BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 15 September 2016

JAMMER, JESUS IS NIE ‘N TOORDOKTER NIE

- MAAR HY WIL IETS BAIE GROTER VIR JOU DOEN!



Waarom glo jy in Jesus? Wat verwag jy van Jesus? Wat wil jy hê moet Hy vir jou doen? So baie mense (op ‘n stadium miskien ons almal) sien Jesus as ‘n probleemoplosser. As ‘n tipe van ‘n wit toordokter wat kan muti uitdeel vir elke kwaal en kwelling. As daar huweliksprobleme, gesinsprobleme, ernstige finansiële probleme, gesondheidsprobleme of emosionele probleme ondervind word, dan vorm daar ‘n lang tou voor Jesus se spreekkamer...dan word daar skielik ernstig gebid en gebede gevra. En as hulle bid en daar gebeur nie iets nie, is daar groot teleurstelling en selfs woede. Dan verklaar hulle gou : “Nee wat, gebed werk nie. Nee wat, die Jesus besigheid is nie vir my nie!”

Jesus is nie ‘n toordokter wat vir ons bietjie muti gee vir elke pyn of probleem nie. Jesus is nie ‘n reënmaker nie. Jesus is nie ‘n wonderwerker wat die lewe vir ons gerieflik maak nie. Jesus bedryf nie ‘n gou-ryk-word-skema nie, Jesus verkoop nie polisse teen ongelukke en rampe van die lewe nie.

OM SONDAARS TE VERLOS!

Wat is Jesus groot doel? Kom ons kyk na die pragtige gedeelte in 1 Timoteus 1:12-17. Paulus sê dit baie eenvoudig en duidelik : ”Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” (15) Wat ‘n kragtige waarheid, wat hoop gee vir ‘n sondaar!* Dit stem ooreen met die boodskap wat die engel aan Josef gebring het, nog voor Jesus se geboorte. “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matteus 1:21) En in hierdie opsig is Hy wel tog ‘n probleemoplosser. Sonde is inderdaad ons grootste probleem. Dis die kern probleem, want ons sonde vervreem ons van God, sonde lei tot die dood, die ewige dood met ander woorde ewige skeiding tussen God en mens. Dis die beste nuus wat ons kan hoor – Jesus red van sonde. Paulus kon self daarvan getuig na sy ontmoeting met die lewende Jesus op pad na Damaskus. Paulus noem homself die “grootste van sondaars” – ja, hy het Jesus belaster, vervolg en beledig! (13) En tog het Jesus vir hom dit so te stel, oorlaai en oorweldig met genade. Paulus noem dit om vir ons te sê daar is hoop vir alle sondaars. “As Jesus so ‘n hardnekkige en rebelse sondaar soos ek kan red, kan hy ook vir jou red en jou genadig wees!” Wat ‘n geweldige hoopbringende troos!

Dis die tragedie, ons sien ander probleme raak, maar kyk die ware probleem mis. Die skuld van sonde wat ons die hel laat verdien, maar ook die mag van sonde wat ons soos slawe gevange hou. En onthou - onder sonde moet ons nie net ‘n lysie van oortredings verstaan nie, maar die groot kern sonde dat ons God nie volkome liefhet nie en ook nie ons medemens liefhet nie – dis die wortel van ons voortdurende rebellie teen God en ons voortdurende selfsug in ons menseverhoudings. Jesus is ‘n kragtige bevryder van sonde, dis wat Hy vir jou wil doen!

Het jy al so daaroor gedink, Jesus wil dalk nie nou jou huweliksprobleme oplos nie, Hy wil dalk jou eerder verlos van selfsug! Jesus stel dalk glad nie nou daarin belang om jou uit ‘n geldelike verknorsing uit te help nie, maar Hy wil jou verlos van gierigheid! Dis dalk nie nou vir Jesus belangrik om jou liggaam gesond te maak nie, maar om jou van ‘n verslawende gewoonte te verlos. En ja, ek weet die reëntyd kom nader en ons smag almal na oorvloedige reën (ek ook!), maar weet jy Jesus se eerste wens is nie om vir jou reën te stuur nie, maar om vir jou naasteliefde te leer en jou te verlos van haat en bitterheid. Die punt is, Jesus se eerste prioriteit is om jou van sonde te verlos, jou te vergewe en jou nuut te maak sodat jy deel kan kry aan die ewige lewe! Hy skenk dit vir ons deur geloof! (16) Hy roep jou op om Hom te vertrou as Verlosser van sonde! Jou sonde!

Jesus is nie ‘n probleemoplosser nie, maar die Redder van sonde. 

Hierdie heerlike bevrydende waarheid laat Paulus uitbars in ‘n lofprysing (doksologie).**Hy bring eer aan God as Koning wat sy koninkryk deur Jesus kom vestig! (17) Die groot vraag is nie of Jesus aan my lysie van probleme aandag gegee het nie, die vraag is, eer ek en jy God as Koning deur Hom, as die Heer en Heerser oor ons lewens? Ons kan God eers as Koning eer en dank as ons soos Paulus beleef het dat Jesus al my sondes vergewe het en my God se kind gemaak het.

KONING EN VADER

Maar wat dan nou van my huweliksprobleme, finansies, daaglikse sorge...? Wel as Jesus jou gered het van jou sonde en God se kind gemaak het, is God mos jou Vader, ja Hy is inderdaad ook ‘n versorgende Koning! Natuurlik weet ons Vader als wat ons nodig het en kan ons ons harte voor Hom uitstort en vra vir daaglikse brood wat mos al ons behoeftes insluit. Ook ons dringende behoefte aan reën! Natuurlik het ons die heerlike belofte in Matteus 6:33! “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Maar let op wat is die prioriteit!

AANVAAR DIE GOEIE NUUS EN WEES DANKBAAR

Die evangelie, die boodskap dat Jesus gekom het om sondaars te red is goeie nuus, goeie nuus wat betroubaar is. Dit help egter niks as dit nie aanvaar word nie. Het jy dit al aanvaar? Het jy al die redding van sonde beleef? Dan sal jou hart net soos Paulus s’n oorloop van dankbaarheid (12) - ook in slegte omstandighede van siekte, geld tekorte of selfs droogte! AMEN

*Hierdie woorde van Paulus het die lig in die Engelse hervormer en martelaar, Thomas Bilney se hart laat opgaan. “This one sentence, through God’s instruction and inward working, which I did not then perceive, did so exhilarate my heart, being before wounded with the guilt of my sins, and being almost in despair, that even immediately I seemed unto myself inwardly to feel a marvellous comfort and quietness, insomuch that “my bruised bones leaped for joy” (Psalm 51) Bilney se beroemdste bekeerling was die groot prediker van die Engelse Reformasie, Hugh Latimer.

** Waarskynlik ‘n frase uit ‘n ou liturgie.




Donderdag 08 September 2016

HEILIGE BYBELSE BALANS

- vrees en vertroue



In hoofstuk 1 van die Eerste Johannes brief hoor ons duidelik watter ernstige saak sonde is. (Kliek op GEMEENSKAP). Sonde en gemeenskap met God is twee onversoenbare dinge. Dis baie duidelik gestel, gemeenskap met God en ‘n lewe in duisternis is onderling uitsluitend! Dis of die een of die ander, saam kan dit nie bestaan nie. Aan die ander kant het Johannes die hele waarheid van vergifnis sterk gestel waar daar belydenis van sonde is. (1:9) Die vergifnis wat God skenk is volledig, ruim en oorvloedig!

TWEE REAKSIES, TWEE GEVARE

Waar mense hierdie waarhede hoor is daar dikwels twee uiterste reaksies wat altwee gevaarlik en verkeerd is.

Die een groep beklemtoon vergifnis en dink baie ligtelik oor sonde. Die gevoel is amper : “Ag, dis eenvoudig, dis my voorreg om sonde te doen en dis God se plig om my te vergewe. Waarom sou ek bekommerd wees oor sonde?” Dis juis hierdie groep wat nie sal skroom om Nagmaal te gebruik terwyl hulle doelbewus in onvrede, onvergewensgesindheid of onsedelikheid voortleef nie. Dis mense wat nog nooit die geweldigheid van God se heiligheid of die erns van sonde besef het nie. Dis baie gevaarlik om so ‘n houding te hê. Dis ‘n misbruik van genade! Die genade van God word as verskoning gebruik om losbandig te leef!

Die ander groep beklemtoon slegs die erns van sonde en is dikwels onseker oor vergifnis. Hulle redeneer so : “O, ek val so dikwels en so maklik. Daar is vir my geen hoop nie. Ek voel onwaardig en vuil, ek durf seker nie Nagmaal gebruik nie. God se heiligheid wek by my die heeltyd ‘n gevoel van vrees en verwerping. Dit vul my met onsekerheid en moedeloosheid.” Dis ook ‘n verkeerde houding. In hierdie groep kry mens soms ook mense met ‘n oorsensitiewe gewete wat oor allerlei nietige en onbenullige dinge voortdurend skuldig voel. (Kliek op OORSENSITIEWE GEWETE)

Johannes spreek beide groepe aan in 1 Johannes 2:1. Vir die eerste groep sy hy duidelik : “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.” Die kind van God moet dit nie eers oorweeg om sonde te doen nie. Die moontlikheid moet nie eers by ons opkom nie. Sonde is ‘n vreemde verskynsel, dit pas hoegenaamd nie by God se kinders nie. Verder in sy brief stel hy dit nog sterker! Hy stel dit eintlik oordrewe, hiperbolies : “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.” (1 Joh 3:9,10) 

As iemand dus ‘n ligtelike, ongeërgde, slap houding teenoor sonde het, moet jy weet dat jy op ‘n baie gevaarlike terrein beweeg! Die eerste groep moet dus duidelik hoor, sonde is ‘n bitter ernstige saak. God is lig! Dis nooit iets waarmee ons kan speel nie! Sondevergifnis het immers Jesus se dood gekos!

Ons moet sonde vrees!

Johannes spreek ook die tweede groep aan en wil vir hulle hoop gee. “En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Johannes beveel ons ernstig om nie te sondig nie, maar indien dit wel gebeur (hy weet dit is iets wat kan gebeur), moet ons nie moed en hoop verloor nie, maar weet dat ons nog steeds Jesus as Voorspraak, as Advokaat het! Sonde is baie ernstig, dis iets wat ons hoegenaamd nie moet oorweeg nie, maar as dit wel gebeur, kan die kind van God die vertroue hê, daar is iemand wat vir my intree. My Advokaat, my Voorspraak, my Hoëpriester, Jesus! Hy stel my saak by God, daarom hoef ek nie te wanhoop as ek geval het nie. 

Hierdie waarheid van Jesus wat vir ons intree is ‘n duidelike Bybelse waarheid wat ook op ander plekke beklemtoon word. In Romeine 8:34 roep Paulus uit : “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Weens Jesus se pleitrede staan ons onskuldig! En Hebreërs 7:24,25 wat sê : “Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” 

Ons moet op Jesus vertrou en hoopvol wees!

WIE IS KIND VAN GOD?

As Johannes vir Jesus ons Voorspraak noem, raak hy die hart van Christenskap aan. ‘n Kind van God is iemand wat Jesus as Middelaar en Voorspraak het! Die vraag is nie in die eerste plek of my sonde min of baie is nie, die vraag is nie of my sonde darem minder ernstig is as ander mense s’n nie, die vraag is nie of ek nog wel Bybel lees of bid nie, die vraag is ook nie of ek goed voel oor myself nie. Al vraag wat tel is : “Is Jesus my Advokaat?” Kan jy dit met oortuiging sê? Sonder Jesus geen hoop, met Jesus ‘n vaste heerlike hoop! Later sê Johannes dit nog duideliker in ‘n baie skerp kontras. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

BYBELSE BALANS

Johannes het ‘n pastorale hart wat omgee vir ander Christen gelowiges, wat omgee vir ons. En daarom wil hy help dat ons nie in een van bogenoemde uiterstes verval en so skade ly nie. Ons moenie ligtelik dink oor sonde nie, ons moet ook nie alle hoop verloor as ons wel in sonde geval het nie. Dis die gesonde heilige Bybelse balans! Hy sê in effek : “Maak erns met sonde, kies teen sonde, bely en laat staan dit!”, maar hy sê ook : “Moenie moed verloor nie, hou vas aan die Middelaarskap van Jesus!” Dis in wese ook die voorwaarde vir die gebruik van die Nagmaal. Besef die erns van sonde, bely dit en breek daarmee. Besef die voorreg om Jesus as Middelaar en Advokaat te hê! Hy pleit vir jou omdat Hy met sy eie bloed jou sondeskuld betaal het! 

Ons gebruik juis die Nagmaal, nie om ons goedheid en sondeloosheid daarmee te verklaar nie, maar om opnuut ons vaste vertroue in Jesus se Middelaarskap, ja, vir my persoonlik te bely! Ons gebruik veral die Nagmaal omdat Jesus self deur sy Gees juis daardeur Sy getrouheid en genoegsaamheid vir ons tasbaar bevestig!



Donderdag 01 September 2016

GEBROKE GEMEENSKAP EN FLOU “FELLOWSHIP”

- kan op net een manier weer herstel word.


Johannes is passievol oortuig dat die boodskap wat hy en die ander apostels verkondig die waarheid is! Dis die boodskap van Jesus, die Seun van God wat ons met God versoen het. Waarom is hy so oortuig? Hyself en die ander apostels het nie net iewers van Jesus gehoor nie, maar hulle het Homself gehoor, gesien en aan Hom gevat. “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.” (1 Jn 1:1) Dink maar aan wat gebeur het na Jesus se opstanding toe Hy hulle uitgenooi het om aan Hom te voel, sodat hulle kon besef Hy is nie maar net ‘n spook nie. (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)

In die evangelie het ons die betroubare woord van ooggetuies. Dis eg, dis waar, dis lewensveranderend!

Waar Jesus se boodskap verkondig en geglo word kom daar GEMEENSKAP tot stand. Anders gesê, slegs deur die aanvaarding van Jesus se boodskap, van Jesus self kan mens deel in die besondere gemeenskapsverhouding met die Vader en die Seun en met ander mense wat ook dieselfde boodskap aanvaar. Gemeenskap is ‘n belangrike herhalende tema/begrip hier in 1 Johannes 1. (Vers 3,6,7)*

GEMAAK VIR GEMEENSKAP

Wat beteken gemeenskap/koinonia/fellowship? Dis ‘n innige betrokkenheid by mekaar, ‘n vreugdevolle saamwees, ‘n geestelike band, ‘n naby verhouding, ‘n diepe kommunikasie met God en met mekaar. God het die mens van die begin af gemaak om met die mens ‘n bewustelike gemeenskap te hê, in ‘n verhouding te staan. Ons is juis daarvoor ontwerp om dit so te stel. God het die mens as vennoot en gespreksgenoot gemaak. God het die mens as sy persoonlike verteenwoordiger aangestel op aarde. Voor die sondeval het God (so lei mens af) vir die mens kom “kuier”. Hierdie gemeenskap is deur die sondeval verbreek. Die sonde het die mens skaam gemaak, vol skuldgevoelens en vrees. Daarom kruip Adam en Eva weg vir God. Maar dis juis waarom Jesus gekom het, om hierdie gemeenskap te herstel. Jesus vat die vyandskap tussen ons en God weg. Elkeen wat aan Jesus behoort is nou ‘n kind van God (3:1) en deel in hierdie gemeenskap met God, maar ook met ander kinders van God!

Johannes skryf vir Christene wat reeds deel aan die gemeenskap. Sy doel is om te verseker dat hulle voortgaan om hierdie gemeenskap te beleef en te geniet. Dit maak hom bly as Christene die volle seëninge van die evangelie beleef. (vers 4) Hy wys dus op twee sake : Dit wat hierdie gemeenskap versteur en belemmer. Hoe die gemeenskap met God en mekaar herstel kan word.

WAT VERSTEUR GEMEENSKAP MET GOD EN MET MEKAAR?

Die antwoord is sonde! Of soos Johannes dit stel duisternis. Duisternis is die probleem, want God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie! Sonde druis in teen die wese en karakter van God. God kan nooit nie sonde akkommodeer, goedpraat of maar net onder die mat invee nie. Jy mislei jouself as jy so dink. Jy kan nie met God nie ‘n “deal” probeer maak oor sonde nie! ‘n Lewe in duisternis is onversoenbaar met gemeenskap met God. (incompatible) ‘n Lewe in sonde duisternis, versteur gemeenskap met God en met mekaar. Om te sê dat ons gemeenskap met God ervaar, maar doelbewus in sonde te bly voortleef is om vals te wees en ‘n leuen te leef. Hoe dikwels gebeur dit nie. Ons maak asof als reg is, ons gebruik die regte terme, ons kom nog steeds kerk toe, ons lees nog steeds die Bybel, ons prewel nog sulke afgestompte gebedjies, maar daar is geen ware vreugde en gemeenskap met God nie en ook nie met mekaar nie. Ons het geen ware kontak met God nie en ons saamwees met mekaar is ook net vir die skyn en vals.

Daar is so dikwels oppervlakkige pogings om groter betrokkenheid en gemeenskap in ‘n gemeente te bewerk... meer kuier, meer saambraai, meer funksies... Vurige pleidooie om onbetrokkenes tog net weer betrokke te kry... Dis als goed en wel, maar dikwels vergeet ons wat is die kernoorsaak van ‘n gebrek aan gemeenskap, naamlik sonde, duisternis... Sonde bring skeiding tussen God en mens, skeiding tussen mens en mens. Positief gestel, dis net as ons in die lig leef soos God in die lig is dat daar gemeenskap moontlik is. (vers 7) Om in die lig te lewe is om volgens God se standaarde van heiligheid en liefde te leef, om te doen soos Hy wil hê, om by sy opdragte in te val.

HOE WORD GEMEENSKAP MET GOD EN MEKAAR HERSTEL?

Daar is net een pad en dis die pad van belydenis. Om my sonde voor God te erken en met ware berou om vergifnis te vra. Moenie verskonings maak en verduidelikings probeer opdis nie. Noem sonde by die naam, erken as sonde dit wat God se Woord sonde noem. Vermy verkleinwoorde en versagtings... “Ag, ek kuier af en toe te veel” Nee, bely eerlik : “Here, ek is ‘n dronkaard!” 

Ontkenning van sonde sny jou af van vergifnis en daarom ook van gemeenskap. Belydenis van sonde bring vergifnis en reiniging en herstel weer gemeenskap! 

Glo die heerlike en kragtige belofte in vers 9 en maak gebruik van die voorreg om jou sonde eerlik te bely... Sonde bring skuld voor God, sonde maak ons onrein voor God, maar belydenis bring kwytskelding van skuld, belydenis maak ons weer skoon voor God. Belydenis bring bevryding van die skuld van sonde, maar ook van die mag van sonde. Ons sondeskuld wat ons vervreem van God word uitgewis, maar ons word ook bevry van die oorheersende mag van sonde! Dit alles is moontlik vanweë die bloed van Jesus, Jesus se volkome offer aan die kruis. Dis hierdie waarheid wat ons hoop gee, juis ook as ons geval het en dis waarom die Nagmaal vir ons so ‘n belangrike geleentheid is. Die Nagmaal waarborg hierdie waarhede weer op tasbare en sigbare wyse. AMEN


*1 Johannes 1:1 Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.

1Jo 1:2 Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.

1Jo 1:3 Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

1Jo 1:4 Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

1Jo 1:5 Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

1Jo 1:6 As ons beweer dat ons aan Hom deel het (gemeenskap OAV), en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.

1Jo 1:7 Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

1Jo 1:8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.

1Jo 1:9 Maar as ons ons sondes bely- Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

1Jo 1:10 As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.