BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Calvyn. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Calvyn. Wys alle plasings

Dinsdag 14 Mei 2013

CALVYN VOL VREUGDE

- wat is die feite?

Onlangs moes ek die volgende hooghartige beskuldiging teen Calvyn hoor : “Hierdie knaap het nie veel joy in sy lewe gehad nie.” Die “kenner” wat hierdie uitspraak oor Calvyn maak is ene Eben Swart. Al Eben se ander uitsprake eers daargelaat; is dit regtig so dat Calvyn ‘n vreugdelose mens was? 

‘n Bekende aanhaling uit Calvyn se werk klink so : “There is not one blade of grass, there is no colour in this world that is not intended to make us rejoice.” Vreemd vir iemand wat nie vreugde sou geken het nie? 

Calvyn was ‘n nugtere gebalanseerde teoloog. Al het hy homself verlustig in die heerlike wese van God, het hy nie met sy kop net in die hemel geleef nie, maar praat ook oor ons houding teenoor die huidige lewe op aarde in Hoofstuk 10 van sy Institusie (boek 3) en wys daarop dat God se gawes tot ons voordeel geskep is. Hierdie voordeel gaan nie net daaroor dat God in ons noodsaaklike basiese behoeftes wil voorsien nie, maar ons ook met sy goeie gawes wil blymaak. Calvyn skryf byvoorbeeld oor iets baie aards soos kos : “As ons dan nadink oor wat sy doel was toe Hy voedsel geskep het, sal ons vind dat Hy nie alleen ons behoefte nie, maar ook ons genot en vrolikheid in ag geneem het.” Die implikasie is, ons mag lekker kos geniet, ons mag daaroor bly wees! 

Dis natuurlik maklik om vol blydskap te wees as alles goed gaan. Die kwaliteit van ware vreugde word juis getoets as dinge sleg gaan. Calvyn is aan die einde van sy lewe deur ‘n verskeidenheid siektes geteister onder andere ‘n maagsweer en ‘n niersteen. Hy is op 27 Mei 1564 oorlede. 

Theodore Beza beskryf ‘n insident op 10 Maart toe hy ‘n besoek aan die siek Calvyn gebring het. “Ons het hom daar aangetref terwyl hy geklee by sy tafeltjie sit waar hy gewoonlik geskryf en nagedink het. Toe hy ons sien, het hy sy kop op sy een hand laat sak soos hy gewoonlik gedoen het wanneer hy iets oorpeins, en ‘n tyd lank stilgebly. Uiteindellik het hy met ‘n gebroke stem en met ‘n lieflike gelaat wat van vreugde straal, gesê: My geliefde broeders ek is julle baie dankbaar vir julle bekommernis oor my...” 

Op die 2 de April is ‘n baie siek Calvyn op ‘n stoeltjie in die kerk ingebring. Hy het vir die hele preek gebly en ook nagmaal gebruik wat hy uit Beza se hand ontvang het. Beza lewer die volgende kommentaar : “En hoewel dit met ‘n bewende stem was, het hy die lofsang saam met die ander met so ‘n gesigsuitdrukking gesing dat die tekens van blydskap duidelik op sy sterwende gelaat geskitter het.” 

Calvyn was beslis vreugdevol, hoe dan anders? Hy het immers proefondervindelik die genade van ‘n soewereine God beleef! Ware vreugde was vir Calvyn iets anders as bloot die plesiere van hierdie wêreld, maar ‘n vaste blydskap gebou op God. Daarom kan slegs gelowiges wat vergenoegdheid beleef in God se genade, waarlik en volmaak gelukkig wees! 

Calvyn verduidelik dit in sy kommentaar op Psalm 16:11 wat in die OAV so lees : “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.” Die KJV praat van “fulness of joy” 

"When God is reconciled to us, we have all things which are necessary to perfect happiness. The phrase, the countenance of God, may be understood either of our being beheld by him, or of our beholding him; but I consider both these ideas as included, for his fatherly favor, which he displays in looking upon us with a serene countenance, precedes this joy, and is the first cause of it, and yet this does not cheer us until, on our part, we behold it shining upon us. 

By this clause David also intended distinctly to express to whom those pleasures belong, of which God has in his hand a full and an overflowing abundance. As there are with God pleasures sufficient to replenish and satisfy the whole world, whence comes it to pass that a dismal and deadly darkness envelopes the greater part of mankind, but because God does not look upon all men equally with his friendly and fatherly countenance, nor opens the eyes of all men to seek the matter of their joy in him, and no where else? 

Fulness of joy is contrasted with the evanescent allurements and pleasures of this transitory world, which, after having diverted their miserable votaries for a time, leave them at length unsatisfied, famished, and disappointed. They may intoxicate and glut themselves with pleasures to the greatest excess, but, instead of being satisfied, they rather become wearied of them through loathing; and, besides, the pleasures of this world vanish away like dreams. David, therefore, testifies that true and solid joy in which the minds of men may rest will never be found any where else but in God; and that, therefore, none but the faithful, who are contented with his grace alone, can be truly and perfectly happy. (Commentaries) "

Ek wonder, kan Calvyn se kritici getuig van hierdie versadiging van vreugde?...en ja, moet mens nie maar eers deeglik navorsing doen voor mens met wilde uitsprake kom nie? 

* Eben is blykbaar is op ‘n kruistog om alle kerke, leraars en selfs die reformatore verdag te maak deur hulle aan Vrymesselary te koppel. Nou verstaan my goed, ek was en is nog altyd openlik uitgesproke teen alle geheime organisasies en ook Vrymesselary (die kernboosheid van Vrymesselary is dat dit die uniekheid van Jesus as enigste Weg na God ontken – iets waaraan baie hedendaagse teoloë ook skuldig is), maar Eben haak bietjie uit met sy bewerings en assosiasies, soveel so dat dit klink asof hyself die enigste nie-vrymesselaar op aarde is. ‘n Mens kan vanselfsprekend nie juis veel historiese insig en teologiese beheersdheid verwag van iemand, wat Calvyn, “ ‘n knaap” noem nie. Eben is soos iemand wat nie kan krieket speel nie en net wild met ‘n kolf swaai en tog wel hier en daar ‘n bal raakslaan en selfs vir ‘n ses moker. (want hy sê waar dinge ook!)

Een van Eben se aanvegbare bewerings is dat Suid-Afrika slegs plaaslike herlewings beleef het (weens die invloed van vrymesselary in ons geskiedenis), anders as ander lande. Wel, Suid-Afrika het inderdaad al ‘n groot herlewing beleef. Wat van die 1858-1862 herlewing? En dit was juis ondere andere in die Kaap in gemeentes waar Ds Andrew Murray en GWA van der Lingen gearbei het, wat deur Eben beskuldig word dat hulle Vrymesselaars was. Selfs ook die Zoeloe en Xhosa bevolkingsgroepe het herlewing beleef. Vrymesselaarsinvloed in Suid-Afrika is ‘n feit, maar dis nie meer as in ander lande soos byvoorbeeld die VSA nie, soos duidelik blyk uit die volgende inligting uit National Geographic: “Prominent Freemasons like Ben Franklin and George Washington played essential roles in the American Revolution. And among the ranks of Freemasons are 9 signers of the Declaration of Independence and 13 signers of the Constitution.” 

Maandag 10 Desember 2012

KNOPE IN DIE KERSKOUS

- nugter nagedink oor 25 Desember.

Ek het groot waardering en respek vir God se kinders wat radikaal heilig wil lewe en in alle dinge die wil van God eerste probeer stel.  Dis immers in ooreenstemming met  die duidelike opdrag in 1 Petrus 1:16 “Wees heilig, want Ek is heilig!”  Aan die anderkant is daar wel ook Christene wat ‘n behae daarin skep om hare te kloof en andere skuldig te laat voel oor nietige randsake. (moontlik as gevolg van onkunde) 

Een so ‘n saak is die vraag :



“Mag ‘n Christen Kersfees vier?”



VASTE FEITE

Kom ons begin met die nugtere stel van ‘n paar feite wat vas staan en waaroor almal behoort saam te stem :  

Feit nommer een is : Jesus is nie op 25 Desember gebore nie. Verder:
Die groot meerderheid van mense op aarde vier Kersfees op ‘n goddelose en Godonterende manier (met vreet op aarde in plaas van vrede op aarde)* 
Daar is geen Bybelse bevel om Kersfees as ‘n feesdag te vier nie. 
Daar is wel duidelike Skrifgedeeltes wat die geboorte/menswording van Jesus beskryf. 
Daar is wel toegewyde gelowiges wat Kersfees vier op ‘n Godverheerlikende wyse. 
Daar is ook opregte Christene wat niks met Kersfees te doen wil hê nie en dit as deur en deur heidens beskou.

Uit bogenoemde is dit klaar duidelik dat Christene verdeeld is oor hierdie saak. Selfs onder Christene met sterk Calvinistiese oortuigings is daar nie eenstemmigheid nie. Uitgesproke Calvinste soos die bekende CH Spurgeon en AW Pink was teen Kersfees gekant. Calvyn self se siening kan dalk vir baie ‘n verrassing wees. Calvyn het nie die viering van Kersfees, Goeie Vrydag, Paasfees, Hemelvaart en Pinkster verbied nie. Farel sy voorganger in Geneve het dit verban. Calvyn het hulle egter oortuig om dit weer in te stel. Later toe die Geneefse owerheid wel besluit het om die feeste af te skaf is Calvyn egter daarvoor die skuld gegee. In ‘n brief aan sy vriend Haller in Bern het hy dit baie duidelik gestel dat hy nie die afskaffing van Kersfees ondersteun het nie. Iemand het Calvyn se posisie so opgesom : kerke het die vryheid om hierdie feeste met matigheid te vier solank dit tot die opbou van gelowiges dien.

Waarom voel sommige so sterk teen Kersfees?

BESWARE TEEN KERSFEES

1. Kersfees is ‘n oorgawe aan naakte materialisme en hedonisme. Dis moeilik om hierteen te stry. Min dinge is seker so irriterend vir ‘n Christen se ore as “Jingle Bells” wat in ‘n groot afdelings winkel blêr terwyl als rondom jou skreeu teen die boodskap van Jesus en sy nederige menswording en almal daarop uit is om met een of ander reklamefoefie die laaste sente uit jou sak te roof. Met so ‘n geld en plesiergedrewe Kerfsees kan geen kind van God vrede hê nie. Die misbruik van ‘n saak hef egter nie noodwendig die regte gebruik op nie. ‘n Kersfees waar ‘n gesin saam rondom die Woord weer nadink oor die wonder van Jesus se menswording en in vrede en blydskap saam ‘n maaltyd nuttig is seker ‘n heel ander saak.

2. Kersfees se oorsprong is duidelik heidens en het niks met Jesus Christus te doen nie. Daar is ‘n sterk anti Kersfees gevoel by ‘n groep Christene wat baie uitgesproke is oor  hierdie saak. So hoor mens sterk bewoorde uitsprake soos die volgende :

“What many in Christendom have been celebrating--Christmas--is a thoroughly pagan holiday--in its origin, in its trappings, and in all its traditions . . . . The modern conservative cry to put Christ back into Christmas is absurd. Jesus Christ was never in Christmas.”  Vir sulke mense is Kersfees inherent boos en goddeloos en maak dit geen sin om dit eers te probeer reg vier nie.

Die besware rondom die heidense karakter van Kersfees gaan oor die beweerde worteloorsprong vanuit die heidendom, die datum van 25 Desember en heidense gebruike wat daarmee gepaard gaan.

Die meeste van hierdie argumente gaan terug op die tesis van die Skotse Pesbiteriaan Alexander Hislop in sy bekende  werk : “The Two Babylons”  Hiervolgens is die Roomse kerk ‘n direkte uitvloeisel van die heidendom van antieke Babilon wat deur Nimrod en sy vrou Semiramis  begin is. Hierdie tesis van Hislop het wyd bekend geraak, maar daar bestaan ernstige kritiek teen sy veronderstellings. (Sien voetnoot **)
DATUM

Kom ons kyk bietjie na die kwessie van die datum. Waarom het die kerk, wat tog moes geweet het dat Christus nie op 25 Desember gebore is nie, op hierdie datum besluit?
Sedert die tyd van die Romeinse keiser  Elagabulus (218-222), is die afgod Sol Invictus (die onoorwinbare songod) as een van die vernaamste Romeinse gode vereer.  Toe keiser Aurelius (270-275) aan bewind gekom het, het hy gepoog om die aanbidding van die son as hoofgod te herstel.  Sol het saam met die god Jupiter op muntstukke verskyn. 25 Desember is herdenk as die geboortedag van die songod. (natalis solis invicti). Die songod is ook geïdentifiseer met Mithra ‘n Persiese god en heidense feeste is wyd oor die ryk heen gevier op 25 Desember.  Een teorie is dat die kerk in Rome doelbewus hierdie datum gekies het as ‘n teenvoeter vir die fees van die heidense songod en mense se aandag eerder te vestig op die “Son van geregtigheid” (Maleagi 4:2)  In die loflied van Sagaria lees ons immers ook van God se genade in Jesus die volgende “Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal.” (Lukas 1:78) Daar is nie direkte bewys vir hierdie teorie nie, maar daar is preke van die Kerkvaders (byv. Augustinus) wat hierdie gedagte opper.
SKULDIG DEUR ASSOSIASIE?

Presies waarom die geboorte van Christus op 25 Desember gevier word is nie seker nie, maar die vraag is : Maak dit saak?  Gaan dit nie eerder oor die inhoud van wat ons herdenk nie? ‘n Mens moet pasop vir ‘n skuldig deur assosiasie redenasie. Ons gedenk die opstanding van Jesus op ‘n Sondag, wat in die Romeinse tye ‘n dag was wat vernoem is ter ere van (weereens) die songod! Mag ons dan daarom nie op die Sondag Jesus se opstanding vier nie? “Dis wat ons nog altyd vir julle gesê het”, sal die Sewendedaagse Adventiste nou weer uitroep. Maar om volgens hierdie redenasie ons erediens na die Saterdag te skuif laat ons weereens met ‘n soortgelyke probleem. Saterdag is deur die Romeine vernoem na die god Saturnus! Waar laat dit ons? Waarskynlik het al ons weeksdae se name ‘n heidense konnotasie.
Dit gaan tog nie oor die dag se naam of vroeëre konnotasies nie. Dit gaan oor wat ons nou op daardie dag doen en glo!
Die heidene het nie alleenreg op sekere dae of simbole nie!
 ‘n Ander beswaar wat dikwels  teen Kersfees ingebring word is die sterk ooreenstemming wat gebruike soos die Kersboom toon  met heidense feesgebruike. Die gebruik van geskenke gee kom blykbaar van die Romeinse Saturnaliafees wat van 17-24 Desember plaasgevind het. Wat moet ons met al hierdie dinge maak? Ooreenkomste dui nie noodwendig op dieselfde afkoms en nog minder op dieselfde betekenis! (As ‘n bygelowige mens ‘n uil hoor skree, ruik hy ‘n voorbode, maar ek hoor maar net nog ‘n voël.) Juis hierom moet ons mekaar die vryheid gun oor hoe  elkeen die menswording van Jesus wil gedenk (Ek persoonlik vind Vader Kersfees maar ‘n grillerige figuur en maak nie my kinders saam met hom groot nie, maar aan die anderkant voel ek nie dis verkeerd om vir my kinders geskenkies te koop nie.) Ons is mos vry om nie in uitspattigheid te verval soos die goddelose wêreld rondom ons nie. Ons is ook vry om gebruike wat ons ongemaklik te maak weg te laat.  As die heidene iets gebruik beteken dit tog nie noodwendig dat ons dit met dieselfde motiewe of betekenis te gebruik nie.  Heidense mense braai ook vleis, beteken dit dat ek nie meer mag vleisbraai nie?
Ooreenstemmende kulturele gebruike het vir verskillende kulture en gelowe verskillende betekenisse.  Heidennasies het ook die besnydenis beoefen (en doen dit nog steeds) maar dit maak nie die besnydenis wat Abram en sy nageslag in opdrag van God moes beoefen tog heidens nie? Net so maak die feit dat die Roomse kerk Kersfees vier dit nie noodwendig verkeerd nie. Ons deel baie waarhede met die Roomse kerk soos byvoorbeeld die leerstuk oor die Drie-eenheid. 
Watter heidense wortels daar ook in Kersfees mag wees, dit lê so ver terug dat dit vir die meeste van ons totaal die oorspronklike heidense betekenis verloor het. Wat my betref is die moderne heidense gebruike van uitspattigheid en materialisme ‘n baie groter gevaar as ‘n versierde kersboompie. (Sien voetnoot ***)
3. Die viering van Kersfees is ‘n oortreding van die sogenaamde “regulative principle”  Dis ‘n beginsel wat funksioneer in die gereformeerde denke wat behels dat ons God net mag aanbid volgens dit wat Hy duidelik in sy Woord beveel. Omdat daar nêrens in die Bybel ‘n opdrag gegee word om Kersfees te vier nie, sou ons dit nie mag doen nie en kom dit volgens sommige neer op valse “goue kalf aanbidding”. Ek is van mening dat die “regulative principle” te ver gevoer kan word. Dis ‘n kosbare beginsel, maar ons moet ook nou nie weghardloop daarmee nie. Die oprigting van kerkgeboue, die aanbied van Sondagskool en ‘n menigte ander normale kerklike gebruike is nie direkte opdragte van die Skrif nie – is al hierdie dinge dan verkeerd? Die feit is dat die geboorteverhale en ander gedeeltes wat handel oor die menswording van Christus deel is van die Skrif en as sodanig dus tog bedoel is om voorgelees te word as deel van ons aanbidding. Is dit verkeerd om op daardie gedeeltes te konsentreer op ‘n sekere tyd van die jaar? Die kerk beweer nie Kersfees is  ‘n spesiale heilige dag met enige magiese betekenis of krag nie, maar bloot ‘n tyd van die jaar wat ons benut om een van die groot heilsfeite, die menswording van God se Seun te herdenk en te verkondig tot opbou van Christus se gemeente. Sover ek weet dwing geen kerk sy lidmate om Kersfees te vier nie, en dis ook reg so.

RUSTIGE RIGLYNE


  • Christene is vry om Kersfees te vier of dit nie te vier nie. Die beginsels van Romeine 14 kan gerus in gedagte gehou word. Vers 5 : “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe veel belangrik.” Laat ons elkeen handel volgens die lig wat ons het en die innerlike oortuiging wat die Heilige Gees ons gee vanuit ons besigwees met die Skrif. 

  • Christene wat Kersfees vier behoort dit so in te rig dat dit sal pas by die saak waaroor dit gaan, naamlik Jesus se menswording en selfvernedering met die oog op ons verlossing. Dis ‘n saak van blydskap (soos die engelekoor dit verstaan het) en kan met vrolikheid gevier word sonder om toe te gee aan die materialisme, vraatsug en dronkenskap wat die wêreldlinge se jolyt kenmerk. 

  • Christene wat nie gewetensvryheid het om Kersfees te vier nie, is vry om dit nie te doen nie. (Diegene wat wel Kersfees vier moet hulle nie as belaglik of snaaks uitkryt nie.) Hulle moet hulle ook egter weerhou van verdagmakery en wilde emosionele beskuldigings teenoor Christene wat wel Kersfees vier. Om God se kinders wat Kersfees vier van sonaanbidding of Roomse dwalings te beskuldig is regtig onbillik en liefdeloos, meer nog dis blatant oneerlik.

Geseënde Christusfees!

[Persoonlik het ek geen beswaar om Kersfees te vier nie. Dis 'n geleentheid om die menswording van Jesus te vier en die evangelie van Immanuel te verkondig. Wat ek wel verafsku is "kersvaders" (ek het nooit my kinders daaraan blootgtel nie), maar oor geen van hierdie sake soos kersbome en versierings sal ek hare kloof nie. Ek dink die gemiddelde fliek waarna mense deesdae op TV kyk met al die wellus en geweld is meer afbrekend as enige kersvader en sy slee... Dis dalk oor ons TV's wat ons bekommerd moet wees"]


VOETNOTE

*Raakgelees in ‘n Nederlandse gedig

**Dr. Richard P. Bucher gee die volgende kommentaar op Alexander Hislop se tesis in “The Two Babylons”
It was Hislop's thesis that the Roman Catholic Church was a direct descendent of the paganism of Nimrod and ancient Babylon. One of his arguments was that some of the chief holy days of the Roman Catholic Church, such as Christmas, prove this to be so. The stamp of Hislop's thesis is found all over most of the anti-Christmas literature that I've seen. But is his argument sound?
Hardly. I have no doubt that Hislop consulted a vast amount of sources in writing his book. This is obvious in reading it. But some of its key arguments are flawed. He makes many philological leaps of faith to prove his points. For example, his entire argument rests on making the Babylonian "Ninus" the same person as the Biblical "Nimrod." (Nimrod is mentioned in only three places in the Scriptures, Gen. 10:8-12, 1 Chr. 1:10, and Micah 5:6). Only then can he claim that the wife of Nimrod was Semiramis, and that both were worshiped as divine mother and son, etc. Hislop himself recognizes how important this is, in this very interesting sentence:
Now, assuming that Ninus is Nimrod, the way in which that assumption explains what is otherwise inexplicable in the statements of ancient history greatly confirms the truth of the assumption itself (The Two Babylons, 25).
Got that? The point is that this turns out to be a big assumption. In other ancient literature, the father of Ninus was Bel, and it is said that he built the city of Nineveh. The Bible on the other hand says that Nimrod built Nineveh, and that Cush was his father. The way in which Hislop attempts to reconcile this contradiction is a truly remarkable example of literary gymnastics that is hardly convincing. He argues that Bel is the same as Hermes/Mercury, and the same as Janus/Chaos, which is the same as Cush. Right. (See for yourself by reading the "The Two Babylons," 25-29).
It is possible that Nimrod, the grandson of Cush, led people into pagan worship. But the argument that all paganism, and especially that all pagan festivals at the time of the winter solstice, can be traced back to Nimrod, just doesn't hold. To say it is a scholarly stretch is an understatement. Yet most of the "Christmas is pagan" literature bases its arguments on Hislop's thesis.
Hislop se boek is baie gewild by sekere groepe wat die kerk verdag wil maak en word gereeld aangehaal. Daar is egter ernstige bedenkinge oor die boek. Sien verder “The Babylon Connection?” deur Ralph Woodrow
*** I sympathize with those who want to be rigorously and distinctly Christian, who want to be disentangled from the world and any pagan roots that might lie beneath our celebration of Christmas, but I don't go that route on this matter because I think there comes a point where the roots are so far gone that the present meaning doesn't carry the pagan connotation anymore. I'm more concerned about a new paganism that gets layered on top of Christian holidays. (John Piper)

NASKRIF

Hierdie nederige Blog is nou net bietjie meer as 'n jaar aan die gang. Die  eerste  twee "posts" het op 8 Desember 2011 verskyn, naamlik WAS DIT REGTIG GOD SE WIL? en SPOKE EET NIE VIS NIE. 

Ek geniet dit baie om hierdie stukkies te skryf en te sien hoedat daar besoekers van dwarsoor die wêreld kom inloer. Die meeste gaste is natuurlik van Namibia en Suid-Afrika, maar daar is ook gereeld besoeke uit New Zealand, Rusland, Duitsland, die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australie en Rusland. Ook  was daar al besoeke uit Nederland en Frankryk en selfs uit Israel, Madagaskar, Swaziland, Qatar, Sjina, Suid-Korea, Argentinie, Swede, Ukraine, Malawi, Oostenryk, Sierra-Leone... Dankie vir julle ondersteuning. Ek sal graag van julle wil hoor...



Op Bray het ons 'n Kameeldoring, kersboom gehad!

Woensdag 04 Julie 2012

VAS IS NIE IETS VREEMDS NIE


- dis ‘n intense uitdrukking van verlange na God.

Is vas nie ‘n Roomse uitvindsel nie? Nee! (Calvyn praat ook positief oor vas) Nou waarom vas ons dan selde of nooit?

ONS GEMAKSUG

Vas is ongetwyfeld een van die geestelike dissiplines wat die meeste deur ons verwaarloos word. Dit ten spyte van die feit dat dit met groot vrug en seën deur gelowiges in beide die Ou  en Nuwe Testament beoefen is. Jesus self het ook gevas. (Matt 4:2) Waarom het dit dan vir die meeste van ons so iets vreemds en ongewoon geword? Een moontlike rede is dat daar geen direkte opdrag in die verband aan die kerk gegee is nie. Die grootste rede vir ons laksheid hiermee is waarskynlik eerder te vind in ons gemakstoel Christenskap, wat maar taamlik kopsku is vir die begrippe opoffering en selfverloëning. Vir hierdie gemaksug betaal ons ‘n hoë prys in terme van gebrekkige toewyding met karige vrug as die gevolg. As ons werklik kerk wil wees volgens die Nuwe Testamentiese  model het dit dalk tyd geword om weer na te dink oor en erns te maak met vas.   

WAT IS VAS?

Vas sou breedweg gestel, beskryf kan word as ‘n vrywillige afstand doen van normale regte (voorregte) ter wille daarvan om myself toe te wy aan intense geestelike aktiwiteit soos byvoorbeeld gebed en verootmoediging. Dit gaan dus nie net altyd eksklusief oor  kos nie.* (Dink byvoorbeeld aan 1Kor. 7:5 - waar dit oor tydelike seksuele onthouding binne die huwelik gaan) Prakties gestel : om myself doelbewus die kyk van ‘n rugbywedstryd op ‘n Saterdagmiddag te ontsê, sodat ek daardie tyd aan gebed kan wy, sou beslis as ‘n beperkte vorm van vas beskou kon word. (Dis miskien ‘n vas wat Suid-Afrikaners en Namibiërs dalk dringend nodig het!) Nietemin, gaan dit in die Bybel hoofsaaklik (wat die uiterlike betref) oor die onthouding van kos. In die Skrif vind ons verskeie variasies ten opsigte van die praktiese inkleding van vas. Dit kan die onthouding behels van kos alleen of kos en water (Esra 10:6; Hand 9:9) of net sekere soorte kos. (Dan 10:3). Vas is ‘n persoonlike saak wat in privaatheid beoefen moet word (Matt 6:16-18), maar daar is ook so iets soos gesamentlike vas.  (Joël 2:15-16; Nehemia 9)

Vas is ongetwyfeld in lyn met suiwer diens aan ons Verlosser, maar dit val binne in die raamwerk van ons Christelike vryheid. Dis 'n saak wat ons voor God  uitmaak. Ons vas het dus niks in gemeen met die Moslems se voorskriftelike verpligte vas tydens Ramadan nie!

VAS VIR DIE REGTE REDES

Vas wat nie in opregtheid volgens Bybelse gronde en beginsels beoefen word nie, kan maklik ontaard in ‘n ernstige frustrasie (al waarvan ek bewus is, is my skreeuende maag) of nog erger ‘n stuk selfgesentreerde bygeloof.  Vas mag nie ‘n manier wees waarmee ek  God se arm probeer draai om aan my selfsugtige wense te voldoen nie. Vas is dus nie soos ‘n eetstaking waardeur gevangenes sekere versoeke wil afdwing nie!  Nog minder kan vas opsigself my gebroke verhouding met God herstel.  (Sonder saligmakende geloof in Jesus  is vas maar net nòg ‘n poging van die sondige mens om sy eie geregtigheid voor God te probeer oprig)  Om hierdie slaggate en skeeftrekkings te vermy is dit belangrik dat ons die Bybelse motiverings en voorskrifte vir vas sal begryp.        

BYBELSE REDES WAAROM ONS BEHOORT TE VAS

Dit blyk Jesus verwag dat ons sou vas. Net soos gebed en liefdadigheid is vas ook ‘n godsdienstige aktiwiteit. In Matteus 6:1ev spreek Jesus die wanpraktyke en misbruik ten opsigte van hierdie aktiwiteite aan, maar dit beteken nie dat Hy die regte gebruik daarvan verbied of geringskat nie. Trouens Hy gee verder duidelike riglyne vir die regte beoefening van gebed, maar ook vir vas. (Matt 6:16-18) Uit Matteus 9:14-15 sou mens ook kon aflei dat Jesus verwag dat die kerk na Sy hemelvaart sou vas.  Hierdie is ‘n kernbelangrike gedeelte om vas binne die konteks van die kerk van Jesus te verstaan. Toe Hy op aarde was het sy dissipels nie gevas soos Johannes se dissipels en die Fariseërs nie. Dit sou mos geen sin maak nie, want Jesus was dan tasbaar by hulle! Jesus verduidelik dan op ‘n vraag hieroor dat daar wel ‘n tyd sal kom wanneer ons Bruidegom nie by ons sal wees nie. Dan sal sy volgelinge wel vas. 
Hieruit kan ons ten minste twee belangrike waarhede aflei: 

Eerstens - Jesus het voorsien dat die kerk sou vas. Tweedens - Die essensie van vas gaan oor ‘n vurige verlange na  Jesus se teenwoordigheid en werksaamheid in ons lewens. Die behoefte aan vas sal dus eers by Sy wederkoms verdwyn

VAS GAAN OOR ‘N BEHOEFTE AAN BESONDERE GEMEENSKAP MET DIE BRUIDEGOM JESUS,  TYDENS SY AFWESIGHEID!!

Dis ‘n hulpmiddel in ons kommunikasie met God.** Dis vir ons as sterflike mense nie so maklik om ons diepste gedagtes aan die onsigbare God oor te dra nie. Dis ‘n frustrasie waarvan ook Paulus bewus was - “ons weet nie hoe om te bid nie” (Rom 8:26) Natuurlik, weet God wat ons bedoelings is, maar vir ons bly dit ‘n probleem om daaraan uitdrukking te gee. In hierdie opsig kan die gebruik om te vas nuttig te pas kom. Deur te vas gee ons uitdrukking aan ons diepste hartsingesteldheid teenoor God. So kommunikeer en demonstreer  ons iets van ons innerlike versugtinge aan God. Daar is ten minste vier aspekte van ons hartsgesindheid teenoor God wat uitdrukking in vas vind :
~ dis ‘n praktiese uitdrukking van selfverloëning, wat ‘n onmisbare deel van dissipelwees uitmaak.
~ aansluitend by bogenoemde is opregte vas ‘n uitdrukking van nederige verootmoediging. (Esra 8:21)
~ dis ‘n manier om ons algehele afhanklikheid van God te bely. (Esra 8:21-22) 
~ opregte vas is ‘n bewys van ons erns wanneer ons God in die gebed nader. (Daniël 9:3 saam met die gebed wat daarop volg is ‘n goeie voorbeeld van sulke erns. Lees asseblief hierdie intense smeekgebed van Daniël aandagtig deur. Wil jy nie ook vir die verwoeste kerk van ons dag intree met vas, gebed en smeking nie?) Vas is ‘n intensifisering van gebed! Dis ‘n liggaamlike uitroepteken wat die erns van my innerlike versugtinge voor God sigbaar wil stel. (Piper)***

Daar is spesifieke tye en omstandighede waartydens vas ‘n belangrike en effektiewe rol kan speel as ‘n genademiddel wat God vir ons gee.  Voorbeelde in die Skrif is o.a. die volgende:
~ tye van verootmoediging en berou. (1 Samuel 7:6)
~ wanneer ons in belangrike sake die Here se leiding, hulp en seën soek. ( 2 Kron 20:3; Hand 14:23)
~ as ‘n uitdrukking van diens en aanbidding van God.  (Lukas 2:37; Hand 13:2)

DIE NOODSAAK VAN VAS IN ONS DAG 

Net soos prediking en die sing van lofliedere, wanneer dit nie volgens die voorskrifte van die Skrif en vanuit suiwere motiewe beoefen word nie, kan ontaard in nuttelose mensgemaakte rituele,  is dit natuurlik ook die geval met vas. Vas opsigself is vir seker geen kortpad manier of resep om ons geestelik reg te ruk of die Here se seën te ontvang nie. Daar is geen outomatiese of meganiese seën aan vas as sodanig verbonde nie. Soos mense tevergeefs bid, omdat hulle met die verkeerde gesindheid  en motiewe bid, is dit ook moontlik dat mense se vas onaanvaarbaar vir die Here kan wees en dus op ‘n tevergeefse oefening kan uitloop. Hieroor is die volk Israel baie duidelik gewaarsku: “As hulle vas, luister Ek nie na hulle gesmeek nie...” (Jeremia 14:12) Vas is vir die Here slegs aanneemlik wanneer dit met hartgrondige bekering tot geregtigheid, erns en opregtheid gepaard gaan.  “Is die vas wat Ek wil hê nie dit nie: om die wat onregverdig gevange gehou word te bevry, om die juk wat op mense druk af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie” (Jesaja 58:6,7 NAB) Woorde wat voorwaar diep sny!

Die verkeerde gebruik van iets hef egter nie die verpligting tot die regte gebruik daarvan op nie. Ons kan tog nie ophou bid of sing omdat daar baie valse gebed en aanbidding is nie. Ons behoort dus ook erns te maak met vas in ooreenstemming met die Bybelse riglyne in die verband.

Vas is nie ‘n meganiese alledaagse ritueel nie, maar word as’t ware deur die bepaalde uitdagings en behoeftes van ‘n sekere tyd en omstandighede genoodsaak. Dit kom duidelik na vore uit die Skrif voorbeelde waarna ons gekyk het. Die toestand van die kerk en die wêreld, die uitdagings waarvoor ons as Christene in hierdie dae te staan kom (beide persoonlik en as gemeente van Jesus) vra duidelik dat ons ons tot God sal moet wend in vas en gebed. Vir ‘n vas wat ‘n egte uitdrukking is van selfverloëning, nederigheid, afhanklikheid van God en heilige erns is daar beslis ‘n plek. Onthou weer : ONS VAS OMDAT ONS ‘N DIEP BEHOEFTE HET AAN ONS VERLOSSER!

Is daar ‘n grondige rede om nie te vas nie? Kom ons dink mooi...


*Martin Lloyd-Jones oor vas in sy “Sermon on the Mount”:

“Fasting, if we conceive of it truly, must not . . . be confined to the question of food and drink; fasting should really be made to include abstinence from anything which is legitimate in and of itself for the sake of some special spiritual purpose. There are many bodily functions which are right and normal and perfectly legitimate, but which for special peculiar reasons in certain circumstances should be controlled. That is fasting.”

** Calvyn oor vas in sy Institusie IV.12.14,15 :

“Laat ons dus ‘n ietsie oor die vas sê omdat die meeste mense van oordeel is dat dit nie noodsaaklik is nie omdat hulle nie begryp watter voordeel dit inhou nie. Sommige mense verwerp dit heeltemal as iets wat oorbodig is en omdat die gebruik nie so goed bekend is nie, verval dit maklik in bygeloof.

“Die heilige en wettige vas het drie doelstellings. Ons pas dit trouens toe om maer te word en ons vlees te onderwerp sodat dit nie uitspattig word nie, óf om beter voorberei te wees vir gebede en heilige oordenking, óf om as getuienis te dien van ons ootmoed (berou) voor God wanneer ons ons skuld voor Hom wil bely.”

***John Piper oor vas :

“I pointed out... from Acts 13:1–3 that the course of history was changed when the leaders of the church in Antioch were worshiping, praying, and fasting. I suggested that in our day there has been reawakening in worship around the world and reawakening in prayer around the world. But not yet does there seem to be a reawakening in fasting, except in some places like Korea. I asked, Might God not ordain that his fullest blessings will come to the church when we prevail in prayer with the intensity of fasting? That's what I think fasting is at heart. It's an intensification of prayer. It's a physical explanation point at the end of the sentence, "We hunger for you to come in power." It's a cry with your body, "I really mean it, Lord! This much, I hunger for you." 

Vrydag 04 Mei 2012

"U"-DRAAI IN DIE BINNEKAMER

- rewolusie teen die “Eie Ek”

Die Onse Vader is oorbekend, maar ek wil jou uitdaag om weer ‘n slag eerlik hierna te kyk...en meer nog, dit opreg te bid voor die aangesig van God! Dis ‘n stuk Goddelike dinamiet wat alle mensgerigte godsdiens en selfsug aan flarde skiet! Wie dit opreg bid beleef ‘n rewolusie in sy hart, want dit onttroon die “Eie Ek” So maak ek  ‘n opregte oorgawe aan God my Verlosser. Hierdie is nie maar ‘n mooi rympie wat ons denkloos kan voortbabbel nie, dis ‘n lewensveranderde gebed. Dit trek ‘n duidelike streep tussen selfgerigte menslike godsdiens en ware Godgesentreerde aanbidding! Wie dus die Onse Vader opreg kan bid is besig met ware aanbidding. Wie wegskram van die Onse Vader se implikasies beweeg in die rigting van vals aanbidding. Ons gaan nou net stilstaan by die eerste drie bedes (Matteus 6:9,10) en spesifiek by die betekenis en die implikasies van die kort voornaamwoord “U”. 

Dis die fokus: Nie ek nie, maar U! 

Nie my Naam nie, maar U Naam! Nie my koninkryk nie, maar U koninkryk!  Nie meer my wil nie, maar U wil!  Dit kom neer op ‘n “U draai” - weg van mensgesentreerdheid na Godgesentreerdheid! Kom ons kyk na ‘n paar praktiese implikasies:

Die erkenning van die voorrang van Sy Naam, Sy koninkryk, Sy wil. God se Naam, koninkryk en wil kom eerste. Dis die belangrikste! Sien ons die prioritet van God se Naam, m.a.w. sy reputasie  en eer raak? Esegiël 36:20-23 wys hoe belangrik dit vir God is. (lees) Besef ons dat die koms van God se koninkryk belangriker is as enige ander saak, ambisie of projek? God se koninkryk is die wenperd!   Wie sy hoop op iets anders stel gaan verloor. Net God se koninkryk het werklike waarde, alle menslike aspirasies en prestasies gaan verkrummel. (Dink maar aan die beeld wat Nebukadneser in sy droom gesien het) Tel God se koninkryk vir jou meer as jou sportprestasies, rykdom en persoonlike belange? Glo ons dat God se wil die hoogste en volmaakste uitdrukking is van wat goed is?  Net God se wil is perfek. God se wil  en geen mens se opinie nie, ook nie die meerderheid se opinie nie, is die enigste norm in die heelal. Wat die res van die mensdom en sy modes sê dra geen gewig nie! Ware heiligheid word gemeet aan onderwerping aan God se wil. Hiervan is Jesus se gebed in Getsemane die uiterste voorbeeld : “...nogtans nie my wil nie, maar U wil.”

Die prysgawe en afstand doen van my naam, my koninkrykie en my sondige wil. Dit gaan in die Onse Vader oor ‘n  keuse teen myself, en vir God. Vir God se eer, vir God se koninkryk, vir God se wil. Dit sal elke ander  keuse beïnvloed wat ek maak. “Hoe raak dit hierdie ding wat ek wil doen, hierdie vriendskap, hierdie planne... ?” Wie eerlik die Onse Vader bid, ondergaan dus ‘n pynlike bekering, ‘n doodmaak van die self, maar ek beleef juis ook ‘n wonderlike bevryding - ek hoef nie meer angstig te wees oor my naam en reputasie en my eer nie, ek hoef nie meer met hand en tand te veg vir my ou klein koninkrykie (dit kan my gemeente, my plaas, my besigheid, my ego...wees) en sy belange nie, my wil hoef nie te gebeur nie, want God se wil is beter... ja, beter ook vir my, want Hy is ‘n liefdevolle Vader! ‘n Heerlike stuk gemoedsrus, ‘n vind van vrede in die volmaaktheid van God!

Die beskikbaarstelling van myself. My gebede is nie eerlik as ek dit nie self my vir die vervulling daarvan bewyer  nie. Ek moet myself beskikbaar stel vir die heiliging van God se Naam. Hoe? Deur so te leef dat almal sal sien dat God die belangrikste persoon is in my lewe. Deur so op te tree dat mense sal dink en sê : “Wat ‘n wonderlike God dien hy.” My keuses - selfs in klein sake soos kleredrag en ontspanning - moet wys dat God se waardes swaarder vir my weeg as menslike standaarde en opinies. Ek moet myself beskikbaar stel vir die koms van sy koninkryk. Ek onderwerp myself aan sy koningskap, maar moet ook prakties daarvoor werk. Deur getuienis met woorde en dade. Ek moet myself beskikbaar stel vir die bevordering van sy wil. Ek moet vra dat Hy my so deur sy Heilige Gees sal regeer dat ek dit wat God wil hê sal doen en sal liefhê. Dit beteken praktiese gehoorsaamheid aan sy Woord, al bots dit met my wil en gevoelens. “Here, ek voel nie meer lief vir hierdie vrou van my nie, maar ek sal haar liefhê, want dis U opdrag en wil! Here, ek voel nie lus om daardie ou wat my so sleg behandel het te vergewe nie, maar ek sal dit doen, want dit is wat U wil van my vra...”

Dis seker al teen hierdie tyd vir elkeen van ons duidelik. Die sondige mens kan en wil nie uit sy eie uit die Onse Vader bid nie. Ons harte is van nature net ingestel op ons eie belang, eie eer, eie gerief en op ‘n mensgemaakte plesiergerigte godsdiens. (Soos wat Israel rondom die Goue Kalf beoefen het) Hierdie gebed wys ons dus op die noodsaak van die wedergeboorte! Net as ek ‘n nuwe hart met ‘n nuwe visie ontvang het, kan ek my vereenselwig met die Onse Vader en dit opreg bid.

Hierdie eerste drie bedes het ten slotte nog die volgende praktiese nut :

‘n Toets vir die toestand van ons harte. Dis ‘n skeidsregter wat oordeel oor my diepste motiewe terwyl ek met God se dinge besig is. Dit wys uit of ek my al werklik  bekeer het van die afgode (veral die selfgod) tot die lewende God! Dit ontbloot die gruwelikste selfsug wat insluip in ons vroomste woorde en dade!

‘n Teenmiddel teen sondige hoogmoed wat hardnekkig en voortdurend in ons harte wortel skiet.. Elke keer as ek hierdie gebed opreg bid, is dit as’t ware ‘n nuwe bekering, om my opnuut in nederigheid  te onderwerp aan God en word hierdie onkruid uitgetrek.

‘n Troos dat God die dinge waarvoor Hy wil hê dat ons bid definitief sal laatgebeur op die bestemde tyd. God sal hierdie gebed nie onbeantwoord laat nie. Al lyk die wêreld nou hoe goddeloos en chaoties, ons kan rustig weet : God se Naam sal geheilig word. Ja, elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is! God se Koningsheerskappy sal finaal heerlik sigbaar word en elke vyand sal die onderspit delf  en in die poel van vuur gewerp word. God se wil sal geskied. Elkeen van God se raadsplanne sal tot in die fynste besonderhede tot op die letter toe uitgevoer word en niemand sal dit kan dwarsboom nie.

Calvyn sluit sy bespreking van die eerste drie bedes van die Onse Vader af met ‘n klomp goue waarhede, wat mens tot diep nadenke stem:

"Wanneer ons dit bid, moet ons God se heerlikheid alleen voor oë hou, onsself nie in aanmerking neem of enige voordeel vir onsself in gedagte hê nie. Hoewel daaruit groot voordeel na ons toe kom, moet ons dit nogtans nie hier vra nie. Hoewel al hierdie dinge egter nietemin op die bestemde tyd moet gebeur, ten spyte van ons gedagtes, ons wense en ons gebede, moet ons nogtans daarvoor bid en vra. En dit is vir ons ook van groot belang om so te getuig en te bely dat ons diensknegte en kinders van God is en ons sover dit in ons vermoë is, vir hierdie eer te beywer wat ons aan Hom as ons Here en Vader verskuldig is, en ons waarlik ten volle daaraan oor te gee. Mense wat derhalwe nie met so ‘n gesindheid en met so ‘n ywer ter bevordering van God se heerlikheid bid dat God se Naam geheilig mag word, dat sy koninkryk mag kom en dat sy wil mag geskied nie, moet nie as sy kinders en diensknegte beskou word nie." (Inst.3.20.43)

Kom ons bid die Onse Vader in nederige onderwerping, maar ook met ‘n helder sekerheid en blydskap!

Saterdag 17 Desember 2011

GENEESMIDDEL VIR 'N ERNSTIGE TOESTAND!


Liefde vir die sondige wêreld en sy begeerlikhede is ̕n probleem waarmee elke Christen te kampe het.  Dis 'n baie ernstige toestand, want daar is nie plek vir beide liefde vir die wêreld en liefde vir ons Hemelse Vader in ons harte nie! Hieroor is 1 Johannes 2:15-17  (lees) baie duidelik. Ons moet dus alles in die stryd werp om wêreldliefde in ons harte te beveg!

Die groot Hervormer Johannes Calvyn gee kosbare insigte oor hierdie netelige saak.
Calvyn  : “Die Here weet dat ons van nature geneig is om die wêreld blindelings.....lief te hê.”


Wêreldliefde het verskeie gestaltes en baie van ons gesindhede, aksies en toekomsplanne is daardeur besmet.
Calvyn : “Maar as ons die ambisieuse planne, ondernemings en dade van die mens van naderby beskou, sal ons vind dat dit alles net om die wêreld gaan. Die uiterlike glans van rykdom, mag en eer verblind ons verstand so dat ons nie verder as dit kan sien nie. Ook die hart wat gevul en gekwel is deur hebsug, ambisie en ander sodanige begeertes, kan nie bokant die wêreld uitstyg nie. Kortom, die hele siel, verstrengel in vleeslike genietinge, soek sy geluk net op aarde.”


Wat doen God om sy kinders hiervan te suiwer?
Calvyn : “Om dit teen te werk, leer die Here sy kinders die ydelheid van die huidige lewe deur verskeie strawwe lesse van ellende.”



Watter soort lesse gebruik God om die nietigheid van die sigbare  dinge onder ons aandag te bring?
Calvyn : “Hy laat dit toe dat hulle herhaaldelik gesteur en lastig geval word deur oorloë of rewolusies, rowery en ander soorte leed, sodat hulle hulle nie sal instel op ̕'n lewe van gemak en gerief nie. Hy bring hulle tot armoede of beperk hulle ten minste tot middelmatigheid....Hy kwel hulle deur die tekortkominge van hulle huweliksmaat of verneder hulle deur eiesinnige kinders....wys Hy hulle deur siektes en gevare hoe veranderlik en verganklik alle sterflike seëninge is sodat hulle nie deur ydele eer opgeblase sal word nie.


Die ellendes wat God in ons lewens toelaat en waarmee hy ons tugtig is eintlik noodsaaklik sodat ons ̕'n visie op ons ewige erfenis kan hê.
Calvyn : “ons moet toegee dat ons hart nooit ernstig hunker na of nadink oor die toekomstige lewe nie, tensy dit eers deeglik geleer het om die ydelhede van die huidige wêreld te versaak.”

Calvyn laat mens dink, nê? Dit laat mens bietjie anders kyk na die misdaad en ellendes rondom ons...


(Aanhalings ontleen aan GULDE REËLS VIR DIE WARE CHRISTELIKE LEWE, Johannes Calvyn)