan vertel. Van die afkop hond. Tannie Miem wat as dogtertjie die afkop hond gesien en die stuipe gekry het...

Nou onlangs met my langverlof het ek ook daar in die Oos Kaap ‘n draai gemaak. Ek was baie jare laas daar en hier was nou ‘n geleentheid om darem weer ‘n bietjie familiebande op te tel en te versterk.

Vir ‘n week het ek en Natanie by my oudste neef Thomas oorgebly op Jeffreysbaai en is oorweldig deur die gasvryheid en ekstra moeite wat hy gedoen het om ons verblyf so aangenaam as moontlik te maak. (Baie dankie neef Thomas…waardeer!) Thomas  as oudste neef is  soort van die skakel en verbinding tussen die twee generasies. Hy weet en onthou dinge waarmee die jongeres nie so goed bekend is nie. Thomas is gelukkig ook ‘n goeie en luisterbare verteller. Familiestories. Ook spookstories. En dis nogal blykbaar volop hier in die Oos Kaap... So word die verhaal van die afkop hond toe ook weer afgestof.

Oupa Thom de Koning was baie lief vir sy honde. Een van hulle was ‘n Dalmatian, met die voorspelbare naam van Bontes. Bontes het op ‘n stadium verdwyn en daar is baie na hom gesoek, maar tevergeefs.

In daardie tyd gaan kuier oupa en ouma met die kinders by vriende aan die anderkant van die Gamtoos rivier. Collings mense. Oupa was veral ook lief om op hulle grond te gaan jag. Om by die Collings te kom moes die treinbrug oorgesteek word. Daar is toe lekker gekuier en seker ook geëet. Dis nou oupa, ouma en die oudste twee kinders, oom Boetie was die oudste, seker toe so ongeveer ses jaar oud en tannie Miem ‘n jaar of wat jonger. (Pa was toe ook moontlik al gebore en het die tog dan as baba meegemaak) Niemand kan presies die tyd en dus die ouderdomme onthou nie...

Hulle loop toe in die donker oor die treinbrug met ‘n lantern as lig. (Terloops, die treinbrug het klaarblyklik ook ‘n besondere storie aan hom. Dit was oorspronklik ‘n brug in die Vrystaat wat die toneel was van aksie tydens die Anglo-Boere Oorlog. Dis later van tyd verskuif na die Gamtoos. Die brug is vandag nog daar en die koeëlgate kan gesien word.) Op die brug gebeur dit toe... Die jong Miem roep verskrik: “Daar is Bontes... Maar Bontes het nie ‘n kop nie...”  Die presiese woorde sal niemand natuurlik nou meer weet nie. Nietemin ‘n angswekkende ervaring. Die ander op die brug sien egter niks...

Die volgende dag is daar weer na Bontes gesoek. Ook onder die brug. En ja... sy koplose lyf is opgespoor. Bontes moes ‘n onderonsie met ‘n trein gehad het, en het sleg daarvan afgekom...

Thomas het ons nou weer na die einste brug gevat. Dis net so ‘n entjie aan van waar oom Robert en oupa se suster Ant Johanna ‘n plaaswinkeltjie gehad het.


Thomas, my oudste neef


Die treinbrug oor die Gamtoos


Tannie Miem is nou op 93 jarige ouderdom, my oorlede Pa se enigste lewende sibbe. Nog vol energie en helder van verstand. Natuurlik ken sy die storie van die afkop hond. Ek het haar gevra. Maar sy self onthou niks van die gebeure nie, sy was te jonk.

Is die storie van die afkop hond waar? Ek weet nie. Moeilik om te glo dat iemand dit sommer uit die duim gesuig het. Maar ook moeilik om te verklaar...

Wat sou kon gebeur het?  Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat familie en familiegeskiedenis kosbaar is. En nog meer kosbaar as ons ook broers en susters in God se huisgesin kan wees. Mag God dit vir ons skenk!


Natanie (13) en tannie Miem (93)