BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Depressie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Depressie. Wys alle plasings

Woensdag 24 Mei 2023

JESUS SELF BID VIR JOU! (1)

- Jesus bid VIR ons, die Heilige Gees werk IN ons! PINKSTER 2023

Ons kan so maklik moedeloos word in ons Christenskap – dis nou diegene wat hulle geloof ernstig opneem en waarlik 'n pad met Hom wil stap. Ek voel  dikwels– "ek kom nie by alles uit nie, ek kry dit nie reg om Jesus na te volg in die praktyk nie, ek val so maklik, ek bid nie genoeg nie...en 'n duisend ander tekortkominge!" Ek wil jou dus bemoedig met ons Pinksterreeks se tema: 

Christen skep moed, want Jesus bid VIR jou en die Heilige Gees werk IN jou!

Ja, ek het goeie nuus vir jou – Jesus bid vir jou!  Kom ons kyk na twee Skrifgedeeltes om dit net weer te onthou.


Dis so belangrik en heerlik – Jesus se verlossingswerk vir en namens ons het nie opgehou by die kruis en opstanding nie! Juis omdat Hy leef, gaan sy verlossingswerk voort! Nou terwyl jy hier lees...

Dit word so pragtig bevestig deur Hebreërs 7:25.


Kind van God jy voel dalk swak, jy het dalk die Here teleurgestel, jy is dalk alleen – weet net dit – Jesus bid vir jou, Jesus pleit vir jou by die Vader, Hy tree vir jou in!  Hy bid ook daardie tye vir jou wanneer jy nie na bid voel nie, nie krag het daarvoor nie...

Juis wanneer jy so swak, sondig of depressief voel!

Ons gaan bietjie na die heerlikheid van hierdie waarheid kyk vanuit Johannes 17 . Ons vind hier die sg. Hoëpriesterlike gebed van Jesus. Dis die passievolle gebed wat Jesus kort voor sy kruisiging vir sy dissipels gebid het. Maar baie belangrik – Jesus bid ook hierdie gebed vir ONS! Ons kan hiervan seker wees, want hoor wat bid Jesus (vers 20)



Gebed is ‘n kragtige saak. Ons weet dit beteken dat ons met die Almagtige God praat en dat Hy ons hoor. Maar, wees eerlik, gebed is ook iets moeiliks vir ons – ons weet nie waarvoor om te bid nie, nog erger ons gebede is so dikwels net ‘n refleksie van ons eie gierigheid of selfsug – "Here, gee asb dit, gee asseblief dat…" Hier in Johannes 17 het ons die voorbeeld van ‘n volmaakte gebed. Jesus is mos volmaak en sonder sonde. Sy gebede is 100% in lyn met die wil van die Vader!

Jesus se gebed  help ons om ook te verstaan wat ware gebed is, maar dit gaan oor soveel meer.  Hier hoor ons wat Jesus se wil en begeerte vir ons is. Hier hoor ons wat God se doelwitte (goals) vir sy kinders is.  Kortom – dit waarvoor Jesus hier bid vir ons – is die dinge wat regtig saakmaak en belangrik is vir elke kind van God! Anders gesê - uit hierdie gebed kan ons ook aflei waaroor realistiese Christenskap gaan en daarom die regte verwagtings daarooromtrent hê. Baie mense het verkeerde redes en verwagtings as hulle besluit om Jesus te aanvaar – hulle sou kon dink dit gaan meer geld, beter gesondheid en groter gewildheid beteken. Nee, ons gaan bietjie kyk na die dinge waarvoor Jesus bid en dan sal jy verstaan dat meer geld en beter gesondheid nie juis op Jesus se agenda vir ons is nie. 

Vir watter dinge bid Jesus? (net kortliks, ons gaan vorentoe na die detail kyk...) – vir bewaring van die Bose, vir heiligheid, vir eenheid tussen sy volgelinge, vir die belewenis van God se liefde en blydskap en vir ons ewige vreugde en vervulling wanneer ons Jesus in sy volle heerlikheid sal aanskou! (Dis natuurlik soos ons sal sien ineengeweef en verbind aan mekaar.)

Waarom bid Jesus vir sy dissipels (en dan nou ook vir ons)? Wat maak ons so spesiaal en besonders? Want onthou – Jesus self meld dit baie duidelik dat Hy hier net vir sy dissipels bid en nie vir die wêreld nie. (Vers 9)



Jesus noem self twee redes. Ons kan dit aflei uit vers 6. (ons het dit nou ook reeds in vers 9 gesien)


Die Vader het hierdie dissipels ( en ons ) aan Hom gegee. Dis een van die heerlike misteries wat dei Skrif leer en ook spesifiek in die Johannes evangelie beklemtoon word. Die Vader het ons aan Jesus gegee. Dit word bevestig in vers 2,9,11,24.  Ons kry hierdie waarheid ook reeds in die bekende 6:37.


 Ons is die spesiale voorwerpe van Jesus se liefde en voorbidding, nie omdat ons so goed is nie, maar omdat die Vader ons eerste aan Jesus geskenk het. Voor die grondlegging van die wêreld. God het ons uitgekies om aan sy Seun te gee sodat Hy ons kan verlos.


Inderdaad soos die bekende  Martyn Lloyd-Jones hieroor gesê het “Saved in eternity” Ons verlossing is nie ‘n mogge troffe onseker saak nie, dis verankerd in God se ewige besluit...!

Maar daar is ook ‘n anderkant van die saak – luister weer na vers 6. Hierdie dissipels het ‘n keuse gemaak om die woord van die Vader te gehoorsaam. Dit gaan oor die aanvaarding van die evangelie van Jesus. Hulle het Jesus aanvaar en hulleself aan Hom onderwerp. Terwyl ander Jesus gespot en gehaat het, het hierdie dissipels aanvaar dat Jesus die Seun van God is en Hom begin volg (al het hulle op hierdie stadium natuurlik nog nie als omtrent Jesus verstaan nie)



Hierdie sien ons weer die klassieke balans in die Bybel – twee waarhede – Goddelike soewereine verkiesing en menslike verantwoordelikheid. Die Vader gee hulle aan Jesus, maar hulle aanvaar die woord in gehoorsaamheid. 


Hierdie twee waarhede is volkome nodig en volkome in balans soos die twee wiele van ‘n donkiekar. God se genade kom eerste, maar  dis ons plig en verantwoordelikheid om te antwoord en te gehoorsaam! Het jy al begin gehoorsaam?  Weet dan die Vader het jou aan Jesus gegee en Jesus is nou besig om vir jou te bid! Daarom kan jy jou kop op tel en moed skep!

Kyk en luister by JESUS BID VIR JOU!

Vrydag 10 Mei 2019

RUT : RAMP TOT TRIOMF

Rut is ‘n aangrypende liefdesverhaal. Min liefdesverhale begin egter op ‘n droewiger noot. (Lees gerus nou eers Rut hoofstuk 1) Dit begin met gebrek, droogte en dood! Dit lyk asof als wat vir hierdie familie verkeerd kan loop wel verkeerd loop. Jy ken dalk ook sulke tye... 

En dis nie net droogte en dood nie, maar so tussen die lyne is hier nog ook ‘n ander tragedie. Moenie vergeet nie, die twee seuns wat nou gesterf het, was getroud met Moabiete! Dit was duidelik teen God se wil. “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.” (Deut 23:3) 

NAOMI WORD MARA 

Kyk bietjie na die verhaal uit Naomi se oogpunt. Sonder man, sonder seuns, sonder ‘n toekoms…Wanneer als so verkeerd loop, gooi dit jou lewe onderstebo en dan gebeur daar dikwels, seker die ergste wat met ‘n mens kan gebeur – wantroue oor God se liefde! In geen onduidelike taal nie, verwyt Naomi vir God! Hoor haar pyn:

“Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai." (1:13) 

“Hierop het Naomi vir hulle gesê: "Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 
My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring." (1:20,21) 

Hartseer en stukkend! Haar lewe was vol en nou is dit leeg! Sy is so stukkend dit tas haar hele identiteit aan – Sy wil nou Mara genoem word en nie meer Naomi nie. Die kontras tussen die twee name is baie groot. Naomi beteken, “lieflik, aangenaam”. Mara beteken “bitter”. 

GODDELIKE INGRYPE;MENSLIKE KEUSES! 

Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie. Dit eindig nie by bitterheid en depressie nie. Die Here doen wonderlike dinge in hierdie uitsiglose hopelose situasie. Maar belangrik : In hierdie wonderlike dinge wat God doen is mense en hulle keuses betrokke. 

Twee belangrike keuses is opvallend. Rut se keuse om saam met Naomi te gaan. Dis nie net ‘n stukkie medemenslikheid nie, dis eintlik ‘n radikale bekering. Sy was ‘n heiden Moabiet, maar sy bekeer haar tot die lewende God. “Maar Rut het geantwoord: "Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei." (1:16-17) Hierdie keuse van Rut, wat nie ‘n maklike keuse was nie, het verreikende gevolge gehad. Heerlike gevolge wat sy nooit sou kon besef nie. 

Maar daar is ook Boas se keuse. Boas was ‘n verlangse familielid, ‘n welvarende man en Rut het gaan koringare optel op sy lande. En om die lang storie kort te maak (want dit het nie sommer als vanself gebeur nie), het Boas besluit om homself oor Naomi te ontferm en haar losser te word (volgens destyds se gebruike) en met haar te trou! 

Dit alles loop uit op ‘n heerlike einde. Ons lees:

“Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring. 

Die vrouens sê toe vir Naomi: "Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 
en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring." 
Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem. 
Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: "‘n Seun is vir Naomi gebore." Obed was die voorvader van Dawid.” (4:13-17) 

Wat ‘n geweldige kontras met die begin van die verhaal. Van ‘n doodloopstraat na ‘n belofteryke toekomspad. Van ‘n dodelys, na ‘n geslagsregister. In die begin hoor ons ‘n bitter verwytklag teen God uit Naomi se mond, hier hoor ons lofsange aan die Here uit die mond van ‘n klomp vroue! 

God se werke en menslike keuses is in verweef met mekaar. Ja, dis uiteindelik God wat ‘n ramp verander in ‘n triomf – en tog maak Hy gebruik van menslike keuses. Menslike keuses is belangrik! Jou keuses het gevolge! Dink weer aan Rut se keuse om die ware God te dien en die afgode te los. Dink aan Boas se keuse om hom oor hierdie arm meisie te ontferm. Dit het heerlike gevolge gehad! 

Is jou keuse op die oomblik die regte keuse in die lig van God se Woord? 

En onthou die belangrikste keuse ooit – ‘n keuse vir Jesus! Dis ‘n eenmalige keuse, maar ook ‘n voortdurende keuse! Hoe kies jy nou? 

KLEIN SKARNIERE 

Iemand stel dit so : “Groot deure draai op klein skarniere!” Een regte keuse, hoe gering dit ook al mag blyk, het reuse positiewe gevolge vir jou en vir baie ander mense. Baie groter as wat jy dalk sou besef. In jou ellende en hartseer. Daarom - kies reg, kies volgens wat God wil. Kies volgens die Woord! Doen die regte ding, doen wat jy weet jy moet nou doen, al lyk dit hoe onbelangrik of nederig. As Rut nie bereid was om die nederige werk te gaan doen om te gaan are op tel op die lande nie, sou sy nooit by Boas uitgekom het nie! 

Doen jy net dit wat jy kan en moet, God sal die res doen! 


GOD SE GROTER PLAN : DUBBELE PLUS!

Die boek Rut is ‘n boodskap van hoop in tye van swaarkry en ellende. Gebrek, droogte en dood en ja, ook mislukking en sonde is nie die einde nie! Ook jou ellende en hartseer wat jy nou beleef is nie die einde nie! Hartseer omstandighede en gebeure het nie die laaste sê in ons lewens nie. God verander ‘n minus in ‘n plus. Maar God se plan is ook groter as wat ons as mense kan besef en verstaan. Hoe so? Die verhaal van Rut is natuurlik baie meer as ‘n liefdesverhaal tussen twee mense. Dis baie meer as ‘n mooi einde van "hulle het lank en gelukkig gelewe..."  Dis die liefdesverhaal van God vir sondaars. Dis uiteindelik verhaal van God se Seun, want hierdie geslagsregister aan die einde van die boek koppel die bekeerde Moabiet, Rut aan Jesus, via die voorvader Dawid. Rut word ‘n groot-groot oumagrootjie van Jesus! (Sy sou dit in haar leeftyd nooit kon droom of raai nie) Matteus noem ook spesifiek haar naam in sy geslagsregister van Jesus aan die begin van sy evangelie! (Matt 1:5) Die noodsituasie van ‘n gewone Israelitiese familie word deur God in ‘n seën vir ‘n hele volk (Dawid), maar meer nog in ‘n seën vir die wêreld omskep. (Jesus) God het ‘n minus in ‘n plus verander en uiteindelik in ‘n dubbele plus!* 

God ken jou persoonlike detailomstandighede en gryp genadiglik in, maar God sien ook die groter prentjie van Sy RAADSPLANNE wat ek en jy nie nou verstaan nie. Dis ‘n heerlike troos!

*W.S.Prinsloo, Die boek Rut

Saterdag 01 Februarie 2014

VERPLIG TOT VOORTDURENDE VREUGDE

– hoe om blydskap te bou en te behou! 

In 1 Tessalonisense 5:16-17 lees ons: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Ja, kort en kragtig kom die opdrag na die kinders van God : “Wees altyd bly!” Dis ‘n opdrag – nie maar net ‘n stukkie goeie raad van ‘n motiveringspreker, onderwyser of predikant nie, maar ‘n bevel van God. Dis wat God van ons verwag...

Goed dis ‘n opdrag, maar hoe gaan ons dit regkry? Ja, bly is ons partykeer, maar ALTYD bly - is dit hoegenaamd realisties uitvoerbaar?

Donderdag 07 Maart 2013

KOU JY GRUISKLIP?

- maak kopskoon saam met Klaagliedere en kry weer hoop. 



[Maak gerus jou Bybel self oop by Klaagliedere 3] 


Daar kom tye ook in die lewe van ’n gelowige dat dit werklik ellendig gaan…Alles loop skeef, alle hoop vervaag... die ergste is dat ek beleef dat die Here se hand teen my is. Hierdie skrywer was in so ’n posisie:  “Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan”. (Klaagliedere 3:1) Hy het lyding in die uiterste vorm ervaar. Hierdie swaarkry was so erg dat dit geblyk het dat bid nie eers meer help nie! “Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.” (3:8) Daar was net geen uitkomkans nie. Het jy al só vasgekeer gevoel in ellende met geen uitsig op verlossing nie? “Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie.” (3:9) Dit voel vir jou of jy klippe kou en jou tande besig is om een vir een te breek. Kyk net hoe treffend beskryf die digter dit : “Hy het my gruisklip laat kou” (3:16) Vriend, ek weet nie watter ellende of teistering jy tans beleef nie, maar hier het ons iemand met wie dit rowwer as rof gegaan het, so ons kan gerus luister wat hy te sê het. 

Een ding kan jy ten minste sommer hier reg aan die begin weet, jy is nie die eerste of enigste wat deur bitter beproewing benou word nie. 

Nou as mens in ellende verkeer, as mens benoud is, dan kom daar allerhande gedagtes of herinneringe by jou op. Die terugdink aan foute, sonde, verlore kanse, dinge wat nooit weer reggemaak of gewens kan word nie.... Slegte herinneringe is soos ’n ruwe houtknuppel vol splinters wat jou gewonde gewete verder stukkend slaan en laat bloei. Grimmige gedagtes oor my gruwels van gister is soos swaar gewigte wat my aftrek in die donker diepsee van uiterste wanhoop. Hoe meer ek dink, hoe meer ondraaglik raak my situasie. “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.”(Vers 18-20) Klink dit bekend? 

DIE DRAAIPUNT

Gelukkig het die digter nie op hierdie punt ophou dink nie. Hy het verder gedink en dit het ’n wending, ’n verandering gebring. VERS 21! Hier kom ‘n heerlike draaipunt! “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:” (vergelyk ASV “This I recall to my mind; therefore have I hope.”) Nadenke en herinnering kan ’n stok wees waarmee die reus Wanhoop mens stukkend slaan, maar die bepeinsing van Bybelse beloftes en waarhede is juis ’n vuurhoutjie waarmee ek weer die lamp van hoop aan die brand kan steek. ’n Lig wat al die duisternis van wanhoop en moedeloosheid kan verdryf. 

Watter gedagtes, eerder watter selfherinnering aan Goddelike waarhede het die vlam van hoop weer vir hierdie man in sy ellende aangesteek? (Waaraan moet ons onsself herinner om weer hoop te kry?) Kom kyk saam in Klaagliedere: 

1. Sien raak dat jy deur God se genade nog nie vergaan het nie. “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;” (22) Hoe erg jou situasie nie, jy is nie op hierdie oomblik in die hel nie. Dis net mense in die hel wat geen hoop ooit kan hê nie! Kom ons gestel jy is in ’n diep onderaardse kerker opgesluit en die sleutel is weggegooi... Dis klam, donker eensaam, groen mos groei al op jou lyf. Dis inderdaad erg, maar dis ‘n toestand nog oneindig beter as iemand wat hom vandag in die ewige verdoemenis bevind… Vir jou wat hier lees is daar hoop. Vir jou staan die deur nog oop, want God se Woord kom na jou en jy kan dit hoor, glo en lewe… 

2. Maak oop jou oë vir God se getrouheid in jou lewe ten spyte van jou baie moeilike omstandighede, wankelende geloof of ergere depressie*. “Tel jou seëninge” bly na al die jare steeds goeie raad vir elkeen van ons. (as jy sukkel, vat ‘n stuk papier en skryf dit neer, jy kan dalk verbaas wees hoe lank die lys raak) God het nie verander nie, Sy getrouheid is ‘n gegewe. “God bly getrou, by Hom is daar onbeperkte ontferming daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” (22/23) Miskien het jy baie geld verloor....maar jy het darem nog geëet vanoggend - dank God vir daardie ontferming. Dalk verkeer jy in ’n ernstige gesondheidskrisis... jy kan darem hier lees of jy kan nog God se Woord hoor - dank God vir hierdie ontferming. Miskien beleef jy ‘n familiekrisis...jy het darem nog ’n familie - dank God vir hulle, (ook die wat jou kwaadmaak, ja!) Moontlik bevind jy jouself in ‘n put van verworpenheid of vasgevang in ‘n net van skuldgevoelens. Sien raak, dat Hy Sy genadewoord nou na jou toe stuur en dank hom reeds daarvoor! Onthou ons verdien niks goeds nie, trouens ons almal verdien die hel en tog is God so goed. 

3. Besef : God is nog steeds my God! “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom." (24) Miskien het jy wel alles op aarde verloor...dalk sonder enige familie, sonder enige besittings, sonder enige vooruitsigte vir beterskap of beter omstandighede, maar kind van God jy het nie jou Here verloor nie. Hy is mos meer as alles en almal. My familie kan almal teen my draai, maar as die almagtige God my persoonlike Vader is, bied dit nie vir my troos nie? Ek kan al my besittings verloor, maar as ek weet daar wag ’n erfenis in die hemel vir my wag, sal dit nie die verlies baie versag nie? Het jy al besef dat God alles is? Die skrywer van Psalm 73 is ook diep getref deur ellende, hy was ook onsteld dat dit so goed gaan met die goddelose en met hom wat regverdige is gaan dit sleg. Maar dan maak hy ’n heerlike ontdekking in vers 25 : “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (OAV) “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie.” (NAV) Het jy al dit besef? Ja, jy het dalk in verterende twyfel geval, daar is baie vrae wat jou siel vaswoel, maar diep onder al die as van selfverwyte of skeptisisme, leef daar nog ‘n kooltjie van verlange na God. Anders sou jy nie nou hier gelees het nie. Diep binnekant weet jy God is jou enigste hoop! 

4. Daar bestaan nog steeds iets soos gebed en God se Woord. "Die Here is goed vir die vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra: dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here" (25,26) Hierdie man in ellende herinner homself aan ’n vaste uitkoms. Gebed en vertroue op God. Ja, ten spyte van sy negatiewe belewenis oor gebed (vers 8) dring die besef maar weer tot hom deur: Daar is nog steeds iets so gebed, daar is nog steeds God se beloftes! Wanneer alle mense en middele my teleurgestel het, kan ek in my angs en nood nog steeds na my Vader roep. Herinner Hom aan sy beloftes! Ja, daar kom tye dat dit voel of ons gebede nie help nie, asof God sy ore sluit. Dan moet ons weer sy beloftes oor gebed opnuut glo.” Roep my aan in die dag van benoudheid....., bid en vir julle sal gegee word…” Die troon van God is ’n genade troon en deur gebed in Jesus se naam kry ons toegang tot daardie troon. Miskien voel dit vir jou asof jy vasgekeer is deur omstandighede, asof daar ’n blokkade rondom jou opgerig is wat alle hulp verhoed. Weet : As Jesus jou hoëpriester is kan jy bid, met vrymoedigheid... Hebreërs 4:12-16  En wag geduldig vir die regte tyd waarop Hy jou gaan help!

5. Dink daaroor en besef dat God ‘n plan met jou lewe het. Ook hierdie ellende wat ek nou beleef is nie maar net ‘n wrede toevalligheid nie. Dis God wat dit oor my pad laat kom het…Daar is sin en rede in alles, al is dit vir my menslike logika ontoeganklik. “dit is goed vir ‘n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig—miskien is daar hoop— laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.”(27-30) Laat ons ons onderwerp aan God se tugtiging. Hy het ‘n heerlike doel daarmee. Hebreërs 12:10,11 sê dat God se doel daarmee is om ons in sy heiligheid te laat deel. Hierdie swaarkry (en dis uiters pynlik en voel beslis soos iets om oor te huil) is dus deel van God se goedheid oor jou! Regtig? Ja! Psalm 119:71 maak hierdie onbegryplik heerlike stelling : “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer. En kyk wat sê vers 75 “Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van u trou.” Spurgeon* sê dit so mooi :”Baie van God se beloftes is in onsigbare ink geskryf, wat jy nie kan lees voordat die vuur van beproewing nie die letters sigbaar maak nie. (Soos daardie geheime briefies wat mens met uiesap skryf) 

6. Hierdie swaarkry, hoe erg ook al is net tydelik. Kind van God, jou siekte, hartseer, depressie…gaan nie vir ewig duur nie. As jy in die diepste ellende verkeer, onthou hierdie tyd van ellende gaan nie vir altyd aanhou nie, daar is uitkoms! “Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.”(31-33) 

As God ellende oor ons lewe toelaat is dit eintlik teësinnig. Soos ‘n pa wat sy kinders met ‘n seer hart pak gee en self elke hou voel. God is nie ‘n sadis nie. Sy werklike begeerte vir ons is vreugde. Nou reeds in hierdie stukkende wêreld, maar in die volmaakte sin eendag. Hierdie volmaakte vreugde gaan finaal aanbreek by die wederkoms en vir altyd aanhou. Ons ellende hoe erg ook al, is kort. In vergelyking met die ewigheid sommer baie kort en onbenullig. Ja, selfs iemand wat ’n sieke moet oppas, wat swaarkry onder ‘n wrede man, wat spot moet verduur van goddelose kinders, wat dag vir dag met pyn moet leef… kan dit weet... dis kort, laat ek moed skep, dis kort! 

Die swaarkry wat jy nou ervaar beteken nie dat God se liefde vir jou opgehou het nie. 

Die  bittere swaar waardeur Jesus aan die kruis moes gaan, het nie die einde van sy Vader se liefde vir Hom beteken nie. Die lyding, ellende en verwerping waaronder God se kinders gebuk gaan, mag ons nooit die afleiding laat maak dat Hy nie meer vir ons lief is nie. Glo dit, die Woord sê so, ja die duiwel sê anders, maar luister eerder na die Woord as na die Satan! 

UITERSTE ELLENDE; STEEDS HOOP!

Miskien is jou ellende so groot, jy sê : “Ek weet nie of hierdie mooi beloftes op my van toepassing is nie, want ek weet nie meer of ek hoegenaamd ’n kind van God is nie. Ek weet en glo hierdie beloftes geld vir God se kinders, maar ek weet nie meer of ek onder sy kinders tel nie.” 

As jy so sê wil ek jou verseker daar is nog steeds hoop. Daar is ’n vaste waarheid in God se Woord wat ook vir jou kan hoop bring. 1 Timoteus 1:15 lees : “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” As jy nie op hierdie oomblik na die Here Jesus kan kom as ’n kind van God nie, kom as ’n sondaar. Hy bring hoop vir sondaars, hoor dit : “sondaars”! Regte werklike, aaklige sondaars is welkom by Jesus! 

 “if you cannot come as a saint come as a sinner”

Spurgeon** vertel die volgende verhaal : ‘n Koning het ‘n maaltyd aangebied vir al bedelaars van ‘n stad. Daar was egter in die stad ook ‘n edelman wat sy geliefde koning graag wou sien, maar weens die koning se program was ‘n afspraak nie moontlik nie. Die edelman maak toe ‘n blink plan. Hy kry ou klere in die hande en gaan in sy vodde saam met die bedelaars na die maaltyd, solank hy maar net die koning kon sien! Kom na Jesus, werp jou in sy arms kom op die manier waarop duisende sondaars, moordenaars, prostitute, twyfelaars, moedverloorders… al gekom het... Hy wys niemand weg nie… 

*Lees verder oor depressie by PROFEET ONDER DIE BOS
**Ek gee graag erkenning aan CH Spurgeon vir sy preek in “Finding Place in Life’s Storms”, getitel “The Gift of Memory” 


Vrydag 10 Februarie 2012

PROFEET ONDER DIE BOS

- God se kind in die DONKER DIEPTES van DEPRESSIE

(Lees gerus eers 1 Konings hoofstuk 19)

Sonder enige twyfel was Elia een van die mees toegwydste en dapperste dienaars van God! Hy is ’n uitstekende voorbeeld van die moed wat ’n Christen moet hê. In die vorige hoofstuk lees ons van sy heldhaftige geloofsoptrede op die berg Karmel... Man alleen het hy met geloofsmoed die heidense duisternis uitgedaag! Op Karmel het hy ’n klinkende openbare oorwinning behaal! God het met vuur geantwoord. ’n Absolute klimaks in sy loopbaan as onverskrokke profeet van die Lewende God! (Vergewis jou weer van die dramatiese gebeure in 1 Konings 18)

Maar nou het daar ’n dramatiese ommeswaai gekom. Elia vlug vir ’n vrou! Dieselfde Elia wat vreesloos teen Agab en die hordes Baälprofete gestaan het, is nou bang vir Isebel! (3) Hier sien ons hoe tipies menslik die sterkste gelowige maar is. Die dapperste geloofsheld kan bang word en in depressie verval.

En kom ons sê dit duidelik reg hier aan die begin :

Kinders van God, ja, opregte ernstige gelowiges kan ook in die diep gat van depressie val!

Elia is absoluut teneergedruk en swartgallig! (4) Die lewe het vir hom sin en kleur verloor. Hy wens om eerder dood te gaan. Kan dit wees? ‘n Man van God wat nie meer kans sien om te lewe nie? Hy is in uiterste depressie. (Deur hier sonder kos in die woestyn in te strompel is hy eintlik besig met ‘n vorm van passiewe selfmoord?) Tipies van ‘n depressiewe swartgallige persoon is sy denke nie meer logies nie. Hy vlug om aan die lewe te bly , maar hy wil graag sterwe!

Wat is die rede vir die tragiese verval in depressie? (Hier moet ons baie versigtig wees om met vinnige antwoorde te kom) Depressie is 'n uiters komplekse saak, want die mens is ‘n komplekse wese met baie fasette. Dit lyk tog vir my dat mens uit hierdie ervaring van Elia iets kan leer oor die oorsake en behandeling van depressie. Kom ons kyk eers na 'n paar faktore wat moontlik 'n rol gespeel het:

OORSAKE

Geestelike oorsake

Dis opmerklik dat Elia ‘n besluit neem sonder om op die Here te wag, sonder ’n duidelike opdrag van die Here soos in vorige moeilike situasies. (vergelyk 1 Konings17:2,8; 18:1) Hy neem ‘n haastige besluit op eie houtjie. Elia word bang. Hy kyk nie meer met ‘n geloofsoog na die almagtige God nie, hy kyk na die woede van ‘n vrou. (as hy logies sou dink sou hy tog moes besef dat ‘n God wat vuur kon stuur verseker hom sou kon beskerm teen ’n vrou wat bietjie vuur spoeg!) Slegs geloof kan omstandighede oorwin. Hier is sommer ’n Goue Reël - moet nooit ‘n besluit neem as jy in paniek is nie. Pasop vir impulsiewe besluite...

God se getrouste volgelinge ly ook geestelike neerlae. Rede : die grootste gelowige is opsigself nog steeds niks nie. As God ‘n oomblik sy hand van ons wegneem (in ‘n sekere sin) is ek en jy weer heeltemal niks. Dis interessant dat die grootste heiliges juis val ten opsigte van hulle sterk punte : Abram die vader van die gelowiges, se geloof laat hom in die steek! (Hy lieg oor sy vrou, neem Hagar vir vrou ens.) Moses die sagmoedigste man, verloor sy humeur en slaan die rots. Petrus die vurige, is bang vir ‘n diensmeisie. Enige een van ons kan in enige sonde val!

WEES VERSIGTIG! Depressie kan dus maklik vat kry op ons, as ons onversigtig of laks raak in ons daaglikse wandel met die Here. Dit skep die ruimte vir die Satan om ’n slag te slaan en ons om te stamp. Waak en bid gedurig!

Sielkundige oorsake.

Behalwe die geestelike oorsaak moet ons die sielkundige faktor in Elia se ineenstorting nie miskyk nie. Die geweldige spanning en intense stryd op Karmel het sy tol geëis. Na ‘n groot spannende hoogtepunt is ons uiters kwesbaar. Dikwels as ons op die kruin is, is ‘n neerlaag net om die draai. Juis na groot hoogtepunte in ons lewe, moet ons baie versigtig wees. Sommige mense se persoonlikheid maak hulle meer vatbaar vir depressie as ander. Dis duidelik uit Elia se geskiedenis dat hy ’n intense, ernstige analitiese tipe mens was. Hy het die situasie van Israel en hulle afvalligheid vir hom ernstig aangetrek. Hy was ’n vurige passievolle mens. Hy het groot hoogtes van dapperheid bereik, maar juis so ’n persoon kan weer in uiterste diepstes van depressie verval as hy voel dat hy misluk het. Hy het waarskynlik ’n mislukking gevoel, want ten spyte van die oorwinning op Karmel, was daar geen tekens van ware bekering by Agab en Israel nie. Die heidense Isebel het nog steeds die septer geswaai.

KEN JOUSELF! As jy ’n sensitiewe analitiese tipe persoon is, moet jy vooraf besef dat jy kwesbaar is. Ek moet my dus self gedurig staal teen invloede uit my omgewing en omstandighede wat my depressief kan maak. Dit doen ek deur positief te konsentreer op die waarhede van die Woord en nie my gevoelens die botoon te laat voer nie.

Fisiese oorsake.

Elia was waarskynlik fisies moeg en emosioneel uitgeput. Ja, God het hom buitengewone krag gegee, maar hy is nog steeds ‘n mens. Die intense stryd op Karmel het sy tol geëis...As ons fisies en emosioneel uitgemergel is word ons uitsoek teikens vir die duiwel. Dink maar aan die versoeking van Jesus. Toe Hy honger en moeg was, kom die Satan met die versoeking na Hom om brood uit klippe te maak. Ek dink nie mens kan sê dat die Satan altyd direk verantwoordelik is vir depressie in ’n kind van God nie, maar baie beslis sal hy dit uitbuit om ons geestelik aan te val!

In ons dag word daar baie klem gelê op die fisieke oorsaak van depressie en by name, chemiese wanbalanse of tekorte aan sekere chemiese stowwe in die brein. Die oplossing lyk dan eenvoudig om net hierdie gebreke deur medikasie reg te stel. Inderdaad mag ’n kind van God medisyne gebruik! Ons moet egter net versigtig wees om die volle spektrum van oorsake in ag te neem. Die mens is nie ’n enkelvoudige wese nie. Ons is nie net liggaam of net gees nie, maar albei. Alle oorsake van depressie moet ondersoek en aangespreek word. En ook waar daar duidelike chemiese wanbalanse is, blyk die saak nie so eenvoudig te wees nie. Is die wanbalans of veranderings in die brein, inderdaad die oorsaak of dalk eerder die gevolg van depressie?

Dr Louis Kroon, ‘n Christen psigiater sê : “Medikasie is dan ook nie die finale antwoord nie. Sonder dat daar ‘n hartsverandering plaasvind, gaan die medikasie net die simptome verlig, maar nie die onderliggende probleme regstel nie.”

WEES BEDAG! Ons is mense met liggame. Liggame wat kwesbaar is vir siekte en swakheid. Ons fisieke gesondheid is belangrik. Die regte kos, genoeg slaap, oefening en rus is belangrik. As ons nie hieraan aandag gee nie, sal dit negatiewe gevolge hê ook vir ons emosionele en geestelike lewe. Maar pasop om depressie net vanselfsprekend te sien as ’n toestand wat met pille reggedokter kan word. Wees versigtig en realisties oor die gebruik van medikasie.

Demoniese oorsake.

Ter wille van volledigheid moet dit genoem word. Ons moenie veralgemeen of die duiwel agter elke bos gaan soek nie, maar dat Satan en sy demone ’n direkte hand in depressie sou kon hê, is beslis. Dit kan wees as gevolg van betrokkenheid by die okkulte. Dit kan ook wees in die vorm van ’n direkte Sataniese aanval op die denke en gemoedstoestand van God se kind.

WEERSTAAN DIE BOSE! Trek die volle wapenrusting van God aan. Vertrou op die genoegsaamheid van Jesus. Ken die Woord. Bly weg van sonde en alle twyfelagtige praktyke.

ONTHOU NET! WAT OOK AL DIE OORSAKE ...

GOD VERWERP NIE SY DEPRESSIEWE KINDERS NIE!

Elia is depressief, maar belangrik - Elia is nog steeds ‘n gelowige, kind van God! God skryf nie sy depressiewe dienskneg af nie. Hy verwerp en verwyt nie vir Elia nie, maar lei hom op ‘n pad van herstel. Elia lê op die grond, miskien vanweë sy ongehoorsaamheid. Maar daar is nog steeds ‘n band tussen hom en die Here. Die verdere verloop van sake is ‘n duidelike bewys dat God hom hoegenaamd nie vergeet of verwerp het nie. Elia het sy vreugde verloor, maar nie sy verlossing nie. (Laat dit ‘n troos wees in jou donkerste tyd!) Hoe werk God nou met Elia?

BEHANDELING

Die pad wat God met sy depressiewe dienskneg loop gee ons tog baie insig in die proses hoe ons depressie kan oorwin of ander gelowiges kan bystaan en help om dit te oorwin.

Praktiese ondersteuning. God voorsien eerstens in sy onmiddelike fisiese behoeftes. Hy weet Elia is vlees en bloed, en wat hy nou eerste nodig het is kos. Genoeg kos. Elia moet sommer twee maal eet! God weet ons is stoflik en verganklik. (Psalm 103:13,15) God begin nie dadelik met ‘n preek nie. (Hy werk meer realisties met die mens as wat ons dikwels met ander mense werk) Let op : God sorg nog steeds vir sy kneg ook al is sy geloof op ‘n laagtepunt! Die deurslaggewende faktor bly God se genade en nie ons geloof nie. God gee aan Elia ‘n vooruitsig. Waarskynlik het God hom die opdrag gegee om na Horeb te gaan. Dis die berg van God waar Hy destyds aan Moses verskyn het. (Eksodus 3:1) Dis hier waar Moses sy roeping gekry het. God skep dus by Elia ‘n verwagting en hoop van ’n nuwe ontmoeting en ’n nuwe visie. Die depressiewe persoon moet weet, dis nie die einde van die pad nie. Dis nie die einde van my bruikbaarheid nie.

Oproep tot verantwoording. Elia word liefdevol versorg, maar nie net gepamperlang nie! Simpatie alleen is nie die oplossing nie! God spreek Elia aan. (9) Die boodskap is duidelik en kom daarop neer : “Elia jy hoort nie hier nie!” (Ons moet nooit iemand net as ‘n slagoffer beskou nie!) Dis nie God se wil vir Sy knegte om uitgeskakel te word deur vrees of moedeloosheid nie..” God tree ferm, maar begrypend en liefdevol op. Teregwysing, maar nie vernietiging nie. Elia kry kans om sy hart uit te praat. (Praat oor jou depressie en kry perspektief!) Kyk jou situasie eerlik in die oë, maar moenie weghardloop of agter verskonings begin wegkruip nie. Ons verloor nooit ons verantwoordbaarheid nie. Ek mag nie agter my depressie skuil om byvoorbeeld nie meer my huislike pligte as vrou of my beroepsverpligtinge as man na te kom nie. Ek mag nooit my depressie gebruik as verskoning vir sonde doen nie.

Bemoediging deur ‘n openbaring van God self. God werk met sy kind nie deur dreigemente of deur hom uit skel nie, maar deur 'n nuwe innige ontmoeting. Die oplossing lê daarin dat Elia weer sal besef wie is God! God is groter as al ons depressie en al ons ellendes. Daar word pertinent gemeld dat die Here nie in die wind of die aardbewing of die vuur verskyn het nie. Dit was die gewone vreesaanjaende tekens van Sy teenwoordigheid. (Eks 18:18-19) Kort tevore nog het God Homself ook in vuur op Karmel openbaar. God se metodes is egter nie beperk nie. Hy werk met die swak en moedelose profeet op ‘n sagte manier. Hy praat met Elia deur 'n "fluistering in die windstilte". Hy kom na Elia nie in verskrikking en oordeel nie, maar in genade en verkwikking. (In die evangelie bedeling, verander God harte nie deur geweld nie maar deur die stil, kragtige werk van die Heilige Gees!) Elia raak bewus van die Here se teenwoordigheid. Hy kry dieselfde vraag en hy gee dieselfde antwoord. Elia se antwoord impliseer dat God se saak verlore is en dat sy arbeid gevolglik tevergeefs was. God stel beide hierdie wanopvattings reg. God gee hom ‘n nuwe perspektief! Die swartgallige Elia dink dit is net hy wat nog die Here dien. God sê vir hom daar is nog 7000 getroues! God se saak is dus nie verlore soos Elia dink nie. Deur die verskillende opdragte vir Elia te gee wys die Here dat Hyself nog steeds in beheer van alles is. Hy wat God is stel konings aan (oor Israel en heidennasies), Hy stel ook ‘n opvolger aan vir Elia. Let op : God maak die aanstellings, selfs buite Israel! Sy almag en jurisduksie is geensins beperk nie. God gee Elia ’n kykie in Sy raadsplanne. Elia is moedeloos, God is nie, Elia is raadop, God is nie. As ons Koning ten volle in beheer is, het ons dan rede om te wanhoop bloot deur net na die sigbare te kyk? Nooit nie! Kry ‘n Goddelike perspektief! (Uit die Woord) Begin weer opnuut die stellings en die beloftes van God se Woord glo!

God verander Elia se DENKE!

Baie van ons negatiewe omstandighede sal nooit verbeter of verander nie, maar ons perspektiewe en denke moet verander word om in lyn te kom met God se Woord! (Romeine 12:1-2) Het jou denke oor vergifnis, sukses, die sin van die lewe en God se bestuur van die geskiedenis ’n Bybelse basis, of kry jy jou denke by die wêreld en sy mense?

Elia kry werk.  Passiwiteit gaan nie depressie oplos nie. Nuwe opdragte of doelwitte bring weer visie. Dit bring weer sin in die lewe! Elia word nie afgedank nie. God gee aan hom die heerlike voorreg om deel te hê aan Sy planne en die uitwerking van Sy wil. God self sal besluit wanneer ons werk klaar is en Elia se taak was nog nie klaar nie. Hy kry drie groot opdragte wat verreikende gevolge in die toekoms sou hê, ook as Elia self nie meer op aarde sou wees nie. Elia is direk en indirek betrokke by die uitvoering van God se raadsplanne. Die boodskap vir ons is duidelik : Raak weer betrokke, raak gehoorsaam aan God se opdragte en die take wat Hy nou oor jou pad bring, ongeag jou gevoelens!

God gebruik beide neerlae en oorwinnings in ons lewens om sy doelwitte te bereik. ‘n Laagtepunt in jou geloofslewe beteken nie noodwendig die einde van jou diens nie, maar is dikwels net ‘n platform van waar af jy opnuut gelanseer word! Die nederlaag van depressie is nie ’n doodloopstraat nie!

(Hierdie gedagtes beweer geensins om 'n volledige insig oor die oorsake en behandeling van depressie te wees nie. Dis in hoofsaak 'n bemoediging aan medegelowiges vanuit God se genadige werking met sy depressiewe dienskneg, Elia)

Erkenning : Baie van hierdie gedagtes kom uit AW Pink se boek, ELIJAH. Ek het die boek lank gelede vir die eerste keer gelees toe ek langs die hoofpad tussen Okahandja en Otjiwarongo gesit en wag het vir hulp, onder die indruk dat daar fout met my bakkie was. Daar was toe al die tyd nie fout nie!