BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 28 Desember 2012

KASTREER JULLESELF

-  “snydende” sarkasme van ‘n liefdevolle apostel.

Die apostel Paulus het seker die wêreld se bekendste lofrede op die liefde geskryf. Ons almal ken die aangrypend wonderskone 1 Korintiërs 13 en het altyd maar weer nodig om daarna terug te keer en onsself opnuut met hierdie tydlose waarhede te verfris!  En nou is dit juis hierdie apostel, ‘n kenner van die liefde wat met amper ‘n skurwe en  skokkende stuk sarkasme die Galasiese dwaalleraars bykom.   Die Judaïseerder  valse leraars wat gemeentelede wou omhaal om weer die tora voorskrifte oor die besnydenis te onderhou,  kry ‘n bitsige teregwysing van Paulus se kant af : “Ek wens die mense wat díe verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12)  Dis asof Paulus byna in desperaatheid oor hierdie vernietigende onkunde smalend raak en sê : “Laat julle misleiers dan nou maar hulle waansin tot die uiterste volhou en hulle dan nou maar sommer self kastreer!” * Harde woorde!

Waarom haal ek nou hierdie sterk woorde van Paulus op? Dit gebeur so dikwels dat iemand  wat vir die waarheid opkom van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid beskuldig word. Dis ‘n beskuldiging wat vir elkeen na wie dit kom tot ernstige nadenke en selfondersoek behoort te stem. Ja, want ons weet mos dat die liefde die grootste gebod is, maar juis ook die een wat ons as selfgesentreerde mense die maklikste oortree. (en wie van ons is nooit hieraan skuldig nie?)

En tog moet ons ook met nugterheid  kennis neem van ‘n  buite  konteks verabsolutering van ‘n normlose liefde wat kwistig deur die media gepropageer en selfs deur teoloë nagepraat  word. Liefde sonder die konteks en merkers van die waarheid  verval maklik in ‘n sentimentele onsinnigheid. Kom ek probeer verduidelik : Ons moet God liefhê, maar hierdie God is nie sommer enige god nie! Hy is byvoorbeeld  nie Boeddha nie, en Hy is ook nie die innerlike self-mensgod of kosmiese energie van die New Age nie! Die punt is : om God te kan liefhê is waarheidsonderskeiding gegrond op die Bybel  nodig! Want daar is sekere gode wat ek juis nie mag liefhê nie. Dieselfde geld die gebod om ons medemens lief te hê. Slegs die Woord van God kan vir ons inhoud aan hierdie liefde gee. Van Zuma (wat ons daarin herinner om nie honde bo mense te stel nie!!!) tot goddelose Hollywood sterre  gebruik  die begrippe ubuntu, liefde en verdraagsaamheid... maar  hulle is heel gemaklik as dit selfgesentreerde losbandigheid en sedeloosheid insluit.  Hierteenoor het Bybelse liefde duidelike norme. Liefde is nie maar net om  altyd te probeer “nice” wees nie, liefde is harde werk en ‘n duidelik uitgestippelde leefstyl volgens die opdragte en grense van die Skrif.

Bybelse liefde beteken nie om ten alle koste “nice” te wees nie, veral nie met dwaalleraars wat Bybelse waarhede ondergrawe nie.

Die groot drie van 1 Korintiërs 13 (Geloof, Hoop en Liefde) kan nie van die evangelie waarheid losgemaak word nie.  Alleenlik omdat Jesus Christus histories ligaamlik gesterf  en weer opgestaan het, kan ek geloof, hoop en liefde beoefen.  My geloof het ‘n inhoud : Jesus die enigste Middelaar met sy saligmakende sterwe en opstanding. My hoop het ‘n vaste grond en waarborg : sy genoegsame heilswerk wat vir my ‘n ewige  toekoms verseker.  Die liefde wat my dring om liefde te bewys is juis die liefde wat histories aan die kruis gestalte gevind het – die enigste norm vir ware liefde!

Is dit dan liefdeloos om hierdie evangelie waarhede kompromisloos te verkondig en kragtig te stry vir  die  geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges oorgelwer is? (Judas vers 3) Die term liefde word so maklik rondgegooi, maar is dit nie juis ‘n bewys van gebrekkige liefde as ons toelaat dat  teologiese professore kosbare geroepenes aan ons fakulteite vergiftig met twyfel oor die opstanding en dat hulle daardie gif oordra aan getroue lidmate wat Sondag na Sondag opkom om te hoor wat sê God se Woord nie?  Is dit nie juis ‘n gebrek aan liefde wat maak dat ons hande gevou sit en toekyk hoe opregte gelowiges wat aan God se Woord getrou wil wees verwar word, deur leringe wat ons vertel dat ons God al die jare met ‘n verkeerde Naam en op ‘n verkeerde dag aanbid het nie? Moet ons stilbly as daar verkondig word dat God alle mense ryk en gesond wil maak, hier en nou?

Om terug te kom na Paulus se kras uitspraak. Ek dink ons kan vanuit die konteks van die Galasiër brief, baie hieruit leer.  Paulus maak ‘n duidelike onderskeid in hoe hy die dwalende (reeds of in die proses) gemeentelede aan die eenkant en die  dwaallerende ketters aan die anderkant hanteer en aanspreek. Paulus se hart gaan uit na die misleide gemeentelede. Hy smeek hulle met ‘n moederlike besorgdheid om terug te keer na die vryheid van die evangelie en die volheid in Christus alleen. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle  totdat Christus in julle gestalte kry.” (Galasiërs 4:19) Ja, hy vertel die waarheid aan hulle onbeskroomd en vra hulle mooi om dit tog nie as vyandskap te sien nie. (Galasiërs 4:16) Maar vir die gewetenlose  leraars wat die gemeente van die waarheid probeer weglok, het Paulus geen sagte woordjies nie, inteendeel...  Die rede is duidelik : dwaalleer (en hier praat ons nie van bloot verskillende interpretasies rondom byvoorbeeld die doop en die manier van Jesus se wederkoms nie, maar kernsake soos die ontkenning van die Godheid van Jesus Christus, sy genoegsame offer aan die kruis, sy  ligaamlike opstanding...) ondergrawe  mense se geloof!  Dit het Paulus goed besef en daarom verklaar hy : “daarmee vernietig hulle die geloof van sommige” (sien 2 Timoteus 2:16-18)

Wat wil ek met bogenoemde probeer sê? Met kinders van God wat onder die invloed van dwaalleer gekom het, moet ons reguit volgens die waarheid, maar in groot liefde, nederigheid, geduld en wysheid werk.  Maar valse profete moet nie verwag om met mooi woordjies gepamperlang te word nie! ( 2 Petrus 2  handel hieroor en is ‘n hoofstuk wat ons almal moet laat sidder) Nog minder moet hulle dink dat ons hulle gaan vlei met : "ons kan so baie by julle leer!"

Ten slotte net twee praktiese opmerkings waaraan elkeen wat vir die waarheid teen valse leringe opstaan gedurig herinner moet word:

1. Verkondig die waarheid op ‘n positiewe manier en met blydskap. (Ouers, dit geld natuurlik ook vir die manier waarop ons huisgodsdiens hanteer!) Die waarheid van die evangelie is immers ‘n blye boodskap wat bevryding bring! Ja, spesifieke dwalinge moet soms by die naam aangespreek word, maar  laat die klem val op die waarheid self. Dit voed en bou die gelowiges en stel hulle instaat om self te kan onderskei.

2. Pasop vir ‘n siniese bitterbek ingesteldheid. Daar is so ‘n magdom van valse leringe rondom ons dat mens maklik perspektief (en jou vreugde in Jesus) kan verloor.  Daar  bestaan die gevaar van ‘n oorpessimisme, wat vergeet dat Christus self sy Kerk instand sal hou.  Daar is ‘n slaggat van  kleinsielige foutvindery en haarklowery. Dit dreig om elkeen wat daarin val, nutteloos te maak vir die saak van die Koninkryk!

 Mag God ons ‘n gesonde balans gee om ons te bewaar van passiwiteit in die aangesig van dwaling, maar ook van ‘n mensgedrewe en eiesinnige aktivisme! Mag die norm van God se liefde ons hierin rig!


*Die Franse, La Sainte Bible gebruik inderdaad hierdie term. “qu’ils se châtrent!”

Maandag 10 Desember 2012

KNOPE IN DIE KERSKOUS

- nugter nagedink oor 25 Desember.

Ek het groot waardering en respek vir God se kinders wat radikaal heilig wil lewe en in alle dinge die wil van God eerste probeer stel.  Dis immers in ooreenstemming met  die duidelike opdrag in 1 Petrus 1:16 “Wees heilig, want Ek is heilig!”  Aan die anderkant is daar wel ook Christene wat ‘n behae daarin skep om hare te kloof en andere skuldig te laat voel oor nietige randsake. (moontlik as gevolg van onkunde) 

Een so ‘n saak is die vraag :



“Mag ‘n Christen Kersfees vier?”



VASTE FEITE

Kom ons begin met die nugtere stel van ‘n paar feite wat vas staan en waaroor almal behoort saam te stem :  

Feit nommer een is : Jesus is nie op 25 Desember gebore nie. Verder:
Die groot meerderheid van mense op aarde vier Kersfees op ‘n goddelose en Godonterende manier (met vreet op aarde in plaas van vrede op aarde)* 
Daar is geen Bybelse bevel om Kersfees as ‘n feesdag te vier nie. 
Daar is wel duidelike Skrifgedeeltes wat die geboorte/menswording van Jesus beskryf. 
Daar is wel toegewyde gelowiges wat Kersfees vier op ‘n Godverheerlikende wyse. 
Daar is ook opregte Christene wat niks met Kersfees te doen wil hê nie en dit as deur en deur heidens beskou.

Uit bogenoemde is dit klaar duidelik dat Christene verdeeld is oor hierdie saak. Selfs onder Christene met sterk Calvinistiese oortuigings is daar nie eenstemmigheid nie. Uitgesproke Calvinste soos die bekende CH Spurgeon en AW Pink was teen Kersfees gekant. Calvyn self se siening kan dalk vir baie ‘n verrassing wees. Calvyn het nie die viering van Kersfees, Goeie Vrydag, Paasfees, Hemelvaart en Pinkster verbied nie. Farel sy voorganger in Geneve het dit verban. Calvyn het hulle egter oortuig om dit weer in te stel. Later toe die Geneefse owerheid wel besluit het om die feeste af te skaf is Calvyn egter daarvoor die skuld gegee. In ‘n brief aan sy vriend Haller in Bern het hy dit baie duidelik gestel dat hy nie die afskaffing van Kersfees ondersteun het nie. Iemand het Calvyn se posisie so opgesom : kerke het die vryheid om hierdie feeste met matigheid te vier solank dit tot die opbou van gelowiges dien.

Waarom voel sommige so sterk teen Kersfees?

BESWARE TEEN KERSFEES

1. Kersfees is ‘n oorgawe aan naakte materialisme en hedonisme. Dis moeilik om hierteen te stry. Min dinge is seker so irriterend vir ‘n Christen se ore as “Jingle Bells” wat in ‘n groot afdelings winkel blêr terwyl als rondom jou skreeu teen die boodskap van Jesus en sy nederige menswording en almal daarop uit is om met een of ander reklamefoefie die laaste sente uit jou sak te roof. Met so ‘n geld en plesiergedrewe Kerfsees kan geen kind van God vrede hê nie. Die misbruik van ‘n saak hef egter nie noodwendig die regte gebruik op nie. ‘n Kersfees waar ‘n gesin saam rondom die Woord weer nadink oor die wonder van Jesus se menswording en in vrede en blydskap saam ‘n maaltyd nuttig is seker ‘n heel ander saak.

2. Kersfees se oorsprong is duidelik heidens en het niks met Jesus Christus te doen nie. Daar is ‘n sterk anti Kersfees gevoel by ‘n groep Christene wat baie uitgesproke is oor  hierdie saak. So hoor mens sterk bewoorde uitsprake soos die volgende :

“What many in Christendom have been celebrating--Christmas--is a thoroughly pagan holiday--in its origin, in its trappings, and in all its traditions . . . . The modern conservative cry to put Christ back into Christmas is absurd. Jesus Christ was never in Christmas.”  Vir sulke mense is Kersfees inherent boos en goddeloos en maak dit geen sin om dit eers te probeer reg vier nie.

Die besware rondom die heidense karakter van Kersfees gaan oor die beweerde worteloorsprong vanuit die heidendom, die datum van 25 Desember en heidense gebruike wat daarmee gepaard gaan.

Die meeste van hierdie argumente gaan terug op die tesis van die Skotse Pesbiteriaan Alexander Hislop in sy bekende  werk : “The Two Babylons”  Hiervolgens is die Roomse kerk ‘n direkte uitvloeisel van die heidendom van antieke Babilon wat deur Nimrod en sy vrou Semiramis  begin is. Hierdie tesis van Hislop het wyd bekend geraak, maar daar bestaan ernstige kritiek teen sy veronderstellings. (Sien voetnoot **)
DATUM

Kom ons kyk bietjie na die kwessie van die datum. Waarom het die kerk, wat tog moes geweet het dat Christus nie op 25 Desember gebore is nie, op hierdie datum besluit?
Sedert die tyd van die Romeinse keiser  Elagabulus (218-222), is die afgod Sol Invictus (die onoorwinbare songod) as een van die vernaamste Romeinse gode vereer.  Toe keiser Aurelius (270-275) aan bewind gekom het, het hy gepoog om die aanbidding van die son as hoofgod te herstel.  Sol het saam met die god Jupiter op muntstukke verskyn. 25 Desember is herdenk as die geboortedag van die songod. (natalis solis invicti). Die songod is ook geïdentifiseer met Mithra ‘n Persiese god en heidense feeste is wyd oor die ryk heen gevier op 25 Desember.  Een teorie is dat die kerk in Rome doelbewus hierdie datum gekies het as ‘n teenvoeter vir die fees van die heidense songod en mense se aandag eerder te vestig op die “Son van geregtigheid” (Maleagi 4:2)  In die loflied van Sagaria lees ons immers ook van God se genade in Jesus die volgende “Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal.” (Lukas 1:78) Daar is nie direkte bewys vir hierdie teorie nie, maar daar is preke van die Kerkvaders (byv. Augustinus) wat hierdie gedagte opper.
SKULDIG DEUR ASSOSIASIE?

Presies waarom die geboorte van Christus op 25 Desember gevier word is nie seker nie, maar die vraag is : Maak dit saak?  Gaan dit nie eerder oor die inhoud van wat ons herdenk nie? ‘n Mens moet pasop vir ‘n skuldig deur assosiasie redenasie. Ons gedenk die opstanding van Jesus op ‘n Sondag, wat in die Romeinse tye ‘n dag was wat vernoem is ter ere van (weereens) die songod! Mag ons dan daarom nie op die Sondag Jesus se opstanding vier nie? “Dis wat ons nog altyd vir julle gesê het”, sal die Sewendedaagse Adventiste nou weer uitroep. Maar om volgens hierdie redenasie ons erediens na die Saterdag te skuif laat ons weereens met ‘n soortgelyke probleem. Saterdag is deur die Romeine vernoem na die god Saturnus! Waar laat dit ons? Waarskynlik het al ons weeksdae se name ‘n heidense konnotasie.
Dit gaan tog nie oor die dag se naam of vroeëre konnotasies nie. Dit gaan oor wat ons nou op daardie dag doen en glo!
Die heidene het nie alleenreg op sekere dae of simbole nie!
 ‘n Ander beswaar wat dikwels  teen Kersfees ingebring word is die sterk ooreenstemming wat gebruike soos die Kersboom toon  met heidense feesgebruike. Die gebruik van geskenke gee kom blykbaar van die Romeinse Saturnaliafees wat van 17-24 Desember plaasgevind het. Wat moet ons met al hierdie dinge maak? Ooreenkomste dui nie noodwendig op dieselfde afkoms en nog minder op dieselfde betekenis! (As ‘n bygelowige mens ‘n uil hoor skree, ruik hy ‘n voorbode, maar ek hoor maar net nog ‘n voël.) Juis hierom moet ons mekaar die vryheid gun oor hoe  elkeen die menswording van Jesus wil gedenk (Ek persoonlik vind Vader Kersfees maar ‘n grillerige figuur en maak nie my kinders saam met hom groot nie, maar aan die anderkant voel ek nie dis verkeerd om vir my kinders geskenkies te koop nie.) Ons is mos vry om nie in uitspattigheid te verval soos die goddelose wêreld rondom ons nie. Ons is ook vry om gebruike wat ons ongemaklik te maak weg te laat.  As die heidene iets gebruik beteken dit tog nie noodwendig dat ons dit met dieselfde motiewe of betekenis te gebruik nie.  Heidense mense braai ook vleis, beteken dit dat ek nie meer mag vleisbraai nie?
Ooreenstemmende kulturele gebruike het vir verskillende kulture en gelowe verskillende betekenisse.  Heidennasies het ook die besnydenis beoefen (en doen dit nog steeds) maar dit maak nie die besnydenis wat Abram en sy nageslag in opdrag van God moes beoefen tog heidens nie? Net so maak die feit dat die Roomse kerk Kersfees vier dit nie noodwendig verkeerd nie. Ons deel baie waarhede met die Roomse kerk soos byvoorbeeld die leerstuk oor die Drie-eenheid. 
Watter heidense wortels daar ook in Kersfees mag wees, dit lê so ver terug dat dit vir die meeste van ons totaal die oorspronklike heidense betekenis verloor het. Wat my betref is die moderne heidense gebruike van uitspattigheid en materialisme ‘n baie groter gevaar as ‘n versierde kersboompie. (Sien voetnoot ***)
3. Die viering van Kersfees is ‘n oortreding van die sogenaamde “regulative principle”  Dis ‘n beginsel wat funksioneer in die gereformeerde denke wat behels dat ons God net mag aanbid volgens dit wat Hy duidelik in sy Woord beveel. Omdat daar nêrens in die Bybel ‘n opdrag gegee word om Kersfees te vier nie, sou ons dit nie mag doen nie en kom dit volgens sommige neer op valse “goue kalf aanbidding”. Ek is van mening dat die “regulative principle” te ver gevoer kan word. Dis ‘n kosbare beginsel, maar ons moet ook nou nie weghardloop daarmee nie. Die oprigting van kerkgeboue, die aanbied van Sondagskool en ‘n menigte ander normale kerklike gebruike is nie direkte opdragte van die Skrif nie – is al hierdie dinge dan verkeerd? Die feit is dat die geboorteverhale en ander gedeeltes wat handel oor die menswording van Christus deel is van die Skrif en as sodanig dus tog bedoel is om voorgelees te word as deel van ons aanbidding. Is dit verkeerd om op daardie gedeeltes te konsentreer op ‘n sekere tyd van die jaar? Die kerk beweer nie Kersfees is  ‘n spesiale heilige dag met enige magiese betekenis of krag nie, maar bloot ‘n tyd van die jaar wat ons benut om een van die groot heilsfeite, die menswording van God se Seun te herdenk en te verkondig tot opbou van Christus se gemeente. Sover ek weet dwing geen kerk sy lidmate om Kersfees te vier nie, en dis ook reg so.

RUSTIGE RIGLYNE


  • Christene is vry om Kersfees te vier of dit nie te vier nie. Die beginsels van Romeine 14 kan gerus in gedagte gehou word. Vers 5 : “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe veel belangrik.” Laat ons elkeen handel volgens die lig wat ons het en die innerlike oortuiging wat die Heilige Gees ons gee vanuit ons besigwees met die Skrif. 

  • Christene wat Kersfees vier behoort dit so in te rig dat dit sal pas by die saak waaroor dit gaan, naamlik Jesus se menswording en selfvernedering met die oog op ons verlossing. Dis ‘n saak van blydskap (soos die engelekoor dit verstaan het) en kan met vrolikheid gevier word sonder om toe te gee aan die materialisme, vraatsug en dronkenskap wat die wêreldlinge se jolyt kenmerk. 

  • Christene wat nie gewetensvryheid het om Kersfees te vier nie, is vry om dit nie te doen nie. (Diegene wat wel Kersfees vier moet hulle nie as belaglik of snaaks uitkryt nie.) Hulle moet hulle ook egter weerhou van verdagmakery en wilde emosionele beskuldigings teenoor Christene wat wel Kersfees vier. Om God se kinders wat Kersfees vier van sonaanbidding of Roomse dwalings te beskuldig is regtig onbillik en liefdeloos, meer nog dis blatant oneerlik.

Geseënde Christusfees!

[Persoonlik het ek geen beswaar om Kersfees te vier nie. Dis 'n geleentheid om die menswording van Jesus te vier en die evangelie van Immanuel te verkondig. Wat ek wel verafsku is "kersvaders" (ek het nooit my kinders daaraan blootgtel nie), maar oor geen van hierdie sake soos kersbome en versierings sal ek hare kloof nie. Ek dink die gemiddelde fliek waarna mense deesdae op TV kyk met al die wellus en geweld is meer afbrekend as enige kersvader en sy slee... Dis dalk oor ons TV's wat ons bekommerd moet wees"]


VOETNOTE

*Raakgelees in ‘n Nederlandse gedig

**Dr. Richard P. Bucher gee die volgende kommentaar op Alexander Hislop se tesis in “The Two Babylons”
It was Hislop's thesis that the Roman Catholic Church was a direct descendent of the paganism of Nimrod and ancient Babylon. One of his arguments was that some of the chief holy days of the Roman Catholic Church, such as Christmas, prove this to be so. The stamp of Hislop's thesis is found all over most of the anti-Christmas literature that I've seen. But is his argument sound?
Hardly. I have no doubt that Hislop consulted a vast amount of sources in writing his book. This is obvious in reading it. But some of its key arguments are flawed. He makes many philological leaps of faith to prove his points. For example, his entire argument rests on making the Babylonian "Ninus" the same person as the Biblical "Nimrod." (Nimrod is mentioned in only three places in the Scriptures, Gen. 10:8-12, 1 Chr. 1:10, and Micah 5:6). Only then can he claim that the wife of Nimrod was Semiramis, and that both were worshiped as divine mother and son, etc. Hislop himself recognizes how important this is, in this very interesting sentence:
Now, assuming that Ninus is Nimrod, the way in which that assumption explains what is otherwise inexplicable in the statements of ancient history greatly confirms the truth of the assumption itself (The Two Babylons, 25).
Got that? The point is that this turns out to be a big assumption. In other ancient literature, the father of Ninus was Bel, and it is said that he built the city of Nineveh. The Bible on the other hand says that Nimrod built Nineveh, and that Cush was his father. The way in which Hislop attempts to reconcile this contradiction is a truly remarkable example of literary gymnastics that is hardly convincing. He argues that Bel is the same as Hermes/Mercury, and the same as Janus/Chaos, which is the same as Cush. Right. (See for yourself by reading the "The Two Babylons," 25-29).
It is possible that Nimrod, the grandson of Cush, led people into pagan worship. But the argument that all paganism, and especially that all pagan festivals at the time of the winter solstice, can be traced back to Nimrod, just doesn't hold. To say it is a scholarly stretch is an understatement. Yet most of the "Christmas is pagan" literature bases its arguments on Hislop's thesis.
Hislop se boek is baie gewild by sekere groepe wat die kerk verdag wil maak en word gereeld aangehaal. Daar is egter ernstige bedenkinge oor die boek. Sien verder “The Babylon Connection?” deur Ralph Woodrow
*** I sympathize with those who want to be rigorously and distinctly Christian, who want to be disentangled from the world and any pagan roots that might lie beneath our celebration of Christmas, but I don't go that route on this matter because I think there comes a point where the roots are so far gone that the present meaning doesn't carry the pagan connotation anymore. I'm more concerned about a new paganism that gets layered on top of Christian holidays. (John Piper)

NASKRIF

Hierdie nederige Blog is nou net bietjie meer as 'n jaar aan die gang. Die  eerste  twee "posts" het op 8 Desember 2011 verskyn, naamlik WAS DIT REGTIG GOD SE WIL? en SPOKE EET NIE VIS NIE. 

Ek geniet dit baie om hierdie stukkies te skryf en te sien hoedat daar besoekers van dwarsoor die wêreld kom inloer. Die meeste gaste is natuurlik van Namibia en Suid-Afrika, maar daar is ook gereeld besoeke uit New Zealand, Rusland, Duitsland, die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australie en Rusland. Ook  was daar al besoeke uit Nederland en Frankryk en selfs uit Israel, Madagaskar, Swaziland, Qatar, Sjina, Suid-Korea, Argentinie, Swede, Ukraine, Malawi, Oostenryk, Sierra-Leone... Dankie vir julle ondersteuning. Ek sal graag van julle wil hoor...



Op Bray het ons 'n Kameeldoring, kersboom gehad!

Donderdag 29 November 2012

SEKERHEID


- ten spyte van die onbekende pad anderkant die berg!

Alle mense het ‘n behoefte aan sekerheid. Ek wil graag seker wees dat ek ‘n werk en ‘n woonplek sal volgende jaar. Ons het ‘n behoefte aan sekerheid oor die toekoms : dat ons en ons kinders veilig sal wees, dat hulle eendag ‘n goeie lewe sal ... ons sou graag sekerheid wou oor die reënseisoen wat op hande is en nog baie ander dinge... Die mens is van nature bang en onseker... dit kom vanaf die sondeval in die paradys... en soek gedurig na waarborge, antwoorde oor die toekoms en sekuriteit. Dis terloops een van die redes waarom soveel mense by die okkulte betrokke raak (waarsêers en waterwysers, kaart en palmlesers, spiritiste ens.)...hulle soek antwoorde op hulle vrae en vrese en die duiwel verskaf die (valse) antwoorde en waarborge maar te graag om so ‘n houvas op mense te kry.

Moet ons en kan ons, spesifiek as kinders van God oor alles seker wees? Die antwoord wat die Bybel  is dat die gelowige se pad beide ‘n pad van sekerheid en onsekerheid is! Anders gesê : daar is dinge waaroor ons moet en kan seker wees, maar ons moet ook aanvaar daar is dinge waaroor ons altyd onseker sal wees. Kom ons kyk bietjie vanuit hierdie vraag na 1 Johannes 3:1-3.

SEKERHEID 

Waaroor kan en moet ons seker wees?

Ons kan seker wees van God. Dat Hy bestaan en dat Hy waarlik God is, die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is in beheer van sy skepping en alles sal gebeur sodat Hy sy ewige doelwitte sal bereik. Dis ‘n heerlike vertroostende sekerheid. Dit word nie hier in ons teksgedeelte eksplisiet genoem nie, trouens nêrens probeer die Bybel die bestaan van God bewys nie. Johannes probeer dit ook nie. Die Bybel sê maar net dis die dwaas wat in sy hart sê dat daar nie ‘n God is nie! (Psalm 14:1)

Ons kan (en moet) seker wees dat ons kinders van God is. (1) Dis een van die hooftemas van die hele 1 Johannes brief en eintlik die groot doel waarom hy dit skryf. “…Dit het ek geskrywe  aan julle wat glo in die Naam van die  Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het…” (5:12,13) Die frase “Kinders van God” is so ryk en het sulke geweldige implikasies. Die Almagtige Skepper van die heelal verbind himself aan ons op hierdie intieme manier! Hoekom sou ons dan nog bang wil wees?

Ons kan seker wees van God se liefde. (1) Dit gaan saam met die vorige saak. Dat ons as gebroke mense nou reeds kinders van God genoem kan word is ‘n duidelike bewys van die Vader se liefde. Hierdie liefde is ‘n vaste feit. Ons gevoelens en ons omstandighede kan dit nie verander nie! Dit beteken : al voel ek hoe sleg en emosioneel af, al voel ek hoe eensaam, al voel ek net donkerte - die feit van God se liefde staan vas, want dit is eenmalig genoegsaam bewys aan die kruis! Dit beteken : al is my omstandighede nou hoe benoud en benard, al is daar geen vooruitsigte en geen uitkoms nie, bly God se liefde ‘n onbeweeglike feit. Weereens dis aan die kruis bewys. (4:10) God het ons eerste liefgehad sonder enige prestasies van ons kant af. Ons wederliefde is maar net ‘n (gebrekkige) reaksie.

Ons kan seker wees van God se einddoel met ons. Ons weet dat Jesus beslis weer sal kom en dat ons soos Hy  sal wees. (2) Ons sal in sy heerlikheid deel. Johannes sê nie presies hier wat hy bedoel nie, maar uit die res van die Skrif weet ons dat ons verlossing volledig afgehandel sal wees, dat ons sonder sonde sal wees en dat ons ‘n verheerlikte liggaam soos Jesus sal hê. (Fil 3:21)

ONSEKERHEID/ONBEKENDHEID

Die kind van God kan bly wees en getroos wees deur heerlike vaste sekerhede. Tog is daar ook ‘n element van onsekerheid op ons geloofspad. Hoe so? Ons vind iets daarvan in die frase “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” God het nog nie als vir ons gesê wat Hy kan sê nie. Daar is geopenbaarde dinge en daar is dinge wat Hy in sy wysheid nie aan ons geopenbaar het nie. Dis ‘n belangrike onderskeid. (Deuteronomium 29:29) Kinders van God moet deur die geloof lewe, dit impliseer dat ons nie nou alles weet, vooruit sien  en verstaan nie. “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7) Die geloofspad is ‘n stap vir stap paadjie gerig deur die beloftes van God. God gee nie vir ons die detail van elke stap wat wag nie. Hy sê net as’t ware  : “Kom agter My aan, vertrou My en ek sal jou by die heerlike bestemming uitbring.”

Ons sien dit baie treffend in die lewe van Abram. God het duidelike beloftes aan Hom gemaak oor ‘n nageslag, ‘n land en ‘n ewige seën wat hy sal meebring. Abram glo en reageer gehoorsaam, maar Abram het nie onmiddellik als geweet wat oor hom sou kom nie. Daar is vir hom niks vooraf gesê oor die droogte in die beloofde land nie, oor jare se kinderloosheid, wag en frustrasie nie. Oor die toets wat sou wag op Moria nie. Nee, stap vir stap het God vir Abram op die geloofspad gelei. Die geestelike pad wat God met sy kinders stap is ‘n pad vol verrassings. Ons ken nie die besonderhede en tydsduur van ons aardse pelgrimspad nie. Ons kan nie anderkant die eerste berg sien nie, maar God wat my tot hiertoe gelei het sal dit ook vorentoe doen.  Ons weet nie wat môre en volgende jaar als oor ons pad kom nie, maar ons weet in wie ons glo en ons weet dat sy genade in alle omstandighede genoeg sal wees. Ons weet daar wag ‘n heerlike eindpunt. Ons weet dat God ons nie langs die pad sal laat val nie, want die goeie werk wat Hy in ons begin het sal Hy voltooi! (Fil 1:6)

En nou? Hoe moet ons leef in ‘n situasie waar ons nie als weet nie?  Waarop moet ons fokus? Vers 3 gee ‘n belangrike riglyn. Hou jouself rein! Die  wete dat ons Jesus sal sien as einddoel moet ons motiveer om altyd gereed te wees. Ons weet nie watter gevare, versoekingss en probleme môre sal bring nie. Maar wat word van my verwag? Ek moet heilig lewe! Los die vrese en bekommernisse  oor môre en leef volgens God se geopenbaarde wil in sy Woord. 

Nie toekomsspekulasies nie, maar daaglikse gehoorsaamheid! 

Dis wat nou belangrik is.

Om dit op te som: Ons is seker van God, maar ons is nie altyd seker oor presies wat Hy met ons gaan doen nie. Maar die sekerheid oor God en dat Hy ons Vader is, en dat Hy ‘n volmaak goeie en liefdevolle Vader is, gee aan ons ‘n heerlike sekerheid te midde van ons onsekerheid. Vertrou Hom en gehoorsaam Hom een dag op ‘n slag! So kom ons uiteindellik by ons bestemming aan.


Naby Swakopmund.

Saterdag 24 November 2012

GROOT GENADE

- het groot gevolge. 

Alles, alles net genade! Ons kan alleenlik deur God se genade die verlossing ontvang.  Ons ken  mos Efesiërs 2:8  wat leer: “Uit genade is julle gered...” Anders gesê : Daar is net een rede waarom sondaar mense gered word en vir ewig die hemelse heerlikheid kan deel en dis op grond van God se ryk genade. 

HEMELSE NAVORSING

Kom vat ‘n mikrofoon en gaan doen bietjie navorsing in die hemel...  Jy sal so ‘n kort mannetjie daar kry met die naam van Saggeus... Praat met hom. Jy sal hoor : “Ek was die grootste skelm en skurk. Ek het net vir geld geleef. Ek was ‘n afperser en bedrieëer. Maar toe roep Jesus my... dit was net genade, want ek was die slegste ou op die dorp. Toe kom Hy na my huis en ek ontvang genade en word ‘n nuwe mens.”  Miskien sal jy ook ‘n vrou daar raakloop, die Samaritaanse vrou vir wie Jesus die Lewende water by die put van Sigar gegee het. “Ja, ek was in ‘n ellendige toestand van sonde. Ek was al vyf keer getroud en op daardie stadium het ek sommer maar net saam met ‘n man gebly. Maar toe konfronteer Jesus my en ek ontvang genade, volkome vergifnis...” Jy moet beslis  met Petrus ‘n onderhoud voer : “Ek was die leier dissipel. Arrogant, vol van myself. Maar jy weet mos wat het gebeur, ek, juis ek van alle mense het drie keer in die openbaar Jesus verloën. Ek het die grootste van alle sondes gedoen. Maar weet jy wat, ek het weer genade ontvang, soveel so dat ek die opdrag gekry het om die Here se skape op te pas! Wondergenade!” Praat met  Paulus, die besetene van Gadara, Maria Magdalena, die tronkbewaarder van Filippi...  Ja, jy kan onderhoude voer met nog duisende en duisende ander... die basiese antwoord sal wees : “Ons is hier alleenlik weens God se onbeskryflike groot genade!”

RADIKALE GENADE

Hierdie genade van God is die kern van sy verbondsbeloftes wat eerste uitreik na die mens : “Ek wil vir jou ‘n God wees en jy moet vir my ‘n kind wees.”  Dis die basis van God se verhouding met die mens, soos Hy dit alreeds aan Abraham uitgespel en beloof het.  Maar genade het nog 'n groter verrassing vir ons...

Kom kyk bietjie saam met my na die inhoud, maar veral die gevolge van genade soos dit vir ons verduidelik word in Titus 2:11-15. (Lees dit gerus saam met my in jou Bybel)  Die openbaring van God se genade bereik ‘n hoogtepunt van duidelikheid en heerlikheid as Jesus kom en aan die kruis sterf. “Hy het homself vir ons as offer gegee...” (Vers 14) Volgens die verbondseise moes ons gehoorsame kinders vir God gewees het, maar ons kon dit nie regkry nie. Ons sonde het ons laat wegdwaal van God en het God se straf oor ons gebring. Maar toe kom Jesus en vat die straf op Hom. Hy offer Homself vir ons. Dis uiterste genade! Iemand anders vat my verdiende straf in my plek! Romeine 3:23,24 stel die vryspraak uit genade op grond van Jesus se verlossingswerk so treffend! (lees) 

GENADE LEER ONS OM ANDERS TE WEES

Genade gaan oor vergifnis, regverdiging (justification), maar dit eindig nie daar  nie. Genade gaan verder. Genade voed ons op! (Vers 12) Genade  leer ons ‘n totaal nuwe lewensstyl en siening. Groot genade het ingrypend  groot gevolge in die lewens van die ontvangers daarvan! Dit word pragtig uitgespel deur Paulus in hierdie gedeelte. Kom ons kyk bietjie na die onmiskenbare gevolge van genade:

Genade leer ons om sekere dinge te los en agter te laat. Ons sê totsiens vir ‘n goddelose leefwyse, waar ek gemaak het soos ek wil. Ek onderwerp my aan God. Ek neem sy opdragte ernstig op! Ek neem ook my beloftes teenoor Hom ernstig op. My doopbelofte.  My lidmaatsbelofte. My huweliksbelofte. Genade maak dat God ‘n werklikheid in my lewe word. Ek het respek vir Hom, ek eer Hom! Genade maak dat ek my rug keer op my ou lewe wat ingerig was volgens wêreldse begeerlikhede. (1 Joh 2:15-17) My lewe draai nie meer net om die dinge wat ek kan sien nie. My lewe word nie meer beheer deur besittings, mag en plesier nie!

Genade leer ons ook positief ‘n nuwe leefstyl. Hierdie nuwe lewe is ‘n lewe van selfbeheersing. Ek doen nie meer dit wat by my opkom, dit wat my ou sondige natuur vir my voorskryf nie, dit wat ek voel ek wil doen nie... my lewe word nou beheer deur die Heilige Gees in ooreenstemming met God se Woord! Genade bring egtheid en opregtheid in my lewe. Ek is nie volmaak nie, maar ek het egte berou oor sonde, egte liefde vir die Here. Ek leef eerlik voor God en mense. Genade aktiveer ‘n mens se gewete, dit maak mens sensitief vir sonde, vir die stem van die Heilige Gees. Genade bewerk  positiewe vrugte van ‘n nuwe lewe. Dit laat ons dinge doen waarvan God hou. Nou reeds in hierdie stukkende teenswoordige wêreld. Ja, ek en jy wat genade ontvang het kan nou  lewe op ‘n manier wat eer aan God bring. Onthou Jesus het gekom sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om goeie werke te doen! (Vers 14)

Genade skep by ons ‘n toekomsverwagting. Genade gee vir ons ‘n visie wat die wêreld nie het nie. Die wêreld kyk net vas in die hier en nou. Die plesier wat ek nou kan kry, die geld wat ek nou gaan maak..., of aan die ander kant na al die ellendes, opstande, stakings, onrus...van nou!  Genade tel ons oë op om verby die sigbare te kyk.  Genade laat ons verder sien. Ons sien uit na die gelukkige dag wanneer Jesus in heerlikheid sal kom. Wanneer ons ons Verlosser sal sien en wanneer ons verlossing volkome afgehandel sal word. Hierdie toekomsvisie is juis ook weer ‘n sterk motivering om nou reeds heilig te leef. (1 Johannes 3:2,3)

Het God se genade al hierdie verskil in jou lewe gemaak? 

Is jy anders as voorheen?  Is jy besig om die ou dinge agter te laat? Is jy daagliks besig om ‘n nuwe leefstyl volgens God se Woord aan te leer? Het jy ‘n verwagting oor die toekoms saam met Jesus?

Miskien kom jy agter dat God se genade nog net ‘n mooi teorie vir jou is. God het sy genade aan jou beloof, maar jy het dit nog nooit doelbewus in Jesus aanvaar nie. Jy loop as’t ware  met ‘n getekende tjek in jou sak, maar jy het dit nog nooit getrek nie. Aanvaar die ryk oorvloedige genade van God vandag, sommer  nou en jy sal sien hoe dit jou tot ‘n nuwe lewe lei!


Genade is soos reën in die Kalahari. Dit maak 'n groot (groen) verskil. Op die foto is die klein kerkie op Wilzdale, naby die grenspos Mokopong ongeveer 90 km vanaf Bray.

Dinsdag 20 November 2012

TOEGANG

- tot in God se teenwoordigheid!

Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in Eksodus hoofstuk 24. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprenkel is!

Drie groot sake kom uit hierdie gedeelte na vore :

1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! 

God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe.  Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Eeue later het die profeet Jesaja ‘n openbaring van hierdie heiligheid beleef toe hy die Here in sy tempel gesien en gehoor het hoe die serafs roep :”Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!” (Jesaja 6:3) Terloops, dit het hom platgeslaan in berou en belydenis voor God.  Dit  was egter ook die begin van sy belewenis van versoening en die daaropvolgende roeping. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier  die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte!  Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout. God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep.  Sy  heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. Dink maar ook aan Hebreërs  waar die Sinaï gebeure in herinnering geroep word, en die skrywer dit weer onder ons aandag wil bring : “Ons God is ‘n verterende vuur!”  (Hebreërs 12:29) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God!

As daar nou een uitstaande nood en behoefte in die kerk van ons tyd is, is dit om weer duidelik 
te besef wie God is!

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense.

Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en  gelei met ‘n baie duidelike doel en spel dit uit in Eksodus 19:4-6.  (lees)  Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring!  Ja, om by Hom te wees! God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

Weet dit, God wil ook  in ‘n innige verhouding met JOU staan!

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou.

Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense!  Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf?  Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit  hierdie gedeelte (die antwoord is die evangelie self) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God.

Vers 10 en 11 vertel ‘n uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n hoogtepunt. “Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.”

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was.  Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis eintlik vandag nog so ook in ons kultuur. Mens nooi nie sommer enige een vir ete nie. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie!  Hoekom is dit so buitegewoon?  Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is!

Die boodskap vir ons wat Nagmaal gebruik as God se kinders  is baie duidelik. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons moet gereinig word deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. (Dis evangelie!) Dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van ewige tafelgemeenskap met God.  In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” baie persoonlik aan elkeen bevestig wat glo. “Dis vir julle!”  In die Nagmaal beleef ons  nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here  as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam. Amen!

Donderdag 15 November 2012

MISLEIDING VAN DIE MAANKYKERS

- die duiwelse dwaasheid van die Hebrew Roots Movement (HRM) se Tora leraars.

Van alle dwaalleringe op die Satan se moderne spyskaart (New Age Gnostisisme, Prosperity Gospel, Mormone, Jehova Getuies, Nuwe Hervormers en noem maar op...) dra die Hebrew Roots leraars die twyfelagtige onderskeiding dat hulle dwaling die duidelikste in die Nuwe Testament self geïdentifiseer en ontmasker word. So lees ons baie duidelik oor hierdie mense en hulle onkunde in 1 Timoteus 1:7 (OAV) “hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beweer, nie verstaan nie.”  (NAV)  “hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.”

Die twee uitstaande kenmerke van die HRM se lering word hier uitgelig naamlik : Die objek van hulle lering. Die standaard van hulle kennis.

Die objek van hulle lering, is die wet. (tora, Engels : torah) Dit plaas hulle onmiddellik reeds in opposisie teen die apostel Paulus en alle ander evangelie dienaars dwarsoor die eeue. Paulus (en elke ware gesant van Jesus Christus) se kernboodskap is die boodskap van die kruis. (1 Korintiërs 2:1-5) Geen HRM leraar kan dit sê nie. Luister maar waaroor praat hulle die graagste. Hulle kerm dat mense nie kreef en vark moet eet nie. Hulle sanik oor die Shabbat, en raak opgewonde oor Joodse feeste en mane, maar hulle swyg oor die genoegsaamheid van Jesus se kruis en opstanding. Hulle skryf lang stukke waarin hulle nou vir ons wil vertel of dit Yashua, Yeshua of YaHusha moet wees... Daarom is dit  dat hulle lering, oral waar dit posvat,  net twisvrae bevorder en nie tot stigting lei nie. (1 Timoteus 1:4) Ek vra julle, al julle skynslim HRM leraars, waarom verkondig julle die wet van Moses (tora) terwyl ons net vergifnis deur Jesus Christus kan ontvang, juis omdat die wet van Moses ons nie van sonde kon vrymaak nie? (Handelinge 13:38,39) Natuurlik,  sal julle sê dat julle ook  Jesus verkondig, maar die punt is julle verkondig Hom nie as algenoegsaam nie. Julle meng altyd die tora by in julle gevaarlike resep van dwaaldisse.

Die gebrekkige standaard van hulle kennis. As jy verby kan kyk by hulle tentoonstelling van hoogdrawende en irriterende transliterasies van Hebreeuse name dan kom jy gou agter dat daar min Skrif (en taal) kennis is. Dis nie deeglike Skrifstudie nie, maar ‘n naïewe najaag van visioene en ‘n meusleuring van op die klank af argumente wat hierdie arme mense op sleeptou geneem het.

Natuurlik is die tora deel van die Heilige Skrif en is daar ook vir die Nuwe Testamentiese kerk nut in, as ons dit reg gebruik. (1 Timoteus 1:8) Wat is hierdie regte gebruik?  Breedweg gestel : Ons verstaan die tora vanuit die vervulling deur Jesus. Ons kan nie meer die tora lees asof Jesus nie gekom het nie. Die besnydenis, offers, feeste en sabatte was heenwysings na Hom en nou dat Hy gekom het, kan ons nie meer daarby stilstaan nie. Die beskrywing van hierdie dinge in die tora help ons om die heerlikheid en genoegsaamheid van ons Here Jesus en sy werk te verstaan. En wat van die tora se morele voorskrifte?  Ons kyk daarna deur die vergrootglas van Jesus. Ons lees en verstaan die hele tora via Jesus. Hy vervul die tora (laat die tora sy ware bedoeling bereik deur sy koms as Verlosser), maar vernuwe en verfyn dit ook. Dit kan duidelik gesien word as Hy net soos Moses die berg bestyg en die nuwe standaard van die Koninkryk afkondig in Matteus 5-7.  Hyself oortref die tora, want Hy doen wat die tora nog nooit kon doen nie. Dit word treffend geïllustreer in Matteus 8 as Jesus ‘n melaatse genees! Die tora was gemik op die afsondering van melaatses, maar Jesus gaan verder, raak aan hom (in stryd met die tora) en maak hulle gesond! (En so vervul Jesus die diepste bedoeling van die tora, juis deur die tora te “oortree”) Jesus self is nou ons finale gesag. Jesus verklaar alle voedsel rein, omdat niks wat van buite die mens ingaan hom onrein kan maak nie. (Markus 7:15) Daarom handhaaf ons nie meer die tora se voedselvoorskrifte nie.

Die HRM se wetsleraars teister ons met Toeka se Tora, maar verloën Vandag se Verlosser, ons Here Jesus Christus. 

Jesus self is ons Tora binne die heerlike  Nuwe Verbond, die finale Openbaring van ons Hemelse Vader se wil. (Hebreërs 1:1-3) Jesus as finale Tora is ons Verlosser, maar ook die norm van ons lewe as verlostes!

Die HRM leraars is diewe, slawedrywers  en misleiers. (En ja, soms nog ‘n klomp narre ook!)

Geestelike diewe  wat ons vreugde en  vryheid in Jesus wil steel deur weer spesiale betekenis aan sekere dae, maande en jare te gee. (Galasiërs 4:8-11) Hulle is diewe wat groter ooreenkoms met Islam as met Christenskap vertoon. Net soos die Islam glo hulle ook in Jesus, maar  in praktyk is  Hy ‘n afgewaterde Jesus. Maar nog erger, die  tora leraars met hul voedselvoorskrifte  stel hulself  direk teen Jesus wat alle voedsel rein verklaar het.

Geestelike slawedrywers wat mense se gewete in knegskap wil plaas. Hulle wil ons veroordeel oor wat ons mag eet en nie. Hulle wil weer sabatte en nuwemane op ons afdwing. (Ja, regtig  nuwemane ook! Ek sien Elim Ministries adverteer ‘n new moon service. Praat van die maan gepla!) Dis mos nou woordeliks presies waarteen die apostel Paulus, die uitverkore werktuig van Jesus (Handelinge 9:15 )  ons so duidelik waarsku in Kolossense 2:16,17.* Hierdie HRM leraars wil weer ‘n juk op ons lê. (Handelinge 15:10)

Geestelike misleiers (en maankykers) wat die boodskap van bose geeste aan ons verkondig deur hulle verbod op sekere voedsel. Klink dit dalk bietjie rof? Wel, laat ons gerus kennis neem van die sterk uitsprake in 1 Timoteus  4:1-4.  "Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang...Hulle verbied mense...om bepaalde soorte kos te eet."  Hiervolgens is dit baie duidelik : Die boodskap van die HRM en sy tora tiranne is nie gegrond op nuwe insigte in die Woord nie, maar is die direkte gevolg van demoniese misleiding! Hulle haal graag Bybeltekste aan, maar in wese verwerp hulle die Nuwe Testamentiese kanon. Hulle wil probeer beter weet as die Nuwe Testament wat die name Here (Kurios), God (Theos) en Jesus (Iesous) gebruik. So tas hulle die Heilige Skrif aan!

‘n Mens behoort seker te huil oor al hierdie dwaling, maar partykeer sal mens seker ook nie anders kan as om te lag vir sommige van die geestelike entrepeneurs wat nou op die HRM wa van verwarring spring nie! Ek dink aan die bebaarde Mosesfiguur, ene Michael Rood, wat ‘n “Rood Awakening” propageer. (bemark?) Hy verteenwoordig die sensasionele en teatrale kant van die HRM.

Saam met Paulus wil ek en alle gelowiges van alle denominasies  roem in die genoegsaamheid van die kruis. Vir die kruisboodskap sal ons vervolg word, ook deur die tora kenners. Hier skei ons paaie onherroeplik.  Hulle wil “Torah observant” wees, ons wil “Christ observant” wees!  

Misleide broers en susters, ons roep julle op tot bekering. Kom terug na Jesus Christus. Sien raak wie Hy is. Hy is algenoegsaam, want die volheid van God woon in Hom. En elkeen wat aan Hom behoort het deel aan hierdie volheid.  (Kolossense 2:8-10)  Die kind van God hoef dus nie die volle belewenis, die volle blydskap of die volle waarheid in iets anders soos die tora  te gaan soek nie. Nee, ons oë moet net al meer geopen word om die volheid van Christus raak te sien, dit beter te verstaan en meer daaroor te juig!

My vriend, mag jy waarlik Jesus, die Gekruisigde leer ken!

Naskrif : Die HRM is nie maar net nog ‘n variasie van Christene wat effens anders dink oor sekere sake nie. Dis ‘n totaal ander geloof en ‘n gruwelike dwaling gelykstaande aan die Jehova getuies! Dis tyd dat hulle ontmasker word vir wie hulle is. John Wahl een van hulle ywerige woelgeeste in Vishoek (Elim Ministries) noem die lering oor die Drie-eenheid, wat die fondasie is van die historiese kerk van alle tye, die “magtigste misleiding waarmee die Christendom vorendag gekom het” Dis maar net ‘n bevestiging dat hulle bron nie God se Woord is nie, maar leringe van bose geeste.

*Sien verder oor hierdie saak - kliek op STILSTAAN BY DIE SKADUWEE