BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Legitimasie vereistes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Legitimasie vereistes. Wys alle plasings

Donderdag 05 November 2015

WAT GAAN HIER AAN?

VRAE AAN DIE MODERATUUR VAN DIE ALGEMENE SINODE.


Op Saterdag 10 Oktober kry ons die volgende skrywe van die kerkkantoor in Windhoek (NGKN) :

Vriende,

Hiermee die volledige besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge soos deur die Algmene Sinode se kantoor beskikbaar gestel. *

Die Algemene Sinode het verder besluit:

1 Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.

2 Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudinge nie afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.

Op Vrydag 16 Oktober kry ons die volgende weergawe van die AS notule oor selfdegeslagverhoudings van die Namibiese kerkkantoor

Die volgende addisionele besluite is ook geneem:

1. Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.

2. Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie besluit oor selfdegeslagverhoudings nie van toepassing is op die Sinode van Namibië nie.



Punt twee lyk nog steeds dubbelsinnig (waarna verwys “hierdie”? Die interpretasie van die Namibiese moderamen is dat dit beteken dat die besluit in geheel nie op Namibië van toepassing is nie. Dis duidelik uit die volgende aanhaling uit die pastorale brief van die moderamen van Namibië :

"1. Wat is die status van die Algemene Sinode se besluit in Namibië? Hoekom het ons eers gehoor net een punt is nie van toepassing nie, maar later die hele besluit is nie van toepassing hier nie?

Die besluit is in sy geheel nie hier te lande van toepassing nie omdat die Algemene Sinode dit (op voorstel van twee Namibiese afgevaardigdes) so besluit het.

Ongelukkig het die Algemene Sinode aanvanklik ’n foutiewe formulering van die besluit vrygestel. Daarin is gesê dat net die punt wat handel oor die burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag nie op Namibië van toepassing is nie. Toe die Namibiërs in die land teruggekom het na die sinode, het ds. Hendrik van Zyl dadelik op die fout gewys en hom daarvoor beywer om die korrekte formulering te kry.

Ons vra verskoning vir hierdie geharwar!"


MY VRAE : Hoe kan ‘n belangrike kerkvergadering soos die Algemene Sinode so met ‘n notule werk? Wie is verantwoordelik en wat is hier aan die gang? Wat het die AS in elk geval met die woord "afdwingbaar bedoel? Waartoe wil julle ons dwing? Besef die Algemene Sinode wat die implikasies is as ‘n gedeelte van ‘n besluit nie op een bepaalde sinode van toepassing is nie, oënskynlik omdat dit teen landswette is? Neem die AS besluite in die lig van die Skrif of in die lig van landswette en politieke korrektheid? Wat is die implikasies vir kerkverbandelike eenheid in leer en lewe, soos onder meer legitimasie vereistes? Wat is die AS se interpretasie van "hierdie" in punt 2 van die hersiene notule? Stem die moderatuur en spesifiek die Algemene Regskommissie saam met die interpretasie van die Namibiese moderamen (soos verwoord in hulle pastorale brief)?
Julle antwoorde is nogal baie belangrik!

*Ek haal net die laaste twee punte van die notule aan, want dis waar die verskil inkom.

Woensdag 21 Oktober 2015

VRAE AAN DIE "FELDMUIS"

Die Feldmuis van Namibië is 'n baie skerp muis wat mens soms ook laat skaterlag, maar nou het die einste muis aan my siel geknaag...

Wat onstel my so? Ek haal aan:


[Die probleem lê dieper...

Die uiteenlopende standpunte wat lidmate en kerkrade oor selfdegeslagverhoudinge huldig, is ’n simptoom van ’n dieperliggende verskil tussen gelowiges. Ten diepste verskil gelowiges se verstaan van die gesag van die Bybel (bv. letterlik soos dit daar staan teenoor inagneming van tyd en omstandighede van ontstaan), hulle siening oor wat sonde is (bv. ’n lys van verkeerde dinge teenoor ’n persoonlike verhouding met God wat verbreek is) en hoe hulle God ken en oor Hom dink (bv.’n veroordelende God wat sondes straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en barmhartig is)]


GEVAARLIK EN ONSKRIFTUURLIK

Hier word myns insiens 'n baie gevaarlike teenstelling(s)* gemaak en sommer ook 'n ongelukkige beskuldiging rondgeslinger. Die indruk word geskep dat mense (soos ek) wat op duidelike Bybelse gronde teen die goedpraat van selfdegslagverhoudings gekant is, beskuldig word dat ons kwansuis (slegs) glo in 'n veroordelende God wat sondes straf. (en by implikasie nie aan 'n liefdevolle God nie) Die pro selfdegeslagmense is diegene wat dan nou glo in 'n liefdevolle Vader. Dis natuurlik 'n valse teenstelling en tipiese strooipop argument.

Dis ook om dit sagkens te stel, nie 'n baie nugtere omgang met die Bybelse gegewens nie!

Met my hele hart glo ek in 'n liefdevolle Vader wat my genadig is in Jesus Christus! Dis my as sondaar se enigste hoop. As ek sing, "Leeg met my sondelas hou ek U verdienste vas", is dit my persoonlike belydenis en my enigste troos. Ek glo in radikale vergifnis en ek verkondig radikale vergifnis! (Kliek op VERGIFNIS BY DIE VUUR)

Maar ek glo inderdaad ook in 'n God wat sondes straf. Trouens, Hy haat sonde so dat Hy selfs sy eie Seun gestraf het, toe Hy belaai was met my sonde en as sondaar in my plek behandel is. (Jesaja 53:5,6; 2 Korintiërs 5:21)

Ja, as ek in Jesus glo word ek inderdaad nie meer gestraf nie, maar ontvang ek die ewige lewe as geskenk. Maar dit beteken nie dat God nou skielik sonde goedpraat of Sy Heiligheid prysgee nie.

As dankbare kind van God moet ek nou teen die sonde stry! Romeine 6:1,2 is mos duidelik! "Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?" God se genade in Jesus, maak nie sonde nou skielik OK nie!

Binne die konteks van 'n gelowige se lewe is sonde steeds 'n saak waarteen ons moet stry en waarvan ons moet wegvlug! Selfs ten bloede toe! En daarom herinner die Hebreërskrywer ook juis vir Nuwe Testamentiese Christene dat "ons God 'n verterende vuur" is!  (Hebr 12:29) Ook op baie nader plekke in die Nuwe Testament word God se heiligheid en wraak oor sonde duidelik uitgespel en word ook gelowiges daarop attent gemaak. (deur byvoorbeeld parallele te trek tussen gelowiges en oud Israel, wat verlos is uit Egipte, maar weens die toorn van God nooit die beloofde land bereik het nie) Dink maar aan 1 Korintiërs 10 en die hele brief, Judas! En wat van die sterk taal waarmee die sewe gemeeentes in Openbaring tereggewys word? Nou onlangs tref die sterk woorde van veroordeling van die Here van die kerk my in Openbaring 2:23 my..."En haar (die valse profetes Isebel) kinders sal ek sekerlik doodmaak..." Feldmuis moet dalk vir ons verduidelik wat hierdie Skrifgedeeltes beteken!

HEIDELBERGSE KATEGISMUS

Ek wonder ook wat Feldmuis van die Heidelbergse Kategismus in die verband sê, wat gelowiges waarsku om te volhard in goeie werke? Hierdie waarskuwings sou mos geen sin maak as God nie meer oor sondes omgee en dit straf nie?

HK 86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is? Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d). (a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. 

Ek wil nie graag met iemand 'n geveg gevoer in die kuberruimte nie. Maar Feldmuis se menings is in die openbare domein en daarom mag ek nie daaroor stilbly nie. (ek hoop my opmerkings word in die lig hiervan verstaan) Ek val ook nie hier 'n persoon/persone aan nie, maar 'n standpunt!

Terloops, Feldmuis laat weet ons dat die hele besluit oor selfdegeslagverhoudings NIE op Namibië van toepassing is nie. Dis aan die eenkant goeie nuus, maar laat mens met nog meer vrae as antwoorde. Waarom word dit nou eers so lank na die gebeure eksplisiet gesê? Hoekom is dit nie duidelik gestel in die pastorale brief wat ons 'n ruk gelede ontvang het nie? Hoe kan een kerkverband nou verskillende vereistes vir legitimasie (of dan beroeping) stel? Want dit sou beteken dat praktiserende homoseksuele  predikante/proponente nie in Namibië beroep mag word nie, maar wel in Suid-Afrika. Help my as ek verkeerd is. Kan ons dan hoegenaamd nog deel wees van die Algemene Sinode? As Namibië se regering hulle standpunte sou verander, gaan die kerk in Namibië dan weer inval by de AS besluite? Wat is die regte rede waarom Namibië dan uitgesluit word van die AS besluit? Het ons meer respek vir die staat as die Woord? Baie vrae... help asseblief as iemand die antwoorde ken...

*Die ander teenstellings is net so aanvegbaar, ek behandel net een.

Vir die Bybelse balans tussen God se straf en liefde, kliek op LIEFDE VIR 'N HOER!