BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Liefde - motivering. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Liefde - motivering. Wys alle plasings

Donderdag 24 November 2016

MOENIE KANNIBALE WORD NIE!

- gebruik jou vryheid verantwoordelik in liefde.


’n Christen kannibaal - al van so iets gehoor? Dis eintlik ’n bietjie ondenkbaar - kannibalisme word meestal geassosieer met ruwe barbare wat in wilde ekstase om ‘n vuur dans in afwagting van ‘n grusame maaltyd van mensevlees, heidene wat nog nooit die evangelie gehoor het nie. Kannibalisme is egter ook ’n gevaar in die kerk van Jesus Christus. So lees ons in Galasiërs 5:15 – “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” Ja, en dit gebeur nogal dikwels - vra maar rond - hoeveel mense het juis seer gekry in die kerk, tussen God se kinders...

LEERSTELLINGS MOET LEI TOT ‘N NUWE LEEFSTYL

Vanaf Galasiërs 5:13 begin 'n nuwe afdeling van die hierdie brief van Paulus. Dis ‘n gevestigde patroon van Paulus in sy briewe dat hy eers die leerstellige basis behandel – naamlik redding deur geloof in Jesus en dan praktiese opdragte en vermanings oor hoe om hierdie redding uit te leef. In Galasiërs het Paulus weereens die redding deur die geloof in Jesus alleen beklemtoon teenoor die Judaïseerders wat geleer het dat die wet (spesifiek die besnydenis) ook nodig is vir redding. Paulus het beklemtoon - deur geloof in Jesus is julle volledig vrygespreek en vry van alle Mosaïese wetgewing van die Ou Verbond!

Maar nou moet hierdie leerstellige waarheid prakties neerslag vind in ons lewens. Leerstellings (waarhede) is nie ‘n doel opsigself nie, maar is die fondasie waarop die praktiese Christen lewenswyse gebou moet word. Dit wat jy regtig glo sal en moet 'n invloed hê op dit wat jy doen. 

Ons glo pragtige korrekte dinge, maar word dit gesien in ons lewens? 

Paulus praat nou direk met God se kinders.* Die vryheid van die gelowige is reeds duidelik deur Paulus verduidelik. “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.” (5:1) Dis Christus wat ons volledig vrygemaak het. Dis kosbaar! Moenie weer ‘n slaaf word nie...

VRYHEID IN VERANTWOORDELIKHEID

Die vryheid van God se kinders is 'n feit en 'n voorreg. Paulus herhaal weer die feit van die vryheid van God se kinders. “Want julle is tot vryheid geroep, broeders;” (5:13) Hierdie vryheid bring egter ook verantwoordelikheid mee. Die vraag ontstaan nou- hoe lyk hierdie vryheid, wat is die praktiese gevolge, hoe moet hierdie verantwoordelikheid uitgeoefen word? Die regte gebruik en aanwending van hierdie vryheid word negatief en positief gestel. 

Negatief -13b - “gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie,” (OAV) “Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie.” (NAV) “Die "vlees" –verwys na die sondige menslike natuur, verdorwe aard van die mens. (vgl. Ef 2:3) Die woord wat hier met "aanleiding/geleentheid/verskoning"* vertaal word, beteken in die militêre sin die basis waarvan operasies uitgevoer word. Die beeld is hier van die sondige natuur wat die posisie van 'n vyandige opponent gebruik as 'n basis, vir sy aktiwiteite. Dit gaan hier oor 'n waarskuwing om nie vryheid te misbruik as verskoning (pretext) of geleentheid om toe te gee aan die wense van ons sondige natuur nie. Ons sondige menslike natuur is maar 'n kansvatter, as hy hoor van die vryheid in Christus wil hy dit misbruik. Dit mag nie - onder geen omstandighede nie! Dis hoegenaamd nie in lyn met die Christen betekenis van vryheid nie! 

Positief - 13c“maar dien mekaar in liefde”. Liefde is hier die manier hoe hulle mekaar moet dien. Liefde is hier die liefde tussen Christene. Interessant Paulus gebruik die woord dien** (letterlik - slawe wees) binne die konteks waar hy juis die vryheid van Christene beklemtoon. Dit onderstreep die feit dat hoe vry die gelowiges ook al mag wees, hulle behoort nie aan hulleself nie - die doel van hulle vryheid is onderlinge diens deur liefde. Deur hierdie paradoks word die ware aard van Christelike vryheid uitgedruk - nie soos die Grieke dit verstaan het(en dikwels ons) as dat ek die meester van my eie besluite is nie, maar vryheid vind uitdrukking in die kapasiteit om andere deur liefde te dien. 

LUTHER SÊ DIT SO TREFFEND

Martin Luther was lank ‘n slaaf van twyfel, vrese, van Roomse leerstellings, reëls en rituele en daarom was die vryheid wat die eenvoudige evangelie vir hom deur die geloof in Jesus gebring het, baie kosbaar.

Een van Luther se beroemdste geskrifte is getiteld OOR DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN, wat in 1520 verskyn het. Hierin maak hy ‘n merkwaardige paradoksale stelling : 

‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; 
‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan. 

In die midde van die felle stryd teen Rome en al die gevaar daaraan verbonde, lewer Luther ‘n lofwaardige getuienis oor die vryheid van God se kinders. Vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel, vry van allerhande kerklike rituele en ondraaglike laste - maar juis deur geloof in Christus verlos tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! Daarom is die vrygemaakte kind van God iemand wat nie in homself leef nie, maar in Christus en sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

Ons hemelse Pa het ons ‘n persent gegee – verniet, want dis ‘n geskenk... ons is vry, ons skuld niks daarop nie en hoef nie daarvoor te werk nie, maar uit dankbaarheid deel ons die geskenk vrywillig met ander. Dankbaarheid vir sy vrye guns lei tot diensbaarheid in liefde!

DIE FOKUS EN ESSENSIE VAN DIE WET

Paulus gee nou die rede waarom hy kan sê dat onderlinge diens deur liefde die doel en fokus punt van gelowiges se vryheid is. “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat**: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (5:14) Die “hele wet” verwys na die bedoeling van die wet as geheeleenheid wat vervul word in die een gebod. Hy verwys na Lev 19:18b wat sê : “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die bedoeling hier is nie dat ons eers onsself moet liefhê voor ons ander kan liefhê nie,maar primêr dat ons ander moet liefhê met dieselfde spontaniteit en intensiteit as wat ons onsself liefhet. In die konteks hier is die naaste primêr, die mede-Christen. Die wet word vervul deur die liefde. Paulus kondenseer die wet as geheel in die een enkele gebod van die liefde.*** (liefde vir God natuurlik is nie uitgesluit nie, dis vanselfsprekend). 

In vers 15 verwys Paulus na onenigheid onder die Galasiërs, moontlik aangevuur deur geskille wat ontstaan het a.g.v. die Judaïseerders se leringe. Hulle word gewaarsku dat die gevolge hiervan selfvernietiging is. 

LAAT ONS OPSOM :

1. As mense wat deur Christus deur die evangelie vrygemaak is moet ons pasop vir twee gevare : terugkeer na slawerny van die wet aan die een kant en misbruik van ons vryheid aan die anderkant.

2. Vryheid van die wet beteken nie en is geen goedkeuring vir wetteloosheid en losbandigheid nie. Vryheid bring sy eie verpligting naamlik die korrekte gebruik van daardie vryheid. Radikale vrywillige liefde!


NIE BYT NIE, MAAR DIEN!

Die enigste sinvolle reaksie op ons kosbare verlossing en die vryheid wat Jesus ons gebring het is liefdesdiens. As ons die bevryding en vrede waarvan die Kersboodskap getuig regtig ontvang het, sal ons mekaar nie byt nie, maar mekaar begin dien. AMEN

Notas :

* Deur die beklemtoonde gebruik van "julle" tref Paulus 'n duidelike onderskeid tussen sy lesers en die agitators (die Judaïseerders) .

**“vervul” OAV

*** Drie opmerkings is van belang : 

1)Deur Christus se verlossing is gelowiges vry van die wet en dus onder geen verpligting om sy statute te onderhou nie.

2) God se wet bly egter 'n uitdrukking van Sy wil, wat vereis dat ons ons naaste liefhet soos onsself. 

3) Hieruit volg dat dit wat die wet as geheel van ons verwag, vervul word, aan voldoen word wanneer ons as medegelowiges mekaar in liefde dien. Deur lief te hê voldoen ons aan die diepste vereistes en bedoeling van die wet. Die wonder van die Nuwe Verbond is dat God se wette nou in ons harte geskryf is, nie in die vorm van reëls nie, maar in die vorm van ‘n begeerte om vrywillig lief te hê! Hierdie liefde is natuurlik nie bloot ‘n sentimentele gevoel nie, maar het duidelike etiese implikasies. (Kliek op Mauritius)

Donderdag 11 September 2014

BAIE LIEFDE

- en die vraag oor wie mag deelneem aan die nagmaal? 

Ons as mense sit met ‘n probleem. Die Bybel is duidelik : Ons moet God liefhê en dien met ‘n volkome hart. (Dis onder meer so duidelik uit Jesus samevatting van die wet.) Dit klink mooi, maar hoe kry ‘n mens dit reg? Wat motiveer ons om God lief te hê? Of anders gestel, het ek God lief genoeg om Nagmaal te gebruik? Kwalifiseer ek vir die nagmaal? - want dis duidelik nie ‘n ligtelike saak nie! In LUKAS 7:36-50 kry ons ‘n voorbeeld van opregte en uiterste liefde. Dis die aangrypende verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane “gewas” het, terwyl Hy aan tafel was saam met Simon die Fariseër. (lees dit gerus in jou Bybel)

DALK 'N SKANDAAL?

Wanneer ‘n mens ‘n belangrike gas vir ete nooi, hoop jy mos dat als sal regloop en dat niks sal gebeur wat jou in die verleentheid sal stel nie. (Ons wil ten alle koste verhoed dat die kinders skandes maak, die vrou uit haar beurt praat of dat iets met die kos sal skeefloop.) Op ‘n dag het Simon die Fariseër ‘n belangrike Gas genooi. (hy het natuurlik self nie besef hoe belangrik nie!) Probeer jouself die gebeure voorstel. Almal sit rustig aan tafel – moontlik was daar maar ‘n taamlik stywe en formele atmosfeer. Skielik kom ‘n huilende vrou die vertrek ongenooid binne gestorm. Wat sou sy hier maak? Sy gaan na Jesus en salf sy voete... Geskokte stilte, dan effense fluistering... en die gedagtes... Wat ‘n ongemaklike situasie! Dis asof ek die vraagtekens op almal se gesigte kan sien. Om alles te vererger was hierdie ‘n vrou met ‘n slegte reputasie- waarskynlik ‘n straatvrou met losse sedes.  Dalk 'n gewonder : "Ken sy Hom dan? Het ons dalk hier met ‘n skandaal te maak? Moet ons miskien RAPPORT se verslaggewer bel?"  ‘n Groot verleentheid vir almal, almal behalwe vir Jesus...

As ons die betekenis van hierdie gebeure wil verstaan, sal dit help om bietjie die drie hoofkarakters van naderby te bekyk:

SIMON. Op die oog af lyk Simon na ‘n billike ou. Hy het immers vir Jesus vir ete genooi.(terwyl Jesus seker nie baie vriende onder die Fariseërs gehad het nie) Tog word een ding duidelik, alhoewel hy uiterlik beleefd en ordentlik opgetree het teenoor Jesus, was daar in sy hart geen opregte liefde vir Hom nie. Eerder ‘n hoogmoedige kritiese gesindheid. “Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: "Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is." (39) 

Die rede : Simon het nie sy persoonlike behoefte aan Jesus besef nie, hy het nie besef dat hy Jesus nodig het nie, want hy het homself nie as ‘n verlore sondaar gesien nie... Dis die groot verskil tussen die veroordelende Simon en die gebroke vrou...

Simon is tipies van die godsdienstige goeie mens, wat nog nooit die Verlosser leer ken het nie. So baie Simons sit Sondag na Sondag in die kerk - pligsgetrou in baie opsigte, maar van berou, vergifnis, en verlossingsvreugde weet hulle niks... Daarom het hulle ook geen aanvoeling vir die nood van sondaars nie.

VROU. Anders as Simon wat ‘n gesiene persoon was, het hierdie vrou niks gehad om op trots te wees nie. Almal het geweet dat sy ‘n slegte vrou was. Maar baie belangrik : Sy was self ook bewus van haar sonde en daarom het sy gedoen wat sy gedoen het. Sy het haar sonde besef, maar gelukkig het sy nog iets besef, daar is net een Persoon wat haar in haar sondenood kan help, Jesus van Nasaret. (miskien het sy Hom al op straat hoor preek...) Dis duidelik dat sy desperaat was: “Ek moet by Jesus uitkom.” Sy het beslis nie meer omgegee wat mense van haar dink nie, die begeerte na vergifnis was te oorweldigend. Ek dink sy kon almal se oë op haar voel brand, maar vasbedrae voltooi sy haar sending...

Hierdie vrou ontvang die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry : Vergifnis! “En Jesus sê vir haar: "Jou sondes is vergewe." (48) Hoe het sy dit gekry? Nie deur dit wat sy gedoen het nie, nie deur trane nie, maar deur geloof! Persoonlike geloof. “Maar Jesus sê vir die vrou: "Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede." (50) Haar trane, haar berou, haar diensbetoning aan Jesus, was maar net die bewys dat haar geloof eg was. Dit was die gevolge van haar geloof. Redding kry ons net deur ‘n persoonlike vertroue op Jesus. Ek kry dit as ek na Hom kom met my sondelas!

JESUS. Daar is niemand soos Jesus nie! Hierdie gebeure bevestig dit net weereens. Kyk hoe volmaak hanteer Hy hierdie moeilike situasie. Ander mense in sy posisie sou dalk kwaad geword het (“verwyder asseblief hierdie indringer”) of paniekerig (“wat gaan die ander mense nou van my dink?”), maar nee, Jesus is volkome in beheer. Jesus gebruik die geleentheid om die waarheid van vergifnis en liefde te demonstreer. Jesus weet van Simon se kritiek en Hy vertel daarom ‘n kort verhaaltjie om te wys dat vergifnis lei tot ware liefde. Hy vat alles mooi saam in vers 47. “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde." Die implikasie is baie duidelik : Iemand soos Simon, al was hy uiterlik ordentlik het nog nooit die ware vreugde van vergifnis beleef nie, daarom was daar min liefde in sy hart teenoor Jesus. Hierdie vrou wat ‘n groot sondaar was, het radikale vergifnis ontvang en daarom loop haar hart oor van liefde vir Jesus. Sy is nie skaam vir Jesus nie, sy gee nie om wat mense dink nie, want sy het vergifnis persoonlik beleef en dis al wat tel!

Die verstommende en mees basiese feit (wat ek en jy so maklik vergeet) oor Jesus is dat Hy die mag het om sondes te vergewe. Nie net klein foutjies nie, maar sondes, regte sondes, aaklige sondes, “hel-toe-sleep-sondes” – ja, ook daardie een ding wat jou jare al bloots ry of soos ‘n gewig aan jou gewete vasgeketting is!

Wat leer ons hieruit? Spesifiek oor liefde en vergifnis? En wat sê dit oor die Nagmaal?

Liefde tot God is nie iets wat aangeplak kan word nie. Dit vloei voort uit ‘n ontdekking van my sonde en daaropvolgende belewenis van die heerlike vrye vergifnis wat Jesus skenk. Die nagmaal is daarom nie bedoel vir "goeie" mense nie, maar vir dankbare vergeefde mense. Net hulle waardeer die offer van Jesus en wil dit regtig vier. Natuurlik wys hulle lewens dit. Die vraag by die nagmaal is dus nie of ek goed voel oor myself of ‘n ordentlike persoon is nie, maar of ek al werklik my sondes besef het, dit na Jesus gebring het, vergifnis ontvang en daarom dankbare liefde in my hart het. (al besef ons ook hoe onvolmaak hierdie dankbaarheid is) Stukkende mense is welkom by die nagmaal, stukkende mense wat berou het oor sonde en hulle hoop op Jesus alleen geplaas het. Het jy al?


As die lig van sy vergifnis deurbreek oor ons lewe...