BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Waarskuwing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Waarskuwing. Wys alle plasings

Donderdag 05 Oktober 2017

WEGDRYWE?

“SO ‘N GROOT SALIGHEID!” : DIE GENADEGELEENTHEID WAT ONS NIE DURF MISLOOP NIE!


“So ‘n groot saligheid!” So ‘n groot verlossing! Hoe sal ons ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? As ons God se groot verlossingsplan vertrap of selfs net ignoreer, hoe sal ons ontsnap of ontvlug van Sy skrikwekkende, maar regverdige wraak en oordele?


“So ‘n groot saligheid!” Reeds reg aan die begin van sy brief het die Hebreërs skrywer verduidelik waarom die verlossingsplan so oneindig finaal, groot en heerlik is! Sien Hebreërs 1:1-3. Dit gaan oor Jesus as die finale Woord van God! Voorheen het God op baie maniere met sy mense gepraat deur die profete… wonders, drome, die wet (tora), tabernakel, tempel, maar NOU in hierdie laaste dae het Hy finaal gepraat deur die SEUN! Jesus self is die finale hoogtepunt van God se selfopenbaring aan die mens!

JESUS SE UNIEKE HEERLIKHEID

Nou het God deur Jesus gepraat en HY oortref alles en almal in heerlikheid, uniekheid en belangrikheid. Dis nie sommer praatjies nie. Die skrywer noem sewe redes waarom Jesus se heerlikheid so ontsagwekkend heerlik en onvergelykbaar is.

1.Deur Hom is die wêreld geskep. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” (Joh. 1:3)

2.Hy is die erfgenaam van alles. “Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.” (Ps. 2:8 ) Ja, aan Jesus behoort die aarde, maar ook die ganse heelal!

3.Hy is die afskynsel van God se heerlikheid! Anders gestel die heerlikheid van God straal uit Hom. As jy na Jesus se karakter lewe en optrede kyk sien jy God! Dink maar hoe het Jesus opgetree teenoor die Samaritaanse vrou, Saggeus, klein kindertjies... vol genade en waarheid!

4.Hy is die afdruksel van sy wese, die ewebeeld van God. Hy wys vir ons hoe lyk God wat Gees is (soos ‘n afdruksel van ‘n muntstuk in klei) Ja, ook wat betref sy heilige toorn. (dink aan die reiniging van die tempel)

5.Hy hou die heelal in stand. “Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.” (Kol 1:17) Hy voer alles na ‘n heerlike finale bestemming en doel.

6.Hy het die reiniging van ons sondes bewerk. Hier is nou ‘n wending. ‘n Verskuiwing van Jesus se kosmiese funksies na sy persoonlike betrokkenheid by ons. Jesus het iets drasties gedoen aan ons verskriklike sondeprobleem, die probleem wat skeiding maak tussen ons en God… Verder maak die skrywer dit duidelik dat Jesus deur Sy een volkome offer ons volkome en vir altyd van ons sondeskuld bevry! “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebr. 10:14)

7.Hy sit aan die regterhand van God! Dis die absolute magsposisie en ereplek in die ganse heelal. “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,...” (Fil. 2:9,10) Hy is in beheer, nie Satan of sy trawante nie. Dis ‘n heerlike troos wat ons bevry van vrees!

Verder in die hoofstuk word dan ook beklemtoon dat Jesus ook ver verhewe is bo die engele.

PASOP!

Na die beskrywing van die heerlikheid van Jesus as die fokus en uitvoerder van God se verbysterende heerlike verlossingsplan, kom die skrywer by sy eerste waarskuwing in hierdie brief. Sien Hebreërs 2:1-3. Pasop, moenie wegdrywe nie! Dis so belangrik om dit te hoor. So baie mense gaan verlore, nie omdat hulle op ‘n dag, eensklaps Jesus verwerp nie, nee hulle drywe maar net so stadig en stelselmatig weg van die waarhede van die evangelie… Hulle harte raak geleidelik afgestomp, koud en ongevoelig teenoor Jesus! Dis ‘n resep vir die hel!

Dis ‘n baie dringende ernstige waarskuwing om nie die evangelie te ignoreer of te verwerp nie. Om nie te verswak in die geloof nie. Om die erns te onderstreep verwys die skrywer na die tradisie dat die wet van Moses met behulp van engele oorgelewer is.* As daardie wette deur mense oortree is, is hulle baie swaar gesterf. Die punt is, hoeveel swaarder sal ons gestraf word as ons die verlossingsplan soos geproklameer in die evangelie verwerp? Die evangelie is immers nie aarde toe gebring deur ‘n engel nie, maar deur die Seun van God self!

Hou jy nog vas aan die evangelie van Jesus Christus of het jy al begin wegdrywe?

Wees baie eerlik, wat is jou reaksie tans op hierdie groot saligheid? Raak dit jou hart, het dit al gelei tot waaragtige bekering, motiveer dit jou tot ‘n heilige lewe, maak dit jou opgewonde om spesiaal op Sondae die Here te aanbid en te loof saam met sy kinders in die erediens, het jy ‘n passie vir die gekruisigde en opgestane Jesus, neem jy standpunt in vir Jesus of dryf jy saam met die groot stroom van laksheid en goddeloosheid…? Jy sê : “Ek is nou nie seker oor hierdie vrae nie, maar ek is darem ‘n goeie ordentlike eerlike mens!” Ag vriend, die Bybel leer dat ons almal sondaars is. “Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,...” (Romeine 3:10) Daar is niemand sonder sondeskuld voor God nie, nie een nie en daar is net een hoop – hierdie groot saligheid wat Jesus gebring het! Hy het die skuld betaal! As jy Hom nie ken nie, of weggedryf het van Hom is daar geen uitkoms nie, geen ontvlugting nie, geen hoop tot in alle ewigheid nie! 

Onthou net God in sy groot genade stuur hierdie waarskuwing ook vandag na my en jou, juis omdat Hy ons bemin en wil behou!

*Dat die wet deur middel van engele oorgelewer is, vind ons nie direk in die Ou Testament self nie. Ons vind hierdie tradisie wel in Galasiërs 3:7 en Handelinge 7:53



Ugab

Donderdag 25 Junie 2015

GEDOOPTES EN NAGMAALGANGERS

- moenie op hulle louere rus nie, maar vlug vir die sonde!


Baie mense (ook binne die kerk) dink dat sonde nie meer ernstig en gevaarlik is nie. Hulle hou daarvan om ‘n klomp geykte verskonings af te rammel :

“Ag, ons is mos almal maar mense, ag, niemand is volmaak nie, onthou ons mag nie oordeel nie, die kerk is bedoel vir sondaars. Ag die genade is mos darem daar. Ag, wie is in elk geval sonder sonde? Ons is mos darem gedoop, ons vier mos die nagmaal…”

Dit klink asof mense sê : “Dis God se dure plig om sonde te vergewe en dis ons heerlike voorreg om sonde te doen soos ons wil en lekkerkry...”

Hierdie ligte ongeërgte houding oor sonde is natuurlik so oud soos die kerk self. Van die vroegste tye af was daar mense wat verskonings vir sonde gesoek het. Judas praat van mense wat die genade van God misbruik. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe. (Judas vers 4) Hierdie probleem was ook onder die Korintiese gemeente aanwesig.

WAARSKUWING

Hier in 1 Korintiërs 10:1-13 waarsku Paulus hulle baie hard en duidelik, maar gelukkig stop hy nie daar nie! Ons sal ook sien hier is ‘n heerlike troos boodskap vervat.

Paulus gebruik die volk Israel as voorbeeld om die erns en relevansie van sy boodskap oor te dra. Hy herinner sy lesers aan die groot wonderlike gebeurtenis van die Uittog uit Egipte. God het mos die hele volk, klein en groot op dramatiese wyse gered deur hulle veilig deur die Rooi See te lei toe die bloeddorstige Egiptenaars hulle agtervolg het. ‘n Aangrypende gebeurtenis van God se genade en goedheid! Dit was iets meer as net ‘n fisiese gebeurtenis. Dit was ‘n omvattende genadige reddingsdaad van God. Almal het gedeel in dieselfde geestelike voorregte.

Paulus sinspeel duidelik hier op die doop en nagmaal. Vers 2. “Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop.” Hulle deurgang deur die Rooi see sien hy as ‘n simbool van die doop. Vers 3,4. "Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus." Hier is ‘n duidelike verwysing na die Nagmaal. Maar dan maak hy ‘n skokkende stelling in vers 5. “Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom.” Dis ‘n historiese feit – die grootste deel van die volk wat uit Egipte verlos is, het nooit die land Kanaän veilig bereik nie! Die mense wat soveel heerlike genade ontvang het se witgebleikte geraamtes het uiteindelik die woestynsand ontsier!

Wat Paulus eintlik wil sê is : “Hierdie bevoorregte volk het in al die verbondsvoorregte gedeel, maar dit het hulle niks gehelp nie, want hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde optrede nie. Hulle het met sonde geheul. Die oordele van God het hulle getref!”

Paulus gebruik die tragiese verhaal van Israel se woestyntog as ‘n voorbeeld (gaan lees dit na) dat ons nie in dieselfde strikke van versoeking en sonde moet trap as waarin hulle getrap het nie. Hy noem voorbeelde en gebeurtenisse uit Israel se uittoggeskiedenis by die naam : Sondige begeertes (6); afgodery (7) – verwys hier na die groot partytjie en jol wat gehou is tydens die episode van die goue kalf (sien Eksodus 32:6); onsedelikheid (8) – vergelyk Numeri 25:1,9*; uittarting van Christus (9); verset/ opstand oftewel “murmurering”, om te kla oor God se pad met ons, m.a.w. onvergenoegdheid! (10)

Pasop vir sonde! Pasop vir die misbruik van God se genade! Moenie met sonde speel en eksperimenteer nie! Moenie God tart nie!

Hierdie geskiedenis raak ons direk, dis vir ons ‘n voorbeeld en waarskuwing! (11) Ons moet elkeen onsself ondersoek! Moenie ligtelik hierna luster en dink dit kan nie vir my en jou oorkom nie! (12) Enige kind van God kan in enige sonde val... juis dalk op die gebied wat jy dink jou sterk punt is... Moenie by jouself redeneer - “ek was nog nooit dronk, of ek het nog nooit my vrou verneuk nie..." Wees bedag op alle versoekings! Sonde het skrikwekkende gevolge!

BEMOEDIGING

Paulus waarsku nie net nie, hy bemoedig ook. Hy wys ons op ‘n heerlike vertroostende feit : GOD IS GETROU! (13) Hy sal ons nie bo ons kragte laat versoek nie (Hy is billik, Hy ken ons grense) en Hy sal uitkoms gee (krag, oorwinning)! Paulus se waarskuwings is nie om ons moedeloos en beangs te maak nie. Hy wil sê : Wees versigtig, maak erns, pasop en weet dan dat God jou ook deur versoekings sal dra... Versoekings sal kom, maar God is getrou. Die dringende en ernstige waarskuwings is juis deel van sy getrouheid en ‘n manier wat Hy gebruik om ons te bewaar!

Paulus se boodskap wat hy wil oordra is baie duidelik:

Vir die wat speel met sonde en God uittart wag daar ‘n skrikwekkende oordeel al deel hulle in die verbondstekens. Alle gedooptes en nagmaalsgangers moet kennis neem!

Vir die wat die erns van sonde besef en daarteen stry kom daar die heerlike versekering, dat God ons nie in die steek sal laat nie, maar oorwinning sal gee. Mag ons almal in hierdie tweede groep wees...

* Die getal wat dood is volgens Numeri 25:9 is 24 000 en nie 23 000 soos Paulus hier in Korintiërs skryf nie. Die getal is opsigself is seker nie so belangrik nie, maar die waarskuwing wat ons ter harte moet neem, weens die skrikwekkende gevolge van hulle onsedelikheid.

Maandag 01 Julie 2013

GOD SKRIK NIE

- Hy lag sy vyande uit en stel hul voor ‘n ultimatum!

Wie is aan die wen, Jesus of die wêreld se magte en invloede? Maak die evangelie nog ‘n merk? Is ons nie dalk die laaste geslag Christene nie? Op NUUS24 verklaar iemand : ‘Jesus sterf (permanent) in 2038’. Uiteraard is dit ‘n voorbarige stelling van een van die nuwe Afrikaanse ateïstiese aandagsoekers, maar ongetwyfeld is daar oraloor ‘n haat teen God en sy kinders te bespeur. Maar miskien het jy tog ook al gewonder : “Gaan Bybelgetroue en toegewyde Christene nie ‘n bedreigde spesie word nie?” 


Psalm 2 gee ‘n baie duidelike antwoord. ‘n Heerlike troosvolle hoop! Maar ook iets meer as dit!

Ons kan die inhoud van die psalm in vier dele verdeel (kyk saam):

· Vers 1-3. “Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne—en dit tevergeefs?
Die konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde en sê: "Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!"

Die opstand van die wêreld (konings en nasies) teen die Here en Sy Gesalfde word beskryf. Dis ‘n gesamentlike wêreldwye rebellie. Die mens verwerp God se heerskappy en besluit dat hy sy eie kop wil volg en sy eie reëls wil maak, nes ons oervader, Adam! Reg hier aan die begin word al gemeld dat hierdie opstand tevergeefs is - dis futiele dwaasheid om jou rug vir God styf te maak!

· Vers 4-6. “Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle.
Hy spreek hulle aan in sy toorn, in sy gramskap jaag Hy hulle op loop: "Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg."

God se reaksie teen hierdie rebellie toon Sy absolute oppermag. Sy reaksie? - Hy lag vir hulle; dis nie ‘n vriendelike lag nie, maar Hy lag hulle uit omdat hulle optrede onsinnig en dwaas is. (Hierdie klomp anti God aktiviste laat mens dink aan ‘n klein hondjie wat grommend agter ‘n vragmotor aanstorm…) Maar hulle opstand maak God ook toornig. Ons moet dalk weer kennis neem dat God ook kwaad kan word! Hy laat almal goed verstaan : Ek stel my Gesalfde aan oor Sion; Ek beveilig die Gesalfde teen die aanslag en niemand kan iets daarteen doen nie.

· Vers 7-9. “Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my gesê: "Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader.
Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.
Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ‘n kleipot."

Dan kom die Gesalfde self aan die woord en kondig die inhoud en bepalings en beloftes aan wat Sy aanstelling behels. Die heerlikheid en mag van die Gesalfde word beskryf: Die Gesalfde se legitimering en posisie (God se Seun), sy omvangryke erfporsie (volke, die hele aarde) en universele volmag (HY sal sy vyande verpletter en flenters slaan) word beskryf.

· Vers 10-12. “Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.” 

Hier word daar as’t ware ‘n ultimatum gerig aan die opstandelinge om hulle aan die Here (en Sy Gesalfde)te onderwerp. Onderwerp julle anders staar julle vernietiging in die gesig. Hierteenoor word die positiewe ook gestel : Gelukkig is die wat by Hom skuiling soek! Ware redding en sekuriteit is alleenlik by Hom!

DIE GESALFDE

Dis duidelik dat die boodskap van Psalm 2 draai rondom die “Gesalfde”. Wie is die gesalfde? (dis die kruks van die saak) Baie sien hom bloot as een of ander koning uit die Dawidsdinastie. Christene kan nie anders as om raak te sien dat dit hier uitendellik gaan oor Jesus Christus, God se Gesalfde uit die nageslag van Dawid nie! Daar is goeie redes om dit te glo. Kom ons kyk eers wat sê die Nuwe Testament:

· Dis ‘n algemene beginsel uit Jesus se eie mond dat daar oor Hom geskrywe is in die Psalms (Lukas 24:44) 

· Uit meer as een plek in die NT blyk dit dat die apostels die koms van Jesus as ‘n vervulling van spesifiek Psalm 2 beskou. Trouens Psalm 2 word deur die NT skrywers as een van die kroongetuies gebruik om aan te toon dat die beloftes van die OT in vervulling gegaan het. In ‘n tyd van benoudheid en vervolging gryp die eerste gemeente in hulle smeekgebed (Handelinge 4:25-28) tot God juis terug na hierdie belofte en word dit duidelik met Jesus in verband gebring. In Handelinge13:32-33 verwys Paulus na die tweede psalm binne die konteks van Jesus se opstanding. In Hebreërs 1:4-5 word Psalm 2 aangehaal om die voortreflikheid van Christus bo die engele aan te toon en in Hebreërs 5:5 word dit aangewend om die verheerliking van Jesus as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek te besing. Die weerklank van hierdie psalm kry ons ook in Openbaring 2:27 waar Christus na vore tree as die een wat die nasies sal regeer met ‘n ysterstaf. (Sien ook Openbaring 12:5;19:15)

· Nog meer merkwaardig; die gebruik van Psalm 2 in verband met Jesus word deur God self ondersteun as die Goddelike stem sinspeel op die woorde van hierdie psalm by die doop van Jesus (Markus 1:11). Ook op die berg van verheerliking kry ons ‘n eggo van hierdie woorde. (Matteus 17:5) Petrus herinner sy lesers aan hierdie gebeure in sy tweede brief (2 Petrus 1:16-18) Uit die daaropvolgende verse blyk dit dat Petrus hierdie woorde van die stem koppel aan die “profetiese woord wat baie vas is”. Die stem uit die hemel is in lyn met die profesie.

Wat sê die psalm self?

In Psalm 2 het ons nie bloot met aannemings terminologie te doen (waar God die Dawidiese koning as Sy seun aanvaar of beskou nie), maar met verwekkingsterminologie.* “Gegenereer (OAV), is ek jou Vader (NAB)” is die vertaling van die Hebreeuse woord “jalad” wat as ‘n vrou die subjek is met “baar, in die wêreld bring” vertaal word (byv. Gen 3:16) en as ‘n man die subjek is eerder met “verwek, procreate” vertaal moet word. God sê wel dat Hy vir Dawid se seuns ‘n vader sal wees (2 Sam 7:14; 1 Kron 28:6), hulle sal kan sê, “My Vader”(Psalm 89:27) maar dit is nog nie dieselfde as om te sê dat God ‘n seun vir Dawid sal verwek nie van wie sonder meer gesê kan word “U is my seun” nie.

In Psalm 89 word daar gekla dat as gevolg van God se straf oor die sonde van Dawid se huis, daar weinig tereggekom het van God se beloftes aan Dawid ten opsigte van sy nageslag. In teenstelling met Psalm 89: 30-33 waar die seëninge voorwaardelik is, is die eenheid tussen God en Sy Gesalfde in Psalm 2 onvoorwaardelik.

Histories kan Psalm 2 moeilik inpas by enige een van die Dawidiese konings se tyd en omstandighede. Hier word van opstand deur die konings van die aarde gepraat, maar die Judese konings het nooit juis oor ‘n groot gebied regeer nie. Slegs Dawid self en Salomo het oor groot gebiede regeer, maar nooit oor die ganse aarde nie.

Daar word nie gesê dat die Gesalfde sal regeer oor Jerusalem nie, maar oor “Sion, my heilige berg”. Sion is in die besondere sin die aanduiding van die tempelgebied waar God koning is. Dis waar die Here vir ewig woon en van daaruit sal Hy vir Dawid ‘n horing laat uitspruit (Psalm 132:13, 17). Die feit dat hierdie Gesalfde, koning oor Sion is laat dit blyk dat dit hier oor ‘n groter en meer heilige Koning gaan as Dawid, Salomo of een van hulle se nageslag.

In Psalm 2:12 (Ou Afrikaanse Vertaling) word die vorste opgeroep om die Seun te kus (as ons die Massoretiese teks** aanvaar) en word daar gemeld dat die wat by Hom skuil gelukkig sal wees. In die hele OT word God self vir ons geteken as die Een by wie mense skuiling kan vind. Die Gesalfde word dus hier op ‘n manier aan God gelyk te stel wat mens nie met ‘n aardse koning in verband kan bring nie.

OPSOMMEND. Oor al bogenoemde sake sal mens seker baie kan argumenteer en sal almal nie eenstemmig wees nie, maar mens kry tog die indruk dat Psalm 2 die walle oorstroom van die situasie van ‘n bloot aardse koning. Ons het hier te doen met iemand groters as ‘n tydelik menslike vors. As Nuwe Testamenties Christene wat terugkyk na God se finale openbaring in Jesus, as die Ewige Koning uit die nageslag van Dawid, kan ons beswaarlik in Psalm 2 iets anders raaksien as ‘n verwysing na Jesus se unieke posisie as Seun van God wat ten spyte van alle teenstand sal triomfeer. Jesus is God se Gesalfde op ‘n wyse wat geen ander figuur dit ooit was of kan wees nie. Daarom maak die heerlike inhoud en beloftes van Psalm 2 net sin as ons die treffende vervulling daarvan in Jesus raaksien.

Wat is die troos en die uitdaging van hierdie Psalm vir ons?

TROOS: Ons beleef prakties elke dag hoe die wêreld saamspan teen God en Sy Seun. Die sekulêre humanis wil Jesus onttroon. ‘n Mens kry amper die indruk van ‘n wêreldwye komplot, almal sing in ‘n koor van opstand teen Jesus. Dis asof die mensdom elke dag uitdagender word en sê : “Kom ons maak ons vry van al God se ordes, wette en instellings. Ons is nou volwasse, postmoderne mense wat nie meer in mites glo nie!” Op elke terrein van die samelewing vind ons hierde Godsveragtende houding: in die vermaaklikheidswêreld word daar die spot gedryf met alles wat heilig is, in die politieke raadsale is daar geen plek vir Sy wette en verordeninge nie. ‘n Goddelike instelling soos die huwelik tussen een man en een vrou word van alle kante af geteiken (nie net deur goddelose leiers soos Obama, Holande, Cameron... en die wêreld se woelige gay aktiviste nie, maar ook nader aan ons - kerklidmate wat saambly en losbandigheid goedpraat). God se Woord word as belaglik en oudmodies afgemaak, almal wat getrou aan God wil leef word as onverdraagsaam of middeleeus uitgekryt. Maar kind van God, hou moed, hierdie Psalm verseker ons : Al hierdie opstand, lawaai en gewoel is geen krisis vir God nie - nee, Hy vind dit lagwekkend. Dit kan niks verander aan Sy posisie en die ryk van Sy Gesalfde nie. Alle opstand is futiel. Hierde arrogante menslike gedrag maak Hom wel kwaad, daarom is alle weerstand ook waansinnig! Die gevolge gaan skrikwekkend wees vir die opstandelinge. 

Vir God se kinders is hierdie egter ‘n blye bemoediging. Ten spyte van alle aanslae kan ons verseker wet dat God se Koninkryk sal seëvier en sy vyande uitgewis word! Psalm 2 behels ‘n duidelike belofte van die onstuitbare welslae van Jesus se oorwinning en koningskap. Dis ‘n troos, dis ‘n anker.    

UITDAGING : Ons mag (moet!) die evangelie van Jesus, met sekerheid en krag verkondig. Hierdie psalm gee ons die reg om ‘n ultimatum aan die mensdom te stel: Jesus is die ewige koning ; buig of staar vernietiging in die gesig! Skuil by Hom, daar is rus. Ons hoef nie die evangelie op ‘n verskonende manier aan te bied nie. Ons proklameer die koningskap van Jesus. Trouens, Jesus self het niemand gelek om Hom te volg nie, maar eerder mense uitgedaag. Toe die rykjongman, nie kans sien vir die uitdaging nie, het Jesus nie verskonend agterna gehardloop en die standaard bietjie verlaag om sy materialistiese gesindheid tegemoet te kom nie, maar hom laat gaan... Laat almal wat dit hoor weet, jy verset jou teen Jesus ten koste van jouself. Jesus is nou hier deur die Gees teenwoordig as Verlosser-Koning, maar Hy kom eendag as Regter-Koning! Onderwerp jouself betyds aan Hom of dra die ewige gevolge!

Mag die heerlike boodskap van Psalm 2 jou anders na die nuus laat kyk, maar jou ook aanspoor om as uitgesproke ambassadeur vir die onoorwinlike Koning op te tree!

* Jakob van Bruggen se eksegese is gevolg.

**EKSKURS. Hoe moet Psalm 2:12 lui? Vir enige Bybelleser is dit duidelik dat daar ‘n groot verskil bestaan tussen die Ou Afrikaanse Vertaling en die Nuwe Vertaling wat betref Psalm 2:11/12. ( NAB - “........Hom met vrees en bewing toejuig en onderdanig wees...” OAV - “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word nie.....”) Dit gaan hier oor ‘n dieper verskil as maar net vertaalstyl. Die NAB het geen verwysing na die “Seun” in vers 12 nie. Wat is die rede hiervoor? Ons het hier te doen met ‘n baie bekende “teksprobleem.” In die gestandaardiseerde Hebreeuse teks (Massoretiese teks), wat die basis vir die vertaling van die Ou Testament is, word die woord “bar” (= seun) gebruik. Die probleem hiermee is, dat dit ‘n Aramese leenwoord is. Die Hebreeuse standaard woord vir seun is “ben”. Dis dan ook die woord wat in vers 7 gebruik word. Die woord “bar” word deur baie dus as ‘n oorskryffout of tekskorrupsie beskou. Die siening dat hier ‘n fout in die teks ingesluip het word ook versterk deurdat verskeie ou vertalings en rabbynse geskrifte ‘n ander Hebreeuse teks veronderstel. (die uitsondering is die Siriese vertaling wat wel die Massoretiese teks ondersteun.) Met verloop van tyd is daar verskeie tekswysigings voorgestel. Dis hier waar die verskil tussen die twee Afrikaanse vertalings inkom. Die OAV is gebaseer op die Massoretiese teks soos dit daar staan en die NAB is ‘n weergawe van een van die voorgestelde oplossings. Hoe moet nou oor die saak geoordeel word?

Net ‘n paar opmerkings (sonder om op alle tegniese besonderhede in te gaan)

· Die woord “bar” is inderdaad ‘n Aramese woord. Die vraag is net, moet die gebruik hiervan werklik ‘n probleem wees? Dit is bekend dat Aramees wyd gebruik is in Sirië-Palestina van ten minste die 9de eeu voor Christus en die moontlikheid is ook nie uitgesluit dat dit al vroeër in gebruik kon gewees het nie.

· Die konteks van vers 11 en 12 moet ook in ag geneem word. Hierdie woorde word (in die mond van die digter) juis gerig aan vreemde nasies en konings. ‘n Leenwoord uit ‘n ander taal sou hier dus goed kon pas. Die Hebreeuse woord “ben” word in vers 7 deur God gebruik om Sy Gesalfde aan te spreek.

· As ons die Massoretiese teks aanvaar dan is vers 12 ‘n opdrag aan die aardse konings om hulle te onderwerp en eer te betoon aan die Gesalfde (die Seun) van vers 2. (Soen was ‘n teken van eerbetoon en onderwerping. Vgl. 1 Sam 10:1; 1 Kon 19:18) In so ‘n geval handel vers 10 -12 dan oor die eis aan aardse leiers om God te dien en om Sy Gesalfde Koning te erken. Hierdie dubbele tema vorm dan ‘n baie gepaste teenstelling met die rebellie van die konings wat volgens vers 2 gerig was teen die Here en Sy Gesalfde. 

Daar is miskien nie antwoorde op al die vrae nie, maar dus tog duidelik dat ‘n goeie saak uitgemaak kan word vir die Ou Vertaling se lesing op hierdie punt. In elk geval maak die vertaalkeuse nie juis ‘n verskil aan die vertroosende geheelboodskap van hierdie wonderlike Psalm nie.


Die wêreld se leiers kan oor als opgewonde raak, maar nie oor die Koninkryk van God nie, inteendeel, hulle haat God en sy Gesalfde!



Saterdag 14 April 2012

PASOP VIR DIE GOGGAS

wat gate vreet in die GENADEBOODSKAP!

Die kort briefie van Judas bevat ‘n kragtige boodskap vir die kerk van ons tyd. (maak nou gerus eers daar oop in jou Bybel)

Vers 3 "Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan die heiliges."

Ons vind hier ’n sterk oproep en vermaning om kragtig te stry vir die ware geloof. Judas sê dus vir sy lesers (en ons) dat daar dringend aksie geneem moet word om die waarheid van die verlossingsboodskap te beskerm en te bewaar. 

Dis ‘n boodskap wat nie verander mag word nie. Dis finaal vir eens en altyd oorgelewer aan God se mense! Die bewaring van hierdie boodskap is ‘n saak wat nie net enkelinge raak nie, maar juis ons gemeentes! Dis ‘n belangrike boodskap vir elkeen in die gemeente. Die gemeente word immers in 1 Timoteus 3:15 die “draer en beskermer van die waarheid”  genoem. 

Hoekom vind ons hierdie ernstige en  dringende toon by Judas? Daar is gevaar!
Dis ’n feit - die kerk van Jesus is en  word bedreig. (Dit was reeds die geval in die tyd van die Nuwe Testament) Die rede is eenvoudig : Satan hou nie van die kerk van Jesus nie. Satan wil nie hê mense moet gered word nie. Satan haat die kerk, omdat hy God haat. Baie vyande word dus teen die kerk ingespan. Maar baie belangrik - die grootste en gevaarlikste vyand is nie magte buite die kerk nie, maar valse leringe binne die kerk. 

Ons grootste bedreiging is nie - Islam, diktators of bose regerings nie, maar ‘n verdraaiing van die evangelie boodskap!

Judas noem spesifiek hierdie valse leraars en hulle lering wat die kerk binnegedring het by die naam.

HULLE IS GEVAARLIKE GOGGAS WAT GATE VREET IN DIE GENADEBOODSKAP EN DIT WAARDELOOS MAAK!

Wat is hierdie gevaarlike valse leer? (Vers 4) Dit gaan oor die misbruik van genade. Hoe gebeur dit? Valse leraars hou genade voor as ’n dekmantel, 'n verskoning om losbandig te leef! Hulle valse propaganda kom basies op die volgende neer : Omdat God se genade so groot is kan ons maar aanhou sonde doen, Hy sal mos maar vergewe. Iemand het dit iewers so gestel : Dis God se plig om ons te vergewe en ons voorreg om te sondig! Hierdie tipe redenasie en lering is ‘n dodelike bedreiging vir die kerk en sy boodskap!

 Kom ons bekyk hierdie saak van naderby:

Redding uit genade is ’n kernwaarheid van ons geloof. (Efesiërs 2:8)  Radikale verbysterende  genade! Hierdie genade behels dat God ’n skuldige goddelose,  onskuldig verklaar (Romeine 4:4) sonder dat hy dit verdien, alleenlik op grond van Jesus se boetedoening aan die kruis. O, hierdie genade klink suikersoet vir die stukkende sondige siel! Genade het niks te doen met ons prestasies nie, maar is ‘n ewigheidsgeskenk van God af! (2 Timoteus 1:9,10) Genade is Goddelik gratis en  hemels heerlik. Genade gee hoop vir die grootste sondaarskurk. Genade het miljoene mense se lewens male sonder tal verander. Genade het die ewige  poorte laat oopswaai vir die slegste mense denkbaar. Genade het ontelbare mense voor die kake van die hel weggeraap. Dink maar aan die misdadiger aan die kruis of iemand soos die goddelose John Newton wat later  “Amazing Grace” geskryf het.

Maar gou het die duiwel sy kans gesien. Hy het dwaalleraars gebruik om die waarheid van genade te verdraai. Juis omdat dit so kosbaar is het die Satan dit vervals. (Dis mos net kosbare dinge wat vervals word. Niemand sal moeite doen om iets waardeloos te vervals nie.) Reeds in die Romeine brief spreek Paulus hierdie kwessie aan.  Juis omdat Paulus ‘n radikale genade verkondig het, het hy verwag dat daar ‘n misverstand sou ontstaan deurdat mense sou beweer  : “Ag, dis lekker, laat ons maar meer sondig sodat die genade ook meer kan word!"  Paulus reageer baie skerp teenoor so ‘n houding : “Volstrek nie!”  (Romeine 6:1,2) Hierdie dwaling (en dwaalleraars) kan maklik aan hulle geliefkoosde uitdrukkings herken word. Dit klink so mooi, maar dis halwe waarhede : “Ag, ons is mos maar almal mense... Ag, niemand is mos volmaak nie.” Dis inderdaad waar, maar sê jy dit as ‘n belydenis of bloot as ‘n verskoning om voort te ploeter in sonde? In ons dag is een van die handelsmerke waaronder hierdie dwaling verkoop word : “VERDRAAGSAAMHEID” 

Tot vervelens toe word daar op die “toleransie” snaar getokkel! 

Almal se sienings en almal se norme (of gebrek daaraan) moet geakkommodeer word! Ons moet tog net niemand se gevoelens seermaak nie. Die dwaalleraar gee kastig baie om vir mense se gevoelens, maar vertrap God se Woord!

Wat was Jesus se houding? Hy is die ruimhartigste Uitdeler van genade ooit. Hy vergewe die ergste sondes, maar dan sê Hy : 


“Gaan heen en sondig nie meer nie!” 

Die begrip “genade” word deur baie gebruik, maar daar is ‘n duidelike onderskeid hoe dit gebruik word. : Valse leraars misbruik die woord genade  as ’n verskoning en ’n dekmantel om rustig aan te hou sondig. God in sy Woord gebruik die  term genade as aansporing om nie meer te sondig nie, maar in dankbaarheid en heiligheid te leef!

Judas waarsku ons baie ernstig teen hierdie dwaling. Hy maak dit duidelik dat hierdie dwaling skrikwekkende gevolge het. Hy herinner sy lesers aan die  bekende voorbeeld van die volk Israel wat uit Egipte verlos is. God was Israel genadig. Hulle was ’n klomp slawe in groot ellende. Toe red God hulle genadiglik uit Egipte sonder dat hulle dit verdien. Maar wat gebeur toe? Hulle was ondankbaar, hulle begin kla, hulle begin afgode dien, hulle begin onsedelik leef... Hulle vergrype het grusame gevolge gehad! God het daardie einste Israeliete wat Hy gered het, uitgedelg omdat hulle sy genade vertrap het. Van daardie hele geslag het net Josua en Kaleb in die beloofde land ingegaan. Om maar lustig  met sonde aan te gaan roep die oordele van God op ons af. Judas noem nog twee voorbeelde van Goddelike wraakuitoefening om ons te waarsku : die engele wat ongehoorsaam was en die mense van Sodom en Gemorra. (Sien vers 5-7)

Die punt wat Judas maak is dit : God se optrede van die verlede wys dat Hy nie ‘n vertrapping van sy heiligheid duld nie, maar dit  konsekwent straf.

(Moet jou dus nie self wysmaak dat ‘n God van liefde nie kan straf uitdeel nie)

Pasop vir ’n valse begrip van  genade. Vals genade soek verskonings vir sonde.
Koester ware genade! Ja, ware genade bring hoop aan die ergste sondaar. Selfs ‘n Dawid! (Lees gerus SMS: “Ek is swanger”) Maar ware genade maak ’n mens egter dankbaar  en as ek dankbaar teenoor God is,  vlug ek weg van sonde. Ware genade leer my ‘n nuwe leefstyl. (Titus 2:11,12)

Niemand kan verby die feit kyk dat Judas se waarskuwings angswekkend is nie. Dit wek vrees by ons en dit moet! Maar weet jy ek verstom my oor die volmaakte balans in God se Woord. As ons weer ‘n slag gesidder het oor ons sonde en na Jesus toe gevlug het, is die Here baie gou om die vertroostende salf van sy getrouheid aan ons stukkende siele te smeer. Dis dan ook wat ons in vers 24,25 vind:

“Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid!”

Wat 'n heerlike troosvolle versekering!

God self sal ons in die genade laat volhard en veilig bewaar! Hy gebruik juis ernstige waarskuwings soos die van  Judas in hierdie proses van bewaring.