BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring. Wys alle plasings

Vrydag 22 Junie 2018

GOD IS NIE MEER KWAAD NIE!


Wie die versoeningswerk van Jesus aanvaar kan weet : “God is nie meer vir my kwaad nie, ek hoef nie te vrees nie, want ek kan Hom vertrou!” 


God werk soms baie hard met die mense vir wie Hy liefhet! Dalk het jy dit ook al beleef? Als loop skeef... "Die Here se hand druk swaar op my..." Die volk Israel het dit deeglik gevoel. Hulle het God se toorn, sy wraak en straf oor hulle sondes aan hulle eie lyf ervaar. Die ballingskap in die verre Babilonië was sekerlik die toppunt van God se oordele! God se oordele is voorwaar skrikwekkend. Tog... Deurgaans maak die profete dit duidelik : God se finale doel is egter nie straf nie, maar redding. Redding vir die oorblyfsel. Hy straf en tugtig mense om hulle tot redding te bring. Sy strawwe is nooit bedoel om ons weg te dryf nie, maar om ons nader te trek. Dis wat die volk Israel telkens beleef het. Dalk kan jy ook getuig : “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.” (Psalm 119:67) 

Ons lees hier in Jesaja 12* ‘n danklied vir Goddelike verlossing. God het weer uitkoms en verlossing gebring vir sy volk. Dit beteken dat God nie meer kwaad is nie. Ja, God was kwaad, Sy toorn en wraak oor die sonde was inderdaad verwoestend! Dis geen ligtelike saak nie! Hoor bietjie...

“Ellende wag vir dié wat helde is by wyndrinkery, dapper by die meng van hulle drank, wat die skuldige vryspreek vir omkoopgeld, maar ‘n onskuldige sy reg ontneem. 
Daarom, soos stoppels deur vuur verteer word en hooi in vlamme opgaan, so sal dit met hulle gaan. Hulle sal met wortel en tak uitgeroei word, want hulle het hulle nie gesteur aan die openbaring van die Here die Almagtige nie, hulle het die woord van die Heilige van Israel verwerp. 
Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk. Hy het sy hand teen hulle uitgesteek en hulle getref, sodat die berge gebewe het en die lyke soos vuilgoed op die strate gelê het. Ondanks dit alles bedaar die toorn van God nie en bly sy hand uitgesteek teen hulle." (Jesaja 5:22-25) 

HEERLIKE VERLOSSING

Verlossing is dus iets radikaals en onverdiend. Verlossing beteken dat God sy toorn afwend, dat hy volkome vergewe, dat Hy die kwaad nie meer teen ons hou nie. Wat behels dit presies? Die Here sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) Dis wat by die kruis gebeur het! Die dag as jy met ‘n gebroke hart gelowig na die kruis kyk dan beleef jy dit. Dan kan jy ook sê : “"Ek loof U, Here! U was kwaad vir my, maar U is nou nie meer kwaad nie en U het vir my uitkoms gegee.” (Jesaja 12:1) Dis wat mens besef as jy raaksien en regtig glo wat Jesus aan die kruis vir jou gedoen het. As ek dit beleef het sal dit ‘n verskil in my lewe maak.. Ek sal nie meer dieselfde kan bly nie. Hierdie danklied in Jesaja 12 bevat die reaksie van die verlostes op God se verlossingsdade. Dis ‘n noodwendige reaksie - as ek die verlossing raakgesien en beleef het kan dit nie anders nie , ek sal reageer. 

REAKSIE

Ons tref hier 'n drieledige reaksie aan : vertroue, blydskap en dankbare lofprysing. Vandag kyk ons na die reaksie van vertroue in vers 2. “God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder." 

Ons gaan twee sake van nader bekyk: 

1) Wat is vertroue? Vertroue behels 'n bewuste daad en ingesteldheid van my denke. Jy weet wat jy doen wanneer jy vertrou. Dis nie maar net 'n lekker of positiewe gevoel nie. Om te glo en te vertrou is min of meer dieselfde ding. Maar hoe sal mens dit nou prakties verduidelik ? 


John Paton (1824-1907), 'n Skot, het na die New Hebrides ('n groep eilande in die suidwes-Stille Oseaan) gereis om die stamme daar oor Jesus te vertel, maar hy het gesukkel om die regte woord vir 'geloof' te vind. Eendag, toe sy inheemse bediende ingekom het, het Paton albei voete van die vloer af opgelig, agteroor in sy stoel geleun en gevra: 'Wat doen ek nou?' In sy antwoord het die bediende 'n woord gebruik wat beteken: ‘om met jou hele gewig te leun op '. Dit het die uitdrukking geword wat Paton gebruik het. Geloof behels om met ons hele gewig op Jesus te leun! 

Dis die betekenis van vertroue op God, ek leun, maak staat eksklusief op Hom, sonder om in die minste op enige van my eie bronne of bates staat te maak. Natuurlik omdat ons onvolmaakte mense is moet ons onmiddelik sê, solank ons in hierdie lewe is, sal ons vertroue in God ook nooit volmaak wees nie. Ja, selfs ons wat volledig vertrou op Jesus vir ons verlossing is nog so dikwels geneig om van ons eie valse selfvertroue en trots, vertroue op die werke van die wet in ons verhouding met God in te dra. Ons moet gedurig daarteen waak en dit uitroei. Met 'n doelgerigte beslistheid moet ek dag vir dag en keer op keer besluit ek gaan op God vertrou ongeag my gevoelens en omstandighede. Ek gaan net op Jesus leuen. Ek gaan glo en nie bang wees nie, al slaan die golwe van die lewe my van my voete af. Al voel ek asof ek wil sink in die branders van vrees... Ek vertrou op God se beloftes en die stellings in sy Woord.... (Terloops dis veral belangrik as jy ly aan Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring – die “twyfelsiekte” – kliek op OCD

Vertroue, geloof en verlossing is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Vertroue is die eerste daad van die wedergebore siel. Ek vertrou die Here. As jy nie Jesus persoonlik vertrou vir jou verlossing nie is jy nie 'n Christen nie. Dis die eerste verskil as ek kind van God word : “Ek vertrou nie meer op my geregtigheid, my gebede, my ordentlikheid, my afkoms, godsdienstigheid of prestasies nie. Ek vertrou op Jesus, ek vertrou op sy prestasie, sy meriete! Ek vertrou dat omdat hy reeds die volle straf vir my eie persoonlike sondes ondergaan het,dat God nie meer vir my ook sal straf nie.” 

Vertroue is 'n opdrag van God wat ons moet gehoorsaam Vertrou God, glo God! Dis die herhaalde opdrag in die Bybel, as ek vertrou doen ek nie iets besonders of snaaks nie (dis nie 'n buitengewone geloofskragtoertjie wat slegs vir 'n paar supergeestelikes beskore is nie), dis maar net die basiese minimum wat God van my verwag. Vertroue op God is die primêre manier, belangrikste manier hoe ons eer bring aan God. 

Op wie vertrou 'n mens normaalweg? Jy vertrou iemand op wie jy kan staatmaak, iemand met 'n standvastige karakter. Vol eerlikheid en integriteit. Om God te vertrou behoort eintlik die mees natuurlike ding te wees, want God se karakter is volmaak. Hy is goed, betroubaar, eerlik. Liefdevol, genadig! 

Kan jy iets inbring teen God se karakter? Nou waarom vertrou jy Hom dan nie? 

Waarom vertrou jy nie sy beloftes wat hy maak in Jesus nie? Sy beloftes dat hy al jou skuld kwytskeld, sy beloftes dat niks jou kan skei van sy liefde nie. Om God te vertrou is om eer aan hom te bring, te erken dat hy waarlik die volmaakte God is; om God nie te vertrou nie is 'n mosie van wantroue in Hom. Wat 'n dwaasheid van my 'n klein swak onvolmaakte mensie om die lewende almagtige God nie te vertrou nie! Gaan terug na die Woord, gaan na God se beloftes, sê : "Here ek vat U op U woord, want U is God" U is nie 'n mens dat U sou lieg nie. (Sien Numeri 23:19!) 

2) Die gevolg of uitvloeisel van ware vertroue op God 

“Ek vertrou...ek is nie meer bang nie.” Wat 'n heerlike uitspraak. Hoe wonderlik vir 'n mens om nie meer te vrees nie. Hoekom sê ek so? U sien van nature het ons as mense rede om bang te wees, veral bang te wees vir God vanweë ons sondeskuld (dink aan Adam in die paradys). Sondaars is vreesagtig. Ons is bang want ons dink aan ons sondes, die dwase sondes van ons jeug , die diep verskuilde en partykeer subtiele sondes wat in ons harte skuil, elke dag se sondes - dit laat ons vrees, want ek weet die lewende God sien alles. Ons vrees God, die dood, die oordeel, die ewigheid ....ja, maar as ek op God se beloftes vertrou kan ek sê: “Ek vertrou en is nie meer bang nie." Ja, ek is deeglik bewus van my skuld en ek huil daaroor, maar ek vertrou God se beloftes in Jesus, dat Christus aan die regverdige eis van die wet voldoen het, die doodstraf in my plek gekry het. Ek glo dit , my skuld is betaal ek glo dit en is nie meer bang nie. Nie omdat ek voel my sonde is nie so erg nie, maar omdat daar vir die sonde wat wel baie erg is volkome betaal is. Ek is nie meer bang nie, want God se karakter is volmaak. Hy sal sy beloftes van vergifnis nie breek nie. God sal nie op sy woord teruggaan nie- “EK is die Here, ek verander nie,” sê Hy in Maleagi 3:6. 

Kom ons vertrou God! Vertrou Hom altyd en in alle omstandighede. Vertroue op die volmaakte God wat Sy Seun as offer gegee het. Hy sal jou vrese en angste verban en selfs in die aangesig van die dood sal jy nie vrees nie, maar met verlange uitsien dat Hy jou die kroon van die lewe sal gee. AMEN

NASKRIF

Hoe wonderlik om te kan sê "ek vertrou en sal nie vrees nie" Donald MacDonald sê in aansluiting by hierdie teks dat mens in die lig hiervan eintlik 4 soorte mense kry : 

1) Die wat vertrou en nie vrees nie. (Reeds hierbo bespreek) 

2) Die wat vertrou en tog nog vrees. Ja, ek maak nie staat op myself nie, ek het my vertroue op Jesus gestel, en tog bly ek wonder en verval in ‘n voortdurende sieklike introspeksie: Is ek regtig vergewe, mislei ek nie dalk myself nie? Ek begin weer twyfel soos Petrus op die water... Hou gedurig jou vinger op die pols om seker te maak of ek regtig lewe, i.p.v. te lewe. Ware kinders van God kan twyfel en vrees ervaar. Johannes 5:9-13 is van groot hulp. Vertrou God se beloftes! Jesus het met groot geduld en sagtheid met die twyfelende Thomas gewerk. Vertrou Hom om ook jou vrese weg te neem en vastigheid en sekerheid te gee. 

3) Daar is sommige wat vrees, maar hulle vertrou nie. Jou sonde pla jou, jy weet jy kan nie so voor God verskyn nie, jy weet daar is 'n hel en dit laat jou by tye sidder van vrees en tog weier jy om jou vertroue op Jesus te plaas. Jy kom wel kerk toe , jy hoor die woord, maar jy deins terug van om die stap te neem om jou aan Jesus oor te gee en jou vertroue op Hom te stel. Onthou om bang te wees vir God se oordeel, om jammer te wees oor jou sonde kan jou nie red nie, jy moet by Jesus uitkom - Hy nooi jou! 

4) Laastens is daar die wat nie vertrou nie, maar ook nie eers bang is nie. Miskien is daar diesulkes ook hier. Jou hart is kliphard, jy ken die feite, jy weet jy is nie reg met God nie, jy weet daar is 'n oordeel en tog lewe jy ongesteurd voort. Mag God jou hart laat ontwaak en jou weer leer om te vrees sodat jy Hom sal soek en vertrou vir jou verlossing. 

*In hierdie kort, maar heerlike hoofstuk kry ons twee psalms of liedere, wat ons kan noem lofsange van bevryding of verlossing. Sommige sien hierin 'n verwysing na die wonderbaarlike bevryding van Jerusalem uit die hand van Sanherib die koning van Assirië in die tyd van koning Hiskia toe die engel van die Here 185000 soldate doodgemaak het (hfs. 37) . Dis moontlik, maar dis ook duidelik dat die blikrigting van hierdie vreugdesuitinge verder gaan as net die tyd van Hiskia. Ons kom dit agter as ons kyk na die heerlike beloftes wat hoofstuk 12 voorafgaan. In hfs. 7 kry ons die aankondiging van Immanuel (Jesus) se geboorte, in hfs. 9 'n verdere aankondiging van 'n Seun wat gebore sou word met Goddelike eienskappe, wat nie op 'n gewone aardse koning van toepassing gemaak kan word nie (vers 5) en in die voorafgaande hoofstuk weer 'n duidelike verwysing na die verlossingswerk van Jesus (11:1) Dit gaan dus in hfs. 12 oor iets dieper en heerliker as net Israel se fisiese bevryding.



Saterdag 09 Junie 2012

IN DIE WURGGREEP VAN VERTWYFELING

- geteister deur obsessiewe kompulsiewe versteuring.

Sommige opregte Christene word genadeloos deur twyfel verteer. Hulle voer ‘n  intense stryd teen wurgende twyfelvrae. Subjektiewe vrae soos : “Glo ek regtig, het ek regtig opreg Jesus as Verlosser aanvaar, was my bekering eg?” teister hulle. Dit kan ook soms gepaard gaan met allerhande vae skuldgevoelens en onwelkome lasterlike gedagtes wat hulleself op jou afforseer al probeer jy hoe hard om nie so te dink nie. Hoe meer jy die gedagtes probeer vermy, hoe meer dink jy daaraan. Dit kan jou moedeloos maak : “Kyk net watter aaklige gedagtes dink ek, ek kan onmoontlik ’n ware Christen wees!”  (Interessant dis ’n probleem waarmee die beroemde John Bunyan bekend was, want ons vind ’n verwysing daarna in sy Pligrim’s Progress)

Die mens is baie kompleks en daar is baie faktore wat ’n rol kan speel in twyfelgedagtes. Jou persoonlikheid, jou opvoeding, jou kerklike agtergrond, gebrekkige kennis van die Woord, maar daar is ook sielkundige faktore wat ’n invloed kan hê op ons geestelike lewe. Een moontlike oorsaak vir hierdie toestand van kroniese twyfel is Obsessiewe Kompulsiewe Versteuring. (Simptome hiervan is  waar iemand aanhoudend bly twyfel of hy ’n deur gesluit het of ’n hek toegemaak het en klomp keer moet gaan seker maak. Ander mense het weer  ’n  obsessie  met iets soos handewas, of dwingende gedagtes wat jy nie wil dink nie, maar jy kan nie help om dit te dink nie.)  Hierdie toestand kan uit die aard van die saak ook ’n invloed hê op jou geestelike lewe en verhouding met die Here. “Glo ek regtig, het ek regtig my sonde opreg bely... Sê nou maar net ek was nie opreg genoeg nie, so laat ek maar weer bely?”   Die duiwel kan so ’n sielkundige toestand uitbuit en aanwend  om jou gedurig met vrees gevange te hou en jou vrede te steel. Onthou, Satan is ’n lafaard, hy ken ons sielkundige en fisiese swakhede en probeer dit uitbuit. Juis toe Jesus honger was kom hy met sy versoeking dat Jesus brood uit die klippe moes maak! Moet net nooit vergeet nie,  Satan is ’n leuenaar. Sy leuens moet met die waarheid van die Woord beveg word..

Grantley Morris (www.net-burst.net)   noem drie leuens wat ons moet aanvat om oorwinning te behaal in hierdie toestand. Die drie leuens waarmee Satan ons teister is:

1. As ek vergewe is, sal ek vergewe “voel.”  Dis ’n leuen van Satan! Dink weer  mooi, word mens gered deur geloof of deur gevoel? Die Bybel sê tog oor en oor dat ons deur geloof gered word. Geloof self is die sekerheid van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebr 11:1) Geloof staan dus teenoor sintuiglike bewyse!  Ons lewe volgens geloof en nie volgens dit wat ons sien (ervaar) nie! (2 Kor 5:7) Gevoelens is ’n baie riskante maatstaf, juis omdat die mens se hart bedrieglik bo alle dinge is. (Jeremia 17:9) Iemand kan byv. baie seker voel, maar dalk glad nie ’n kind van God wees nie. Aan die anderkant is dit moontlik dat ’n kind van God baie sleg voel! Geloof is nie om te voel nie, geloof is ’n doelbewuste en voortdurende keuse om God se beloftes as waar te aanvaar  ten spyte van die sigbare omstandighede, ten spyte van sigbare feite. Ons vergeet partykeer die basiese waarheid wat soos ’n goue draad deur die hele Skrif loop (en spesifiek ook in Hebr 11.)  Redding kom via geloof en nie gevoel of sig nie! 
Gevoel en rede mag nie regter wees oor ons saligheid nie... 

2. As ek vergewe is, sal God op ’n spesiale manier my vertel dat ek vergewe is. Ons eie bose hart por ons aan : “Vra of soek ’n spesiale teken!” Ook dit is ’n leuen van die duiwel! God het jou mos reeds oor en oor en glashelder duidelik in sy Woord verseker dat elkeen wat in Jesus glo vergifnis van sonde ontvang het. Verwag ons dalk God moet nou sê : “Ek het dalk in die Bybel vir jou gelieg en sal vir jou nou ’n ander teken gee dat ek bedoel wat ek gesê het?” Jesus sê telkens dis ’n slegte en afvallige geslag wat vra vir ’n teken... (Matt 12:39)

3. As ek vergewe is, sal ek nooit meer twyfel - of lastergedagtes beleef nie. Wat ’n belaglike leuen van Satan! Maar hy vang mens maklik hier in ’n bose kringloop. Sy redenasie is dat ’n Christen altyd 100 persent sekerheid beleef en nooit twyfel nie. As jy dan ’n aanval van twyfel ervaar, sê jy vir jouself : Ek was seker nog nooit ’n Christen nie en hierdie twyfel lei dan tot verdere twyfel!

Ons moet besef dat die Satan die vader van leuens is en ons teister met leuens. Sy leuens is altyd uiterstes. Aan die een kant sal hy vir party mense wysmaak dat ’n Christen nooit kan seker wees nie. Dis ’n leuen en so wil hy ons van vreugde en blydskap beroof. Aan die anderkant kom hy nou met ’n teenoorgestelde leuen en beweer dat ’n Christen altyd sal seker wees en nooit stryd of vertwyfeling sal ondervind nie. Dis ook  ’n  leuen! Net so seker as wat mens nie plooie in ’n ouetehuis kan vermy nie, net so seker sal ons nooit ’n stadium duskant die graf bereik waar ons vry sal wees van die versoekings, aanvalle en listige planne van die duiwel nie. Versoekings in die vorm van onwelkome gedagtes, vertwyfelings, gedagtebeelde of slegte begeertes wat in ons opwel is deel van die duiwel se arsenaal en hy gaan dit aanhou gebruik. (Groot manne van God soos Martin Luther moes hiermee worstel) Wat is die oplossing vir hierdie dwingende lastergedagtes? Moenie daaroor bid nie (dan herinner jy jouself net daaraan), maar besef dit kom van Satan af. As die duiwel sien jy besef dit kom van hom af en dit maak jou nie meer bang nie, sal dit mettertyd minder word en verdwyn...

Die pad van die geloof word nêrens in die Bybel as ’n gelykpad sonder dorings geskets nie. Dis duidelik uit die Ou Testament : dink aan die geskiedenis van Abram, Moses, Dawid....Dis nog duideliker uit die Nuwe Testament. Dis trouens waarom ons soveel aanmoedigings en aansporings kry tot volharding! Dis waarom die Hebreërs skrywer ons aandag vestig op die geloofshelde in Hoofstuk 11.

Vir alle Christene wat deur twyfel aangeval word , maar veral mense wat met obsessiewe kompulsiewe versteuring te kampe het is daar net een oplossing, absolute vertroue in God se beloftes. Onthou geloof is die een skakel tussen ons en God se weldade deur Jesus!  Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag! Hou aan glo in sy beloftes. Dis hoe die Heilige Gees ons sekerheid gee. Kyk net na Jesus en sy heerlike afgehandelde werk. Let wel ons moet na Hom kyk en op Hom fokus, nie op ons geloof opsigself nie! Moenie moed verloor nie. As jy tye van donkerte en onsekerheid beleef, vertrou blindelings op God se beloftes! 

Leer om God se Woord te vertrou en jou eie gevoelens  te wantrou!

‘n Voorbeeld uit die lugvaart kan dalk help. Binne in ‘n wolk of  uiters swak weer is ‘n loods volledig aangewese op sy intsrumente.  Laat God se beloftes jou instrumente wees waarvolgens jy vlieg as daar geen sig is nie!  Moenie jou eie gevoelens vertrou nie, maar vertrou eerder die onfeilbare instrument van God se Woord ! 

(lees verder en kliek op BOU OP GOD SE BELOFTES)

Foto geneem op Tsumeb se gholfbaan