BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 22 November 2018

DIT RAAK JOU KINDERS!

- HIERDIE IS ’N KEUSE WAT JOU NAGESLAG BESLISSEND BEÏNVLOED.



Baie van die keuses wat ons maak gaan vir altyd ook ‘n invloed hê op ons kinders se welsyn en toekoms... Dink nou maar aan die netelige kwessie van emigrasie. Moet ek bly of moet ek ry ter wille van ‘n beter (?) toekoms vir my kinders? 

Hier in Deuteronomium 30:15-20 word ’n uitdaging aan die volk Israel gerig om ’n keuse te maak. Opmerklik en veelseggend is dat die keuse nie net hulleself sal raak nie, maar ook hulle nageslag sal beïnvloed. “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” (19b!) 

Die belangrikheid om ‘n keuse te maak. 

Dis baie duidelik dat die volk Israel hier voor ‘n beslissing gestel word. Julle moet nou kies! Dikwels skram mense weg van hierdie verantwoordelikheid. Ander is baie gou by met die beskuldiging en skeldnaam METODISME as daar van ‘n keuse of eis tot bekering gepraat word! Daar is dikwels die verskoning, “Ag wat die Here het my paadjie uitgelê, wat sal gebeur sal gebeur.” Dis ’n verdraaiing van Bybelse waarhede om so te redeneer. Ja, natuurlik het God die inisiatief geneem. Hy het die verbond met Abram gesluit en beloftes gemaak. Dis alles sy genade! Ons kry hier weereens ’n duidelike verwysing daarna. “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee." (20) Dis inderdaad God wat toe Hy aan sy verbond gedink het, besluit het om hulle uit Egipte te verlos en na die beloofde land te lei. Maar nou moet hulle kies. Hulle is verbondsmense aan wie die heerlike beloftes behoort, maar hulle moet nou self KIES! Dis noodsaaklik, want alle verbondsmense (of as jy wil, kerkmense!) het nie noodwendig die lewe nie! JY moet kies, JY moet besluit! Hierdie uitdaging kom weer en weer ook tot ons. Jesus self het aan die verbondsvolk hierdie uitdaging gerig, reg aan die begin van sy bediening- “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15!) Het jy al duidelik gereageer? 

Die inhoud van die keuse. 

Waaroor het die keuse gegaan. Kies die LEWE! Wat is hierdie lewe? Hierdie keuse is ’n keuse om God lief te hê en sy gebooie te gehoorsaam. Dies lewe in God se teenwoordigheid. “As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.” (16) Om God lief te hê is om sy gebooie, sy voorskrifte, sy bepalings te gehoorsaam! Dis ’n keuse vir gehoorsaamheid aan die wet van Moses as geheel. Die tora. 

Die tora het die pad aangedui. Die koers waarvolgens die mens moes loop. 
Die tora was die waarheid. Die duidelike suiwer waarheid te midde van al die valsheid en afgodery. 
Die tora was lewe teenoor dood. Godellike lewe in sy teenwoordigheid en onder sy seën!

Wat is die keuse waarvoor ons staan? Ons moet Jesus kies! Om Hom te glo en te gehoorsaam. 
Jesus self is nou die weg, die waarheid en die lewe! (Johannes 14:6) 

Dit wat die tora was in die konteks van die Ou Verbond, is Jesus self nou in die Nuwe Verbond. 

Jesus in Homself is die vervulling van die hele tora, die hele wet van Moses. Ons word uitgedaag nie net om ’n boek se voorskrifte na te volg nie, maar om ’n Lewende Persoon te volg! Om persoonlik my hele vertroue op Hom te plaas. 

Die langtermyngevolge van die keuse. 

Die gevolg van die regte keuse vir God en sy wet, sou ’n lang lewe wees in die beloofde land Kanaän. ’n Letterlik voorspoedige lewe in die land Kanaän. In die Nuwe Verbond gaan dit nou nie meer oor ’n letterlike Kanaän en aardse voorspoed nie. (Terloops, dis hier waar baie misverstande kom wat tot die Prosperity Gospel dwaling aanleiding gee. Mense maak so maklike die aardse beloftes van die Ou Verbond naatloos van toepassing op die Nuwe Verbond. Dit kan nie. Jesus die Middelaar van die Nuwe Verbond het nooit materiële voorspoed beloof aan sy volgelinge nie, maar wel ‘n ewige beloning hierna!) Ons wat die keuse doen om in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam kry iets beter as Kanaän – die ewige lewe nou reeds en finaal in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die ewige stad waarvan God self die Bouer is! EWIGE LEWE is om God en Jesus te ken en by Hom te wees! (Johannes 17:3) 

Die opvallende gedeelte van hierdie belofte in vers 19 is – “Jy en jou NAGESLAG” Die keuse raak nie net jouself nie, maar ook jou kinders! Nou is die groot vraag : Geld dit ook vir die Nuwe Verbond? Raak dit my kinders as ek tot bekering en geloof in Jesus kom? En die antwoord is ’n heerlike en besliste JA! Ons kry ’n treffende voorbeeld daarvan in Handelinge 16. Die bekering van die tronkbewaarder van Filippi. Lees gerus weer Handelinge 16:29-34. Let op na die antwoord wat die tronkbewaarder ontvang as hy vra wat hy moet doen om gered te word! "Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." (31) Hierdie is ‘n belofte wat ons nie ligtelik moet opneem nie! 

Die punt is dit : 

Ouers se keuse speel ’n geweldige groot rol in die lotsgevalle en eindbestemming van hulle kinders. 

Beteken dit dat kinders van gelowige ouers outomaties gered word? Outomaties wedergebore is? Nee! Hulle moet self ook kies wanneer hulle die ouderdom van bevatlikheid en verantwoordelikheid bereik. En inderdaad gebeur die onbegryplik tragiese – sommige maak nooit die regte keuse nie en gaan vir ewig verlore! Die onbegryplike negatiewe wat kan gebeur mag egter nie veroorsaak dat ons die heerlike positiewe belofte hier verswak of ignoreer nie! 

Nou wat is die voordele dan vir kinders wie se ouers die Here Jesus ken en dien? 

-Hulle leef in die dampkring en die invloedsfeer van God se genadeverbond. God is hulle beskermer van kleins af. “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur.” (Psalm 73:6!) 

-God gebruik die Christen ouerhuis as die kanaal waardeur sy genade en beloftes ook na hulle kom. Hulle het ouers wat vir hulle bid en intree by God se genadetroon. Ons kan die Here herinner aan sy beloftes! Hierdie kinders hoor die Woord van kindsbeen af. Wat ‘n voorreg! “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:14,15) Ons kan positief vertrou dat die saad van die Woord wat natgemaak word deur die gebede van gelowige ouers uiteindelik sal vrugdra! 

-Kinders van gelowige ouers kry van kleins af die voorbeeld van geloof en van liefde vir die Here en liefde vir sy kerk! Ja, baie van hulle rebelleer, maar daar is baie getuienisse van verlore seuns en dogters wat na ‘n tydperk tussen die varke weer terugkeer... Ons as gelowige ouers kan die pad maar gelowig en hoopvol dophou... 

Oor wat jy as ouer oor emigrasie besluit, wil ek nie veel kommentaar lewer nie. Wat ek wel wil onderstreep is die Bybelse opdrag : Kies die lewe en jy en jou kinders sal lewe. Kies Jesus en jy en jou kinders lewe!

Naskrif : As jy dalk vanuit Bybelse vertrekpunte wil saamdink oor emigrasie, kliek op BLY OF GLY?



Donderdag 15 November 2018

SKULDIG, ONSEKER EN VOL VREES?


- Neem kennis van die triomf van die kruis! 


Soveel mense wat hulleself kinders van God noem, voel steeds skuldig en minderwaardig, onseker, bang en vol vrese. Dikwels is daar die gevoel van “ek kort nog iets, maar ek weet nie juis wat nie”, ander weer sal sê : ”Ek weet God het my vergewe, maar ek sukkel steeds om myself te vergewe.” Wat is die oplossing? Verstaan en glo die triomf van Jesus aan die kruis! 

Dis die heerlike boodskap van Kolossense 2:13-15. Die gelowiges in Kolosse het ook hierdie tipe probleme ondervind en Paulus verduidelik daarom vir hulle wat die volheid en die genoegsaamheid van Christus beteken. "In Hom is die volle wese van God beliggaam en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid." (9,10) Hy wil vir hulle laat verstaan : As julle Jesus het en vas vertrou op Hom alleen, het julle als wat julle nodig het! Julle moet besef, julle is volledig met God versoen deur Jesus. Julle het nie meer geheime resepte en tegnieke nodig nie. Julle het nie ekstra bewyse van vergifnis nodig nie. Julle hoef geen bose mag of krag te vrees nie! Daarom gaan Paulus nou weer die betekenis en gevolge van Jesus se kruisdood verduidelik. 

ALLES VERGEWE! 

Paulus stel dit duidelik. Julle is nou lewend, want AL julle sondes is vergewe! “Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.” (13) Goddelike vergifnis is ‘n volledige vergifnis. Goddelike vergifnis is ons enigste hoop wat ons het (Psalm 130:3-4) As daar nie iets soos volledige vergifnis was nie, was daar geen hoop dat ons ooit voor God kon verskyn nie. 

ANTWOORDE BY DIE KRUIS

Hoe werk hierdie vergifnis, hoe het dit gebeur, hoe drasties is dit, hoe seker is dit? Die antwoorde op al hierdie vrae kry ons by die kruis. By die kruis het daar iets gebeur. Onthou tog die kruis was nie maar ‘n stukkie toneelspel, ‘n hartseer drama wat bedoel was om ons simpatie te ontlok nie. Nee, met Jesus se sterwe het daar iets gebeur met ons sonde. Dit word treffend verduidelik deur die beeld van ‘n skuldbrief, ‘n verbandsdokument as jy wil. Dis ‘n dokument met my handtekening op wat teen my getuig dat ek so en so bedrag verskuldig is. Ek erken dis my skuld en ek is daarvoor verantwoordelik. Ek is vas. Geestelik gesproke is ons so vas in die skuld by God. Ons sonde het ons in die skuld gebring by God. ‘n Onbetaalbare groot skuld. Morele prestasies, goeie werke en goeie bedoelings kon niks daaraan verander nie. Ja, sommige probeer inderdaad hulle skuld voor God self afwerk met beloftes en allerhande godsdienstige dade of reëls - dus futiel. Is jy dalk een van daardie dwases, al bedoel jy dit dalk baie opreg? Jy kan net sowel die see probeer leeg dra met ‘n emmer. 

‘n Hopelose situasie! Maar hoor hier! Kyk wat het Jesus met hierdie verdoemende bewyse teen ons gemaak : “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” (14) 

SONDEREKORD UITGEWIS! 

Vir die wat glo in Jesus alleen is dit so dat Hy self hierdie dokument waarvan die inhoud teen ons getuig vernietig het. (Sommige sien “eise/insettinge” as ‘n verwysing na die gebooie van die wet, wat ons beskuldig). Nietemin, die boodskap is duidelik. Ons sondeskuld lêer by God het nie maar net weggeraak nie, is nie net toegemaak, gebêre nie - dan sou daar altyd ‘n moontlikheid wees dat dit weer opgediep kon word. Nee, ons sonderekord is uitgewis, vernietig deur God self in Jesus aan die kruis. Hy het hierdie dokument aan die kruis vasgenael. Miskien is hier ‘n indirekte verwysing na die beskuldiging teen Christus wat bo sy kop aan die kruis vasgespyker is. Jesus het die beskuldiging teen ons ook daar vasgeslaan net soos die beskuldigings teen Hom daar gespyker was. Dit maak baie sin as ons daaraan dink dat Hy eintlik gestraf is vir dinge wat ons gedoen het. 

Hoe ook al die detail van die beeld verstaan moet word, dit kom daarop neer dat ons totaal sonder skuld is voor God. Met ander woorde ons is onstrafwaardig, volledig versoen, in die regte verhouding met Hom. Alle bewyse en klagtes teen ons (en is daar nie baie nie!) is totaal vernietig. Dit bestaan nie meer nie. Verlossing beteken nie dat ek maar net ‘n nuwe bladjie omslaan en probeer om van nou af reg te leef nie. Nee die “ou blaadjie” met al sy vuil kolle en mislukkings is vernietig, dit bestaan nie meer nie. Ek kan deur niemand meer beskuldig word nie, want die bewyse en gronde bestaan nie meer nie. In Romeine 8:33,34 stel Paulus dieselfde waarheid so : “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is : Ons staan wat op Jesus vertrou staan as regverdiges voor God! 

DIE BOSE MAGTE HET HULLE HOUVAS VERLOOR! 

Die konsekwensies van die kruis gaan dus dieper as persoonlike skuld. Baie dieper. Nie alleen is ons skuld gekanselleer waardeur hierdie magte ons in hulle greep gehou het nie, die bose magte wat God se kinders beskuldig of probeer afpers is self oorwin aan die kruis. “Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.” (15) Die kruis alhoewel dit soos ‘n neerlaag vir Christus gelyk het was juis Sy oorwinning oor alle bose magte wat daar ook al mag bestaan. Die kruis wat die skandpaal was het nou ‘n oorwinnaars rytuig geword. (Verwys na ‘n triomf optog, oorwinnaars parade wat destyds algemeen bekend was.) Hierdie bose magte is totaal ontwapen, in die openbaar verneder. Hulle moet hulpeloos en vernederd meedoen aan die oorwinningsparade van Jesus en so onwillig Sy heerskappy erken. Die ontwapening kan binne die konteks moontlik verwys na die skuldbewys wat vernietig is. Hulle kan ons nie meer met afdreiging teister nie, want die dokumente wat hulle gebruik het om ons mee te teister bestaan nie meer nie. 

Die duiwel kan jou nie meer afpers met die sondes wat jy gedoen het nie, want alle bewyse daarvoor is vernietig! Satan het geen wapen meer om jou te dreig nie. Sy dreigemente is net bangmaakstories! 

BEVRYDING VAN VREES! 

Die oplossing vir ons vrese en twyfel is nie nuwe geestelike tegnieke nie, ook nie sielkundige truuks om jouself te probeer te vergewe nie. Die oplossing is : 

Besef en bedink die realiteit van die kruisgebeure! 

Vir al ons vrese is daar soos vir die Kolossense net een deur van hoop uit die doolhof van wanhoop. Die boodskap van die Gekruisigde Jesus. Alle magte in die heelal is aan Hom onderwerpe, alle magte goeies en slegtes. Hy is hoof oor almal omdat Hy self die Skepper is van almal. Hulle is dus aan Hom onderworpe as Skepper. Verder is die bose magte ook nog aan Hom onderworpe as Oorwinnaar. Dis die realiteit van die heelal waarin ons leef - Jesus is algehele oorwinnaar! (ongeag wat New Age gurus of fiksieskrywers ons wil laat glo.) Die magtige verlossingswerk van Jesus is van kosmiese omvang. Die Jesus wat vol van liefde, ontferming, genade en barmhartigheid is - Dis HY wat in beheer is, Hy bepaal die uitkoms en gang van die geskiedenis. Niemand anders nie, die rebelle van die kosmos (bose magte) is uitgeskakel! Oor demone en duiwels, geheime organisasies en samesweringsteorieë hoef gelowiges hulle nie te kwel nie. 

Die kruis gee ons volkome gemoedsrus!



[Die kruis by Omandongo in Ovamboland waar die Finse sendelinge met hulle pionierswerk begin het.]

Donderdag 08 November 2018

AS DIE BEURSIE LEEGRAAK…

- God het heerlike beloftes gemaak oor geldsake, maar ons moet sy opdragte hieroor natuurlik net so ernstig opneem! 

[Pasop vir die rosyntjiebrood sindroom as ons die Bybel oor geldsake ondersoek. Moenie die Woord hoor soos stout kinders ‘n rosyntjie brood eet nie…. Hulle eet net die lekker rosyntjies en los die res van die brood...] 

DIS MOEILIKE TYE 

Dis geen geheim nie, moeilike finansiële tye is op ons! En die ergste is nog op pad! Die gevolge van die geldmorsmanewales van die korrupte Zuma en die plundering van sy Gupta vriende het ons hier in Namibië ook ingehaal. Natuurlik is nie als hulle skuld nie. Plaaslike spandabelrigheid en korrupsie het ook by ons ‘n verdere spoor van ekonomiese verwoesting nagelaat. Dit gaan nog knyp... 

Die goeie nuus is dat die Woord baie oor geldsake te sê het.

Ons moet  net gehoorsaam luister! Een so ‘n gedeelte vind ons hier aan die einde van Hebreërs. 

Maak gerus self die Bybel oop by Hebreërs 13:1-6. Ons kry hier ‘n hele paar etiese kwessies wat aangespreek word. Praktiese opdragte oor die konkrete uitlewe van Christenskap. Broederliefde, gasvryheid, medelye, reinheid en tevredenheid. As ons regtig die troos wil ervaar van God se beloftes oor finansies moet ons ook erns maak met wat Hy oor hierdie ander sake te sê… Anders gesê, hierdie belofte oor finansiële versorging waarna ons gaan kyk, gaan my niks baat solank ek nie my broers liefhet nie, solank ek weier om gasvry te wees, as ek hardvogtig is, solank ek nie die huwelik respekteer nie en so lank ek deur gierigheid oorheers word nie…

(Wie van ons is nie skuldig nie? Gelukkig vertel hierdie skrywer in die voorafgaande hoofstukke juis va ons Hoëpriester Jesus se volmaakte offer wat ons volkome reinig...)

Kom ons kyk wat sê hierdie gedeelte oor finansies: 

“Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." 
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" (Hebreërs 13:5,6) 

Hier kry ons ‘n OPDRAG, ‘n BELOFTE en die heerlike EFFEK VAN DIE BELOFTE. 

1.OPDRAG 

Wat beteken, "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het."? Wat is die implikasies op die grond? Paar praktiese opmerkings: 

Leef in onderwerping aan God se soewereine beskikking. Aanvaar geduldig en nederig dit wat God oor jou pad bring. Wees dankbaar vir wat God jou gee. God is in beheer van als, ook jou finansies. Ook wat jy nou beleef ten opsigte van finansies is nie toevallig nie. Hy is besig met jou...

Leef in verantwoordelikheid met wat jy het en pas jou leefstyl daarby aan. Wees eerlik met jouself : "Wat kan ek bekostig en wat het ek regtig nodig? Hoe wil God hê ek moet my geld en tyd en kragte spandeer? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om te gaan uiteet? Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om DSTV aan te hou? (Het ek daai sepies nodig in my lewe?) Is dit verantwoordelik en bekostigbaar om lag-lag N$1000 op te rook as daar nie geld is vir basiese behoeftes nie? Is die malle gejaag agter sportbyeenkomste aan terwyl ek nie my skulde kan betaal nie, verantwoordelik?" Verantwoordelike rentmeesterskap – als wat ek het kom van God af, ek moet dit verantwoordelik bestuur soos wat Hy daarvan sal hou… Niks is regtig my eie nie, God leen dit vir my om te gebruik in belang van sy eer en koninkryk.. 

Leef met ‘n gesindheid van vergenoegdheid. (Filippense 4:11,12) “…ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om gebrek te ly en ek weet wat dit is om oorvloed te hê…” (DVL) Maak ‘n punt daarvan om God opreg te dank vir elke goeie gawe! Geniet die klein kosbare dinge wat God ons gee… vars oggendlug, vriendskap, vrede in die huis, die wonderlike skepping rondom ons. (Daar is vreugde in eenvoud!) Laat ons tafelgebede opreg wees… 

Leef volgens ‘n ewige waardebepaling. Het jy skatte in die hemel? Met ander woorde, ken jy Jesus en bedink jy die dinge wat daarbo is? Leef jy heilig, besigmet goeie werke? Hoe beoordeel jy sukses? Is dit net karre, huise en vakansies wat jou opgewonde maak, of is jy opgewonde oor Jesus en die Woord en die ewige teenwoordigheid van God? Onthou Jesus se woorde in Lukas 12:15. “Toe sê Hy vir hulle: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." 

Leef vry van die verslawende liefde vir geld. Dis vir jou eie beswil. “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Timoteus 6:10) Die gierige mens is nooit ‘n gelukkige mens nie. Sy hart is altyd met angs vervul. Geldgierigheid is net so ‘n sterk verslawing soos alkohol of nikotien verslawing. Vra die Here Jesus om jou te bevry... 

Leef vrygewig! "Hoe nou? Ek kry dan self swaar", wil jy beswaar maak. Maar hoor die opdrag tot mededeelsaamheid. Gee aan ander wat minder as jy het! Jesus het ‘n duidelike radikale belofte hieroor gemaak. (Sekerlik gaan dit oor gaan oor meer as geldsake, oor barmhartigheid in die wyse sin van die woord “Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word." (Lukas 6:38) Hierdie beginsel van Jesus word nogal kragtig geïllustreer deur ‘n ondervinding van Martin de Lange wat saam met sy gesin as sendelinge in Turkye gewerk het. Toe hulle moes terugkom na SA het hulle bereken dat hulle so R200,000.00 nodig sou hê vir die verhuising. Na ‘n paar weke het hulle daarin geslaag om so R10,000.00 bymekaar te maak nie eens genoeg vir vliegkaartjies nie. Sekerlik in ‘n half moedelose toetstand het Martin saggies gebid en vir die Here gevra : “Wat is ek veronderstel om te doen met net R10,000.00?” Die verbasende opdrag wat sy maag laat draai het kom toe : “Gee dit weg!” Hulle was gehoorsaam en het die bedrag aan ‘n ander sendeling gegee wat dit baie nodig gehad het, en ja... die Here het voorsien in al hulle kostes!* Hoor wat Jesus sê, konsentreer op gee en nie op ontvang nie! Paulus verwys hierna in sy gesprek met die ouderlinge van Efese. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang." (Handelinge 20:35) 

Laat God jou denke oor geldsake verander en begin sy opdragte hieroor gehoorsaam!

2.BELOFTE 

Hierdie vergenoegdheid en tevredenheid waartoe ons opgeroep word, is nie gebou op roekelose ongeergdheid en onverantwoordelikheid nie. Dis nie sommer net ‘n ongeërgde “Don’t worry be happy” houding nie! Dit kom voort uit ‘n doelbewuste nugter intelligente vertroue op God se belofte. En watter heerlike en kosbare belofte is dit nie! Nimmer as nooit ooit! (vyf negatiewe in die Grieks) Sterker kon die skrywer dit sekerlik nie gestel het nie. Daarom vriend : Maak ‘n keuse om God te vertrou! 

3. EFFEK 

Wat is die gevolg van vertroue op God se beloftes? Vreeslose geloofsdapperheid! Wie hierdie belofte van God vir homself toe-eien kan gelowig vreesloos sy vertroue uitspreek in die woorde van die psalmis : “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (Psalm 118:6) 

Finansiële bekommernisse skep vrees, en van hierdie vrees word ons bevry deur God se beloftes soos klein kindertjies te glo! 



SWAARKRY IS ‘N KOSBARE LEERSKOOL VAN GENADE EN VERTROUE! 

Finansiële swaarkry tye is nie lekker tye nie. Vir die kind van God is dit egter ‘n waardevolle leerskool. Dis ‘n skool waar ons leer wat is nederigheid, tevredenheid, afhanklikheid en vertroue. Hierdie vakke kan nie op ‘n ander manier geleer word nie. Laat ons nie klae oor ons swaarkry nie, maar dit sien as ‘n geleentheid om God ons Vader op ‘n nuwe dieper manier te leer ken! Kom ons stort ons harte voor Hom uit…. Filippense 4:6! God verhoor in detail die gebed vir ons praktiese behoeftes.


Ek wil ‘n aangrypende voorbeeld hiervan met jou deel wat plaasgevind het tydens die Anglo-Boere Oorlog. Ouma Hamman (Anna Elizabeth Retief) was 'n merkwaardige vrou van gebed. Tydens die Boereoorlog was sy in 'n konsentrasiekamp, wat bestaan het uit ontruimde huise in Barberton. Haar suster met haar twee kinders was saam met Ouma Hamman in die huis. Weens die hitte van daardie streek het die suster siek geword. Die kampkommandant het goedgunstiglik besluit om haar na Graaff-Reinet, na haar ouerhuis, toe te stuur. Sy moes net vir haar eie padkos sorg. Ouma Hamman en sy het besluit dit sal die beste wees as sy 'n groot baksel beskuit kan saamneem. Met moeite het hulle die bestanddele vir die beskuitbakkery bymekaar gekry. Die vet wat hulle nodig gehad het, was egter onbekombaar – van botter nie eens te praat nie! Hulle het, soos altyd, hulle toevlug tot die Here geneem. Maar om vet vir 'n baksel beskuit, in oorlogskaarste, in die konsentrasiekamp, te bekom, was nie so eenvoudig nie! Ouma Hamman vertel dit so: 

"Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek nog kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my op 'n tafeltjie. Ek bid met 'n swaar hart: 'My Vader, het U my dan hierdie keer vergeet?' Op daardie oomblik kom muilwaens met die troepe se kosvoorraad met groot geraas verbygejaag. 'n Harde klop hamer op die voordeur. Ek gaan maak haastig oop. Voor die deur staan 'n hygende soldaat met 'n yslike blik vet in sy hande. 'Dit het van die wa afgeval. Wil jy dit hê?' Sonder om vir 'n antwoord te wag, rol hy die blik in die gang in en laat vat agter die wa aan."

Voorwaar Goddelike detail op die tyd gebedsverhoring! 

God kan enige tyd en enige plek ons gebede verhoor. Selfs ook in 'n konsentrasiekamp!

*Martin de Lange, Op die rand van die Paradys, p 163,164