BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 14 Maart 2023

GOD SE BUITENGEWONE BRIEF VAN BEMOEDIGING (2)

 -  Hy het 'n plan van voorspoed en 'n nuwe toekoms!

Ons is nog besig met die besondere brief van bemoediging wat God via sy profeet Jeremia aan die ballinge in Babel gestuur het. (Vir eerste aflewering kliek op BRIEF AAN BALLINGE) .

Jy sal weet - Goeie nuus en ‘n positiewe boodskap maak ‘n heerlike verskil. Goeie nuus laat mens goed voel.   Maar daar is iets soos  ware goeie nuus en valse goeie nuus.  As jy valse goeie nuus glo, gaan dit jou net vir ‘n tydjie gelukkig laat voel, maar daarna ernstig teleurstel en jou in ellende dompel. God het wel ‘n heerlike positiewe boodskap vir die ballinge, maar nie ‘n valse positiewe boodskap soos die vals profete nie. Vergelyk Jeremia 29:8 met 28:2,3 Hier lees ons van Ganaja. Hy was 'n valse profeet wat ook in die naam van die Here opgetree het. Gananja het ‘n tipiese goedvoelboodskap gebring – dit moes die mense laat beter voel en vir homself populariteit besorg. Hy het die mense valslik getroos deur te verkondig dat die ballingskap  nog net twee jaar sou duur. Mense wil mos maar altyd graag hoor dat dit gou beter sal gaan. Die probleem was net dat sy boodskap nie van God gekom het nie, en dus nie waar was nie. God beloof wel deur sy ware profeet ‘n realistiese heerlike toekoms. Dit verskil van Gananja se kortpad na geluk boodskap. 

Die Here se boodskap is baie duidelik. Die Here sê 70 jaar – geen kortpad nie. Die ballingskap sal sewentig jaar duur. ‘n  Hele geslag lank! (10) Onthou dis God self wat die ellende oor hulle gebring het (4) God straf en tugtig – sy eie mense, maar God skep ook ‘n nuwe toekoms van hoop! (11) 




Baie keer uit konteks aangehaal.  Dit gaan hier oor God se langtermyn doelwit vir sy volk! Dis nie ‘n belofte van persoonlike korttermyn welvaart nie! Maar hoe gaan dit prakties gebeur?  




Verse 12,13
  Ons mag nie vers 11 in isolasie lees nie – hier vind ons die praktiese manier waarop die belofte in vers 11 uiteindelik vervul en uitgewerk sal word.  Ek wil graag hierop fokus. Hier is ‘n kosbare belofte wat direk op ons elkeen van toepassing is.

Soek die Here is die hoofgedagte. Wat beteken dit? Kom ons kyk na ’n paar aspekte:

Ons moet sy Naam aanroep in gebed.  


Romeine 10:13 As jy na God verlang, as jy sy genade wil beleef, as jy Sy teenwoordigheid in jou lewe begeer is ware hartsgebed, opregte gebed – die beginpunt. Roep tot Jesus met alles binne in jou. Dink aan blinde Bartimeus se roep toe hy hoor Jesus gaan verby. Onthou die rower aan die kruis wat met sy laaste bietjie krag geroep het : “Here dink aan my, wanneer U in u koninkryk kom.”

Ons moet dit met ons hele hart doen. “Here, op U alleen is my hoop, U alleen wil ek ken.” Moenie agterdeure ophou – ek sal maar die Here probeer, maar as Hy nie wil hoor nie – hou ek vir my ander opsies oop. Jesus is nie een van baie opsies nie, Hy is die enigste opsie. Dis of Jesus of ewige dood en ellende!

Dis ‘n kans wat benut moet word,  NOU! – Jesaja 55:6  


Soek en roep weer saam. Die geleentheid om die Here te soek kan verbygaan!  Moenie uitstel vir ‘n tyd wanneer dinge rustiger gaan nie…. Daardie tyd kom nooit nie. Moenie die fout maak om te dink ek sal maar wag tot ek eendag in die hospitaal beland nie... Die enigste regte tyd is NOU!

Jesaja 55 gee ons ook ‘n verdere perspektief op “soek”  - vers 7! 



Om die Here te soek sluit bekering in!  My denke en dade moet verander   


Ps. 119:10 Maak erns daarmee wat jy reeds weet wat God se wil is! Hou vas aan sy bevele! Kies teen die sonde waarvan jy nou weet… Bring dit in berou na Hom. Aanvaar sy vergifnis in Jesus!

Die opregte soeke na God in gebed en gehoorsaamheid word direk gekoppel aan die voorspoed van die nuwe toekoms!

Maar wat is die voorspoed wat God hier beloof? Vir hierdie eerste lesers was dit ‘n terugkeer na hulle land en ‘n rustige en voorspoedige lewe.  (Maar onthou : dis 'n langtermyn saak! – 70jaar – die meeste sou nie meer leef nie, hulle kinders sou dit eers sien. Dit gaan dus nie oor eie persoonlike voordeel nie, maar oor die groter prentjie van God se genade! ) Die land Kanaän  was hulle erfdeel van God af, en die belofte is dit hulle weer dit sal besit.  Wat is ons erfdeel as kinders van God in die bedeling van die Nuwe Testament? Ons  erfenis (die hemelse heerlikheid) word so pragtig beskryf in 1 Petrus 1:3-5. Hierdie erfenis is onaantasbaar veilig!

En ons reaksie? – 1 Petrus 1:6!  "Verheug julle hieroor...!"

Wat ‘n heerlike belofte is Jeremia 29:11. Vanuit die Nuwe Testamentiese konteks is dit duidelik - Ons mag nie hierdie teks misbruik om vir ons aardse voorspoed op te eis nie.  

Die betekenis is eerder : Soek die Here met jou hele hart en wees verseker van ‘n ewige erfenis! 

Is dit jou erns om die Here te soek? Is jy tevrede met oppervlakkige godsdienstigheid of delf jy dieper om God waarlik te ken? Is jy al seker en jubelend bly oor jou ewige erfenis?  As ons die waarhede van Jeremia en 1 Petrus ernstig neem kan ons BLYDSKAP BINNE IN ONS BALLINGSKAP beleef! (Jou ballingskap is dalk joiu moeilike huwelik, opstandige kinders of onhoudbare werksomstandighede)

Pasop vir valse kitsoplossings en blitsresepte, verbly jou eerder in God se langtermyn plan en beloftes vir sy kerk!

 


Dinsdag 07 Maart 2023

GOD SE BUITENGEWONE BRIEF VAN BEMOEDIGING (1)

- wat ek en jy nou baie nodig het!

Negatiwiteit, pessimisme en selfbejammering kom so maklik. Daar is so baie dinge wat ons sien, hoor en aan ons eie lyf voel, wat ons soms kan laat wonder, is alles nog die moeite werd? (Dink ESKOM, oorlog, grootskaalse armoede....)  Kyk al die korrupsie en onreg en onbevoegdheid…Is daar nog ‘n toekoms op hierdie aarde, maak dit nog sin om te werk, te gaan studeer,  loopbane te bou, kinders te hê, met vreugde te lewe? Is ons aardse lewe nog enigsins, hoegenaamd sinvol?  Weet julle ons is nie die eerste mense wat hierdie tipe vrae vra nie. Die profeet Jeremia het juis ‘n brief vir so ‘n groep mense geskryf. Die ballinge in Babel…(dis die Israelite wat uit hulle land ontvoer is en na die verre Babel gebring is) Dis ‘n brief vol verrassings en hoop!  Lees  gerus Jeremia 29:1-14

Kom ons kyk net kortliks na ‘n paar feite uit hierdie brief. (Dit gaan nie oor 'n volledige verklaring van die hele brief nie) Ons kry ook hier vaste altyd geldende beginsels wat vir ons insig en hoop kan bring. Vandag kyk na twee opvallende groot verrassings in hierdie brief:


Hier in vers 4 verwys God na Homself as die "Heerser oor alle magte" – Ons moet altyd onthou, God is in beheer van die geskiedenis. "Heerser oor alle magte." Dis nie die wêreldleiers, geheime organisasies, bose geeste of Satan self wat die finale sê het nie. Ook nie die sogenaamde noodlot nie. God het die laaste sê! Dit word baie treffend en verrassend hier gestel! Let op :  “aan al die ballinge wat EK uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het.” Die ballingskap was ‘n groot en wrede tragedie. Mense is met geweld weggevoer na ‘n ver en vreemde land – weg van hulle geliefdes, weg van hulle besittings, in die verre eensaamheid – hulle toekoms en ideale het aan skerwe gelê. Ons weet die koning van Babel, Nebukadnesar het dit gedoen. Maar nou die opvallende – die Here sê : "Ek het dit gedoen." Wat gebeur hier? God is in beheer van die geskiedenis en Hy het Nebukadnesar gebruik om sy eie volk te straf, sodat hulle weer gehoorsaam kan word en na Hom sou terugkeer! God kan enige bose organisasie, mag of persoon gebruik om Sy doelwitte te bereik! Laat ons dit maar onthou as ons so maklik kla… Kyk verby die ellendes en sien God raak!


Lees weer vers 5-7 Wat sê God hier? "Bou huise, plant tuine, trou en vermeerder!" \met ander woorde - "Aanvaar julle situasie waarin Ek julle gebring het en maak die beste daarvan." Hoe maklik sou hierdie ballinge in die verre Babel kon verval in negatiwiteit en passiewe selfbejammering. 


God het geen simpatie met selfbejammering en niksdoen nie! 

Nee, Hy beveel hierdie volk om positief die lewe aan te pak met geesdrif! Wees entrepreneurs – werk met dit wat julle het! Bou julle huisgesinne en word meer! Lewer ‘n positiewe bydra tot die gemeenskap waarin julle julle bevind! Neem positief deel aan die aktiwiteite daar waar julle woon. En dis nog nie al nie – bid vir die plek waar julle woon. (Ja, hulle vyande) Onthou dis tot julle eie voordeel as dit goed gaan met die plek waar julle nou bly, al is dit julle vyande, al is dit die mense wat julle soveel leed en onreg aangedoen het. Kan ons sien, God het geen plek vir ‘n negatiewe, wraaksugtige, passiewe houding nie.



God se duidelike boodskap vir sy mense in nood is dus : "Wees positief en doen wat Ek sê en moenie julle ore uitleen vir die boodskap van die valse profete nie." (Ons sal volgende keer hierop ingaan, maar die valse profete het gesê die ballingskap sal gou verby wees. Hulle was verkeerd, die ballingskap sou lank duur en daarom moes die ballinge positief besig wees en betrokke wees by hulle omgewing)

Hoe raak hierdie positiewe boodskap ons as volgelinge van Jesus?  Die Nuwe Testamentiese parallel is die 1 Petrus brief. Dis geskryf aan die vreemdelinge in die diaspora (verstrooiing), God se kinders wat as vreemdelinge dwarsoor die wêreld leef. Ons as God se kinders is eintlik ook maar ballinge in ‘n vreemde land. Ons burgerskap is nie van hierdie wêreld nie. Ons pas nie in hierdie wêreld nie. Petrus lê baie klem daarop. (2:11)  



Ons gewoontes, leefstyl, visie, gedrag en selfs kleredrag… is anders (en behoort anders te wees)  as die goddelose wêreld rondom ons. En wat beveel Petrus dan aan vir God se kinders in so ‘n situasie? Gaan lees gerus  1 Petrus 2:12-17  Die kernboodskap is : "Wees goeie burgers, wat deur julle onkreukbare, voorbeeldige en eerlike leefstyl ander se respek sal afdwing en op so ‘n manier hulle ook daartoe sal beweeg om te erken dat God die ware God is!"

GEEN PLEK VIR NEGATIWITEIT NIE!

Pasop om te verval in ‘n negatiewe gemor – "Ag, die wêreld is so sleg, die regering is so korrup…ek gaan nou maar in ‘n hoekie sit, myself jammer kry en wag vir die dood of die wederkoms." NEE! Leef elke dag positief as kind van God. Gaan aan met jou daaglikse pligte en werk, bou positief aan huisgesinne wat God eer en bid vir alle mense!  Wees ‘n voorbidder! God plaas ons met ‘n doel in moeilike situasies en plekke, ons moet dit gebruik om positief gehoorsaamheid te leer. Ons ellendes is nie maar toevallig nie – God laat dit toe in ons lewens om sy doelwitte te bereik. Hou op kla en Benut jou huidige omstandighede positief om sinvol en heilig te leef tot God se eer! 

Die groot punt is : As jy aan Jesus behoort het jy altyd rede om positief voluit te leef maak nie saak waar of in watter omstandighede nie. God het vir jou ‘n positiewe getuienistaak daar waar jy is, terwyl jy op pad is en uitsien na jou finale tuiste!

LUISTER na hierdie boodskap op YouTube, kliek op BID, BOU EN TROU!