BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Uitverkiesing (vrae). Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Uitverkiesing (vrae). Wys alle plasings

Donderdag 04 Junie 2015

NIE ROBOTTE NIE

- God se soewereine uitverkiesing reduseer ons nie tot willose houtpoppe sonder verantwoordelikheid nie!

Ons moet daarteen waak om nie die uitverkiesing deterministies mis te verstaan nie. In die uitverkiesing gaan dit inderdaad oor God se voorbeskikking, maar ons moet in gedagte hou dat daardie voorbeskikking van ’n unieke aard is. ’n Deterministiese denke oor die uitverkiesing skryf wel die volle heil aan God se genade toe, maar kan nie verstaan dat die genade van God juis die volle aktiwiteit van die mens oproep en so die mens met sy geloof en bekering ten volle by die ontvangs van die heil betrek nie.

God beskik op sodanige wyse oor die mens, dat die mens se menslikheid, vryheid en verantwoordelikheid nie opgehef word nie. God tas in sy beskikking oor die mens nie sy persoon-wees aan nie, oorweldig hom nie en dwing hom nie, maar trek hom onweerstaanbaar deur sy liefde (Joh 6:37) en werk in hom die vryheid om sy eie redding met vrees en bewing uit te werk (Fil. 2:12-13).

God se uitverkiesende wil word verwerklik deur die werk van die Gees en langs die weg van die genade middele : die verkondigde Woord en die Sakramente waarop die mens in geloof antwoord. Omgekeerd geskied die verwerping in die weg van die verset teen die Woord en die genade van God. Die groot verdedigers van die leer van die uitverkiesing soos Augustinus, Luther en Calvyn het, ondanks die gebrekkigheid van hulle woorde, die saak waarom dit hier gaan, intuïtief in ’n diep godsdienstige verhouding voor die aangesig van God verstaan. Wanneer ’n mens in die geloof voor die aangesig van God staan, weet hy dat God oor alle dinge beskik en dat hy met elke vesel van sy bestaan van God afhanklik is, en tog weet hy terselfdertyd dat hy geen marionet is nie en dat hy God in geen enkele opsig verantwoordelik kan hou vir sy eie sonde en ongehoorsaamheid nie. In die verwerping is die mens nie die slagoffer van ’n duistere besluit van God nie, maar ontvang hy die regverdige vergelding van wat hy gekies en gesoek het. In die werklike situasie van die mens voor die aangesig van God kan dié twee dinge albei vasgehou word : dat die verlossing volkome uit God is, maar dat die mens tog volkome daarby betrokke is, sodat alle lof vir die genade aan God gegee moet word, terwyl die skuld vir die mens se ongeloof en verlorenheid ten volle op sy eie skouers rus.


(Aangehaal/effens verwerk uit W. D. Jonker, UIT VRYE GUNS ALLEEN)


Vrydag 12 Julie 2013

HET JY REGTIG VREDE MET GOD?

- Wat is geloof of Christenskap werd as dit nie behels dat ek vrede met God beleef nie?

Onsekerheid en onvrede beteken dat ons in hierdie lewe nie God regtig kan “verheerlik en geniet” nie! Dit kniehalter ons getuienis. Dit wek ook angs oor die dood en die lewe hierna.



Jy sê jy glo, maar tog is jy vasgevang in onsekerheid. Jy bedoel dit ernstig met God, maar is vol twyfel oor jou ewigheidsbestemming. Is jy dalk onseker oor jou verhouding met God, omdat :


1. Jy wonder of jy op die regte manier glo?

2. Jy voel dat jou bekering dalk nie eg genoeg was of jou berou oor jou sondes nie sterk genoeg nie?

3. Jy twyfel of jou motiewe hoekom jy Jesus aangeneem het opreg was? (ek het my bekeer uit vrees vir die hel)

4. Jy bang is vir die leer van die uitverkiesing? (sê nou maar ek is nie uitverkies nie?)

5. Jy min tekens van die werk van die Heilige Gees in jouself bespeur?

6. Jy dikwels glad nie soos 'n Christen voel nie?

As hierdie en soortgelyke vrae oor geloof, bekering en verlossing jou pla, kan jy gerus kyk na Horatius Bonar se kosbare boekie, “God’s Way of Peace”

Kliek op VREDE MET GOD om dit in Afrikaans te lees.

Horatius Bonar (19 Desember, 1808 – 31 Mei, 1889) was ‘n predikant (en digter) van die Kerk van Skotland en het na die “Disruption” van 1843 by die Vrye Kerk (Free Church) aangesluit. Hy was iemand met diep onsig in die genoegsame werk van Christus ter wille van sondaars. Van die aanhalings uit sy werk is die volgende ‘n duidelike bewys hiervan:

In religion faith does not spring out of feeling, but feeling out of faith. The less we feel the more we should trust. We cannot feel right till we have believed.

Upon a life I did not live, upon a death I did not die; anothers life, anothers death, I stake my whole eternity.

No man can quench his thirst with sand, or with water from the Dead Sea; so no man can find rest from his own character, however good, or from his own acts, however religious.


Horatius Bonar (Wikipedia)