BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 14 November 2013

NOODSAAKLIKE IMMUNITEIT TEEN WÊRELDGRIEP

- is jy al ingeënt ?


Gewoonlik het Paulus van 'n sekretaris gebruik gemaak vir die skryf van sy briewe en het dan net afgesluit met sy eie hand. (byv. Rom 16:22) Hier in Galasiërs 6 :11 neem hy egter die pen op nog voor die slotgroete. “Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!” Verder doen hy dit ook met groter as normale letters. Die feit dat hierdie laaste verse in Paulus se eie hand met groot letters geskryf word, is 'n aanduiding van hierdie gedeelte se spesiale belangrikheid. Ons kry hier 'n opsomming van die kernsaak waaroor dit in die hele Galasiër brief gaan.

Die groot kwessie waaroor dit in hierdie besonder aktuele brief gaan is die saak van Christus alleen of Christus plus? Is Jesus alleen genoegsaam vir ons redding en lewe as gereddes? Of is daar nog 'n ander geheim om te ontdek...?
Die Judaïseerder dwaalleraars wou die gemeente lede oortuig dat hulle ook nog die Joodse besnydenis moes ondergaan (5:2) en die Joodse feesdae en kalender onderhou.* (4:10) Paulus het al hierdie dinge in die sterkste moontlike taal veroordeel en sy lesers telkens daarop gewys dat redding nie verkry kan word deur die wetsvoorskrifte (tora) te onderhou nie, maar slegs deur die geloof in Jesus Christus. Spesifiek geloof in die Gekruisigde Jesus wat God se vloek/straf op ons sonde op Hom geneem het deur as ‘n vervloekte aan die kruis te sterf! (3:13-14) Net deur die geloof in Jesus ontvang ons die Heilige Gees wat ons nou in staat stel om nuwe lewens van liefde te leef!

As Paulus nou hier in sy eie handskrif skryf dan vat hy alles mooi saam. Hy sê dat hierdie dwaalleraar opstokers maar eintlik net ‘n goeie indruk probeer maak. (Hulle wil almal “impress” met hulle godsdienstige reëls wat hulle probeer hou, en wil maar net eintlik “brag” met hulle liggaamlike opofferings.) En dan maak Paulus hierdie geweldige persoonlike uitspraak in vers 14 wat die kern van als mooi saamvat! “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” Hy stel homself direk teenoor die valse leraars : “Hulle wil roem op dinge soos die besnydenis en die sabbat, maar ek sal net roem op die kruis van Jesus!” Paulus sê eintlik : “Ja, besnydenis maak nou nie meer vir my saak nie, maar ek het ook iets om te roem - die kruis!”

Nou moet ons goed begryp, vir Paulus se tydgenote het die kruis die konnotasie van onbeskryflike skande gehad. Dis was nie iets vir ordentlike geselskap nie. Dis 'n vloekhout. Dis 'n teken van verwerping deur God en mens. Maar dis nou juis die kruis waarin Paulus roem. Eksklusief in die kruis! Dit wat vir die wêreld 'n skande is , dit is nou waarop hy trots is en sy enigste hoop op stel. Roem is nie 'n Afrikaanse woord wat ons algemeen gebruik nie. Dit word ook vertaal met "glory, boast, pride oneself in" in Engels. Dis 'n aanduiding van trots wees op, verlustig in, bevrediging vind in. My hart en gedagtes word opgeneem deur die voorwerp van my roem. Dis waarop ek staan, dis my hoop en dis my fokus. Paulus roem in die kruis. Hierdeur wys Paulus onteenseglik hoe sentraal die kruis in sy denke is. Roem in die wet (sy onderhouding daarvan) het plek gemaak vir roem in die kruis. Roem in dit wat ek kon doen is nou vervang met roem op die feit dat ek niks kan doen nie, maar dat Iemand ander alles vir my gedoen het! Dis die besef : wat tel is nie hoe goed ek is nie, wat tel is die volmaaktheid van Jesus se offer! Die enigste prestasie of sukses waaroor ons opgewonde kan en behoort te raak is die versoeningswerk van Jesus aan die kruis.

DIE KRUIS MAAK MY IMMUUN TEEN DIE WÊRELD SE OPINIE EN PRAKTYK!

Die kruisboodskap van Jesus se genoegsame sterwe maak dat die band tussen Paulus en die wêreld afgesny is! Die "wêreld" is enigiets buite Christus, enigiets ekstra waarop die mens sy vertroue plaas. In Paulus se persoonlike konteks beteken dit sy vorige manier van lewe as Fariseër, sy ou wêreld van oorgeërfde voordele as Jood en sy voormalige godsdienstige suksesse en prestasies. (vgl. Filippense 3:5ev) Die band tussen hom en sy vorige wêreld is afgesny deur die kruis. Hierdie dinge beteken vir hom niks meer nie, dit het hulle waarde verloor. Deur deel te hê aan Christus se dood (2:19 en 3:13ev) is Paulus bevry van die wet as metode tot regverdiging en van die ou bestaan van lewe waarin die wet die beginsel was. Dit gaan egter nog dieper. Die kruis gebeure bring ook ‘n radikale breuk tussen die ou en die nuwe bedeling. In die ou bedeling het mense onder die wet (tora) geleef, dit was die vereiste om deel te wees van God se volk, maar nou is daar net een vereiste om waarlik ‘n kind van Abram te wees : Geloof in Jesus Christus! “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (3:7)

Hierdie roem op die kruis het ook ‘n praktiese effek. Dit maak ons nuwe mense! Ons is deel van God se nuwe skepping.

Die kruisboodskap van Jesus is die Bron van my hoop en die Bepaler van my gedrag.

BRON VAN HOOP. As ek my sonde nood raakgesien het, dan besef ek dat ‘n paar uiterlike veranderinkies nie vir my vrede kan bring nie. Om bietjie meer kerk toe te kom of bietjie minder te vloek gaan nie keer dat die hel vir my wag nie. Maar dan open God my oë vir die kruis. Dan sien ek dat Jesus reeds my volle straf in my plek gedra het. Ek glo dit en dit bring vir my vrede. (Romeine 5:1) Ek draai dus my rug op alle godsdienstige selfhelp metodes en vertrou op Jesus en Jesus alleen. So kry ek vergifnis en gemoedsrus en hoop vir die ewigheid.

BEPALER VAN MY GEDRAG. As ek roem op die kruis keer ek my rug op die wêreld se opinies hoe om gered te word, maar ek draai ook my rug op my die wêreld se leefwyse! (Reeds in 5:13 en verder het Paulus dit duidelik gestel dat ons vryheid van die tora nie beteken dat ons nou die vryheid het om volgens die begeertes van ons sondige natuur te leef nie!) As ek my volkome afhanklikheid van Jesus as Gekruisigde besef het, sal dit ‘n direkte invloed op my praktiese besluite hê. Die kruis en die konsekwensies van die kruis maak dat ek nou anders begin dink en leef as voorheen. Voordat ek wil sondig en ongehoorsaam wees moet ek eers as’t ware by die kruis verbykom. Om nou baie konkreet te raak :

Voordat ek van my vrou wil skei, sal ek moet vra of dit dan in lyn is met die boodskap van die Gekruisigde wat sy lewe vir my afgelê het? Gaan ek sy liefde op so ‘n manier demonstreer?

Voordat ek by my kêrel gaan intrek, sal die kruisboodskap my konfronteer : Is dit wat jy met die bloedoffer van Jesus maak, gee dit jou die reg om losbandig en so sonder selfbeheersing te leef? Is dit hoe ek my liggaam wat duur gekoop is deur sy bloed nou aan Hom gaan wy?

Voordat ek my gaan dronk drink sal ek eers eerlik moet wees : Is dit ‘n advertensie vir die Gekruisigde? Is dit hoe ek my lojaliteit bewys aan my bloeiende Messias? (met my drankasem, geel oë, sleeptong en waggelstap)

Voordat ek wil gaan wraak neem teen my vyand gaan sal ek moet bedink: is dit nou die manier hoe ek dankbaarheid gaan wys dat Jesus my straf gevat en my teen God se regverdige wraak beskerm het? 

TEN SLOTTE

Om te roem op die kruis alleen, bring vir my sekerheid van verlossing, want ek het nie meer nodig om op onsekere menslike metodes en eie prestasies staat te maak nie.

Om te roem op die kruis, bewerk vir my ‘n nuwe leefstyl, want die band met die wêreld se opinies en goddelose standaarde is afgesny. Ek steur my nie meer daaraan nie!

Jesus se genoegsame kruisoffer is daarom die fondasie van my vrede met God, maar ook die daaglikse motivering om heilig en anders te leef!

In die fokus op die gekruisigde Jesus lê die finale geneesmiddel vir alle valse leringe en afwykings, maar ook vir die aantrekkingskrag van 'n sondige leefstyl. Die sondige wêreld se siening van redding bepaal nie meer my denke oor verlossing nie. Die sondige wêreld se leefstyl en opinies raak my nie en traak my nie meer nie.

* Klink dit dalk bekend? Lees meer oor hierdie verdraaiers se hedendaagse boeties by MISLEIDING VAN DIE MAANKYKERS.

ADDENDUM : STIGMATA

In 'n laaste pleidooi in 6:17 doen Paulus 'n beroep op die Galasiërs om te stop om hom verdere moeilikheid te veroorsaak. “Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens (stigmata) van Jesus aan my liggaam.” Die implikasie is : deur julle onvastigheid, en ontrouheid aan die ware evangelie het julle my nou al genoeg smart of moeite veroorsaak. Hou nou asseblief op! Paulus herinner hulle daaraan dat hy die littekens van Jesus dra in sy liggaam. Dit verwys hier na mistieke wonde nie, maar na die wonde en littekens wat hy opgedoen het in sy lyding vir die evangelie (...geslaan, met klippe gegooi ens. Sien 2 Korintiërs 11:22-33) Dit word genoem "merktekens van Jesus" omdat dit opgedoen is as gevolg van sy getrouheid aan Jesus, 'n tasbare bewys van sy lyding vir sy Here. Wat is die funksie en betekenis van so 'n opmerking op die stadium? Moontlik 'n subtiele sinspeling. Die "brandmerk van Jesus" staan in skrille kontras met die merke van die Judaïseerders se bekeerlinge - naamlik die besnydenis. As die Judaïseerders dan nou wil spog met die besnydenis as teken van God se volk dan kan Paulus wys op die merke van Christus as die nuwe eskatologiese teken van die ware besnydenis, die nuwe Israel van God. Hy kry so 'n laaste hou in teen die valse tora leraars.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.