BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 21 Desember 2017

Nie Ikabod nie,

maar Immanuel!



Name speel ‘n baie belangrike rol in die Bybelse geskiedenis en boodskap en hier tydens die Kersgety word dit weer pragtig onderstreep. Soveel so dat ons die hele boodskap van Kersfees (Jesus se vleeswording) in een naam kan opsom : IMMANUEL!

“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.” (Matteus 1:23)


Kom ons gaan eers ver terug in die geskiedenis, eeue voor Jesus se geboorte…‘n Sterwende vrou wat so pas geboorte geskenk het, gee aan haar seuntjie ‘n buitengewoon dramatiese naam : Ikabod. Ons ken die agtergrond… Weens die goddeloosheid van Eli se seuns het God sy oordele oor Israel gebring en hulle verloor teen die Filistyne in ‘n geveg. Toe dink die volk Israel hulle kan God dwing om hulle in die oorlog te help en hulle vat die verbondsark na die slagveld. Hulle het gedink hulle kon God manipuleer. Dit misluk en lei tot ‘n verdere vernietigende neerlaag en ramp vir Israel. Dis as’t ware ‘n donker uur van Godsverlatenheid en oordeel. Israel se geskiedenis is op ‘n laagtepunt van hopeloosheid en ellende. ‘n Boodskapper kom toe na Eli met die vreeslike nuus van Israel se nederlaag op die slagveld, die dood van Eli se seuns (een van hulle was die barende vrou se man) en die ergste van als - dat die verbondsark self in die hande van die Filistyne geval het… Ons lees hiervan in die hartseer geskiedenis van 1 Samuel 4:17-22. Te midde van hierdie smart en ellende noem die jong ma haar seuntjie, “Ikabod.” Dit beteken : ”Waar is die eer?” Dis ‘n uitroep van wanhoop, van Godverlatenheid, van neerlaag en mislukking. Dit weerspieël ‘n gevoel dat God ver weg is, dat God nie meer by Sy mense is nie, maar hulle afgeskryf het!

In Matteus lees ons weer van die geboorte van ‘n seuntjie : Immanuel. Ook hierdie naam is vol betekenis. Die agtergrond is die voorspelling deur die profeet Jesaja. (Jesaja 7:14) God het sy heerlike belofte van redding en uitkoms waar gemaak!

Ikabod, Immanuel - daar is geen groter kontras moontlik, as die kontras tussen hierdie twee name en waarvoor dit staan nie!

As ons na die wêreld rondom ons kyk, as ons eerlik is oor wat in ons eie lewens en ons eie huisgesinne gebeur wil ons ook miskien uitroep : “Ikabod!”– alles is hopeloos en God is ver! Miskien is jy dalk op hierdie einste oomblik, by Ikabod in jou lewe?

Maar daar is ‘n groter werklikheid. Die evangelie van Jesus Christus. Die evangelie is die waarheid van Immanuel – God is by ons, met ons!

Die twee name is as’t ware twee vensters van waaruit ons kan kyk… Beide vensters is baie realisties en hou rekening met ‘n stukkende wêreld van sonde en oordeel. Maar daar is 'n reuse verskil:

Ikabod is die venster van wanhoop, moedeloosheid, uitsigloosheid, oordeel....

Die ander venster is die venster van Immanuel.  Dis die hoopbringende venster van die evangelie, wat die lig van God se genade binnelaat tot in die donkerste dieptes van verlorenheid. God kom na ons juis in ‘n stukkende wêreld. Die skrywer van die Matteus evangelie was deeglik bewus van die gebroke werklikheid van hierdie wêreld. (Kyk maar sy geslagsregister wat opmerklik vroue soos Tamar, Ragab, Rut en Uria se vrou insluit...) Stukkend, sondig, gebroke... Maar wat wonderlik is, in hierdie bose en gebroke wêreld is God by ons. God kom staan in ons skoene. Hy vereenselwig Homself ten volle met die mens, soveel so dat Hyself mens word. Nie ‘n super mens of super held nie, maar ‘n gewone mens. Hy het self nie sonde nie, maar Hy kom woon tussen sondaars, Hy identifiseer met sondaars. Hy word versoek soos sondaars, word honger, word moeg en ly en sterwe soos gewone sondige mense. Ja, Hy weet dis ‘n sondige wêreld en Hy ken en verstaan ons hulpeloosheid en verslawing en daarom is daar ook ‘n ander naam wat vol betekenis is, Jesus! Verlosser! “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matteus 1:21) Hy word juis ‘n mens van vlees en bloed om die doodstraf op Golgota in ons plek te ondergaan sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan word.

Ikabod word met Kersfees (dink : evangelie) uitgekanselleer en vervang deur Immanuel! 

Ons hoef nie langer in wanhoop en ellende vas te haak by Ikabod nie, maar ons kan glo in Immanuel en ons elkeen kan die Naam van Jesus aanroep met die heerlike wete dat God met ons is en dat die belofte geld : “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!” (Romeine 10:13)

Stukkende mens in ‘n stukkende wêreld, dis vandag dalk vir jou tyd om van Ikabod aan te beweeg na Immanuel!



Die kenner van die Hai//om taal en kultuur, oom Reinhard Friederich vertel ons hoe die Boesmans hierdie plant se gif aanwend.


Boesmangif (Adenium boehmianum)


Tambotiewoud

Woensdag 20 Desember 2017

HEMEL ÉN AARDE

- hoe pas hemel en aarde by ons lewens in, hier en nou?


“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!" (Lukas 2:14!) 

Hemel én aarde! Ons leef dikwels in ‘n spanning tussen hemel en aarde. Ons sukkel om aan elkeen die regte plek en balans in ons lewens te gee. Ons weet mos - die kind van God is ‘n burger van die hemel*, maar ons leef tog nou op hierdie oomblik op aarde. Dit wek vrae by ons op… Hoe belangrik is die aarde en aardse lewe? Is dit hoegenaamd belangrik en die moeite werd, dis immers relatief bitterlik kort? Mag ‘n kind van God aardse dinge soos lekker eet, wetenskap, huwelik, beroep... geniet? Maak ons aardse lewe sin of is dit maar net ‘n voorbereiding vir die hemel? Wat beteken dit om met ‘n hemelse gerigtheid te leef? Beteken dit om net heeldag te bid, Bybel te lees en aan die hemel te dink? En moet mens nou skuldig voel as jy ook met ander dinge besig is?

Hoe pragtig kom hemel en aarde saam in hierdie oorbekende teks! 

Jesus se koms na die aarde bring juis eer aan God in die hemel! 

Hier is dus nie ‘n botsing tussen hemel en aarde nie, maar ‘n heerlike harmonie!

Die geboorte van Jesus, Sy menswording, onderstreep juis die belangrikheid van menswees. Jesus kom nie as ‘n superwese, gees of simbool na hierdie aarde nie. Maar as mens. Regte mens. Hy kom soos alle regte mense in die wêreld in, as hulpelose baba! Maar Jesus is ook regtig God. Hy bring God se boodskap en Hy leef God se waardes uit, maar Hy doen dit hier op aarde binne in die gewone alledaagse lewe. Hy woon soos ander gewone mense ‘n troue by en dan maak Hy nog boonop wyn ook. In die proses bring Hy die boodskap van ‘n nuwe bedeling. Maar Hy word ook diep geraak as hy voor die graf van sy vriend Lasarus staan en huil. Hy bring Goddelike hoop in ‘n donker situasie. Hy doen ook iets heeltemal alledaags, hy braai vis vir sy dissipels, maar dis ook sommer die geleentheid waar Hy openbare vergifnis aan Petrus skenk. Vir Jesus is daar nie ‘n spanning tussen hemel en aarde nie. Hy is mens-mens, tussen die mense en as mens leef Hy volgens die wil van Sy Vader. Hy sweet in ‘n timmermans werkswinkel, Hy betaal belasting, maar Hy verkondig ook die geheime van God se koninkryk en bewandel ’n intieme gebedspad met sy Vader.

Miskien dink jy, “dis Jesus ja, Hy is immers uniek, maar wat is die benadering van die apostels en veral Paulus?" Het hulle nie dalk ‘n negatiewe siening oor ons aardse lewe nie? Kom ons kyk na Kolossense 3:1-2. 

“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.
Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,...”

So op die klank af kan ons maklik ‘n verkeerde afleiding van hierdie opdrag van Paulus maak. Maar kom ons kyk mooi wat hier staan. Dit begin met “aangesien”. Paulus wil sê aangesien julle reeds vrygespreek is, die ou sondige mens saam met Christus gesterwe het, julle as nuwe mense in Christus opgestaan het met ander woorde, aangesien julle ‘n nuwe identiteit het, leef nou nuut! Bedink die dinge daarbo! Leef volgens julle ware identiteit. Wat behels dit? Los julle werk en verantwoordelikhede? Droom oor goue strate? Sing heeldag koor? Nee, hy beveel ons om heilig te leef. Om te los wat sleg is en te beoefen wat reg is in God se oë. Dit gaan daaroor om hemelse standaarde en beginsels uit te leef in die konkrete harde aardse werklikheid. En dan gee hy presiese opdragte oor hoe ons die aardse verhoudings waarin ons leef moet hanteer…(3:18-4:1) Ons het dus ‘n duidelike sinvolle aardse roeping – om in gemeenskap met Jesus, onder leiding van Sy Gees in alle situasies te leef! Dit bring eer aan Hom!

Dis die punt - Die evangelie maak nie van ons hemelwesens, wolkbewoners of kloosterlinge nie. Maar nuwe mense in die harde werklikheid van ‘n onvolmaakte aardse bestaan. Nuwe mans, vroue, ouers, kinders, werkgewers en werknemers wat nou hier op aarde anders moet leef (tussen sondige mense) terwyl ons met ons gewone pligte en vreugdes aangaan. (Vgl.1 Kor. 10:31)

Heiligheid beteken nie om op te hou mens wees nie, maar om mens te wees volgens God se wil. En dis eers dan wat ons regtig mens is volgens God se oorspronklike bedoeling! Vat nou maar twee omstrede sake : kos en seks! Gaan lees wat Paulus hieroor in 1 Timoteus 4:1-5 skryf! (Jy kan dalk verbaas wees!)  Die hongerdrang en die geslagsdrang is nie boos omdat dit aards en fisiek van aard is nie. Dis deur God in ons ingeskape, dis deel van menswees. Om dit te ontken is om die leringe van duiwels aan te hang. Dis demonies. Wanneer ons vrywillig daarvan afstand doen (soos wanner 'n mens vas) is dit om ons verlange na God te toon, maar dis nie ‘n wet nie. Nee, die Bybel se boodskap is nie om ons God geskape drange of behoeftes te ontken nie, maar om dit met danksegging en in gehoorsaamheid aan God se voorskrifte te geniet.

HEMEL OF AARDE?

Nee, altwee, beide, gelyktydig. Ons moet hemels leef op hierdie aarde solank ons hier is! Ons kan juis nou reeds op aarde binne die gebrokenheid en onvolmaaktheid voluit leef as hemelse burgers omdat ons self nie eers die dood hoef te vrees nie. En terloops, laat ons nooit vergeet nie, ons eindbestemming is die nuwe AARDE. Heerlik anders nuut, vry van sonde en stryd, maar nog steeds aarde! Want die aarde is ook God se AARDE en met hierdie skepping en ons as Sy skepsele het Hy ‘n heerlike doel! Toe Jesus gekom het Hy die hemel aarde toe bring. Op hierdie aarde hier en nou moet ons volgens hemelse, Goddelike beginsels lewe totdat die koninkryk in volmaaktheid aanbreek by sy wederkoms. Daarom is ons wat Hom navolg, eintlik hemelse aardlinge, maar ook aardse hemelinge!**

Gaan leef nou voluit 'n gehoorsaamheidslewe, ook in die feestyd!

*“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” (Filippense 3:20,21)

** Johan Celliers in sy boek, “Die Genade van Gehoorsaamheid.”


Dinsdag 12 Desember 2017

DIAMANTE IN 'N GEROESTE BLIK

EVANGELIESE REALISME EN HOOP

te midde van ‘n gebroke en deurmekaar wêreld!



Hier by die laaste stuiptrekkings van die jaar is dit dalk goed dat ons bietjie voorraad opname maak. Waar bevind ons onsself as kinders van God binne in die konteks van soveel sonde, chaos, verwarring en grootskaalse ellende. Hoe moet ons onsself beskou, waar pas ons in en waarna toe is ons op pad? As kinders van God kyk ons met nederige DANKBAARHEID terug na die verlede en met nugtere REALISME na vandag en met vreugdevolle HOOP na die toekoms. (Altans dit behoort so te wees as ons die Skrif glo) Dis wat die apostel Paulus ook in die besondere ryk hoofstukke 4 en 5 van die 2 Korintiërs brief doen. Die konteks is: Hy verdedig sy apostoliese amp teenoor valse leraars wat dit onder verdenking geplaas het. Hy doen persoonlik verantwoording van wie en wat hy is en waar hy homself bevind. Ons is nou nie apostels nie, tog is die sake wat hy hier noem honderd persent ook op elke kind van God van toepassing. 

VERLEDE. 

Paulus kyk na die verlede, na die genadewerk wat God in hom gedoen het. Hy maak ‘n heerlike en radikale stelling wat waar is van elke wedergeborene. “Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: "Laat daar lig skyn uit die duisternis," het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” 2 Korintiërs 4:5,6 Die wedergeboorte is so ‘n dramatiese gebeurtenis soortgelyk aan die skepping. Dis bonatuurlik, dis menslik onbegryplik en onverduidelikbaar. Ons het baie meer as fisiese lig ontvang, ons is verlig om die heerlikheid van God raak te sien deur Jesus Christus. Dis trouens die groot nood van die mensdom – die mens sien nie die heerlikheid van God raak nie. Daarom kan die sondaar mens God nie waardeer, aanbid, eer en geniet nie! (En onthou dis juis waarvoor ons geskep en ontwerp is!) Die teks by die ingangsportaal van ons kerkgebou verwoord hierdie diepste behoefte van die mens, waar Moses uitroep : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eksodus 33:18) Die natuurlike mens is egter geestelik blind en besef nie hierdie nood van sy hart nie. Ja, hy is so blind dat hy nie eers weet hy is blind nie! Daarom hardloop mense agter valse waardes en valse genot aan, wat teleurstel.

Paulus kon egter getuig van hierdie wonderwerk wat hom in staat gestel het (hy wat die kerk wou uitroei) om die heerlikheid van God raak te sien en te bewonder in die aangesig van Jesus! Jy wat kind van God is, kan ook maar net saam bly wees dat God so ‘n genade wonder aan jou bewys het!

HEDE. 

Wat is die realistiese werklikheid die kind van God vandag, hier nou? ‘n Realistiese voorraadopname? Wie is ons, wat het ons? Ons kry die antwoord op ‘n treffende wyse gestel in 2 Korintiërs 4:7 “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” Kleipotte! Hierdie is ‘n uiters veelseggende en ryk beeld. Ons as mense is maar swak – sielkundig, emosioneel, fisies – so broos en breekbaar soos kleipotte, erdekruike. Maar dit maak nie saak nie! Wat tel is die skat binne in ons! Wat is dit? Dis waarvan die vorige vers gepraat het. Hierdie skat is die kennis van die heerlikheid van God wat ons deur die evangelie van Jesus ontvang het. O, ons kon besef hoe wonderlik en aanbiddingswaardig God is, toe ons raaksien, Jesus is die Beeld van die Onsienlike God! (Hebreërs 1:1-3) Hierdie openbaring ‘n kosbare onvernietigbare skat. Niks kan dit verander of wegneem nie. Ons swakheid en broosheid verander niks aan die waarde van die skat nie! Dis die inhoud wat tel nie die houer nie. Die houer kan en sal vergaan, maar die kosbaarheid van die skat bly onaangetas. Dink aan iemand wat diamante in ‘n ou koffieblik versteek. Die blik sal roes en uiteindelik vergaan, maar die diamante se waarde verhoog net! Kind van God, hierdie is so ‘n oneindig belangrike perspektief – moenie fokus op wie jy is nie, fokus op en waardeer die skat binne in jou!

TOEKOMS. 

Dit wat waar is van die verlede en die hede, open ook ‘n heerlike uitsig op die toekoms. Ten diepste is ons natuurlik toekomsmense wat weet dat hierdie stukkende gebroke wêreld nie ons finale tuiste is nie. Hierdie toekomsvisie word treffend gestel in 2 Korintiërs 4:16-5:1.

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.
Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

Die werk wat God in ons gedoen het deur Jesus sal standhou tot in alle ewigheid. Die lig wat in ons harte geskyn het, sal bly skyn tot in alle ewigheid. Die duisternis sal dit nie oorweldig nie! Die skat in ons, sal onverganklik bly tot in alle ewigheid. Omdat God ons genadig gewees het, het ons ‘n vaste gebou in die hemel. Dis ‘n permanente onwankelbare erfenis en koninkryk. ‘n Gebou is die teenoorgestelde van ‘n tent. ‘n Gebou is permanent en veilig, ‘n tent is maar tydelik en onvas. Hierdie feite verander ons manier van kyk na die werklikheid rondom ons, dit verander ons lewensbeskouing. Ons oog is nie gerig op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare skat en onbeskryflik heerlike toekoms wat dit meebring! Ons kyk verder en dieper as die standaard wêreldling! Ons fokus dus nie op ons moeilike omstandighede van swakker wordende gesondheid of ellendes en wêreldprobleme nie, of selfs na ons sonde gebrokenheid nie, maar ons kyk met ‘n geloofsoog na die vervulling van God se ewigheidsbeloftes. Die kind van God is nooit ‘n gevangene van sy omstandighede nie, omdat ons deur die geloof die onsigbare werklikheid sien wat God beloof het. En sy beloftes weeg swaarder as enigiets...

Wat is nou die praktiese gevolg NOU van hierdie heerlike perspektief op die verlede hede en toekoms? 2 Korintiërs 5:6-10 vertel ons.

"Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.
Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon.
Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil.
Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad."

Kom ons konsentreer net op drie sake:

  • Ons lewe nou en vandag is baie belangrik. Ons is op aarde en dis nie toevallig nie. Onthou die engele se boodskap : “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde!” Ons moet volhard tot die einde toe. Ons moet vasbyt in die wedloop van die geloof, want ons sal beloon word vir dit wat ons nou doen! (10)
  • Ons is en mag en moet positief wees. “Ons is vol moed” (6,8) Vgl. ook 4:1. Ons is nie blind vir die ellende van die wêreld en ook nie vir ons eie swakheid nie, maar hierdie heerlike feite rondom die skat in ons en erfenis wat wag kan nie anders as om ons positief te maak nie!
  • Omdat ons soveel het om dankbaar oor te wees het ons net een wens en een begeerte en dis om te lewe soos Jesus wil hê! Die kind van God het altyd (hetsy kind, jongmens, grootmens, bejaarde) ‘n duidelike doel om na te streef : Leef ‘n lewe wat God behaag! Leef dus ‘n lewe wat in ooreenstemming is met Sy Woord. Laat jou begeertes, gewoontes, waardes, doelwitte...in lyn met die Woord van God! Saamgevat : Wees lief vir God en wees lief vir jou naaste uit dankbaarheid wat Jesus Christus vir jou gedoen het. Uit dankbaarheid vir die wonderwerk van verligting wat jy onverdiend beleef het!

Maandag 11 Desember 2017

TRUMP EN JERUSALEM

- moet Christene hande klap?



Trump se besluit oor Jerusalem het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Groot toejuiging van sy kiesers en vanuit sekere elemente in Israel self. Die res van die wêreld en die Palestyne en Arabiere in die algemeen voel natuurlik baie anders oor die saak. Nou, almal wat iets van Amerikaanse politiek verstaan sal besef, Trump se aankondiging dat die VSA amptelik Jerusalem as die staat Israel se hoofstad erken, weinig met oortuiging te make het, maar wel baie met persoonlike populariteit en om die guns van sy groot Joodse casino baas donateur, Sheldon Adelson te behou. En so terloops : Trump se aankondiging is ook nie so dramaties en dapper soos baie van sy ondersteuners graag sou wou glo nie. In sy aankondiging oor die erkenning van Jerusalem was daar ‘n opvallende weglating – Hy het nie die Israelse terminologie oor Jerusalem gebruik nie. Israel verwys na Jerusalem as die “ewige onverdeelde” hoofstad van Israel.* Trump het net na “Jerusalem” verwys en dus die deur oopgelaat dat die grense van Jerusalem nog steeds onderhandelbaar is.



Ek wil egter nie op hierdie fasette konsentreer nie, maar net vra wat die geestelike en Bybelse dimensie van hierdie besluit behels?


JERUSALEM SE BETEKENIS VIR ONS


Hoe belangrik is die stad Jerusalem, spesifiek vir ons as Christene? En as dit belangrik is, in watter sin? Is God op ‘n manier meer daar teenwoordig as op ander plekke? Maak die status van Jerusalem hoegenaamd nog saak vir ons? Behoort evangeliese Christene, Trump se besluit toe te juig?



Histories gesproke in die ontvouing van God se verlossingsplan het Jerusalem natuurlik ‘n sleutelrol gespeel. Dis die stad van Dawid, die setel van die tempel, die plek waar God besluit het om op ‘n besondere manier teenwoordig te wees! As geografiese plek waar ons Here Jesus gekruisig is, het Jerusalem vir ons natuurlik ‘n geskiedkundige belangrikheid. Maar het Jerusalem (en of dit nou amptelik as Israel se hoofstad erken word of nie), enige geestelike betekenis vir ons?

DRAMATIESE VERSKUIWING

Met die koms van Jesus het daar dramatiese verwikkelinge gekom in die rol van Jerusalem. Die geografiese Jerusalem het geen geestelike betekenis meer vir ons nie! Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put het dit vir altyd vir ons opgeklaar!

Die vrou het geredeneer : “Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."

Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. (Johannes 4:20-23)

Ware aanbidding is gestel in Jesus Christus. Hy het immers die TEMPEL VAN GOD (kliek) vervang en by implikasie daardeur die belangrikheid van die stad Jerusalem gerelativeer! 

Ons moenie vergeet nie, Jerusalem het Jesus verwerp en Jesus het die oordeel oor hierdie stad en die tempel uitgespreek. 

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!" (Lukas 13:34,35) 

Later spreek Hy ‘n nog duideliker oordeel uit oor Jerusalem!

"Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is." (Lukas 21:24)

En die geskiedenis leer ons dat die voorspelde oordele wel oor Jerusalem voltrek is...

JERUSALEM SE TOEKOMS?

Die groot vraag is natuurlik nou wat bedoel word as Jesus verwys na die vertrapping van Jerusalem wat ook tot ‘n einde gaan kom? Voorspel dit ‘n glorieryke aardse bedeling vir die geografiese stad Jerusalem? Dis natuurlik hoe die chiliasme, wat 'n duisendjarige aardse koninkryk van Jesus verwag, dit verstaan.**

In die breë Bybelse heilsgeskiedenis, dink ek moet ons nie hierdie uitspraak van Jesus verstaan as ‘n wonderlike toekoms vir die huidige stad Jerusalem nie. Ons moet Skrif met Skrif vergelyk. ‘n Uitstaande belangrike hoofstuk in die Ou Testament wat handel oor die toekoms van Jerusalem is Jesaja 60. (Lees dit gerus, maar onthou dit is geskryf in konkrete Ou Testamentiese taal, segswyse en denkraamwerk.) ‘n Baie belangrike insig word verkry as ons hierdie hoofstuk met Openbaring se beskrywing van die Nuwe Jerusalem (die Bruid van Christus) vergelyk. Die ooreenkomste is verstommend treffend!

“Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God.

Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.” (Jesaja 60:19,20)

Vergelyk dit nou met Openbaring.

“Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” (Openbaring 21:23)

“Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.” (Openbaring 22:5)

Jesaja beskryf die Nuwe Jerusalem in profetiese taal! 

Dit word bevestig deur die Nuwe Testament self. Die klem in die Nuwe Testament verskuif van die fisiese stad Jerusalem na die Nuwe Jerusalem. Die teologiese belangrikheid van die aardse stad Jerusalem vind vervulling in die waarheid van die Nuwe Jerusalem! (Kliek op Nuwe Jerusalem) Trouens Openbaring verwys eintlik baie negatief na die aardse Jerusalem as die plek waar ons Here gekruisig is!

“Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem.” (Openbaring 11:8)

Ook Paulus heg geen spesiale geestelike betekenis aan die geografiese Jerusalem nie. Trouens om die onversoenbaarheid tussen redding deur die wet en redding deur geloof uit te beeld verwys hy baie sterk negatief na die aardse Jerusalem. En dan maak hy terloops ‘n positiewe verwysing na die hemelse Jerusalem! “Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is ‘n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder.” (Galasiërs 4:25,26)

Donald Trump se besluit (ongeag die applous van baie Christene) is eintlik baie teenproduktief vir die Christelike evangelie se vooruitgang veral in die Moslem wêreld. Dit plaas Arabiese Christene in ‘n baie netelige posisie. (Dink ook sommer, wie is ons naaste broers en susters in die geloof - Arabiese Christene wat in Jesus glo of Sioniste wat Jesus verwerp?)  So het die hoof van Egipte se Koptiese Kerk, Pous Tawadros die Tweede reeds gesê hy weier om die Amerikaanse adjunkpresident, Mike Pence te ontmoet wanneer hy Kairo later die maand besoek. Dis ‘n verstaanbare reaksie. Trump sal dit egter nie verstaan nie. Natuurlik dis te veel verwag van hom wat nie eens die woord vergifnis verstaan nie om diepgaande teologiese insig te toon. Van evangeliese Christene verwag mens egter meer insig en sensitiwiteit... Kom ons lees meer die Bybel en kyk minder TBN...

*Hy het wel dié term in sy verkiesingsbeloftes gebruik.

** Meer spesifiek, pre-millenialisme.
Diana Butler Brass som dit baie goed op:
I doubt that President Trump could explain dispensational pre-millennialism. I doubt he knows the term. But his evangelical supporters know it. Some of his advisers are probably whispering these prophecies in his ears. Trump might not really care how they interpret the Bible, but he cares that white evangelicals continue to stand with him. Moving the embassy to Jerusalem is one way to affirm his commitment to these evangelicals -- reminding them that he, Donald J. Trump, is pressing biblical history forward to its conclusion and that he is God's man in the unfolding of these last days.

Vrydag 01 Desember 2017

GOD SE WISKUNDE

- die onlogiese rykdom van genade wat ons verstand te bowe gaan! 



Wiskunde is nie almal se sterk punt nie. Dit laat baie van ons struikel, om dit nou maar sagkens te stel. Maar weet jy, God se wiskunde, God se genadewiskunde* soos spesifiek Jesus dit vir ons leer, is vir die verdorwe prestasie georiënteerde mens nog moeiliker en nog meer onlogies as skoolwiskunde. Kom ons dink aan ‘n paar evangelie verhale wat die andersheid van God se wiskunde vir ons uitwys. Dis onlogies omdat dit genadewiskunde is, en genade is vir die menslike verstand en houdings onlogies en onaanvaarbaar. Maar dis juis God se onlogiese genade wat vir ons hoop gee.


Die gelykenis van die werkers in die wingerd. (Matteus 20) Die wat die hele dag gewerk het, het presies dieselfde loon gekry as die wat net ‘n uur voor tjailatyd begin werk het. Dit klink vir ons wiskundige gevoel so onregverdig. Maar dit wil sê : Genade is werklik genade, dit word nie verdien nie en kan nie bereken word nie. Almal het genade nodig. Moenie afgunstig wees as die Here vir iemand anders (soos vir jou) ook genade bewys nie!

Die arm weduwee wat die twee klein geldstukkies in die tempelskatkis ingegooi het. (Lukas 21) Jesus sê, sy het meer ingegooi as die ryk mense wat baie geld ingegooi het. God kyk anders as mense!

Maria wat nardusolie wat ‘n jaar se loon werd was op Jesus se voete uitgooi! (Johannes 12) Dit maak nie logies sin nie. Die geld kon seker baie beter gebruik gewees het. Maar Jesus keur dit goed. Liefde vir Jesus kan nie in geld bereken word nie. Die allesoortreffende waarde van Jesus maak alle ander dinge slegs relatief waardevol.

Ook in LUKAS 18:10-17 sien ons in twee verhale hoe God se wiskunde, hoe God se sienswyse en berekenings radikaal van die mens s’n verskil. 

'n Gelykenis. ‘n Vrome Fariseër wat al die verkeerde dinge vermy het en al die regte dinge gedoen het, word nie as ‘n regverdige deur God beskou nie. Skokkend, totaal teen die verwagting en menslike berekenings in! Dink net, hy het twee keer ‘n week gevas en ‘n volle tiende van sy inkomste vir die Here gegee! Ons sou seker juig as ons meer sulke lidmate gehad het. Maar nee, volgens Jesus gaan die sondaar wat niks gehad het om oor goed te voel nie, maar net een kort stotterende opregte gebed gebid het, daar weg as ‘n regverdige! God kyk anders, God bereken anders! Inderdaad soos on lees in die profeet Jesaja, juis in die konteks van God se ruim genadige uitnodiging : “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;” (Jesaja 55:8)

En dan die baie bekende voorbeeld van Jesus wat aandag en kosbare tyd aan die kindertjies wy. Veral in destyds se samelewing het kinders glad nie getel nie. Kinders kon vir Jesus van geen hulp wees en vir Hom geen aansien bring nie. Kinders, (Sulke lasposte!) kon eintlik maar net mens se kosbare tyd mors. Daarom probeer die dissipels Jesus beskerm en raas hulle met die mense wat hulle kindertjies na Jesus bring. Jesus kyk egter heel ander na die saak, sy berekening van wie waardevol is verskil totaal van die mens s’n... Jesus kyk met ‘n Koninkryksoog. Jesus bereken mense se waarde met ‘n ander soort wiskunde. Vandag nog verwerp mense Jesus se wiskunde en waardebepalings. Ons hoor hoe mense redeneer: Kindertjies kan nie glo nie, kan nie bekeer nie, daarom kan hulle nie ten volle deel wees van die kerk en die koninkryk nie... Wel, Jesus wat volgens Goddelike berekening en logika dink, oordeel anders... 

AARDSE EN HEMELSE WISKUNDE

Daar is ‘n reuse verskil tussen ons aardse wiskunde en God se logika. Vir aardse wiskunde het mens ‘n goeie verstand nodig, vir hemelse wiskunde het mens ‘n nuwe hart nodig. Aardse wiskunde gaan oor logiese prestasie, hemelse wiskunde gaan oor onlogiese genade.

As ons waarlik kinders van God en burgers van sy koninkryk is, dan sal ons wiskunde ook verander. Met ander woorde ons manier van kyk, bereken en oordeel! Kortom ons hele waardesisteem en lewensbeskouing. Ons sal op ‘n ander manier berekenings doen oor genade, geld, tyd, mense, moeite en vergifnis…

Genade is regtig genade en kan op geen manier verdien word nie. Regte genade bevry ons van vergelykings tref met mekaar, van jaloesie, want ek het darem meer gedoen as jy vir die Here en ek moet dus beter behandelinge en beter erkenning kry... Niemand kan deur selfs die geringste prestasie kwalifiseer vir genade nie - nee, ons "kwalifiseer" vir genade deur juis ons geestelike bankrotskap te erken en behoeftig soos die tollenaar in die gelykenis uit te roep : "O, God wees my sondaar genadig!" (Lukas 18:13)

Geld en besittings se waarde sal ons meet aan dit wat dit werd is vir die koninkryk en of ons Jesus daarmee kan dien. Dis nie ‘n maatstaf om sukses in hierdie lewe te meet of mense te klassifiseer nie. Ons sal dit nie meer beskou as sekuriteit nie, maar as ‘n gebruiksmiddel in die Koninkryk. Dis maar net 'n gawe van God wat dankbaar in sy diens gebruik moet word.

Tyd en die sin van die lewe se waarde sal ons bereken aan hoe ons daarmee God kan eer.

Ons sal na mense kyk met die oog van genade en nie uitreken hoeveel hulle ons skuld, wat ons uit hulle kan kry en hoeveel hulle vir ons werd is nie, maar hulle waardeer as beeldraers van God. Ja, in almal van ons is die beeld van God geskend weens die sonde, maar in sy kinders is Hy besig om dit te herstel sodat ons al meer soos Jesus lyk. Dis hoe ons mekaar veral binne die gemeente moet raaksien en waardeer ten spyte van soveel gebreke en gebrokenheid.

Inderdaad sal ook anders na klein kindertjies kyk! Ons sal hulle sien soos Jesus na hulle kyk... Kindertjies wat deel is van God se koninkryk en kerk. Ons moet hulle liefhê en oppas en ook besef hulle is in hulle eenvoud en eerlikheid rolmodelle vir ons.

KYK NUUT NA JESUS!

Ons sal veral met nuwe oë na Jesus kyk. Hy het Sy bloed vergiet en sy lewe prysgegee vir rebelse sondaars, vir sy vyande, vir ondankbare mense, vir grootmense, maar ook vir kindertjies, vir jou en vir my... Dit maak nie sin nie, maar onthou dis genade wiskunde. Sy offer is onberekenbaar groot en daarom sal ek as dit by dankbaarheid kom nie meer allerhande suinige menslike sommetjies maak nie. Jy ken daardie sommetjies – “ek het mos darem nou genoeg tyd, genoeg geld en genoeg moeite aan die koninkryk bestee, ek het nou genoeg vergewe, genoeg verdra, ek het darem nou genoeg kerk bygewoon vir die jaar ("dis immers mos vakansie" ...” Nee! Ek sal besef, Jesus het sy alles vir my gegee en ek kan Hom tot in ewigheid nooit genoeg dankbaar wees nie!

Die grootste voorbeelde van God se dramaties ander wiskunde vier ons tydens Kersfees en Paasfees. God maak Homself ‘n minus, Hy maak Homself swak, ‘n hulpelose baba... En dis nie al nie, Hy word nog ‘n verdere minus, ‘n sterwende gevangene en veroordeelde misdadiger aan ‘n houtkruis.... Dit alles met die doel om by ‘n plus uit te kom, om ons verlossing te bewerk en so eer aan Homself te bring, Hom aan wie alleen alle eer toekom! 

*Met erkenning aan Phillip Yancey – “Wat is so onbeskryflik groot aan Genade?” p65ev



Ken jy hierdie historiese geboutjie?