BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vormgodsdiens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vormgodsdiens. Wys alle plasings

Vrydag 03 Februarie 2017

JY KAN GOD NIE MANIPULEER NIE,

want God is anders as die afgode!

God is anders as die afgode! “Wel”, sal iemand miskien sê, “dis seker nie nodig om dit vir ons te vertel nie, ek bedoel wie weet dit nou nie?” Die waarheid is dat baie van ons dit nie weet nie, miskien teoreties, maar ons praktiese houding teenoor God wys dat ons oor Hom dink asof hy maar net nog 'n afgod is. Dat Israel dikwels hierdie verkeerde denke oor God gehuldig het is baie duidelik, ook uit 1 Samuel 4 :1-11. Die ongehoorsame Israeliete wat gedink het hulle kon God dwing om hulle teen die Filistyne te help as hulle die verbondsark saamneem na die slagveld toe... As ons 'n bietjie oor die saak nadink kom 'n mens tot die skokkende besef dat 'n baie groot persentasie van mense wat hulleself as Christene beskryf dieselfde foute begaan. 



Mense (ook binne in die kerk) dink oor God en hanteer Hom asof Hy maar net nog een van die afgode is. 



Die grootste dowwe kol in die kerk se denke is 'n verkeerde en gebrekkige Godsbegrip. Ons besef nie wie is die God met wie ons te make het nie. God word verwar met die afgode al word Hy by die regte naam genoem. Dit kom eintlik daarop neer dat ons vir onsself ‘n “god” gemaak het wat by ons behoeftes pas.

Om die verskil tussen die lewende God en die afgode duidelik te onderstreep is dit nodig om te vra : Hoe lyk die afgode? In watter opsigte is God anders as die afgode?

WIE EN WAT IS DIE AFGODE?

Afgode is menslike skeppings wat voortkom uit menslike gedagtes. In sommige gevalle word hulle fisies deur mense voorgestel of gemaak.

Omdat die afgode menslike skeppings is, is hulle vreeslik mens en sonde vriendelik. Die afgode het baie ruimte vir sonde... Dis lekker gode soos byv. die Kanaäniete se vrugbaarheidsgodsdiens wat gepaard gaan met allerhande losbandigheid en uitspattigheid wat goed aangepas is by die mens se sondige begeertes. Dink maar net ook aan die Griekse gode en godinne se losbandige eskapades!

Afgodery is eintlik maar duiwelsdiens en Satan se doel hiermee is om die mens te vernietig. Die afgode vra 'n ontsaglike prys en is baie wreed. Afgodsdiens behels dikwels selfkastyding of selfpyniging (dink aan hoe die Baälpriesters hulleself stukkend gekerf het op Karmelberg) en eis selfs kinderoffers en natuurlik lei dit tot die ewige verdoemenis. (maar dit besef die misleides natuurlik nie) Hierdie vernietigende aspekte is natuurlik net so waar van die moderne afgode dink maar byv. aan die gevolge van hebsug/gierigheid. (dit word pertinent afgodery genoem in Efesiërs 5:5)

Baie belangrik – die afgode is manipuleerbaar sodat hulle tot voordeel van die mens optree. Hierdie manipulasie vind plaas deur die regte rituele en formules. Die afgode is nie so gesteld op die hartsgesindheid nie, solank die regte offers, woorde, rites en voorskrifte gevolg word doen die afgode wat ons wil hê : gee reën en oeste, help met liefdesprobleme en vrugbaarheid, sukses en rykdom...

Die afgode staan dus eintlik in diens van die mens wat hulle gemaak het. Daarom is afgode hoofsaaklik etnies gebonde. Dagon is ons Filistyne se god, hy tree in ons belang op. Baäl is weer die van die Kanaäniete ens. (En mens wonder sommer, het baie van ons Afrikaners nie al probeer om God te reduseer tot 'n "god" wat altyd aan die Afrikaner se kant is nie??)

Omdat afgode eintlik maar net 'n menslike skepping is, is hulle beperk en in ‘n sekere sin van mense afhanklik. Mense bring kos vir hulle en verskaf woonplek. (tempels) 

Israel se optrede in hierdie krisis tyd wys baie duidelik dat hulle oor die lewende God dink in terme van hierdie afgodsdenke. Wat gebeur hier? 

God het besluit om Sy volk te straf. Hy gebruik die Filistyne as instrument in sy hand. Die volk word daarom verslaan deur die Filistyne, soos Hy dit bekend gemaak het aan Samuel. Hulle besef dit, maar nou maak hulle wat hulle dink ‘n slim plan is.... “Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: "Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande." (1 Sam 4:3) Hulle redenasie is duidelik die van afgodsdienaars...”wag 'n bietjie ons gaan hierdie Filistyne 'n ding wys, God gaan vir ons veg en ons gaan seker maak dat Hy aan ons kant is. Gaan haal die ark, waar die ark is sal Hy mos wees en dan sal Hy aan ons laat wen!”

Israel dink hulle kan God dwing en manipuleer om in hulle belang te veg!

GOD IS (HEERLIK) ANDERS!

In skrille maar ook heerlike kontras staan die Lewende God teenoor die afgode. Hy is waarlik God, van ewigheid af. Kom ons stip net 'n paar aspekte aan wat hoofsaaklik uit hierdie stuk geskiedenis in 1 Samuel na vore kom :

God is nie deur mense gemaak nie, trouens Hy self en Hy alleen is die Skepper van die mens en alles wat bestaan. Hy openbaar Homself aan wie Hy wil. Hy slaan die priester Eli oor en maak Homself aan die jong seun Samuel bekend. Hy het geen beperkings nie. Hy is die Almagtige. Daarom het God het Israel nie nodig nie en is Hy van geen mens en geen priester afhanklik nie. Terloops, Hy benodig ook nie offers as ‘n lewensmiddel nie, want buitendien al die vee behoort aan Hom. Hy is ook nie verleë oor die tempel as 'n woonplek nie. Salomo* het dit duidelik geweet. Hy handhaaf Homself. Dit wat in Dagon se tempel gebeur het (lees 1 Samuel 5:1-5), bewys dat Hy nie verslaan is nie, maar dat Hy selfs heerskappy voer in die tempel en land van Sy vyande. Hy tree nie op ter wille van mense as sodanig nie, Hy tree op ter wille van Sy Naam en sy eer.

Die ware God dien nie die mens nie, mense is veronderstel om Hom te dien volgens Sy voorskrifte. Hy kan nie gemanipuleer word nie en Hy laat Hom nie misbruik nie. Israel se poging misluk jammerlik en dit lei tot 'n ramp... Daar was 'n groot slagting, hulle moes vlug en die ark is deur die vyand buit gemaak. God se arm kan nie gedraai word nie. Ons afkoms of bepaalde gebruike en rituele veroorsaak nie dat Hy outomaties aan ons kant is nie.** 

Die Heilige God, moet aanbid word volgens Sy voorskrifte, en met eerbied. Hy self bepaal die voorwaardes en manier van aanbidding. Dit moes die mense van Bet Semes op 'n harde manier uitvind toe hulle die ark met sy terugkoms in Israel onwettig bekyk het. (1 Samuel 6:19).*** 

Hoe tree mense vandag teen God op? By nadere ondersoek blyk dit baie dink aan God en oor God asof Hy eintlik maar net nog 'n afgod in ons diens is. Ons ontwerp 'n “god” in ons gedagtes wat by ons behoeftes pas. Ons laat Hom in ons lewens toe in soverre ons dink Hy vir ons nuttig kan wees.

Ons betrek God by ons planne i.p.v. in te val by Sy wil en planne. Dikwels is hierdie planne direk teen Sy geopenbaarde wil. Dink aan skelm besigheidstransaksies, huwelike met ongelowiges en projekte wat net op ons eie eer ingestel is en dan het ons die arrogante vermetelheid om Hom te vra dat hy dit sal seën. 

Ons maak God ook klein in ons denke. Al meer mense twyfel oor Sy almag en soewereiniteit. Mense praat en dink asof God nie volmaak in beheer is nie. Party mense betwyfel God se almag deur in vrees vir die duiwel te leef... 

Daar is al hoe meer 'n terugkeer na ritualisme. Die dwase mens dink God kan tevrede gestel word deur die regte rituele en formules! Vir sommiges is die doop of belydenisaflegging so ‘n formule wat saligheid en sukses verseker. 

Ons verlaag God tot afgodsstatus deur sy seën en hulp net by sekere geleenthede in te roep sekere geleenthede... By begrafnisse en troues word God se naam gehoor en gaan ons kerk toe, maar die res van ons lewens leef ons soos ons wil! 

Ons gee ons eie inhoud aan Bybelse terme : Die term geloof is baie gewild selfs onder die goddeloses! Hulle dink : Geloof in God sal die lewe beter laat uitwerk vir jou! Dis egter ‘n selfsugtige afgodsgeloof en dis nie wat die Woord met geloof bedoel nie! 

Gebed word misbruik as ‘n towerstaf dat God MY drome moet waarmaak. In die Bybel gaan gebed oor onderwerping aan God se wil. 

Genade is 'n denkmantel vir 'n losbandige lewe volgens ons eie begeertes en behoeftes. Die Woord waarsku baie duidelik teen hier die misbruik van genade.

Die godsdienstige praktyke van baie wat as Christene bekend staan kom neer op 'n oortreding van die tweede gebod. Hulle maak 'n god in hulle gedagtes, volgens hulle behoeftes en grille en koppel die naam van God van Jesus aan Hom.

Hierdie geskiedenis maak dit baie duidelik dat God Hom nie laat manipuleer nie. Israel se kastige slim plan om God te betrek het in hulle gesigte ontplof met skrikwekkende gevolge...

KOM ONS BESEF WIE GOD IS...

Ons moet opnuut weer besef God het ons nie nodig nie. God kan uit klippe kinders van Abram maak.

Ons moet opnuut weer besef God kan nie geflous word nie. 'n Bybel voor my bed beteken nie dat Hy aan my kant is nie! Ons moet opnuut weer besef God handhaaf homself, Hy is nie verleë oor ons pogings of (suinige) bydraes nie!

Ons moet opnuut weer besef ons kan God nie met die regte tegnieke dwing of oorreed om by ons betrokke te wees en ons te seën volgens ons verwagtings nie. Dis nie regte gebedstegnieke nie, maar die gebed van die regverdige m.a.w. die een wat in die regte verhouding met Hom staan wat groot krag het!

Ons moet opnuut weer besef dis nie moderne kommunikasie en preek metodes (of toegang tot die internet) nie, maar geheiligde en gehoorsame instrumente wat deur Hom gebruik word. 

Ons moet opnuut weer besef dis nie obskure geestelike oorlogvoeringstegnieke en spreek-lewe resepte wat ons die oorwinning oor die bose sal laat behaal nie, maar gehoorsaamheid aan die waarheid van die Woord.

DIE WEG TOT GOD

Wel, hoe moet ons die Lewende God benader? Slegs binne 'n persoonlike verhouding of anders gestel ‘n weg van gehoorsaamheid en heiligheid. Ja, ons self kan nie aan sy standaarde voldoen nie, maar deur Jesus het Hy ons in ons sondenood te hulp gekom. Jesus Christus is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Ons kan God nie beveel, manipuleer, misbruik en om die bos lei nie, maar (en dis onbeskryflik heerlik) ons kan wel Sy genadetroon nader in heilige eerbied in die naam van ons ewige hoëpriester Jesus Christus. Ons nader God nie met valse motiewe volgens uiterlike rituele en voorgeskrewe formules nie, maar deur die verdienste van Jesus met opregte harte.  Ja, deur Jesus word Hy ons Vader en mag ons  met vrymoedigheid ons harte voor Hom uitstort en Hy sal hoor...AMEN

*Salomo se gebed by die inwyding van die tempel wys duidelik dat hy besef dat God nie in ‘n gebou wat deur mense opgerig is woon nie. "Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!” (1 Konings 8:27) 

** Dink ook aan die waarskuwing van die profeet Jeremia (lees Jer 7:4)...... "die Here se tempel, die Here se tempel..." (Kliek op TEMPEL)

*** Israel was traag om hierdie les te leer. Baie jare hierna moes Ussa ten spyte van sy goeie bedoelings ook die verskriklike gevolge dra omdat hy nie die voorskrifte van God ernstig opgeneem het nie en aan die ark geraak het. “Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. ( 2 Samuel 6:6,7)

VERDER. HOE LYK HIERDIE "AFGODSDIENS" EN MANIPULASIE IN DIE PRAKTYK ONDER ONS AFRIKANERS? Kliek op AFRIKANER BYGELOOF

Dinsdag 16 Desember 2014

GELOFTE, BLOEDRIVIER EN VALSE SEKURITEIT

 - vormgodsdiens gee ‘n valse indruk dat God altyd aan ons kant is.

Daar is geen twyfel dat God op 16 Desember 1838 die ernstige smeekgebede van ‘n groepie Voortrekkers verhoor het nie… Wonderbaarlik gryp Hy in en gee uitkoms! En let wel, God het hulle gebede verhoor nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle Christene was…* (Kliek op BLOEDRIVIER)

God het ons voorouers uitgered, maar beteken dit dat Hy nou outomaties altyd aan ons kant gaan wees? Dit lyk asof sommige so redeneer…

Dis presies die tragiese fout wat die volk Israel in die tyd van die profeet Jeremia begaan het. Hulle was baie godsdienstig en vol vertroue dat dinge sal goed gaan. Die fokus van hulle godsdiens was die tempel en al die offers wat daar gebring is. Daar in Jerusalem het die groot imposante tempel gestaan, ‘n indrukwekkende gebou en dit het mense veilig laat voel. Hulle was heeltemal gerus. Hulle het geredeneer die Here is mos in sy tempel en daarom sal Hy die land beskerm. Hy sal mos nie toelaat dat sy tempel en sy stad Jerusalem iets oorkom nie. “God is mos aan ons kant, sy tempel staan dan hier!” Al die waarskuwings van Jeremia dat God sy volk gaan straf het dus op dowe ore geval. Sy oproepe tot bekering was tevergeefs!

Maar nou skielik kom die Here deur sy profeet en ruk die matjie onder hulle voete uit.  Ondubbelsinnig waarsku die profeet die geruste inwoners van Jerusalem : “Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!" (Jeremia 7:4) Met ander woorde, hulle vertrou tevergeefs op hulle godsdienstigheid, die onheil van God gaan hulle tref!

VORMGODSDIENS

Nou wat was fout met Israel se godsdiens? Waarom het hulle godsdiens valse hoop en sekuriteit gebied? Dit was :

~ ’n Godsdiens ter wille van hulleself.  Hulle het godsdiens beoefen om veilig te kan voel. In vandag se taal... hulle godsdiens was ‘n polis teen droogte, misdaad, siekte en die hel. In droogte tye bid ons, as daar siekte is bid ons, as daar eksamen is bid ons, as iemand sterwe - dan moet daar skielik gelees en gebid word, selfs al het die oorledene nooit die binnekant van ‘n kerk geken nie. Hierdie tipe godsdiens is suiwer mensgerig, dit gaan slegs oor die mens se belange en gerief.

~ ’n Vormgodsdiens. Godsdiens met die regte woorde en terminologie, maar nie die regte inhoud en fokus nie. Hulle het nog uiterlik die regte tradisies gevolg, hulle het by die poorte ingegaan om die Here te dien. Hulle het wel nog offers gebring, nog gebid. Die regte vorm en korrekte geluide! Maar dit was nie meer ’n godsdiens van toewyding aan God nie, nie meer ’n godsdiens van dankbaarheid vir God se groot verlossingsdade nie! Dit was nie ’n hartsgodsdiens nie. Hulle lippe was  nog betrokke, maar die harte was  ver van God. Ook Jesaja waarsku teen hierdie uiterlike godsdiens: “Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.” (Jesaja 29:13)

~ ’n Godsdiens wat gerieflik was en almal gepaai  en gevlei het. ’n Goedvoel rugkrapper godsdiens. “...almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog. Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie.” (Jeremia 8:10,11) Die leiers het maar net gerusstellende  en mooi dingetjies gesê. Dit was ’n godsdiens wat niemand ontstel het nie, wat niemand laat nadink het nie, wat niemand tot bekering opgeroep het en niemand uitgedaag het  nie. Ook die Nuwe Testament waarsku teen hierdie tendens. “want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”  (2 Timoteus 4:3) Kerk en godsdiens is oraait solank ons net kan hoor wat ons graag wil hoor. ’n Godsdiens sonder uitdagings, sonder selfverloëning - ’n gemaklike rusbankgodsdiens met mooi woordjies

~ ’n Godsdiens sonder heiligheid en sonder lewensverandering. Hierdie godsdiens het geen verskil aan hulle praktiese lewensstyl gemaak nie. Hulle het rustig voortgegaan met sonde... Jeremia noem die dinge by die naam :  “Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie.  Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: "Ons is veilig" nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge!” (Jeremia 7:8-10) Dit was ’n teoretiese godsdiens maar sonder die krag om lewens te verander. Ook in die Nuwe Testament word ons teen hierdie godsdiens gewaarsku. Sien 2 Timoteus 3:1-5.  Ja, Jesus self waarsku ook teen hierdie soort godsdiens in  Matteus 7:21 (Kliek op SKOKWOORDE)

 Israel het  godsdiens sonder God beoefen.

Israel was besig met godsdiens, ja, maar nie met God nie. Dit was ’n mens gemaakte en mens gefokusde godsdiens slegs ingestel op hulle eie gerief en veiligheid. Daar was gebede, maar gebede wat nie meer by God uitgekom het nie. Daar was baie aktiwiteite, maar dit was aktiwiteite wat geen indruk op God gemaak het nie. Godsdiens sonder God. Sonder ’n liefde vir God, sonder gehoorsaamheid aan God, sonder die teenwoordigheid van God, sonder ‘n hart vir God! Wat ’n verskriklike ding. Nou sê God : Hierdie godsdiens gaan julle in die steek laat, die oordele gaan julle tref!  Ek sal hulle vrouens aan ander gee en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.”  (Jeremia 8:10)

Inderdaad het dit gebeur. Die tempel is verwoes en die volk is weggevoer. Laat ons raaksien : Uiterlike vormgodsdiens bied geen skuiling teen God se oordele nie. God se groot dade van verlossing in die verlede, waarborg nie dat Hy altyd aan ons kant is nie. Mense wat tevrede is met ’n uiterlik  aangeplakte Christenskap sal eendag hoor : “Ek het julle nooit geken nie.” Wat nodig is, is ware geloof in Jesus en bekering!


Ware godsdiens en ware aanbidding begin by ’n hartsverandering,  ‘n aanvaarding van God se genade in Jesus, by vergifnis wat net Jesus vir jou kan gee. Dis wat alle mense in hierdie land, ook die Afrikanervolk... Ja, vier die Gelofte, maar maak seker dat ons die God van die Gelofte nog as God en Verlosser eer en gehoorsaam!


SONDER NUWE HARTE MAAK DIE VIERING VAN GELOFTEDAG GEEN SIN NIE!


                [Voorstelling van die slag van Bloedrivier]

*Natuurlik kan dit nie ongekwalifiseerd van enige groep mense gesê word nie. Orals is meelopers en afvalliges, maar dat daar baie ware gelowiges onder ons voorouers was, ly geen twyfel nie.