BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 26 September 2019

GOEIE MENSE

IN DIE HEL? 



Ja, baie goeie mense gaan vir ewig verlore wees! Blatant gestel - Daar gaan baie goeie mense in die hel wees. Rêrig?
Ja, mense wat dalk nooit gemoor, gesteel of gevloek het nie. Mense wat Bybel gelees, gebid en eens op ’n tyd voor die kansel doopbeloftes, lidmaatsbeloftes en huweliksbeloftes afgelê het. Dit klink erg, maar dis waar! 


Daar bestaan ‘n skrikwekkende moontlikheid dat baie kerkgangers eendag helgangers gaan word! 

Nou sal jy dalk vra : Maar is dit moontlik? Hoe kan dit wees? Ja, een so ’n goeie mens was juis Paulus voor sy bekering. Hy noem in Filippense 3:4-6 ’n indrukwekkende lys van geestelike bates (goeie dinge!) en tog het dit hom niks gehelp nie. Hoor bietjie... “Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.” 

Min mense sou hulleself as ONBERISPELIK beskryf – Paulus kon! En dit in sy verlore toestand sonder Christus! 

Hierdie was alles uiterlike dinge waarop Paulus vertrou het om sy redding te verseker. Hy was van mening dat hierdie dinge punte tel voor God! 

Dis baie duidelik uit die Skrif dat goeie respektabele mense nie noodwendig in die ewige lewe deel nie. Die logiese konsekwensie hiervan is - of jy dit nou wil weet of nie - die hel gaan eendag vol goeie en gerespekteerde mense wees! Dis tragies dis skrikwekkend, maar dis ‘n feit! JA, jy hoor my reg - daar gaan eendag baie "goeie mense" in die hel wees! Soos Bybelkenners, kerkraadslede en predikante,  ordentlike mense, sagmoedige mense, diereliefhebbers, hardwerkende mense, opgevoede mense, fondsinsamelaars vir die kankervereniging, sopkombuiswerkers, orgaanskenkers, klimaataktiviste,  volkshelde en vryheidsvegters... noem maar op... sal saam met dronkaards, onsedelikes, leuenaars en gierigaards die ewige oordeel van God moet verduur. 

Nou hoe dan nou? Wie gaan dan gered word? 

JY HET JESUS NODIG 

Gelukkig gee Paulus hierdie antwoord. Hy KAN, want hyself was ’n goeie man, maar toe ontdek hy wat (WIE) regtig nodig het. 

Hy het Jesus Christus ontdek! Eintlik is dit meer korrek om te sê Jesus het hom ontdek en hom eerste gaan opsoek.* Jesus het daar op die pad na Damaskus Homself aan Paulus geopenbaar. Hy het hierdie goeie man gekonfronteer. “Jou goedheid help jou niks nie Paulus, jy het my genade en vergifnis nodig!” Paulus was nie die eerste goeie godsdienstige man wat dit moes hoor nie. Nikodemus wat in die nag Jesus gekom het (Johannes 3) en ’n gerespekteerde leraar was, moes dieselfde hoor : “Nikodemus jy moet weergebore word anders kan jy nie in die Koninkryk van God ingaan nie. Nikodemus jou Skrifkennis en goeie voorbeeldige lewe is nie genoeg nie.” 

Paulus het na hierdie ontmoeting met Jesus besef daar is net een bate wat tel. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo." (7-9) Paulus het besef : Ek kan nie my skuld voor God afwerk of genade verdien nie, my skuld word net vrygeskeld as ek in Jesus glo. Dit gaan nie nou meer of ek goed is of nie, dit gaan nie oor my geestelike “pedigree” nie, dit gaan nou daaroor dat God nie my kwaad meer teen my hou nie. Hier kry ons die beginsel van vryspraak deur die geloof alleen! Dit word op soveel plekke in die Skrif beklemtoon. (Vgl. Romeine 4:1-8) 

Om in Jesus te glo is al wat tel. Maar nou moet ons baie versigtig wees – elke tweede Jan Raap en sy maat sal jou vandag vertel dat hy in Jesus glo. 

GELOOF LEI TOT NUWE AMBISIES 

Om in Jesus te glo is ’n radikale lewensveranderende saak – Dit bring ’n nuwe passie in mens se hart! So kon Paulus nou getuig: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (10,11) Dit kan nie anders nie, want om in Jesus te glo beteken ek weet ekself gaan dit nie maak nie, maar ek vertrou op Hom, ek klou aan Hom vas soos ’n drenkeling aan die reddingstou klou. Hy word my ALLES! 

Geloof in Jesus lei tot ’n koersverandering, dit plaas my op ’n nuwe pad. (Dis iets meer as net bloot "uitkniel", jou hand opsteek of 'n kaartjie invul.) Dis 'n eenvoudige vertroue, maar dit het groot gevolge! Gevolge wat al hoe meer sigbaar word.  Dit sal vir almal duidelik wees waarheen jy nou op pad is! 

Paulus skryf hierdie gedeelte juis om mense daarteen te waarsku om op uiterlike dinge staat te maak. Hy waarsku mense teen dwaalleraars wat hulle wou dwing om hulle te laat besny. Hulle het die mense geleer as jy jou nie laat besny nie, kan jy nie gered word nie. Teenoor die dwaalleraars stel Paulus dit duidelik wat nou eintlik belangrik is. “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (3)  Roem/staatmaak op Jesus is wat die verskil maak!

EN DIE DOOP? 

Die doop is ook ’n teken. 'n Teken van die Nuwe Verbond. Dis kosbaar en wonderlik. Maar die doop self red ons nie. Die doop wys ons juis na Jesus! Dit fokus ons op die belangrikheid van Jesus se sterwe en opstanding. As jy nie self op Jesus roem en op Hom vertrou nie, gaan jou doop jou niks help nie. Daar gaan ook baie (klein en groot) gedooptes in die hel wees! 

Maar kom ons stel dit positief. Die doop moet ons juis aanmoedig om Hom na wie die doop wys te ken en vir Hom te leef! 

HEMELSE WEDLOOP 

Vertrou jy met jou hele hart op Jesus? Oortref Hy vir jou alles in waarde? Jaag jy dit na om Hom beter te leer ken? Is jy daagliks besig met die hemelse wedloop of bestee jy al jou tyd en krag in 'n aardse "gym"?

Wat Paulus hier vir die Filippense leer is maar presies dieselfde wat die apostel Johannes leer in 1 Johannes 5:12,13! 

“Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” 

Het jy die Seun van God as enigste bate of maak jy stilletjies op ‘n ander bate staat? Vertrou jy op jou goedheid en godsdiens of vertrou jy op Jesus alleen en volg jy Hom na? 

Dis nog nie te laat nie: Kom! Jesus neem die sondaars aan!

*Vergelyk ook vers 12 “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” 


Vrydag 13 September 2019

VRY VAN DIE WET!


“Hoera! Nou kan ek darem lekker sonde doen!" 

[Dis ‘n algemene manier van dink, maar is dit wat die Woord ons leer?] 

GENADE EN SONDE 

In Romeine 6 is Paulus besig met ‘n uiters belangrike saak. Dit gaan oor die vraag of ‘n Christen maar kan aanhou sondig want God se genade het mos als vergewe? “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?” (1) En hierdie genade is oortreffend groot! Paulus se kort en kragtige antwoord : “Beslis nie!” Die feit van genade gee aan ons hoegenaamd nie ‘n vrypas tot sonde nie! Dan gaan hy aan en gee verskeie redes waarom dit ondenkbaar vir elke Christen sou wees om so te redeneer. (dat ek maar kan aanhou sondig omdat die genade groot is) 

ONS IS MOS VRY VAN DIE WET 

In die gedeelte Romeine 6:15-23 raak Paulus aan ‘n ander redenasie wat mense aanvoer om aan te hou sondig (en mens hoor hierdie redenasie vandag nog) – Dit is : “Ag, ons leef gelukkig nie meer onder die wet nie, maar onder die genade! Steel, leuens en egbreek is nie meer so erg nie, want ons staan mos gelukkig darem nie meer onder die wet van Moses nie!” 

Inderdaad is dit so. Ons staan as Christene van die Nuwe Verbond nie meer onder die Mosaïese wetgewing nie. Hieroor is Paulus baie duidelik : “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons (God) dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” (Rom 7:6) 

Maar weereens beteken dit dat ons nou maar sonde mag doen? 

Wat is Paulus se antwoord, sy teenargument hierop?

Kortliks twee dinge: 

1.Onthou julle wat nou Christene is, was voorheen slawe van die sonde. Hierdie sonde was julle baas, julle kon nie daarmee ophou nie, julle was slawe. Ja, ons moet weet, die sondaar lyk baie gelukkig, natuurlik geniet hy dit, maar hy is ‘n magtelose slaaf. Jy dink jy doen sonde soos jy wil en lekkerkry, dis die teenoorgestelde – sonde is jou baas. ‘n Wrede baas! Jy kan nie daarmee stop nie! Die sonde lei tot allerlei ellende, jy sien waarheen dit gaan, jy sien die verwoesting en pyn wat dit veroorsaak, jy weet diep in jou binneste lei dit na die hel, maar jy is magteloos om anders te leef. So Paulus se argument teenoor Christene wat weer wil sondig, kom neer op :” Is julle nou mal? Wil julle weer teruggaan na die ou wrede baas? Elke deel van julle liggame was in diens van die wrede baas van sonde, julle was glad nie in God se diens. Nou is julle vrygespreek, begenadigdes , julle is mos nou dankbaar in God se diens. Julle is nou God se slawe. (18) Hoe kan julle so jul rug op God draai en weer na die ou baas toe teruggaan? Dit maak net nie sin nie!” 

Jy sien, Paulus gebruik ‘n bepaalde logika om Christene te waarsku en te probeer oorreed om nie weer terug te gaan na die sonde toe nie. 

2.Die tweede deel van die argument sluit nou aan by die eerste deel.Dink terug aan die gevolge van die sonde in jou vorige lewe. “Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, tóé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood.” (21) Paulus wil sê : (Onthou hy praat met reeds bekeerde mense) Dink bietjie terug aan die tyd toe julle onbekeerd was en slawe van die sonde was. Dink aan die dinge wat julle toe gedoen het. Wat was die gevolge van daardie dinge? Wat het daardie dinge julle in die sak gebring? Watter nut het daardie dinge gehad? Wat het julle gewen deur daardie dinge? 

Weereens Paulus sê nie maar net bloot, sonde is sleg nie. Hy maak ‘n appèl op ons logiese denkwyse. Logiese denkwyse is ‘n hulpmiddel in ons keuses, in ons stryd teen die sonde. Bekyk ‘n bietjie die saak van sonde naderby. Dink bietjie terug aan die dinge wat jy daardie tyd gedoen het en waaroor jy nou skaam is. (Terloops, ‘n mens wat nie skaam oor sy sonde is nie wys maar net dat jy nog totaal verlore is en hoegenaamd nog nooit die genade van God aanvaar het nie… As jy nog spog oor ou skelm planne, onsedelikheid ens., weet jy is op pad na die hel!) Christene is skaam oor hulle vorige leefstyl. Paulus sê nou ons moet terugdink daaraan en dit logies beredeneer… Wat was die gevolge van daardie sonde? Wat was die gevolge van my goddelose partytjies, my onsedelike leefstyl, my losbandige verhoudings en gebruike, my drankmisbruik, my leuens, my opstand teen my ouers… Ja, dink terug aan daai aand toe jy so dronk geraak het en jy ‘n onbesonne dwaasheid aangevang het, kan jy onthou wat was die gevolge? Die onherstelbare skade aan mense se lewens? Maak ook die skande wat jy oor God se naam gebring het? Dink bietjie terug aan ou sondige leefstyl, onthou bietjie die vrug daarvan… die hartseer, die huweliksverbrokkeling, kinders wat deur die trauma van egskeiding moet gaan, party weet nie eens wie hulle pa’s is nie, die skade aan ander mense se gesondheid, gemoed, eiendom en lewens, die skades en ellendes wat sonde in my eie lewe veroorsaak het… Dink aan die leegheid van sonde, die vrugteloosheid...watter ewige nut al daardie kortstondige plesier en jollery vir jou gebring? Was dit dinge waarop jy in die oordeelsdag trots op kan wees? En moenie vergeet nie, die uiteinde van daardie leefstyl is die ewige dood! Die poel van vuur, ewig weg van God af! Julle wat nou weer met sonde wil speel, kom nou, dink terug, bereken weer die gevolge… Die einde van die pad van sonde is die hel, al kry jy die welsprekendste dominee of pastoor om soetsappige stories op jou begrafnis te vertel! 

DINK LOGIES EN EERLIK! WAT HET DIE SONDE JOU IN DIE SAK GEBRING

HOU TOG OP DAARMEE! 

Paulus kom nou weer terug na God se kinders se huidige posisie. “Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe.” (6:22) Hy wil God se kinders aanmoedig : “Kom nou kinders van God, moenie dwaas wees nie. Julle is mos vry van die slawerny van sonde, julle dien nou die lewende God. Julle leef mos nou heilig en die einde daarvan is die lewe! Julle sien sonde en dood gaan saam, heiligheid en lewe gaan saam. Moenie deurmekaar raak nie!” Daar is twee duidelike opsies voor ons. Twee wyduiteenlopende en teenoorstaande opsies. Dit stel Paulus nou in ‘n kragtige klimaks kontras in vers 23. “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” Hy kies sy woorde fyn. 

Die loon van die sonde is die dood. Die noodwendige betaling, dit wat ek verdien as ek sonde doen is die dood. 

Die genadegawe (teenoor loon) wat God gee (teenoor sonde) is die lewe (teenoor dood) 

Kies die pad van genade! Dis ‘n geskenk ja, wat nie verdien kan word nie. Die pad van genade (die weg waarop genade ons lei) staan teenoor die pad van sonde. 

Genade kan nooit as verskoning vir sonde doen gebruik word nie. 

Kies die pad van die lewe! Die pad van die lewe staan teenoor sonde. Daar is dus geen verskoning vir enige kind van God om vrede te maak met sonde nie. Nee, ons moet daarteen baklei en dit deur die krag wat die Gees ons gee uitroei! (Romeine 8:13)

NS. As jy meer wil weet van Christelike vryheid binne die konteks van die Nuwe Verbond, kliek op NUWE VERBOND


Vrydag 06 September 2019

BABILON

IS NIE BY DIE BRUILOF NIE

[basiese besonderhede oor die ewige heerlikheid wat algemeen vergeet word]



Kom ons vra weer : Hoe lyk dit in die ewige heerlikheid by God? Openbaring gee die antwoord in prentjies en simbole. 



Die werklikheid van die hemelse koninkryk word dikwels voorgestel as ‘n Bruilofsmaaltyd (Natuurlik is daar nog baie ander aspekte van die hemel wat deur ‘n verskeidenheid metafore uitgebeeld word.) – ‘n huweliksfees wat innige gemeenskap, saamwees, harmonie en uitbundige vrolikheid simboliseer. Die gemeenskap van gelowiges kwadraat!


Om in die hemelse koninkryk te wees beteken dat ek bevoorreg is om uitgenooi te wees na die bruilofsfees van die Lam (Jesus)! “Toe sê die engel vir my: "Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is." Verder sê hy vir my: "Dit is die woorde van God, en hulle is waar." (Openbaring 19:9!) Dis die een fees wat tel, dis die een partytjie wat mens nie moet misloop nie! Dit maak nie saak wie jy is en hoe swaar jy nou kry nie...arm, siek, bespot of uitgestoot... as jy ‘n genooide is na Jesus se bruilof is jy ‘n uitermate geseënde! Die absolute maatstaf van geseënd wees! Ek hoop dat jy as jy reeds 'n kind van God is, besef  jy is baie meer geseënd as Bill Gates. Juig daaroor en dank God dat jy so ‘n uitverkorene mag wees!

Wie is die gelukkige uitgenooides en hoe lyk hulle?

Die uitgenooides is die bruid self, dit wil sê almal wat waarlik deur die wedergeboorte deel geword het van Jesus se kerk!

BRUID OF HOER?

Johannes skets vir ons die verhewe skoonheid en rein heerlikheid van Jesus se kerk in kontras met ‘n onheilige hoer/prostituut. Daar is natuurlik geen skerper kontras as juis dit nie – ‘n maagdelike bruid en ‘n onrein/onsedelike prostituut.

Die prostituut word beskryf met die term Babilon. (Babilon en die val van die stad word in hoofstuk 18 in detail beskryf.) Die bruid word in hoofstuk 21 beskryf as die Nuwe Jerusalem“Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. "Kom," het hy gesê, "ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam."Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ‘n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.”(21:9,10) Babilon is simbool van als wat onrein, onheilig en in opstand is teen God en sy norme en wette. Die prostituut Babilon met haar uitlokkende klere van mag, wellus en ydele rykdom staan in skrille kontras met die bruid, wat versier is met die blink klere wat die regverdige dade van die gelowiges simboliseer. Vergelyk self Openb. 17:4;18:2,16 met Openb. 19:8. 

God sê van Babilon - Openb.17:4 "Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ‘n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid."
Openb. 18:2,16 “En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,...” "Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helder rooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels!”

(Terloops, baie sogenaamde Christen jong dames se kleredrag en leefstyl herinner baie eerder aan die voorkoms van die hoer as die maagdelike bruid!)

God sê van die kerk (bruid) -Openb. 19:8. “God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek." Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.”

SY IS SO MOOI!

Die duidelike boodskap is :Die bruid van Jesus lyk anders as die sedelose onheilige wêreld! Sy word uitgeken aan haar versiering van regverdige dade. Regverdige dade, goeie werke is alles wat ons doen uit dankbaarheid vir ons verlossing en in gehoorsaamheid aan ons Verlosser! Moenie ‘n fout maak nie – goeie werke, maak saak, heiligheid maak saak – dis volgens die Apostoliese belydenis die groot kenmerk van die ware kerk van Jesus! “Ek glo aan ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.” Vir onheiliges gaan daar geen plek wees aan die bruilofstafel van Jesus nie!

BABILON SAL NIE BY DIE BRUILOFSFEES WEES NIE!

Openbaring in sy geheel is baie duidelik : Ons word nie gered deur goeie dade nie! Nee, net deur die bloed van die Lam. Ons maak ons klere wit in die bloed van die Lam. Dit beteken ons ontvang volkome vergifnis op grond van Jesus se kruisdood. Ons word nooit deur ons goeie dade gered nie. Maar goeie dade is die noodwendige gevolg van ware redding uit genade. Goeie dade is die versiering, die sigbare kenmerk van dié wat vergifnis ontvang het. Goeie dade maak die ware kinders van God, die bruid, MOOI! Hierdie mooi bruid gaan vir ewig feesvier saam met die Lam! Dis hemels!

DIE BRUID VAN JESUS IS ‘N REIN BRUID, VERSIER MET REGVERDIGE DADE!

Is jy deel van die Bruid, of gaan jy saam met Babilon? Dra ons die blink klere van heiligheid of vertoon ons die magsug, onreinheid en wellus van die onheilige prostituut? Is jy besig om jouself gereed te kry vir hierdie fees, of ploeter jy voort in ongehoorsaamheid en vuilheid? “Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.” (7) Daar is nou nog tyd vir bekering...

Die Nagmaal bevestig al die heerlike waarhede van Openbaring met betrekking tot die bruid: Redding deur die bloed van Jesus, aansporing tot goeie dade, ‘n feesmaal wat ‘n vooruitskouing is op die ewige bruilofsmaal saam met Jesus, die LAM!

Sondag 01 September 2019

DIE DOOD SE MAG IS GEBREEK

Vir elke hartseer en ongerief het die mens mos ‘n plan, maar nie vir die dood nie… Dis waar alle menslike planne ophou en menslike troos en raad opdroog. Ons het dit nou weer gesien met die tragiese busongeluk verlede naweek naby Mariental.* Kom ons kyk dus na wat God in sy Woord vir ons wil sê in 2 Timoteus 2:8-11.**




Paulus skryf hier as iemand wat self ook die dood in die gesig staar. Hy weet dit en is eerlik daaroor. “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.” (4:6) Hy skryf hierdie brief juis as ‘n boodskap van troos en hoop aan die jongman Timoteus. 


Ons het verlede Sondag gesien hoe Paulus vir Timoteus bemoedig te midde van die verwarring van dwaalleraars deur vir hom te sê daar is ‘n VASTE FONDAMENT (Die Here weet wie aan Hom behoort en Laat elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort wegbreek van als wat verkeerd is) 

TWYFELVRAE EN MISMOEDIGHEID

Daar is ook ander dinge wat Timoteus mismoedig en wankelrig gemaak het. Waarskynlik juis die feit dat sy geestelike vader en mentor Paulus nou magteloos in die tronk gesit het. Timoteus besef Paulus gaan nie weer lewend daaruit kom nie Timoteus sou maklik hierdeur in twyfel gebring kon word : "Is dit nou hoe God sy getroue knegte behandel, is dit hoe God sorg? Is God so kragteloos, hoekom verlos Hy Paulus nie uit die tronk nie? Is gevangenskap, lyding en dood nou dan die beloning wat die evangelie jou in die sak bring? Is dit die moeite werd om ‘n Christen te wees? Maak dit nog sin om die evangelie te verkondig? Timoteus sou kon dink : “Ek voel eintlik skaam om te sê ek is ‘n Christen, want mense kan my koggel en vra is dit dan nou hoe ‘n goeie God sy dienaars behandel…”

Jy sal weet wat jou twyfelvrae op hierdie oomblik is... "Kyk my siekte, kyk die droogte, kyk my eensaamheid... is dit hoe God sy kind behandel? Is dit die moeite werd om aan te hou glo?"

Paulus weet klaarblyklik van die wroegings wat in sy jong vriend se hart broei en daarom bemoedig hy hom… "Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God." (8) En dan gaan hy verder en herinner Timoteus weer net aan die basiese waarhede van die evangelie. 

Dis die beste manier om ‘n kind van God moed in te praat en te TROOS - gaan weer terug na die “basics”. 


Dis wat enige ware kind van God sal bly maak…dis kosbaar bo als! Die evangelie is ‘n blye boodskap van oorwinning, sterker as ons sonde en mislukkings, sterker as swaarkry, sterker as tronkmure en sterker as die donker aangesig van die dood! 

WAT IS DIE EVANGELIE?

Dis die goeie nuus dat God ons red (‘n Goddelike magsdaad!) Hoe doen God dit? Hy doen dit nie op grond van ons dade en prestasies nie, maar op grond van wat Jesus gedoen het. Ja, in ‘n wêreld waar alles oor prestasies gaan, waar ek gemeet meet word aan die hoeveelheid “likes” wat ek kry, is dit baie goeie nuus. God red sondaars, slegte mense, goddelose mense uit genade en nie volgens wat hulle bereik of reg gekry het nie. (Rom 4:4,5) Die lang lys sondaars wat God gered het bevestig hierdie feit…Saggeus, die Samaritaanse vrou, die duiwelbesetene van Gadara, die hoogmoedige Fariseër Paulus… dit getuig alles van redding deur genade! 

Dit gaan egter nog verder. Dis ‘n Goddelike inisiatief, 'n Goddelike besluit! Ons redding is nie eens die beloning van ons goeie keuses nie, maar van God se genadige keuse om in te gryp! Dit word beklemtoon dat hierdie geskenk al van ewigheid aan ons gegee is! Verbysterend! Alle menslike verdienste word uitgesluit. “Voordat ek kon kies, kon vra, het U Seun my vloek gedra. Ek kon vind: U't my gekry voor ek nog my skuld bely.” (LIED 190:2)

Hierdie genade van God is nou deur Jesus aan ons geopenbaar. Ons kry daaraan deel deur die vertroue op Jesus. Hierdie genade is nie iets wat ons doen of verdien nie, ons leer dit net ken, dit word aan ons bekendgestel deur Jesus. Dit gaan oor wat Jesus gedoen het! (1 Kor. 15:1-4)*** 

WAT IS DIE PRAKTIESE GEVOLGE? 

Jesus het die mag van die dood gebreek. Die tirannie van die dood bestaan nie meer nie. Ja, die dood is nog daar maar die angel van die dood is weg. Ons word bevry van die vrees en verskrikking wat die dood meebring. Paulus se bedoeling is duidelik : "Timoteus, as ek moet sterwe in die tronk is dit nie ‘n verlies of ‘n verleentheid nie. Ek is nie meer bang vir die dood nie!" Dieselfde waarheid het Paulus ook aan die Filippense probeer oordra. (Fil. 1:21) 

Nie net is die angswekkende mag van die dood gebreek nie, Jesus het deur sy opstande die onverganklike lewe bekend gestel. God se kinders, die wat waarlik deur Hom gered is, deel in ‘n onverganklike lewe. Dis ‘n lewe wat nooit oud kan word, kan verveel, vernietig kan word of kan vergaan nie. Die vloek op die sondeval word omgekeer! Dood is skeiding, lewe is gemeenskap. Deur die evangelie kry ons deel aan ewige onvernietigbare gemeenskap met God. En dit begin nou reeds, die oomblik as ek gered word! Dis nou reeds sigbaar! Hierdie redding en roeping het ten doel dat ons aan God toegewy sal wees. (9a) Letterlik – “heilige roeping”! Genade lei en dring tot heiligheid! (Vgl. Titus 2:11-14)**** Wie aanhou met onheiligheid wys dat hulle die genadige redding en roeping van God verwerp! 

Miskien bly daar een vraag in jou hart huiwer. Wonderlik, maar hoe word dit ons s’n, hoe het dit alles Timoteus s’n geword? “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (5) Opregte geloof! Dis om my vertroue op Jesus alleen te stel! Om te sê : “Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas!” 

DIE ENIGSTE SINVOLLE TROOS IN DIE AANGESIG VAN DIE DOOD IS DIE EVANGELIE TROOS!  EN HIERDIE TROOS SPOOR ONS AAN OM NOU HEILIG TE LEWE!

*Ons is nou weer op Sondag 25 Augustus 2019 wreed daaraan herinner met die tragiese busongeluk waarin twee leerlinge van Windhoek Gymnasium, Jacques Venter en Angela Maiba naby Mariental dood is. My persoonlike meegevoel aan hulle geliefdes! 

**2 Timoteus 1:8 Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 

9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 

10 Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 

11 Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar. 



*** 1 Korintiërs 15:1 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 

2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 

3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 

4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 


**** Titus 2:11-14Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 

12 Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 

13 terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. 

14 Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.