BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 06 Desember 2013

MANDELA IS NIE DIE MESSIAS NIE!

- maar net 'n mens wat ook eendag voor die Troon moet verskyn.

Nelson Rolihlahla Mandela is dood! Die onafwendbare het toe gebeur. Die weg van alle vlees… Die wêreld se mense (en veral ook opportunistiese Suid-Afrikaanse politici) vertrap en  verdring mekaar byna om plek te kry in die kore wat nou vir hom prysliedere wil sing. Geen wonder nie, want hy word nou al lankal deur miljoene mateloos bewonder en besing as die groot bevryder uit die slawerny van apartheid, die simbool van versoening, "Tata", die vader van die nasie... Bekend en bemind vir sy “Madiba Magic”. Gelukbringer van die Springbokke.* 'n Hedendaagse mesiasfiguur**... Die immergroen ikoon vir elke humanis. Sulke sienings skep al klaar ongemak vir die Christen, want vir ons is daar maar net Een Messias en ware Bevryder van sonde, Satan, dood en hel, ons enigste Verlosser, Jesus Christus! Net Een is ons oneindige bewondering waardig tot in alle ewigheid, die Lam wat geslag is en ons losgekoop het met sy bloed!


SPRINGBOKTRUI EN NOBELPRYS

Maar wie was Nelson Mandela?  Opinies oor hom wissel...

Dis seker elkeen se voorreg om 'n eie mening te huldig. Sommige beskou hom as die wêreld se (tot onlangs) langslewende terroris en vir ander blyk hy byna ‘n semigoddelike verlossingsfiguur te wees! Die vraag is egter : hoe moet hy beoordeel word in die lig van die Woord en die werklikheid van God se ewige Koninkryk? As Christene los ons natuurlik die finale oordeel in die alwetende regverdige God se hande, maar dis ook ons plig om ons medemens te wys op die sinloosheid van alle  mensverering. Dis ook noodsaaklik dat ons weer daaraan herinner sal word, dat alle mense, (ja, ons almal) eendag verantwoording sal moet doen voor Hom wat die lewende en die dode sal oordeel... Op daardie dag sal Springboktruie (Ja, mede Afrikaners julle het reg gehoor) en Nobelpryse geen geregtigheidswaarde of ewigheidsmeriete dra nie, maar alleen die wat bekleë is met die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus, sal vrye toegang tot die nuwe Jerusalem hê!

Mandela word gekrediteer met ‘n eindelose lys van deugde en dierbare dade, tot in die oortreffende trap.*** Veral  word hy dikwels geprys vir sy vergewensgesindheid. Om dit in hierdie tyd van Mandelahisterie te betwyfel, sal vir sommige soos hoogverraad klink.  Maar was dit regtig so? Vir ‘n interessante perspektief van Peter Hammond (met wie ek nie noodwendig altyd saamstem nie) - wat jou dalk mag verras - kliek hier.   Graag gun ek Mandela erkenning vir enige bydra van sy kant af wat gehelp het om onstabiliteit en geweld in Suid-Afrika se oorgangstyd te beperk. Ek dink net mense vergeet oor die algemeen gerieflikheidshalwe wie Mandela was en waarom hy in die eerste plek in die tronk beland het. Hy was ’n Kommunistiese rewolusionêr  en medestigter van Umkhonto we Siswe wat met geweld ’n regering omver wou werp.**** (hoe goed of sleg daardie regering was, is nie nou die punt van bespreking nie, maar onthou, die wyer konteks was die Koue Oorlog en die wesentlike gevaar van Kommunistiese wêreldoorheersing moet verreken word) Hy het ’n billike verhoor gehad en is lewenslank tronk toe gestuur.  Gesien teen die agtergrond van sy ernstige misdade was dit ’n baie  toegeeflike vonnis. Volgens sommige se opinie sou hy in ander Westerse lande op daardie stadium die doodstraf kon verwag vir soortgelyke oortredings. Of dit so is weet ek nie, die punt bly egter dat ander aktiviste soos Luthuli en Ghandi hulle nooit tot geweld wou wend nie.

DIE ENIGSTE MAATSTAF

Die belangrikste is natuurlik nie ’n persoonlike of politieke beoordeling van Mandela nie. Die enigste maatstaf vir die waarde en betekenis van ons aardse lewe en loopbaan bly : “Was ek ’n volgeling van Jesus wat in woord en daad God se eer eerste gestel het?” Dis die vergrootglas waardeur elke mens se bestaan hier benede  bekyk moet word, ook  die van Mandela. Maar ook myne en joune...

As dit gaan oor ’n verhouding met Jesus en gehoorsaamheid aan God, net drie (hartseer) opmerkings:

  • Nêrens so ver ek weet het Mandela na sy vrylating ooit Jesus Christus as die enigste Verlosser en sy persoonlike Middelaar bely nie. Dis hartseer! Hy was ’n knap diplomaat wat geweet het hoe om ’n verskeidenheid van mense en opinies te akkommodeer (sy mooi gebaar om selfs saam met tannie Betsie Verwoerd te gaan tee drink het ongetwyfeld 'n groot indruk gemaak), maar Jesus is ekslusief die Seun van God en ons moet Hom as sodanig erken. Jesus is die enigste Middelaar tussen God en mens. (1 Timoteus 2:5)   Volgens Matteus 10:32,33 het dit ernstige konsekwensies as ons nalaat om Hom openlik as Here te bely.

  • Nooit het hy sy kommunistiese en ander diktatorvriende oor die vingers getik weens hulle gruwelddade nie.  Sou ‘n beginselvaste mens dit regkry om 'n vervolger van Christene***** soos Fidel Castro en   'n diktator soos Moeammar Gaddafi te omhels? (Ter versagting moet mens erken dat daar weinig, indien enige beginselvaste politici op ons planeet te vinde is, en ja hy het blykbaar darem 'n bietjie vir oom Robert gegrom)

  • Niks daadwerkliks is deur Mandela gedoen vir die beskerming en bevordering van Christelike waardes nie. Hy het ongetwyfeld ’n enorme invloed op baie mense gehad, maar dit nie gebruik om die nuwe Suid-Afrika in 'n meer Christelike koers te stuur nie. Wat eties morele sake betref was hy meer aan die kant van die sekulêre humanisme as onderdanig aan die Woord van God. Die Suid-Afrikaanse grondwet is bekend as ‘n uiters sekulêre geskrif wat direk teen God se Woord indruis. Nooit het Mandela hom by God se Woord geskaar deur byvoorbeeld op te kom vir die regte van ongebore babas nie.

Ek gaan dus nie saamsing met die baie konings, kenners en kore wat Mandela se deugde uitbasuin nie. Ek kan maar net van hierdie historiese geleentheid gebruik maak om alle mense van alle nasies op te roep om betyds voor die enigste Messias, Jesus Christus te buig en ware vryheid in Hom te vind! Hy alleen is   die onsterflike Verlosser, oorwinnaar oor die dood en lofwaardig tot in alle ewigheid! Dis dié Verlosser wat ons almal nodig het en die buitensporige mensverering wat nou plaasvind is dalk die duidelikste bevestiging van hierdie diep onsigbare behoefte van 'n verwarde mensdom...

*RSG berig op 11/06/2013 :



"Die Springbokafrigter Heyneke Meyer en die Springbokspan het ook hulle beste wense aan die oudpresident oorgedra. Die Springbokke wat die wêreldbekerkroon in 1995 en 2007 gedra het, het Mandela nog altyd as hulle gelukbringer bestempel en het die bekende frase "Madiba Magic" geskep. Meyer en die span is in Nelspruit waar die Springbokke Saterdag teen Skotland speel."

** Mail & Guardian :  "Mandela: Qunu keeps the faith in its messiah"

***Die HUISGENOOT, die de facto "Bybel" van so baie Afrikaners beweer :


"Elke keer wanneer Madiba die laaste jare in die hospitaal opgeneem is, was dit internasionaal nuus – hy is universeel ’n rolmodel en ’n “vader” na wie mense opsien. Hy is vir ons die verpersoonliking van wat goed en reg is." (skuus, Huisgenoot maar dit klink my na  gruwelike oordrywing en selfs  na laster!)

**** Wikipedia : Inspired by Fidel Castro's 26th of July Movement in the Cuban Revolution, in 1961 Mandela co-founded Umkhonto we Sizwe ("Spear of the Nation", abbreviated MK) with Sisulu and the communist Joe Slovo. Becoming chairman of the militant group, he gained ideas from illegal literature on guerilla warfare by Mao and Che Guevara. Officially separate from the ANC, in later years MK became the group's armed wing.


***** Dr. Hymers (2003) in 'n preek oor vervolging : 

Fidel Castro, the Communist dictator of Cuba, came to power in 1959. Castro has systematically persecuted the Christians of Cuba for the last forty-four years.

All religious activities except worship services inside church buildings were prohibited, and sermons were monitored to ensure they remained harmless. Government spies infiltrated congregations, evangelism was prohibited, the Cuban Bible Society was closed, and a twenty-year ban on importing Bibles and religious literature was instituted. Believers suffered discrimination in education and employment and were systematically harassed. Parents who kept their children home from school on religious holidays [like Christmas and Easter] were subject to imprisonment… [Pastors] were labeled "social scum" and sent to forced labor camps where many were beaten and tortured…These conditions continue…in the form of beatings, confinement in harsh isolated cells, violent and arbitrary searches, confiscation of belongings, denial of medical attention…Cuban prisons were plagued with overcrowding, poor hygiene, and vermin…Since May 1995, the pressure on [the] churches has increased…Despite this, Cuba's church has grown in recent years…with estimates of Protestants…ranging from two hundred thousand to one million (Paul Marshall, ibid., pages 90-92).

"If ye were of the world, the world would love his own: but because ye are not of the world, but I have chosen you out of the world, therefore the world hateth you" (John 15:19).

11 opmerkings:

  1. Dis op die kop! Teenoor sy helde soos Castro se behandeling van teenstanders: toe Mandela op Robbeneiland met prostaatkanker gediagnoseer is, is hy deur een van die beste spesialiste geopereer en behandel en is volkome genees. Stanley Mokgoba sê Mandela het op R-eiland tot bekering gekom. Indien dit waar is: het hy daarna by Jesus se geheime diens aangesluit?

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie vir 'n gebalanseerde siening Dominee. Die volgende het by my opgekom:

    Mat 8:21-23: Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en LAAT DIE DOOIES HULLE EIE DOOIES BEGRAWE.” Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.

    AntwoordVee uit
  3. Soos altyd 'n uitstekende blog Johannes! Dit was interessant om vanoggend na die BBC se huldeblyke oor Nelson Mandela te luister toe ek hier in Engeland werk toe gery het. Wat baie sterk na vore gekom het is die feit dat Nelson Mandela vergifnis ervaar het voordat hy begin vergewe het. Hy moes die doodstraf ontvang het tydens die Rivonia verhoor agv die mense wat deur sy toedoen vermoor is. Van sy medeskuldigdes het erken dat hulle totaal verbaas was toe hulle nie die doodstraf opgele is nie. Dit het 'n invloed op Nelson Mandela se latere vergifnis vir die blankes gehad omdat hy besef het hy moes eintlik dood gewees het. Ek stem ook saam dat hy nie werklik 'n Christen geword het nie. Dit was baie duidelik in die onderhoude dat hy 'n swart tradisionalis is wat heelwaarskynlik 'n baie tradisionele Xhosa begrafnis gaan kry. En ons is bewus hoe animisties tradisionele begrafnisse is. Enige Koninkrykswaardes (en ons moet erken daar was sulke waardes in Nelson Mandela) in sy lewe is dus eerder die gevolg van God se algemene genade as 'n hergeboorte in sy lewe. En miskien was dit ook die waardes van 'n wyse politikus eerder as 'n persoon wat sy lewe aan Christus toegewy het.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Sas vir jou baie sinvolle opmerkings daar vanuit Engeland! Beslis moet ons God se algemene genade meer raaksien in die geskiedenis en mense se lewens, terwyl ons nooit mag ophou met die evangelieverkondiging nie, met die hoop dat baie God se besondere (verlossende) genade in hulle lewens sal ervaar.

      groetnis
      Johannes

      Vee uit
    2. Johannes - Dankie dat jy ook saam met ander ander nugtere denkers ook nugtere kommentaar lewer.Maak nie saak hoe "goed" die oorlede omie deur die wêreld en die sekulêre media besing word nie - ten besluite staan hy uiteindelik voor sy Skepper! en DAAR sal hy, soos elkeen van ons, die knie moet buig en getuig: "Jesus Christ is LORD". Dit mag dalk nie maklik wees nie en helaas dalk ook te laat. Deon, Tergniet

      Vee uit
  4. Indien ek as gelowige, slegs een tiende van die goeie dade kon verrig wat Madiba reg gekry het en vir sy volk en medemens gedoen het, sou ek myself in 'n baie beter lig kon sien.. Maar dit was nie vir my beskore nie.. Ek was nie daarvoor in die wereld ingebring nie.. Hy was wel en ek glo hy sou nie die volging gehad het as hy nie ook sy steun agter die van sy skepper gegooi het nie.. Hy het immers reg gedoen en ek persoonlik glo,, hy het reg geglo.. Die uitspraak dat Madib nie die Messias was nie is immers reg,, hy was nie,, maar ek en vele ander glo wel dat hy groot aansien verdien het met die werk wat hy wel vir sy volk gedoen het.. Kan daar een van ons opstaan en dieselfde se van ons lewe ? Laat hy dan opstaan en die eerste klip gooi !!!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Anoniem, dankie vir jou perspektief. As Christene kyk ons vanuit God se Woord gebalanseerd na die werklikheid. Dat Mandela baie goeie dade gedoen het, betwyfel niemand nie. (ek gee ook erkenning daaraan in my skrywe) Inderdaad is daar regdeur die geskiedenis al baie goeie dade deur baie mense gedoen... dis wat ons in die teologie "Algemene Genade" noem - dis God se genade wat mense tot goeie dinge instaat stel. Maar belangriker is God se "Besondere Genade" - dis die genade wat ons as sondaars instaat stel om Jesus as enigste Verlosser te aanvaar en voor die mense te bely as Here. (Matt 10:32-33) Dis baie hartseer, maar Mandela het geen aanduiding hiervan gegee nie... Inteendeel hy het niks gedoen om byvoorbeeld 'n Godonterende praktyk soos aborsie te probeer stop nie... Bewys my verkeerd as jy kan...

      groete en nogmaals dankie vir jou bereidheid om kommentaar te lewer.
      Johannes

      Vee uit
  5. Indien iemand nog twyfel of die inhoud van jou boodskap onwaar is moet hulle gerus na die twee videos op Utube oor Dr. Peter Hammond gaan kyk. Hy het met Mandela ook 'n ontmoeting gehad. Hy het presies uiteengesit waar Mandela as Christen gestaan het. My vrae aan anonymous sou wees - (1) Wie het die eer vir Madeba se goeie dade gekry?, (2) Wat gaan die nalatenskap wees van die konstitusie en die regering wat hy tot stand gebring het?. (3) Sal hy / sy saamstem dat hierdie land nou deur humaniste heidene regeer word? Ek het nie 'n probleem indien hy vir sy sy goeie werke en as vredemaker geprys word maar om vir hom as Messias te verklaar is na my mening Godlasterlik.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie. Ek stem volkome saam. "Goeie werke" in die sin van Ef 2:8-10 is slegs werke wat vanuit ons eenwording met Christus tot eer van God gedoen word.

      Vrede
      Johannes

      Vee uit
  6. To see how the whole world, leaders of more than 100 countries with all the living former presidents of USA and the present president thereof, with everybody else in the pouring rain, coming together to mourn the death of Mandela is amazing! I do not know much of history but I do not know if there ever was any person who united the Muslim countries and Christian countries in his death!
    It is true that he was not a born again christian although we were not there when he drew out his last breath ,only God knows,and using the name Messiah is by all means blasphemous! I think they just wanted to express their gratitude to what Mandela did for his people in giving them their God given dignity which was taken away.
    Unless we are still caught up in the past and bitter about the present, and unless we have no idea nor sympathy and even empathy or understanding of what people made in God's image went through, we can never understand the 'hype' about Mandela.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Thanks for your opinion. Mandela surely meant a lot to many people in terms of political freedom and unity. However as Christians we know that true freedom and real peace can only be found in Christ. Of this message the world stands in great need...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.