BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Dronkenskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dronkenskap. Wys alle plasings

Maandag 03 Januarie 2022

Dis amper dag – word wakker!

- die boodskap wat 'n bandelose jongman tot sy sinne geruk het, en wat elkeen van ons nodig het om weer te hoor...

Elke minuut, elke dag, elke jaar wat verby is bring ons nader aan die groot en heerlike dag van Jesus se wederkoms. Dis die dag van ons finale verlossing. Besef jy die implikasies daarvan? Maak dit jou opgewonde? Raak dit jou gedagtes en leefstyl en beplanning?

Paulus praat hier in Romeine 13:11-14 met mense wat reeds God se kinders is – “ja, ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het.” En dis hierdie kinders van God vir wie hy nou aanmoedig om wakker te word. (11a) 


Hier is ‘n dringendheid in Paulus se spraak. Mense daar is nie nou meer tyd vir sluimer en slaap nie! Word wakker, staan op! Inderdaad, kinders van God, ja mense wat waarlik die verlossing in Jesus beleef het, word maklik slaperig, lui, laks en lam! Die simptome daarvan is kompromie met sonde… “Ag dit en dat is darem nie so erg nie! Ag ons hoef darem nie so streng en eng te wees nie…” en dan begin ons saamdoen met die sondige wêreld rondom ons. Dis egter nie net verkeerde dinge wat ons doen nie, maar ook sondes van versuim – dinge wat ons nalaat… ons raak meegevoer deur die partytjie en vermaaklikheidsgees van hierdie wêreld, deur die groot afgod van “entertainment” en dit stomp ons af en bederf ons verlange na God en sy dinge– ons begin die Woord en gebed en die gemeenskap van die gelowiges afskeep. Kyk maar dis die dinge wat menige Christen se val voorafgaan. Dis die gevaartekens… "ag, ek is nou nie lus vir die Bybel nie, nie lus vir ware gebed nie, nie lus vir die erediens nie…"

DRIE TYE

Paulus herinner ons – die finale verlossing is voor die deur! Die Bybel praat in drie tye oor die verlossing van God se kinders –





Verlossing is iets wat reeds afgehandel is, soos  ons dit kry in Efesiërs 2:8; 











Verlossing is iets wat nou besig is om te gebeur soos 1 Korintiërs 1:18 dit stel.




 









Verlossing is iets wat nog in die toekoms sal gebeur volgens Romeine 5:9.






DRINGEND BELANGRIK

Paulus herinner ons. “Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag.” (12) Dis ‘n metafoor wat Paulus gebruik om dit onder ons aandag te bring dat hierdie huidige bedeling op hierdie aarde nie vir altyd gaan duur nie. Hierdie wêreld met sy sondeduisternis en ellendes gaan nie vir altyd aangaan nie. Die finale en heerlike voltooiing van ons verlossing kom al hoe nader! Hierdie feit moet julle laat wakker skrik. Hierdie feit moet ons leefstyl laat verander. Ons lewens moet pas by die dag wat aan die kom is. Die gewoontes en lewenswyse van die nag moet ons van ontslae raak. Kies teen die duisternis, kies vir die lig. Ja en onthou dit behels ‘n stryd. Maar ten spyte van hierdie stryd moet ons ‘n lewe leef wat by die daglig van Jesus se heerlikheid en verlossing pas. En dan raak Paulus baie prakties. Hy noem konkrete dinge wat deel is van die duisternis en glad nie meer pas by ‘n kind van die lig nie. Dis baie aktuele dinge. Destyds en nog steeds. (13)





Dis drie groepe van sondes wat hy hier noem. 

Eerstens - gefuif en dronkenskap – dis sonde van selfsug en gebrek aan selfbeheersing. Dis ‘n meesleuring deur die vermaak en plesier van die oomblik – ‘n verslawing aan “entertainment.” Wilde drink partytjies en uitspattigheid. 

Tweedens - “ontug en losbandigheid.” Dit gaan oor alle vorme van sedeloosheid en seksuele losbandigheid. Dit skyn mos die hoogste ideaal en norm van ons tyd te wees – doen als waartoe jou luste jou lei. Hoerery is maar reg. Daar is geen respek vir God se ordes oor die huwelik en reinheid nie. Dis ‘n goedkoop bandelose rondgefladder van een persoon na die ander. Die geboorte van buite egtelike kinders word selfs toegejuig op sosiale media! Die opperste vorm van rebellie teen God se wette en die aakligste vorm van selfsug. 

Derdens. “rusie en afguns” Onmin en gevegte tussen mense. Dis alle vorme van liefdeloosheid wat uit harte van haat en jaloesie opborrel en jou medemens skade aandoen. Dis alle vorme van geweld – van skinder en minagting tot openlike vyandskap en moord! 

Al hierdie voorbeelde in Paulus se lys vorm deel van die domein van die duisternis! En al hierdie sondes kom neer op ‘n mislukking van egte liefde, die oortreding van die liefdesgebod teenoor jou medemens! Paulus verwys in die voorafgaande gedeelte na die liefdesgebod. (10) 


Al hierdie dinge kom neer op ‘n flagrante oortreding van die liefdesgebod. Wie homself aan hierdie sondes skuldig maak, wys dat hy nie omgee vir sy medemens nie en dus ook nie omgee vir God nie.






TREK JESUS AAN!

Paulus stel teenoor hierdie bose lewe ‘n heerlike alternatief. (14a) “Beklee julle egter met die Here Jesus Christus.” Dis ‘n kragtige metafoor vir radikale toewyding – trek daagliks vir Jesus aan! Dis ‘n daaglikse assosiasie en identifisering met Jesus. Wees soos Jesus. Dis meer as net ‘n eenmalige besluit – dis ‘n daaglikse volg van Hom, dis ‘n daaglikse bekering om te kies om Hom te gehoorsaam, dis ‘n daaglikse wandel met Hom en die opsoek van sy teenwoordigheid. Dis ‘n lewe van oorgawe aan Jesus, wat daaglikse dissipline behels. En let op hierdie navolging van Jesus gaan saam met ‘n baie sterk keuse teen alle vorme van sonde! (14)


VERKLAAR OORLOG TEEN ALLE SONDE!

Moenie ruimte vir enige sonde in jou lewe maak nie! Moet op geen manier eers vir die moontlikheid van sonde beplan of voorsiening maak nie. Gun die sonde geen duimbreedte nie. Reeds as sonde net by die voorhekkie verskyn, jaag dit weg dan sal dit nooit in jou huis en lewe kom nes maak nie! Bewaar jou gedagtes, wees versigtig wat jy luister, kyk en lees… Roei elke geringste teken van sonde uit! 


Mag ons vers 14 onthou as ‘n duidelike koerswyser vir die nuwe jaar.
Mag hierdie oproep van die apostel Paulus ‘n kragtige verskil in jou lewe maak, net soos dit baie eeue vantevore gelei het tot ‘n lewensveranderende bekering by die latere beroemde kerkvader Augustinus! Hy was ‘n regte bandelose rokjagter maar hierdie woorde het hom tot besinning geruk en hy het ‘n nuwe mens geword!


Ware voorspoed en seën vir die nuwe jaar!

Sondag 26 Mei 2013

MAAK DIE HEILIGE GEES BLY!

- en ervaar sekerheid en blydskap in alle omstandighede.

Die Heilige Gees bewerk wedergeboorte en bekering en skenk blydskap aan die verlosde sondaar. Hy maak die verlossingswerk van Jesus aan die kruis ‘n vreugdevolle werklikheid in ons lewens! Die heerlike boodskap van Pinkster is juis dat Jesus die Heilige Gees aan sy kerk geskenk het. Elke wedergeborene!

Tog is ons lewens dikwels sonder krag, sonder oorwinning, sonder vreugde. Waarom?

Efesiërs 4:30 gee vir ons ‘n baie belangrike leidraad. “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” Wat is snaaks aan hierdie vers? Die plek waar dit staan. Dit duik sommer hier skielik op tussen ’n klomp praktiese etiese vermanings. (Lees dit gerus in Efesiërs 4:1-5:5.) Hoekom? Wel dit lyk asof Paulus insinueer dat hierdie dinge waarteen hy waarsku soos leuens, woede, vuil taal, verbittering, opvlieëndheid... hierdie dinge bedroef die Heilige Gees. Hierdie dinge is so ernstig, dit maak die Heilige Gees hartseer! Kom ons kyk bietjie in groter detail na hierdie stelling van Paulus en wat ons daaruit kan aflei:

~ Die Heilige Gees is ’n persoon en nie bloot ’n mag of ’n gevoel nie - ’n onpersoonlike mag kan tog nie bedroef raak nie!

~ Moenie die Heilige Gees bedroef nie. Wat is baie opvallend hier? Sy woordkeuse – “bedroef”. Hy sê nie, moenie die Heilige Gees kwaad maak nie. Die woord bedroef veronderstel ’n konteks van liefde. Waar daar ’n breuk in ’n bloot tegniese verhouding kom, raak mens kwaad, maar as daar ’n haakplek kom in ’n verhouding waar liefde ter sprake is, kom daar droefheid. As jou vrou wegloop gaan jy tog bedroef wees, meer bedroef as kwaad. Aan die anderkant as jy ‘n verkeersreël oortree maak jy die staat (en die spietkop) nie bedroef nie, maar kwaad! Ons dink nie dikwels so daar aan nie, maar die Heilige Gees het ons lief!  Ons praat meer dikwels van die liefde van die Vader en die liefde van Christus, maar die Heilige Gees is ook waarlik God en Hy het ons lief.

Hoe so? Wel, dis baie duidelik uit Sy betrokkenheid by ons.

Dink bietjie daaraan : Wie het in jou hart gewerk toe jy nog ’n onaantreklike rebelse vuil sondaar was? Wie het met jou gepraat, wie het jou oortuig van sonde en van die heerlikheid van Jesus? Die Heilige Gees, ja. Die Heilige Gees het ons lief. Nie net as individue nie, maar as een liggaam van Christus. Hier in Efesiërs val die klem nogal sterk op die liggaamsaspek en onderlinge verbondenheid van God se kinders! Hy bewerk en smee die eenheid tussen God se kinders.(4:1) Dit is daarom te verstane dat enige onenigheid Hom ontsettend hartseer maak. Onthou - Hy woon in jou, Hy het jou lief ten spyte van wie jy is, maar Hy woon ook in jou broer en suster. En nou? Nou lieg jy vir jou broer, jy beskinder hom, jy benadeel hom.... dit bedroef die Heilige Gees.

Heiligheid gaan nie net oor persoonlike toewyding, Bybelstudie en gebed nie, maar ook baie beslis oor my verhouding met my medemens!

~Ons moet ook net weer kennis, neem ons het te doen met die Heilige Gees. Hy is heilig en alle onheiligheid en boosheid stuit Hom teen die bors. Hy woon in jou en Hy weet alles van jou, Hy ken jou diepste motiewe en gedagtes. Daardie verborge jaloesie, daardie afguns, daardie subtiele vyandskap, daardie geheime onrein begeertes of pornografiese verslawing, daardie growwe en vuil taal… Hy weet dit alles en Hy word bedroef.

Wil jy regtig die Heilige Gees wat jou liefhet, wat die verlossing in jou ’n werklikheid gemaak het....bedroef? Geen Christen by  sy volle verstand sal so iets wil doen nie. Hoe dwaas, hoe ondankbaar.

Daar is egter nog ’n rede hoekom die bedroef van die Heilige Gees so ’n ernstige saak is.   Hy verseël ons. (Ons vind hierdie gedagte reeds in Efesiërs 1:13,14) Die Heilige Gees in ons is die merk of teken dat ons werklik aan God behoort en dat ons finale verlossing gewaarborg word. Hy is ’n stempel van egtheid. Die Heilige Gees in ons is soos ’n deposito dokument wat die volle afbetaling waarborg. Wie dus die Heilige Gees bedroef, sal blydskap en sekerheid en vastigheid inboet.

Wie in sonde volhard, maak die Heilige Gees hartseer en verloor sy sekerheid en vreugde.

As die Heilige Gees in jou, hartseer is, gaan jy ook hartseer en sonder vreugde wees.

Hoe kan ons dit verhoed en hoe kan mens dit  regstel as dit reeds gebeur het? 

In Efesiërs 5:18 gee Paulus uiters belangrike raad hoe om onderlinge onenigheid en onrein spraak of optrede teenoor mekaar te voorkom. “Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul.”  Die implikasie is : Kinders van God, julle moet leef onder die invloed van die Heilige Gees soos die kinders van die hel onder die invloed van alkohol leef. ‘n Dronk mens se aksies word deur die alkohol in sy bloed en sy brein aan hom voorgeskryf. So moet die kinders van God deur die Heilige  Gees se begeertes en standaarde gelei word. Leef onder die invloed van die Heilige Gees. Laat sy karakter, sy waardes, sy prioriteite jou gedrag teenoor jou broers en susters bepaal. Terloops - Die Heilige Gees se invloed is presies die teenoorgestelde as die van alkohol. Die Gees maak my verantwoordelik, bedagsaam en versigtig. Die dronkaard tree onverantwoordelik, onbedagsaam en roekeloos op!

Maar wat nou as ons reeds deur woorde en dade ons broers en susters skade aangedoen het en so die Heilige Gees bedroef het. Ons kry ’n leidraad in 4:32 waar Paulus sê: “...vergewe mekaar...”  Belydenis en vergiffenis is die antwoord.  Dis die gevolg van die Heilige Gees se oortuigingswerk,  maar juis dit maak Hom bly, want dit herstel weer eenheid.

Hoe dikwels beleef ons tye van kragteloosheid,  dorheid, onvrugbaarheid, geestelike depressie en ’n gebrek aan blydskap. Daar kan seker baie oorsake wees, en ons mag nooit veralgemeen nie.  Maak egter seker dat jy nie die Heilige Gees bedroef nie. Kom ons stel dit liewer positief - maak die Heilige Gees in jou bly - deur eensgesindheid, integriteit, liefde, reinheid teenoor jou broers en susters uit te leef.  Doen wat die Gees gelukkig sal maak! 

As die Heilige Gees in jou bly is, sal jy sekerheid, 
vreugde en blydskap ervaar!

(hierdie preek het ek by my broer Jacobus de Koning gehoor)


Sondag 05 Augustus 2012

KARNAVAL

- fees van die vlees.

Tsumeb moes verlede week die jaarlikse karnaval verduur. Tsumka. As Christen wat in hierdie pragtige dorp woon mag ek nie daaroor stilbly nie...

Wat die agtergrond  van die woord “karnaval” betref is daar nie duidelikheid en eenstemmigheid nie. Volgens sekere volksetimologieë kom dit van die Laat Latynse uitdrukking “carne vale” wat beteken afskeid van die vleis en sou dit dui op die laaste dae voor die vastyd van Lydenstyd, waartydens mens volgens Rooms Katolieke gebruik nog toegelaat is om vleis te eet. Die woord “carne” kan ook met vlees vertaal word, wat dan sou neerkom op ‘n “afskeid van die vlees” iets wat deur sommige deelnemers aangegryp sou kon word om vir oulaas hulle ou sondige self te wees tydens die fees. Teen hierdie verklarings sou mense besware kon inbring en oor die oorsprong sou mens kon debatteer, maar   wat wel duidelik sigbaar is vir alle waarnemers van die drinkende rasende menigte,  is dat die sondige vlees (ou natuur) van die mens hier besonder geesdriftig gedien word. 

Kan ‘n Christen deelneem aan hierdie aanbiddingsparade vir Bacchus? Laat die Woord vir ons die antwoord gee :

Galasiërs 5:19-21 “Die praktyke van die sondige natuur (werke van die vlees - OAV) is algemeen bekend : onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het : Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”  

“Ja”, sal party teenkap : “Moet ons nie maar ‘n positiewe bydra probeer lewer nie?” Die Bybelse raad in Efesiërs 5:10-12 wat God aan sy kinders gee laat geen twyfel nie : “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie... dis ‘n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.”   As ons nie eens daaroor mag praat nie, hoe durf ons saamlag vir die dronkmanskaskenades en hoe kan ons saamry met vlotte vol vulgêre slagspreuke?  (En nog ons kinders ook daarop laai?)    

Is kinders van God dan ‘n klomp suurgesigte en dikbekke wat teen blydskap gekant is? Nee, verre daarvandaan!

 Christene is beslis nie teen feesvier nie, inteendeel dis ons opdrag. 

Maar dis ‘n ander fees met ander waardes soos waartoe 1 Korintiërs 5:8 ons duidelik oproep :”Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.”

Ja, God se kinders het vanoggend weer feesgevier toe ons Hom in die erediens geloof en geprys het. Wat ‘n vreugde is dit elke Sondag en ‘n voorsmaak van die ewige Fees waarheen die bloedgewastes van die Lam oppad is!



NS As ons dan karnaval wil hou, laat ons dit eerder doen soos die beroemde Italiaanse morele hervormer, Girolamo Savonarola. Gedurende die karnaval van 1496 in Florence het hy dit omskep in ‘n Fees van Boetedoening. ‘n Groot vuur is aangesteek vir die verbranding van allerhande “ydelhede” soos dobbeltoerusting en slegte boeke. Maar pasop, sy hervormings en dapper optrede teen goddeloosheid, het hom uiteindelik sy lewe gekos!